Beleef uitdaging en nuwe ervarings met Baanbreek-produksies by die Absa KKNK

As jy teater toe gaan omdat jy iets nuuts wil ervaar, om uitgedaag te word deur die inhoud van ‘n produksie en jou kop aan die dink te kry vir dae nadat jy by die teaterdeur uit is, dan is die Baanbreek-venue vir jou.

Die Baanbreek-venue is waar feesgangers op ‘n sensoriese reis kan gaan met nie-verbale en eksperimentele teater.
In ‘n poging om die Absa KKNK-program meer feesgangervriendelik te maak, het venues nou spesifieke identitiete gekry wat ‘n aanduiding gee van die tipe produksies wat feesgangers daar kan verwag. “As jy van een produksie by ‘n spesifieke venue hou, is die kans goed dat jy van die ander produksies by dieselfde venue ook sal hou, ” sê Theo Kemp, programbestuurder vir die Absa KKNK. Soos die Baanbreek-venue, waar alternatiewe kunstenaars en produksies grenslyne verskuif.

Vanjaar se vlagskipproduksie, wat geborg word deur die Absa KKNK, is Pruttel. Pruttel val onder die Baanbreek-sambreel en dit vertel die storie van tannie Van der Wat wat nou amper 94 jaar oud is. Sy het ‘n kluisenaarsbestaan vir die afgelope 30 jaar gehad en word nou gereeld besoek deur Meals on wheels. Die vrywilliger wat kos aflewer kan glad nie praat nie. Hy dien as spieëlbeeld vir die ou tannie se opgehoopte emosies van ‘n lewe wat al lankal verby is. Die storie is gebaseer in die hedendaagse.

Jayne Batzofin, regisseur van dié debuutproduksie sê die inspirasie vir hierdie storie kom al ‘n lang pad. “Daar is hierdie ouer wit generasie van wie ons stories hoor maar ons weet nie presies wat gebeur het nie.” Vandag se ouer generasie was tieners in die Apartheidsera — watter stories het hulle nie alles om te vertel nie? Watter emosies “pruttel” nie in hul gemoed nie?

Die rol van die ouma, vertolk deur Nieke Lombard, en die rol van die vrywilliger, vertolk deur Luvuyo Mabuto, is gelaai met metafore en simbole van die Apartheidsera. Batzofin sê: “Ek weet ons bespreek die kwessies van Apartheid baie en dit is al heeltemal oordoen. Ons is siek en gatvol daarvoor maar ek dink daar is tog iets wat nie gedeel word nie. Ouer mense dra hierdie herinneringe saam met hulle. Ons probeer om binne hierdie milieu ‘n ander storie te vertel. Ons bevraagteken waar ons as moderne Afrikaners in Suid-Afrika staan. Ons het hierdie geskiedenis wat ons werklik nié wil hê nie.”

Die Pruttel-span. Van links is Jayne Batzofin (regisseur en ontwerp), Nieke Lombard (in Tannie van der Wat se rol),   Luvuyo Mabuta (in die Meals on Wheels-vrywilliger se rol), Ana Lemmer (HUB) Foto: Celeste Vlok
Die Pruttel-span. Van links is Jayne Batzofin (regisseur en ontwerp), Nieke Lombard (in Tannie van der Wat se rol),
Luvuyo Mabuta (in die Meals on Wheels-vrywilliger se rol), Ana Lemmer (HUB) Foto: Celeste Vlok
Batzofin het sterk fondasies in die Franse teater waar sy ook teater-skepping studeer het. Teatergangers kan hulself regmaak vir ‘n outentieke teater-ervaring waar akteurs net halwe maskers dra en die visuele leidrade regdeur die produksie sorg vir ‘n sensoriese reis wat gehore konfronteer, en terselfdertyd laat deel voel van die storie.
Visuele teater as genre is bekend daarvoor om risiko’s te neem. Oor of sy baie risiko’s neem met dié produksie sê Batzofin: “As teatermaker is dit riskant om iets veilig te maak. Ek druk myself al hoe verder met elke produksie, wat ‘n risiko opsigself is. Ons het befondsing gekry omdat ons storie aanloklik is. Dit is pleinweg ‘n risiko om te doen wat ons doen.”

Omdat die visuele die storie vertel, in plaas van woorde, sê Batzofin dat taal nie werklik ‘n faktor is nie. Dit is wat haar aantrek na visuele teater. “Jy kan oor verskeie grense kommunikeer.”

Die Baanbreek-venue sal in die Suid-Kaap Kollegesaal in Adderleystraat wees.

Ander Baanbreek-produksies wat gehore uit hul gemaksones sal lig is:

Kombuisavonture in ‘n koekieblik — Jori Snell het in 2012 ‘n silwer Ovation-toekenning by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad vir hierdie produksie gewen. Dit vertel die storie van ‘n jong meisie en al die interessante karakters in haar kombuis. Snell tree op as regisseur, choreograaf en aktrise vir dié nie-verbale stuk.

Elnora en Nirvana — ‘n Poppekas wat die storie van ‘n ou tannie vertel wie se enigste geselskap haar siel, Nirvana, is. Dit is uit die pen van Nieke Lombard wat self ook op die verhoog verskyn saam met Chamari Erasmus. Stéphanie Brink hanteer die regie.

Sfeer — Debuut objekteater met Athena Mazarakis, Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet. Dit is ‘n wêreld van lewendige objekte waarin die toeskouer homself kan verloor. Naomi van Niekerk behartig die regie.

The Three little pigs — ‘n Komedie riller-sensasie met Rob van Vuuren, James Cairns en Albert Pretorius. Dit vertel die storie van twee varke wat wreed vermoor is. Die hoofverdagte is ‘n wolf wat steeds op vrye voet is, terwyl ‘n derde vark sidder van vrees vir sy lewe. Tara Notcutt is in die regisseurstoel en Gary Thomas hanteer die musiek.

Wrakstukke — Nie-verbale fisieke teater met Anthony Haenen en Luke Carstens. Dit vertel die storie van twee vreemdelinge wat vasgevang is op ‘n dobberende vlot in die middel van die oseaan. Aangrypende teater met multimedia, animasie, klank, poppespel en musiek.

Kaartjies vir die fees is beskikbaar by Computicket — aanlyn by www.computicket.com of by enige Shoprite / Checkers- winkel.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Wie was verantwoordelik vir die stelontwerp van The Three little pigs ? Indrukwekkend Verdien die persoon ook nie hom/haar naam iewers nie? Hoekom vergeet julle altyd van die tegnies ens.

    1. Dis nogal waar. Roekeloos.co.za sal met die KKNK ook die data (probeer) ontleed vir die mense agter die skerms. Sal dit ook op die telbord plaas indien daar genoeg daaroor gepraat word op Facebook, Twitter, ens.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar