RSG en Lefra Produksies se baie gewilde kunstefees op die weelderige MSC Sinfonia gaan beslis voort soos beplan en sal Sondag, 1 Mei 2016 vanuit Kaapstad hawe vertrek na Namibië se mooie Walvisbaai en Luderitz.
Die MSC Sinfonia en Oppiwater land weer op Vrydag, 6 Mei in Kaapstad. MSC Cruises moes noodgewonge die twee nagte vaart van 29-30 April na nêrens kanselleer as gevolg van slegte seetoestande tussen Port Elizabeth en Kaapstad. Dit is egter nou bevestig dat die MSC Sinfonia Saterdagnag van Port Elizabeth na Kaapstad sal vaar. Alle passassiers wat vir hierdie vaart bespreek het, sal hulle geld terug ontvang. MSC het in ‘n verklaring gesê dat die veiligheid van hulle passassiers steeds hulle prioriteit bly en juis daarom is die besluit geneem om nie voort te gaan met hierdie Vaart na Nêrens nie.
Seetoestande tussen Port Elizabeth en Kaapstad het nou so verbeter, dat die Oppiwater Kunstefees beslis volgens skedule gaan plaasvind van 1-6 Mei 2016. Frans Swart, Uitvoerende Hoof van Lefra Produksies en Organiseerders van die Oppiwater Kunstefees sê hy is baie dankbaar dat die weer hulle ‘n kans gun om die derde Oppiwater Kunstefees aan te bied. “Ons is baie opgewonde oor vanjaar se Oppiwater Kunstefees. Lefra en RSG bied meer as 20 top produksies in hierdie week aan op die luukse MSC Sinfonia. DIt is inderdaad ‘n wonderlike kunstefees en so maklik en ontspanne om by te woon. Al die lekker eet, cocktails drink en show kyk! Te lekker.” Frans beveel passassiers aan om lekker warm klere te bring, want dit is winter en kan nogal koud raak in die aande op die dek.
Die unieke Oppiwater Kunstefees, wat alreeds verlede jaar uitverkoop was, spog met die land se top Produksies soos onder andere Elsabe Daneel se Bittersoet, Cobus Venter premiere in die nuwe Groet die grotheld, daar is ‘n besondere produksie – Die wyn, die lied, die vrou met Johan Rademan, Beyers Truter van Beyerskloof en Christo Snyman. Kom lag ook lekker vir Lefra Produksies se nuwe klug van die jaar, Daa’ gaat die bruid. Feeskatte hou Fees en mimiekmeester, John Jacobs doen sy Mime la France – al die pad uit Frankryk. Marga van Rooy, of te wel “Worsie se Ma” doen haar eenvrouvertoning, Stories van toe ek jonk was. RSG se Martelize Brink lewer haar praatjie, Woes en leeg … waar die onverwagse wonder gebeur en Pieter van der Bergh (RSG se Sportman) gesels oor ‘n Draai in die binnekamer van die Olimpiese Spele. Barry Hilton gaan die mense laat lag en sekerlik erens gaan braai. En dan is daar die lekker musiek en sang van Pieter Smith, Jak de Priester, Alwyn Oberholster, Broers, Tobi Jooste en Rembrandt van Rijn.
Gashere en vroue hierdie jaar is Martelize Brink (RSG), Johan Rademan (RSG), Frans Swart (Lefra) en Charl Senekal (Lefra). Daar is ook ‘n interessante boekloodsing by die Kolmanskop Museum as Koos Marais sy boek, Die keiservoël oor Namakwaland bekend stel. Mense wat Luderitz en Kolmanskop besoek word aangeraai om hierdie boekbekendstelling by te woon op Woensdag, 4 Mei om 11:00.
Hierdie Oppiwater Kunstefees verkoop nog elke keer ‘n jaar voor die tyd uit. Die goeie nuus is dat besprekings vir volgende jaar se OPPIWATER KUNSTEFEES so pas geopen het. Die Oppiwater in 2017 vertrek weer vanaf Kaapstad na Namibië se mooie Walvisbaai en Luderitz van 30 April tot 5 Mei 2017. Swart sê dis natuurlik elke jaar ‘n groot uitdaging om die volgende Oppiwater beter en sterker te maak. “Maar die lekkerte van ons uitvoerende kunste – daar is elke jaar splinternuwe en wonderlike produksies waaruit ons kan kies en dit maak van hierdie vaart so ‘n spesiale geleentheid.”
Besprekings vir volgende jaar kan nou reeds gedoen word by Lefra (011) 815 3000 of epos aan admin@lefra.com. Volledige inligting verskyn by www.oppiwater.co.za MSC se inbelsentrum neem ook besprekings by 087 075 0850 Maak egter seker van die datums (30 April tot 5 Mei 2017) en maak seker dat u vir die Oppiwater Kunstefees bespreek het. Aanlyn besprekings kan gedoen word by:
https://www.msccruises.co.za/en-za/Plan-Book/Cruise-Detail.aspx?cruiseid=SX20170430CPTCPT&pid=ZASX49BP3RSG