Vanjaar bied die Vrystaat Kunstefees, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat, die derde Vrystaat Literatuurfees aan, vanaf 9-14 Julie. Met bykans sestig aanbiedings, wat ’n wye verskeidenheid onderwerpe en temas betrek, is daar werklik iets vir elke smaak.
Tematies betrek vanjaar se boekefees kwessies wat verband hou met die migrasie van mense, asook die multikulturele samelewings wat hierdie bewegings tot gevolg het. Taal, kultuur, ras, en identiteit is slegs enkele van die onderwerpe wat deur internasionale, nasionale en plaaslike skrywers en digters bevraagteken sal word.
Internasionale gaste wat ons vanjaar verwelkom, sluit in Dimitri Verhulst (België), Frank Westerman en Arthur Umbgrove (Nederland), Mira Feticu (Roemenië-Nederland), Jaap Scholten (Nederland-Hongarye), Anita Rau Badami (Indië-Kanada), Lynne Kutsukake (Japan-Kanada), Klara du Plessis (Kanada-Suid-Afrika), Amory Kapufi en Jesse Nsofu (Zambië), Tinashe Tafirenyika (Zimbabwe), Ssesanga Dennis Ernest en Goretti Kyumohendo (Uganda), Delia Jarett-Macauley (Sierra Leone) en Bakang Lionjanga Mabisi (Botswana).
Ons vier die 100-jarige herdenking van Nelson Mandela se geboorte en daarom maak ons sleutel konneksies met die jaar 1918, ondermeer die jaar waarin C.J. Langenhoven “Die Stem van Suid-Afrika” skryf. In samewerking met NALN bring ons weer Hulde aan ons Helde – naas Langenhoven vereer ons Dan Sleigh en Hermann Giliomee, Dalene Matthee en Flaxman Qoopane.
Dit is met groot opwinding dat die literatuurfees vanjaar gesprekke en werkwinkels aanbied en Hulde aan Helde bring in drie tale – Afrikaans, Engels, en Sesotho. Ons kondig ook met trots aan dat prof. Francis Petersen, rektor en vise-kanselier van die UV, vanjaar die Sol Plaatje-lesing aanbied. Die nuwe #VSLitfees-storieuur word in die oggend, gratis, vir die kleinspan aangebied en beloof ook om ’n opwindende byvoeging tot die program te wees. Theuns Eloff, Malixole Gwatyu, Hemelbesem en ander ondersoek die plek van Afrikaans in ’n veeltalige en multikulturele samelewing, en vra wat hou die toekoms in?
Bekroonde joernalis en televisie-aanbieder Ruda Landman sit haar onwrikbare Diskoers-gespreksreeks in 2018 voort. Landman voer onderhoude met Jan-Jan Joubert en Mondli Makhanya oor die stand van Suid-Afrikaanse politiek, sy praat met Peter Delius, Malixole Gwatyu en Henk Smit oor landregte, en met Pieter du Toit, Rico Schacherl en Charles Smith oor staatskaping en die veerkragtigheid van die burgerlike samelewing. Laastens gesels Landman met Liza Smit oor die brutale en raaiselagtige moord van haar pa, Robert Smit. Landman gesels ook met Ilse Salzwedel oor haar (Landman) eie, nuut-gepubliseerde boek.
Ons bied vanjaar boeiende gesprekke aan wat ’n wye verskeidenheid onderwerpe betrek, insluitend kinder- en tienerverhale, geloof, geskiedenis, spannings- en misdaadverhale, sport en humor. Philip de Vos, Piet Grobler en Niki Daly gesels saam oor die vertaling en illustrasie van kinderverhale, Christien Neser beklemtoon die belang van moedertaalonderrig, terwyl Simon Bruinders en Fanie Viljoen gesels oor die menigte moeilike kwessies wat kontemporêre tieners in die gesig staar. Maretha Maartens praat met Shéri Brynard en Nadine Blom oor sake van geloof, terwyl Anton van Niekerk die vrae waarmee ons worstel by die afsterf van geliefdes ondersoek. Johan van Zyl en Nico Moolman verlewendig die Anglo-Boereoorlog.
Madelein Rust, Irna van Zyl en Karin Brynard praat saam oor die unieke invalshoeke van vroueskrywers van spanningsverhale, terwyl Julian Jansen, Schalk Schoombie en Charné Kemp gesprek voer oor die oorsake van gruwelgesinsmoorde. Oud-Recce, Johan Raath, en voormalige hoof van die KZN-Valke, Johan Booysens, ondersoek die dikwels hoë prys van vrede. Sportfotograaf Wessel Oosthuizen en oud-Springbok kaptein Wynand Claassen is in gesprek oor veel meer as net rugby. Rian van Heerden praat oor daardie dinge wat hy eerder nié moes sê nie en Schalk Bezuidenhout vertel van die bisar en hartroerende dinge wat hom al oorgekom het.
By die Digterskafee is daar te kies en te keur. Die program begin met ’n aand van jazz en digkuns en eindig met die jaarlikse #VSLitfees-bekgevegkompetisie, en tussenin vind voorlesings, gesprekke en bundelbekendstellings plaas. Petrovna Metelerkamp praat oor haar omvattende Ingrid Jonker-biografie, Tony Ullyat en Koos Kombuis stel onderskeidelik hul nuwe bundels bekend, ’n paneel van redakteurs van New Contrast, Suid-Afrika se oudste en langslewende literêre joernaal, gesels saam, en Gilbert Gibson, Daniel Hugo, Johan Myburg, en Bernard Odendaal gesels oor die ontwikkeling van Afrikaanse digkuns.
Aanbiedings vind plaas by die ATKV-Boeke-oase (Eeufeessentrum op die UV-Kampus), die Netwerk24 Feeskafee (tussen die Callie Human en Eksamensentrum), die Filmstudio, en by NALN. Die volledige program is vanaf 11 Mei beskikbaar by www.vrystaatkunstefees.co.za en kaartjies is landwyd te koop by Computicket.