Een van die beste dinge van vakansies is dat mens weer ’n slag in ’n fliek kan gaan sit. Hier is ’n kort oorsig van films wat dié vakansie in Suid-Afrika draai:
Die opvolg rolprente van die Stieg Larsson-trilogie is ’n moet as jy The Girl with the Dragon Tattoo gesien het. The Girl Who Played with Fire vertoon reeds en The Girl Who Kicked the Hornet’s Nest begin Vrydag. The Girl Who Played with Fire is flou en voel soos ’n TV-program wat te lank aanhou, terwyl The Girl Who Kicked the Hornet’s Nest bietjie beter is en die storie ten minste afrond. Verwag ook om binnekort meer van Noomi Rapace te sien. Michael Nyqvist vertolk een van die hoofrolle.
Wie sou nou ooit kon dink Robert Rodriguez se Machete, ’n grindhouse-styl film, sal vervelig wees. Nie eens Robert de Niro kon die bloedbad verteerbaar maak nie. Net puisiegesig tiener laaities gaan hou van die geweld.
Nog ’n teleurstelling was die klomp ou ooms van The Expendables onder leiding van regisseur en hoofrol Sylvester Stallone. Dit voel asof iemand die teks by die huis vergeet het en die akteurs sê en doen wat hulle wil. Al wat interessant was van die fliek was dat jy kan sien hoe oud almal geword het.
Charlie St. Cloud met Zac Efron begin aanvanklik goed, maar verval in melodrama wat selfs die tienermeisies aan die slaap het wanneer dit genadiglik einde kry.
Regisseur Adam McKay kon weereens nie ’n ordentlike fliek maak met Will Ferrell nie. In The Other Guys is Ferrell ’n onbeholpe polisieman wat saamspan met Mark Wahlberg. Die film is halfgebak en kon soveel meer gewees het.

The Social Network is die storie agter die storie van Facebook. Regisseur David Fincher toon weer sy staal as een van Hollywood se bestes. Die teks stel ook nie teleur nie en Jesse Eisenberg verdien een of ander toekenning vir sy vertolking van Marc Zuckerberg.
Scott Pilgrim vs The World is een van vanjaar se verassings. Edgar Wright gebruik visuele effekte om die verhaal te vertel van ’n tienerseun wat vir die groot liefde van sy lewe baklei. Niemand anders as Michael Cera sou Scott Pilgrim kon lewe gee nie.
Red is seker die beste vakansievermaak wat jy kan kry. ’n Tipiese Bruce Willis-fliek, maar sonder om te maak asof hy nie reeds stokoud is nie. Geheime agent Willis word bygestaan deur sy vriende: Morgan Freeman, John Malkovich en Helen Mirren. Ons sien ook vir Richard Dreyfuss, Mary-Louise Parker, Brian Cox en (wie onthou nog vir) Ernest Borgnine.
Goed of sleg, as jy al die ander Harry Potter flieks gesien het, is Harry Potter and the Deathly Hallows Part I outomaties op die lys vir hierdie vakansie.
The American gaan baie mense teleurstel. Dit is ’n sjarmante film wat geadverteer word asof dit ’n aksiefliek met George Clooney is. Die film pas eerder in onder die Italiaanse dramas. Clooney wys vir die soveelste keer dat hy ’n hele film op sy skouers kan dra.

Lewer kommentaar