Met die vreugdevolle viering van Afrikaans se eeufeesjaar as amptelike taal, bied legendariese sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit aan luisteraars ’n album vol gevoel, erfenis en musikale meesterlikheid. Sy jongste vrystelling, Op my ou ramkietjie, is ’n liefdevolle huldeblyk aan die rykdom van die FAK Sangbundel – daardie skatkis van tradisionele Afrikaanse liedjies wat geslagte lank gesinne, skoolkinders en kunstenaars begelei het.
“Ek was nog altyd lief vir baie van die mooiste FAK-liedjies,” vertel Jannie. “Toe Kobie Koen van Vonk Musiek my nader om só ’n album saam te stel, het ek onmiddellik die geleentheid aangegryp.” Die tydsberekening, sê hy, kon nie beter wees nie: “Afrikaans vier honderd jaar van amptelike status. Dis ’n eer om op só ’n manier daartoe by te dra.”
Die album bevat elf liedjies – van die meer klassiek georiënteerde “Op my ou ramkietjie” en “Die Magaliesburgse Aandlied” tot ligter komposisies soos “Ou Musikant” van Jan Pohl en “Die Mannetjie” van Danie Bosman. Volgens Jannie het hy keuses gemaak op grond van persoonlike verbintenis en artistieke waarde. “Sommige ligter liedjies het ‘’n nostalgiese konnotasie – ek ken hulle van kindsbeen af – maar al die werke het na my mening besondere digterlike inhoud en musikale sintese.” Soos volksmusiek oral in die wêreld het die egte volksliedjies in die FAK afgeronde kwaliteite “soos ’n rivierklip wat eeue lank rondgerol het en glad geslyp is”.
Die album se klanklandskap is gevorm deur ’n indrukwekkende lys musikante – Tertius Human, Chanie Jonker, Susan Mouton, Mauritz Lotz, en Sergio Zampolli. Jannie sê hy glo in die krag van spesialiskennis: “Tertius bring ’n moderne klank, Chanie het ’’n klassieke sensitiwiteit. Almal het ‘n aanvoeling vir die emosionele inhoud van elke lied.”
Hy lig uit dat die verwerking en uitvoering van “Die Magaliesburgse Aandlied” deur Chanie en Susan ’n besonder eerlike en roerende atmosfeer skep, Jannie sluit op die album twee weergawes van die titelsnit “Op my ou ramkietjie” in: ’nsplinternuwe ateljee-opname en ’n verhoogopname uit 2013 saam met die gevierde sopraan Renette Bouwer. “Die nuwe opname het ’n moderne, skoon klank, maar ek is dankbaar dat ek die ou een ook kon insluit – as ’n huldeblyk aan Renette.”
’n Ander juweel is “Afrikaanse Wiegeliedjie” wat in 1996 in Nederland opgeneem is, begelei deur die legendariese sanger, komponis en pianis, Jules de Corte. “Jules was my musiekheld, maar hierdie opname is nooit voorheen vrygestel nie – dis ’n spesiale huldeblyk aan hom én aan CJ Langenhoven, ons taalheld wat die teks meer as ‘n eeu gelede geskryf het.”
Vir Jannie is die album nie net ’n nostalgiese reis nie, maar ’n kulturele roeping: “Ons erfenis moet bewaar word. Die FAK Sangbundel speel ’n sleutelrol daarin. In 2012 is daar nuwe liedjies bygevoeg, veral in die afdeling Kleinkuns – my groot voorliefde.”
Hoewel hy vanjaar net een amptelike bekendstellingskonsert van Op my ou ramkietjie aanbied beplan Jannie om in 2026 met ’n konsertreeks voort te gaan. Vanjaar sal hy wel liedjies uit die album by sy soloprogram Oppiekitaar in Nederland en België insluit. “Ek glo dat ‘n eerlike weergawe van kwaliteit-musiek mense altyd sal raak,” sê hy. “Kobie het my aangemoedig om die liedjies net eenvoudig te sing – om terug te keer na die hart van die lied.” En dít is presies wat Op my ou ramkietjie bied: musiek wat eerlik is, wat diep lê, en wat getuig van die tydlose waarde van ons Afrikaanse kultuurerfenis.

