Musiekindaba gaan die ganse musiekbedryf byeenbring om koppe bymekaar te sit, verhoudinge te bevorder, loopbane te bou, te leer, inligting te deel en die wonderwêreld van musiek te vier.

Musiekindaba bied egter nie net die geleentheid vir betrokkenes in die bedryf om bymekaar te kom nie. Van die grootste name in Afrikaanse musiek is in verskeie produksies te sien – van Amanda Strydom tot Anton Goosen, van Coenie de Villiers tot Emo Adams, van Jack Parow tot Early B. Ja, al hierdie sterre en vele ander gaan in konserte optree wat spesiaal vir Musiekindaba vervaardig word.

Die Musiekspyskaart bied tien vertonings wat by die Oude Libertas-amfiteater, die Fismer, die Endler en die Adam Small-teater aangebied word. Hiervoor kom uiteenlopende kunstenaars van regoor die land bymekaar vir ’n uitsonderlike reeks produksies om die diversiteit in kultuur en talent van ons beste gevestigde en opkomende kunstenaars te vier. Schalk Joubert en Melissa van der Spuy is verantwoordelik vir die samestelling van Musiekspyskaart. Bespreek jou kaartjies vir dié unieke reeks vertonings by Quicket.

Die produksies op Musiekspyskaart

Dean Balie: Toonsettings van die digters

Dean Balie en Collin Meyer

30 November 19:00 by die Fismer. Kaartjies: R180

Dean Balie het vyf Fiëstas gewen vir Die poet, wie’s hy?, wat handel oor Adam Small se woordkuns. Toonsettings is ’n verdere verkenning van die genesingsmoontlikhede wat in digters se woorde opgesluit lê. Die digkuns staan altyd in diens van respek, liefde, hartseer, woede en die soeke na waarheid wat op geen ander manier vertel kan word nie.

Boeremusiek en mirrorballs

Rocco de Villiers

30 November 20:00 by die Endler. Kaartjies: R220

Pianis Rocco de Villiers en sy orkes toor met gewilde keurspele van Jim Muller, immergroen treffers van Nico Carstens soos “Die klokkiewals” en “Zambezi”, Hansie Roodt se “Warm snare” en die legendariese boeremusiek-vioolspeler oom Mynie Reyes. Boeremusiek word afgestof, blink gepoets en kry ’n nuwe huppel in die stap vir die 21ste eeu.

Rock & Rumba

Arno Carstens, Hassan’adas en Sima Mashazi

30 November 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies: R180 – R220

Rocker Arno Carstens span kragte saam met die energieke Hassan’adas en Sima Mashazi. John Hassan lei ’n groep bobaas Kaapse musikante in Hassan’adas, ’n groep wat spesialiseer in dansstyle soos die salsa, rumba, samba en Afrika-ritmes. Uitstekende sangstemme en aansteeklike verwerkings van Arno se Engelse én Afrikaanse musiek sal sorg vir ’n onvergeetlike aand wat ’n glimlag op jou gesig en ’n swaai in jou heupe sal sit.

The Notes of the Ancestral Spirits

Dizu Plaatjies en Ibuyambo

1 Desember 13:00 by die Fismer. Kaartjies: R120

Voorvadergeeste is dikwels deur mediums gekontak deur drome en in toestande van beswyming. Hulle sal dan hierdeur vir mense inligting gee oor die oorsake van siektes, dood en ander probleme. Soms sou hulle medisyne of selfs toordery voorskryf. Ander kere sou die geeste van hul menslike protégés verwag om te sing en te dans en hulle te vermaak of dank te betoon. Hierdie vertoning het ten doel om die geeste van ons voorvaders te laat herleef en te eer.

Ramon Alexander: Ode aan Goema

Ramon Alexander-sekstet met Nicolas Miso

1 en 2 Desember. 19:00 by die Fismer. Kaartjies: R200

Ramon Alexander, ’n kunstenaar wat die sub-genre Cape jazz verteenwoordig, word beskou as een van die toonaangewendste stemme in Cape jazz/Goema. In sy aanbieding by die eerste Musiekindaba deel Ramon stories en nuwe verwerkings van oorspronklike komposisies wat sy mentors en musikale invloede huldig, met spesiale fokus op die werke van Ibrahim Khalil Shihab.

Hoe ons voel

Amanda Strydom, Coenraad Rall, Frank Freeman

1 en 2 Desember. 20:00 by die Adam Small-teater. Kaartjies: R200

Johannes Kerkorrel. 20 jaar later. Nooit vergete. Amanda Strydom bring hulde aan haar vriend Ralph Rabie. Kom ervaar sy bekende liedjies in ’n nuwe lig; die ander kant van ’n ikoon wat ons te vroeg verloor het.

Hip-hop, bop & pop

Jack Parow, Early B, Loki Rothman en die Blake Hellaby-kwintet

1 Desember 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies: R180 – R220

Kom kyk hoe vloei die wêrelde van hip-hop, pop en jazz ineen. As rymkletsers het Jack Parow en Early B geen bekendstelling nodig nie. Loki Rothman is ’n fenomeen op kitaar en deesdae ook ’n suksesvolle musiekvervaardiger. Blake Hellaby is ’n klavier-virtuoos en een van Kaapstad se top-jazzmusikante en musiekvervaardigers. Saam vorm hierdie groep ’n wenkombinasie wat wys dat musiek alle grense oorkom.

Waar die hart is

Neil Sandilands, Andriëtte Norman, Louis Mhlanga, Sima Mashazi, Albert Frost en Schalk Joubert

2 Desember 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies: R180 – R220

Musiek is ’n universele hartstaal, ook hier in Suid-Afrika met soveel verskillende en unieke style. “Home is where the heart is,” het Elvis gesing. In hierdie samekoms van uiteenlopende sangers en musikante wys hulle hoe ons oor grense heen saam musiek kan maak en dat ons harte op eie bodem gewortel is.

Kaapse jol

Emo Adams

3 Desember 15:30 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies: R180 – R220

Wat maak die Kaap so lekker? Emo Adams is ‘n man wat weet! Emo is bekend vir sy buitengewone talent en lang loopbaan in musiek en musiekteater. In Kaapse jol bring hy van die moederstad se beste musikante, dansers en sangers byeen om te wys hoe ons hier kan dans en sing. Soos wat dit net in die Kaap gedoen kan word!

Altyd immer

Tarryn Lamb, Coenie de Villiers, Anton Goosen, Gian Groen, Robert Bolton

3 Desember 20:00 by die Oude Libertas-teater. Kaartjies: R180 – R220

Ware talent en kuns is tydloos. Kom vier hierdie samekoms met van ons beste talent wat oor meer as vier dekades strek. Die immergroen liedjies van Coenie de Villiers, Anton Goosen, Tarryn Lamb, Gian Groen en nuwe talent soos Robert Bolton sal sorg vir ’n gesonde kombinasie van nostalgie oor gister, troos vir nou en nuwe hoop vir die toekoms.

Musiekindaba het ook voorstelle van onafhanklike kunstenaars, agente en platemaatskappye ontvang en vertoonvenster- en foyer-konserte sal aangebied word om ’n verhoog aan nuwe talent te gee. Daar is ook ’n Straatfees op Vrydag 2 Desember waar die hart van Stellenbosch gevul gaan word met musiek, spys en drank. Tydens dié jolige safari gaan Musiekindaba-gangers verskeie kunstenaars in en om Kerkstraat sien optree, met restaurante in die area wat vir genoeg lafenis sal sorg.

REGISTREER VIR MUSIEKINDABA AANBIEDINGE

Die Musiekindaba, in samewerking met kykNET, Netwerk24, Huisgenoot, Die Burger, Beeld, Volksblad, Kuier, Toyota en Easy Equities word van 30 November tot 3 Desember 2022 in Stellenbosch aangebied. Kunstenaars en lede van die publiek kan nou by www.musiekindaba.co.za vir meer as 60 aanbiedinge registreer. Daar is vier afdelings:

Forte Hoofsprekers

Presto-Presto Paneelgesprekke

G-sleutel Werkswinkels

Encore! Meesterklasse

Registrasie kos R200 vir kunstenaars en R400 vir die publiek. Jou eie feesprogram word volgens jou keuses elektronies gelaai en jy kan dan jou persoonlike Musiekindaba-programkaart in die Behrens-foyer van die Konservatorium op die hoek van Victoria- en Neethlingstraat in Stellenbosch tydens die Musiekindaba gaan afhaal. Kaartjies vir die Musiekspyskaart moet apart by Quicket bespreek word.

Gaan na www.musiekindaba.co.za vir die volledige program.

Lewer kommentaar

Leave a Reply