Silwerskermfees 2014 – nou met dokkies en WDC-inisiatief

Die vierde kykNET Silwerskermfees vind plaas vanaf 27 Augustus 2014 by die Bay Hotel in Kampsbaai.


Die feesprogram bestaan elke jaar uit debuut kort-en vollengte films, besprekingspanele asook ‘n glans toekeningsgeleentheid. Die fees is ‘n vertoonkas vir die Afrikaanse filmbedryf en hierdie jaar sprei die fees sy vlerke nog breër met ‘n nuwe kategorie vir dokumentêre films, 15 nuwe kortfilms wat deur kykNET en Silwerskerm vervaardig word, 25 bestaande films en ‘n projek in samewerking met Kaapstad se World Design Capital-inisiatief.

Die kortfilms is beslis ‘n groot hoogtepunt op die program. Die doel van die kortfilms is om vir ‘n jonger generasie filmmakers die geleentheid te bied om hul talent te ontwikkel onder die leiding en mentorskap van gevestigde name in die filmbedryf. Die inskrywings vir hierdie kategorieë het hierdie jaar verdriedubbel en as gevolg van die hoë gehalte aansoeke wat ontvang is, is besluit om hierdie jaar 15 in plaas van die gebruiklike 13 films te vervaardig. Onder mentorskap van Mitzi Booysen, Herman Binge, André Stoltz en Deon Opperman is 24 voorstelle uit die talle inskrywings genooi om deel te neem aan die teksontwikkelingsessies. Uit hierdie groep is die finale 15 tekste gekies wat vir die fees vervaardig word. Die befondsing van die kortfilms word deur kykNET verskaf.

Volgens Silwerskermfees mentor Deon Opperman; “Nes daar in sport vir “diepte” in spanne gesorg word deur hoë-standaard opleidingsgeleenthede aan die opkomende talent van die volgende generasie aan te bied, so bied Silwerskerm die geleentheid aan opkomende talent in die filmbedryf aan – vervaardigers, skrywers, regisseurs en produksiespanne – om hulle vaardighede te slyp ter voorbereiding vir groter, professionele projekte daarna. Dit is vir my ‘n besonderse plesier om as skryfmentor by Silwerskerm betrokke te wees. Dit is my diepste oortuiging dat hierdie projek in die jare vorentoe ‘n wesenlike impak op die standaard van Suid-Afrikaanse film sal hê.”

Die kortfilms spog met baie jong talent voor én agter die kameras soos Marisa Drummond, Jennis Williamson en JC Snooke (Stom), Eddie de Jager en Solomon Cupido (‘n Liefdeslobotomie), Bouwer Bosch en Bennie Fourie (Vuil Wasgoed) en, Jenna Dunster, Asleigh Harvey en Tessa Denton (Neem my saam).

Twee bekende toneelstukke is vir die kortfilm genre verwerk naamlik Nicola Hanekom se Trippie en Charles Fourie se Agterplaas. Nog ‘n bekende dramaturg wat verantwoordelik is vir een van die kortfilms is Tertius Kapp (Iemand Anders).

Silwerskermfees 2014
Silwerskermfees 2014
Oudergewoonte is daar ook heelwat bekendes wat in die rolverdeling te siene sal wees; onder andere Tinarie van Wyk-Loots (Juweeldiewe), Susanne Beyers en Pietie Beyers (Onder die Tafel), Elsabé Daneel, Marion Holm, Helene Truter en Antoinette Louw (Totsiens, Pa) André Odendaal, Harald Richter (Die Laaste Ure), Nataniël en Elzette Maarschalk (Almon, Henry), Shamilla Miller en Irshaad Ally (Nommer 37), Neels van Jaarsveld en Arno Jordaan (Ben se Begrafnis), Quentin Krog en Cindy Swanepoel (Eenrigting).

Die Silwerskermfees is ook trots om hul betrokkenheid by Kaapstadse World Design Capital-inisiatief bekend te maak. As deel van hierdie inisiatief maak die Silwerskermfees, in samewerking met AFDA en die Guga S’thebe Kuns en Kultuur sentrum in Langa, ‘n aantal kort 1-2 minuut films. Hierdie films beoog om ‘n visuele storie te skep deur die landskap en die taal van die gemeenskap te gebruik en sodoende ‘n unieke Suid-Afrikaanse narratief te skep. Die projek is ook verder ontwikkel in Hillbrow, Johannesburg en dié films sal ook tydens die fees vertoon word.

Die Bestaande film kategorie bestaan hierdie jaar uit 25 films. Inskrywings vir hierdie kategorie was oop vir alle films wat op plaaslike bodem vervaardig is. ‘n Dokumentêre kategorie word ook hierdie jaar by die Silwerskermfeesprogram gevoeg.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar