Dis vanjaar 20 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblyk-produksie, Gè Sing: Hoor My Lied!
Die produksie word op Saterdag, 31 Augustus om 20:00 in die Big Top Arena by Carnival City aangebied, en besoek daarna GrandWest se Grand Arena op Saterdag, 28 September, ook om 20:00. Besprekings kan by Computicket gedoen word deur 0861 915 8000 te skakel, of op die webwerf www.computicket.com. Groepe van 10 of meer kry oudergewoonte ‘n lekker afslag deur Lefra te skakel by 011 815 3000, of ‘n e-pos te stuur aan admin@lefra.com.
Frans Swart, regisseur van Gè Sing: Hoor My Lied! sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gè Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, administrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!”
In die produksie Gè Sing: Hoor My Lied! word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n reuse skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur van die land se voorste kunstenaars, waaronder Andrè Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt, Jannie Moolman, die PJ Twins en Taschè van TV se The Voice-faam, en volle orkes.
Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland gebore. Hy was die jongste van agt kinders en het in 1936 as negejarige seun saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het sy loopbaan as operasanger begin en was reeds op 20-jarige ouderdom lid van die SAUK se kore. Hy het in 1952 stemopleiding ontvang aan die South African College of Music in Kaapstad onder leiding van Adelheid Armhold. In 1955 het hy na Pretoria verhuis waar hy verdere opleiding onder leiding van Albrecht Lewald ontvang het. Hy was in dieselfde jaar ook een van die stigterslede van die Pretoria-operageselskap. Sy operadebuut maak hy in 1956 as Canio in Pagliacci. In 1962 word ‘n oorsese studiebeurs aan hom toegeken waarna hy in 1963 in Europa onder Judith Hellwig verdere opleiding ontvang en ook die geleentheid kry om in operas in Europese stede soos Wene en München op te tree. In 1976 het hy die Nederburg-prys vir Opera ontvang vir sy hoofrol in Andrea Chénier.
Korsten het nege goue plate agter sy naam gehad. Hy het tydens sy loopbaan, wat oor 40 jaar gestrek het, 58 albums opgeneem. Hy het ses Sarie-toekennings ontvang en in 1979 ‘n Artestoekenning vir sy TV-program Gé Sing. Hy het ook die rol van Walt Vorster in die sepie Egoli gespeel. In 1985 is hy as hoofdirekteur van Kruik in Kaapstad aangestel en het die pos tot in 1989 beklee. Korsten is op 3 Mei 2008 tydens die 14de Suid-Afrikaanse Musiektoekennings vereer vir ‘n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek.
Gè Sing: Hoor My Lied! beloof ‘n aand se elegante vermaak, geskik vir die hele gesin, wat enersyds werk as vermaak, maar andersyds ook die nalatenskap van ons baanbrekers weer in fokus bring. Kry jou kaartjies vir die ongelooflike teaterervaring nou by www.computicket.com, of skakel 0861 915 8000. Vir groepbesprekings, kontak Lefra by 011 815 3000 of stuur ‘n e-pos aan admin@lefra.com
Big Top Arena, Carnival City | Saterdag, 31 Augustus 2019 Om 20:00
Grand Arena, Grandwest | Saterdag, 28 September 2019 Om 20:00
Met: Andrè Schwartz | Louis Loock | Arina De Witt | Jannie Moolman | Taschè | Pj Twins
Regisseur: Frans Swart
Besprekings: Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com Groepe van 10 of meer teen afslag: skakel 011 815 3000 of e-pos admin@lefra.com
Lewer kommentaar