Die gewilde Nederburg Konsertreeks imponeer van Junie tot Desember vanjaar weer met konserte deur top internasionale kunstenaars en gevierde Suid-Afrikaanse musici.
As ’n onbetwiste gunsteling onder liefhebbers van puik musiek en smaaklike kos en wyn, het dié reeks oor die afgelope drie dekades legio bekende name uit die musiekwêreld aangebied, sowel klassiek as cross-over. Die komende seisoen, wat oudergewoonte by die historiese Nederburgherehuis in die Paarl aangebied word, beloof om geen uitsondering te wees nie.
Twee van Suid-Afrika se bekendste musici, die sopraan Zanne Stapelberg en pianis Albie van Schalkwyk, open die seisoen op Sondag 29 Junie om 17h00 en beloof om die gehoor op ’n onvergeetlike musikale reis neem. Stapelberg, wat gereeld op die Nederburg verhoog optree, is bekend vir die gemak waarmee sy uiteenlopende musikale style bemeester. Die program bied dus ’n wye verskeidenheid, van kunslied en kabaret tot Afrikaanse liedere.
Op Sondag 27 Julie kom die indrukwekkende talent van die 17-jarige Stellenbosse pianis Roelof Temmingh aan die beurt. Temmingh, wat waarskynlik die jongste kunstenaar is wat al genooi is om by Nederburg op te tree, het onlangs die gesogte eerste prys in die Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie, tesame met al die kategoriepryse, ingepalm.
Die sopraan Caroline Modiba, wenner van die ATKV-Musiqanto 2013 kompetisie, deel op 24 Augustus die verhoog met die bekende violis Zanta Hofmeyr en pianis Philippus Hugo. Hul keuse van musiek word gewy aan geliefde werke vir stem, viool en klavier. Hierdie konsert word aangebied in samewerking met die ATKV.
Na ’n formidabele driekuns konserte ter viering van Suid-Afrikaanse talent, kan die gehoor daarna uitsien om op 28 September die wêreldbekende klarinetvirtuoos David Krakauer te verwelkom. Krakauer, wat beroemd is vir sy buitengewone talent om van klassieke repertorium tot Klezmer en jazz briljant te vertolk, sal begelei word deur die Suid-Afrikaanse pianis Kathleen Tagg, wat tans in New York woonagtig is. Die unieke program vir hul optrede by Nederburg word spesiaal vir die reeks saamgestel.
’n Klavieruitvoering deur die bekroonde Russiese pianis Andrey Pisarev sluit vanjaar se kamermusiekkonserte by Nederburg af. Hierdie wenner van talle internasionale musiekkompetisies, wat wêreldwye aansien deur kritici geniet, sal tydens sy uitvoering op 2 November onder meer die volledige 24 Preludes, Opus 8 van Frederic Chopin vertolk.
Bespreek vir die kamermusiekkonserte by concerts@distell.co.za of skakel tel. 021 809 8412 gedurende kantoorure. Kaartjies teen R200 per person, sluit ’n glas sjerrie in ter verwelkoming, Nederburg-vonkelwyn tydens pouse en uitgesoekte Nederburg wyne en kanapees na afloop van die konsert.
Op Sondag 29 November verskuif die reeks na buite vir die uiters gewilde jaarlikse Nederburg pieniekkonsert. Met die prentjiemooi Kaaps-Hollandse herehuis as agtergrond, kan jonk en oud weer die hartlike atmosfeer op die grasperk geniet en luister na ’n program van musikale gunstelinge. Opwindende jong soliste tree saam met ’n volle jeug-simfonie-orkes op.
Die piekniekkonsert begin om 18h00 en die hekke open 16h00 om besoekers genoeg tyd te gun om die perfekte piekniekplek te vind. Kaartjies kos net R100 en toegang vir kinders onder 12 is gratis. Smullekker piekniekskinkborde kan vooraf bestel en voor die konsert afgehaal word. Bespreek by nedwines@distell.co.za of tel. 021 877 5173 tydens kantoorure.
Soos gebruiklik word die jaar afgesluit met die Oujaarsaandkonsert van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Op Woensdag 31 Desember word 2015 op feestelike wyse verwelkom deur die orkes en vooraanstaande gaskunstenaars met Richard Cock as dirigent. Besprekings sal by Computicket gemaak kan word.