Absa KKNK skitter met musiek-supersterre

As musiek jou ding is, dan is die Absa KKNK die plek vir jou. By vanjaar se fees, kan musiekliefhebbers kies en keur uit supersterre.


Een van die gewildste supersterre om na uit te sien is Laurika Rauch. Sy tree op in die debuut kontemporêre musiekproduksie Dorothy / 60 Jaar. Dié produksie is ‘n huldigingskonsert vir Dorothy Masuka, tydgenoot van Miriam Makeba en komponis van die bekende liedjie “Pata Pata”, en die onmiskenbare stempel wat sy afgedruk het op die Suid-Afrikaanse musiek-erfenis. Saam met Masuka sal Rauch, Karen Zoid, Zolani Mahola en die Africa Voices-koor op die verhoog verskyn. Gehore kan uitsien om van Rauch se bekendste liedjies, soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, te hoor.

Tydens ‘n onderhoud vertel Rauch dat haar en Masuka se paaie reeds in 1992 vir die eerste keer gekruis het, alhoewel sy nie daarvan bewus was nie. Masuka het op daardie stadium uit ballingskap na Suid-Afrika teruggekeer, en die eerste mooi Afrikaanse liedjie wat sy blykbaar gehoor het was “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. “Sy het toe die vinielplaat gekoop en sy het die liedjie geleer sing. Dorothy is vertroud met my werk en spesifiek “tuur groete aan Mannetjie Roux” sedert dáárdie tyd,” vertel Rauch.

Die Absa KKNK wou graag vir Masuka vereer vir haar lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse musieklandskap. Zoid het aan die werk gespring as musiek-regisseur en Carien Loubser as regisseur. Terwyl Zoid en Loubser saam met Masuka aan ‘n ander produksie gewerk het, het hulle besef hoe gaande sy oor Rauch se musiek is. Dus het hulle besluit om vir Rauch te vra om ook deel van dié produksie te wees.

Rauch sê: “Ek hou verskriklik baie daarvan om saam met ander musikante te werk. Dit is veral vir my ‘n voorreg om saam met Dorothy, Karen en Zolani te werk. Dorothy is ‘n lewende legende.”

Dorothy / 60 Jaar
Dorothy / 60 Jaar
Vanuit die regisseurstoel het Loubser gesê: “Masuka, Rauch, Zoid en Mahola sorg saam vir ‘n magiese kragtoer van musiek wat hierdie produksie baie besonders maak.”

Zoid sal ook gehore vir twee aande in Club Alcapone bederf met haar ongewone vermenging van die wêreld se beste liedjies in die produksie Karen Zoid — Under the Covers. Musiek van Lady Gaga, Queen, Miriam Makeba, Modern Talking asook Beethoven gaan ‘n nuwe baadjie kry. Saam met haar op die verhoog gaan Henry Steel op kitaar wees asook Die Africa Voices Sanggroep.

Verder op die spyskaart van supersterre waarna feesgangers kan uitsien is:

Steve Hofmeyr wat beplan om feesgangers met sy bestes van die afgelope 25 jaar te bekoor. Hy gaan treffers soos “Agter elke man”, “Kyk hoe lyk ons nou” en “Engele om ons” sing.

Chris Chameleon met sy geliefde Ingrid Jonker toonsettings. Gehore kan weer na dié bekende klanke kom luister wat deel uitmaak van die kontemporêre musiekproduksie Dreams. Chameleon sal ook op die 10 tot 10-verhoog te siene wees.

– Claire Johnston gaan vanjaar gehore vir die eerste keer op ‘n intieme musikale reis deur haar lewe neem met Claire Johnston — Intimate & Unplugged. Gehore kan regskuif vir stories en liedjies wat strek van die Beatles tot Gershwin en natuurlik ook Mango Groove-treffers soos “Dance some more”.

– Die Huisgenoot-Musiekplaas se verhoog sal skitter met name soos Theuns Jordaan, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Romanz, Snotkop, Lianie May en Karlien van Jaarsveld.

Op die splinternuwe 10 tot 10-verhoog sal groot name soos Ray Dylan, Elizma Theron, Nicholis Louw, Monique, Heinz Winckler, Wicus van der Merwe, Sorina, Pieter Smith, Adam, Izak Davel, Louis Loock, Fredi Nest en David Fourie gehore bekoor.

Op die Son Bash Top 40-verhoog sal onder andere Dr. Victor, Karin Kortjé, Emo Adams, The Rockets en Zayne Adams sorg dat feesgangers hul lywe skud.

Kaartjies vir die fees is beskikbaar by Computicket — aanlyn by www.computicket.com of by enige Shoprite / Checkers- winkel.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply