Die Absa KKNK het vanjaar weereens ‘n keurige klassieke musiekprogram.
Jan-Erik Swart, klassieke musiekkurator vir die fees het ‘n interessante klankprogram bymekaargesit wat selfs ‘n Spaanse flair aan die fees gaan gee.
Die Universiteit van Pretoria se Simfonie-orkes gaan smeulende Spaanse klanke laat hoor met die program, Sonnige Spaanse Sensasies. Die jong violis Emmanuel Bach gaan optree as solis in Lalo se Symphony Espagnole wat gehore sal meevoer na ‘n ander wêreld. Verder sal werke soos Rodrigo se Canzonetta, Turina se Danzas Fantasticas en Albéniz se Asturias uitgevoer word — alles onder leiding van die bekende dirigent Eric Rycroft.
Ander produksies wat uiteenlopende emosies by gehore sal uitlok met klassieke geestelike werke, indrukwekkende orrelimprovisasies, massakore en verskeie superstemme sluit die volgende in:
Blondes – Klassiek tot fliek: Elna van der Merwe en Zorada Temmingh gaan gehore vermaak met bekende klassieke musiek en rolprentmusiektreffers in die Absa Burgersentrum. Gehore gaan ook kan saamspeel in dié debuutproduksie deur te raai watter komponiste en werke ter sprake is. Die gewilde klavierduo se vingervlugtigheid sal klanke van Schindler’s List, The Mission, As it is in heaven, Shrek, Harry Potter, Titanic en Chariots of Fire laat hoor.
Bravissimo! The South African Sopranos: Die superstemme van Elna van der Merwe, Magdalene Minnaar, Vanessa Tait-Jones, Jo-Nette le Kay, Lynelle Kenned, Goitsemang Lehobye en Ernestine Stuurman sal gehore na ‘n ander wêreld verplaas met dié Niël Rademan-produksie. Musiek uit operas, operettes, musiekblyspele en kabarette in verskeie tale sal gespeel word. Die mooiste vokale musiek, stemtoertjies en selfs vuurwerke sal gehore op die punte van hul stoele hê.
The Goldberg Kwartet met Malcolm Nay: Malcolm Nay, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, en die Goldberg Kwartet, beloof om ‘n uitsonderlike musiekervaring te wees. Twee van die geliefde kamermusiek-werke, naamlik Dvorak se “Klavierkwintet Op. 81” en die epiese Brahms “Klavierkwintet Op. 34”, sal uitgevoer word. Name soos Zanta Hofmeyr, Daline Wilson, Morkel Combrink en Wess Beukes sal saam met Nay op die verhoog verskyn.
Gershwin songbook: Met interessante nuwe musiekverwerkings bring Charl du Plessis geliefde musiek van een van die wêreld se mees befaamde komponiste, George Gershwin, na die fees. Met du Plessis agter die klavier, Musa Sakupwanya agter die mikrofoon, Werner Spies op die kontrabas en Hugo Radyn op die tromme, sal werke soos “Rhapsody in Blue”, “Summertime”, “I got Rhythm” en “I got Plenty o’ Nuttin’” sorg vir ‘n oorverdowende applous. Du Plessis behartig die teks, vervaardiging en regie.
Pretoria Mannekoor: Die Pretoria Mannekoor gaan sorg vir aansteeklike musiekgenot met werke van Bach tot tradisionele Afrikaanse volksmusiek. Die koor staan onder leiding van Marina Mentz met Jaco Prinsloo as begeleier.
Skakerings van skepping: Zorada Temmingh doen orrelimprovisasies van kerkliedere met verskillende musiekstyle. Met haar vernuftige pedaaltegniek en vingers wat gly oor die wit en swart klawers dek sy aspekte van die skepping soos die mens, natuur, wetenskap en kuns. Barok tot modern, met hier en daar ‘n paar jazz-elemente, sal sy uiteenlopende emosies uitlok: weemoed, vrolikheid, hartseer, erns, humor en bowenal verwondering.
Trio Goldberg: Zanta Hofmeyr, Morkel Combrink en Wess Beukes (Trio Goldberg) bou voort op hulle sukses met die Bach Goldberg-variasies en Mozart “Divertimento K563”, met meer van die standaard repertoire. Die Dohnányi “‘Serenade’ Op.10” word gekombineer met die “Klein Trio” en die Beethoven “Trio Op. 9 no.1” vir ’n uitvoering met van die beste kamermusiek wat nog ooit geskryf is.
Die Alleluia! — Lofliederekonsert is ‘n debuut-produksie met ‘n massakoor en simfonie-orkes. Kaartjies vir hierdie vertoning is egter reeds uitverkoop.
Lewer kommentaar