kykNET-verhoog innibos

By die kykNET-verhoog gaan ook elke dag geskud word op die lekkerste musiek – Dewald Dippenaar, Jakkie Louw, BlackByrd, Arno Jordaan, Charlize Berg, Willem Botha, Wynand en Chereé, Refentse, Karlien Husselman en verskeie ander kunstenaars gaan van vroeg tot laat ritme en plesier verskaf.

As rock jou ding is, gaan jy dit daagliks kry by die MK Nou! Rockverhoog, waar sterre soos Bouwer Bosch, Bittereinder, aKING, Spoegwolf, Majozi, Gangs of Ballet, Matthew Mole, Albert Frost Trio, Taxi Violence en Fokfopolisiekar vir opwinding sal sorg. Hier sal ook die jong turke – die Innibos Rockrumoer-finaliste – kans kry om hul nuwe staal te wys. Kom luister na nuwelinge soos Backstage, Drywater, Held On Till May, Indigo Reign, Jonathan Peyper Trio, Out Cry, Tuin, The Unknown, Vintage Kings en Wit Kasteel en jy maak dalk nader kennis met die ikone van môre.

En dis nie al waarna musiekliefhebbers kan uitsien nie. Op Donderdagaand, 30 Junie, rol groot kanonne vir die kyNET Rockkonsert op die Standard Bank-verhoog: Prime Circle, Kahn Morbee, Albert Frost, Dan Patlansky, Black Cat Bones, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties en Francois van Coke kry almal die geleentheid vir ’n musikale vuurwerkvertoning.

By die kykNET Konsert van Vrydagaand, 1 Julie, is dit dan Eden, Juanita du Plessis, Dr Victor & The Rasta Rebels, Riana Nel, Gerhard Steyn, Willem Botha, Adam Tas, Jak de Priester en Emo Adams se beurt om die Standard Bank-verhoog aan die brand te sing.

As jy platsak is, kan jy selfs verniet fees by die gratis kykNET Bosbioskoop in die Kunspark. Dié Bosbioskoop sal tot 2 Julie in vier tot ses vertonings per dag ’n wye verskeidenheid van flieks en kortfilms wys – van klassieke rolprente soos Die storie van Klara Viljee, Paljas en Die wonderwerker tot nuwe speelfilms waaroor almal praat soos Sink en Modder en bloed.

Ook vir die kleinspan is daar kykNET-vermaak: Tjff en Tjaff-vertonings sal daagliks by Apies in die Bos te sien wees.

kykNET nou
kykNET nou

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar