Die produksies Mooi Maria, Rooiland, lig en … miskien het Saterdag by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees met die grootste pryse weggestap.
Die dramaturg Tertius Kapp se Rooiland het die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys gewen vir die beste nuwe Afrikaanse teks wat by Aardklop debuteer. Volgens die paneel is dit “ ’n onversetlike teks wat hard slaan, terwyl die gebruik van die taal outentiek is vir die milieu waarin dit afspeel. Dit is nie net ’n tronkdrama nie, maar ’n mensdrama”. Kapp wen R30 000. Hy kry ook ’n verdere R20 000 om ’n nuwe teks vir Clover Aardklop te skep vir 2012 en R38 000 word bewillig as saadgeld om die teks lewe te gee op die planke.
Jaco Bouwer het die Beeld-Aartvarkprys gewen vir grensverskuiwende werk met lig wat by Aardklop gedebuteer het. Die prysgeld beloop R20 000 en die wenner het ook ’n beeld van Sybrand Wiechers, wat spesiaal vir die prys geskep word, gewen. Bouwer word bekroon vir sy oorgang van akteur en regisseur na installasie-kunstenaar waar hy sy gehoor deur sy kop en skeppingsproses laat reis tussen kuns en wetenskap; lig en donker.
’n Nuwe prys, die Clover Soveel Beter-prys van R25 000 vir die beste aanbieding in welke genre ook al, het gegaan aan … miskien. Die paneel meen dit is “ ’n eerlike en aangrypende eietydse drama. Dit verken menslike intimiteit op ’n klein skaal, maar ontroer met verbysterende slaankrag”.
Die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste Afrikaanse aanbieding ter waarde van R10 000 is gewen deur Mooi Maria. Volgens die paneel moet die regisseur Albert Maritz geloof word vir sy artistieke visie wat nuwe betekenisvlakke van Pieter Fourie se klassieke teks ontgin het. “Dit is in alle aspekte ’n gehalte-produksie met besondere ensemble-spel”.
Die Absa-prys vir beste akteur en aktrise (van R10 000 elk) is onderskeidelik toegeken aan Brendon Daniels vir sy spel as Adidas in Rooiland en aan Anthea Thompson vir die titelrol in Mooi Maria.
Die veelsydigheid van Daniels se vertolking van Adidas het beïndruk – die vreesaanjaende dierlikheid van die karakter, sowel as die kruiperige onderdanigheid as die magsposisie omgeswaai word. Thompson se naturalistiese benadering in die uitbeelding van die gestremde Maria het ontroer. “Thompson word Mooi Maria. Sy is nie ’n aktrise wat probeer om ’n gestremde karakter te speel nie.”
Die Clover Mama Afrika-prys van R5 000 vir die beste gemeenskapskunstenaar of -groep is toegeken aan Ikageng Billy Cosby Cultural Group – ’n groep wat nie net hul kulturele erfenis op kreatiewe wyse uitleef nie, maar nou betrokke is by gemeenskapwerk onder weeskinders en vigs-wesies.
Die Burgemeesterprys vir die Gewildste Produksie ter waarde van R5 000 is gewen deur Janneman.
Die totale bedrag aan prysgeld wat vanjaar by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees toegeken is, beloop R173 000.
Addendum
Benoemdes vir die Beeld Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk
Jaco Bouwer vir lig
Chris Chameleon vir die bindingsteks van Chris Chameleon: Klank van jou oë
Rina Stutzer vir haar uitstalling Die opbou van afbreek
Benoemdes vir die Clover Soveel Beter-prys vir die beste aanbieding
… miskien
Mooi Maria
Chris Chameleon: Klank van jou oë
Benoemdes vir die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste Afrikaanse aanbieding
Mooi Maria
Rooiland
Lot
Benoemdes vir die Absa-prys vir die beste akteur
Brendon Daniels vir Rooiland
Charlton George vir Rooiland
Albert Pretorius en Gideon Lombard gesamentlik vir … miskien
Benoemdes vir die Absa-prys vir die beste aktrise
Anthea Thompson vir Mooi Maria
Isadora Verwey vir Mooi Maria
Franci Swanepoel vir Janneman