Verskeie temas kom na vore in vanjaar se toneelaanbod by die Aardklop Nasionale Kunstefees. Die kwessie van ontheemding word in verskeie produksies aangespreek en party gaan delf in die geskiedenis om ‘n dramatiese storie te vertel, maar ‘n behoefte wat sekerlik die sterkste deurskemer, is om in donker tye die komiese aspekte van die menslike bestaan uit te lig.
Vir die twaalfde Aardklop is drie guitige skrywers genader om blitskomedies te skep wat elkeen net veertig minute duur en almal in ‘n slaapkamer afspeel: Henriëtta Gryffenberg se Hotel Hel speel af op die vooraand van die 2010 Wêreldbekersokkerstryd; Francois Toerien se Seks in die suburbs fokus op ‘n ontmoeting tussen ‘n ouer vrou en ‘n jong man; en in Chris Vorster se Vrydag is skeidag spat die vonke tussen ‘n paartjie wat op skei staan. Vorster is ook die skrywer van die aksie-komedie en debuutproduksie Adam September en die Nazi-skat met spelers soos Marius Weyers, Ben Kruger, Ivan Abrahams en Christo Davids.
Vanjaar se Hertzogpryswenner, Deon Opperman, keer terug na die fees met die debuutproduksie My Sarie Marais, waarin Deon Coetzee en Hanli RolfesOpperman te sien sal wees en wat die eerste drama is in ‘n reeks van drie wat saam bekend staan as Die Mooirivier-trilogie. Die opspraakwekkende Willem Anker se Skrapnel, geskryf in opdrag van Aardklop, is ‘n eietydse dokument oor ‘n generasie Afrikaanse jong mense wat sonder wortels en sonder uitsig die wêreld invaar, met die bekroonde Jaco Bouwer aan die stuur.
Op die Engelse toneelfront wissel die aanbod van die grootse na ware kleinkuns. Helen Iskander en James Cuningham van Fresco Theatre-faam se The Famished Road, gegrond op Ben Okri se Bookerpryswennerroman, het pas by die Nasionale Kunstefees op Grahamstad gedebuteer en spog met ‘n uitstaande rolverdeling. Die aangrypende en bekroonde Every Year, Every Day, I Am Walking van Magnet Theatre vind ook uiteindelik sy weg na Aardklop met Faniswa Yisa en Jennie Reznek wat skitterspel lewer. Aja Marneweck van die Out of the Box Festival se In Medea Res is volwasse poppeteater, terwyl Why We Left van poësie en dialoog gebruik maak om die verhaal van twee jong mense te vertel wat probeer om hul voete in die buiteland te vind.
Ansela van de Caab en Vinette Ebrahim – Miss Africa South maak gebruik van historiese gebeure om stories uit twee uiteenlopende tye in die bruin geskiedenis te belig, terwyl Athol Fugard se The Blood Knot in Afrikaans herleef as Bloedbroers met Hennie Jacobs en Christo Davids in die rolverdeling. Themba Ndimande en Calvin Ngcaku sit hul eiesoortige mengsel van toneel, musiek en dans voort in Wie sien ons?.
Tieners moet beslis kennis neem van Saartjie Botha se 18* en die ATKV-tienertoneel: Finaal wat by Aardklop aangebied word. Daar is ook twee aanbiedings van Rhodes-universiteit se Die bannelinge, wenner van vanjaar se Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (Spat). Vanjaar se Nagtegaal-tekspryswenner, Rachelle Greeff se Die naaimasjien met Sandra Prinsloo, trek oral vol sale en by Aardklop sal dit gewis ook so wees. Die ontstellende Dis ek, Anna, gegrond op Anelle Bester se boek, herleef vanjaar in ‘n professionele produksie ná dit ‘n paar jaar gelede as ‘n Spat-inskrywing groot opslae gemaak het. In Die dinges is ‘n watsem: Jan Spies kom tot verhaal gee Lizz Meiring, Deon Coetzee en Johan Engelbrecht ‘n nuwe gedaante aan ‘n keur van Spies se verhale.
Harry Kalmer se Parkamampoer, met onder andere Tobie Cronjé, gaan soek die humor in ‘n Suid-Afrikaner se verhaal wat in Kanada woon, terwyl Saartjie Botha se swart komedie Indien moeg stop/rus ‘n mens anders laat kyk na ‘n vrou en haar obsessie oor motorongelukke. Die gewilde RSG-vervolgverhaal Kniediep kry ‘n tweede asem op die verhoog as Oupa en Ouma sit op die stoep met Johan Botha en Lida Botha in die rolle van die twee oues van dae.
Wees ook op die uitkyk vir ‘n paar gewilde produksies wat die lagspiere gaan kielie: die grotman (Hannes Muller) en die grotvrou (Karen Wessels) maak ‘n draai; Rian van Heerden is Siek en saad; Shaleen Surtie-Richards is weer Shirley Valentyn; Sussie (Marion Holm) sê Cheers!; en Leon Kruger trek los met Suurgat 2. Die Take 5 Comedy-klub maak vanjaar die eerste keer hul opwagting en Ilne Fourie gedra haar soos ‘n wafferse kryger in Impi.
Die kindertjies kan uitsien na Die avonture van Pippie Langkous, ‘n aangepaste weergawe van Rooikappie en die wolf en Lappies en die Bosveldbende. As ‘n bonus is daar ‘n eenmalige uitvoering van Camille Saint-Saëns se Karnaval van die diere met Philip de Vos as die verteller.
In die teatergesprekke word daar gefokus op 18*, Skrapnel, My Sarie Marais en The Famished Road. Die oorkoepelende tema van vanjaar se Sol Plaatje Diskoersreeks is Beloofde land of bedreigde land? en in die vier gesprekke word daar onderskeidelik gesels oor leierskap, die ekonomie, die regstelsel en persvryheid met Freek Robinson van Praat saam as gespreksleier. Twee middae word die gesprekke voortgesit wanneer daar gefokus word op vrouekrag en die jeug.
Aardklop word van 29 September tot 3 Oktober in Potchefstroom aangebied. Besprekings open landwyd op 23 Julie by Computicket. Vir inligting oor verblyf, kontak 018 294 7508 of besoek die webwerf by www.aardklop.co.za vir algemene inligting en meer besonderhede oor die program.