Die feesprogram van die Absa KKNK, wat vanjaar vir die 21ste keer op Oudtshoorn aangebied is, het gesorg dat die Kannapaneel, wat jaarliks die Kanna-pryse oftewel die “Klein Karoo Oscars” moet toeken, diep moes dink om die nominasies aan te wys.
Nicola Hanekom wat vanjaar erkenning kry met die Afrikaans Onbeperk-prys vir Vernuwende Denke, het met In glas ’n debuutproduksie op die planke gebring wat feesgangers laat praat het en in vyf kategorieë benoemings ontvang het. Ander feesdebute wat die tonge laat klap en die paneel uitgedaag het, is Jaco Bouwer se Buite blaf die honde swart en Santa Gamka, asook Jerry Mofokeng se Moeder Moed en haar kinders. Die reaksie op Christiaan Olwagen se vars Tsjechof-verwerking, Die seemeeu was ’n verdere bevestiging van dié jong regisseur se groot talent.
“Met so ’n kundige, ervare en passievolle paneel was dit ’n voorreg en plesier om vanjaar by die Kannas betrokke te wees,” sê Danie Marais, sameroeper van dié paneel. “Hoewel paneellede elk ongeveer 30 produksies dié week gesien het, is nooit gekla oor moegheid nie en was die entoesiasme groot tot by die stemming aan die einde. Almal het groot erns gemaak met die beoordelingstaak omdat ons almal weet hoeveel erkenning op die regte tyd vir enige kunstenaar kan beteken.”
Al die produksies op die amptelike feesprogram kom in aanmerking vir ’n Kanna en vanjaar is daar benoemings in twaalf kategorieë – die Kannas vir Beste Byspeler (manlik en vroulik) is twee nuwe kategorieë wat op aanvraag van die Kannapaneel in oorleg met die feesbestuur geskep is. Die paneel was so beïndruk met die spel in verskeie teateraanbiedings vanjaar, dat daar gevoel is dit sou onregverdig wees om skitterende byspelers met eweneens puik hoofrolspelers te laat meeding om net een toekenning.
Die paneel moes ook behoorlik kopkrap oor die Beste Musiekproduksie-kategorie, want dié kompetisie was vanjaar besonder straf. Dit was veral verblydend om te sien hoeveel suksesvolle en verrassende samewerking daar was tussen musikante wat nog nie voorheen ’n verhoog gedeel het nie.
Die Kanna-wenners word op Sondag, 10 Mei in die Kaap aangekondig. Die Kanna-beelde is ’n beeldhouwerk deur Martyn Schikerling, van Dionysus Sculpture Works. Die Kannapaneel het besluit op die volgende nominasies vir die “Klein Karoo Oscars”:
Kanna vir Beste Teater-aanbieding
• Die seemeeu
• In glas
• Moeder moed en haar kinders
Kanna vir Beste Akteur
• Elton Landrew (Bidsprinkaan)
• Marlo Minnaar (Santa Gamka)
• Albert Pretorius (Buite blaf die honde swart en Die seemeeu)
Kanna vir Beste Byspeler – manlik
• Deon Lotz (Moeder Moed en haar kinders & Die seemeeu)
• De Klerk Oelofse (Liewe Heksie: Flower Power)
• André Roothman (Moeder Moed en haar kinders )
Kanna vir Beste Aktrise
• Aletta Bezuidenhout (Moeder Moed en haar kinders)
• Rolanda Marais (Die seemeeu)
• Tinarie van Wyk Loots (In glas)
Kanna vir Beste Byspeler – vroulik
• Sandra Prinsloo (Die seemeeu)
• Cintaine Schutte (Moeder Moed en haar kinders & Die seemeeu)
• Lee-Ann van Rooi (Bidsprinkaan)
Kanna vir Beste Musiekproduksie
• Al lê die berge nog so blou
• Amanda Strydom: Die hele boksemdaais
• Emo Adams is duidelik
Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering
• Bach vandag
• Die vredemakers
• Nokturne
Kanna vir Beste Regie
• Jaco Bouwer (Santa Gamka & Buite blaf die honde swart)
• Nicola Hanekom (In glas)
• Christiaan Olwagen (Die seemeeu)
Kanna vir Beste Debuutwerk
• In glas
• Moeder Moed en haar kinders
• Santa Gamka
Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar
• Schalk Bezuidenhout (Lewendig)
• Hilandi du Toit (Die somer het ’n geel rok aan)
• Shinobia Saptouw (Al lê die berge nog so blou)
Herrie Kanna vir Kopverskuiwende Werk
• Die seemeeu
• In glas
• Santa Gamka
Kanna vir Beste Visuele Kunsaanbieding
• As die vlooie byt in La La Land – Nathani Lüneburg
• Baie belaglik – Liberty Battson
• Filmverse – Diek Grobler
Vanjaar se Kannapaneel is Danie Marais (sameroeper), Charl Bezuidenhout, Steyn du Toit, Eduard Greyling, Deon Maas, Wayne Muller, Laetitia Pople, Louis Pretorius, Marguerite Robinson, Johan van der Merwe en Wim Vorster.