Wie sou kon raai dat wat 21 jaar gelede begin het as ‘n klein idee gedryf deur die passie van ‘n paar mense sou groei tot die Absa KKNK wat ons vandag ken en ‘n duidelike impak op die kulturele landskap van die land sou maak.
Die fees se argiewe spog met heelwat hoogtepunte, van internasionale kunstenaars wat al ‘n draai in die Karoo kom maak het tot ikoniese oomblike vasgevang in foto’s soos ontslape oud-president Nelson Mandela wat die Groot Afrikaanse Verseboek omhoog hou voor ‘n verstomde skare na ‘n besoek aan die fees in 2001.
Die Absa KKNK vier vanaf 29 Maart tot 5 April 2014 sy twintigste bestaansjaar as ‘n fees wat fokus op kultuur, kos, kuns, klets, kattermaai en kuier. Met meer as 100 aanbiedings op die program is daar iets om elke palet te versadig.
Vanjaar skop die fees af in styl met die Bravo Bal. Hierdie glansgeleentheid is ‘n fondsinsameling vir die Teaterbystandsfonds. Karoo Pops en Kaktus op die Vlaktes is oudergewoonte weer deel van die musiekaanbiedings terwyl verskeie ander musiekverhoë besoekers die geleentheid gee om legendes in aksie te sien asook om aan wonderlike nuwe talent blootgestel te word. Sangers om na uit te sien sluit in, onder andere, Dorothy Masuka, Steve Hofmeyr, Rina Hugo, Laurika Rauch, Karen Zoid, Amanda Strydom, Emo Adams, Zanne Stapelberg, Chris Chameleon, Jannie du Toit, Anna Davel, Laurinda Hofmeyr, Elvis Blue, Adam Tas, Take Note en Spoegwolf.
‘n Paar gunsteling toneelproduksies word weer terug gebring. Shaleen Surtie-Richards in die gewilde Shirley Valentyn, Deon Opperman se Boesman, my seun met Louise van Niekerk en Wessel Pretorius en Sandra Prinsloo se Naaimasjien maak weer ‘n verskyning.
Bekroonde produksies soos macbeth.slapeloos met Anna-Mart van der Merwe en Dawid Minaar, Oorsee deur Tertius Kapp met Brendon Daniels en Nicole Holm en Land van skedels die plekspesifieke produksie van Nicola Hanekom gaan beslis hoogtepunte wees.
Nuwe werk debuteer ook by die fees, onder andere Moeder Moed en haar kinders oorspronklik deur Bertoldt Brecht vertaal deur Saartjie Botha met Aletta Bezuidenhout, Samsamasjien deur Willem Anker waarvan Jaco Bouwer die regie behartig, Braai deur Willemien Brümmer en die nimlike Bladsy 3 met Elma Postma, wat ondersoek instel na die ikoniese ontkleedanseres, Glenda Kemp, se lewe. Die skreeusnaakse klug Boeing-Boeing met Terence Bridgett en Theodore Jantjies debuteer by die fees asook Dowwe Dolla in Dolla Betaal Belasting en dan Vat hom Flaffie geskryf deur Pieter Fourie en regie deur Albert Maritz, met Chris van Niekerk, Susanne Beyers, Chanelle de Jager en Emile Minnie.
Die jong teatermakers om dop te hou is beslis weer die span van Polony met hul produksies Die Lelike Eend, Waterpas en Slaaf. Christiaan Olwagen behartig ook die regie van Dogma asook Feeskatte met Susanne Beyers, Joanie Combrink en Elsabe Daneel. Wentel is die debuut werk van opkomende regisseur Nico Scheepers met Anna-Mart van der Merwe en Pedro Kruger.
Feesgangers kan ook uitsien na die Absa KKNK se eie broeikas-lokaal genaamd Baanbreek met Naomi van Niekerk in Kontinuum, Jemma Khan in Epicene Butcher asook die baie opwindende werk van Rust Cooperative genaamd Siembamba met Nieke Lombard in die rolverdeling.
Die visuele feeskunstenaars vir 2014 is Louis Jansen van Vuuren, Willem Boshoff en Gordon Froud. Ander solo-uitstallings sluit in Jan du Toit (Opklim) Marinda du Toit (Johanna Brandt en die Klein Karoo), Roelof Petrus van Wyk (Afrikana/Afrikanus), Philemon Hlunwani (Mi Kondzo Ya Tinghawi/in the footsteps of heroes) en Peter Magubane (A struggle without Documentation is no Struggle).
Besige feesgangers verdien om goed gevoed te word en daarvan is daar geen tekort in die Karoo nie. Die Karoo Lamtafel, ‘n drie-gang ete in Baron van Reedestraat. Herman Lensing en Marinda Engelbrecht bring kos en teater bymekaar met hul produksie Voorskoot en Lipstiek. Daar is ook ‘n pasproe met bier en sjokolade gaan die bier-brigade ‘n ding of twee wys.
En as die teater, musiek, kos en kuns nie genoeg is nie, is daar gholfdae op die program, kinderkuns met klei, ‘n waterverf werkswinkel, natuur-en wandeltoere en vir die fiksheid-verslaafdes selfs Bootcamp elke oggend.
Vind asseblief ‘n lys van mense wat hierdie tydens die Absa KKNK vereer gaan word of besoek;
http://www.kknk.co.za/media.php?page=news&id=56
Die volledige program sal vanaf 22 Januarie bekend wees, wanneer kaartjies ook beskikbaar sal wees op Computicket.