“Met ’n verskeidenheid bekende stemme, geharde stemme en nuwe stemme, klink die program van die
twintigste kunstefees op Oudtshoorn, soos ’n koor in harmonie.”
So sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof (wrn.) van die Absa KKNK, by die bekendstelling van die 2014-feesprogram, wat van 29 Maart tot 5 April 2014 op Oudtshoorn aangebied word.
Die Absa KKNK spog vanjaar met 22 nuwe tekste en vyf nuwe vertalings/verwerkings van internasionale
toneelstukke. In visuele kuns word drie feeskunstenaars (i.p.v. die gebruiklike een) vereer. Onder die
ongeveer 150 aanbiedings op die program is daar meer as 50 debuutproduksies.
Brandende kwessies word vanjaar trompop geloop. Rachelle Greeff het die Anene Booysen moord en
verkragting as vertrekpunt vir die drama Rondomskrik gebruik, terwyl Willemien Brümmer in haar eerste drama, Braai, die soeklig plaas op die verband tussen gesinspolitiek en landspolitiek. Moedermoed en haar kinders (verwerk deur Saartjie Botha) takel korrupsie en gierigheid en Christiaan Olwagen se plekspesifieke Dogma, is ’n gesprek tussen geskiedenis, geloof, identiteit en die magiese. Vir ewig en altyd, met vertaling en regie deur Hennie van Greunen, handel oor die invloed van ‘n terminale siekte en die etiek rondom die mens se besluitneming rondom die hantering daarvan.
Onder die bekende akteurs by die fees tel: Sandra Prinsloo (Die Naaimasjien, Vir ewig en altyd, Wie’s bang vir Virginia Woolf?), Marius Weyers (Vir ewig en altyd, Wie’s bang vir Virginia Woolf?), Anna-Mart van der Merwe (macbeth.slapeloos, Wentel), Amanda Strydom (State of the heart, Huisgenoot Klein Karoo 20 jaar pops, Misa Criolla en Navidad Nuestra, Volume 2), Tobie Cronjé (Ballade van ‘n banggat), Marion Holm (Hol Marion!, Bladsy 2 van 3 Gedigte sonder grense, Koeitjies en kalfies, ditjies en datjies …), Louis van Niekerk (Boesman, my seun), Shaleen Surtie-Richards (Rondomskrik, Shirley Valentyn), Gys de Villiers (Braai, Wit manne se wapens), Brendon Daniels (Die Rolbalspeler, Oorsee, Wie drink wat), Dawid Minnaar (macbeth.slapeloos), Antoinette Kellermann (macbeth.slapeloos, Samsa-masjien) en Theodore Jantjies (Boeing, Boeing).
Aan die ligter kant van die program is daar 20 komedies, waaronder drie omvangryke vlagskip klugte: Boeing,
Boeing onder regie van Henry Mylne, My boetie se sussie se ou onder regie van Frans Swart en Pieter Fourie se Vat Hom Flaffie onder regie van Albert Maritz.
Die vrygebore jong generasie se stemme is soms komies, soms ernstig, maar deurlopend opsoek na identiteit
in die huidige Suid Afrika. Hoogtepunte uit Baanbreek, die fees se broeikas vir die kunste, sluit in: Kontinuum van Naomi van Niekerk, Siembamba deur belowende nuwe skrywers Philip Rademeyer en Penelope Youngleson en Epicene Butcher in Japannese vertellingstyl, ’n produksie wat reeds internasionaal naam gemaak het.
Spesiaal ter viering van die 20ste Absa KKNK, word gewilde produksies herhaal: Shirley Valentyn met
Shaleen Surtie-Richards, Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo en Deon Opperman se Boesman, my seun met Louis van Niekerk en Wessel Pretorius.
Die Huisgenoot Klein Karoo 20 Jaar Pops, ’n spesiale skemerkonsert met Nataniël, Laurika Rauch, Kurt Darren, Dorothy Masuka, Karen Zoid, Emo Adams, Nianell, Thandi Klaasen, Amanda Strydom, Koos Kombuis en Zanne Stapelberg en Die Groot Kaktus op die Vlaktes met Freshlyground, Springbok Nude Girls, Van Coke Cartel, Gangs of Ballet, Bittereinder, Black Cat Bones en die Skynmaagde vier aanbiedings wat oor die
jare instellings geword het.
Die program bied ’n verskeidenheid klassieke en kontemporêre musiek met vars kombinasies van gevestigde
kunstenaars en belowende nuwe talent. Laurika Rauch en Elvis Blue is te sien in Hart en See, Amanda Strydom vier haar twintigste Absa KKNK én veelsydigheid in die kontemporêre State of the Heart en saam met die Libertas-koor in die klassieke Misa Criolla en Navidad Nuestra. Ook op die fees se verhoë, is: Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Emo Adams, Chris Chameleon, Jack Parow, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Mathys Roets, Brandon October, Karen Kortjé en Dr. Victor and the Rasta Rebels.
Die gewilde Akoestiese Klanke is ’n intieme platform vir liedjieskrywers en hul musiekvriende. Op vanjaar se program is David Kramer, Koos Kombuis, Arno Carstens & Francois van Coke, asook Karen Zoid & Zolani Mahola.
Vanjaar se drie feeskunstenaars is: Gordon Froud met sy uitstalling, A retrospective of exhibitions I never had,
Louis Jansen van Vuuren met Oogwink – ‘n kunstenaarsblik en Willem Boshoff met sy uitstalling Big Druid in his cubicle.
Snyman het tydens die bekendstelling van die program die fees se borge bedank vir hul reuse-belegging in die
kunste.
Die Absa KKNK Bravo!-bal skop die fees in styl af en dien as fondsinsameling vir die Teaterbystandsfonds. ‘n
Hardeband-gedenkboek, saamgestel deur Ilza Roggeband, Anet Pienaar-Vosloo en Karen Meiring word
tydens die bal bekendgestel en sal by die fees te koop wees.
Die fees se strewe na toeganklikheid word deur die Rivierbuurt se bekostigbare toegangspryse beklemtoon.
Kinders jonger as 15, wat deur ’n ouer vergesel word, kry gratis toegang tot die terrein en teen R120 vir die
volle week se vermaak, is die Rivierbuurt ’n wonderlike uitkoms vir benoude begrotings. Die Rivierbuurt
huisves die kykNET-musiekverhoog, waar die gewilde Son Top 40-program saans sal speel. Sowat 400
stalletjies, lekkerbek proe-ervarings (wyn en kos), gratis vermaak vir kinders, ’n pretpark en vanjaar ook ’n
area vir kampeerders, jagters en buitelewe-entoesiaste.
Kaartjies is vanaf 29 Januarie beskikbaar by Shoprite / Checkers of Computicket by www.computicket.com.