Roekeloos.co.zaRoekeloos.co.za

AFDELINGS

DIENSTE

TEKEN IN/UIT
op Roekeloos
se weeklikse nuusbrief!

Webwerf bepalings en voorwaardes

BOEKRAK

Stuur jou resensie vir ons by

Afrikaner Afrikaan

Anekdotes en analise is die subtitel wat Frederik van Zyl Slabbert aan di boek gee - ´n goeie opsomming, want daar's ´n gesonde balans tussen die twee. Dis nie bloot ´n filosofiese ontleding van die problematiek wat Afrikaanspekendes en die Suid-Afrikaanse regering in die gesig staar nie. Dit is op sigself ´n boeiende deel van die boek. Maar dit word aangevul deur persoonlike, eerlike vertellings van Van Zyl Slabbert se kleurryke lewe en loopbaan wat hom interessante draaie laat gooi het, sy belewing (en vroeë verwerping) van apartheid, sy ontnugtering met die laaste wit parlement, die kennismaking met die struggle se hooffigure, sy interessante projek op die eiland Gore, sy amper toevallige en produktiewe ontmoeting met die Amerikaanse biljoenêr George Soros, en sy diepe verbintenis aan die huidige Suid-Afrika met al sy vratte en probleme.

Een van die dinge wat Van Zyl Slabbert vir sy bewonderaars so aantreklik maak, (afgesien van sy formidabele brein) is sy eerlikheid - veral oor sy eie tekortkominge. Hy erken dikwels in Afrikaner Afrikaan dat hy "byna grensloos" naef was, byvoorbeeld oor die organisasie, ideologie en optrede van die struggle toe hy in 1974 parlement toe is. Ook oor die rol wat die opposisie in binne-parlementêre politiek kon speel om apartheid af te breek en oor die sluheid van sekere indiwidue binne die destydse Nasionale Party.

Veral P W Botha en sy "kollegas" loop deur. Van Zyl Slabbert sê prontuit: "Botha en sy kollegas het die parlement met kwalik bedekte minagting behandel en het die instelling, met die ywerige medewerking van die veiligheidsdienste, gemanipuleer, belieg en bedrieg." Die oneindige hartseer en ontwrigting wat apartheid veroorsaak het, afgesien van die moorde en wreedhede wat met die ideologie as verskoning gepleeg is, lig Van Zyl Slabbert uit met ´n paar vertellings, soos die nou reeds bekende een oor Andries Treurnicht se dogter. Die driekamer-parlement noem hy "geritualiseerde waansin".

Oor die Waarheids- en Versoeningskommissie is Van Zyl Slabbert beslis nie naef nie. Selfs sy teenstanders sal moet saamstem met sy oordeel oor hoeveel "waarheid" en hoeveel "versoening" dit tot gevolg gehad het.

Sy opsomming van die probleme waarmee Thabo Mbeki se regering moet worstel sny tot op die been - stabiliteit binne die raamwerk van ´n liberale demokrasie; misdaadbekamping in ´n kultuur wat menseregte hoog stel; ontwikkeling en opheffing terwyl finansiële dissipline gehandhaaf moet word; erkenning aan die regte van die indiwidu, terwyl minderheidsgroepe nie weer onregverdig bevoordeel mag word nie; en ´n balans tussen moderniteit en die eise van tradisionele leiers. En dit word alles vererger deur korrupsie, probleme in die onderwysstelsel en nog vele meer. Van Zyl Slabbert beskou Mbeki as uitgeslape en intelligent en wys daarop dat die regering dikwels gedwing word om te kies tussen twee goeie waardes, en dit sê hy tereg is "verdomp moeilik".

Oor wie en wat die "Afrikaner" is, en oor hoe hulle hulself kan laat geld en uitleef, gee Van Zyl Slabbert nie ´n finale uitspraak nie. Daar is heelwaarskynlik nie een nie! Maar hy sê dat hy ".so Afrikaans is soos snoek en patats, en boerewors en pap. Nie ´n voorstebors-Afrikaner of ´n kerklike swartpak-een nie; ook nie ´n kultuurvraat-, styweruggraat-Afrikaner nie; ook nie ´n losgat, alternatiewe Woodstock-Afrikaner nie. Maar ´n snelverouderende, verdwaasde en soms verdwaalde Afrikaner nietemin." Hy sê hy is "volgens alle objektiewe maatstawwe ´n mislukte akademikus, ´n mislukte politikus, ´n leerling-sakeman en ´n buitengewoon bevoorregte mens." Oor sy bynaam toe die kollig nog fel op hom was, "Supervan", swyg hy soos die graf. En ten spyte van al die afdraaipaaie wat hy geloop het en al die intieme kennis wat hy het oor die werkinge van die politiek van die vorige en huidige regering is hy nie sinies en ontnugter nie. Sy slotsom is dat ".hierdie land en hierdie kontinent nog soveel het om te ontdek en te ervaar dat ek nie lus het om te loop en elders van voor af te begin nie."

Afrikaner Afrikaan is ´n moet vir almal wat belangstel in Suid-Afrika, sy onlangse dramatiese geskiedenis en sy uitdagende toekoms. Dis ´n boeiende boek wat mens diep laat nadink, sonder om swaarwigtig te wees.

Dit word uitgegee deur Tafelberg. Skakel hulle tolvrye nommer 0800 220 224 met navrae of om die boek te bestel, of maak per e-pos kontak met mmomsen@naspers.com


Stuur gerus jou brokkie nuus, bydrae of reaksie vir ons. Ons plaas (amper) alles!

Maak jou stem dik op ons Forum, stuur jou kommentaar / bydrae na of faks dit na 0866668575.

© 1997 - 2006, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui, uitgesluit die kopiereg van sekere bydraes wat berus by die outeurs. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.

0 - 9
A
B
C
D
E
F
G
H
I
J
K
L
M
N
O
P
R
S
T
U
V
W