AFDELINGS

DIENSTE

TEKEN IN/UIT
op Roekeloos
se weeklikse nuusbrief!

Webwerf bepalings en voorwaardes

BOEKRAK

Stuur jou resensie vir ons by

Die Prosa van die Twede Afrikaanse Beweging

Pieter Cornelius Schonees

AKADEMIES PROEFSCHRIFT

TER VERKRIJGING VAN DE GRAAD VAN DOCTOR IN DE LETTEREN EN WIJSBEGEERTE AAN DE UNIVERSITEIT VAN AMSTERDAM, OP GEZAG VAN DE RECTOR-MAGNIFICUS DR. P. ZEEMAN, HOOGLERAAR IN DE FAKULTEIT DER WIS- EN NATUURKUNDE, IN HET OPENBAAR TE VERDEDIGEN IN DE AULA DER UNIVERSITEIT OP VRIJDAG 17 NOVEMBER 1922, DES NAMIDDAGS TE 3 UUR

DOOR

PIETER CORNELIS SCHOONEES,

GEBOREN TE UNIONDALE, ZUID-AFRIKA.

AMSTERDAM       Drukkerij en Uitgeverij        MCMXXII
J.H. DE BUSSY.

Aan my vrou
en kinders
.


[Pg vii]

VOORWOORD.

Wanneer ek van die laaste skof op die akademiese pad terugblik, dan is dit my 'n aangename plig om die Here Hooglerare van die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte te bedank vir die onderwys wat ek gedurende enige jare kon ontvang. Besonderlik wil ek U, hooggeleerde Prinsen, my geagte promotor bedank vir u voortreflike leiding, waaraan my dissertasie veel te danke het.

Ook aan U, hooggeleerde Boer, Brugmans en Stoett wens ek my opregte dank uit te spreek vir die inleiding in die hoëre taal- en historiese wetenskap. Die welwillende belangstelling wat U steeds in my studie getoon het, sal altoos vir my 'n aangename herinnering wees. Aan U, hooggeleerde Six, Swaen en Scholte betuig ek ook my erkentelikheid.

Dat ek my proefskrif in my moedertaal kon skryf, is 'n voorreg wat ek baie op prys stel.

Aan die hulpvaardigheid wat ek steeds by die Universiteits-Bibliotheek en by die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Vereeniging ondervind het, is ek veel verskuldig; ook aan die direksie van die Nederlandsche Bank van Zuid-Afrika vir opestelling van hul argief.

Met opoffering van eie belange het die heer en mevrou Spier, die heer J. Ingwersen Sr., mevrou Schaberg-Kemink en die famielie Nierkens aan my en my gesin in die tyd van die groot woningnood 'n rustige woon- en studeerplekkie gegee. Dat ons dit ten hoogste waardeer, spreek vanself. Sonder die daadwerklike steun van die Unie-regering en die Herman-Coster-Fonds sou ek my studie nie kon voltooi het nie. Aan almal ons innige dank! Dié dank kom ook toe aan ons Hollandse vriende, wat soveel gedoen het om ons verblyf hier te veraangenaam deur hul gasvryheid en hul bereidwilligheid om ons steeds met raad en daad by te staan. In die sonnige suide sal die glimlag van hul vriendskap nie vergeet word nie!


INHOUD.

VOORWOORDBls. VII     
HOOFSTUK I.
DIE TWEDE AFRIKAANSE BEWEGINGBls. 1-28

§ 1. Historiese Inleiding (1-4). § 2. Teëstelling tussen die Eerste en Twede Beweging: (4-6). § 3. Die Twede Beweging veel meer dan Taalbeweging (6-7). §4. Gevaar vir Isolasie (8). § 5. Kultuur-toestande (8-14). § 6. Kalvinisme en Kuns (14-18). § 7. Die Prosa.—Algemene Karakteristiek (18-25). Krietiese Standpunt (25-27). § 9. Beperking van Onderwerp.—Indeling (27-28).

HOOFSTUK II.
POLEMIESE PROSABls. 29-40

Adv. J.H.H. de Waal (29-30). G.S. Preller (30-31). Dr. D.F. Malan (31-32). Prof. N.J. Brümmer (32-33). Die Brandwag (33). Prof. J.J. Smith (34). Dr. T.B. Muller (34-35) Ons Moedertaal (36). Adv. C.J. Langenhoven (37-40).

HOOFSTUK III.
PROSA UIT DIE TYDSKRIFTEBls. 41-61

§ 1. (a) De Goede Hoop (41-43). (b). (43-45). § 2. Die Brandwag (45-55). Jan F.E. Celliers (48-53). Hettie Cillié en E.H.F. de Roubaix (53-54) Iz. van Heerden (54-55). § 3. Die Huisgenoot (55-60). § 4. Ander Tydskrifte (60-61).

HOOFSTUK IV.
G.R. VON WIELLIGH, "Die Laaste stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners"Bls. 62-99

Lewensskets (62-63). Eerste Skrywers (63-66). Jakob Platjie (67-71). Huis en Veld (71-74). Staan jou Man (75-77). Boesman-Stories (77-82). Styl en taal (82-99).

HOOFSTUK V.
ROMANS, VERHALE EN SKETSEBls. 100-230

§ 1. Adv. J.H.H. de Waal: Lewensskets en inhoud van sy twee romans (100-103). Is Joh. van Wyk 'n historiese roman? (104-108). De Waal se romans is intriegeromans (109-111). Karaktertekening (112-117). Natuurbeskrywing (118-119). Styl (119-125). Dialoog (126). Anglisismes (127-130). Taal (130-132). Stompies (132-133); § 2. J. Lub (133-135). § 3. J.G. Engela (135-136). § 4. Adv. C.J. Langenhoven: Lewensskets (136-137). Ons Weg deur die Wêreld (II en III) (137-140). § 5. Christian Zinn. (140-141). § 6. Dr. D.F. Malherbe: Vergeet nie, inhoud (141-143). Bettie se "offer" (143-148). Karaktertekening (148-150). Gebrek aan objektiwiteit (150). Styl (151-158); § 7. Mej. Chris. C. Euvrard (158-159). § 8. Joubert Reitz (159-161). § 9. Jochem van Bruggen: Lewensskets (161-162). Teleurgestel (162-171). Op Veld en Rande (171-174). Ampie (174). Die Burgemeester van Slaplaagte (174-176); § 10. Gordon Tomlinson (176-180). § 11. Adv. H.A. Fagan: Lewensskets: Uit 'n Studente-Album (181-182). Uitgesogte Afrikaanse Verhale (182-183). § 12. Reenen J. van Reenen: Lewensskets; Celestine, Verborge Skatte (183-185). Die Lokaas (186-188). § 13. Léon Maré: Die Nuwejaarsfees (188-195). Ou Malkop (195-197). § 14. D.P. du Toit (197-199). § 15. A. du Biel: Getrou (199-202). Die Misdade van die Vaders (202-205). § 16. Mevr. M. Jansen-Pellissier: Lewensskets; Die Veldblommetjie; Verskil tussen goeie en slegte tendenswerk (205-207). Sedeprekery (207-208). Styl en taal (208-209). § 17. J.H. Malan: Lewensskets (209-210). Die Swerweling as historiese roman (210-212). Karaktertekening (212-14). Styl en taal (214-219). § 18. Ds. J.H. Kruger: Lewensskets en inhoud van Twee Rampe en twee Gelukke (219-220). Die kenmerke van goeie dialoog (220). Karaktertekening (220-223). Styl en taal (223-225). § 19. Mej. Sadie Bosman (225-228). § 20. G.J. Otto (228-229). § 21. Wolla (229). § 22. Slypsteen (230).

HOOFSTUK VI.
SATIERIES-HUMORISTIESE PROSABls. 231-248

§ 1. Ds. Willem Postma (Dr. O'Kulis): Lewensskets (231-232). Die Eselskakebeen (232-233). § 2. Reenen J. van Reenen: Die Agterstevoortrekkers (234-239). § 3. Adv. C.J. Langenhoven (Sagmoedige Neelsie): Sonde met die Bure (239-243). Doppers en Filistyne (243-248).

HOOFSTUK VII.
DIDAKTIESE PROSABls. 249-261

§ 1. Adv. C.J. Langenhoven: Ons Weg deur die Wêreld I, IV, VI, IX (249-253). Aan Stille Waters.—Langenhoven se letterkundige opvattings (253-259). § 2. Dr. C. Louis Leipoldt: Praatjies met die Oumense (259-261). § 3. G. Jordaan (261).

HOOFSTUK VIII.
DIEREBESKRYWINGBls. 262-269

§ 1. A.A. Pienaar (Sangiro): Lewensskets (262-263). Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld (263-269). Hans Anton Aschenborn (269).

HOOFSTUK IX.
REISBESKRYWINGBls. 270-273

§ 1. A.J. Jacobs (Dómine): Reisavonture op Land en See (270-273).

HOOFSTUK X.
HISTORIESE PROSABls. 274-325

§ 1. Inleiding (274-276). § 2. Gustav S. Preller: Lewensskets (276-278). Voortrekkermense I en II (278). Dagboek van Louis Trigardt (279). Piet Retief (279-282). Kaptein Hindon (282-283). Baanbrekers (283). Twee Geskiedkundige Opstelle (284). Genl. Botha (284-285). Letterkundige Opvattings (285-288). § 3. J.H. Malan: Boer en Barbaar (288-291). § 4. Dr. S.P.E. Boshoff: Vaalrivier, Rebellie-Sketse (292-293). § 5. J.A. Smith: Brit en Boer (294-295). Naar Bloedrivier en Paardekraal (295). § 6. Dr. J.D. du Toit (Totius): Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk (296-300). §7. Ds. W. Postma (Dr. O'Kulis): Doppers (300-301). Die Boervrou (301-304). § 8. Thos. Blok: Grensboere (304). § 9. Ds. G.B.A. Gerdener: Sarel Cilliers (305-307). § 10. A.J. van der Walt: Lewensskets (307). Noordwaarts (308-310). Vastrappers I (310-311). § 11. Senator G.G. Munnik: Kronieke van Noordelike Transvaal (311-313). § 12. Ds. J.D. Kestell: Lewensskets (313), Die Voortrekkers (314-315). Christiaan de Wet (315-317). § 13. Dr. N.J. van der Merwe: Marthinus Theunis Steyn (317-324). § 14. Mevr. Lenie Boshoff-Liebenberg: Moedersmart en Kinderleed (324-325).

NAAMREGISTERBls. 327-330

[Pg 1]

HOOFSTUK I.

Die Twede Afrikaanse Beweging.

§ 1. Historiese Inleiding.

Meer as sestig jaar gelede het die eerste Afrikaanse geskrif verskyn, die Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar over het onderwerp van Afscheiding tusschen de Oostelijke en Westelijke Provincie (1861). Merkwaardig genoeg is dit 'n Engelsman gewees, wat allereers tot die tans so vanselfsprekende gevolgtrekking gekom het, dat Afrikaners Afrikaans praat en bygevolg dié taal ook sou kon lees en beter verstaan as Hollands. Prof. J.J. Smith het onlangs ontdek, dat die skrywer van die politieke vlugskrif die Cradockse magistraat L.H. Meurant (1811-1892) was.[1]

Ongeveer tien jaar na die verskyning van die eerste Afrikaanse boek word Ds. S.J. du Toit oortuig van die deugdelikheid van die volkstaal deur die Hollandse onderwyser Arnoldus Pannevis. Wanneer laasgenoemde op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan 'n artiekel skryf oor De Bijbel in het Afrikaansch, dan begint die Eerste Beweging, wat op 14 Augustus 1875 vaste vorm kry deur die oprigting van Die Genootskap van Regte Afrikaners.[2]

Die verdienstelike werk deur die Eerste Beweging, nie alleen op taal- maar ook op nasionale gebied verrig, is deur verskillende skrywers behandel.[3] Reeds vóór die [Pg 2] anneksasie van die Transvaalse Republiek (1877) het Die Patriot al roering in die Kaapprovinsie veroorsaak;[4] "en in die jare van lydelike verset wat daarop gevolg het, kom die patriottiese ontboeseminge vinnig in verset teen die nasionale druk; 'n oorkropte gemoed stort hom dikwels uit in bittere versugtinge, of die digter verdiep hom in blye bespieëlinge van 'n mooier môreskemer, eendag."[5] Maar die groot stoot, wat gelei het tot 'n nasionale herlewing deur die hele land het eers gekom met die Vryheidsoorlog. Op 15 April 1881 verklaar Die Patriot: "Die Afrikaners, veral die jeug, het nou 'n afkeer gekrij teën vreemde tale en sede, veral teën Engels, en daar is 'n ambisie opgewek ver ons eie volk en ons eie taal.... Die verwijt dat ons, Afrikaners, gen nasionaliteitsgevoel het nie, is oek nou beskaam."[6] Dit was die eerste kragtige ontwikkeling van die volksbewussyn, waarvan in die stryd teen Willem Adriaan van der Stel al duidelike kieme te sien is.[7]

Tot volle rypheid het die volksbewussyn egter in 1881 nie gekom nie. Die Jameson-inval veroorsaak in 1895 weer 'n sterk opflikkering van die volksgees, maar in die tyd kwyn ook die Patriot-beweging dood, weens die on-Afrikaanse politiek van die leier, Ds. S.J. du Toit. "Die genadeslag aan die vooruitgang van ons taal is toegedien deur die politieke volte face—en gevolgelike onpopulariteit—van die persoon, die aan die spits gestaan het van die beweging wat, in die oë van die publiek, onafskeidelik aan hom verbonde was."[8] Heeltemal dood was die Afrikaanse Beweging egter nie, en in die volgende periode het o.a. die bloemlesing van Pres. F.W. Reitz, Twee-en-Sestig Uitgesogte Gedigte, asook die talryke bundels van Melt Brink goeie dienste bewys. Seer juis is die opmerking van Prof. J.J. Smith: "Dat Melt Brink in sy tyd 'n kultuurfaktor van betekenis was, val nie in die minste te betwyfel nie.... In later jare het beoordelaars sy taal as onafrikaans en sy kuns as [Pg 3] onaanneemlik bestempel; maar die feit bly dat Melt Brink se optree—al het hy dit self nie bedoel en self nie eens geweet nie—een van die sterkste aanvalle op die vesting van die Hoog-hollandse skryftaal van Suid-Afrika was: hy het immers die mense gewend gemaak aan 'n taalvorm wat nie meer Nederlands was nie; en toe die afwykinge eers begin het, moes die eindresultaat Afrikaans wees." (Die Huisgenoot Mei 1922.)

Geen gebeurtenis het soveel bygedra tot die eenheidswording van die Afrikaanse volk nie as die oorlog van 1899-1902. "Die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1881 was maar 'n begin, en die Jameson-inval van 1895 maar skrikmaak, vergeleke met die ontsettende jare tussen 1899 en 1902.... Die kloof tussen Kolonialer, Vrystater, Transvaler en Nataller (was) toegespoel deur 'n vloed van wee en ellende. Die hele Afrikanerdom het gevoel, asof hulle verlate was deur die ganse beskaafde wêreld.... Waar hul vroeër, teenoor die naturelle, hul stamverwantskap gevoel had, het hul nou, teenoor Engeland, leer besef, dat hul lede van een nasie is.... In smart en angs is ons nasie gebaar geword. Die swaard het ons geboortemerk op ons voorhoofde geskrywe. Maar ook by ons het die dood die lewe gevoed. Die puinhope van die twee Republieke het die vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die Kaap tot in Kongoland, en van Duits-Suid-Wes tot Brits-Oos-Afrika!"[9] "In die oorlogsjare.... is die vaderlandsliefde in lewendige ligte uitgelaai. Op die oorlogsveld en in die vreemde kom besinning en inkeer tot menige Afrikaner. En na Vereniging is dit oopgegaan, saggies-seer, en beginne drup-drup, soos bloedtrane uit die geheue drup."[10]

Met ons het dit gegaan soos Tennyson so mooi sê:

If a state submit
"At once, she may be blotted out at once
And swallowed in the Conqueror's chronicle.
But in wars of freedom and defence
The glory and grief of battle won or lost
[Pg 4] Solders a race together—yea—tho' they fail,
The names of those who fought and fell are like
A banked up fire that flashes out again
From century to century, and at last
May lead them on to victory,—I hope so—
Like phantoms of the Gods."

Na die oorlog word die stryd vir die erkenning van Afrikaans hervat deur 'n jonger geslag en is die Twede Beweging al gou aan die gang, eers in die Kaap en later in Transvaal en Vrystaat. Nog sestien jaar sou dit egter duur, voordat die volkstaal deur staat, uniwersiteit en kerk erken word.[11]

§ 2. Teëstelling tussen die Eerste en Twede Beweging.

Besonder skraal was die letterkundige oes van die Patriot-beweging. Maar dat die Regte Afrikaners met taaie volharding en groot opoffering gestry en so die pad vir 'n jonger geslag skoongemaak 't sal iedereen erken. Teen alle vooroordeel in het hulle die durf gehad om 'n volk sy eie taal te leer lees, en afgesien van hul prestasies op ander gebied, verdien hulle al daarvoor alleen die dank van alle Afrikaners. Dat die hele beweging feitlik doodgekwyn het deur die politieke omswaai van een talentvolle leier is 'n bewys van die lae trap van ontwikkeling waarop die volk toe nog gestaan het. Selfs vandag nog belemmer verskil van politieke insig ons vooruitgang op kulturele gebied, maar gelukkig het die volk tans so 'n beskawingspeil bereik, dat selfs vyf of meer renegaatleiers die Twede Beweging nie sou doodkry nie.

Primitiewe letterkundige begrippe en die gemis aan leidende persoonlikhede was naas die reeds genoemde oorsake aanspreeklik vir die gedeeltelike mislukking van die Patriot-beweging. Wanneer daarby die maatskaplike toestande in aanmerking geneem word, dan blyk dadelik, dat 'n opluiking van nasionale kuns in die laaste kwart van die neëntiende eeu allermins te verwagte was. Aan [Pg 5] die Kaap het wel betreklike rus geheers, maar daar het ook 'n deur-en-deur verengelste onderwyssisteem alle vooruitgang op kulturele gebied ondermyn. In die republieke het die Trekkers 'n stryd op lewe en dood gevoer teen die inboorlinge en die insluk-politiek van 'n magtige wêreldryk, terwyl hul intussen nog die land bewoonbaar gemaak het. By al die faktore kom nog die ontdekking van die goudvelde, met die daarop volgende instroming van uitheemse elemente, wat 'n landelike bevolking voor geweldige ekonomiese en kulturele vraagstukke gestel het. "Wij zien in de jaren 1884 en 1900 in Zuid-Afrika een reeks van gebeurtenissen voorvallen, zóó buitensporig van karakter, dat men in de nieuwere geschiedenis te nauwernood de wedergade zal vinden."[12] In so 'n woelige tydperk kon die kuns nie opbloei nie. Daar was geen tyd vir rustige besinning nie en die vinnige loop van die gebeurtenisse het alle geleidelike ontwikkeling onmoontlik gemaak. Voeg ons daarby nog die stryd op taalgebied en die gebrekkige eenheidsbesef, dan hoef dit niemand te verbaas nie, dat die kunsontwikkeling gering was, en die Patriotters alleen voortrekkerswerk kon verrig.

Wanneer dan na die oorlog van 1899-1902 die vaste wil van die volk kenbaar word om die stryd vir nasionale selfstandigheid met geestelike wapens voort te set, dan ontbreek die leiers ook nie en word die geskiedenis van die Twede Beweging gekenmerk deur 'n gestadige vooruitgang, wat sedert die laaste jare met verrassend snelle tempo toeneem. Die "nou-rym-ons-lekker"-periode[13], waarin iedereen, van Generaal Joubert af tot die skaapwagtertjie in die veld versies inmekaar gedraai het, was verby en al dadelik word op die ernstige strewe van die Twede Beweging nadruk gelê. In 1906 sê Preller al: "Afrikaans het tot hiertoe groteliks gedien als 'n soort van trog, om al die o'erloop vulgariteit van die nasie op te vang";[14] en Jan Celliers verklaar in sy brosjure, Doel van Ons Tydskrif: "As ons let op wat in hoofsaak tot nog toe gelewer is in die Afrikaanse [Pg 6] taal ... dan kan dit ons nie verwonder nie as baie mense dink: die Afrikaanse taal is nou net geskik om mekaar grappies te vertel en mekaar lekker te laat lag. Alhoewel erken moet word dat sommige van die grappies en grappige versies goeie werk is, is dit ons tog duidelik dat van die Afrikaanse taal meer ge-eis word.... Omdat toevallig die vrolike kant van ons geaardheid sig die sterkste geopenbaar het in ons letterkunde, moet dit die vat-plek wees vir ons om die Afrikaner te vang, moet dit die aanknopingspunt wees om hom in te lei tot hoëre dinge."[15]

§ 3. Die Twede Beweging veel meer dan Taalbeweging.

In die eerste jare neem die taalkwessie alle aandag in beslag, maar al gou blyk dat die Twede Beweging, nog veel meer as die van Die Patriot nie uitsluitend 'n taalbeweging is nie. Generaal Hertzog begroet Die Brandwag as volg in die eerste nommer: "Het Afrikaanse volk ontwaakt tot het gevoel van mannelik eigen kracht, eigen waarde en zelfrespekt, verlangt zichzelf te zijn.... Te lang reeds is 't volk begocheld geworden door de luister van vreemde reklame en bedrogen geworden door 't hooghartige ener aangematigde uitheemse meerderheid. Evenals op industrieel en maatschappelik gebied, zo ook op intellektueel gebied willen wij onszelven zijn. Wij willen zijn zoals wij zijn en niet zoals anderen zijn...." En al gaandeweg groei die besef, dat die grondslag van alle beskawing is die ontwikkeling van die hele volk volgens die noodwendigheid van sy eie siel en sy eie geaardheid. "Ons praat vandag van 'n Afrikaanse volk en ons werk vir 'n Afrikaanse toekoms. Ons min ons eie land, en ons stry vir die erkenning van ons eie taal. Ons begin waarde te heg aan die erfenis wat die vadere aan ons nagelaat het en ons raak gesteld op dié sake wat ons as 'n volk van ander volke onderskei.... [Pg 7] Die skokkende gebeurtenisse van die laaste twintig jare het baie Afrikaners wakker geskud. Hul het begin besef dat hul lede is van 'n Afrikaanse volk—'n volk met eie tradiesies en sedes en gewoontes, 'n eie taal en 'n eie roeping onder die volke van die aarde."[16]

Die bedrywigheid van die laaste jare is van veelsydige geaardheid. Daar word nie uitsluitend gestreef na politieke mag nie, maar ook pogings aangewend om op ekonomies gebied onafhanklik te word. 'n Teken van die kulturele manbaarwording van die volk is dit ook, dat met liefdevolle ywer gewerk word om die geestelike erfgoedere van die voorvaders teen verwaarlosing en verbastering te beskerm. Op kultuurgebied is die leuse orals: "oneigene, ik late u, ... gaat reizen!" Die laaste boodskap van President Kruger, waarin hy die volk aanspoor om uit die verlede te neem wat goed is en daarop voort te bou vir die toekoms het in goeie aarde geval. 'n Eensydige betragting van die mooi leuse lewer egter groot gevaar op. Die strewe na 'n eg-Afrikaanse kultuur mag nie lei tot 'n skrikkerige afwering van alle vreemde invloede nie. Geskiedenis beteken juis verandering, en as ons vandag probeer om 'n beskawing te ontwikkel uitsluitend uit wat ons as goed Afrikaans in die verlede voorkom, dan moet dit op mislukking uitloop. Hoe hoog ons ook al die tradiesies van die voorgeslag skat, ons moet nie vergeet nie, dat ons tans voor ander probleme as ons voorvaders staan. Jan Celliers het in 1913 al gewys op die onmoontlikheid van isolasie: "Die dag sal nog kom dat Suid-Afrika net soos enige beskaafde land gelyk-op sal deelneem aan die wêreld se beweginge en worstelinge op geestelik gebied, aan die wêreld se vergaderde kennis. Die idee, wat sommige mense nog koester, om van S.A. 'n soort alleenstaande Israel te maak—bang en wars van uitlandse inmenging en invloede—is 'n droombeeld wat met die dag reeds vaer word."[17]

[Pg 8]

§ 4. Gevaar vir Isolasie.

Ook onder ons kunstenaars is daar wat met bangerige angsvalligheid alle buitelandse invloede van ons wil weer, wat hul krag soek in 'n benoude, stikagtige isolement. Hul hoop om op dié wyse 'n suiwer Afrikaanse kuns te kan opbou, vry van alle basterdelemente. Ons moet maar aansukkel op ons eie doringpaadjie, omdat ons toestande so glad anders is as in die ouere kultuur-lande. Dat hierdie rigting totaal verkeerd is, word al dadelik bewys deur die feit, dat ons beste kunstenaars juis onder die inwerking van buitelandse invloede hul skoonste werk geskep het. Die egte kunstenaar laat hom nie verbaster deur 'n vreemde kultuur nie. Hy ontleen daaraan wat vir die volle ontplooiing van sy gees diensbaar is, en vervorm en verwerk die vreemde bestanddele dan tot 'n suiwer nasionale kunswerk. 'n Volk wat nie sy man kan staan teenoor vreemde invloede nie, gaan te gronde en so ook die kunstenaar. Maar met reg kan ons van hom eis, dat hy ons blik sal verruim en ons in intieme aanraking bring met die kuns ook van ander lande. Isolering op letterkundige gebied sou beteken opdroging, sou aanleiding gee tot 'n eindelose herkouery. Laat ons kunstenaars dus gerus van alle oorde hul gees verryk. As hul mans genoeg is, sal hul selfstandigheid niks daaronder ly nie en ons kuns sy nasionale stempel behou. In elk geval geen Chinese muur rondom Suid-Afrika nie!

§ 5. Kultuur-toestande.

Dit sou seker te optimisties wees om te beweer, dat daar by ons al 'n waaragtige diep-wortelende kultuur is. Maar so 'n kultuur is in elk geval in wording en die kieme van 'n Afrikaanse skilder-, bou-, toon- en beeldhoukuns maak al ons harte bly. Wie dan nog let op die wondere ontluiking van ons letterkunde binne 'n tiental jare weet, dat daar inwendige kragte aan roere is, wat tot die skepping van nog grootser skoonheid [Pg 9] sal lei. Ook by ons wag die jeug "het hoofd vol duistere glories en de handen bevend van voorgevoel."[18]

"Het zijn eerst de dichters, die een volk ontdooien. Het zijn de dichters, waar zij muziek gaande maken en gezongen worden; of waar zij, vanaf het tooneel, de groote gevoelens ontboeien; het zijn de dichters, die een volk, aan zichzelf ontdekt, één maken."[19] So het ook ons digters die dinge, wat daar roer en woel in die hart van die nasie, vertolk en die solidariteitsgevoel versterk, terwyl die prosaïste ons gevoel van nasionale eiewaarde verhoog het deur die skildering van grootse dade uit die wordingstydperk van die volk.

Moeilik is dit om die kulturele lewenshouding te bepaal van 'n volk, wat nog altyd moet stry vir die verowering en behoud van 'n nasionale kultuur. Vas staat egter, dat geskiedkundige en ekonomiese faktore 'n egalige en natuurlike ontwikkeling onmoontlik gemaak het. 'n Groot gedeelte van die volk—miskien kan die werklike toestand benader word deur te sê die helfte—leef nog voort in byna volslae onkunde van die kultuuropenbaring, wat orals om hul opbloei. By so 'n besondere gebeurtenis as 'n Dingaansviering b.v. merk hul wel dat daar 'n roering is, maar die dieper betekenis van die kultuurbeweging bly onbegrepe, omdat hul deur 'n agterlike ontwikkeling die orgaan daarvoor mis.

'n Dikwels oordrewe belangstelling in die efemere politieke kibbelarye is die toppunt van hul geestelike inspanning. So 'n groot persentage agterlikes het natuurlik 'n ingrypende invloed op die letterkunde. Daaraan moet toegeskryf word die sterk didaktiese en moraliserende elemente in ons kuns.

Op die platteland doen die talryke debatsvereniginge veel om meer as een versufte siel, vir wie die lewe nouliks meer dan 'n plantebestaan van dowwe verveling is, op te beur en langsamerhand enige aandeel te laat kry in die intellektuele beweging. Maar hoeveel kosbare energie word nie verspil op debatte van die: [Pg 10] "Wat is sterker: vuur of water"-tiepe nie? As 'n mens so maand na maand die notule van baie vereniginge, (gelukkig nie almal nie) deurlees, dan kan jy jou verbaas oor die deurtrapte advokate-listigheid, wat aan een of ander beuselagtige onderwerp bestee word, en die geesdriftige koppigheid waarmee die kwessie eindelik uitgebaklei word. Triomfantelik word dan die uitslag aan die pers meegedeel, asof dit 'n belangrike probleem is, wat nou vergoed opgelos is! Op baie plekke is daar gelukkig mense wat leiding kan gee, en daar bereik die vereniging of lees- en studie-sirkel dan ook sy doel, maar dit is 'n feit dat meer as een persoon, met behulp van 'n bietjie gladheid van tong 'n posiesie inneem, waartoe sy geestelike ontwikkeling hom geen reg gee nie. Op die manier kry ons kunsdespote in onderbaadjie-sakformaat, wat, ondanks hul goeie bedoelinge, remmend werk op die ontwikkeling van 'n algemene kunsbegrip en die opbruisende energie van die jong mense op niksbeduidende sakies laat verflenter.

Aan die spits van die intellektuele gedeelte van die volk staan die wetenskaplik gevormde leiers, ten volle toegerus met al die geestelike goedere van die buiteland. En òm hulle, die steeds groter wordende skare, wat deur 'n verbeterde onderwysstelsel in staat is om aktief deel te neem aan wetenskap en kuns. Veral in die laaste jare het dit duidelik geblyk, dat skoonheid vir ons nie meer 'n weelde-artiekeltjie, 'n goue rand aan die bord waaruit ons die daelikse brood eet, is nie. Kuns het vir ons geword 'n noodsaaklikheid, en gelukkig is ons kuns van so 'n geaardheid, dat dit nie op die bergtoppe van ongenaakbare afsondering alleen enkele begenadigdes ontroer nie, maar verstaan en gewaardeer word deur 'n groot gedeelte van 'n volk, wat jare lank al soek na skoonheid in eie taal, skoonheidsuitinge van eie kultuur.

As dit waar is dat die materiële posiesie van die kunstenaar 'n simptoom is vir die kulturele peil van 'n volk, dan kan ons op een inspirerende voorbeeld wys. Jan Celliers is uit die geesdodende sleur van 'n regeringskantoor verlos deur 'n spontane uitbarsting van [Pg 11] algemene waardering. Dit is 'n erkenning van die waarde en onmisbaarheid van kuns, wat moed gee vir die toekoms, 'n bewys dat die gemeenskap belang stel in ideële goedere. Die suksesvolle reise van Lauwerijs en Hullebroeck is ook aanduidings in dieselfde rigting.[20] Naas al die tekens van groei, deur Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie opgesom[21] kan nog gewys word op die oprigting van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns in Bloemfontein (1922).

Eensydig sou egter bostaande oorsig van ons kultuurtoestand wees, as daar nie op gewys word nie, dat selfs by die ontwikkelde lae van die volk nog tallose spore van gebrekkige kunssin aanwesig is. So verklaar Dr. H.J. Steyn: "Ons volk is wel prakties en berustend van aard, maar te min idealisties. Sy eie geestesstryd en die van stamverwante laat hom meesal koud. Die laat hy oor aan 'n paar in sy oog eksentrieke idealiste.... Daar is nie 'n innerlike drang wat hom aangryp om naar 'n verafgelege horison te kyk nie; daar is by ons nog 'n gebrek aan liefde vir die abstrakte en bespiegelende, ons is nie genege om te werk vir resultate wat alleen deur ons nageslag gepluk sal word nie."[22] Die skilderskrywer Reenen J. van Reenen beweer: "In Suid-Afrika bly, by die meeste van ons, die bontgekleurde wand-kalenders wat die naaste smouswinkel aan ons stuur, nog die maatstaf wat ons gebruik by die beoordeling van skilderye."[23]

Wanneer Jan Celliers ons vertel: "Sommige korrespondente het my soveel per les aangebied, as ek hulle wil leer hoe om digters te word", (Die Huisgenoot, Aug. 1921) dan twyfel 'n mens aan die gehalte van die geesdrif vir letterkunde. In die Kersmisnommer van Ons Land, 1919, beveel Ds. J.P. van Heerden vir 'n ekstra prys aan 'n verhaal, getietel: De Dronkenschap van Dokter Dirkse, waarin alle woorde met die letter d begin. Dat [Pg 12] dit tot 'n aaneenskakeling van onsin aanleiding gee, blyk uit die volgende: "De drank doet duizenden dwaasheden. Daarom drinkers, die de drankduivel dienen, denk diep daaraan. Doorziet daardoor de dwaasheid der dronkenschap, de droevige doodslag der drankzuchtigen. Doodt dus dadelik, doch degelik de drankduivel. Doet dus de drankduivel deerlik delgen...." Sedelike oorwegings het sy eerwaarde hier inderdaad 'n "droevige doodslag" op die kuns laat pleeg! Dat so 'n rederykers-aardigheidjie nog in 1919 kan bekroon word, is 'n aanduiding dat ons kunswaardering soms nog uiters gebrekkig is. Ook die opvoering van so 'n kykspel as die Medea van Jan Vos op Pretoria[24] deur die "Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging" is 'n bedenklike teken.

Oor die gehalte van ons leesstof het Jan Celliers 'n opmerking gemaak, wat seker tans ook nog waar is: "In ons stede ... behoor baie van die mense wat so los in hul skoene staan—en wat hulself tog vir erg beskaaf hou—tot die wat weinig meer lees, of kan lees dan sulke goed soos Tit-bits en die Strand Magazine."[25] En veel uit die volgende, wat in 1911 geskryf is, bly vandag ook nog waar: "As ons let op wat tot nog toe (hoofsaaklik) in ons land geskryf is, as ons sien wat vernaamlik ... gelees word, dan moet ons sê, dat die awontuurlike en romantiese—die soort soos Captain Kettle en Sherlock Holmes, die soort wat sig besig hou met die growwe feite van die lewe—nog altyd die meeste in die smaak val.... In 'n jong land is dit amper nie anders te verwag nie—ons hele bestaan is hier prakties, geestelik oppervlakkig, woelerig en alledaags. Vraagstukke en gevoelens en gedagtes waar die groot wêreld daarbuite al moeg van is, daar het ons nog nie eers aan geroer nie."[26]

Dr. G. Cillié gaat selfs so ver om te beweer, dat ons al ons kultuur "oorgeneem (het) van ons ingevoerde medeburgers. Dis nie ons eie nie, dis geleen. Ons [Pg 13] sogenaamde nuwe kultuurvorme is 'n suiwere na-apery ... As ons so vuurwarm word oor ons eie tradiesies en gewoontes en sedes, dan praat ons so ongemerk ... 'n hele boel nonsens." Tog erken hy: "Op die gebied van ons geskiedenis, van ons boerdery, ons nywerheid en veral ons taal en letterkunde het ons verbasend vooruitgegaan. Op taalgebied het ons waarskynlik in die afgelope twintig jaar 'n groter ontwikkelingsproses deurgegaan as die Engelse taal in vyf eeue, van die tyd van Chaucer tot vandag toe. Dit alles getuig van 'n vitaliteit, 'n groeikrag, 'n energie, 'n lewe, wat ons met verbasing en blydskap vervul."[27]

Optimisties is Dr. D.F. Malan: "Ik geloof ... dat het Afrikaanse volk op het gebied van de kunst een schone toekomst tegemoet gaat. Voor die verwachting meen ik goede gronden te hebben. Ik bedoel niet alleen het feit gedurende de lange wachtensmoede uren in de kampen ontdekt, dat ons volk even kunstig kan zijn met het mes als dapper met de Mauser.... Ik bedoel ook het feit dat de kunst ons volk ongetwijfeld aangeboren is.... Ons volk is samengesteld hoofdzakelik uit drie elementen—het Hollandse, het Franse en het Duitse. 't Zijn juist die volken van Midden-Europa, die uitblinken in kunstgevoel en kunstprodukten, de natuurlike erfgenamen van de beschaving en de kunstzin van de oude Grieken en Romeinen."[28]

Van belang is ook die volgende: "Hier in S.A. kan ons nog nie praat van 'n spesifiek Afrikaanse toonkuns nie, hoewel ook hier die eerste druppels na 'n langdurige droogte begint te val.... Ons vernaamste musiek-eksamens word afgeneem deur 'n Engelse liggaam, wat elke jaar sy eksaminatore uit Groot-Brittanje naar S.A. stuur. Dit bewys hoe primitief die opvatting van ons outoriteite van die doel van die toonkuns is, dat hulle sulke verouderde toestande laat voortduur.... Ons volk is kultureel nog nie ontwikkel nie, en geldelik nie sterk genoeg om hom ontberings te getroos of groot somme uit te gee vir goeie skilderstukke nie."[29]

[Pg 14] By die beoordeling van die letterkundige waardering kan ook gewys word op die soms hoogs eienaardige keuse van werke uit die Nederlandse letterkunde, wat vir publieke eksamens voorgeskryf is. Dikwels het dit geblyk, dat daar 'n besondere voorkeur was vir minderwaardige skrywers soos Justus van Maurik en ander, wat in Holland, òf totaal onbekend, of nog alleen deur die onderste lae van die samelewing gelees word. Tereg het dan ook die Akademie daarteen protes aangeteken[30] en in die laaste jare kom ook hierin verbetering.

§ 6. Kalvinisme en Kuns.

'n Belangrike faktor in ons kultuurlewe is die feit, dat die Afrikaner volk Kalvinisties is. "Als wij de ziel van dit volk wensen te bepalen zonder zijn religie 'n prominente plaats in te ruimen, zou het zijn 'n opvoeren van Hamlet zonder de prins erbij", verklaar Ds. N.J. Brümmer.[31] "Geheel ons Afrikaans-Protestantse religie is gebaseerd op 'n zeker Godsbegrip zoals in de (Dordse) Canones omschreven." Die "teugelloze willekeur" van die Afrikaanse natuur was "'n school voor de beoefening van de deugd der onderworpenheid, ... was genoeg om de Afrikaner tot ernst, ja tot somberheid te stemmen, en voorwaar de weemoedsschaduw der oude Germanen valt nog bij de besten onder ons volk op te merken." Daar mag wel 'n kern van waarheid in die laaste opmerking wees, maar laat ons veral die somber stemming nie oordryf nie. "Om den wat stroef gesloten mond van den Calvinist heeft Cats vaak een gezonden lach doen spelen", sê Dr. Kuyper.[32] Dit was by ons nie nodig nie, want 'n guitige humor is juis een van die kenmerke van die Afrikaner volk. En in die "meedogenloze" natuur van Suid-Afrika is die stralende son tog steeds 'n simbool van blyheid gewees, wat ons uit die bedompige huise gelok 't na jag- en veldvermaak.

[Pg 15] Prof. J.J. Smith het daarop gewys, dat sekere kunsuitings al agterdog veroorsaak het. "Ons volk is by uitstek Kalvinisties en die geroep om die kuns ter wille van die kuns self te bewonder, wat die kunstenaar ook al mag voorstel, het heelwat argwaan teen die kuns verwek. Om 'n agterveldse patriarg 'n skilderstuk voor te hou of 'n beeldhouwerk te toon wat 'n voorstelling gee van Voortrekkersdogters wat in die Oranje-rivier baai, sal by hom nie juis liefde vir die kuns wek nie, want as afstammeling van die Hugenoot en Geus het hy alreeds met die idee vertroud geraak, dat die beeldhoukuns 'n werktuig in die diens van die afgodedienaar is en die skilderkuns 'n instrument om Roomse kerkvensters mee te versier."[33]

Op die Bloemfonteinse Taalkongres is daar in 1909 'n skermutseling gewees oor die vraag of die Akademie die opvoering van toneelstukke moes bevorder.[34] "Dit voorstel werd echter hevig bevochten" in 'n voorlopige komiteevergadering al, en hoofsaaklik deur kerklike teenstand verwerp. Merkwaardig is egter, dat daar tog ook predikante ten gunste van die voorstel was. In Die Banier (Des. 1921) bepleit Dr. H.J. Steyn die oprigting van beroepsgeselskappe op goeie gronde. "Die tyd is verby om die toneel te bestry op grond dat dit teen ons sedes is. Die Engelse toneel is nie alleen 'n gevaar vir ons sedes nie, maar ook vir ons nasionale gevoelslewe."[35] In die taalstryd het die liefhebbery-toneel uitstekende dienste bewys en ook tans nog is daar geselskappe, wat groot gedeeltes van die land afreis. Jan Celliers sê in 1910 al: "Dis op ander plekke ook duidelik gebleke dat die toneel 'n magtige middel kan wees tot sedelike opvoeding, deur aan die mens 'n spieël voor te hou van sy drifte, hartstogte en ydelhede. En die toneel boesem eerbied en liefde in vir die landstaal. In ons land, veral, waar so min gelees word, kan die toneel 'n groot rol speel ..."[36]

[Pg 16] Hoe die Kalvinistiese gees reageer op die moderne Nederlandse letterkunde blyk o.a. uit die jaarboeke van die Akademie. In 'n voordrag De Dichter als Ziener sê Dr. J.D. du Toit (Totius): "Bij overvloedige tol van eerbied, die gij zeker met mij aan de nieuwe Hollandse dichters betaalt, moet toch bejammerd worden het waarlik arm-zijn van hun verzen aan dat ideëel-zienlike, dat logies-objektieve. Hun subjektievisme doet hen omdwalen in een ijle, onlogiese, zinledige wereld." (II p. 57). Ter stawing van sy oordeel voer hy aan Belpaire, Kunst- en Levensbeelden. Van l'art pour l'art wil Totius nie hoor nie. Met instemming haal hy Prof. Woltjer aan: "Het begin en einde van alle poëzie is de ere Gods in het woord Hem toegebracht uit en door zijn schepsel".

In 1912 spreek Dr. I.J. Marais (✝ 1919) sy professorale banvloek uit oor "De Nieuwere Richting in de Nederlandse Letterkunde",[37] waarmee hy hoofsaaklik die Tagtigers bedoel. "Zij verheerliken de kunst; zij zijn artiesten, die woordkoppelingen dulden, vaak door geen mens verstaan ..." Beets, Da Costa, Van Lennep, Bosboom-Toussaint, Bilderdijk, Van Koetsveld en De Genestet—die noem hy almal "sterren van de eerste rang"! "Met hun heengaan nam de middelmatigheid bezit van het terrein"! Dat Van Deyssel dit waag om manne soos Vosmaer en Jan ten Brink die les te lees word genoem "verwaandheid, die alle perken te buiten gaat". En dan volg die uitspraak: "De Opstellen van Van Deyssel, de Letterkunde van Kloos, de Studies van Van Eeden zijn geen letterkunde die veredelt." Veral die wêreldbeskouing van die Tagtigers prikkel tot teëspraak. "Het èsthetiese neemt de plaats in van het etiese. Het schone wordt verheerlikt tegenover het goede en het ware, en het heilige." Steunende op Taco de Beer en Ds. Hulsman word die wêreldbeskouing dan veroordeel. Johan de Meester en Vermeylen val onder die skrywers "van mindere rang" en alleen enkele sonnette van Perk vind genade. En eindelik kom die volgende sug van verligting: "Goddank dat onze Zuid-Afrikaanse [Pg 17] schrijvers ons een andere weg hebben aangewezen ... Couperus, Van Eeden, Van Deyssel en anderen kiezen wij niet tot model in Z.A. Daartegen waarschuwen wij ..." Prof. A. Moorrees breek 'n lansie vir Bilderdijk in sy dankwoord en prys die kritiek van Beets teenoor die "van sommige latere kritici, wier kritiek grotendeels schijnt te bestaan uit geïdealiseerde viswijventaal."[38] Ook Ds. J.D. Kestell verklaar dat "ondanks de moderne neiging om de schrijvers van 1880 te volgen, men zich hier bij ons nog steeds vastklemde aan 'n oudere generatie, en inzonderheid aan Beets."[39]

As "men" beteken die ou garde, dan is die bewering in hoofsaak juis. Onder die jongere is daar seker niemand, wat die sonderlinge kritiek van Prof. Marais sal aanneem nie. Ons het in die woorde van Prof. Moorrees geleer om "het goede uit alle tijden en alle richtingen ... te waarderen"[40] en weier om 'n metode te volg, wat die meeste egte kunswerke op die Kalvinistiese indeks sou plaas, 'n metode, wat tot sulke ongerymdhede lei as om Van Koetsveld en Van Lennep o.a. onder "de sterren van de eerste rang" te reken! Prinsipiële voorligting by die moderne literatuur is ongetwyfeld 'n dringende eis, veral in 'n Kalvinistiese gemeenskap, maar dit moet iets anders wees as 'n veroordeling met een breë armswaai. Daar is ook in Suid-Afrika nog mense wat glo dat kristelike beginsels teenoor egte kuns nooit vyandig hoef te staan nie. Raak Jan Celliers in sy takvolle lesing oor Kuns en Sedelikheid nie die wortel van die kwaad nie, waar hy sê: "Ons opvoeding in alles wat skoonheid en kuns aangaat, is te seer verwaarloos.... Word daar nie te veel "angsvallig bedek (ge) hou (nie), wat deur eerlike, openlike behandeling die aantreklikheid van verbode vrug en geheim sou verloor en gevaar sou voorkom"? (Die Huisgenoot Jan. 1922.) Aangesien daar nou al tekens is, dat die voetpaadjie van ons Afrikaanse kuns uitdraai na die internasionale grootpad, word dit 'n aktuële kwessie.

[Pg 18] Prof. J. Kamp het die verskil in geestesgesteldheid tussen Europa en S.A. goed geformuleer: "Van de problemen die daarginds de moderne ziel bewonen, schokken en folteren, horen wij hier nog maar 't verre gerucht. Voor 't grootste deel wandelen wij nog maar op de traditionele paden ... En op emotioneel gebied, op 't terrein van de kunst? Wij zijn vermoedelik nog ver van Oud-Europa z'n tegenwoordige koers op dit gebied.... We zijn nog eenvoudig, nog natuurlik, ja zelfs nog tamelik naïef. En aan onze kunst komt dat ten goede. Maar de vraag is of diep onder de oppervlakte van Jong-Zuidafrika z'n geestelik leven niet reeds kiemen zijn aan te wijzen, van dat modern-europese. 't Kontakt tussen hier en daar wordt al veelvuldiger en al intenser ... Ik meen, dat grondige kennis van, en diep inzicht in de getijen van hedendaags Europa, niet te vroeg onder ons bevorderd kunnen worden. Opdat wij weten, en gewaarschuwd zijn, en niet overrompeld worden."[41]

Van groot belang vir die letterkunde sal die Afrikaanse Bybelvertaling wees. As die vertalers daarin slaag om deur verhewe eenvoud 'n waardige vertolking van die gewyde teks te lewer, sal dit veel bydraag om vastigheid te gee op stylgebied.

§ 7. Die Prosa.—Algemene Karakteristiek.

In die letterkundige voortbrengsele van die periode wat ons die Afrikaanse Renaissance kan noem, sit daar ongetwyfeld sterk militante elemente—en geen wonder ook, want die letterkunde van alle volke is 'n weerspieëling van die geestelike strominge wat die volksiel diep geroer het. Vir tientalle van jare voer ons al 'n taalstryd—'n stryd wat feitlik elke indiwidu dwing om grondig na te dink oor allerhande taalkwessies, waaroor hy hom onder normale omstandighede nooit sou bekommer nie. En die taalstryd is terselfdertyd 'n stryd vir ons volksbestaan, vir ons volkseenheid. "Ons jong Afrikaanse taal moet win en sal win", is die vlammende [Pg 19] passiekreet van die herlewende volk; en, eweas die manne van die Pleïade in Frankryk, verdedig ons kunstenaars met heilige ywer die moedertaal, deur die opheffing waarvan 'n lang periode van geestelike knegskap beëindig word; vol van die besielende weelde van 'n pasgewonne vryheid, slinger hul manifeste teen die wikkende, weënde twyfelaars wat nog lus het om 'n vreemde taal aan ons op te dring, maar wat nou vasgekeer is tussen die langsaam maar seker sluitende sirkel, waarin die asgaai van die jeugdige stryders blink in die skittering van 'n nuwe son.

Juis die roes van 'n toekomstige maar sekere oorwinning is dit wat 'n rustige objektiewe beskouing van ons literêre kuns so erg moeilik maak. Baie boeke wat in die taalstryd kragtige wapens was, sal later nog alleen van kultuurhistoriese belang wees. Ons loop groot gevaar om in die hitte van die stryd 'n literatuur voort te bring wat die karakter van fabriekwerk draag. Die tot vervelens toe herhaalde geroep van die teenstanders: "Afrikaans het g'n letterkunde nie!" het prikkelend gewerk en 'n atmosfeer geskep, waarin wel 'n kragtige strydliteratuur kan ontstaan, maar slegs by uitsondering 'n uiting van stralende skoonheid wat deur alle tye heen sal geniet en gewaardeer word. Die uitdagende houding van die voorstanders van Hollands, wat hul steeds beroep het op 'n eeue-oue letterkunde, het ons opgehits tot dade van durf. In jeugdige oormoed het ons aan skrywe gegaan—nie altyd omdat hier binne ons 'n magtige worsteling van ideë was wat tot vertolking gedwing 't nie, maar ook om te bewys dat ons taal sy man kan staan. In die laaste paar jaar het daar 'n oorweldigende aantal boeke in Afrikaans verskyn; en omdat in die taalstryd juis dié wapens so uiters belangrik was, kon die kritiek dikwels nie onvoorwaardelik veroordeel nie. Maar nou begint die tyd verby te gaan waarin ons 'n boek gaan aanbeveel eenvoudig omdat dit in Afrikaans geskryf is. Vir ons jong skrywers is daar nou geen aanleiding meer nie vir dié oorhaasting waardeur in die verlede veel middelmatigs op die pers gekom 't.

Egte kuns kan nie ontstaan nie omdat dit geëis word as bewys vir die manbaarheid van 'n jong taal—net [Pg 20] so min as wat die goue erepennings van die talryke Nederlandse diggenootskappe van die 18de eeu egte poësie uitgelok het. Egte kuns moet spontaan voortkom uit 'n innerlike onweerstaanbare drang, waaraan die geroepe kunstenaar, die "begenadigde eenling" eenvoudig moet gehoorsaam. Nasionale eersug het nog nooit 'n letterkunde van blywende waarde gefabriseer nie, eenvoudig omdat dit iets is wat nie gefabriseer kan word nie. Gun die kunstenaar die tyd om met rustige toegewydheid sy taal te troetel en te streel totdat hy daarin die fynste roersele van sy siel kan uit, die teerste opwellings kan verklank.

Laat die koorsagtige strydstemming van die laaste tyd ons hoofde nie op hol bring nie. Die fiere, lewenskragtige eienskappe van ons volk is die waarborg vir die langsame, gestadige opbloei van 'n gesonde nasionale letterkunde. So was dit in alle lande, en so sal dit ook by ons wees. Maar nie in één nag sal daar 'n katedraal uit die velde opdoem nie, soos Albert Verwey êrens sê. Die waardelose ou timmerasie het ons omgesmyt, die wanordelike periode van die afbrekery het ons deurgemaak, maar die tyd is nou ryp om ernstig en rustig te bou aan die nuwe lewende kuns. Ná die omwenteling moet en sal daar iets groots kom—maar as vanself.

Naas die militante element is daar, soos reeds by die beskouing van die kultuurtoestande opgemerk, 'n sterk didakties-moraliserende stroming.[42] Die toenemende sedebederf, "wat saam met 'n bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het"[43] laat meer as een skrywer 'n preektoon aanslaan of traktaatjies in verhaalvorm skryf.

Die kunstenaar wat ons 'n didaktiese roman in goeie sin kan gee ontbreek nog. Carel Scharten sê tereg: "Het (is) ongetwijfeld mógelijk, dat ... een strekking, mits tot een bezielenden hartstocht gegroeid, een gróót talent tot de hoogste en tevens voor ieder verstaanbare kunst opvoert...."[44] By ons het die didaktiese stroming op die gebied van die roman nie veel meer opgelewer as [Pg 21] soetsappige vermanings nie, wat heeltemal los en uit die verband staan, of anders verhale, opsetlik só saamgestel, dat die strekking die enige doel is. Langenhoven, wat aanvanklik sy lewenswysheid op betogende wyse meegedeel het, begin dit nou in verhaalvorm te verwerk en by hom is daar seker kans, dat die strekking tot besielende hartstog sal vergroei en mettertyd 'n opbloeiing van gemeenskapskuns bring. Hy en ander skrywers teken die kultuurverbastering op satieries-humoristiese wyse, terwyl die mentaliteit van die arme blanke en sy agteruitgang in die stede realisties geskets is deur J. van Bruggen en Lub.

Die romanties aangelegde skrywers volg die voetspoor van historisie soos Preller en J.H. Malan en verheerlik die nasionale verlede. Die Voortrekkerperiode veral word met liefde bestudeer, maar ook die Anglo-Boere-oorlog lewer stof vir 'n paar romans en talryke sketse. J.H. Malan en De Waal gaan terug na die vroegste tydperk van die Kaapse geskiedenis, terwyl ook resente gebeurtenisse, soos die opstand van 1914 behandel word. Die invloed van Van Lennep is duidelik merkbaar by sommige skrywers. Dikwels moet die historiese agtergrond hoofsaaklik dien om 'n hele reeks awonture meer waarskynlik te maak. Die digterlike gees, wat die historiese feite moet interpreteer, en deurdring tot die innerlikste kern van 'n tydperk, sonder versmoor te raak onder noukeurige argeologiese gegewens is alleen af en toe aanwesig. Daarom is die resultaat meestal nie veel meer dan "'n gekleurde historieprent" nie.

'n Aaneenryging van kakelbonte awonture, wat die nuuskierigheid prikkel deur al die konwensionele kunsies van 'n vernuftige intriege vind nog groot byval, selfs by die ontwikkelde klasse. Dit is 'n voorkeur, wat deur die tallose minderwaardige Engelse ontspanningsromans aangekweek en in stand gehou word.[45] As 'n skrywer maar behendig die draadjies kan trek van 'n klompie houtpoppies, liefs met 'n stukkie vierkleur om die hoed, en hul 'n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby 'n paar "rooies", of 'n klomp Soeloes in die stof getrap word, [Pg 22] dan vind hy lesers genoeg! Op karakterontwikkeling kom dit minder aan as daar maar genoeg aksie, beweging en verrassinge is.

Jan Celliers het die oorsake van die toestand as volg geformuleer: "Hoe kan verwag word dat 'n jong kultuur, wat, so te sê, gister eers ontwaak het, onder 'n jong volk, wat van die begin af 'n harde stryd om sy bestaan te stry gehad het teen 'n hardhandige natuur, teen honderd-duisende barbare, teen 'n vreemde oorheerser van buite, sou ooreenkom met die van ouer lande? Hoe kan verwag word dat ons vir ons besonder sou verdiep het in 'n studie van die mens en sy omgewing vir filosofiese of vir kunsdoeleindes? Ons het die mens en die natuur bestudeer met die oog op die praktiese vrae van die dag, wat gou en goed opgelos moes word, waar ons bestaan van afgehang het. En dié stryd hou nog altyd aan.... Ons bloed is nog aldag te veel in beweging, jaag ons aan, ons het te veel te doen, ons moet gou klaar wees, het nie tyd om veel te droom of te peuter nie.... Om een en ander rede is ons romans nog veel meer op handelinge en vermenigvuldiging van gebeurtenisse aangelê as op karakterstudie van 'n persoon of versameling van persone. Dis vir ons onmoontlik om soiets doodkalm te behartig en ons grote stryd te vergeet; onwillekeurig straal die stryd, en alles in verband daarmee, in ons werk deur—romans, toneel, alles."[46] Dat die opvatting van 'n goeie roman, soos deur Jan Celliers in dieselfde voorlesing uiteengeset nog lang nie algemeen is nie, blyk uit 'n pleidooi in Die Huisgenoot (Okt. 1919), waarin ongetwyfeld die gevoelens geuit word van "die grote gros van fatsoenlike mense, wat.... 'n pittige, boeiende verhaal belaai met "kunsies", verkies bo 'n sielkundige studie van mens en natuur."[47] En dit sal seker nog lank duur voor al die "fatsoenlike mense" tot juister kunsbegrippe kan opgevoed word en leer insien, dat Hollanders, wat iets van letterkunde afweet al lank al nie meer op Van Lennep "roem as 'n egte en groot romanskrywer" nie.

[Pg 23] In die laaste tyd is daar egter 'n reaksie gekom op die awontuurlike rigting. J. van Bruggen, Léon Maré, Kruger, Van Reenen en ander verdiep hul in karakterstudie en ook in talryke tydskrifverhale word die mens meer en meer hoofsaak. Deur die genoemde skrywers is realistiese werk van goeie gehalte gelewer. Oor die algemeen moet egter geseg word, dat ofskoon ons goeie vertellers het, wat die kuns van aanskoulike voorstelling verstaan, daar nog uiters selde 'n karakter geskep is, wat deur plastiese uitbeelding en fyn, menskundige aanvoeling 'n blywende indruk maak. Daar is meer as een skrywer met 'n raak opmerkingsgawe, maar ons voel telkens asof die dinge meer deur 'n soort projeksie-apparaat bekyk word, as deur die oog van 'n kunstenaar. Wat Van Deyssel "de oppermacht der intuïtie" noem, ontbreek nog.

"The depiction of the external, objective, carnal, precedes in every form of expression of which we can have records, the consideration of the internal, the subjective, the spiritual. We go from shapes, and forms, and bulk, and externals, to the presentation of the life within."[48]

Daar is al genoeg aanduidings dat by ons die ontwikkeling dieselfde weg sal volg. En Stoddard toon aan dat dit ook op ander terrein die geval was. So het die skilders eers die Madonna met 'n oureool geskilder; later pas "illumined and glorified by a light from within."

Verskillende skrywers het op gelukkige wyse die inboorling geteken en ook hier is die strewe merkbaar om van die skildering van uiterlike eienaardighede oor te gaan tot die uitbeelding van dieper menslikheid. En naas die jagstories met hul bonte awonturereeks staan Sangiro se Sketse, waarin hy probeer "om die diere se gewaarwordinge uit hulle uiterlike beweginge te verstaan."[49]

Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het meer as een skrywer, veral in die begin, uit pure vaderlandsliefde na die pen laat gryp. "Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed, ons kan nie wag nie!"[50] was die wagwoord. In baie voorredes kan [Pg 24] mens dan ook sien, dat die enigste doel van die skrywer was om die leeslus aan te moedig. So verklaar De Waal van sy Stompies, dat hulle "van geen besonder gehalte op letterkundig gebied (is) nie", "die enigste doel van die skrywer is om te help voorsien aan (lees in) 'n nasionale behoefte".[51] "Ons kan nie ons volk laat agterbly nie", sê Langenhoven by die verskyning van Stukkies en Brokkies (1911) en selfs in 1918 heet dit nog: "Die hele boek is maar 'n noodshulpie". Ook D.P. du Toit reken homself maar onder die "handlangers en knoeiers, wat somar roustene aandra vir die binnemure".[52] Onder sulke omstandighede hoef die groot gebrek aan tegniek, waarop in die volgende hoofstukke herhaaldelik sal gewys word, geen verbasing te wek nie.

Vandag is die toestand só verander, dat ons met die volste reg van alle aspirant-kunstenaars kan eis, dat hulle goed georiënteer is in die wêreldletterkunde, dat hul ten minste 'n begrip het van die algemeen erkende tegniese reëls, voordat hulle aan skrywe gaan. Ons kan ook met reg verwag, dat hulle geen uitgediende, outydse modelle navolg nie, dat hulle steeds in voeling bly met die literêre vooruitgang in ander lande. Maar aan die eise het nog net enkele voldoen en daarom het ons letterkunde allesbehalwe 'n moderne cachet.

Op taalgebied heers daar by die meeste skrywers groot onsekerheid. Daar is nog 'n soekery, 'n rondvallery om die juiste vorm te kry, wat natuurlik maklik verklaarbaar is, by 'n geslag wat gister eers geleer het om sy eie taal te skryf. By meer as een is die taal nog stroef en onbuigsaam, wanluidend en sonder ritme. Ander weer, soos Preller, wat goed op die hoogte van die moderne stylkuns is, skryf al in 1906 'n gekultiveerde taal, klankvol wegdeinend op bevallige ritme en telkens verrassend deur oorspronklike beeldspraak, ontleen aan Afrikaanse volk en bodem.[53] Uit tallose voorbeelde in die volgende hoofstukke sal blyk hoe [Pg 25] gevaarlik diep die vreemde parasiete al deur die bas van die taalboom geknaag het, en hoeveel speurende sorg daar sal nodig wees om hulle uit te vroetel.

By enkele skrywers is daar 'n welbewuste strewe na mooiheid van klank en frisheid van segging, by die meeste egter 'n gedagtelose naskrywery van geykte Hoog-Hollandse beeldspraak. Gelukkig is daar ook al prosa geskryf, wat bewys, dat Afrikaans in smydigheid, in seggingskrag en klank alleen 'n kunstenaar nodig het om tot sy reg te kom. Wanneer ons let op die stroom middelmatige verse, dan blyk dit hoe nuttig Jacob Geel se uitspraak ook vir ons kan wees: "Laat ons het Proza bewerken: de echte Poëzie zelve zal er bij winnen".

§ 8. Krietiese Standpunt.

In die volgende hoofstukke word 'n poging gedoen om die letterkundige waarde van ons vernaamste prosawerk te bepaal. Wie bekend is met die toestande in ons land sal toestem, dat by die estetiese kritiek 'n verwysing na die kultuur-historiese waarde van die besproke boeke noodsaaklik is. In enkele gevalle word dit afsonderlik gedoen, maar hier kan met nadruk daarop gewys word, dat die meeste behandelde werke, wat ook al hul gebreke mag wees, en hoe primitief hul ook dikwels mag skyn vir iemand, wat op die hoogte van die moderne Europese lettere is, tog almal, byna sonder uitsondering, voortreflike dienste in ons taal- en kultuurstryd bewys het. Daarom pas dit ons om 'n eresaluut te bring aan al die voortrekkerskrywers, wat ons volk van 'n geestelike hongerdood gered 't, deur wie se liefdevolle ywer ons nie langer as doofstomme bywoners in ons eie land hoef te sit en swyg nie. 'n Eresaluut, nie alleen aan die begaafde artieste nie, maar ook aan die, wat in alle eenvoudigheid houtkappers en waterdraers was, toe die meeste nog stil gesit 't, of niks anders as spot oor had vir 'n beweging, wat 'n einde aan ons lang periode van geestelike knegskap gemaak het.

[Pg 26] Die gevoel van piëteit hoef egter ons krietiese vermoë nie te verlam, mag ons nie belet om sonder doekies omdraai 'n estetiese oordeel uit te spreek nie. Dit sou 'n verkragting van ons gewete wees en 'n fatale uitwerking hê op die verdere ontwikkeling van ons jong letterkunde. Nou dat die taalstryd feitlik afgeloop is, word dit tyd om vas te stel, wat ons tot dusverre bereik het; om te waardeer wat skoon is, om te laak wat gebrekkig is. Tyd ook, om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan die meesterstukke van die buiteland. Want ons wil vorentoe beur! Ons wil Suid-Afrika "hoog opstooten midden in de vaart der volken". Ons wil nie 'n pieperig-bleek kasplantjie hê nie, wat alleen 'n sukkelbestaan kan voortsleep in 'n vaderlandse broei-atmosfeer. Dit moet 'n kan-nie-dood wees, wat ook die kritiek van ons Dietse stamgenote nie kan ontwortel nie, in vaderlandse bodem geplant, maar tog bestand teen alle wind en weer.

Op dié gedagte is ook die krietiese beskouing in die volgende hoofstukke gebaseer. Wie dit daarmee nie eens is nie, sal op meer as een skynbaar onbillike oordeel stuit. Maar laat diegene bedenk, dat ons op kuns-, net so min as op ander gebied 'n laer kan trek en met doringtakke inmenging van buite afweer. Op die gevaar van isolasie is reeds in 'n vorige paragraaf gewys. As ons digters reeds so 'n hoë peil bereik het, dat selfs Europese fynproewers hulle werk kan waardeer, dan hoef ons prosaïste ook nie met minder tevrede te wees nie. Jong Suid-Afrika streef ook op kunsgebied vooruit en die kunstenaar wat laag mik, sal in 'n paar tiental jare skoon vergeet wees. Daarom moet ook ons prosakuns op 'n kosmopolietiese plan kom te staan, wat geensins denasionalisering hoef te beteken nie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons tans verkeer, kan 'n gemotiveerde kritiek, waarin breedvoerig op prinsipiële kwessies ingegaan word nuttig wees en daarna is ook in hierdie werk gestreef. As dit lei tot 'n ruimer belangstelling in ons prosakuns, tot meer vergelykende studie en 'n juister insig in letterkundige verskynsele, dan is die doel van die skrywer bereik.

Op die ooreenkoms tussen ons toestand en die [Pg 27] Vlaamse is al dikwels gewys en dit geld ook van die kritiek. August Vermeylen sê: "Elke flamingant achtte het zijn plicht zijne algemeene gedachten in de godentaal weg te brullen of uit te kwinkeleeren. In het begin onzer herwording, na het jaar 1830, was de literatuur het voornaamste wapen der Vlaamschgezindheid geweest, en lang nog meende ieder taalstrijder dat wapen te moeten hanteeren. Het vergde dan ook meer dan gewonen takt van den kritikus, om zich niet schuldig te maken aan landverraad, als hij den rijmelenden taalbroeder wat minder "puik" moest verklaren."[54]

§ 9. Beperking van Onderwerp.—Indeling.

Die volgende bespreking is beperk tot oorspronklike prosa, wat meer of min tot die terrein van die skone lettere behoort. Buiten beskouing bly dus (a) suiwer wetenskaplike prosa, waaronder 'n groot aantal Afrikaanse dissertasies en die Populêr-Wetenskaplike Serie van die Nasionale Pers; (b) godsdienstige prosa, soos die kinderbybel van Ds. Conradie en 'n hele paar preekbundels; (c) vertalings en omwerkings; (d) kinderboeke. Daar word 'n poging gedoen om te bepaal in hoeverre ons historiese prosa, deur versorging van styl en ander artistieke kenmerke tot die gebied van die kuns behoort.

In § 7 is 'n algemene karakteristiek van ons prosa gegee. Op enkele strominge word daar gewys, maar tewens blyk ook hoe alles by ons nog in wording is. Veral by die romans en verhale is dit moeilik om tot 'n bevredigende indeling te geraak. Waar daar nog net vae aanduidings is van enkele hoofgroepe, en die meeste skrywers nog in verskillende rigtings rondsoek, word dit onmoontlik en ongewens om nou al kampe af te baken. Om dié rede is die voorkeur gegee aan 'n kronologiese indeling, wat onder ander die voordeel bied, dat die meeste skrywers as 'n eenheid kan bespreek word en, waar nodig, die ontwikkelingsgang in hul werk kan aangedui word. Op die manier is die [Pg 28] verbrokkeling van 'n skrywer se werk soveel moontlik beperk. G.R. von Wielligh word in 'n afsonderlike hoofstuk bespreek, omdat hy in baie opsigte "'n Laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners" is. Vir die ander hoofstukke is geen opheldering nodig nie. Op enkele uitsonderings na word hier die Akademie-spelling gevolg.

VOETNOTAS:

[1] Vgl. Die Huisgenoot, Jan. 1922: Eerste Skrywers en Eerste Geskrifte in Afrikaans.

[2] Die vyftigste verjaardag van die Genootskap in 1925 mag seker nie ongemerk verbygaan nie.

[3] Dr. L. van Niekerk: De Eerste Afr. Taalbeweging (1916); Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, deur Dr. J.D. du Toit (1917); Eerste skrywers deur G.R. von Wielligh (1918); S.J. du Toit, Geskidenis van die Afr. Taalbeweging (1880).

[4] Vgl. Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, p. 203.

[5] Preller: Inleiding tot Die Vlakte, 5de druk, p. 7.

[6] Gesiteer deur Dr. J.D. du Toit: Ds. S.J. du Toit, p. 210.

[7] Vgl. Dr. S.P.E. Boshoff: Volk en Taal van Suid-Afrika, p. 62.

[8] J.H.H. de Waal in Die Burger, 12 en 13 Aug. 1921.

[9] Dr. T.B. Muller: Die Geloofsbelijdenis van 'n Nasionalis. (1913), p. 8.

[10] Preller: Inleiding tot Die Vlakte, 5de druk, p. 12.

[11] Die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar beskryf in: Taal en Poësie van die Twede Afr. Taalbeweging. Vgl. daarby egter Hoofstuk III.

[12] Dr. W.J. Leyds: Het Insluiten van de Boeren-Republieken I, p. XI.

[13] Vgl. L. v. Niekerk: De Eerste Afr. Taalbeweging1, p. 64.

[14] De Volkstem, 18 Aug. 1906.

[15] Ek kursiveer.

[16] Die Huisgenoot, Julie 1919.—Prof. J.J. Smith. Vgl. ook Hoofstuk III, § 3.

[17] Neerlandia, Sept. 1913.

[18] Vermeylen: Verz. Opstellen.

[19] Carel Scharten: De Roeping der Kunst, p. 5.

[20] Vgl. my artiekel: Kuns regeringsaak,2 Die Brandwag, Jan. 1921.

[21] Taal en Poësie2 ens. p. 110-117.

[22] Die Banier, Aug. 1921. Dr. Steyn se verdienstelike artiekels oor Die Dietse Bond het seker reg op meer algemene belangstelling en behoort herdruk te word.

[23] Die Huisgenoot, Nov. 1921.

[24] Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2 ens., p. 47.

[25] Die Brandwag, Junie 1917.

[26] id. 15 Aug. 1911, Skrywers en Gekrifte, deur N.N. (Jan Celliers).

[27] Die Banier, Okt. 1921. Het Geleerde Jong Suid-Afrika 'n Program?

[28] Akademie-Jaarboek I, p. 94.

[29] Dr. H.J. Steyn: Die Banier, Des. 1921.

[30] Akademie-Jaarboek V, p. 89.

[31] Id. I, p. 83. Die Afrikaanse Volksziel.

[32] Het Calvinisme en de Kunst.

[33] Die Huisgenoot. Feb. 1919.

[34] Vgl. Jaarboek I, p. 49 vlg. en p. 14. Vgl. ook Dr. G. Besselaar: Z.A. in de Letterkunde, p. 95.

[35] In die pers is aangekondig, dat D.J. Smal, die bekende yweraar vir gelyke taalregte na die buiteland gaan vir tegniese toneelopleiding.

[36] Akademie-Jaarboek I, p. 92.

[37] Jaarboek III, p. 54 vlg.

[38] Jaarboek, p. 67. Vgl. ook sy oordeel oor Beets in V, p. 95 vlg.

[39] V, p. 103.

[40] III, p. 68.

[41] Die Banier, Okt. 1921 na aanleiding van die tydskrif: Het Getij.

[42] Vgl. § 5.

[43] Dr. W.M.R. Malherbe in 'n voorwoord by Die Veldblommetjie.

[44] De Roeping der Kunst, p. 399.

[45] Vgl. Jan Celliers: Die Roman. Die Huisgenoot, Aug. 1919.

[46] t.a.p.

[47] Die skrywer is J.W. van Kaapstad.

[48] Stoddard: The Evolution of the English Novel, Chapter I.

[49] Voorwoord.

[50] Jan Celliers in Die Volkstem, 19 Junie 1907.

[51] Voorrede 2de druk.

[52] Voorrede: Sy Pa se Skuld.

[53] Vgl. b.v. sy Persoonlike appresiasie van Joh. van Wyk, De Volkstem, 18 Aug. 1906.

[54] Verz. Opstellen II, p. 149


[Pg 29]

HOOFSTUK II.

Polemiese Prosa.

"Ik houd van woorden, die op mij neêrbonken als vallende balken, van woorden, die mij voorbijsissen als kogels", sê Lodewijk van Deyssel. Sulke woorde van "roode gramschap" en "gele spotternij" sal in die volgende oorsig telkens aangehaal word met die doel om daarop te wys, dat enkele van ons strydskrifte oor die taalkwessie, nie alleen van histories, maar ook van letterkundig belang is. Hier word dus geen gedetailleerde geskiedenis van die taalstryd gegee nie—dit het Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie gedoen[55].

Met die oprigting van die tydskrif, De Goede Hoop, in Julie 1903 onder redaksie van Adv. J.H.H. de Waal, 'n algemeen erkende voorstander van Afrikaans, wat al sedert 1897 bydraes in dié taal gelewer het in Ons Land[56] kry die Twede Beweging vaste vorm. As eindpunt van die taalstryd kan beskou word 7 November 1919, die dag waarop die Kaapse Sinode Afrikaans as offisiële kerktaal naas Nederlands erken het. Wat Ds. N.J. Brümmer in 1909 gesê het geld ook tans nog: "Dit is wel waar, dat so nou en dan nog een of ander Rip van Winkel uit syn slaap opflikker en teen Afrikaans uitvaar, maar dit is maar die stuiptrekkinge van 'n slang wat swaar vervel."[57]

In die sestienjarige stryd het daar 'n groot aantal polemiese geskrifte verskyn, aanvanklik in Hoog-Hollands [Pg 30] weens die groot vooroordeel teen die moedertaal, maar later meestal in Afrikaans. Reeds in die twede nommer van De Goede Hoop[58] moet De Waal "'n geachte correspondent uit Stellenbosch", wat gekla het oor "te veel Afrikaansch" daaraan herinner, "dat Kaapsch-Hollandsch bij velen bijval vindt en hoe langer hoe meer als zelfstandige taal erkend wordt." By sulke kalme teregwysings het dit natuurlik nie gebly nie en De Waal het later onder die skuilnaam Jan van Rosenburg die teenstanders meer as een kopskoot gegee.

Twee jaar later, op 19 April 1905 begint die stryd ook in Transvaal, wanneer Gustav Preller sy reeks artiekels Laat 't Ons Toch Ernst Wezen in De Volkstem publiseer. Dit is 'n kloek, goedgedokumenteerde manifes, wat met onverbiddelike logika al die argumente van die teenstanders ontsenu en as gevolg gehad 't die stigting van Die Afrikaanse Taalgenootskap, op 13 Desember 1905. In Julie 1905 word Preller se artiekels met weglating van die eerste gedeelte en voorsien van 'n nuwe inleiding in brosjure-vorm uitgegee, met die ondertietel: Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal.[59] Afgesien van die historiese betekenis van Preller se brosjure verdien dit, ofskoon nog in Nederlands opgestel, ook uit letterkundig oogpunt 'n ereplaas onder die polemiese literatuur van die Twede Beweging. Met 'n forse stem verkondig hy die waarhede, wat vandag so vanself sprekend lyk, maar sestien jaar nodig had om algemeen ingang te vind.

In die polemiek van dié jare klink daar uit meer as een artiekel 'n warme oortuigingsdrang op. Met die [Pg 31] stryd vir die vereenvoudigde spelling (1904) het dit krioel van spellingdeskundiges en nou was weer iedereen filoloog! "In ons vaderland kan het gebeuren dat uw schoenmaker meer theologiseert dan uw zoon, die student is in de theologie," sê Allard Pierson in Intimis. Lees mens filologie in plaas van teologie, dan was dit presies ons toestand. Onder al die dilettante-wysheid en verwarde taalbegrippe kom egter ook telkens brokstukke van entoesiastiese welsprekendheid voor, waaruit blyk dat heel die volk in roering was. Naas die lekeredenasies staan dan die kalm-wetenskaplike betoë en ernstige pleidooie van die leiers, wat so stadig aan met hul mokerslae alle opposiesie vergruisel het.

Van die begin af was daar al sekerheid van die uiteindelike oorwinning. "'n Mens kan net sowel perbeer om die see met 'n besem te keer as die Afrikaanse taal met sulke klein dingetjies", sê Preller op 9 Augustus 1905 in De Volkstem. Met groot erns pleit Jan Celliers twee jaar later vir 'n eie letterkunde: "Maar dit is tog voor elke Afrikaner duidelik dat slegs 'n eige letterkunde, uit Afrikaanse grond opgeskote, deurtrokke van die Afrikaanse gees en v'r Afrikaners verstaanbaar, deur en deur in taal en inhoud, dat so 'n letterkunde alleen bereken is om hier werkelik doel te tref. Wie wil ons help om so 'n letterkunde voor ons mense op te bouw? Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed; ons kannie wag nie!"[60]

En in die volgende jaar roep Dr. D.F. Malan: "Dit is ons Ernst!" "G'n taalgeleerde kan 'n werkelik lewende taal maak nie, ewemin als 'n skeikundige op syn laboratorium di lewe kan skep. Di taalgeleerde kan di taal alleen vind en analiseer. Iedere lewende, kragtige taal word gebore op di bodem van di volkshart en di volksgeskiedenis en leef alleen in di volksmond. G'n volk kies ooit syn spreektaal of, voor lange tyd selfs syn skryftaal nie, op raad van eksperte. Volke en tale word saam gebore en sterf saam."[61] Op helder wyse set hy uiteen, dat Nederlands nooit ons volkstaal kan [Pg 32] word nie, dat Afrikaans onuitroeibaar is. "Di Afrikaanse Taalbeweging is niks minder nie dan 'n ontwaking by ons volk tot 'n gevoel van eiewaarde en tot di roeping om 'n waardiger plaas in te neem in di wereldbeskawing."[62]

Hoe die "gevoel van eiewaarde" al sterker word, blyk uit die brosjure Die Afrikaanse Nasie (1908) waarin Prof. N.J. Brümmer 'n uiteensetting gee van wat hy as 'n nasie beskou. Hy konstateer, dat tot nog toe alleen die Hollandse Afrikaners met die benaming kan aangedui word "omdat hulle 'n eie en aparte volkssiel besit en hulle daarvan skerp bewus geword het". Hy ontken alle "nasionale eenheid" tussen Nederland en Hollands Suid-Afrika. "Om die eerlike waarheid te sê, is daar meer soortgelykheid in wereldbeskouing, gees en strewe tussen die Afrikaner en die Skot, dan tussen die Afrikaner en die Hollander....[63]. Wat die Hollandse letterkunde betref, die veelbesproke kultuurskat—die bestaan nog vir enkele spesialiste onder ons volk, en sekere uittreksels daarvan bestaan ook soms vir studente, solank as hulle vir 'n eksame of prys werk. Ons volk as volk dra van Hooft, Vondel, Cats of Bilderdijk net so min kennis as van die man in die maan. Van Couperus, Van Eeden, Perk en Kloos wil ek nie eers praat nie. Of hierin ooit verbetering kan kom, betwyfel ek sterk. Die Hollandse skrywers skryf nie vir ons nie, en al sou hulle ook vir ons skrywe, dan raak hulle tog ons volkssiel nooit." Dit is verstaanbaar, dat sulke opmerkings in die hitte van die taalstryd gemaak is, maar Brümmer gaan in sy militante ywer tog té ver, al sit daar natuurlik 'n kern van waarheid in die bewerings. Die werk van sulke geestelike aristokrate soos Hooft en Vondel kan nooit deur die hele nasie gewaardeer word nie. Sonder ons Cats uit, dan sou dieselfde bewering met die grootste stelligheid van die Nederlandse volk self kon gemaak word. Carel Scharten sê b.v.: "Het leelijke, het onwegwerkbare feit [Pg 33] is juist, dat Vondel vergeten worden kon, en ongelezen blijft en ongelezen blijven zal.... Er zijn altijd de dichters voor weinigen naast die voor heel een volk geweest."[64] En in ander lande gaan dit net so. Edward Garnett sê b.v. van Engeland: "Ons toneel is het grofste in Europa en onze verwaarlozing van het drama van Shakespeare is werkelik een schandaal."[65]

Clément Vautel het nog onlangs in verband met die Molière-herdenking opgemerk, dat die Franse dié kunstenaar alleen met die lippe eer. "Ieder doet alsof hij Molière op zijn duimpje kent. Maar, in gemoede, is al dat fraais, en is al die wierook nu wel echt? Is die geestdrift die op een vastgesteld uur losbarst, niet veeleer zelf ook komedie?"[66]

Met 'n pleidooi vir 'n Afrikaanse letterkunde sluit Brümmer sy betoog. "Ons het lang genoeg ons sielkos in blikkies ingevoer en die ingelegde en ingevoerde kos vergewe 'n mens dikwels." Maar die manier waarop hy hom die ontstaan van 'n letterkunde voorstel, getuig van weinig insig. "As elkeen van nou af aan begin om vir sy boek stof bymekaar te maak, dan sal dit wel nie te lang duur nie of ons het 'n eie letterkunde"! Dis maar gelukkig dat al die Stellenbosse studente nie die raad opgevolg het nie!

Saam met die Unie gebore, staan Die Brandwag vanaf 1910 trou op die uitkyk en telkens as artiekel 137 van die grondwet veronagsaam word, het sy waarskuwingsienjaal weerklink. "Die Afrikaner moet beleefd wees en ware beskawing voorstaan, in woord en voorbeeld, maar nie tot so 'n mate dat hy syn eige taal verwerp, nie tot so 'n mate dat hy aan Filistijne die wapens in hande gee waardeur juis die hogere beskawing en verdraagsaamheid vernietig sal word, deurdat die Afrikaner-aard met die Afrikaner-taal vernietig word." (Die Brandwag, 1 April 1911.) Van maand tot maand het die redakteur, Dr. W.M.R. Malherbe die stryd vir Afrikaans voortgeset en 'n hele reeks warm pleidooie [Pg 34] is daar te vinde in die redaksionele kolomme, veral van die eerste jare.[67]

In 1911 verskyn Leipoldt se digbundel Oom Gert Vertel, voorafgegaan van 'n weldeurdagte, besadigde pleidooi van J.J. Smith, tans professor in Afrikaans aan die Stellenbosse Uniwersiteit. "Die werk van die Afrikaanse Beweging is.... 'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk moet dit altoos bly. 'n Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n vrind en 'n bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as jyself, moet jy oortuig—as jy ten minste nie jou eie ondergang wil bewerkstellig nie."[68] Die oortuigingswerk doen Smith op meesterlike wyse. Hier is 'n geskoolde filoloog aan die woord, wat met kennis van sake praat. "Ek grond my mening op die geskiedenis van die wording van ander tale en op die herlewing in ons volk."[69] En met onverbiddelike logika bewys hy, dat die argumente van die teenstanders "alles maar slim praatjies" is!

Ook Die Geloofsbelydenis van 'n Nasionalis deur Dr. T.B. Muller is 'n pragstuk van logiese redenering. Hy skets die ontstaan van ons nasionale bewussyn. "Die puinhope van die twee republieke het die vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die Kaap tot in Kongoland, en van Duits Suid Wes tot Brits Oos Afrika." Hier word die vaste stem gehoor van een wat na 'n goedomlynde doel streef. "In plaas van na-praat, wil ons nou saampraat en met ander nasies meewerk in die algemene taak van die mensheid." En op oortuigende wyse bepleit hy die middele om die doel te bereik, terwyl alle jeugdige voortvarendheid getemper word deur die besadigde erns van een wat sy verantwoordelikheid as leier voel. "Die karaktervorming van 'n nasie moet plaasvind deur 'n langsame groeiproses; deur voort te gaan op die weg reeds ingeslaan; al wat goed is, te ontwikkel en al wat nadelig is weg te kap.... Die [Pg 35] gevaar van die oormoedigheid van 'n jong nasionale entoesiasme is ek my wel bewus van; maar ek weet ook, dat sonder entoesiasme niks groots op aarde tot stand kan kom nie...." 'n Warm entoesiasme klink dan ook heerlik op in sy hele betoog en met gloedvolle oortuiging leg hy sy "geloofsbelydenis" af: "Ek self sou my erfenis as lid van die Afrikaanse nasie vir geen ander burgerreg in die wereld wil verruil nie. Die grote nasies van Europa is wel oud en sterk en ervaringsryk, ... maar hul dra ook reeds die spore van hul ouderdom, en rypheid begin al op meer dan een plek in afgeleefdheid oor te slaan.... By ons is dit so anders. As 'n jong nasie sien ons amper ons hele loopbaan te gemoet. 'n Jong volk leef vorentoe. Sy leuse is die hoop; geduld en moed sy wagwoorde; 'n jeugdige entoesiasme sy dryfveer; en sy ywer is nog ongekoel deur die ontnugterings van mislukking. Vir my altans is dit veel heerliker my druppeltjie te probeer bydra by die self-bewuswording en karaktervorming van 'n jong nasie dan om te help dokter aan; die kroniese kwale van 'n oue ... Misluk ons pogings en moet ons ondergaan, neergedruk deur 'n vrag van onoorkomelike moeilikhede, dan is dit in elk geval beter om te sterf as eerlike stryders op die slagveld, dan om te versink in 'n bedwelmende luilekker eentonigheid van niksdoen.... Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam, maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie!" Hoeveel erns daar in die woorde lê, blyk uit die feit, dat Muller in 1905 'n Rhodesbeurs van £ 300 per jaar om in Oxford te studeer van die hand gewys 't, omdat hy "eenvoudig nie geld kon aanneem nie van 'n man wie se politiek hy verfoei en wie hy beskou as die aartsknoeier teen die vryhede van die Afrikaner-volk."[70] In 1918 is hy aan die griep oorlede in die ouderdom van 34 jaar. Om die warm idealisme, gesonde argumente en forse styl is Muller se brosjure een van die beste stukke van ons polemiese prosa.

Namate die Afrikaanse Beweging sterker word, neem [Pg 36] die stryd ook in felheid toe. In Julie 1914 word die maandblad Ons Moedertaal opgerig as orgaan van die A.T.V., onder redaksie van J.J. Smith, T.B. Muller en G.C. Tomlinson. Spoedig moes die teenstanders uitvind, dat die blad "geen heuningtou" was nie, "waarop allerhande soorte goggas hulle kan kom vergas.... Ons Moedertaal is veeleer 'n eselskakebeen soos die wat Simson met sulke dodelike gevolg op die Filistynse vyande van syn volk gebruik het ..." (15 Okt. 1914). Die offisiële erkenning van Afrikaans deur drie Provinsiale Rade het die redaksie oormoedig gemaak. "Nou behoef die Afrikaanse Taalbeweging nie langer te stry nie als Ismaeliete, teen wie alle man se hand gekeer is; hul veg nou met die steun van die landswette agter hul rug" (15 Julie 1914). En op kwaai-sarkastiese wyse het hul geveg! Veral in die kolom Taalnuws en Opmerkings word nydige klappe uitgedeel. Die beste Nederlands van Afrikaners noem hul nie meer "amper-Nederlands" nie, maar "stertjie-Afrikaans", en as Ons Land per ongeluk "het universiteit" skryf, dan sê Ons Moedertaal: "Werkelik dis treurig dat daar in ons verligte dae nog soveel deurgekapte erdwurms is wat doelloos in twee rigtings tegelyk spartel." (15 Okt. 1914). Maar later word die redaksie moeg om die "gebasel" van teenstanders te "verpletter", omdat hul "ander werk het als om slapers en dromers te probeer wakker maak." (1 Nov. 1915.)

Die "ander werk" was dan ook van meer ernstige aard. B.B. Keet pleit op oortuigende wyse vir 'n Afrikaanse Bybel. "Daar is ontsaglik veel onderskeid tussen 'n taal waarmee ek my kan behelp en 'n taal wat ek liefhet; en al was daar g'n ander rede nie, sou ek hierdie rede afdoende beskou om te streef naar die doel wat ek my voorstel." (15 Sept. 1914.) Fagan en Tomlinson se belletristiese bydraes word onder 'n ander hoofstuk bespreek.[71] Smith set sy werk voort in Die Huisgenoot, waarin Ons Moedertaal in 1916 opgaan.

Tot die polemiese prosa moet ook gereken word [Pg 37] G.S. Preller se twee Taal-Tiepes, Die Engelse Afrikaner en 'n Predikant (Die Brandwag, 15 Feb. en 15 Maart 1914.) Jiems, 'n Engelse Afrikaner, wat saam met die Boere veg, raak aan stry met sy maats oor Afrikaans, wat volgens hom "te arm (is) om te bestaan".

"Wat is 'n "stoep" op Engels, Jiems?" wou een van die seuns weet ... Dit was ráak. Almal is tjoepstil.—"En wat bedui julle vir koppie, spruit, veld, kommando ...?"

Nou was 't Koen se kans om in te vryf: "Dáar het jul dit," sê hy, "die skatryke mooie Engelse taal leen selfs woorde uit ons armoedige Afrikaans." So raak Jiems getroef deur die Boereseuns, wat selfs vir die lastige sportterme raad weet!

Ook sy eerwaarde, wat al die populêre argumente teen Afrikaans aanvoer, kry goed op sy baadjie. Hy wil: "Gij zult de dorschende os niet muilbanden" vertaal met "Jy moet die os wat koring trap die bek nie toebind nie". Maar sy optimistiese teenstander weet vir alles raad: "Vir ons is Afrikaans die taal van die Toekoms in ons wêrelddeel, ons glo daarin, ons werk en leef daarvoor."

"Ons skryf tien jaar na bowestaande gedagtewisseling. En, kyk,—'n mens moet jou oë vryf om séker te maak dat 't regtig só is! Maar dit is so! Sy hoogmogende is 't nou so waarlik "'n lus geworde om gade te slaan hoe daar gewoel word in Afrikaans, en om die eerste vrugte daarvan te proef!" En selfs in minder dan tien jaar, selfs in vyf jaar is die wonder geskied!

Dit hoef ons dan ook nie te verwonder nie, dat 'n warm kampvegter vir Afrikaans, C.J. Langenhoven, wat nog in 1911 die oorsetting van die psalme in Afrikaans as heiligskennis beskou 't, in 1922 self een van die eerstes is om die hand aan die ploeg te slaan! In Ons Land van 12 September 1911 skryf Langenhoven: "Als die Hollandse Kerk my sou vraag om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees."

[Pg 38] Een van die laaste, maar ook een van die welsprekendste pleidooie vir Afrikaans het Langenhoven gelewer op die vyfde jaarvergadering van die Akademie in Julie 1914.[72] Hierin tril die stem van 'n fel-bewoë gemoed so innig, dat dit meer geword 't dan 'n episode in 'n verbygaande stryd, en op sigself beskou, kunswaarde het. Dit is die skone kristallisasie van gevoelens en gedagtes, wat jare lank in die hart van die volk geleef het, maar nog nie hul definitiewe uitdrukking gehad het nie. En al die "dorstige vulletjies", wat jare lank gesukkel en geploeter het langs hopeloos versperde ompaaie om by die dam te kom, weet maar al te goed hoe raak en hoe juis Langenhoven die vermoeienisse en vernederinge van die pynigende dwaaltog geskilder het! "Ik denk terug met bitterheid aan die verdere verlore lewensjare wat dit my gekos het, nadat ik skool en kollege verlaat, om vir myself te doen wat my leeraars vir my moes gedaan het: om dieselfde intellektuele skool-kultuur deur lange en pynlike self-oefening om te set en tot my siels-besitting te maak" (p. 427).

Dit is veral op die gevoelskant, die psigologiese kant van die saak wat Langenhoven nadruk lê. "Ik wil namelik sukkel om 'n skerpe lyn te trek tussen die gebruik van 'n taal als 'n verstands-medium, en sy gebruik als 'n gevoels-medium; en in albei gevalle nie alleen als 'n middel tot uitwendige openbaring nie, maar als 'n middel tot inwendige bewustsyn" (p. 428).... "Dit mag vir elke Afrikaner ewe verstaanbaar wees om te lees: "Die huis se muur is stukkend", of om te lees: "De muur van het huis is stuk". Eersgenoemde uitdrukking roep 'n beeld van 'n puinval voor sy gees. Laasgenoemde doet dit ook op 'n manier. Maar in die eerste geval is beeld en uitdrukking deur onheuglike lewensgewoonte onafskeidelik vasgeheg aan mekaar. Laasgenoemde uitdrukking val nie met dieselfde spontane voegsaamheid in die gedagte-wereld, waar die beeld uit die elemente van vroegere ervaringe deur die geheuge opgebouw word nie" (p. 440).

Met 'n fris oorspronklikheid word al die ou argumente [Pg 39] teen Afrikaans weggebesem. Bitter is die aanklag teen die Hoog-Hollandse literatuur van Suid-Afrika; daarin "mankeer die goddelike vuur—die element wat onbepaalbaar is, wat jy nie kan voorskryf nie soos jy nie van elke wa-skilder en klip-kapper met paster- en duimstok-voorskrifte kan 'n Murillo of 'n Michael Angelo maak nie" (p. 445). En die gevolg is: "'n land sonder skrywers en sonder lesers; 'n beskaafde nasie sonder eie literatuur. Die inspirasie ontbreek.... Ontbreek! ontbreek!! ontbreek!!! in ons heerlike Suid-Afrika, waar elke berg en elke vlakte skreeuw om digters, waar elke tafereel uit ons roemryke geskiedenis skreeuw om skrywers" (p. 447). Maar met voldoening word gewys op die ontluikende letterkunde in die moedertaal. "Ons wat so lank kwynend gesuig het aan die artifisiële gomelastiek tepels van die ingevoerde botteltjies dooie kondens-melk, begin nou aan ons eie moederbors gevoed en verpleeg te word" (p. 449).

Treffend is ook die aanklag teen die skoolsisteem. "Die Afrikaanse kind (word) deur les en boek, voorskrif en voorbeeld ingeprent en wysgemaak dat die taal van sy huis nie 'n taal van kultuur en beskawing is nie" (p. 460).

Deur die hele betoog klink "die smeekstem van 'n Afrikaner met mede-Afrikaners om te erken wat syne en hulle s'n is, wat dit tog maar altyd sal bly, wat nie van die gehalte is om ons voor te skaam nie" (p. 461). En by die laaste gedagte tril die stem van gloeiende verontwaardiging: "Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte! dis onse kostelikste roem, onse hoogste besitting: die één enigste witmans-taal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van die lief en leed draag van alles wat ons en onse vadere hier deurleef en deurworstel en deur triumfeer het; die één band wat ons als nasie aan mekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk" (p. 461).

In 1919 toe die Kaapse Sinode oor die erkenning van Afrikaans moes besluit, kom Langenhoven nog 'n keer met 'n vlammende aanklag: "Komt aan, gij de Villiers's en Steytlers. Gij hadt er nu honderd jaar tijd voor—(om 'n letterkunde op te bou) gij en degenen die het voorrecht hadden Hooghollands evengoed als [Pg 40] gij, of beter, aan te leren—zoals de priesters in de Middeleeuwen het Latijn aanleerden. En wijst ons, mijne heren, waar gij gezaaid hebt? Waar is uwe oogst? Het volk van Zuid-Afrika hongert te midden van de overvloed zijner mededingers. Ziet, zoals van gemelde priesters, is uw akker dor en onvruchtbaar gebleven. Ge hebt ons kultuurhuis voor ons woest gelaten: gij en uwsgelijken, de bevoorrechten onder een onbevoorrecht volk wier plicht het was geweest in onze bittere behoefte te voorzien. Ge kunt me geen enkel boek noemen—ook niet tot één toe—dat, door een Afrikaner in 't Hooghollands geschreven in al de tijd toen men, volgens u terecht, het Hooghollands onderwees en schreef en predikte, vandaag als een volksbezitting in de letterkunde leeft. En deze dorre landen van u voorbijgaande zijn wij begonnen—een korte halve generatie geleden—met onze gemene kombuistaal. En de werken onzer schrijvers in het Afrikaans hebben ons nu reeds een eigen letterkunde bezorgd, zodat de Afrikaner ook in de kultuurwereld zijn hoofd niet meer met schaamte hoeft te laten hangen. Denkt gij, dat is niets? Dat wij gearbeid hebben waar degenen die ons nu tegenstaan niets deden?... Komt het u als een kleinigheid voor dat ook deze nieuwe tempelbouw belemmerd zal worden door de Rehums en de Simsais?" So skryf Langenhoven in sy brosjure De Heilige Ennen van Rehum en Simsai, wat onder die lede van die Sinode versprei is. Hoe mooi word daarin die deftige toon met sy bybelse wendinge vir die hoogeerwaarde here getref! Dit was sy antwoord op die brosjure Onze Afrikaans-Hollandse Spreektaal, van Melius de Villiers met 'n aanhangsel van Ds. A.I. Steytler (1919), waarteen ook J.J. Smith in Die Huisgenoot op kalm-wetenskaplike wyse te velde getrek 't.[73]

VOETNOTAS:

[55] Taal en Poësie van die Twede Afr.-Taalbeweging, 2de druk, 1920.

[56] Sien Die Huisgenoot, Okt. 1921.

[57] De Volkstem, 30 Des. 1909. Vgl. Die Huisgenoot, Julie 1922, oor opposiesie in die gemeente Noorder-Pêrel teen Afrikaanse preke.

[58] Aug. 1903.

[59] Vgl. Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie van die Twede Afr.-Taalbeweging2 p. 16, waar 'n uitvoerige bespreking aan die brosjure gewy word. Die voorrede van Dr. Engelenburg is gedateer 14 Julie 1905. Pienaar se datum, Junie, is dus 'n vergissing. Die eerste gedeelte, wat in die brosjure weggelaat is, bevat 'n droom oor drie perskebome in 'n snaakse tussentaal, nog Hollands, nog Afrikaans, waarvan die volgende 'n staaltjie is: "Deze bomen waren hier geplant van steggies, en by al twee waren klompies mense hard bezig om te proberen ze te laten groeien, de een deur water te lei, de ander deur los te spit, de een weer deur te snoei, en de ander deur mest te geven." De Volkstem, 19 April 1905.

[60] De Volkstem, 19 Junie 1907.

[61] Dit is ons Ernst, 13 Aug. 1908.

[62] Dit is ons Ernst, 13 Aug. 1908.

[63] Vgl. die raak opmerkings oor hierdie bewering in Die Brandwag, 15 Febr. 1913, en in 'n volgende nommer Brümmer se repliek.

[64] De Roeping der Kunst, p. 5 en 25.

[65] In 'n artiekel: Het Boek in Engeland (Algemeen Handelsblad.)

[66] Gesiteer in die Algemeen Handelsblad.

[67] Sommige is van Jan Celliers, soos o.a. die artiekel Stryd en Taalstryd, (1/4/11), in hierdie paragraaf aangehaal.

[68] Oom Gert Vertel3, p. XX.

[69] t.a.p., p. XXI.

[70] Tomlinson in Die Brandwag Des. 1918.

[71] Vir verder besonderhede oor Ons Moedertaal kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2, p. 64-74.

[72] Herdruk in Ons Weg deur die Wêreld (1919): Afrikaans als Voertaal.

[73] Augustus 1919. Op aandrang van enige predikante is Prof. Smith se verweer oorgedruk en as pamflet versprei.


[Pg 41]

HOOFSTUK III.

Prosa uit die Tydskrifte.[74]

§ 1.(a) De Goede Hoop (1903-1914).

Die oprigting van die tydskrif De Goede Hoop in Julie 1903 deur Mev. Koopmans-de Wet en "Onze Jan", "benevens andere der voorste Afrikaners in de Kaapstad".[75] met Adv. J.H.H. de Waal, 'n erkende voorstander van Afrikaans as redakteur, is ongetwyfeld 'n feit van groot betekenis in die geskiedenis van die Twede Afrikaanse Beweging. Die talentvolle leier van die Eerste Beweging, Ds. S.J. du Toit, het deur sy on-Afrikaanse politiek van ná 1896 die hele saak, waarvoor hy en sy medestryers met soveel opoffering sedert 1872 ge-ywer het, laat misluk. Die laaste spartelings van die Genootskap van Regte Afrikaners het nog tot 1909 geduur, toe die tydskrif Ons Taal dood gekwyn 't, maar veral om politieke redes moes daar 'n heeltemal nuwe begin gemaak word. Die ondersteuning van De Goede Hoop deur "Onze Jan" was 'n voldoende waarborg vir die eg-Afrikaanse rigting van die blad, en die redakteur het van die staanspoor af vasgetrap vir Afrikaans. Deur sy verstandige stadig-oor-die-klippers-taktiek[76] het hy veel gedoen om [Pg 42] die ou vooroordele teen die moedertaal weg te ruim, terwyl sy kragtige artiekels onder die nom de plume Jan van Rozenburg 'n groot stoot aan die nasionale beweging gegee het. De Goede Hoop was dan ook veel meer as 'n "eerste voorbode van die naderende renaissance", soos Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie beweer (2de druk, p. 12). "Van Kaapstad begint die viktorie vir die Twede Beweging en Adv. De Waal was seker een van die vernaamste kampvegters, wat deur middel van sy blad suksesvolle voortrekkerswerk gedoen het.

Dat Gustav Preller se verdienste in verband met die Twede Beweging besonder groot is, ly geen twyfel nie, maar om te verklaar dat dit "op sy kragtige inisiatief in die lewe geroep" is, soos Dr. E.C. Pienaar doen, (Diss. p. 1) is stellig onjuis.[77]

De Goede Hoop het leesstof bevat vir mense van ryper leeftyd, maar was tog meer bepaald vir jongeliede bedoel.[78] Dit het dan ook veral by jong Suid-Afrika lees- en skryflus opgewek en as propagandamiddel goeie dienste bewys. Op die betekenis van De Waal se werk word in 'n volgende hoofstuk gewys. Onder sy medewerkers was daar niemand, wat Afrikaanse prosa van letterkundige gehalte gelewer het nie. Dit is meestal kort, luimige verhaaltjies. Van 'n diepgaande letterkundige kritiek is daar ook nouliks sprake; kort aankondiginge is die reël.

Wat De Waal se opvatting van 'n roman is, blyk duidelik uit die volgende: "In de gewone roman heeft de held altijd te kampen met een listige mededinger om de hand van de beminde ... Onverwachte [Pg 43] gebeurtenissen, gemoedprikkelende verrassingen komt ge heel weinig tegen" (G.H. April 1913). Dit word gesê na aanleiding van Malherbe se roman Vergeet Nie, en in nommer van Des. 1911 hoor ons van "verrassingen die zo onontbeerlik zijn voor 't sukses van 'n roman".

Dr. D.F. Malherbe gee in die nommer van September 1906 uiting aan sy bewondering vir Johannes van Wyk. By sy beoordeling het die betekenis van die roman vir die taalstryd swaar geweeg. "Ons volkstaal, ons dierbare boompie, swoeg vandag onder die dubbele las van vyandskap en verfoeielike vooroordeel. En daarom verdien diegene, wat skriftelik of andersins manmoedig optree vir die saak ons ondersteuning en waardering." Vandag sal Malherbe seker nie meer van Johannes van Wyk o.a. beweer nie: "Oral 'n diep-historiese gevoel, wat omstandighede en gebeurtenisse in die oog hou.... (De Waal) bied ons in sprekende simbole die inwendige van sy persone."

(b). De Goede Hoop (1915-1921).

Vanaf Januarie 1915 tree Prof. Ds. N.J. Brümmer as redakteur op. Hy is in 1866 gebore op die plaas Prospect, distrik Dordrecht.[79] In sy studiejare op Stellenbosch het hy blyk gegee van buitengewone knapheid en daarna in Skotland en Duitsland sy teologiese en filosofiese studie voortgeset; maar 'n dringende beroep as predikant na Jansenville het hom van die doktorsgraad laat afsien. Op filantropies, kerklik en wetenskaplik gebied het hy prominent opgetree en ook as voorstander van die A.T.V. belangrike werk gedoen. Sedert 1911 is hy professor in die wysbegeerte aan die Stellenbosse Uniwersiteit. Die grootste gedeelte van sy werk is in Hollands, o.a. Spoken en Eerbied. Die Afrikaanse brosjure Die Afrikaanse Nasie is al onder Polemiese Prosa bespreek.

Die grootste gedeelte van die blad verskyn ook onder Brümmer se redaksie nog altyd in Hoog-Hollands, en ofskoon daar heelwat Afrikaans in voorkom, word [Pg 44] dit, as mens op die inhoud afgaan, langsamerhand veral die orgaan van die konserwatiewe minderheid, wat aan Nederlands vashou. Die voorstanders van Afrikaans verenig hul rondom Ons Moedertaal (1914), later verenig met Die Huisgenoot (1916) en Die Brandwag (1910). Dat die politieke beroeringe, wat na 1912 die Afrikaners in twee kampe splits, invloed gehad 't op die groepering van lesers is ontwyfelbaar. In hierdie oorsig van die letterkundige prosa uit die tydskrifte sou 'n nadere bespreking van die kwessie egter uit sy plek wees.

Brümmer skryf veral oor etiese en sosiale vraagstukke en sy kragtige Hollandse artiekels wek in kerklike kringe groot belangstelling. Vanaf Augustus 1918 verskyn van hom 'n reeks didaktiese stukke Die Spraaksame Ossewa[80] in Afrikaans. Die ossewa is vir hom 'n beeld van die menslike lewe en elke deel daarvan kry 'n sinnebeeldige betekenis, van die as, wat "'n fatsoenlike karakter, die draagbalk van (die) lewenswa" is, tot die lunspen, die simbool van getrouheid. Die lewenswa kom by Brandewynshoogte, Praatdrif, Skinderkrans, ens., wat natuurlik aanleiding gee tot allerlei didaktiese oorpeinsings. "Die ossewa is al oud en daar sit wysheid in sy jare" (Sept. 1918). Dat so 'n sistematiese vergelyking soms uitloop op 'n soekery na vae ooreenkomste spreek vanself. Tog vorm dit 'n mooi bydrae tot ons didaktiese literatuur. Brümmer skryf 'n rustig betoënde styl, wat soms verras deur kernagtigheid en slegs selde storende wendinge bevat soos die volgende: "as 'n goeie ding gemisbruik kom worde" (Feb. 1919).

Dat Brümmer soms agtiende-eeuse middels gebruik om sy blad vol te kry blyk uit 'n digwedstryd in die jaargang 1916. 'n Prys word nie alleen uitgeloof vir die beste gedig nie, maar selfs die onderwerp word aangegee, nl. die verhaal Hansie Smal, wat in een van die nommers van die blad verskyn het. By die beoordeling van die ingestuurde stukke gee Brümmer die verrassende uitspraak: "Poëzie moet vloeien, moet zalvend zijn....[81] (Sept. 1916). Dit staan daar!

[Pg 45] Hoe laag die literêre peil van die blad word, blyk uit die opname van 'n eindelose reeks prulrympies. As staaltjie kan die volgende "gedig" dien, wat in 'n maandelikse wedstryd bekroon is:

Geagte Heer, die editeur,
Ek wil vir jou weer pla,
Want ek wil in die "Goede Hoop"
Vir jou 'n plekkie vra.
Ek wil ook iets vir jou instuur
Soos al jou vrindetal;
En daarom skryf ek nou vir jou
Oor "Lente in die Dal",

Op die manier kry die rymelaar "Charon" nog twee en 'n halwe kolom vol! (Sept. 1920.)

Die bekroonde verhaal in dieselfde nommer is nie van veel beter gehalte nie. Dit is van "'n weerspannige dogter", wat "met 'n treurige, bleek gesiggie.... soos 'n skim deur die huis" dwaal, omdat haar vader vir Roelie weggejaag het. Sy is Protestants, maar voel so ellendig dat sy in 'n ... klooster wil gaan! Gelukkig oorwin Koos, 'n ander minnaar sy beskeidenheid, "versamel (genoeg) moed om sy geluk te beproewe" en in 'n ommesientjie word die weerspannige dogter weer 'n verstandige bruid.

'n Aantal verhale van E. de Roubaix staan op hoër plan, maar omdat sy beste werk in Die Brandwag verskyn het, word dit daar bespreek.

Die letterkundige kritiek van De Goede Hoop bestaan nog altyd uit kort aankondiginge. "Dons maar op, alles sal reg kom!" word Marius toegeroep, (Nov. 1916). Wie Afrikaanse werk van letterkundige gehalte in De Goede Hoop soek, kom egter tot die oortuiging dat alles verkeerd loop.

§ 2. Die Brandwag (1910-1922).

Die Brandwag is opgerig op 31 Mei 1910 onder redaksie van Dr. W.M.R. Malherbe en Gustav Preller. Na die eerste ses nommers egter, vanaf 1 September 1910, is Dr. Malherbe alleen redakteur, totdat hy in [Pg 46] September 1919 weer vervang word deur Preller, wat die blad redigeer totdat die uitgawe in Februarie 1922 om finansiële redes gestaak word.

Die doel van die blad word in die eerste nommer só omskryf: "Die Brandwag heeft positie gekozen op 'n punt waar 't terrein alsnog onbewaakt bleef: het Afrikaner huisgezin." Dit wil die plek verower, wat opgevul word deur "vreemde kaf, als Home Notes en Home Chat en Home Journal, enz." Verder wil die tydskrif probeer om "leiding en koers te geven aan de vele zeer bekwaam gebleken Afrikanerpennen, die ernaar streven ... 'n eigen nasionaal-afrikaanse letterkunde te helpen groot maken." Met die uitvoering van die programma het die blad uitstekend geslaag en dank sy die medewerking van feitlik alle skrywers en digters van betekenis kon dit 'n hoë literêre peil bereik en tot die end toe handhaaf. Dat die blad 'n faktor van groot betekenis in die kultuur- en taalstryd was is ongetwyfeld, en die verdwyning daarvan moet as 'n ramp beskou word. Daar is werk van blywende waarde in gepubliseer en deur middel van die wedstryde het 'n hele reeks nuwe skrywers, soos Jochem van Bruggen, Léon Maré, E. de Roubaix, M. Jansen, Hettie Cillié, e.a. bekend geword. In die kinder-afdeling het Mev. Iz. van Heerden naam gemaak met haar voortreflike verhale, sodat "Tannie van Die Brandwag" 'n geliefde naam by die kleinspan oor die hele land is.

Veel het die blad ook daartoe bygedra om gesonde begrippe oor kuns ingang te laat vind. Deur goeie vertalings en studies oor buitelandse kunstenaars is 'n poging gedoen om in voeling te bly met Europese kuns, terwyl talryke sketse, veral oor die Voortrekkers, die historiese belangstelling aangekweek en wakker gehou 't. So word b.v. aangedring op die publikasie van ou handskrifte: "Daar is al soveel in die laaste oorlog verlore gegaan, dat ons nou betyds moet begin om te red, wat nog te redde is." (15 Julie 1910.)

Gesond was die letterkundige kritiek van die blad. Reeds in die eerste jaargang waarsku die opstelle-kommissie teen verhale met "awonture en kunsmatige verwikkelinge. Daarin moet die bekoring van 'n verhaal nie gesoek word nie, maar wèl in onopgesmukte voorstelling [Pg 47] van buitengewone of gewone gebeurtenisse—met ware en rake tekening van karakters." (Des. 1910.) Die krietikus X verklaar: "Ons skrywers begin in te sien, dat die krag en betekenis van 'n verhaal nie geleë is in gesogte samevlegting van buitengewone gebeurtenisse, opsetlike mooi-soekery, maar juistheid van skildering, natuurlike voorstelling, diepte en waarheid van karakter-uitbeelding, selfs in wat grappig is." (15 Feb. 1911.) Dit is nog iets anders as die "gemoedprikkelende verrassingen", waar De Goede Hoop na gesoek het!

Ofskoon in die eerste jare die blote verskyning van 'n Afrikaanse boek al 'n gebeurtenis van belang was, laat die blad hom nie verlei nie tot wat G.S. P(reller) noem "onnadenkende, steriotiepe koerante-aanprysinge" (15 Sept. 1913). Nadruklik word gewys op die waarde van elke boek vir die besonder Afrikaanse kultuurtoestand, maar steeds ook aangetoon, dat dit geen blywende maatstaf moet wees nie. 'n Mooi voorbeeld daarvan is J.F.E. C(elliers) se beoordeling van Stompies deur Adv. J.H.H. de Waal. "Ons is bly met die verskyning van sulke werkies. Wat in ander land daarvan gesê mag word, gaat ons nie aan nie; ons weet net dat 't vir ons S.A. goed is, en dat manne wat hul daarop toelê om ons volk aan lees en aan dink en aan gebruik van sy eie taal te bring, alle lof verdien. Die skrywer siet goed in dat romanties aangelegde verhaaltjies, met 'n pikante sousie van awontuurlikheid of wonderbaarlikheid daaroor, meer lesers sal trek dan iets wat bepaald op letterkunde aangelê is, op karakter- en gevoelstudie van 'n fynere soort.... Nou die skrywer die groot publiek al by herhaling tevrede gestel het, spreek ons die hoop uit nog eendag 'n roman van sy hand te sien wat in diepgang, in gevoel- en karakterstudie, 'n letterkundige eersteling sal wees in ons wêrelddeel ..." (15 Jan. 1912.)

In die laaste jaargange tree veral Adv. Eugène, N. Marais op as krietikus, en ofskoon sy opmerkings meestal raak is, sou mens van een wat self digter is, nie sulke snaakse bewerings oor poësie verwag nie. Sonderling is b.v. die volgende uitspraak na aanleiding van Van Bruggen se bundel Lente-Stemme: "Om die soort van [Pg 48] gediggies goed te maak, is veel moeiliker dan om 'n goeie stoel te maak. Dit vereis meer tegniese bekwaamheid en seker veel meer arbeid. Dit kos altyd handwerk om alle spore van sukkel uit jou werk te skaaf en weg te polieer" (Maart 1920). Nadat hy die aanwesigheid van "ware poëtiese gevoel" gekonstateer het sê hy: "Al wat makeer is die handskaaf en die sandpapier.... En laat die digter dit vir 'n grondbeginsel eerbiedig: in die maak van 'n volmaakte rympie is handewerk van net soveel betekenis as inspirasie." Na aanleiding van dié resensie het ek aangetoon, dat so 'n beginsel 'n absolute miskenning van die wese van alle egte poësie is. (Die Brandwag, Okt. 1920.)[82] Dit is bes moontlik, dat Marais met skaaf en handwerk iets anders bedoel as die gewone opvatting van dié woorde in die letterkundige geskiedenis, wat uit die agtiende eeu dateer. Hy moes egter bedenk 't, dat die woorde 'n danig slegte reuk het met betrekking tot poësie en aanleiding kan gee tot fatale misverstand.

Een van die trouste medewerkers was

Jan F.E. Celliers.[83]

As digter is hy bekend genoeg, maar dat hy ook een van ons mees verdienstelike prosaskrywers is, daarop mag nog wel gewys word. In Die Brandwag het onder sy eie en onder verskeie skuilname heelwat prosastukke van hom verskyn, waarin hy op populêre wyse allerlei historiese, sosiale en wetenskaplike onderwerpe behandel. In dié stukke munt sy styl uit deur helderheid en logiese gedagtegang, eienskappe, wat dit dan ook bevatlik maak vir selfs onontwikkelde lesers. Die meeste daarvan is later herdruk in sy Afrikaanse Leesboek (1920). Veel het hy ook gedoen om juiste begrippe oor kuns en meer besonderlik oor letterkunde te bevorder. In dié verband kan gewys word op 'n reeks artiekels, getietel [Pg 49] Lewe en Lettere in Die Burger, 1921,[84] waarin hy blyk gee van 'n gesonde kunsopvatting. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons volk tans verkeer, is so 'n causerie oor kuns van groot waarde. 'n Verdienstelike omwerking van 'n roman van Henri Bordeaux, Bang vir die Lewe, het ook van hom in Die Brandwag verskyn en is later opgeneem in Die Burger-leeskring (1919). Colombo van Prosper Mérimée het hy ook daarvoor vertaal (1920).

Dit is veral in sy natuurbeskrywings, dat Celliers as woordkunstenaar verdienstelik is. Hier openbaar hy 'n fynheid van gevoel vir die kleinste klanknuansering, 'n liefde vir die woord, wat ons dan ook van hom as digter mag verwag. Skoonheid in die natuur bring hom in 'n jubelende ekstase: "O laat my hier verlore raak, hier altyd bly, hier sterwe as dit moet, want hier bereik die lewe sy hoogste heerlikheid, so naby die Onsienlike as nêrens anders nie...." (Die Brandwag, Jan. 1917.) "Ons wil een word met die gaos van dartelende geluk en ongebondenheid, ons wil verfrommel word in die mallende, krullende skuim, ons wil onsselwe vergeet en verloor in die wilde vrye roes van uitjuigende, uitspattende beweging en krag ..." (Jan. 1918). In sy uitgelatenheid laat hy die woorde om ons wirrel-warrel, soms wel in verbysterende veelheid, maar altyd vol suggestiewe klank. "Die see in die rotse! O, nêrens soos hier is die water 'n beeld van krag—dronk, mal van pret, van selfbewuste eie weelderige oordaad, sigself oortreffend, oorrollend, oorbotsend in aksie-begeerte teen hindernis, swelgend in oordaad van alles-oorswalpende aanstorming, melk-wit oor-soppend die rotsbanke se skulp-skurfte, swoep! opdoeffend teen blinde klip, oppluimend, uitspattend in 'n wolk van skuim wat bo in puntjies uitpyl en wind-verwaaid neerswiets in die siedende karning omlaag; na aanstorming waggel-wild wegvallende elke keer, in rotstregters ingesuie, maar opgudsend weer na halwe wegsakking, in altyd-durende dans van strydlustige durf en ongeduld." (id.)[85]

[Pg 50] "Malkop-moedwillig spring waterdruppeltjies af van die oorleunende kranse bo, om te kyk wie die beste kan duik—met 'n stadig-lange swaai, net of die lug hul dra in hul val, seil hul neer, en pets op onse hande of val in die rivier naas die skuit." (Die Brandwag, Jan. 1917.)

Sulke impressionistiese prosa is in ons letterkunde maar al te skaars! Noem dit navolging van die Tagtiger woordkuns as jy wil; praat van Querido-aanse oorlading—ook goed; maar hier is in elk geval 'n ontroerde, wat soek na treffende segging en juiste klank.

Celliers raak nie alleen in vervoering oor die skoonheid in die natuur nie; hy is die peinsende wandelaar, wat steeds na dieper waarheid soek, telkens met 'n wondervraag stilstaan. "Pylsnel skiet 'n groot naaldekoker soos 'n blou bliksemstraal deur die lug en is weg met een van die stryders. En ek verwyder my, met die ewige vraag op my lippe, hier as in die groot wêreld daarbuite: Waarom, God, waarom?" (Leesboek p. 206.)

"Die genius van die veld het die invloed op ons, dat ons telkens die vraag aan onsselwe doen: het ons lewe en bestaan op aarde 'n doel of is alles sommerso?" (id. p. 204.)

"Soek ons hier nie wat ons soek in die donkere dieptes van ons eie gees, in elke ander gees, in elke oog, in boeke, in die natuur: wat, waar is die groot geheim, is daar skoonheid, is daar waarheid vir my te ontdek?" (In die Kango-grotte. Die Brandwag, April 1918.)

Mooi plastiese uitbeelding is daar ook in Winter-môre-mark: "Kaffers wat werk toe gaan, loop met skouers hoog opgetrek, hande diep in die broeksakke, elke voet eina-eina neergeset,—almal ewe stuurs.... 'n Pikenien het 'n soldaatbaadjie aan; en as jy daar so inkyk, sien jy sy kaal pensie, en daaronder sy nakende maer beentjies, wat lyk of daar as aan kleef." (Leesboek p. 133.)

Drie verhaaltjies van 'n wonder-mooi innigheid het Celliers ook geskryf: Sy tel nie mee nie, en Nie nodig nie, in sy Leesboek en Waarom Hy en nie Ek nie? in Die Brandwag (15 Maart 1914). Hier is hy ook die woord-arties, wat ons verras met fris beeldspraak. "Arme Gawie verwag 'n bondgenoot en uitredder in oupa en begin dadelik: "Meneer, is dit nou reg...." maar, wie [Pg 51] sê, die ou-meid blus hom in 'n kits, met 'n maxim-sarsie van kort en klein gekapte skreeuerige woorde...." Onder sy ander verhale munt die volgende uit: Suster Greta, (5 Aug. 1913); 'n Ou Vlam, (1 Mei 1912). Vyf Minute, (15 Junie 1913), is besonder goed gestileer. Die goeie beginsels wat hy in Die Huisgenoot, (Aug. 1919) aanbeveel, word hier toegepas—geen kakelbonte awonture nie—maar studie van die mens.[86] Van sy hand is ook die reeks didaktiese Briewe van Bram, waarin 'n paar treffende gedagtes voorkom.[87]

Vir 'n juiste begrip van Celliers se kunsopvatting is die volgende van belang: "Kuns is nie daar vir die kuns nie, maar vir die mens,[88] omdat dit ook maar een van die middele in die mens se hand is in sy strewe naar geluk, deur volmaaktheid, waarheid, skoonheid.... In ons land het 'n skrywer 'n besonder moeilike taak: hy staat voor die moeilikheid dat die buite-bevolking ander leesstof nodig het as die dorpsbevolking; en hy mag die buite-bevolking nie sommer aan hul lot oorlaat nie, en sê, "ek bemoei my net met die dorpsmense", omdat die Afrikaners te min in aantal is teenoor die inkomelinge van buite, omdat elke Afrikaner 'n onmisbare gewig in die skaal is vir ons taal- en volksbestaan. Die nasionale skrywer moet as-ware elke Afrikaner uit snuffel en soek om hom 'n skool te gee, 'n meester, 'n boek, wat hy kan verstaan, wat hom voorlig en opvoed.[89] Hier staan Celliers dus op dieselfde standpunt as Langenhoven en in verband met die se opvatting sal die vraag nader bespreek word.[90] 'n Groot gedeelte van Celliers se prosawerk is dan ook suiwer didakties en ontstaan uit 'n drang om die volk op te voed tot 'n beter begrip van kuns. In dieselfde artiekel sê hy verder: "Aan die ander kant staat die dorpsman, wat al gesnuffel en geproe het in die letterkundige tuin van die groot wêreld.... Aan hom moet ook gegee word wat sy smaak bevredig en wat enigsins 'n vergelyking kan deurstaan met die [Pg 52] letterkundige voortbrengsels van die buiteland.... Die Afrikaanse kunstenaar moet dus nie altyd[91] uitsluitend aan die beginner dink nie en sy gevoel of siening in-toom nie[91]—hy moet daar dikwels die volle teuel aan gee en die allerbeste lewer wat hy kan, want veral die opgevoede man moet vir ons taal en nasionale saak gewin word ..." In sy poësie word die twede gedeelte van die program uitgewerk en gelukkig het dit weinig gely onder sy didaktiese en patriotiese geteoretiseer. As 'n digter ons kom vertel, dat hy nie altyd ... sy gevoel of siening in-toom nie, m.a.w. dat hy dit soms tòg doen om vir die "beginner" bevatlik te wees, dan sou ons verwag dat dit met sy kuns heeltemal misloop, hoe goed die bedoeling ook al mag wees. Gelukkig is dit by Jan Celliers nie die geval nie. Wat C.R. de Klerk van Vondel sê, geld ook hier: "De beste schilders zijn niet zelden de onbeholpenste stamelaars als ze hun eigen werk trachten te duiden in woorden."[92] "Nut en stichting", "nuttigheid voor de scholieren en opluikende jonkheid", sulke woorde kry mens in meer dan een Berecht van Vondel, maar in sy beste werk, soos b.v. die Lucifer, vergeet hy totaal, dat hy die mense wou "verbeter" en is hy veral 'n soeker van skoonheid. Verblydend is dit, dat Jan Celliers in die laaste tyd ook in sy teoretiese beskouing 'n veel juister standpunt inneem. "Geniale uitbeelding, plastiese voorstelling, dis die eintlike werk van die kuns, die letterkunde. En die uitbeelding is hier alleen goed as dit, daardeurheen, die gronde en dieptes laat sien, sonder dat dit die eintlike welbewuste doel van die kunstenaar was om bepaald sedelik of opbouend te werk te gaan, soos die predikant of die onderwyser. 'n Ware kunswerk kom alleen voort uit 'n vrye estetiese stemming of gevoel, wat sy doel bereik sonder dat dit lyk of hy 'n bepaalde doel gehad het. As die vrye uiting hom 'n rigting laat voorskrywe deur 'n sedelike of ander doel, word persone en toestande vanself verdraai, pasklaar gemaak, om aan die doel of [Pg 53] strekking diensbaar te wees, en dan is so 'n werk, as kunswerk, nie meer van die beste nie."[93]


Een van die skryfsters wat baie opgang gemaak 't in die tydskrif en wie se werk herhaaldelik bekroon is, is

Hettie Cillié.

Sy is die dogter van 'n onderwyser, wat in 1884 uit Wellington na Transvaal getrek 't. Na die Engelse oorlog het sy haar opvoeding aan die Hugenote-Seminarie ontvang. In 1906 en 1909 het sy Taalbondpryse vir histories-romantiese verhale gekry. 'n Twintigtal van haar stories en sketse is in verskillende krante en tydskrifte gepubliseer.[94]

Sy teken by voorkeur 'n eenvoudige verwikkeling, waarin die liefde 'n rol speel en verstaan die tegniek van die kort verhaal goed. Haar karakteruitbeelding getuig van groot mensekennis, maar is nie treffend genoeg om 'n blywende indruk te maak nie, veral omdat haar styl so onpersoonlik is. Twee Susters, (Die Brandwag, 1 Maart 1913) en 'n Ongeluk, (15 Des. 1910) is tiepiese verhaaltjies, op rustig-aangename toon vertel.

Emanuel H.F. de Roubaix.

Van hierdie skrywer het 'n hele reeks verhale in verskillende tydskrifte verskyn. Hy is gebore in 1880 op Tabaktuin, 'n plaas digby Nieuwoudtville. Jare lank het hy sy vader se skape opgepas. Die enigste lektuur was die Bybel, Katkisasieboek, Ons Kleintji en Ons Tydskrif. In 1898 kon hy op Nieuwoudtville skool gaan en met die Engelse "Step by Step" begin. Gedurende die oorlog het hy by Gen. Maritz aangesluit.

In die Boland het hy gematrikuleer en sedert 1907 hou hy skool in Namakwaland. Veertien jaar was hy op [Pg 54] Roggeland en vanaf 1922 is hy op Paardekraal (Noord-Bokveld).

Die gewoontes van die Boesmanlanders, hul awonture op lang trektogte—dit is die tema van Roubaix se verhale. Soms gee hy 'n reeks los anekdotes, (Op wag in Boesmanland b.v., (Die Brandwag, 1 Mei 1916), maar meestal 'n afgeronde verhaal. Hy ken die mense deur en deur, en in eenvoudige, ongekunstelde taal, wat uitstekend pas by sy onderwerp, vertel hy die ervarings van eenvoudige siele. Dit is 'n primitiewe beskawing, wat hy beskryf in onopgesmukte toneeltjies van roerende eenvoudigheid. Treffend het hy die agterdog van die Boesmanlanders teenoor allerlei nuwighede geteken in In die Land van Dr. Steenkamp, (Die Brandwag, Julie 1920). In sy styl is daar af en toe 'n fris oorspronklikheid; sy taal en beeldspraak sit vasgewortel in die Boesmanlandse aarde. Met sy dialoog is hy minder gelukkig. Daar stuit mens telkens op gedagtes van die skrywer self. Onwaarskynlik klink dit b.v. om 'n Namakwalandse "boggie van veertien jaar" te hoor praat van "ware skuldvergiffenis, (wat) altyd volg op ware skulderkentenis", (Die Brandwag, 1 Des. 1917). Ook die outa in Maar 'n ou Hotnot praat 'n opgepoetste, onware taal.

In die laaste tyd vertoon De Roubaix 'n neiging vir melodramatiese grieselighede. So teken hy in Pietertjie en Johannetjie 'n verlore seun, wat op sy ouers se graf met 'n skeermes sy nekare afsny. (Die Huisgenoot, Junie 1920.)

Iz. van Heerden—(Vaalswaer).

Onder die jagstories, wat in Die Brandwag verskyn het, verdien die reeks Herinneringe van 'n Jagter deur Vaalswaer vermelding. Dit is geen geweldige awonture wat hy verhaal nie. So af en toe vleg hy wel 'n klein anekdote in, maar hy is in die eerste plaas die peinsende jagter, wat onder die bekoring van die bosveld sy gedagtes vrye loop gee en met 'n paar trekkies mooi 'n stemming aandui. 'n Goeie voorbeeld daarvan staan in die nommer van 1 Oktober 1916. Vaalswaer is in 1870 in die distrik Cradock gebore. Sedert 1905 het hy met Preller saamgewerk [Pg 55] in die taalstryd, o.a. as sekretaris van die A.T.G. Met sy eggenote, Tannie, woon hy nou op Potgietersrust.


Die Brandwag bevat ook verskillende goed geslaagde oorlogsverhale, waarvan o.a. die volgende kan genoem word: 'n Bestorming deur Nig Mimmie (15 Mei 1911); Oormag deur P. (Sept. 1921); Boere op See deur O.D. (Sept. 1921).

Onder die groot aantal verdienstelike kort stories verdien die volgende veral aandag: Die Bymot deur Carl Jeppe (15 Des. 1910); Sy Terugkoms deur Steph. Maré (1 Des. 1912); Wraak deur J.F. Engelbrecht (15 Des. 1912); 'n Brief deur H. (1 Des. 1915); Oom Hans (Sept. 1921). Van sulke min of meer onbekende outeurs sou daar 'n mooi bloemlesing kan saamgestel word. As vervolgstorie het vanaf 1 Oktober 1914 'n roman in Afrikaans: Die Niggies van die Kommandeur verskyn deur J.F. van Oordt (1856-1918),'n skrywer, wat onder die naam D'Arbez 'n hele reeks Hoog-Hollandse romans gepubliseer het[95]. Van hom is ook die verhaal Die Wolwegat, later opgeneem in die bundel Losse Klippe.

§ 3. Die Huisgenoot (1916-1921).

In Mei 1916 is Die Huisgenoot opgerig onder redaksie van Prof. J.J. Smith, as vertegenwoordiger van die Afrikaanse Taal-Vereniging en C.J.L. Ruysch van Dugteren, van die Nasionale Pers. Met die blad is verenig die A.T.V. orgaan, Ons Moedertaal, wat onder die oorlogsdruk moeilik kon bestaan[96]. Na die dood van Ruysch van Dugteren in 1918 is Prof. Smith alleen redakteur. Ofskoon Hollandse stukke natuurlik nog 'n enkele maal opgeneem word, verskyn die blad sedert 1918 feitlik uitsluitend in Afrikaans. Dit is ook die offisiële orgaan van die A.T.V., A.C. V.V., O.V.V. Helpmekaar en Werda.

Die doel van Die Huisgenoot word in die uitgawe [Pg 56] van Julie 1917 só aangedui: "Die Huisgenoot is 'n tydskrif, wat tot doel het die handhawing van ons taalregte en die bevordering van Afrikaans. Dit wil, sonder die terrein van partypolitiek te betree, meewerk in die opbou van ons nasionale lewe deur die aandag te vestig op alles wat goed is in die geskiedenis, owerleweringe en ideale van Hollands Suid-Afrika." Heel goed word die geaardheid van die blad deur die redakteur beskryf: "Die Huisgenoot het probeer om populêr te wees, sonder om juis die wetenskap enige geweld aan te doen; en dit was altyd sy strewe om vir elke leser in die Afrikaanse wêreld iets boeiends te verskaf. Deur lewensbeskrywinge van groot Afrikaners, deur sketse uit ons dierewêreld, deur stukke oor Suid-Afrikaanse kuns, deur verhale vir kinders en grootmense, deur die bespreking van taalkwessies, deur wenke vir die vrou, deur foto's, grappies en ander sake, het ons probeer om met die smaak van al ons lesers enigsins rekening te hou. Ons het, met ander woorde, 'n bont verskeidenheid nagestreef...." (Mei 1918). Met groot sukses het die blad sy program uitgewerk. In die moeilike taak om wetenskaplik en daarby ook populêr te wees, het die redaksie vry goed geslaag. Voorlopig skyn die bestaan van 'n tydskrif nog daarvan af te hang, want pas in 1922 het die pogings om 'n suiwer wetenskaplike en kuns-blad te stig sukses gehad[97].

Deur 'n konsekwente, ofskoon krietiese toepassing van die Akademie-reëls het Die Huisgenoot veel gedoen om aan die verwarring op spellinggebied 'n einde te maak en die afdeling Taalvrae was seker een van die nuttigste. Tog het die redaksie nooit uit die oog verloor nie, dat daar naas die taal nog ander belangrike sake was. "We moeten een volk zijn met eigen taal niet alleen, maar met eigen tradities, eigen bouwkunst, eigen schilderkunst, eigen muziek, eigen levensopvatting." (Feb. 1917.)—"'n Volk wat hom ten volle wens te ontwikkel en wat 'n waardige plek onder die nasies van die wêreld wil beklee moet hom op alle gebied(e) ontwikkel. Dit is nie genoeg dat ons vir ons taalregte stry nie; en dit is ook [Pg 57] nie genoeg om na politieke mag te strewe nie...." (Julie 1919).—"Uit ekonomiese afhanklikheid spruit alte dikwels kultuurslawerny...." (April 1919).

Daar is een geval waar die ywer vir die taal van letterkundige standpunt minder gelukkig was. B. Spoelstra bring, "op 'n heel interessante manier", seg die redakteur 'n versameling van ses-en-vyftig spreekwoorde in 'n verhaaltjie byeen, (Jan. en Mei 1921) en ander lesers word aangespoor om die spreekwoord-gimnastiek na te volg! Tot watter verwarrende beeldspraak dit aanleiding gee, blyk al uit die eerste sin: "Toe ons die ander dag 'n voëltjie gehoor fluit 't, dat twee jong mense die huweliksbootjie wou instap, en al taamlik gou die vierperdewa wou inspan, het menigeen sy tande geslyp vir die bruilof en gehoop om weer 'n keer lekker te gaan skoffel." (Jan. 1921.)

Letterkundige kritiek beslaan 'n vername plaas in die blad en oor die algemeen is dit op gesonde beginsels gebaseer. Dat die blad hom nie leen tot onoordeelkundige ophemeling van minderwaardige of middelmatige werk nie en by sy kritiek steeds 'n hoë peil handhaaf ten spyte van heelwat teenstand is 'n verblydende teken.

Dit spreek egter vanself dat met ongeveer 'n vyftiental resensente dit moeilik gaan om die eenheid op krieties gebied te handhaaf. So word dieselfde stuk by 'n eerste en twede druk nogal heel verskillend beoordeel. Dit is die geval met Die Vrou van S.A. (Nov. 1918 deur H.A. Fagan, Feb. 1922 deur F.B.).

Veral in die begin van 1919 het 'n paar resensies van verskillende kante teenspraak uitgelok en aanleiding gegee tot vrugbare polemiek.[98]

In Februarie 1919 wys J.J. S(mith) op die algemene gebrek aan tegniek: "Ons wil (die) skrywers net daarop wys, dat hul ons letterkunde 'n groot diens sal bewys as hul, voor hul aan die skrywe gaan, eers 'n bietjie wil studeer en nadink oor die wette wat gedurende die eeue heen in hul besondere kunsvak geformuleer is." In 1920 word dit nodig om aan die talryke skryflustiges [Pg 58] die volgende waarskuwing te gee: "Kyk, die Afrikaanse Taalbeweging het darem nou 'n stadium bereik waarin ons nie meer alles wat daar in druk verskyn as hemelval hoef te begroet nie" (E.C. P(ienaar) Nov.). Slypsteen ontlok aan M.T. die versugting: "Van Lennep, Van Lennep en sy geesgenote—dat hulle tydperk hier in S.A. verbygaan!" Daarby word gevoeg: Slypsteen "weet oënskynlik nog niks van die groot strome in die hele nuwe Europese letterkunde nie." (Julie 1921.)

Dat daar vir die Europese en meer spesiaal vir die Nederlandse letterkunde so weinig, of glad geen plaas ingeruim word in Die Huisgenoot nie is 'n gebrek, waarop ek in die uitgawe van Desember 1920 gewys het. "Van die kunsafdeling in ons tydskrifte verwag ons veel meer. Dit behoort ons op die hoogte te hou van kultuuruitinge en -strominge in ander lande. Deur ons geografiese ligging loop ons groot gevaar om op kunsgebied agterlik en geïsoleerd te bly. Ons land lê in 'n uithoek, en die storme wat die gemoedere elders in heftige beroering bring, gly as geruislose kabbeling om ons kuste heen, soms 'n paar verdwaalde opdrifsels meevoerende. Vir ons tydskrifte meen ek is die tyd tans gekom vir 'n breër behandeling van die literatuur, vir 'n intenser meelewe in die literêre strominge van die wêreld, sonder welke dit onmoontlik is om die literatuur van enige land te begryp. Deur vergelykende studie alleen kom ons tot 'n besef van die groot eenheid, tot 'n begrip van die menigvuldige aanknopingspunte tussen die nasionale en die internasionale kultuur. Dit is onmoontlik om elke literatuur in 'n aparte hokkie te hou. Ons moet in staat wees om 'n blik oor die gehele wetenskap te werp, en op dié wyse alleen kan ons die onderlinge verband tussen die verskillende dele en die grote geheel begryp."[99]

Tot die prosaskrywers, wat in Die Huisgenoot gedebuteer het, behoort A. du Biel, (Getrou en 'n paar kort verhale) en A.A. Pienaar (Sangiro). Die kort verhale, wat enigsins bo die middelmatige uitkom is besonder skaars. Die meeste daarvan verraai 'n [Pg 59] ongeoefende hand. Onsigbare Hande deur M. Linde (Maart 1920) en veral Die Bosduiwenes deur J.W. (Des. 1920) verdien vermelding. Laasgenoemde is sonder enige mooi-doenery, vol stemming en goed vertel. Ook die volgende bevat 'n belofte: Die Ou Bliktrommel (Aug. 1917) deur Kleinjan, J.R.L. van Bruggen, die digter van Lente-Stemme, en Vergeet-my-Nietjies deur Rikie Postma (Des. 1921).

Van die digter, Dr. C. Louis Leipoldt het o.a. verskyn: Wit Anjeliere (Nov. 1919) en Die Transportryer se Storie (Okt. 1921). Hy laat graag 'n onopgeloste raaiseltjie aan die leser oor om tot nadenk te prikkel. Dit is in ooreenstemming met sy kritiek oor Van Reenen se Celestine, waar hy sê: "'n Ware kunstenaar fluister as hy by so 'n punt (waar jou hare moet rys) kom: juis die sagte gefluister gee die indruk van geheimsinnigheid, moedeloosheid, angs, gevaar, smart, vertwyfling." (Nov. 1919.) Maar sy besgeslaagde verhaal het in Die Brandwag verskyn (1 Aug. 1914). Dis 'n digterlike sprokie van wondervolle teerheid: Die Weeskindjie, wat 'n moeder wou hê!

Die griep-epidemie, die opstand in 1914 en die druk van die oorlog, dit is oorsake, wat die getal "blyeyndende" verhale so klein maak in die jare 1918 en 1919, en 'n besondere voorliefde vir die skildering van treurige voorvalle in die hand werk. Die strekkings-verhale van Hermanus behoort tot die gebied van die traktaatjiesliteratuur. As Vader gaan Biljart speel kan dien as staaltjie, (Nov. 1921). 'n Voorbeeld van valse romantiekerigheid gee N.H. Theunissen in sy verhaal: Tussen die Aand- en Môre-skemer (April 1920). Hy wil 'n digterlike Voortrekkersdogter en haar dom-onnosele vryer uitbeeld. Dit sou moeilik gaan om meer staaltjies van verknoeide viesie en onware tekening in 'n kort verhaal bymekaar te bring. "Oor die lieflike gesiggie sprei daar 'n tergende glimlag, ... en haar oë, diep poele van geheimsinnigheid, verduister, en word onleesbaar." Die arme Jan kry les in digterlike natuur-beskouing. "Kom en kyk hoe mooi lyk die groot bome, hoe hulle hulde bring aan die sonsondergang." Die raadselagtige nooi word so geteken: "Sy was die [Pg 60] verpersoonliking van leed en van vreugde. Die groot ruimtes was haar wêreld. Sy het geleef en gevoel vir alles om haar. Vir haar mede-wagenote was sy onaantasbaar. Hulle siele kon nie saamgaan met haar langs die babbelende strome, na die soemende bosse op 'n blosende môre nie." As Jan haar in sy arme neem is daar in haar "geen antwoordende vuur nie". Gelukkig, want in die dae was daar nog geen brandweer nie! Maar nou kry Jan weer les in sielkunde: "Die bloed wat deur my stroom, het die are van die wêreld gegee; die hart wat in my klop, is die kloppende hart van die see. Sien jy, Jan, ek kan ook rym!... Van uit die diepe aarde, van uit die waters het my liggaam gekom; en my liggaam is 'n hok (sic!) van drome" ... Sy dowwe verstand kon haar woorde nie volg nie. Die beeldspraak was buite die enge kring van sy gedagtes." Ook ons slaan dit totaal dronk! Maar die domme Jan ondergaan 'n gedaanteverwisseling. "Sy ontvang sy lippe sonder weerstand ... Hy trek hom weg en kyk na haar oë. 'n Straal van kennis, 'n profeteviesie het hom ingevloei". Soe! maar dis darem vir jou 'n nooi! In die aand het "die stergegordelde nag haar omhels" en na die Soeloes se aanval "sluit hulle hul lippe in wederkerige, ewigdurende liefde, terwyl die bloed hulle monde oorstelp. Al die vlekke op die gesigte van die dode word deur 'n engelehand uitgewis. Die man se gesig word kalm, oorsprei met 'n waas van alomkennis ..."—"Geef ons natuur en waarheid weer" mag ons wel uitroep! Gelukkig is dit op ander plekke in die blad wel aanwesig.

§4. Ander Tydskrifte.

In Die Boerevrou, 'n damesblad, opgerig in Maart 1919 onder redaksie van Mevrou K. Malherbe het 'n paar mooi verhale van Adv. Eugène, N. Marais verskyn, o.a.: Die Brief van Nooitgedag (Des. 1919)[100]. Ook [Pg 61] F. v.d. Heever,[101] van wie in 1919 'n bundel gedigte uitgegee is, het 'n paar veelbelowende sketse geskryf, waaronder: Werkstaking by die Kleigat (Mei 1922) uitmunt deur plastiese tekening.

Sedert Maart 1920 het 'n orgaan van die Afrikaanse Studentebond as byvoegsel van Die Brandwag verskyn onder die naam Die Banier. Die inhoud was meestal van wetenskaplike aard en word hier dus nie nader bespreek nie.

In Junie 1922 het onder redaksie van Dr. D.F. Malherbe verskyn die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. In die voorwoord word gesê: "Ons (wil) met hierdie Tydskrif 'n gees van ernstige studie help aankweek, geleentheid bied vir elkeen wat oorspronklike beskouinge het of nuwe resultate of nuwe materiaal om te publiseer.... Laat die Tydskrif dan 'n middel wees om Afrikaans betekenis te verleen in die wetenskaplike wêreld, om te ontplooi die rykdom van sy vormende krag, sy vermoë om die nuwe woord te skep wat met raak seggingskrag verras, om te openbaar sy suiwerheid en helder eenvoud, om te getuig van sy mondigheid en bruikbaarheid op elke gebied van die geestelike lewe, om deur sy veelsydigheid van uiting ons volkskultuur tot skoner bloei te bevorder." Die blad wil ook gee "kunskritiek wat kan oprys uit die vlakteveld van dorre eensydigheid tot 'n hoër plan met wyer uitsigte." Die oprigting van so 'n tydskrif is 'n bewys van die gestadige ontwikkeling en ernstige strewe van die Twede Beweging.

VOETNOTAS:

[74] Werk, wat later gebundel is en ook los artiekels of verhale van skrywers, wat in die volgende hoofstukke ter sprake kom, word hier nie behandel nie.

[75] Goede Hoop, Julie 1903.

[76] In die Junie-nommer 1905 merk hy op dat sommige lesers beswaar het teen te veel Afrikaanse stukke en gee die versekering "dat na Juli de bijdragen in 't Kaapsch-Hollandsch een zeer gering deel van ons maandblad zullen opnemen." Na aanleiding van Preller se brosjure Laat 't ons toch Ernst wezen sê hy: "Wij willen (Preller) in alle vriendelikheid waarschuwen niet te haastig te werk te gaan.... De invoering van Afrikaansch als schrijftaal moet zacht en geleidelijk geschieden" (Sept. 1905).

[77] Na aanleiding van die kwessie het daar 'n vinnige polemiek ontstaan in Die Burger, 12, 13, 22 Aug. en 5, 14, 16 Sept. 1921. Prof J.J. Smith het in Die Huisgenoot, Sept. en Okt. 1921, 'n helder uiteensetting en samevatting van die korrespondensie gegee. Oor die geskiedenis van die Twede Beweging is die laaste woord seker nog nie gesê nie, maar voorlopig is m.i. Prof. Smith se konklusies heeltemal juis.

[78] Vgl. die eerste no., Julie 1903.

[79] Die lewensskets is aan Die Brandwag, Des. 1918 ontleen.

[80] 'n Paar daarvan het eers in Ons Moedertaal gestaan.

[81] Ek kursiveer.

[82] In sy repliek hierop maak Preller hom van die kwessie af met 'n paar kwinkslae oor "inspirasie-bakoond" (!) en ontydig slapende of badende digters—grappies wat in 'n hoogstaande tydskrif seker ongepas is. En hyself het nadruklik verklaar: "Die digkuns is geen handwerk nie". Voorwoord, Die Vlakte, (1920) p. 7.

[83] Vir lewensskets, sien dissertasie Dr. E.C. Pienaar, p. 209.

[84] Vanaf Feb. 1922 voortgeset in Die Huisgenoot.

[85] Op die mooi passage het Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie ook gewys, 2de druk, p. 228.

[86] Vgl. p. 21 vlg.

[87] Een daarvan is opgeneem in die Leesboek, p. 185.

[88] Kursivering van die skrywer.

[89] Ek kursiveer. Die Brandwag, Julie 1917.

[90] Sien Hoofstuk VII.

[91] Ek kursiveer. Die Brandwag, Julie 1917

[92] Kultuurbeschouwende inleiding tot Vondels spelen, p. XI.

[93] Kuns en Sedelikheid. Die Huisgenoot, Jan. 1922. Ek kursiveer. Vgl. egter Reg bo Reg (1922): "In onse tyd van Jonge nasionale opbou ... is kuns wat 'n sedelike of ander strekking het, ook te verdedig." (Voorwoord).

[94] Lewensskets aan Die Brandwag, Des. 1918 ontleen.

[95] Vgl. Z.A. Prozabundel: Hoekstra—Viljoen, p. 102.

[96] Op die betekenis van Ons Moedertaal is in Hoofstuk II al gewys.

[97] Vgl. § 4.

[98] Vgl. die nommers van Feb. en April.

[99] Uit 'n artiekel: Oor Letterkundige Kritiek. t.a.p.

[100] Nadat dit afgedruk was, het twee daarvan in die Almal-se-Boeke-Serie verskyn onder die tietel Margriet van Laastelust, (1922).

[101] Gebore 1894 op Heidelberg, Tvl. Sedert 1921 as advokaat gevestig in Windhoek.


[Pg 62]

HOOFSTUK IV.

G.R. von Wielligh.

"Die Laaste Stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners".

Die stamvader van die Von Wielligh-geslag was offisier in die Oos-Indiese Kompanjie. Gideon Retief is op 1 April 1859 gebore in die Pêrelse distrik. "Van sy sewende jaar af moes hy ploeglei, vee-oppas, op die oesland hopies maak en meer dergelike werkies wat vir 'n plaaskind nie ongewoon is nie."[102] Deur borgstaan het sy vader alles verloor en so moes Gideon self sy studie bekostig. Op sy elfde jaar het hy sy vader vergesel op 'n handelstog na Boesmanland. Toe hy by sy terugkeer op die Pêrelse Gimnasium kom, het hy net soveel Engels as Jakob Platjie geken, maar binne vyf jaar was hy al landmeter. Deur sy beroep het hy groot streke van Suid-Afrika goed leer ken. Op vyf-en-twintig-jarige leeftyd is hy benoem tot Landmeter-Generaal van Transvaal.

In 1903 het hom 'n ongeluk oorkom, wat byna tot volslae blindheid gelei 't. Hy het na Delagoabaai gegaan om die astronomiese instrumente van die Transvaalse regering te haal. By dié geleentheid is op 'n karnaval kalk in sy oë gegooi. Mediese behandeling het sy toestand sover verbeter "dat hy nou in sy regteroog 'n kwart natuurlike gesig teruggekry het. Hy lees met 'n sterk bril en 'n dubbelde vergrootglas—sy neus [Pg 63] byna op die papier, en dan sien hy nog maar vyf tot ses letters tegelyk."

"Omdat hy lange tyd op die platteland deurgebring het en 'n ystersterk geheue besit, beskik hy oor 'n skat van tiepiese Afrikaanse uitdrukkinge soos miskien geen ander lewende persoon op die oomblik nie."

Vanaf 1876 het Von Wielligh geskryf in Die Patriot, maar toe die blad 'n onnasionale politiek begin te verdedig, het hy hom daaraan onttrek (1891). Later was hy weer medewerker vir Ons Kleintji, waarin die eerste paar hoofstukke van Jakob Platjie verskyn het. Ook aan die blad Ons Taal het hy bydraes gestuur.

In 1907 het sy eerste Dierestories verskyn, vier dele waarvan tussen 1917 en 1922 uitgegee is. Verder: Jakob Platjie (1918); Eerste Skrywers (1918); Boesmanstories I-IV (1919-1921); Staan jou Man (1920); Robinson Crusoë (1920), Huis en Veld in 1921 gepubliseer, maar reeds in 1916 geskryf; Nimrod Seeling (1921); Ghwennie Barnveld (1922). 'n Groot aantal stories en artiekels het in die tydskrifte verskyn, o.a. Ons Geselstaal in Die Huisgenoot (1921-'22), terwyl nog 'n paar werke in die pers is.

Von Wielligh is feitlik die enigste voorstander van die Eerste Beweging, wat ook aktief opgetree het in die twede. In Eerste Skrywers (1918) skets hy die ontstaan en werk van Die Genootskap van Regte Afrikaners, en verdedig die opvattings van die genootskap teenoor verskillende aanklagte van die Twede Beweging. Hy deel allerlei feite mee wat van groot belang is vir die geskiedskrywer van die Patriotbeweging, polemiseer teen die spelling en organisasie van die Twede Beweging en gee talryke taalkundige beskouings, wat getuig van 'n uitgebreide kennis van die volkstaal, maar wat soms minder juis is deur sy gebrek aan wetenskaplike insig in taalverskynsele. Reeds vanaf 1877 het Von Wielligh "alle egte en suiwere Afrikaanse woorde, uitdrukkings, sinswendinge, ens." opgeteken, maar sy werk het in die Anglo-Boere-oorlog in die hande van die vyand geraak.[103] Sy uitgebreide studie oor Ons Geselstaal in Die [Pg 64] Huisgenoot (1921-22) getuig van 'n onverfloude belangstelling in die ontwikkeling en dialektiese verskynsels van die volksspraak. Hy is 'n voorstander van purisme. Woorde soos "energie, soliditeit, affiliasie, alternatief" noem hy taalkriekies, "wat ons mense op die platteland—en ook baie dorpelinge—hoor sing, maar hulle weet nie waar die goedjies presies sit nie."[104] Hy waarsku veral teen die gebruik van Neerlandse uitdrukkings "deur skrywers wat in Hollands en in Holland gestudeer het."[105] Eienaardig is dan ook die poging wat hy doen om Hollandse en vreemde uitdrukkings "nae 's landts gheleghenheyt" te verafrikaans. Woordevloed word "'n waterval van woorde" (Eerste Skr., p. 9); wierookvat, "wierooktessie" (p. 59); 't onderspit delven, "die onderspit byt" (Huis en Veld, p. 31); wittebroodsdagen, "soetebroodsdae" (p. 32); clairvoyance, "heldersienery" (t.a.p., p. 177); propaganda, "voortplantingplanne" (Die Brandwag, Feb. 1918).

Von Wielligh se oordrewe purisme hang saam met sy opvatting van kuns. Eweas die ou Genootskap streef hy daarna om "die grote gros te bereik, wat letterkundig honger en dors ly".[106] "Die ou Genootskap het vir leesstof vir die minder bevoorregtes gesorg, terwyl die nuwe net vir lektuur vir ontwikkelde persone wil sorg". Hulle stelling is "Ons mik hoog".[107] In die voorwoord van Huis en Veld verklaar hy: "Nog vashoudende aan die ywer om ons mense meer en meer te laat lees, het ons vir ons meer deur die populêre Afrikaanse verhaaltrant laat lei, as om ons aan praalgeskrif te bind, want ons volk hou min van geskrifte, volgeprop met dromery, maar verlang wel om verhale met korte bewoordinge in sy (lees hul) ware kleure afgeskilder te sien. So het ons die wenk gevolg van "praat gou want ek woon ver"." Von Wielligh staan dus nog heeltemal op die Ou Patriot-standpunt. Hy vergeet dat daar sedert 1875 groot dinge gebeur 't, dat die Twede Beweging die taalstryd [Pg 65] gewin 't, juis omdat die intellektuele gedeelte van die bevolking die voortou geneem 't en nie tevrede was alleen met rympies en grappies nie. Vandag mag nie iedereen meer rympies maak nie "van Generaal Smuts af tot die veewagtertjie in die veld", en hom dan verbeel dat hy ons letterkunde help opbou. Dit neem natuurlik die feit nie weg, dat in die periode vóór 1900 die Patriotskrywers op kulturele gebied nuttige werk gedoen 't, dat hulle die land geskoffel het waarop ons vandag ploeg en saai. Maar vir my is dit nog 'n ope kwessie of die taalstryd nie al vóór die Anglo-Boere-oorlog kon gewin gewees het nie, as die leiers van die Eerste Beweging hoër gemik 't.

Dit is onloënbaar dat daar tans nog 'n groot skare rustelose soekers na skoonheid is, wat spartel om hulself te verhef bo die wanhopig reëlmatig terugkerende besighede van die alledaagse lewe, mense wat bevrediging soek vir dieper behoeftes dan dié van geldsak en liggaam. Hul sit dikwels op afgeleë buiteplase, waar alle middele om die vae drang na iets hoërs en skoners te verwesenlik heeltemal ontbreek en waar 'n oorspronklik warme aandrif langsamerhand jammerlik verkwyn.[108] As Von Wielligh hom geroepe voel om vir die "minder bevoorregtes" te skrywe, dan doen hy seker nuttige werk, maar dit ontslaan hom nie van die plig om "hoog te mik" nie, en daarby tog te sorg, dat hy nie bokant die vuurmaakplek van sy lesers gaan nie. Daal hy af tot hulle peil, wat hy in Huis en Veld en elders maar al te dikwels doen, dan leer hy hul miskien wel hul eie taal lees, maar dan is daar geen sprake van kulturele opheffing nie. En dit is tog sy doel, want hy verklaar sy standpunt as volg: "Die kunstenaar lewer 'n kosbaar monument om sy volk onder die ander volke te laat uitblink; maar die Volksskrywer saai die sade, wat voedsel vir sy eie Volk lewer."[109]

Von Wielligh is geen dienaar van die skoonheid nie. Sy begrip van kuns druk hy so uit: "Kuns is skoon, [Pg 66] kuns is verhewe, kuns is edel en bo-aards; maar dit neem 'n kunstenaar om kunsstukke te waardeer. En dis daarom dat die grootste gros net baie van 'n goeie "rympie" dink(,) want dit klink in hulle ore nes die Walse van Strauss en nie nes die Sonatas van Beethoven nie."[110] Die gekursiveerde stelling is vals. Tussen die kunstenaar en leser moet daar natuurlik 'n seker mate van geestelike affiniteit bestaan, voordat daar sprake kan wees van kunsgenot. Maar terwyl die kunstenaar, gedrewe deur 'n aangebore skeppingsdrang die diepste aard van 'n wese of ding peil en dit dan tot skoonheid herskep, hoef die kunsgenieter alleen 'n normale mens te wees met 'n klein bietjie aanvoelings-vermoë. Die kunstenaar dring deur tot die kern, verwyder daarvan al wat bykomstig is en bied ons dit aan in sy suiwerste skoonheidsessensie. Hy doen die werk, ons moet alleen die vreugde, wat hy by sy skeppingsdaad ondervind het, kan navoel en hervoel. Von Wielligh speel dus maar 'n eenvoudige deuntjie op die konsertiena of "ramkie", omdat hy meen dat daar tog so weinig mense is wat iets beters kan geniet.

Vir sy opvatting van die ontstaan van kuns is die volgende sitaat ook van belang: "Daar was baie briewe en gedigte uit alle oorde van die land.... (vir Die Patriot.) Baie minderwaardige stukke werd ook geplaas om skryflus aan te wakker. Diegene wat beter kon doen, het nie stil bly sit nie, en die wat swak was, het bygeleer. Want as iemand iets herhaaldelik aanpak, leer hy vanself om die volgende keer dit beter te doen. En so werd die wieg vir aanstaande skrywers gereed gemaak."[111] Hier staan Von Wielligh dus nog op die agtiende-eeuse standpunt: "Kunst wordt door arbeid verkregen". Sy werk dra nog heeltemal die stempel van die Patriot-periode, en die ideale, wat hy na streef is die van 'n verbygegane geslag. Hy staan met sy gesig agterwaarts gekeerd en is "'n laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners".

[Pg 67]

Jakob Platjie.

In Jakob Platjie gee hy "egte karaktersketse uit die volkslewe van Hotnots, Korannas en Boesmans".[112] Platjie woon met sy ouers, "twee opregte peperkorreltjie Hotnots" by die Drakensteinberg. As hulle op die end van die maand hul loon ontvang, peil hul kantien toe. Iedries en Sina, Platjie se ouers raak in die tronk en hyself verdwaal op weg plaas toe en loop Koos Fonk, 'n smous raak, wat hom saam neem op 'n handelstog na Boesmanland, ens. Dan word die verhaal 'n aaneenskakeling van los anekdotes; Hotnotsfeeste word beskryf, Koos vier sy verjaarsdag en agtervolg Boesmans, wat sy beeste gesteel 't, terwyl saans om die wagvuurtjie allerlei Hotnotstiepes hul stories aan die nuuskierige Platjie vertel. Koos Fonk trek ook na Griekwaland, waar ons Kleopas Kipie hoor preek en twee kapteins sien oorlogmaak.

Platjie keer na sy ouers terug, trek met hulle na Stellenbosch en kom na hul dood op die sendingstasie Genadendal. Daar maak hy kennis met Dr. Kleiner, wat uit Europa gekom 't vir etnologiese studie en vergesel hom op sy togte as tolk. Platjie raak net hooggeleerd, word kristen, vertel wolf-en-jakkalsstories aan sy kinders en sterf.


In die voorrede verklaar Von Wielligh: "Wat die taal betref, wat ons in die mond van die sprekers geleg het, mag ons in die rede geval worde deur iemand wat sê dat in sommige gevalle die taal te verhewe is vir die onbeskaafde inboorling. Dit mag so wees, maar ons het genoeg aanhalings in hulle gewone spreekwyse gelewer om te toon van watter woorde hulle hul bedien het om hulle gedagtes aan ander bekend te maak. Alleen het ons gevrees om deur aanhoudend van die plattaal gebruik te maak, dat ons die lesers sou hinder." Uit 'n kunsoogpunt bederf hierdie besluit die hele boek, want dit beteken 'n opsetlike vervalsing van die dialoog. Dit was Von Wielligh se plig as kunstenaar om 'n Hotnot soos 'n [Pg 68] Hotnot te laat praat en ofskoon sy standpunt verdedigbaar was in die dae van die Eerste Beweging, toe "Patterjots" sinoniem was met plat taal en die getroue weergawe daarvan die taalsaak sou benadeel het, kon daar geen rede bestaan om in 1918 nog so 'n apologie te maak nie.[113] Ek gee 'n paar staaltjies van die kunsmatig vervalste dialoog: Sina praat van konstabels "wat net daarop uit is om hulpelose mense die tronk in te prop" (p. 5); Iedries vertel: "Boems! Daar val 'n kanonskot op see in Tafelbaai—die egó bulder van klofie tot klofie...." (p. 14), "So 'n toestand van sake kon nie lank aanhou nie. Daar moes 'n toenadering plaas vinde" (p. 16); die ou toordokter sê vir Toel: "... maar jy is my regterhand en die voorwerp van my ongeveinsde vrindskap", (p. 62); ou Bleskop, 'n Koranna veewagter, vertel van die waterslang: "die water maak agter hom sulke wit kabbelings en hy klowe die water soos 'n skip" (p. 98); Platjie sê: "die baas het hom in vrindelikheid vanmôre gestewel en gespoor" (p. 132); Samuël praat van kieries wat "begin te kletter" (p. 77).

Gelukkig staan naas sulke papiertaal baie dialoge, wat bewys, dat Von Wielligh die Hotnotsspraak goed beheers en hul mentaliteit deur-en-deur ken. En dis 'n kennis wat berus op 'n intieme aanraking met die inboorlinge. Hy het hul bespied in al hul gewoontes en gebruike. Veral die tekening van die parmantige Tys Bokkies is goed geslaag. Die grootste gedeelte van die Griekwapreek is ook 'n bewys, dat hy hom heeltemal ingeleef het in die psiege van die mense wat hy uitbeeld. Hy slaag daar uitstekend in om die naïewe taal en beeldspraak, die primitiewe gedagtegang weer te gee. Ook van die eienaardige humor van die inboorlinge het hy gelukkige staaltjies gegee. By die beskrywing van sulke toneeltjies is hy op sy beste, en ofskoon daar groot foute in die komposiesie is, bly dit tog altyd nog 'n verdienstelike werk deur die raak tiepering van enkele figure. Die sentrale fout is, dat die mense daar is ter wille van die taal en nie die taal ter wille van die mense nie. Von Wielligh het sy taal hartstogtelik lief. Jare lank is "pittige taal" [Pg 69] sy spesialiteit gewees. Reeds in 1881 het hy die burgemeester van Utrecht (Holland) met sy "naieve uitdrukkingen" dronkgeslaan.[114] En nou het hy in Jakob Platjie probeer om sy moeisaam opgegaarde taalskat te verwerk. Mens kry soms die indruk asof sekere anekdotes opsetlik bedenk en ingelas is om 'n treffende uitdrukking of komieke woordverdraaiing te kan gebruik.

Jakob Platjie is 'n etnologiese museum, vol opgestopte Hotnots, Korannas en Boesmans. Hulle is kunstig opgestel te midde van 'n nagebootste omgewing. Daar is 'n klipspelonk met mooi tekeninge, 'n Boesman wat staan uintjies uitgrawe met sy harde kierie, en 'n paar ander wat wild bekruip. Verder lê daar egte Boesmanspyle, ramkies, ens. Die ou wildvelle wat die Hotnotpondokkie bedek, is effens opsygeslaan, sodat ons 'n goeie idee van die konstruksie kan kry. Von Wielligh loop tussen die opgestopte poppe rond, vertel allerlei anekdotes, verklaar hul lewenswyse en die gebruik van die primitiewe gereedskappe. En in sy hande dra hy 'n besonder oulike Hotnotpoppie, wat hy Platjie noem en wat hy soos 'n geoefende buikspreker allerlei vrae laat stel, as die museumbesoekers al bietjie dooierig word van die muwwe lug. "Tata en memme, waar lê tog die danige geboorteland van julle?" (p. 6); "Toel, waar lê jou geboorteland?" (p. 58); "Oom Bles, waar lê daardie land van jou?" (p. 95); "Oom Ruiter, wat moes 'n mens eintlik maak as hy skielik in die veld teen wilde Boesmans dam?" (p. 188), ens. En dan begin Von Wielligh, as museumdirekteur weer te vertel van die ou dae se volk, terwyl Ruiter, Toel, Oom Bles en Tys Bokkies by ons staan met hul stywe gesigte en beweginglose lede. Telkens verseker hy ons, dat alles werklik waar is: "Die verhaal lyk baie romanties, maar is eg Hottentots in al sy besonderhede." (p. 58); "Hier volg nou 'n diskoers wat ons so dikwels onder Hotnots, Korannas en Boesmans hoor vertel." (p. 95.)[115] Soms raak die direkteur so erg boos op sy poppe, dat hy hulle reguit toespreek en [Pg 70] dan gelyk sy beeldspraak erg veel op die van 'n Griekwa predikant soos Kleopas Kipie "O skynheilige mensdom, wat sy medemens oordeel. As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet pad gee. En hoeveel sal bly staan, wat as egte sterling silwer verklaar word!" (p. 51.) Maar as Von Wielligh regtig ernstig word, dan draai hy sy rug op die poppe, gooi vir Platjie ook weg en trakteer sy besoekers op 'n lang etnologiese verhandeling. (Hoofstuk X.)[116] As 'n mens ook so oorloop van kennis is dit erg lastig om nog altyd eers iemand 'n sopie te moet injaag voor sy tong loskom! Of om iemand van Europa te laat oorkom soos Dr. Kleiner....

Ons moet dit op prys stel dat Von Wielligh sy ervarings onder die inboorlinge te boek stel. Maar dit is erg jammer, dat hy nie ingesien het, dat hy sy eie kuns vermoor deur kort-kort allerhande didaktiese byvoegsels en onnatuurlike dialoog daarin te wring, in plaas van sy uitgebeelde persone, soos die lewe self is deur hul eie natuurlike geaardheid en as gevolg van die omstandighede van hul bestaan vanself een of ander mening te laat bewys of suggereer. Hy is verplig om soos 'n museumgids by sy eie werk lang toesprake te hou, waarskynlik omdat hy gevoel het, dat die werk self nie sprékend leef nie.

Platjie is, soos reeds aangedui, niks anders as die pomp, wat Von Wielligh gebruik om die water bo die aarde te kry. Ook in sy droom bly hy nuuskierig. "Hy voel hom so kalm as 'n lam en luister met gespanne aandag" (p. 224). As Platjie moeg word vir die pompery, dan kom Koos Fonk help en later Dr. Kleiner. Maar die droom van Platjie is tog nog die wonderlikste ding in die boek! Dis nie sommer vandag se Hotnot, wat só kan droom nie! Platjie hoor 'n koningin sê: "Sien jul daardie berge—ver en naby? Sien jul die klowe met hul trippelende en murmelende kristal strome? Sien jul die vlaktes waarop die heide vir die skoenlapper en die by met nektar versadig? Sien jul die hemelpurper, waarheen wolkies van vlas deur die son met goud geverf word?" (p. 224.) [Pg 71] As Von Wielligh dan so veel belang stel in die goudmyn van Ofir—'n onderwerp, wat ook die leier van die Patriotbeweging in 'n roman bewerk het—laat hom dan in 'n wetenskaplike blad sy opienie lug. Maar hy hoef ons nie te kom wysmaak, dat 'n Hotnot, al is hy ook so danig geleerd soos Platjie, só kan droom nie. Dit is 'n psigologiese onjuistheid, so onbeskaamd-astrant, dat dit selfs die onnoselste "minder bevoorregte" moet opval.

Huis en Veld.

Willie Rosveld is vyf jaar op jag gewees, neem sy vader se produktebesigheid oor en trou met Hessie Bendel. Sy vrinde is Frans le Blanc, 'n ongetroude slagter, en Dolf Baumann, 'n rytuigverhuurder en groenteboer. Die famielies gee 'n piekniek, vier nuwejaar en gaan saam strand toe. Dan trek hul na die diamantvelde. Ewert, Dolf se oudste seun, gaan saam met 'n trek na die Dorsland. Frans word intussen voorsien van "'n altyd laggende Amalie" (p. 146), 'n weduwee met 'n groot veeplaas in Transvaal, wat hom trou "omdat sy (hom) van sy jeug af ken ..." en omdat hy "as slagter, so grondig met veeboerdery bekend was" (p. 147). As die goudvelde in Transvaal ontdek word, dan trek Willie en Dolf weer soontoe. Hulle word ryk, kuier rond, besoek Pretoria, waar hul met Oom Paul en Genl. Joubert gesels, maar word op hul ou dag van mekaar geskei.


Huis en Veld is 'n poging om die maatskaplike en ekonomiese toestande omstreeks 1870 te skets. In plaas van memoires te skryf, probeer Von Wielligh om die mense van 'n halwe eeu gelede self op die toneel te voer, wat hom egter jammerlik misluk. Hy piets hul met 'n swepie deur al die vier provinsies rond, sodat hy 'n kans kan kry om van die ou dae te vertel. Dolf het gelukkig 'n seun, wat Dorsland toe kan trek, maar ons voel nie, dat dit Ewert is wat al die ellende deurmaak nie. Dis eenvoudig Von Wielligh, wat 'n opstelletjie skryf. Hy laat Willie trou "nie om 'n liefdesverhaal in te voer nie, maar wel om die gebruik, of gewoonte, van daardie [Pg 72] tyd aan te gee" (p. 30). So gaan dit die hele boek deur. Hy vertel, o so veel van die uiterlike omstandighede en van die swerftogte van sy mense. Ons hoor wat die koring gekos 't, waarvan hul brood maak, ons weet hoe hul 'n kers snuit, dat hulle "in daardie tyd net so goed tandpyn gekry (het) as nou" (p. 22)—maar die mense self ontmoet ons nooit. Hulle is nie eers aangeklede poppe in 'n museum van oudhede nie, hulle is bloot name.

Met 'n klein wysiging kan ons Von Wielligh sy eie woorde toeroep: "Die huis moenie 'n preekstoel wees nie en die veld nie 'n voorlesingsaal nie." (p. 88.) Dit is juis wat hy doen. Luister maar na hierdie ouderwetse preek: "Jare is die vasgeklinkte skakels van 'n eindlose ketting, en snoer aan mekaar tot in ewigheid; ons persoonlikheid is maar as druppeltjie daaraan, om spoedig te verdamp en sy plek ken hom nie meer nie ... Dis die laaste dag van die jaar; maar nie die einde van tyd nie—(sou die "minder bevoorregtes" dit miskien nie weet nie? P.C.S.)—tussen die begin en einde van oneindig ewigheid is geen middel nie. (Q.E.D.!) Net soos die grootste hemelliggaam 'n stoffie in die oneindige ruimte is, net so is eeue 'n oogwenk in die ongebroke snoer van tyd," (p. 48-49.)[117] Op p. 32-33 word ons in egte traktaatjiesstyl vertel hoe iemand "diep onder die grond in 'n dronkaardsgraf" geraak het.

Dat daar 'n geestelike verwantskap tussen Von Wielligh en Kleopas Kipie, die Griekwa-predikant bestaan, bewys die volgende: "Net so onsierlik as 'n blomtuin sonder blomme, so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees. Daarom, groot is jou mag, o vrou, sien toe dat jy dit op die regte tyd, en op die regte wyse gebruik. Maar nie om berge te wil versit, of te uithaler te wees in 'n kamer waar rotte komedie speel nie ..." (p. 121).

Die selfde Oom Ignaas, wat beweer dat die huis geen preekstoel moet wees nie, sit ewe getroos twee paginas vol te preek oor huweliksgeluk (p. 87-88), en sy vrou [Pg 73] klop hom nog, want sy het byna drie blaaie nodig voor sy uitgepraat is, (84-86). Op p. 79 preek Oom Ignaas weer oor weeskinders en so sou daar nog meer voorbeelde aan te wys wees, wat net danig "met slaapstof gespesery" is.[118]

Die dialoog is meestal onnatuurlik. Soos 'n egte boekeheld sug Willie: "Ag mag ek die onsterflike glimlag nog eens op moeder se lippe sien, of die welgemeende raad van vader aanhoor!" (p. 4.) En watter Boermoeder sou so praat: "Willie, ons is bly dat jy die veld deurreis het, waar alles deur die Natuur self geplant is...." (p. 9). En Frans, die slagter, die man wat sê: "Liefde is eiebelang en selfvermaak" (p. 148), slaan ook 'n snaakse taaltjie uit by die Duiwels-Kantoor: "Waar is die skilder wat die landskap op seildoek kan weergee! Waar is die digter om die grillerige aanblik in woorde te beskrywe!" ens. (p. 157).

Ou Kammies, wat so dapper met die doringstomp spook is goed geteken. As hy praat dan luister ons graag, want sy taal is nie net 'n aftreksel van Von Wielligh s'n nie. "Maar seur,—nou?—nou kraak my ou litte van kanniemeernie en ek kan nie eers meer daardie klip raak spuug nie" (p. 47). Een so 'n sinnetjie laat ons direk voel dat ons met 'n mens te doen het. Hoe raak is ook die toneeltjie waar Kammies met die piekniekwaens aankom: "Wel, hoe het dit gegaan, outa Kammies?" vra Willie. "Nee, goed seurtjie. Net jammer die wiele van die wa het van droogte begin skree," antwoord die ou wynvlieg. "En die swaarste van al was, outa, dat die smeergoed al die tyd op die waentjie lê," las Dolf tussen in. "Dis by my kool die waarheid, seur Dolf! Toe het ek maar soos bobbejaan gemaak—ander pad sit kyk." (p. 41.)

Waarom sleep Von Wielligh kinders in sy verhaal as hy hulle net heeldag toesnou: Moenie dit nie en moenie dat nie! nes 'n kwaai oupa wat hoofpyn het? As die arm goedjies iets wil doen, dan moet hul altyd hoor: "Nee, volstrek nie, die muile sal jul skop" (p. 57), "die slange sal jul byt" (p. 44) en so word hul nog vyf keer iets [Pg 74] verbied, (p. 42, 50, 56, 57 voorlaaste paragraaf, en 67.)[119]

Wat hy in Staan jou Man verklaar, is maar al te waar van homself: "... ons wat groot en oud geword het, het magtig baie vergeet wat in die kindersiel woon." (p. 147.) Anders sou hy die twaalfjarige Ester nie so 'n ou-menstaaltjie laat praat nie: "Kom ek om, dan kom ek om.... Sit ons stil tuis, dan is ons tog kinders van die Dood." (p. 177.) En die wonderlike Amerikaner, wat so netjies sug nes 'n middeleeuse rederyker (p. 201) het ook 'n snaakse begrip van 'n kinderverstand as hy vir Ester sê: "Hulle (die eierdoppies) het wel eens die kiem van lewe gedra, maar is nou siellose stof geword en is tans oorblyfsels van verongelukte verwagtings, nes die graffies van kinders wat slegs tydelik aan hulle volk geleen was." (p. 201.)

Eweas in Jakob Platjie hou Von Wielligh ook in Huis en Veld lang verhandelinge oor die toestande van 'n halwe eeu gelede, wat heeltemal los staan van die verhaal. So kry ons in hoofstuk III besonderhede oor poswese, boerdery, kerk, skool, spoorweë en ... swawelhoutjies. Daar is historiese uitweidings en 'n beknopte geskiedenis van die Patriotbeweging; 'n definiesie van 'n lugspieëling (p. 109), wat sou pas in 'n handboekie oor aardrykskunde, 'n boereraad teen koorssiekte en 'n persoonlike appresiasie van die deugde van Engelse sout, kienapille en "grou vomitief", ens. ens. Von Wielligh het ongetwyfeld 'n goeie kennis van die tydperk wat hy beskrywe en sou seker 'n handboekie kan opstel wat vir die historikus en argeoloog nuttig sal wees, as hy maar net leer om te onderskei tussen gewigtige en onbelangrike sake en hul nie heel deftig vertel dat "die graanboer meestal sy gesprek voer oor graan ploeg en afoes; die wynboer belang (stel) in wingerde en wyn, en die veeboer verdiep (is) in sy skape en beeste ..." (p. 57-58). Hy kan gerus aanneem dat iedere normale mens dit oor vyftig jaar ook nog sal weet! Laat hom in elk geval nie weer probeer om sy kennis soos Koos Fonk in 'n roman rond te smous nie, want ook op letterkundige gebied is sulke smokkelpraktyke strafbaar.

[Pg 75]

Staan jou Man.

In Staan jou Man word die boerelewe op die ooster-grense van die Kaapkolonie in die tyd net voor die Groot Trek geskets. Gert Markeland, weens sy groot lengte bekend as "Groot Fant" woon op die plaas Kliphuiskoppie in die nabyheid van Grahamstad. Een van sy bure is Samuel Firtree, 'n Engelse "setlaar", wat egter heeltemal Afrikaner geword het. Jakob Raster, 'n Hollandse matroos, is Daan Wiks se skoolmeester. Groot Fant gee op sy verjaarsdag 'n groot fees, en later word trekplanne op Org Dapperman se plaas bespreek. Daar word 'n tier geskiet, by welke geleentheid Raster les kry in perdry. Frankie Daai, 'n ou-jonkman maak flikkers by Sytjie, wat skielik ryk geword het deur 'n groot erfenis, maar word deur sy handelsvennoot Soekie Grasman uitgeoorlê. Victor, die seun van Firtree, skiet per ongeluk Org Dapperman dood en verwond sy vrou, waardeur die trekplanne uitgestel word. Allerlei kaskenades van Rennie, Groot Fant se seun en Ester, Dapperman se dogter, word verhaal. Ester red die bewoners van Kliphuiskoppie deur op dapper wyse die aantog van Kaffers aan die bure bekend te maak. Plase en meubels word verkoop en voorbereidings vir die Trek gemaak. Intussen het Daai en Grasman in die tronk geraak en Groot Fant Sytjie gekies om die plek van sy oorlede vrou in te neem. Die verhaal sluit met enige awonture van die trek.


Uit Staan jou Man blyk ten duidelikste dat Von Wielligh se intriegemasjienerie net 'n paar radjies het, wat al lelik uitgeslyt is. In Huis en Veld het hy tweemaal gebruik gemaak van 'n verlore brief (p. 117 en 125), in Staan jou Man doen hy dit nog eens (p. 103) en ook in Jakob Platjie speel 'n brief die rol van verklikker (p. 85). In Staan jou Man bewys Sytjie ook nog Daai en Grasman se onskuld deur 'n brief (p. 237).[120]—Koos Fonk se verjaarsdagfees by Gansmond word beskryf (Hoofstuk XII)[121]; in Huis en Veld is daar Nuwejaarviering (Hoofstuk VII), in Staan jou Man alweer 'n [Pg 76] verjaarsdagfees (Hoofstuk VI), en daarby nog 'n poffertjiesparty (Hoofstuk III).—Platjie sien "skrifgeleerde" visioene, nadat hy soutvleis en stormjaers geëet 't (p. 222), Frankie Daai ooreet hom aan buffelkarbonaadjies en word deur 'n lelike nagmerrie gery (Hoofstuk IX).—In Huis en Veld skrik die vrouens hul lendelam vir spinnekoppe (p. 181) en Tant Annie het groot respek vir klipsalmanders (Hoofstuk II).—Die vrindskaplike verhouding tussen die famielies in Huis en Veld vind ons onder gewysigde omstandighede terug in Staan jou Man. Jakoba word skielik ryk (H. en V. p. 114), Sytjie ook (S. jou M. p. 90) en albei kry dadelik vryers. Birdie se twee vryers raak albei in die moeilikheid deur hul slim planne, Sytjie s'n netso. En so sou daar nog meer ooreenkomste aan te wys wees.

Die oorvloed van los anekdotes in al drie boeke is ook opvallend. In Staan jou Man loop so baie kruispaadjies, dat ons glad van die grootpad verdwaal. Die skrywer het dit blykbaar self gevoel, want hy begint Hoofstuk XIV aldus: "Ons verlang nou al so baie na Kliphuiskoppie ... dat ons nou g'n minuut langer sal versuim om daarheen te gaan nie." Die enigste draad, wat die anekdotes verbind, is dat almal bewys, dat die persone hulle man kan staan. Dit word so 'n opeenhoping van dapper dade, dat mens naderhand voel, dat die kindere Enaks weer opgestaan het, terwyl Groot Fant 'n reinkarnasie van Simson is. Dat hy nog die moeite doen om die pilaar van die kliphuis met kruit weg te blaas en dit nie sommer omstoot nie, soos sy prototiep met die tempel van die Filistyne gemaak 't, bly 'n raaisel!

Dit spreek vanself dat by 'n roman, waarin die skrywer probeer om deur 'n semelagtige aaneenstrengeling van awontuurlike voorvalle te bewys, dat die vernaamste persone almal hul man kan staan, van die psigologiese uitbeelding niks tereg kom nie. As hy die smart van die trekkers moet uitbeeld, wanneer hul die Kolonie verlaat, dan roep hy uit: "Ons verberg ons gesig vir die warme trane van afskeid, ons sluit ons ore vir die hartverskeurende snikke, wat sielesmart vertolk.... Vroue en kinders wink mekaar toe met hulle hande of sakdoeke, en die mans waai met hulle hoede—alles tekens van [Pg 77] 'n hartgevoel wat woorde magteloos slaan om (dit) te verklank" (p. 240-241).[122]

Dieper dan die trane en die sakdoeke kan hy nie sien nie en daarom wil hy sy oppervlakkigheid agter 'n retoriese poespas wegsteek. Met die een voorbeeld kan ek volstaan en merk alleen nog op, dat daar selfs geen goedgetekende Hotnotsfiguur in Staan jou Man is nie.

Die neiging om lang "moralisatiën ende contemplaciën" oor sy persone te hou, is in Staan jou Man nog baie hinderliker dan elders. "En as ons Frankie Daai so sien lê, dan rys die volgende oorwegings in ons gedagte op:—" (p. 86). Wat die "oorwegings" met die slapende Frankie te doen het, weet Von Wielligh alleen, want dis 'n beskrywing van die winter!! As Frankie egter eers gedroom het, dat Sytjie hom wurg, maak "hierdie afgryslike gesig ... verder 'n beroep op ons nadenking" en dan pas merk ons dat die wintertoneeltjie 'n aanlopie was vir 'n uitgewerkte preek oor die "vraatsugtige Mens", by welke uitroep ons seker aan Frankie se gulsigheid met die buffelkarbonaadjies moet dink! Maar dis glad mis! Die "vraatsugtige mens" handel nes die "kille nagwindjies"! So raak ons "toegespinnerak" in die "stowwerige webbe" (p. 88) van onverstaanbaarheid.

Op p. 186 versoek hy die "waarde leser" om die pen uit sy hand te neem "om die blydskap van tant Annie in skrif ... neer te skrywe"; op p. 147 staan 'n prekie oor kinders in Griekwa-styl; op p. 270 vertel Ester en Rennie "hulle awonture en uitredding, wat ons as volg teruggee". Die verklaring van stormjaers, p. 26, wat hy oor en oor gee in byna al sy boeke, en die beskrywing van 'n kakebeenwa moet hy bewaar vir sy oudheidkundige handboek.

Boesman-Stories.

"The religion of the Bushmen is made as clear from their own recitals as such a subject can be, when it is remembered that the minds of the narrators were [Pg 78] like those of little children in all matters not connected with their immediate bodily wants. Their views concerning the sun, moon, and stars seem utterly absurd, but a European child five or six years of age, if not informed, would probably give no better explanation. Their faith too, that is, their unreasoning belief in many things that to an adult European seem ridiculous, is seen to be that of mere infants." So lui die verklaring van Dr. Theal in sy inleiding tot Bushman Folklore by Bleek and Lloyd (p. XXXVIII) en wie die eerste deel van Von Wielligh se Boesman-Stories (1919) gelees het, moet die juistheid daarvan erken. Die stories verplaas ons in 'n spook-wêreld, waar alles met toordery aanmekaar hang, waar die snaakste gedaanteverwisselinge plaasvind en die aller-gekste maneuwers uitgevoer word. In die wonderlike gedoentes is daar weinig logiese gang; daar is geen kliemaks wat steeds die belangstelling gespan hou, geen goeie motivering, geen artistieke, harmoniese eenheid nie. Meestal weet ons nie of ons met mense of diere te doen het nie, want ofskoon die diere gewoonlik enkele kenmerkende eienskappe hou, word die juiste maat in hul vermensliking selde getref, en verrig hul dade, wat al te spesifiek menslik is. So lees ons van 'n uil, wat sy mes laat val (I, p. 117), 'n aasvoël, wat 'n springbok skiet (II, p. 19), 'n leeuwyfie, wat met Boesmankinders saamwoon en hulle met knopkieries wapen (II, p. 109), 'n tier wat hom as 'n reisiger vermom (II p. 140). En van sulke voorbeelde krioel die stories. Dit word ten slotte 'n marteling om die grillige kronkelinge van die Boesman-fantasie te volg. Van skoonheid uit letterkundige oogpunt is daar heel weinig te bespeur in die kinderagtig inmekaargedraaide versinsels, waaraan mens geen osseriem kan vasknoop nie. Vir die etnoloog mag die gegewens, wat Von Wielligh met sulke prysenswaardige ywer byeenversamel het van groot waarde wees, maar vir die letterkunde is alleen enkele verhale uit die eerste twee dele van enige betekenis. Mooi is nommer 41 waar 'n leeu met 'n klein meidjie by die wagvuur speel. En so is daar ander toneeltjies uit die swerwende jaglewe van die Boesman, wat treffend is deur oer-naïewe eenvoud; ook raak [Pg 79] skildering van diere (b.v. in nommer 44), maar selde 'n skone geheel.

In die eerste deel word hoofsaaklik die mitologie behandel, deel twee bevat dierstories, terwyl die derde deel eintlik geen reg op die naam Boesman-Stories het nie, want dis 'n geskiedkundige verhandeling oor die "sedes, gewoontes en bekwaamhede" van die Boesman. Heelwat besonderhede, wat reeds in Jakob Platjie en die eerste twee dele voorkom, word hier herhaal, te same met persoonlike herinneringe en allerlei anekdotes, wat die skrywer van ander persone verneem het. In eenvoudige taal vertel Von Wielligh alles wat hy van die Boesmans weet. Gelukkig het hy sy meedelings nie "met 'n vergulde nerfie oor(ge)blaas"[123] nie, want soos uit 'n nader bespreking van sy styl sal blyk, is 't juis dìt, wat hinderlik is in sy romans. Hier loop hy eenvoudig padlangs en vir die ondersoeker van Boesman-gewoontes deel hy heelwat wetenswaardigs mee. In die voorwoord van die derde deel verklaar hy, dat dit "van 'n wetenskaplike aard" is. Populêr-wetenskaplik sou juister wees, want Von Wielligh is met als sy persoonlike ervaring 'n leek sonder etnologiese vorming, wat geen begrip het van die groot verband van sy onderwerp, en wat hom deur sy hartstog vir die Boesman tot allerlei gewaagde en moeilik bewysbare generalisasies laat verlei. So verklaar hy op p. 73, dat die Boesman 'n paar oë het, "om ver en raak te sien soos nog geen ander menseras hom op kan beroem nie", en op p. 68 verseker hy ons, dat daar "op die Europese toneel min ... dansers (is), wat 'n Boesman in 'n riel sal uitstof ..." Op p. 21 verklaar hy: "soiets as mis-skiet ken 'n Boesman glad nie", terwyl hy kort daarop moet erken: "In sterk wind is hy minder gelukkig". Die meedeling oor die slangsteen op p. 52 is seker ook nie van wetenskaplike aard nie, ewemin as die snaakse definiesie van "deursigkunde—dit wil sê, om voorwerpe op 'n tekening op verskillende afstande voor te stel" (p. 67). Vir die vakman sal die volgende bewering ook stellig nie van veel nut wees nie: "Sy voedsel (d.i. die Boesman s'n) bestaan byna [Pg 80] uit enige ding—al wat hy nie eet nie, is wat hy nie in hande kan kry nie." (p. 21).

Die vierde deel bevat "gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike aard", wat die skrywer gedeeltelik self opgeteken 't en gedeeltelik aan ander bronne ontleen 't. Daar is 'n paar goeie jagstories en verhale wat ons 'n kyk gee op die awontuurlike lewe van die boere teen die end van die negentiende eeu. Uit letterkundige oogpunt is dit die besgeslaagde bundel, ofskoon ook hier die psigologie soms nie dieper as die boonste nerfie gaan nie, soos blyk uit die volgende: "Dis wonderlik watter indruk so 'n verandering in die lewe van 'n Boesman maak. Hy kom uit die wildernis, alwaar beskawing nog op sy beurt wag. Hy kom in Kaapstad en sien treine, skepe, hoë huise, en hoe baie mense daar besig is. Die groot winkels met alle soorte goed wat hy nie ken nie, is vir hom 'n wonder bo wonder." (p. 132.) Met dit al het Von Wielligh met die versameling van die stories 'n verdienstelike kultuur-historiese bydrae gelewer. Wat hy met onvermoeide speursin uit verborge hoekies en gaatjies gehaal 't sal altyd van belang bly, maar waar dit ons hier te doen is om letterkundige skoonheid, moet gekonstateer word, dat die geaardheid van 'n groot gedeelte van die stof sodanig is, dat dit slegs vir wetenskaplike doeleindes geskik is.

Gewoonlik word die serie Boesman-Stories as boeke vir die jeug beskou. Blykens die voorberig van die vierde deel was dit allermins die bedoeling van die outeur en uit die karakterisering van die inhoud is dit duidelik, dat hy gelyk het. Daar is seker min Afrikaanse ouers, wat sou wens, dat hul kinders so 'n volledige kennis van al die Boesman-bygelofies bevoorbeeld moet hê, as wat Von Wielligh ons aanbied. Niettemin sou daar seker 'n klein bloemlesing uit die vier dele kan saamgestel word, wat sal voldoen aan die vereistes van 'n kinderboek. Maar Von Wielligh is veels te optimisties waar hy sê: "...daar sal gewis 'n tyd aanbreek dat nie alleen kinders nie, maar meer as kinders hulle ore sal hou teen die blaaie van Boesman-Stories om te luister na sprokies en vertellings asof die woorde direk en duidelik afkomstig is van die oorspronklike lippe wat hul vertel [Pg 81] het."[124] Dit is in flagrante teëspraak met die volgende: "Met die skrywe van hierdie Boesman-Stories het ons die gedagtes van die Boesmans in ons eie woorde vertolk ..."[125] en gee aanleiding tot 'n ander opmerking. Die eienaardige bekoring van die inboorlingestories sit ongetwyfeld grotendeels in die persoonlikheid van die oorspronklike verteller. Dit het Von Wielligh self gevoel, want in die voorberig van Diere-Stories verklaar hy: "Niemand kan 'n Diere-Storie so smaakvol as 'n Hotnot vertel nie. Dit smaak of hy alles daar voor hom sien en hoor, wat hy verhaal. Haarfyn kan hy die Diere naboots en namaak—so natuurlik, dat ons daarvan soms bang word." Nou is dit juis dié natuurlike element, wat ons in die Boesman-Stories mis, terwyl in Diere-Stories, soos deur Hotnots vertel die juiste toon baie beter getref word. Gelukkig het Von Wielligh besef dat 'n kinderboek nie "deurspek met lesse, met sedepreke" moet wees nie en met uitsondering van sekere minder artistieke stylwendings kan die Diere-Stories as aangename kinderlektuur beskou word, wat egter in hierdie verband nie nader kan bespreek word nie.

Al dadelik blyk egter weer uit die volgende aanhaling, dat Von Wielligh, as leek hoegenaamd geen insig het in die wordingsgeskiedenis van dierverhale nie. In die voorberig van Boesman-Stories I stryk hy met 'n klein vetkersie ewe parmantig in die volle lig van 'n stralende son:

"In Europa en Amerika word tot nog toe vrugtelose pogings aangewend om gewilde en ingrypende (?) "Diere-Stories" te skrywe; hier in Suid-Afrika het die Hotnots en Boesmans dié reeds vir ons eeue gelede uitgewerk. Al wat ons te doen het, is om die ryk oes in te samel." Hy weet dus nie, dat feitlik alle volke hul dieresprokies het nie, dat selfs vandag nog sulke vertellings van mond tot mond gaan oor die gehele aardbodem en dat baie van ons jakkalsstories groot ooreenstemming vertoon met die Europese verhale van die vos.[126] Wat die digter van Reinaerts Historie (II), reeds in die 14de eeu geseg [Pg 82] het bly nog altyd waar, ook in literêr-historiese sin: "Van Reinaerde es een groot saet Ghebleven dat nu seere up gaet."

Van Von Wielligh het ook nog verskyn 'n Afrikaanse bewerking van Robinson Crusoë (1920) en 'n Boesman-Robinsonade, Nimrod Seeling (1921). Nimrod is 'n seuntjie van vier jaar, wat in die hande van Hotnots en Boesmans val en by hulle bly tot sy veertiende jaar. Deur 'n aaneenskakeling van awontuurlike gebeurtenisse kry die skrywer nog eens 'n geleentheid om die gewoontes, sedes en bygelowe van verskillende inboorlingstamme te skets, terwyl ook die jag op groot wild beskryf word. Aangesien die verhaal vir die "jonger geslag" bedoel is, word 'n eenvoudige styl gebruik. Maar selfs die spannendste awonture word op dorre betoogtoon verhaal, sonder enige poging tot plastiese uitbeelding. "Die leeu is nou kort agter ons. Toe Saba in haar boom was, steek sy haar hand uit om my op te help. Maar helaas, my lang hare raak verward in 'n droge tak. Saba breek met wilde krag die stuk tak en pluk my op; net toe kom die leeu onder die boom en vang met sy voorpoot naar my voete. Hierop maak Saba haar man as of hy uit sy boom wou afklim. Die leeu sien dit, hol soheentoe en kry 'n skoot met 'n gifpyl, deur die ander Boesman afgeskiet. Hierop gee Saba haar man hom nog 'n skoot, en hy was nie meer nie." (p. 33-34.) Dit is maar een voorbeeld van die dooierige, kroniekagtige vertellings, waarin die verskillende insidente deur 'n uitgerekte string van hierop—daarop—waarop—daarna—verder—voorts en soortgelyke woorde aanmekaar geryg word.[127] Dat ook hier herkouing van ou motiewe aanwesig is, bewys o.a. die Griekwa-preek op p. 76.

Hy tok-tok, hy tok-tok,
Hy tok-tok, hy tok-tok, ens. ens.[128]

Dit is die enigste ritme, wat daar in Von Wielligh se [Pg 83] prosa is. Gevoel vir die klankwaarde van woorde, vir die fyner modulasies, vir die mooi melodie van glydende woordereekse besit hy nie. Ewe geduldig stryk hy sy ramkie en op die eentonige deun "kerf" hy riel na riel uit. Dit is die totaalindruk. In Jakob Platjie word ons af en toe deur 'n mooi klankeffek verras en ook in die Boesman- en Diere-Stories, maar in Huis en Veld dreun die dowwe preektoon dwarsdeur.

Herhaling van dieselfde woorde is 'n vaste kenmerk van sy styl. "As 'n man wild na huis bring, dan word die afgekoude bene 'n entjie van die deur van sy hut op 'n hopie gegooi. So het elke man in die kraaltjie sy eie beenhopie. Die afgeëte bene, so lank geëet word, word in die hol bak van die borsbeen van 'n volstruis geplaas. Is daardie beenskottel vol bene, dan word dit na die beenhopie gedra en daar neergegooi." (Boesman-Stories III p. 34-35.) En so gooi Von Wielligh nog 'n paar paragrawe aldeur bene op die beenhopie, totdat dit 'n berg word! In Huis en Veld (p. 145) kom behalwe ander herhalings voor: herstel—stel—stel, alles in een paragrafie.[129]

"Onder sy aanvoer kom hul altyd vierkant veilig anderkant uit" (t.a.p., p. 67). "Dit het Daan gesê, en hy gaan toe op 'n verraderlike blok sit, wat sy plesier daarin vind om óm te slaan en die een wat daarop wou sit, nog die moeite te gee om dit weer met sukkel in ewewig op die grond te plaas en dan daarop te sit, met meer aandag wat onder as wat voor die sitter plaasvind" (t.a.p., p. 24). Afgesien van die storende herhaling is dit seker besonder lompe styl. En sulke voorbeelde is daar soos bossies![130]

Met nog een tok-tok-deuntjie kan ons volstaan. "Daar was nie [Pg 84] lopende water in die kloof nie; alleen was daar 'n gat water onder 'n waterval. Daar was geen ander ingang tot die kloof as van onder af nie. Ons vind die dooie kalf bo in die kloof digteby die waterval en daar het ons die slagyster gestel soos dit behoort te wees, sonder die yster aan iets vas te maak—anders draai die tier sy poot daarin af. Lê die yster los, dan kan hy wel 'n entjie daarmee stap, dog van ontvlug is glad geen sprake nie, daar die yster te swaar aan sy seer poot hang." (N. Seeling p. 77-78.) "Ma, Pa vra of Ma nie Pa se osse na die wa sal laat ja nie?" is kindergestamel van dieselfde klankwaarde.

Vir kombinasies van verwante gedagtes is Von Wielligh baie lief en dikwels gee hy in aliis verbis idem. "Dit vul ons hart egter met blydskap om met vergenoegdheid 'n terugblik te mag werp ... (Eerste Skrywers p. 7); "Maar gelukkig het 'n verwydering van liefde en vrindskap die lede nie van mekaar kon skei nie. Vrinde as altoos!" (t.a.p., p. 49)—wat onsin is! "Hulle (verstaan: die Engelse) beskik oor wêreldberoemde skrywers en vertalings uit ander tale" (t.a.p., p. 91); "Hy het die Britse gesag verlaat en vaarwel gesê, en met sy Groot Trek het hy in 1836 die Kolonie verlaat ..." (t.a.p., p. 103); "'n lappies dorp van tente of 'n blikkies dorp van sinkhuise" (H. en V., p. 111); "Rusteloosheid egter gun hom geen rus nie"[131] (t.a.p., p. 6); "die renbaan het Freddie se beurs omgedop, sodat die binnekant nou buite sit" (t.a.p., p. 128); "alles natuurlik onder vier oë en in diepe vertroue" (J. P. p. 94); "Die trekboere het in tente, maar liefs by voorkeur in matjieshuise gewoon" (t.a.p., p. 92); "die man se lyf was amper kaal en met min klere bedek" (Boesman-Stories I, p. 148). Dieselfde neiging om tog maar veral niks aan die fantasie van die leser oor te laat nie blyk ook uit tal van nuttelose opmerkings by die Boesman-Stories. Die tietel van No. 58 in deel III lui: "Nog meer oor Bygeloof" terwyl die Opmerking(s) ons nog ewe deftig verseker: "In hierdie Verhaal sal ons nog meer vertel oor die bygelofies van Boesmans"! By No. 53 en elders gaan dit net so![Pg 85]

Ick sie: geen dingh en is soo kleyn,
Of 't gaet u tot het innigh breyn:
Geen dit of dat, geen boere-schuyt,
Of gy en treckt er voordeel uyt.[132]

As Von Wielligh in die sewentiende eeu geleef 't sou hy seker 'n tiental emblematabundels geskryf 't. Wat van Vader Cats geseg is, geld ook van hom: "Niets is hem te gering; geen afstand is hem te groot, geen combinatie te zonderling; zijn blik volgt de vloo, dwaalt van de oester tot het haantje van den toren."[133] "De voorstellingen (in Sinne- en Minnebeelden) zijn meerendeels ontleend aan het dagelijksch leven; een doorgehakte paling welks twee deelen zich zoeken te vereenigen, een brandend hout en een mooi meisje, eene papegaai in een kooi, een spinneweb, een windhaan, een rattenval, een bordurende juffer ... verwelkte rozen, een vlinder, eene fuik, enz."[134]

"Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed." (H. en V., p. 14.) Met 'n mooi plaatjie daarby sou dit 'n goeie sinnebeeld wees. Cats redivivus, maar dan tog in onderbaadjiesak-formaat, want van sy fyn vertellerstalent is daar by Von Wielligh weinig te bespeur. Dit is bekend, dat Cats twistery tussen man en vrou verdedig deur daarop te wys, dat 'n braakmiddel af en toe goed is vir die maag. Dit is wel iets na Von Wielligh se smaak: "Om iemand kwaai woorde toe te voeg, of om hom vomitief in te gee, kan jy iets onaangenamer terug verwag" (H. en V., p. 88). Dieselfde skerp "tegenstelling van verheven en plat" wat by Cats so 'n komiese indruk maak, tref ons ook by Von Wielligh aan. As Cats bevoorbeeld wil duidelik maak, dat die gedrag van iedere vryer noukeurig ondersoek word, dan sê hy:

Een vryer moet het lyf als op de rooster leggen,
Om daer, gelyck een worst, te worden omgewent,
Totdat men aen den reuck syn roet (vet) en reuzel kent.[135]

[Pg 86] Von Wielligh verklaar met groot erns: "... so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees." (H. en V., p. 121).

"Zeker, Potgieter had gelijk toen hij, met het oog op Huygens, zeide dat voor den waren dichter niets te laag is om het tot zich op te beuren. Indien de dichter het lage dan ook maar opbeurt. Dat doet Cats zelden. Gewoonlijk bukt hij zich of hurkt er bij neer ... Liefst houdt hij zich bij het dagelijksch leven; maar het dagelijksche wordt licht alledaagsch, het alledaagsche staat niet ver van het platte, het platte daalt gaarne af tot het ruwe."[136] So gaan dit ook met Von Wielligh. Dat hy sy boere ens. van die ou dae, beelde ontleen aan hul daelikse bedryf laat gebruik, is goed gesien. As Frans die slagter b.v. in Huis en Veld na aanleiding van 'n opmerking dat gebrekkige en sieklike mense nie behoort te trou nie sê: "Dus hulle is van egtelike Liefde uitgesluit. Hul moet hulle geluk in Vrindskap gaan soek—en is stompoor gesny en op die stoppelland geja." (p. 16), dan tiepeer dit meteens die man se hele persoonlikheid. Willie se grappie: "Ons het die ou jaar net vandag nog aan die puntjie van sy stert, vannag glip hy hand uit en slaan bolmakiesie oor die afgrond van die verlede" (p. 47) pas mooi in die koffiedrink-atmosfeer. Maar wanneer Dolf se vrou in volle geselskap sê: "dan maak Ma eers goed vuur op hulle asplekke" (p. 74), stap sy oor die grense van alle welvoeglikheid. Von Wielligh moet bedenk, dat wat uitstekend pas in Jakob Platjie nie orals kan gebruik word nie. Koos Fonk se mikstuur "maak vrolik en olik en dan moet daar weer van die hond se hare gehaal worde om op die hond se bytplek te sit" (p. 81). Sina is "vir die tronk so bang ... as 'n bobbejaan vir die hits van 'n gloeiende yster" (p. 5)—dit is raak opmerkings, wat ons dadelik as psigologies juis voel. Maar ongelukkig het die Hotnot-Griekwa-Boesman-suurdesem deur al Von Wielligh se werk getrek. Dolf se "beskouing omtrent sake het nie dieper ingedring as 'n speld in 'n aap se [Pg 87] duim nie" (H. en V., p. 13); sy gestalte "laat iemand aan 'n bobbejaanpaal dink ... terwyl Frans iemand aan 'n ronde-rib skapie herinner" (p. 13)[137]; Hessie "kielie 'n kort stukkie op die klavier" af (p. 36); Dolf lyk "net verspot ... asof hy te veel galsterige varkspek geëet het" (p. 97) en in Staan jou Man sit "algar ... by hierdie tyd soos paddas danig erg van die gemmerbier opgeblaas" (p. 61); "Die son steek asof hy Fant in 'n groot stuk kaiings wou opsmelt" (p. 18); Soekie Grasman is "so grappig dat hy 'n hele vrag ape van lag sal laat uitskater" (p. 104) en druk Sytjie "om haar beenderige ribbe" (p. 131); "M.A. en B.A.-tietels was vir hulle net soveel wêrd as 'n broeksak vir 'n hond" (p. 149); "ons almal weet dat die troos wat hieraan ontleen is, maar altyd 'n handvol vlieë bly" (p. 244). Met sulke beelde sal Von Wielligh seker die outas en aias in die kombuis laat lag.[138]

Met eienaardige logika probeer hy om die plat taal van die Patriotters goed te praat: "'n Fout werd gevinde met die Eerste Skrywers, dat hul ongekuiste taal gebruik het. Maar dit vind 'n mens by die eerste skrywers van alle volke en die rede is hierin te soek: dat as iemand van 'n vlooi praat, dan is dit onbeskaaf, maar hy mag wel van 'n vlieg praat. Dis niks om van 'n koei te praat nie; maar pas op om van 'n bul te praat. Iemand kan sê: "dis leuenagtig"; maar "dis waaragtig" dan is dit vloek. In die opvoeding word hom geleer wat te sê en nie te sê nie. Dus hy word geleer hoe om in die sitkamer te praat. Alle dinge is geoorloof; maar alle dinge is nie oorbaar nie". (Eerste Skr., p. 38.) Met iemand wat hom van sulke argumente bedien, val daar nie te redeneer nie.[139] Dat "die eerste skrywers van alle volke" hul van ongekuiste taal bedien het, is 'n bewering wat stellig onwaar is in sy algemeenheid; [Pg 88] bowendien kan die gebruik daarvan in die negentiende eeu beswaarlik geregverdig word deur 'n vergelyking met toestande van vyf of ses eeue terug.

In sy studie Ons Geselstaal verklaar Von Wielligh: "Dog iemand wat regtig meen om suiwer Afrikaans te bestudeer, moet peil tot die bodem om die Afrikaanse gedagtegang baas te raak. Hiervoor lewer Plat Taal ons 'n uitstekende geleentheid om te leer hoe woorde van suiwer gehalte te vorm. Dit wil sê, as ons meester van die Afrikaanse Plat Taal is, dan besit ons die sleutel om woorde van 'n hoë gehalte te smee; besit ons dan sulke doeltreffende woorde, dan word praalskrif op suiwer grondslae vir ons so duidelik as die son aan die hemel—altyd opklim, opklim tot die hoogste sport."[140] Von Wielligh is hier ongetwyfeld op die regte spoor, al raak hy ook verward in sy beeldspraak. Met plat taal bedoel hy blykbaar die geselstaal van die onderste lae van die samelewing, wat volstrek nie noodwendig plat is nie, terwyl onder praalskrif, taal van letterkundige gehalte moet verstaan word. As Von Wielligh dus bedoel dat die kunstenaars die volkstaal moet beluister, dan gee hy 'n raad wat baie groot skrywers van alle volke gevolg het. Dit is bekend hoe Vondel, Hooft, Brederoo en ander sewentiende-eeuers gedurende die wordingsproses van die Neerlandse taal geput 't uit die sappige volkstaal. Hooft sê in 'n brief van 1630: "Verworpelingen van woorden van straet op te raepen ende doen dienen daar ze deugen, al was 't onder de edelen, daer kan men eer af hebben". Van Vondel vertel G. Brandt: "Om op elke stof en zaak de rechte spreekwysen te vinden, onderzocht hy, by allerley slagh van menschen, wat Duitsche woorden elk ontrent zyn werk, handteering en kunst gebruikte. De landtluiden vraagde hy, hoe sy spraaken ontrent den landtbou, en hoe ze 't geen daar toebehoorde noemden, en uitdrukten. Ontrent den huisbou vraagde hy op gelyke wyse de timmerluiden en metzelaars: ontrent de zeevaart en 't scheepstuig [Pg 89] de zeeluiden; ontrent de schilderkunst, en wat daartoe hoorde, de schilders: en zoo voort ontrent alle ander bedryf, wetenschappen en kunsten. Dit strekte tot opbou der taale en om van al wat hem voorquam met woorden die de zaake eigen waaren te spreken."[141] Dit is presies wat Von Wielligh met groot ywer en toewyding gedoen het en die uitkomste van sy jarelange ondersoek is dikwels verrassend. Maar dit is van meer belang vir die taalwetenskap as vir die letterkunde, omdat Von Wielligh geen kunstenaar is nie, wat uit sy versamelde gegewens 'n werk van skoonheid kan skep. Hy is eenvoudig 'n belangstellende leek, wat hom verlustig in die "raak kolskote"[142] van die "spraakmakende gemeente", wat "sy lag nie kan bedwing vir die raaksê-uitdrukkings"[143] van die volksvernuf nie. As hy binne "die grense van sy eie ploegland"[144] bly, en die gesprekke van eenvoudige volkstiepes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi effek, maar sodra hy hom "werp op die vleuels van praalskrif" dan gee dit 'n lelike misoes af. Van sy fyn opmerkingsgawe waar dit dinge uit die alledaagse lewe geld, uit die boerebedryf en jagveld getuig byna iedere pagina van sy werk. Ook die gewoontes van die diere het hy ywerig bespied. Hy het honderdmaal geluister na geselsery oor "pynplekkies en weersgesteldheid"[145], hom "knippeldik" versadig aan die kwinkslae en "pittige" gesegdes van eenvoudige siele, wat jarelank in die veld- en woestyneensaamhede rondgeswerf het. Daarom is daar in sy beeldspraak so dikwels 'n plat-by-die-grondse geestigheid, 'n kombuisagtige bysmakie, daarom verlustig hy hom in bywonergrappies.

Wanneer hy binne "die grense van sy eie ploegland" bly, dan is sy beeldspraak ook baie beter as die van sy "praalskrif". Ter tiepering 'n paar voorbeelde: "Mog daar 'n verskilletjie ontstaan, word dit so gou doodgedruk as die vonkie wat val op 'n pyproker se broek (H. en V., p. 15); [Pg 90] "Niemand kry die eer om hom te fop nie; hy lê altyd vir hulle klaar, nes 'n haas wat met sy oop oë slaap, of nes 'n ystervark met sy skerp penne, na die bedrieër toe." (S. j. M., p. 68.) "Vat hom aan sy hakskeen, en jy kry 'n terugskop met die polvy van 'n velskoen, waarin 'n nommer-12-voet sit, om jou maagpyn en winduit op jou hurke te bring; dan pak hy die parmant aan die arms, ... stamp hom nes 'n karringstaf op en af, tot hy hik." (id., p. 12); "Daarom het al die mans in daardie dae nes spinnekoppe gelyk wat tot agter hulle nekke oopgeboener was." (id., p. 6); "Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap tot sy gaan sit, toe korrel hy" (id. p. 229); "Wie sy ou steeks perd, wat gewoonlik agteruitbeur as daar seekoegate agter is, verruil vir 'n ander wat gewoonlik die vaart neem as daar miershope en slote voor is, weet bepaald dat hy deurgaans in die midde van onsekerheid verkeer." (id., p. 239). Rosa "sal haar laaste seep uitleen en dan haarself met 'n baksteen skrop" (Jakob Platjie, p. 166). Abdol maak geld "soos gemaalde koffie uit 'n meul." (id., p. 71.) "Oom, my bokke is regtig mooi—hulle kloue kraak nes blinkleer stewels as hul so rondstap." (id., p. 57.)

Wanneer Von Wielligh nou sulke uitdrukkings gebruik, dan bly hy binne sy eie ervaringssfeer en ofskoon daar geen sprake is van digterlike siening nie, voel ons direk dat alles eg en deurleefd is. Maar te dikwels vergeet hy dat die lekker-gesels-praatjies om die wagvuurtjie in die oop veld sleg pas in die sitkamer en dan verspreek hy hom lelik. So lank as hy nog by die wagvuurtjie bly, kan ons soms met genoege luister na sy jaganekdotes en vertellings van die ou dae, dan hinder sy gekruide styl ons nie, omdat dit so innerlik-eg is, so getuig van intieme omgang met die natuur in sy oer-staat. Maar sodra hy die sitkamer binnestap, begint hy op onnatuurlike toon te preek,—dan rek hy "'n taai-tammeletjie so lank uit as (hy) kan"[146] en jaag die geselskap uitmekaar deur sy "pittige plat taal". Die gedurige botsing tussen sy natuurlike geselsstyl en sy onegte "praalskrif", wat hom [Pg 91] verlei tot 'n ridikule vermenging van hoog en laag is juis wat ons kriewelrig maak.

By die bespreking van Huis en Veld is aangetoon, dat hy Kleopas Kipie maklik uitstof, wanneer hy sy sondagse manel aantrek. Dan word hy gewoonlik onverstaanbaar in sy geaffekteerde hoogdrawendheid. "Met hulle (die Trekkers) aangesigte na die noorde gekeerd, dwaal hulle dáár ver in die suide op die agtergrond en sit op die verlede te broei. Die verlede is vir vleis en bloed onnaakbaar; dog ons herinneringe, nes 'n vliegtuig, is in staat om ons uit die deinsige hoogte op ons ou dwaalplekke te laat neerkyk. Hulle sien uit hulle voëlvlug die ouderlike woning, waarin hul die besitters van lewe met sy worstelinge geword het; hulle sien die speelplekke met die waentjies en poppe wat hul verbeeldingskrag gevoed en uitgeswel het, om deur bespieëling die weg van toepassing te volg; ... Daarop keer die herinnering langsaam terug ... tot waar hul daardie aand gesit het. Dan lei Herinnering hul tot onder die uitgebreide vleuels van Hoop, wat hul aan die hand vat ..." (S. j. M., p. 282-283). Dit is seker nie moontlik om meer "vishoekvas in die spinnerakke"[147] van jou verbeelding te raak nie, om nou 'n tiepiese Von Wiellighaanse uitdrukking te gebruik. Eers dwaal die Trekkers, dan sit hul "op die verlede te broei". Hul herinnering word met 'n vliegtuig vergelyk; die vliegtuig kry 'n hand wat deur die gevleuelde Hoop gevat word! Hiermee kan vergelyk word Eerste Skrywers, p. 106: "Die heldemoed van die Afrikaner daar aan die dag gelê, het die sluise van nasionale ontwaking oopgetrek; want die volk werd daarvoor intyds ryp gemaak, sodat die verrassing nie as 'n onweerslag op hulle gekom het nie."

In die voorwoord van Huis en Veld kom nog 'n voorbeeld van verwarde beeldspraak voor: "Hierdie swakke poging, deur ons aan die hand gegryp om 'n druppeltjie in die emmer te laat val—is dit mis, dan is dit mis,—is die uitvloeisel van 'n dryfveer, wat ons aanspoor, nie alleen die skouer teen die wiel te sit nie, maar om [Pg 92] ook volhardend ons hele gewig daarop te werp. Ons mog in die voorreg deel om vanaf 1875 as handlanger en baksteen-aangeër met die opbou van ons Afrikaanse taalgebou mee te help ..." Sulke voorbeelde is daar baie in Von Wielligh se werk.

As voorbeeld van die komiese effek veroorsaak deur die teenstelling van sy gewone en kamma-verhewe styl kan die volgende uit die twede paragraaf van Eerste Skrywers (p. 1) dien: "Graag het ons gesien dat 'n bevoegder lid ... sy kop oor die onderdeur van ons hartbeeshuis gesteek het om te antwoord op die herhaalde aanklop." Maar dan word hy meteens deftig: "Broeders en Susters! Blyhartig werp ons vir ons op die vleuels van die gedagte om terug gedra te worde tot daardie dae, toe die sonskyf van ons goeie nasionale taalsaak sy vergulde rand nog net so effentjies bokant die donkere berge van onbewustheid en sluimer uitgesteek het." Dan hoor ons van "'n koue harnas van geheimhouding oor ... brandende gevoele", van "'n Afrikaanse boom, wat daar sy takke vry in ons heldere lug uitbrei ..." en verneem dat in die dae "besigheid so slap soos pannekoekdeeg en handel so plat soos die pannekoek self was"!

Tot welke onsinnigheid Von Wielligh hom deur sy opgeskroefdheid laat verlei, blyk uit die volgende voorbeelde: "Hierdie pragtige stukkie landskap is met die penseel van die verwoestende mensehand op die seildoek van die skone panorama doodgeskilder, sodat dit daar nooit weer sal verskyn nie." (H. en V., p. 71.) Die herhaling op die end is tiepies. "Watter angs dit op die kindersiel afgespieël het val beter vir die gedagte om dit te ontplooi as vir die pen om dit neer te grif" (S. j. M., p. 272); "Hulle monde was meer vloeibaar as die vloeistof wat uit die man se klere tap." (id., p. 243); "Toe eers ontprop hy sy opgebottelde gedagtes en gee hul onsigbare vleuels om oor die gebeurtenisse van die dag, oor die twee jongmeisies en oor homself te laat vlie." (id, p. 84) "Selfs die kristallug, waar die sterretjies uit die onmeetlike verte neerkyk, is tans met 'n swart plafon toegespyker." (id., p. 167.) 'n Voorbeeld van Laag-by-die-grondse humor staan op p. 95 van Staan jou [Pg 93] Man. Daar ontmoet ons ook nog juffroue, wat bordjies dra met die opskrif: "alle toegang ten strengste verbode" en wat hul voorstel hoe hul "'n weg sal baan deur 'n Eden van aardse saligheid"!!

Dikwels gee Von Wielligh se neiging om abstrakte begrippe te verpersoonlik, of met iets anders te identifiseer aanleiding tot die allersnaakste kombinasies. "Die wapenhuis van Rennie en Ester was taamlik gevuld met 'n rommel van deug en ondeug; die taak om die gebruik daarvan onder 'n ystervoet vas te trap was aan streng moeders en minder geduldige vaders oorgelaat." (id., p. 148); "Die woorde was maar die vingers wat die harpsnare van aldaagse gebeurtenisse bespeel" (id., p. 158); "Het die uitlegginge ... altyd die blou strikkies van waarheid om hulle nekke gedra?" (id., p. 147); "Hoe verkwikkend dit ook al vir moeder en dogter was om in die arms van liefde te val ... tyd, egter, het die skerp snede van die swaard van skei stomp gevyl en dit minder gevoelig gemaak." (id., p. 144); "Hulle prikkelende nuuskierigheid om die groot dorpe en see te sien, was die goue eiers van hulle verwagting waarin die kuikentjies van verrassing reeds piep." (id., p. 218). Op die jagveld is die Boesman "vis in die water en stuurman aan die roer van sy verstand". (B.-St. III, p. 47). "Waarom moet ons ons woordeskat gaan verryk met woorde wat yskoud is en wat met ons geen meegevoel koester nie?" (Eerste Skr., p. 80).

In Eerste Skrywers (p. 125) haal Von Wielligh met instemming 'n veroordeling van retoriese uitdrukkings aan, maar juis die twee gewraakte beelde is hy besonder lief voor. In die voorwoord al vertrou hy dat hy "in die arms van 'n genadige beoordeling sal val" en so is daar nog baie ander soorte arms in sy werk te vind,[148] terwyl "Dingaan die teuels van tirannie en dood gevoer het net waarheen hy wou" (S. j. M., p. 11). Von Wielligh is trouens die laaste man, wat oor retoriese styl moet klaag, want dit sou geen sware taak wees om 'n paar paginas afgeslyte frases uit sy werk neer te skryf nie. [Pg 94] In Huis en Veld vind ons: "steunpilare van die samelewing" (p. 128), "stortvloed van trane" (p. 130); "op die louere gaan rus" (p. 177 en 14); "om 'n luisterend oor te neig aan die sang ... van voëls, wat ... hulle lieflike akkoorde laat weergalm" (p. 43). In Eerste Skrywers: "Toe het die son van ons nasionale ontwaking ... sy ligdolke in die duisternis van ons slapende harte ingepriem ..." (p. 103). In Staan jou Man: "Dit het 'n vaste fondament van seltstandigheid onder hulle voete geskuiwe en die vryheidsvlam in hul harte aangeblaas" (p. 149); "Die nag het met sy sneeuwit kleed gekom ...; verkwikkende slaap ... het sy sagte ferwele hand oor die vermoeide ooglede gestryk; die ongestadige weer het sy septer van gesag aan 'n kalm dag oorhandig" (p. 277). So word soms lang stukke aanmekaar gelas deur die banaalste beelde,[149] waarvan sluier,[150] floers, tyd,[151] weegskaal en spinnerak die vernaamste is.[152] Wat 'n floers is weet Von Wielligh blykbaar nie, want hy skryf: "Om die floers van treurigheid te onderdruk staan die haan ... vlerk klap en kraai ..." (S. j. M., p. 240).[153] En hoe mens se oogmaat jou 'n sluier voor die oë kan hang is ook nie duidelik nie, (id., p. 5).

'n Totale gemis aan digterlike siening openbaar Von Wielligh in sy natuurbeskrywing. Hy het ongetwyfeld veel opgemerk en kan ons vertel van watter bossies skape en bokke die meeste hou. Iemand wat van plan is om in die Karo te gaan boer, sal heelwat praktiese informasie in Huis en Veld vind. Maar 'n kunstenaarsblik op die natuur soos die van Malherbe het Von Wielligh nie. "Bome is hier in oorvloed, ons sien hier die soet doring, kaffer [Pg 95] wag-'n-bietjie, kiepersol, naboom, sekelbos, wilde vy, waterbessie, wilde sering, vaarlandswilg en nog honderde ander tesame met soveel soorte bosse." (H. en V., p. 155.) So kry ons telkens 'n dorre opsomming, presies asof dit die jaarverslag van 'n botaniese vereniging is. Op p. 44 gee hy 'n katalogus van die soorte voëls, op p. 45 en 104 van die veldblomme, op p. 106 van die Karo-plante—"sommige egter word nie deur vee gevreet nie"![154] 'n Enkele maal tref ons 'n opmerking, wat van eie siening getuig: "die stoere akkerbome (brei) hulle arms in alle rigtings (uit) om die kleinere gewasse 'n seën toe te wens. Aan die stroom swaai die wilg lustig sy groen snoere en speel met sy swepies in die wind." (H. en V., p. 40.) Maar meestal vergenoeg Von Wielligh hom met 'n verwerking van sy boerekennis, waarin hy af en toe 'n skoolmeesteragtige opmerking vleg om te wys dat hy ook 'n bietjie in botanie gepeuter 't. "Ja, so noem ons mense dit, maar die plantkundiges het dit 'n lang, ja 'n beesagtige lang naam gegee van Mesembrianthemum, wat middagblom beteken." (H. en V., p. 104).[155]

Soos iedere boer stel Von Wielligh ook groot belang in die weer. "Kalm en rustig werp die goue dageraad sy sombere lig oor die vlaktes van Gwaggas. [Contradictio in terminis. P.C.S.]. Weldra verrys die son; maar is van sy oogverblindende ligglorie ontroof—die dig gepakte dampkring het al die sterk uitskietende strale opgesuig. [In Gwaggas was ek nog nie, maar ek twyfel sterk of die lig van die opgaande son daar direk "oogverblindend" word. P.C.S.]. Die son lyk nou so groot as 'n wa se voorwiel (in alledaagse taal). [?? P.C.S.]. Vroeg laat die sonbesies hulle hoor; die mense voorspel 'n warme dag en spoedig verandering in die weer." (Jakob Platjie, p. 115.) Natuurlik kom daar allerlei soorte sluiers te pas by sulke beskrywings. "Kyk, hoe pragtig staan elke bossie onder 'n sluier van allerhande kleure van blomme" (H. en V., p. 103); "die appelkoos is [Pg 96] oortrek met 'n rooskleurige sluier" (id., p. 40), terwyl "die ruisende melkstroom nog sleg(s) deur die mistige sluier van die aand sigbaar is." (id., p. 101.)

"Seurtjie, kyk daar steek die dagbreek reeds sy rooi neus agter die bergkam uit ..." (H. en V., p. 38) sê Kammies, en Von Wielligh vind die beeldspraak so treffend, dat hy dit self gebruik: "Die grou dag steek spoedig sy droewige wenkbroue agter die bergrand uit...." (id., p. 3). Hoe banaal en konwensioneel is ook die volgende: "Dit was amper, sononder, net toe die son die weste ligpoorte wou gaan sluit. Alvorens die gulde deure te grendel, werp die son eers 'n blik terug om te sien of die Nagwagter met sy vet gesig nog nie deur die oostelike vensters loer nie. Toe die laaste sonstrale wegsterf en hulle betower en die liggloed van die omliggende bergtoppe onttrek...." (id., p. 156); "Voor die vuurstokers van die son nie ekstra brandstof op die sonnehaard plaas nie om die slapers onder hulle komberse uit te brand...." (id., p. 52.)[156] Dit skyn wel die vernaamste besigheid van die son, want ons verneem dat "die oprysende son 'n ligstraal deur die skeur van (Soekie) se venstergordyne (prop) om hom in die gesig wakker te kielie" (S. j. M., p. 119), en Victor "skrik in 'n vaart wakker, een oggend toe die grou oggendlig die gordyne van sy slaapkamer aantas(!)" (id., p. 109). Ou Kammies sal onder sy kornuite ook seker eer inlê met die volgende: "Die daeraad steek sy grou sakdoek hoog uit aan die oostekant, asof hy daarmee in die lug waai...." (id., p. 43).

Nog 'n banale beeld is dat 'n maand of dag sterf en begrawe word (S. j. M., p. 99, 277); die jaargetydes of dae is die jasse van die veld[157] (id., p. 191), terwyl die berge wit pruike dra (id., p. 100 en H. en V. p. 101).

"Rapen as kinderhoofies" het Potgieter in sy novelle Blaauw Bes, Blaauw Bes! "'n ongelukkige vergelyking" genoem, wat mens "van het kannibalen-maal gruwen doet!" By Von Wielligh gaan "pluimvee, speenvarkies en lammers", wat so skoon gemaak is as "poedelnakende [Pg 97] babetjies" in "die hongerige poorte des doods, of liewers gesê, die snakkende monde"! (Jakob Platjie, p. 130-1).

As staaltjies van die onbeholpe uitdrukkingswyse, wat mens so dikwels in Von Wielligh se werk aantref, kan die volgende dien:

In Jakob Platjie: "Dan kom hul luidrugtig in geselsery ... huistoe". (p. 3); "By wyle het my vader in sy stadjie by sy famielie deurgebring" (p. 59); "Hul had dun arms en bene met volwasse buikies, wat nie op gereëlde voeding kan beslag lê nie ..." (p. 108); "Hul is by uitnemendheid byejagters, om byneste op te spoor" (p. 112); "Dit was genoeglike dae van wetenskaplike voedsel vir altwee partye" (p. 211).

In Huis en Veld: "Edelmoedig het hulle (die Uitgewers) op die voorgrond getree om hulle medewerking tot die bloei van 'n eie Afrikaanse letterkunde geldelik te ondersteun"[158] ('n Woord vooraf); "Die lug is ... elektries swanger" (p. 154).

In Eerste Skrywers: "Dit was die skone ideale en toewyding" (p. 1). "En dan draai ons 'n sterker soeklig op al hierdie gesigspunte in ons gesigsveld om te getuig, nie wat ons uit ander bronne ontleen het nie, maar waar ons oog- en oorgetuige van was." (p. 3); "Hulle moes onder die wapenrusting van geheimhouding van hulle persoon hulle skuilhou." (p. 6.) "Hiermee word dus 'n maatstaf in die hande van die beoordelaars geplaas, wat wel in toepassing mag geneem worde ..." (p. 7); "Die skrywer het ... al die westelike distrikte van die Kaap weer besoek met opmetings van plase" (p. 28); "dan ontruk ons nie uit[159] nie; maar werp juis gemaakte geskiedenis in[159] die gapende kake van die vergetelheid" (p. 47). "Nog minder het iemand getrag om die skone wêreld, wat medegevoel afdwing met te veel geleerdheid te bederwe" (p. 53); "As 'n skrywer baie met geoefendes (in plat taal) omgegaan het, en hy self daar [Pg 98] nie mis in bedeeld is nie ..." (p. 101); "Hierdie bewering klop ons op die skouer, eis verdediging om nie abuislike foute te maak nie" (p. 129).

In Staan jou Man: "'n Lusoord van aardse skepping" (p. 3); "aangematigde skrik" (p. 15); "die liewe brawe koffie" (p. 37); "Sytjie (was) reeds daar, want sy het die aankoms van haar pleegouers eerder ontvang as die huismense gedink het" (p. 102)[160]; "Toe word 'n Hof van Heilige Geloofsgerig aangestel" (p. 150). Wat dit nou eintlik is, sal Von Wielligh wel alleen weet! "Sy voel gelukkig om spoedig van aardse smart verlos te wees en te herenig met haar eggenoot ..." (p. 164).

In Nimrod Seeling: "twee wakker blou oge wat 'n lig van bewussyn laat uitstraal het ..." (p. 59); "Hulle toon toe aan dat dié soort lewe, wat ek verkies, 'n afbrekende eeu is ..." (p. 116).

In Boesman-Stories: "Want 'n weerklank klink altyd mooier as die stem wat dit weerkaats" (I, p. 34); "sy pylkoker val aan stukkies en die pyle daarin verdor sy in kaf" (I, p. 141); "So gevoel die kinders hul veilig onder die beskerming van hulle ouers—al groei hulle op omsingel deur en onder verskeurende ongediertes. Een dag leef hul in oordaad, dae daarna vergaan hul onder die gevreet van ondraaglike honger en dors. Hulle ken net 'n dag van vandag en bekommer hul glad nie oor die dag van môre deur voedsel en deksel daarvoor opsy te sit nie." (III, p. 31); "om dit mooi te bewerk en glad te slyp, het hy die kuns nog nie verstaan nie" (III, p. 5); "Watter ander gevolg moet ons hieroor vel ..." (III, p. 105).

In Diere-Stories: Outa is "uitgedos in vriendelikheid self ..." (I, p. 9); Die dierestories "verskaf ... sielslewe in die hart van die ou bokwagter" (I, p. 12); "Toe lag die Voëls nie meer nie; maar sit mekaar knersend van verontwaardigheid kwaai aan te kyk ..." (I, p. 24).

Oor die algemeen is Von Wielligh se taal suiwer, maar spore van Engelse invloed kom tog voor.

"Wydbegrippig" (broad-minded) (Eerste Skr., p. 59); "Koos vra hul om saam brekfis te neem" (J. P., p. 70); [Pg 99] "'n Korte wandeling gaan neem" (H. en V., p. 34); "Toe die klok twaalfuur slaan, rys die vrinde ..." (id., p. 52); "nukomelinge" (id., p. 174); "Moet tog nie moeilikhede halfpad gaan ontmoet nie" (S. j. M., p. 17); "alles het sy natuurlike self gebly" (id., p. 39); "'n dood geheim" (id., p. 136); "die naarste van drome" (id., p. 263); "toe hy so 'n skewe kyk na Kraai gooi" (B.-S. II, p. 4 en 155);[161] "ondergroei" (id., p. 107); "Die Boesman kan baie wreed wees en 'n plesier daarin neem ..." (IV, 121); "Julle neem dit lekker" (D. S. I, p. 43); "Jakhals het uit sy eieself geweet ..." (id., p. 48); Jakhals vra aan Wolf "hoe 'n tyd hy daarvan gehad het" (id., p. 61); Wolf vra "in 'n fluister" (id., p. 66); "En jy meen te vertel die kinders het dit alles opgevreet?" (II., p. 11); Die kat "pir" (id., p. 19). Ook in Robinson Crusoë is daar voorbeelde van letterlike vertaling.

Met die voorsetsels raak Von Wielligh soms verward: "met bliksem ... vergeseld; in vatbare (?) wyse opgestel" (E. Skr., p. 32, 120); Die Boesmans "bedien hul met ribbebene wat hol geslyp is" (B.-S. III, p. 20). "Kamma-geleerdes" (E. Skr., p. 108) is 'n gelukkige neologisme, "pou-trots" (S. j. M., p. 6) egter nie, en nog minder "posing" (id., p. 27). Von Wielligh gebruik ook graag vorme soos: "as komme kan", "ontvalle", "soude", (E. Skr., p. 6, 8, 53). 'n Paar voorbeelde van verkeerde woordskikking kom voor, o.a.: "Oom Willem word tot kommandant gekies, omdat hy dapper is en kan in die grootste gevaar sy hoof koel hou." (J. P. p. 151.)

VOETNOTAS:

[102] Die Brandwag, Des. 1918, waaraan hierdie lewensskets ontleen is; 1850 is egter verkeerd, vgl. Eerste Skrywers, p. 151. In Die Huisgenoot, Nov. 1919 staan 'n uitvoeriger biografie.

[103] Vgl. Eerste Skrywers, p. 57.

[104] Eerste Skrywers p. 35.

[105] t.a.p., p. 85.

[106] t.a.p., p. 159.

[107] t.a.p, p. 124.

[108] Vgl. my artiekel oor Letterkundige Kritiek in Die Huisgenoot van Des. 1920.

[109] Private meedeling van die skrywer.

[110] Eerste Skrywers, p. 113. Kursivering van my.

[111] t.a.p., p. 54. Kursivering van my.

[112] Vgl. Dr. L. v. Niekerk: De Eerste Afrikaanse Taalbeweging1, p. 189.

[113] Vgl. oor "Patterjots" Dr. L. v. Niekerk t.a.p.

[114] Eerste Skrywers, p. 101.

[115] Vir hinderlike tussenkoms van die outeur kan ook nog vergelyk word p. 12, 21.

[116] Vgl. ook nog p. 217 et passim.

[117] Vgl. Staan jou Man, p. 88, 143.

[118] Staan jou Man, p. 55.

[119] Vgl. ook Staan jou Man p. 47.

[120] Waarom Daan Wiks so lank wag met sy gewigtige getuienis word nie opgehelder nie.

[121] Ook nog verskillende fuiwe van Hotnots.

[122] Vgl. ook die flou praatjie oor Ester se droefheid, p. 169.

[123] Vgl. Voorwoord.

[124] Voorberig 4de deel. Kursivering van my.

[125] Voorberig 1ste deel. Kursivering van my.

[126] Vgl. o.a. Prof. J.W. Muller se inleiding by sy Reinaert-uitgawe.

[127] Vgl. o.a. p. 93, 22-23, 52, ens. Of daar in Ghwennie Barnveld, 'n boek "vir jong meisies" in dié opsig verbetering is, kan ek nie beoordeel nie, omdat dit na die skrywe van hierdie bespreking verskyn het.

[128] Boesman-Stories II, p. 194.

[129] Vgl. nog Eerste Skrywers, p. 27: gedruk—gedruk—drukkery—drukpersie; p. 60: "Ons was met ons deurkruis van ons land ...", ens.

[130] Vgl. o.a. H. en V., p. 143: "Al hierdie gebeurtenisse het baie gevoelig 'n diepe indruk op die Afrikaanse huislike lewe en dinkwyse gemaak en nagelaat." Lomp is ook: "Hy skuif sy raam op en staan die heerlike koffie met tyd te geniet, terwyl sy oë 'n blik werp wat buite in die fris oggendlug plaasvind." (S. j. M., p. 119).

[131] Vgl. Boesman-Stories I, p. 55, "'n woelige Gees sonder rus".

[132] Jacob Cats: Houwelijck I, 235.

[133] J. Prinsen: Handboek tot de Ndlsche Lett. Ges.2, p. 335.

[134] G. Kalff: Ndlsche Dichters der 17de Eeuw, p. 37 (Cats).

[135] Vgl. Kalff, t.a.p., p. 100.

[136] Kalff: t.a.p., p. 98.

[137] Vgl. in Glorie Pan: "Niks op aarde is bestendig nie; alles is van korte duur nes 'n lappie op die seer vinger van 'n bobbejaan." (Die Brandwag, 10 Des. 1913).

[138] Vgl. ook die onsmaaklike opmerking in S. j. M., p. 65: "Ons ou mense het min van snorbaarde gehou, wat so hinderlik met, soen en sop-eet geblyk het"!

[139] Vgl. ook die snaakse betoog om te bewys dat jy, jou, ens., nie plat is nie. Eerste Skr., p. 97.

[140] Die Huisgenoot, Okt. 1921, pag. 247. In Hoofstuk XII van Eerste Skr. behandel hy plat taal en ook in Die Huisgenoot Junie 1921, Hoofstuk XV van Ons Geselstaal. Vgl. die voetnoot van die redaksie oor wat Von Wielligh onder "plat taal" verstaan.

[141] Leven van Vondel, Ndlsche Klassieken, p. 123.

[142] Eerste Skr., p. 100.

[143] Die Huisgenoot, Okt. 1921, p. 247.

[144] Eerste Skr., p. 126.

[145] H. en V., p. 15.

[146] Die Huisgenoot, Mei 1921, p. 25. Ons Gesels taal.

[147] S. j. M., p. 133.

[148] Vgl. o.a. S. j. M., p. 144, 195, 270, 282; H. en V., p. 146; N. S. Voorwoord.

[149] Vgl. b.v. S. j. M., p. 191.

[150] O.a. S. j. M., p. 213, H. en V., p. 123, 67, 86, 101, 130.

[151] O.a. S. J. M., p. 167, 143.

[152] Uit Die Huisgenoot van Febr. 1922 blyk dat Von Wielligh nog lustig op sy "praatmasjien" die ou deuntjies afdraai. Die "spinnerakke" en die "kloue (wat) nes blinkleerstewels kraak" is daar, terwyl die katalogus van die verskillende soorte koppies en rante uitgebrei word deur ... "pramkoppies"! (p. 421).

[153] Vgl. ook Eerste Skrywers, p. 49, waar "'n floers van neerslagtigheid" 'n somber gevoel "verwek".

[154] Vgl. ook nog p. 185.

[155] Vgl. ook p. 104 en p. 109 waar 'n verklaring van 'n "lugverheffing" gegee word.

[156] Dieselfde beeld kom ook voor in S. j. M., pag. 19.

[157] Ook die voëltjies dra "winterjassies", H. en V., p. 43.

[158] "Ondersteunen" is waarskynlik 'n drukfout. Die twede "hulle" slaan op "ondersteuners" in die vorige sin. Vergelyk S. j. M., p. 239: "Rustig verhef hulle die woonhuis ... deur die Trekkers hulle eie hande opgebou".

[159] Kursivering van Von Wielligh.

[160] Vgl. N. Seeling, p. 57: Baie seediere, wat my geheuge ontsnap het ..."!

[161] N. S., p. 50, "afskeidskyk".


[Pg 100]

HOOFSTUK V.

Romans, Verhale en Sketse.

§ 1. Adv. J.H.H. de Waal.

Jan Hendrik Hofmeyr de Waal is gebore op 30 Desember 1871 op die plaas Bakkerskloof, Stellenbosch. Sy vader was boer en handelaar, sy moeder die oudste suster van "Onse Jan". Aan die Normaal Kollege in Kaapstad het hy gematrikuleer en daarna was hy 'n tydlank onderwyser o.a. op Uitenhage en Utrecht. Later het hy 'n betrekking aangeneem in sy vader se ysterhandel, maar die joernalistiek het hom aangelok en as voorbereiding vir dié vak het hy regte gaan studeer in Londen, waar hy aangesluit 't by die Inner Temple en as studievrind o.a. Generaal Jan Smuts had. Nadat hy in besonder kort tyd sy wetseksamens afgelê het, tree hy in die huwelik met Emma de Kock (1898) en woon vir ses jaar in dieselfde huis as "Onse Jan", vir wie hy as "luitenant" dien.

In Julie 1903 word hy redakteur van die tydskrif, De Goede Hoop, waarin Stompies, Johannes van Wyk en Die Twede Grieta verskyn het. "Sy bedoeling met daardie geskrifte was om die jong lesers soveel moontlik met leesstof in populêre skryftrant te voorsien, en wel in die taal wat hy van jongsaf voorgestaan het—Afrikaans."[162]

Op sy kantoor is op 5 Oktober 1906 die Afrikaanse Taal Vereniging ontstaan. Aan sy inisiatief is die [Pg 101] erkenning van ons taal in die Kaapse geregshowe te danke.[163] In Des. 1914 het hy afgetree as redakteur van De Goede Hoop, as gevolg van 'n wryving met die uitgewers oor politieke kwessies. Onder die nom de plume, Jan van Rozenburg had hy naamlik Generaal Hertzog se politiek verdedig by die kabinetskriesis in 1912. Nederland het sy dienste as voorvegter vir ons taalregte erken deur sy benoeming tot lid van die Leidsche Maatschappij. Op die oomblik is hy lid van die volksraad vir Piketberg en een van die voormanne van die Nasionale Party in die Kaapprovinsie.

Johannes van Wyk, (1906).[164]

Johannes van Wijk is 'n jongeling van edel inbors, wat deur sy onbesproke gedrag, hoflike maniere en fyn beskawing die gunsteling van die Kaapse samelewing word. Dit wek die jaloesie en haat op van sy neef, Gert Rass, wat besluit om sy ondergang te bewerk. 'n Plan om Johannes deur die Boesmans te laat doodmaak misluk. Gert word egter tot nuwe wraakplanne geprikkel deur die feit, dat Hester Linde aan Johannes die voorkeur gee. Deur vervalsing van 'n brief slaag hy daarin om Johannes op 'n aanklag van hoogverraad teen die Goewerneur, Adriaan van der Stel, in die gevangenis te kry. Johannes ontsnap, word deur Gert en sy handlangers agterna gesit, maar vind eindelik onder die naam Koos Emmert 'n skuilplaas by 'n boer, Pierre de Villiers aan wie hy hom as kneg verhuur. Hier raak hy weer deurmekaar met die Boesmans, maar word op die laaste tippie deur sy vrinde, Malherbe en Joosten, gered. Intussen het die goewerneur sy ontslag gekry en hoef Johannes nie meer as droster te lewe nie. Gert drink 'n vergiftigde kelkie wyn, wat hy vir Johannes bestem had en sterf. Met 'n driedubbele huwelik eindig die verhaal.

Johannes van Wyk het oorspronklik in De Goede Hoop verskyn, die eerste hoofstuk in Jan. 1904. Die skrywer [Pg 102] verklaar self, dat die ontstaan van die roman te danke is aan sy betrekking as redakteur van die blad.[165] De Waal het skrywer geword, nie deur 'n innerlike skeppingsdrang nie, maar deur die dwingende mag van omstandighede. Toevallig het 'n yweraar en hartstogtelike voorstander van die lang geminagte volkstaal die middel in die hand gekry om aan verstokte teëstanders te wys, dat in dié taal 'n roman kon geskrywe word. Eers probeer hy om deur uitlowing van 'n honorarium die skryflus van sy lesers op te wek, maar die resultaat was teleurstellend; al die stukke moes in die snippermand. Aangemoedig deur die sukses van sy toneelspel Angelina het De Waal toe besluit om self 'n roman te skrywe. Met sy nugter verstand het hy 'n reeks toneeltjies op kunsmatige wyse inmekaar gepas en die resultaat was 'n leesbare roman, wat veral die jongeliede, vir wie De Goede Hoop in die eerste plaas eintlik bedoel was met groot spanning gevolg het. Ons staan hier voor 'n gewigtige kultuurgebeurtenis. Dit naamlik: in 1904 het die eerste Afrikaanse roman van die Twede Beweging verskyn.[166]

Die skrywe van Johannes van Wyk was 'n daad van betekenis. Na al die gekibbel 'n daad. En 'n daad, wat vir meer as een die oë laat oopgaan het. Vir lange jare had die teëstanders van Afrikaans met triomfantlike gebaar hul onweerlegbare stelling opgedreun: "Het Afrikaans heeft geen letterkunde!" De Waal se antwoord was: Johannes van Wyk. "Die eerste oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en die drukkerskoste was toe slegs een-sesde van wat dit vandag vir so 'n aantal sou wees. Tog is ek destyds gelukgewens geword met my moed dat ek dit gewaag het om 'n boek in Afrikaans uit te bring."[167] Vir die voorstanders van Afrikaans was J. v. W. dan ook 'n welkome bondgenoot. Die Afrikaanse Taalgenootskap in Pretoria het onmiddellik 'n beroep gedoen op alle Afrikaners om dit te lees, en die meeste krante het dit warm aanbeveel.

[Pg 103] By die beoordeling van J. v. W. moet veral rekening gehou word met die omstandighede waaronder dit ontstaan het. Maar sedert die eerste uitgawe het nou byna twintig jaar verloop. De Waal het dit herhaaldelik omgewerk en in 1921 het reeds die vyfde druk verskyn, veral omdat dit vir drie publieke eksamens tegelyk voorgeskrywe was.[168] Noudat die taalstryd verby is moet ook die literêre waarde van J. v. W. bepaal word. Omdat egter in bou en opset Die Twede Grieta soveel ooreenkoms daarmee vertoon, kan die twee romans tegelyk bespreek word.

Die Twede Grieta

is die dogter, van Johan Conradie, wat kort na haar geboorte, waarby haar moeder sterf, uit die huis van haar vader gesteel word en in Natal as Miss Grace Palmer opgroei. Andries Burger, pleegsoon van Conradie, loop saam met sy vrind, Bertie Muller, van die S.A. Kollege weg aan die begin van die Anglo-Boere-oorlog en hul sluit by die republikeinse leërs aan. Phineas Marais, stiefbroer van die "eerste" Grieta, Conradie se oorlede vrou, is die sondebok van die roman. Hy verlaat die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch na die dood van sy vader, wat 'n groot erfenis nalaat, word 'n geldwolf, loop in die oorlog oor na die Engelse en vervolg Andries en Bertie, vir wie Hester Fourie, sy verloofde afgewys het as doodsvyande. Andries en Bertie beleef die wonderlikste awonture in die oorlog. Andries red Grace uit die hande van Kaffers, en Bertie word verpleeg deur Hester. Na die oorlog ontdek Conradie dat Grace Palmer sy doodgewaande dogter is, 'n feit wat Phineas se roofproses teen hom in duie laat val. Presies soos Johannes van Wyk eindig die verhaal met 'n driedubbele huwelik. Andries trou met die twede Grieta, Bertie met Hester en selfs Conradie slaag daarin om "'n sagsinnige liewe vroutjie van ag-en-twintig jaar" raak te loop, terwyl Phineas na Engeland vertrek om die reputasie van S. Afrika daar te verbeter.

[Pg 104] Ook die Twede Grieta het in De Goede Hoop verskyn, vanaf Jan. 1912.


"Het grondplan van de meeste Scottsche romans is: de held trekt de wereld in, beleeft komische of tragische avonturen en sluit in het eind zijn bruid in de armen. Dit geldt voor Waverley, Old Mortality, Abbot, Fortunes of Nigel, Peveril of the Peak, Quentin Durward, Rob Roy en meer andere; de avonturen zijn meestal die van den oorlog en van de politiek ... En naast dit hoofdtype spreekt dikwijls de sensatieroman van Radcliffe in de geheimzinnige verwikkelingen, het duistere mysterie, dat den lezer tot het eind in spanning houdt."[169]

In hoofsaak pas hierdie karakteristiek ook op die twee romans van De Waal. Dit word begryplik as ons lees, wat hy self omtrent die ontstaan van Joh. Van Wyk meedeel:[170] "Ek het tevore (d.w.s. vóór die skrywe van J. v. W.) maar min romans gelees—net die van Van Lennep, Victor Hugo en 'n halfdosyn ander ..." Van Lennep herken ons dan ook dadelik in De Waal se romans en aangesien Van Lennep al sy slim draaitjies van Walter Scott geleer 't, het ons hier te doen met 'n navolging uit die twede hand.[171]

Aan 'n goeie historiese roman kan die volgende eis gestel word: "Hij make gansch een tijdperk uit het verleden weer levend, in den vollen rijkdom van al wat er in omging, idealen en vooroordelen, zeden en gebruiken; hij geve voor een oogenblik de illusie, dat we tijdgenooten zijn van een voorbijgegaan leven, van een vergeten beschaving."[172] So iets eis natuurlik diepgaande [Pg 105] historiese studie en nog veel meer. "Het is een gave van het genie, het algemeen menschelijke, het grootsche en geweldige, zoowel als de teerste gevoelstrillingen in de tragédie humaine onder welke vormen, in welke tijden ook, te voelen, te zien, te grijpen en uit te beelden met middelen die altijd treffen, die altijd leven van innerlijke waarheid."[173] Die historiese romanskrywer moet, soos Victor Hugo van Scott gesê het, wees: "'n buigzame solide geest, die in zich opneemt als weeke was het cachet van iedere eeuw en van ieder land en dezen indruk voor de nakomelingschap bewaart als onvernielbaar brons.[174]

Nou ontstaan die vraag: In hoeverre het Johannes van Wyk reg op die naam historiese roman? Walter Scott maak gebruik van 'n spannende intriege om sy historiese stof kleur en lewe te gee. Daar is 'n sterk didaktiese element in sy werk: "het aanbrengen van historiekennis, niet zoo zeer tot leering en waarschuwing voor toekomstige geslachten als wel uitsluitend om het hebben van die kennis zelve, het wekken van liefde en belangstelling voor het verleden. Die tendenz spreekt duidelijk uit de lange inleidingen, de geleerde noten bij den tekst, de ophelderingen en citaten aan het slot, de historische uitweidingen in de romans zelve."[175]

In Joh. van Wyk is egter die intriege hoofsaak. Die historiese agtergrond word gebruik alleen om die leser die illusie van werklikheid te gee. Daarvoor het De Waal 'n besonder awontuurlike tydperk uit die vroegste geskiedenis van die Kaap gekies, waarin hy sy karakters die wildste kaskenades kon laat uitvoer, sonder om die skyn van waarheid prys te gee.

Pas in 1911 is die dagboek van Adam Tas ontdek op die Kaapse Biblioteek en in 1914 het Dr. Leo Fouché dit uitgegee. Die aantekeninge van Adam Tas stel ons in staat om diep in te dring in die Kaapse toestande gedurende die stryd van die boere teen W.A. van der Stel. Op vertroulike manier deel Tas allerlei klein feitjies mee, met behulp waarvan 'n romanskrywer sonder [Pg 106] veel moeite 'n kleurryke beeld kan skilder van die boerelewe aan die begin van die 18de eeu. In 1904 het De Waal natuurlik nie die dagboek tot sy beskikking gehad nie, maar selfs na 1911 het hy skynbaar geen aandag geskenk aan die nuwe gegewens, met die gevolg dat sy uitbeelding van die historiese persone en toestande vaag en soms heeltemal onjuis is. Selfs die dokumente wat reeds in 1904 beskikbaar was,[176] het De Waal nie geraadpleeg nie, want die historiese vernis, wat op J. v. W. lê, is baie dun. Die feite wat die outeur verwerk, kon hy uit die eerste die beste skoolhandboekie gehaal het. Hy doen hoegenaamd geen poging om deur te dring tot die psiege van die manne, wat in die worsteling teen Adriaan van der Stel die eerste saadjies van ons nasionale bewussyn gesaai het nie. "Adam Tas en de mannen van 1705, die de rechten en voorrechten der kolonisten zo onmiskenbaar geformuleerd en zo dapper gehandhaafd hebben, mogen ... met recht genoemd worden de grondleggers van ons politieke zelfbewustzijn."[177]

Wat vertel De Waal ons van die manne? Hulle was "almal welopgevoede, knap boere, hoog aangeskrywe in die samelewing".[178] Henning Huising het "die rykste man aan die Kaap geword deur 'n monopolie". En die arme drommels is so onversigtig om by 'n "effe opgeskuifde raam", waarvoor "net 'n dun wit gordyntjie" hang "op nie 'n alte sagte toon" 'n gesprek te voer sodat Johannes elke woord kon opvang! En dit terwyl daar sulke mense soos Piet Rob was, van wie Tas verhaal: "Mij is vertelt als dat de noordse Piet Rob deese morgen met zijn Paarde wagen na Hottentots Holland is gereeden, die Schoft heeft welligt op deese Lichtmis dag weder wat aan te brengen, want het een zeekere zaak is dat die vent 't verklikkers ambagt sterk oeffent, dan hij staat er mettertijd voor beloont te werden....[179] Selfs die gewigtige dokument teen die goewerneur lê oop op die skryftafel! [Pg 107] En dis die manne, wat flou grappies maak met Starrenburg, die vent wat hul soos die pes gehaat 't, en van wie Tas in sy dagboek praat as "de schoft Landdrost,[180] Landdrost Beelzebub,[181] schofagtigen roffiaan".[182] Set maar 'n paar sinnetjies uit Tas se dagboek naas die floue geteem, wat De Waal hom in die mond lê en dan voel iedereen direk hoe onwaar, hoe absoluut vals die uitbeelding in J. v. W. is. Op Van der Bijl se raad om die dokumente teen die goewerneur liewer stukkend te skeur antwoord Tas: "Ag", sê Tas spottend, "lelik in die pekel bring! Wat is daar op stuk van sake, om te vrees? In g'n een van die ag-en-dertig beskuldigings teen die Goewerneur kom daar 'n sweem van sediesie voor nie...."[183] Vergelyk hiermee wat Tas in sy dagboek onder datum 28 Des. 1705 aanteken: "... immers zoude die eervergeeten vend (A. v.d. Stel) ons gaarne van kant helpen zoo 't hem anders doenlijk was, die vervloekte Tyran heeft de Ingeseetenen zederd eenige jaaren op een ongehoorde manier gedrukt en geplukt, dat ze bijna baloorig zijn geworden, nu soekt die onbeschaamden schendbrok de schuld van zijn hals af te schuiven en mannen van eeren op dusdanigen manier een smette aan te wrijven. O Tijden! O Zeden! dog de regtvaardige God mag men hoopen zal 't quaad eens op des bazen kop doen nederdaalen en niet toelaaten dat de Vroomen langer onderdrukt worden."[184] In die paar sinne voel ons die woes-laaiende passie van 'n man, wat veel gely 't. Dis glad 'n ander kêrel dan die Tas, wat De Waal so kalmpies laat redeneer oor die Goewerneur wat "ons planne mag dwarsboom".[185]

Op pagina 186 word ons meegedeel, dat die goewerneur die volgende persone gevange geneem 't: Wessel Pretorius, Jacob van der Heiden, Pieter van der Bijl en Henning Huising. Op die volgende pagina begin Hoofstuk XXX met die woorde: "Op las van die [Pg 108] Goewerneur en sy raad ... is Pieter van der Bijl, Henning Huising en die twee ander op 'n skip wat op weg was na Amsterdam, gesit...." Wie is die twee ander? Uit die verband kan ons alleen tot die gevolgtrekking kom, dat De Waal Pretorius en Van der Heiden bedoel. Maar wat hy daarop laat volg is in stryd hiermee, want ons verneem, dat Van der Heiden in die Kaapse tronk bly. Hier bestaan dus duisterheid in die voorstelling.[186] Die historiese waarheid is, dat Henning Huising, Pieter van der Bijl, Ferdinand Appel en Jan van Meerland na Holland gestuur is om voor die Here XVII te verskyn.[187] Dat àl die gevangene, met uitsondering van Tas en Louw[188] die goewerneur om vergifnis gevra het, is ook in stryd met die historiese feite. Zevenhoven b.v. kon die landdrost met al sy dreigemente nie klein kry nie, en toe die raadslid Brommert hom aanraai: "Ga bij den Goeverneur en bid hem om vergiffenisse" was sy manlike antwoord: "Dat kan ik niet doen, ik hebbe de waarheid gezegd.... Is dit naer recht handelen? 't Lijkt beter naer Inquisitie."[189]

Op pagina 186 kom daar nog 'n onjuiste bewering voor: ".... Willempie het aan die kêrels te kenne gegee dat, as hulle die waarheid van die klagtes wil ontken, hy hulle sal laat loop; maar die laaste een het geweier." Fouché egter beweer: "Enkelen werden reeds bij het eerste verhoor door de dreigementen van Starrenburg zo bang voor "de scherpere middelen" die hen wachtten, dat zij alles deden, wat hun gevraagd werd."[190] Ook die spesiale pluimpie wat De Waal aan Tas gee, kan die leser onder 'n verkeerde indruk bring. "Na zijn gevangenneming gedraagt hij (d.i. Tas) zich niet met de standvastigheid, die velen van zijn minder begaafde broeders tonen.[191]

[Pg 109] Ook Die Twede Grieta noem die outeur "'n historiese roman", maar weer is hier die intriege hoofsaak en staan die geskiedkundige gedeeltes meestal geheel los, nes hoofstukke wat gelig is uit 'n historiese handboek. In Hoofstuk II b.v. gee die skrywer op p. 52-62[192] 'n skets van die Engelse anneksasie-politiek. Op p. 159-163 word die oorgawe van Cronjé beskrywe; op p. 290-295 vind ons militêre beskouings en selfs die vernaamste punte van die vredesverdrag van Vereniging. Waarskynlik het De Waal met hierdie opsetlike byvoegsels die bedoeling gehad om sy jong lesers op aangename wyse 'n les in vaderlandse geskiedenis te gee, wat hulle in 1912 erg nodig had, want dit is bekend, dat die onderwys in dié vak veel te wense oorgelaat 't en dat selfs vandag nog die waarheid op allerlei wyse verdraai word. Die didaktiese element is dan 'n welbewuste poging van 'n patriotiese skrywer om die anti-nasionale onderwyspolitiek van die Engelse oorwinnaar teë te werk. Hier het ons dus 'n voorbeeld van die wyse waarop die politieke toestand na die oorlog invloed uitgeoefen het op die letterkunde.

Dat die skrywer alleen deur 'n dorre betoog die nodige atmosfeer vir sy verhaal kan skep is 'n teken van swakheid. So kry ons geen begrip van die dramatiek van die worsteling nie. "De moderne historische romankunst veronderstelt, dat ge uw historie kent en dat een enkele toespeling genoeg is, om u in den tijd te verplaatsen en wie ze niet kent, moet aan die enkele toespeling maar genoeg hebben om zich het noodige decor te fantaseeren."[193] Die historiese verhoudinge moet ons voel "als een vanzelf sprekende bijzaak". Die doel moet wees om ons die reële lewe te laat meelewe, "gezien in zijn algemeene menschelijkheid door een modernen mensch en kunstenaar...."[194] Die moderne historiese roman is "een roman als elke andere, een greep uit het leven, het algemeen menschelijke in schoonheid gezien en uitgebeeld, om esthetische motieven gedacht en gevoeld [Pg 110] in oude tijden en verhoudingen. De historische romanschrijver is niet langer de soms weerspannige slaaf der historie; de historie is zijn dienares geworden, die onderdanig en hulpvaardig, zich op den achtergrond houdend, aanbrengt, wat tot kennis van de economische, sociale, maatschappelijke toestanden, waarin de helden van 's kunstenaars verbeelding leven ter beschikking moet zijn."[195]

De Waal staan dus nog heeltemal op die ou standpunt en dit spreek vanself, dat vir ons jongere, wat die moderne opvatting ken en waardeer, sy historiese uitweidings die eenheid van sy romans hinderlik verstoor. Die ware kunstenaar laat ons deur middel van die ervarings van sy persone, deur die uitbeelding van hul sielelewe voel, wat daar omgegaan het in die hart van die volk gedurende 'n seker tydperk. In Hoofstuk VIII slaag De Waal dan ook uitstekend daarin om ons deur middel van 'n samespraak tussen Bertie Muller en Kaptein Glide 'n stukkie oorlogspsigologie te gee. Maar meestal bly die intriege hoofsaak en is die oorlog 'n handige raam waarop die outeur oneindige awonture borduur. Dit was dan ook volstrek nie sy bedoeling om die innerlike roersels van die volksiel gedurende die wanhopige worsteling uit te beeld nie. Presies soos by Johannes van Wyk het hy 'n periode uit die geskiedenis geneem, waarin hy sy persone die bontste awonture kon laat beleef en tog 'n glimp van waarheid behou.

De Waal se twee werke is geen historiese romans nie, maar wel intriegeromans, presies soos die van sy leermeester, Jacob van Lennep. J.H. van den Bosch het op voortreflike wyse hierdie soort roman geskets[196]: "De stof der kunst is het karakteristieke en typische in zijn steeds nieuwe verwerkelijking. Als voortbrengsel der phantazie, behoort tot de kunst ook de reproductie van het toevallig-uiterlijke. Niet echter tot de beste. Het toevallige is niet noodwendig, het is waar noch onwaar. Tijdelijk mag het behagen, misschien door nieuwheid en gloed, voor een oogenblik spannen door [Pg 111] vreemde ongewoonheid—weldra is het achter de bank geworpen en verouderd; de onverschilligheid der nakomelingschap velt er een zwijgend maar welsprekend vonnis over. Wil het eeuwig leven als de natuur, dan moet het kunstwerk—zelve Eeuwige natuur zijn, typisch en voleindigd.

De Intrigeroman als zoodanig, niet kind van rijpe ervaring ... kind van één dag daarentegen is bestemd om op denzelfden dag te sterven. Het is de roman der willekeur, wier type men in den Graaf de Monte Christo heeft leeren kennen. De intrigekunstenaar (al is zijn gave benijdenswaardig) geeft ons geen werkelijkheid, niet de wereld vol karakter rondom ons te aanschouwen,—het is de droomwereld eener spelende phantazie. Zijn helden zijn marionetten, hij de man in de poppekast. Het is de roman der oppervlakkigheid, zonder diepte van leven, zonder inwendigen samenhang. In de mysterieuze natuur is ook alles bont en willekeurig dooreen-geworpen, als in een uitdragerswinkel;—voor oppervlakkige blikken: want in de diepte is alles één. Het is kunst zonder waarheid, zonder wijsheid, geest en beteekenis, omdat het kunst zonder idee is."[197]

Ook De Waal se helde is marionette, aangeklede poppe, waarby die awontuur alle psigologie verdring. "Scherp getrokken is de lijn tussen deugd en boosheid. Hier ontwikkelen zich dan ook geen karakters; hier wordt ook geen moeite gedaan, om uit elk, overigens zo wonderlik samengesteld menselik hart, te halen, wat er, onder de werking van allerlei samenlopende of elkander strijdige invloeden, uit te halen is; verre van daar; onder al het levendig bedrijf, speelt ieder zijn hem toebedeelde rol op de meest passieve wijze; ieder van zijn kreaturen is gewaarmerkt tot een vast en onmiddellik te herkennen tiepe...."[198] Die enigste ontwikkeling, wat daar by De Waal se hoofkarakters te bespeur is, bestaan daarin dat die oorspronklike eienskap waarmee hy hul bedeel het, hoe langer hoe sterker [Pg 112] word. Sy helde word al dapperder, sodat hulle in die laaste hoofstuk Uebermenschen is, sy skurke al hoe swarter, totdat hul die baarlike duiwel in persoon word. Hy bedenk allerlei middeltjies, wat daarop bereken is om ons bewondering vir sy held te laat styg, of ons veragting vir sy skurke te vergroot.

Johannes van Wyk bied homself as vrywilliger aan teen die Boesmans; hy is vergewingsgesind teen Gert en verpleeg hom as hy gewond is; hy red Hester Linde op besonder dapper wyse; as hy Gert heeltemal in sy mag het, neem hy geen wraak nie, maar wil alles vergeef; selfs Gert prys sy saggeaardheid: "As 'n vlieg in sy karringmelk val, dan red hy dit!"[199] Hy gee twintig guldens aan ou Fekkie; "die gebrek aan intellektuele geselskap het hy geweldig gevoel"[200] op die plaas by Villiers; van Fritz Köhler wil hy nie skinder nie; en as Gert sterf, dan voel Johannes "weer die kinderlike, broederlike liefde van jonger jare opstyg in hom".[201] Voorwaar, 'n voorbeeldige jong kêrel! 'n Tugendheld!

So ook Andries Burger. Hy is wel 'n bietjie koppig op skool, maar De Waal laat ons goed voel, dat dit eintlik 'n goeie eienskap is, wat net pedagogiese leiding nodig het. As Andries dan ook Perold se skool deurloop het, word hy 'n tiepe van die nasionale student. Hy wil nie eers met sulke "rou rooi" dametjies, soos Grace Palmer praat nie, en die koppigheid van die kind moet ons bewonder, omdat 't die onversetlike wilskrag van die jongeling verklaar, wat teen die wens van sy pleegvader en professor tog oorlog-toe gaan. Andries is ook 'n sportsman van die eerste water; hy weier om met sy beste vrind 'n dop te gaan steek en verwyt hom ernstig sy losbandigheid en gebrek aan nasionale sin. Bertie se swakheid moet dien om ons 'n hoër dunk van Andries te gee. In die oorlog word Andries so gou gebrei, dat, "hy amper enigiets sou waag".[202] Hy maak 'n stoutmoedige aanbod aan Generaal De Wet (p. 159) en as verkenner is hy die dapperheid in persoon, wat [Pg 113] altyd die vyand baas raak. Op 'n koppie red hy Bertie, neem drie National Scouts gevange en skiet een dood. Sy gewonde vrind verpleeg hy met die grootste selfopoffering (p. 206). Phineas voel "glad ongerus in Utrecht" as hy hoor, dat daardie waagduiwel ... in die rondte swerf as verkenner"[203] en al is hy ook nie vandag se kind nie, waar dit op geslepenheid aankom, moet hy telkens erken, dat Andries hom uitoorlê. Andries kry altyd die mooi rol; hy red Grace van die Kaffers, bring haar in veiligheid en voorsien haar van geld; hy maak die geld buit, wat Phineas en Loogman van die weduwee afgeneem het en stuur dit aan haar terug met De Jager. As Genl. De Wet 'n skitterende oorwinning behaal, dan is Andries daarby.[204] As veldkornet Potgieter in die nood raak, dan is 't Andries, wat hom raad gee[205], en met die hulp van twee vrinde bestook hy die Engelse uit 'n voordelige posiesie sodat die kommando ontsnap en die vyand groot verliese ly. Maar Andries is nie alleen 'n onverskrokke krygsman en verkenner nie, hy kan ook 'n mooi gedig maak en behaal selfs 'n prys daarmee.[206] As die vrede gesluit word, dan hoor ons: "niemand het die prysgee van die duurgekogte onafhanklikheid van die Transvaal dieper ter harte geneem nie as die jong hooghartige Andries."[207]

By die tekening van sy skurke gaan De Waal presies op dieselfde wyse te werk. Die een laag swartsel na, die ander smeer hy op.

Gert Rass steel blomme, bring Johannes daardeur in die moeilikheid, val hom aan met 'n karwats en wil hom verwurg; hy stook Abram op om Johannes deur die Boesmans te laat vermoor; wil die laken nie opsteek om Johannes te red nie, en het selfs minder gevoel vir sy neef dan die Boesman, Abram; jak Johannes af, wat hom verpleeg 't en laat sy ouers onder die indruk kom, dat sy neef hom gewond 't; aan Klaartjie vertel [Pg 114] hy kluitjies oor sy neef; op die basaar fop hy met sy nommer, beskinder Joosten en beroof hom van sy "violet"; hy laat 'n vervalste brief in Johannes se sak stop om hom van hoogverraad beskuldig te kry; is dadelik gereed om sy ontsnapte neef te agtervolg en wil hom koelbloedig doodskiet; bedreig Hester Linde met 'n pistool, lieg as hy in die moeilikheid raak, en huigel vrindskap vir Johannes om hom te kan vergiftig. Gert word só gevaarlik in sy duiwelagtige haat, dat De Waal verplig is om hom op te ruim voor hy Johannes en sy vrinde kan beloon vir hul deug.[208]

Phineas Marais, die eks-teoloog is ook 'n monster, wat al monsteragtiger word. Sy huigelary word hoe langer hoe geraffineerder, en om die bewondering vir Andries des te hoër te laat styg word sy teëstander al hoe gewikster in Fariseïese listigheid. Hy moet deur sy verraad en geldsug die nodige verwikkelinge skep, sodat Andries 'n kans kan kry om sy edelmoedigheid en onverskrokkenheid aan die dag te lê. Die laagheid van Phineas is die terrein waarop die patriot Andries, le chevalier sans peur et sans reproche steeds met sukses opereer. Andries is dwarsdeur die roman die lieweling van die outeur, orals word hy verheerlik, orals word die pad vir hom skoongemaak.

Op De Waal pas dan ook uitstekend die volgende verklaring van M.H. van Campen: "Twee eigenaardigheden hebben alle pseudo-menschscheppers gemeen, ten eerste: het verzoeten hunner nobele figuren tot dupen en engelen—welke twee begrippen, als men de gewikstheid der duivelen daarbij in aanmerking neemt, vrij wel elkander dekken!—; zij doen dit zuiver instinctmatig, of wel: een onduidelijk bewustzijn van hun onvermogen, in de menschschepping de aesthetische schoonheid te bereiken, doet hen streven naar de ethische, welk streven tevens tot gevolg heeft dat zij hun ignobele schepselen zoo zwart maken als de satan zelf is, daardoor wordt de ethische schoonheid langs een omweg bereikt: de lezer voelt, hoe boos de auteur op zijn figuur, hoe [Pg 115] verontwaardigd hij is, het ethisch schoon bevindt zich dus in den auteur-zelf! En als het tweede dezer eigenaardigheden moet genoemd, dat de pseudo-menschschepper, hetzij min of meer bewust van zijn onvermogen als zoodanig, hetzij zelfs geheel onbewust daarvan en instinctief, de menschbeelding op het zooveelste plan doet terugwijken en het bijwerk brengt op het allereerste: het bijwerk van de "intrigue", van de taal, van de natuurbeschrijving, het bijwerk van alles en nog wat. Schiep de Heer in zes dagen heel de wereld en één menschenpaar, zij besteden dunkt mij, volle zes dagen aan het scheppen eener menschenlóóze wereld en stelen vijf minuten van den sabbath, om honderd menschen te maken! Die menschen zijn er dan ook naar ...—"[209] Alleen die volgende reserwe moet ek maak: wat bywerk van taal en natuurbeskrywing betref, is daar by De Waal geen sprake nie—hy vertrou enkel op 'n spannende intriege en 'n historiese versiering om sy verhaal leesbaar te maak—wat later bewys word.

Hoe dat by De Waal alles afhang van die grillige toeval blyk uit die verlowing van Hester Fourie en Bertie. Hester sê Phineas af, nie as gevolg van 'n geweldige sielekonflik nie, waarin haar patriotisme en liefde in botsing kom. Tot op die laaste behou sy haar naïewe geloof in sy opregtheid, ja verneder haarself voor haar veragtelike aanbidder: "Ek weet, dat jy my sal beskou as 'n bedriegster, 'n valse skepsel ... Ek weet dat jy die naam van Hester Fourie sal verag, sal verfoei, sal wil uitdelg uit jou geheue, ...[210]. Sy is selfs gewillig om Phineas te trou al was hy ook "handsupper"—eenvoudig omdat haar eie pa ook sy nasie verraai het—'n rede wat psigologies absoluut vals is, omdat juis die skrynende pyn daardeur veroorsaak, haar die verlore ideaal des te inniger sal laat koester en haar verlange om dit in die minnaar terug te vind oneindig versterk. "Pa het my diep teleurgestel, maar Phineas sal sy man staan—hy sal aan sy volk getrou bly", so sou die vrou Hester geredeneer het, die vrou wat geloof het [Pg 116] dat hy 'n volksleier behoort te word![211] As De Waal wou gehad 't, dat ons Hester Fourie moet bewonder as 'n fiere dogter van die Vrystaat, dan moes hy die bitter kneusing van haar meisieshart uitgebeeld 't by die oorlopery van haar vader en minnaar, die wondere, geheimnisvolle rypwording van haar kinderliefde vir Bertie en haar langsame bewuswording van die feit, dat haar gevoel vir Phineas 'n vergissing was. Maar in die roman gehoorsaam sy aan "'n onverklaarbare, waarskuwende stem ... 'n instink wat na geen menslike raad wou luister nie",[212] terwyl sy tog héél goed weet, dat Bertie die plaas van Phineas in haar hart ingeneem 't. Of het Phineas haar ook leer huigel?

Haar liefde vir Bertie is nie 'n allesbeheersende, allesoorwinnende passie nie, wat haar met dwingende mag na die geliefde dryf, maar haar lot word beslis deur die absoluut toevallige ontdekking van Nurse Nellie. Haar lewe is nie die langsame ontplooiing uit 'n innerlike drang, wat onverbiddelik dryf na die vervulling van 'n eie sielsgeaardheid nie, omdat die skrywer nog nooit geloop 't op die slingerpaadjies, wat soos 'n wirrel-warrel-vlegwerk uitgesprei lê oor die groot wonderland—das Ewig-Weibliche.

Die blinde toeval! In Johannes van Wyk het die nommertrekkery op die basaar 'n beslissende invloed op die lewensgeluk van ses persone. En as Johannes sy kans laat glip, dan speel dieselfde blinde toeval hom die meisie nogeens in die hand, dan kry hy 'n geleentheid om Hester te red en verseker die flink optrede van sy vrinde hom 'n ongestoorde wandeling met haar. By die eetmaal is dit wéér die blinde toeval, wat hom 'n sitplaas naas Hester gee; wat die kaptein en kolonel met plotselinge doofheid slaan, sodat hy sy geheimpies uitvoerig aan haar kan vertel. Voorwaar, Johannes laat ons dink aan Van Lennep se motto by De Roos van Dekama. Hy is die man wat: "wacht en stille sitt" en tog alles kry, terwyl Gert met al sy slim planne homself in die ongeluk stort.

[Pg 117] Joosten, vir wie Fritz Köhler, "g'n enkele keer die kans wou gee nie"[213] om met Jeanette te praat nie, word ook deur die blinde toeval gehelp—anders was hy vandag seker nog ongetroud!

En Grace Palmer? Haar huwelik is afhanklik van die toevallige ontdekking, dat sy die Twede Grieta is. Sy self gee drie redes op, waarom 'n huwelik met Andries onmoontlik is.[214] "De Intrigeroman kan alles bewijzen. Hij is een droom; de natuurwet is er buiten dienst gesteld."[215] Om dié rede behoef dit dan ook geen verbasing te wek nie, dat daar nog 'n hele reeks onwaarskynlikhede in die twee romans te vind is, o.a. die verdwyning van Grieta, die onvoldoende motivering van die haat tussen Andries en Phineas en veral die feit, dat Conradie die Kaap verlaat sonder Andries mee te deel wie Grace is. Op die manier kry Andries nog 'n kans om sy koppigheid te wys en die feit, dat hy nou al deur sy oorlogervarings tot selfstandige man geryp is, verhinder sy pleegvader nie om hom nog soos 'n stout seuntjie te behandel nie! In J. v. W. laat die karakter van Abram ons ook twyfel aan die egtheid daarvan; die skoot wat Abram net presies in die hart tref, terwyl hy op Johannes se hart mik, verwek 'n skeptiese glimlag. Dat Gert in die gifdrinktoneel hom so maklik laat fop, klink ook onwaarskynlik. De Waal slaag daar nie altyd in om sy sterk-romantiese gegewens deur 'n onweerstaanbare suggestiewe werking tot onbetwyfelbare realiteit te maak nie.

Dit blyk ook duidelik uit Andries se awontuur by Utrecht. Ons verneem dat 't "buitengewoon donker" is—só donker selfs, dat die ruiter "nouliks die kop van sy pêrd kon sien."[216] Tog laat "'n warrelwindjie 'n dun stofwolkie ... opstuif"! Later eers word die terrein deur bliksem af en toe verlig. Maar dit bly só donker, dat die kaffer "slegs 'n donkere gestalte" is. Die skrywer laat ons egter nie voel deur allerlei fyn trekkies nie, dat dit werklik donker is. Hy teken die hele toneel asof [Pg 118] dit alles in die skroeiende son gebeur 't. "Verbysterd en asof half lam leun sy (Krysie) met haar een hand teen een van die opstaande rotse." Het Andries kat-oë gehad, of het hy dit ook alles, "met die hulp van (die) weerlig" so haarfyn gesien? Hy soek nie voel-voel na die gewere en bandeliers nie—hy tel sommer "een van die twee Lee-Metfords en die bandeliers op ...". Hy loop nie struikel-struikel oor die los klippe in die donker nie—"hy nader ... die meisie". En sy sien hom "verward" aan; "sy skud haar kop", as hy haar iets vraag en "aan haar kappie en jas kon jy ... sien, dat sy terdeë met klei in botsing gewees het." Het dit ook alles gebeur met die hulp van bliksemstrale, want dis nog só donker, dat hy byna oor die twee doodgeslaande perde val.

Die gebrek aan suggestiewe besonderheidjies belet ons om die waarheid van die nagtelike toneel te voel. Die skrywer het dit nie innerlik deurleef nie, maar met sy nugter verstand die awontuur inmekaar gesit. En hy was hier tog op bekende terrein, want hy was self onderwyser in Utrecht en het seker meer as een van die donderstorme gesien, wat met sulke plotselinge felheid kan neerswaai, so geheel anders as in die Kaap.

Die donderstorm word as volg beskrywe: "Die stormwolk, waaruit soveel vog gegiet en vuur geskiet was, was nog met onverminderde water en elektrisiteit belaai en woed nog aldeur voort, (dus 'n wolk, wat voortwoed!) maar nie meer vlak bo-kant die hoofde van die jong twee nie. Die reusagtige massa was na die noordweste gedrywe, en slegs die nadruppels val nog by die vlugtelinge. Met die ooptrek van die hemel kom ook die opgaande maan te voorskyn."[217] Van natuurviesie geen sprake nie, nog minder van indiwiduële impressie of verrassende segging. Die hele beskrywing word gegee enkel om die laaste sinnetjie, want Andries moet 'n kans kry om "die sewentienjarige poppie" te bekyk.

Die beskrywing van Patrysvlei[218] is soos die van 'n afslaer, wat 'n plaas wil verkoop. Patrysvlei is "'n lushof" met mooi [Pg 119] draadheinings. Daar is 'n "deftige woonhuis" met "netjies ingerigte buitegeboue, stalle, krale, kampies en pluimveehokke"; "in sag groen gelowerde vrugteboorde", 'n groot tuin, 'n "massiefgewalde dam", deur 'n "altydlopende stroom gevoed" en verder "uitgebreide, duidelik afgebakende saai- en weilande". Die skrywer verseker ons, dat 't "'n bekoorlike landgoed, 'n paradysie" is, maar so 'n vendusieagtige ophemeling laat ons totaal koud en het met kuns niks te maak nie. Die van buitegekome obserwatoriese gewaarwording is nie deur die van binne opstygende deurvoeling tot 'n psigiese verbeelding geryp nie.

Die verslag van die voetbalwedstryd in hoofstuk vyf van Die Twede Grieta is ook 'n bewys van De Waal se onmag as kunstenaar. So 'n beskrywing kan 'n rapporteur van 'n agterveldse krantjie ook gee, want dis kleurlose joernalistiek, sonder 'n persoonlike aksent, in die allergewoonste voetbaljargon. Die partytjie by Bertie was in 'n groot saal "waar die meeste van die mense in vrolike gebabbel vergader was.... Verversings en lekkernye is intussen rondgedeel en van die keurigste sterk dranke kon jy te drink kry."[219]

In Johannes van Wyk nog 'n staaltjie: Hester en Johannes sing saam op die rots: "Toe begin hulle weer. Al die ander was stil as die graf. Heerlik weer lui (weerlui?) die skone melodie. Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink. Met soveel gevolg is elke woord uitgebring geword dat dit ingedring het tot in die diepste hoekie van elke hart en die fynste snare daar geroer het. Was dit dan wonder dat selfs Louise haar oë vogtig geword het?[220] Viermaal weer; sesmaal ge opmekaar gestapel! en dit in ses-en-'n-halwe reël! By die waaragtige kunstenaar, wat hom diep in sy stof inlewe, verander ritme, styl, taal, woordekeus voortdurend al na gelang van die stof. De Waal wil hier musiek in woorde verklank en hy hakkel soos 'n doofstomme. Die mooi alliterasie: "Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant [Pg 120] weerklink" gaan verlore in die aanswellende gutturale kakofonie.

De Waal se styl het geen eie geluid nie. Sy taal is die van die koele gedagte, ontspring nie uit 'n ontroerde gemoed nie, mis harmoniese ritme. Nooit voel ons; daarin die koorsagtige klop van die digter, nooit tintel daarin die warm liefde vir singende woorde nie. Kort en saaklik deel hy ons mee, soveel as nodig is om die intriege te verstaan, soms met katalogusagtige dorheid. Grace word ingelei in "'n kamer van middelmatige grootte, wat klaarblykelik gedien het vir eet-, slaap- en werkkamer tegelyk, want in die middel staan daar 'n tafel met 'n bord, 'n kaasbak, 'n suikerpotjie, 'n standertjie, 'n paar koppies en pierinkies en nog meer sulke goed; naby die venster sien jy 'n tafeltjie met 'n goedkoop naaimasien en 'n werkmandjie daarop, terwyl, aan die teenoorgestelde kant van die kamer, die voetenent van 'n ledikant van agter 'n Japanese skerm uitsteek. Verder bemerk jy daar ook 'n wastafeltjie en enige ander meubelstukke—almal oud en eenvoudig, maar net en sindelik."[221] Geen verrassende wending, geen metaforiese vermoë. Dit is net asof hy 'n reusagtige settery het, waarin die sinne netjies in hul bakkies gerangskik staan—la phrase fait une fois pour toutes.[222] As iemand skrik of verbaas is, dan het hy "wydgespalkte, wit kykers", (J. v. W., p. 37); Malherbe en Joosten volg Johannes se bewegings "met beklemde harte en wyd-geopende oë", (J. v. W., p. 71); "Die dominee sien sy dogter met wydgespalkte oë aan", (J. v. W. p. 149); "die meid, met 'n uitdrukking van angs in haar groot, wit oë". (Tw. Gr., p. 7). "'n Klein gil verlaat sy bors, en met wydgespalkte kykers starend staan hy vir 'n oomblik asof versteend", (Tw. Gr. p. 173); "ontsettend verras staar hy die meisie met wydgespalkte oë en ope mond aan", (Tw. Gr., p. 392); "Palmer!?" roep Conradie, met groot oë, verbysterd", (Tw. Gr., p. 353); "Maar voor hy iets meer sê, deins hy verskrik terug, en staar haar met wydgespalkte oë aan", (Tw. Gr., p. 350); [Pg 121] "Met wydgeopende, verwilderde kykers staar hy die besoekster asemloos aan", (Tw. Gr., p. 369); "Met ope monde asof deur towery geboei, gaap hulle die singers in verlore bewondering aan", (J. v. W., p. 97); "die trotse Chrissie staar met wye fonkelende oë vaag op na die plafond", (Tw. Gr., p. 224). As Boonzaaier dié romans moes illustreer ...! Dieselfde uitdrukking kom ook by Van Lennep voor: "Welnu! waar wacht gij op?" vroeg de man, wien de uitdaging gold, aan den voerman, die met wijd opgespalkte oogen, dit tooneel stond aan te gapen."[223]

Soms laat De Waal nogal wonderlike maneuwers uitvoer: "Maar Jeanette het alreeds haar met stille valksblikke na huis, werf en elke plekkie daar rondom, vir sover as haar gesig nie versper was nie geslinger", (J. v. W., p. 199); "Sy oë begin van vooraf in sy kop te rol", (J. v. W., p. 15).

Nog 'n ander stylverstening is: "'n Rilling loop deur sy lyf", (J. v. W., p. 38); "'n Vinnige rilling loop deur die hele lyf van Johannes", (J. v. W., p. 215); "'n Ysige rilling tref die lede van die sielvermoeide student", (Tw. Gr., p 389); "Hester haar liggaam tril van die skok", (Tw. Gr., p. 200); "wat 'n gril skud sy lede", (Tw. Gr., p. 250); "Dit was of Andries 'n geweldige skok deur al sy lede kry", (Tw. Gr., p. 314). "Wat 'n rilling loop daar deur sy hart", (J. v. W., p. 72). Van Lennep gebruik die uitdrukking ook: "Een koude rilling liep mij door de aderen."[224]

Nog 'n ander stylverstening is asvaal of vaal soos as.[225] So sou ons die hele inwentaris kan opmaak van die bakkies in De Waal se settery; van die beperkte aantal stereotiepe uitdrukkings, wat met tergende reëlmatigheid by amper elke dialoog voorkom—die "knersende tande", "geamuseerde gesigte", die "hande in die hare", die krappery agter die ore, of op die kop, die "bevestigende knikkies", "wit bewende lippe", "glinsterende, wetende, verwilderde, verslindende ... oë"; "vuurrooi wange", [Pg 122] "veel-betekende (?) glimlaggies", "angstig-kloppende, bonsende harte" en al die verskillende soorte kyke!!—o.a. "die kyk ... wat as 'n dolk tref", (J. van W., p. 46). Dan nog De Waal se besonder hartlam-uitdrukking kykers—van allerlei aard, diep, vurige, swart, donkerbruin, glimlaggende, skitterende, medely wekkende, sielvolle[226], glimmende, bewonderende, grys, groot, ope, blink, pragtige, patetiese....[227]

'n Enkele maal word ons verras deur 'n raak tekening: "rooi as 'n granaatappel", (Tw. Gr., p. 121); "met 'n berouvolle krakie in sy stem", (Tw. Gr., p. 269),—maar dis nes 'n eensame blommetjie in 'n vaal stoppelland. Meestal is De Waal doodtevrede met die ou beskrywende adjektiewe, wat die Neerlandse skrywers van vóór 1880 duisendmaal afgerinkink het. Dit blyk veral waar hy die uiterlik van sy persone teken. Hester Linde het "'n lelie-blanke kleur, afgewissel deur die roseblos van gesondheid, ... daarby vertoon sy 'n paar oë so helder, so hemelsblou, so sielvol, as g'n digter of skilder sou kan teken nie; 'n lieflike neusie gelyk en reg as van 'n marmer beeld." (J. v. W., p. 63). Sy is 'n engelagtige wese, (J. v. W. p. 72 en 162) met hemelse oë; ook Grieta is "'n beeldfraaie mens.... meer geskik vir die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaiese aardbol", (Tw. Gr., p. 1); "'n buitengewone juweel" met "melkwit hals" en "goudbruin hare, wat tot sieraad sou gestrek het vir die skoonste towergodin", terwyl Hester weer 'n "liewe juweeltjie" is, "'n allerpragtigste kind, die beeldskone predikantsdogter" met "'n sneeublanke gelaat". Sy is "die liewe engel wat dag en nag Johannes se gedagte besig hou en 'n vuur in sy hart aangesteek het wat niks kan uitblus nie...." (J. v. W., p. 178). Ook Grace laat "'n vlammetjie ... ontbrand, wat Andries nie lig kon blus nie". Nes by Hester word ons verseker van die magteloosheid van die skilder en nou ook nog van die beeldhouer: "Het ooit 'n skilder 'n kinnetjie pragtiger geskets? Het ooit 'n beeldhouer 'n mondjie bedeel met soveel uitdrukking, soveel karakter, soveel soete onskuld, as wat vertoon word [Pg 123] deur daardie twee gesonde, klein, allerliefs gevormde lippies?" (Tw. Gr., p. 239). Sy is ook soos haar moeder "meer geskik vir die tuiste van engele": "Dat 'n regtige, gewone, aardse mens so fouteloos (anglisisme!) daar kon uitsien, sou hy nooit kan geglo het nie." Ons glo dit dan ook nie!! Mens moet na Tollens en sy konfraters gaan om die sussies van De Waal se engeltjies te kry. Hoor maar hoe Tollens "Het Ongenoemde Meisje" "besing"[228]:

"Der nachtegalen zang is schoon,
Maar tienmaal schooner is haar toon,
Haar stem doortintelt merg en bloed;
Geen ziel, die zij niet smelten doet;
Geen booswicht is er, als zij zingt,
Wien niet een traan in de oogen dringt.
Zij zweeft, als had zij wiekjes aan:
Haar zooltje laat geen teeken staan.
Haar vlechten zijn als ravengit,
Haar boezem is als zwanenwit;
Geen enkel sproetje vlekt haar kin
En 't englenzieltjen evenmin.
Wie zulk een meisje ooit ontmoet,
Zoo schoon, zoo rein, zoo engelgoed;
Wie 't orglen van een stem vernam,
Zoo fraai of ze uit den hemel kwam,
Geloof hij 't vast—zweer hij 't vrij:
Dat is mijn meisje! dat is zij!"

De Waal se "fouteloos fraai" meisies dra natuurlik ook klere, "fouteloos passend" soos Grieta; hul het "lieflike gelaatstrekke", "pragtige elegante" gestaltes, of anders "heerlik-fraai—slank en tog vol"; meestal "langwerpige" gesiggies soos Hester Linde, Hester Fourie en Grace; maar die koddigste is wel die plomp[229] wange, wat by De Waal blykbaar die betekenis van die Engelse plump het!!

Vergelyk ons nou hiermee die manier, waarop Van Lennep sy dames en here teken, dan val die sterk ooreenkoms dadelik in die oog. In De Roos van Dekama word Madzy as volg voorgestel: "Voor zooveel men, [Pg 124] nu zij gezeten was, haar gestalte kon beoordeelen, was zij rijzig van postuur; doch haar fijne leest was gewikkeld in een zwarten zijden mantel, die niets liet bespeuren dan de bevallige ronding van een leliewitten arm.... De kap van den mantel bedekte het hoofd, en was onder de kin vastgestrikt, doch liet echter vryheid om de edelste en tevens innemendste wezenstrekken te beschouwen, welke immer in het hart eens jongelings liefde verwekt hebben[230]. De strenge regelmaat des beloops van neus en voorhoofd, welke aan het profiel der Grieksche Juno herinnerden, was getemperd door den zachten, minzamen opslag van twee groote, helder hemelsblauwe oogen, overwelfd door gitzwarte wenkbrauwen, zoo zuiver van omtrek, als waren zy door een penseelgevormd, en door de kuiltjes welke in de van gezondheid schitterende wangen en in de ronde kin als tot een schuilplaats voor de bevalligheden gevormd waren. Een klein vlekje ter zijde der bovenlip, instede van het gelaat te ontsieren, stak geestig af tegen de blanke tinten van het fijne, met blauwe adertjes gemarmerde vel, en verhoogde de levendigheid van uitdrukking der wezenstrekken, vooral wanneer zij zich tot een lachje saamtrokken, en de halfgeopende rozemond, de dubbele rij der hagelwitte tandjes ontdekken liet."[231] Vir Reinout is Madzy dan ook dadelik 'n "lieve engel". "Reinout ... had een wel niet rijzige, maar toch in allen deele fraai gevormde, gestalte. Ravenzwart haar krulde hem met bevalligheid om de slapen; zijn gelaatstrekken waren fijn en regelmatig, en schoon van nature bleek en door de zuiderzon en de vermoeienissen des oorlogs met een gele tint overdekt, hoogst bevallig en innemend. Geest en scherpzinnigheid straalden uit zijn gitzwarte oogen, wier levendigheid waarde gaf aan alles wat hij zeide."[232] Malherbe "was middelmatig van gestalte, welgeset, kragtig gebou. Sy blas kleur en Paryse neus het duidelik te kenne gegee dat hy van Franse afkoms was; en sy groot welgevormde kop, versierd met 'n bos digte, pikswart krulhare, het blyk gelewer van meer [Pg 125] dan 'n gewone mate van harsings; terwyl sy diep, vurige, donkerbruin kykertjies, wat treffend gepas het by sy swaar wenkbroue, die wakkerste skerpsinnigheid verraai het." (J. v. W., p. 61.)

Daar is nog meer reminisensies aan die versteende terminologie van vóór 1880 by De Waal. "Iedereen luister met ingetoë bewondering na die sielverheffende, heerlike musiek", (J. v. W., p. 228); verbryselende tyding, (J. v. W., p. 251); "wat daar in sy gemoed omgaan, kan beter verbeel dan beskrywe word", (J. v. W., p. 106); 'n ontluikende man, (J. v. W., p. 8). De Waal besef nie die gevoelswaarde van die woord ontluikende nie, want ofskoon "'n ontluikende maagd" 'n doodgewone staaltjie van die Parnastaal is, kan ons ons moeilik 'n ontluikende man voorstel. In Die Twede Grieta kom ook nog voor: "verhewe, edele gelaatstrekke", (p. 209); "onvergeetlike, hartstrelende", (p. 318); "'n soet druppel in die bitter beker", (p. 12); "hartedrif" (p. 382); "dit was asof 'n priem sy hart deurboor en sy bloed yskoud word", (p. 96)[233] "'n Vloed van bitter onaangename gewaarwordings deurstroom sy beklemde gemoed", (id. vgl. J. v. W., p. 174); "sy was weggevaar na die heerlike wêreld van die sorglose vergetelheid, rustig in die arms van die slaapgod ...", (p. 238); "oorstelp van vreugde en droefheid", (p. 174).

Aan beelde waag De Waal hom baie selde en as hy dit doen, dan is 't gemeenplaatse, of ridikule voorstellings soos: "Hy kon sy brein in geen ander rigting laat vloei nie" (Tw. Gr., p. 259); "Die nommer van die meisie wat nou so dryf op die hete onstuimige stroom van sy gedagtes", (J. v. W., p. 64); sy gedagtes rol oor al die gebeurtenisse van die aand terug", (J. v. W., p. 106); "Die digte sluier wat haar geestesoog bedek het, is afgeruk", (J. v. W., p. 174); Andries hoor Grace se "silwerstem. Dit tril(!) die snare van sy hart", (Tw. Gr., p. 259); "Byna onmiddellik daarna, soos in 'n towerslag verander haar gelaat in glad 'n ander plooi ..." wat net so 'n wonderlike metamorfose is soos die van Andries, wat volgens Phineas van 'n askoek tot 'n doring ontwikkel, (Tw. Gr., p. 242 en 382).

[Pg 126] "Jacob van Lennep was van 1829 tot zijn dood in 1868, Rijks-advokaat; bijna 40 jaar dus. Het ambt maakt de man. Deze man moet dus wel tot in z'n tenen advokaat zijn geworden, vooral omdat-ie van z'n eigen natuur al had, wat dat ambt in 'n mens pleegt te ontwikkelen: handigheid in 't pareren en uitvallen; scherpzichtigheid van elk plekje dat de tegenpartij bloot geeft; en bij deze schermmeesters-talenten, toch eenvoudige waarheidszin en oprechtheid....[234] Dieselfde eienskappe is ook te vind in die romans van Advokaat De Waal. Hy het sy eie pleiterstalent aan Malherbe geskenk en die kruisverhoor van Gert is een van die besgeslaagde gedeeltes van Johannes van Wyk. Phineas behaal ook 'n advokate-oorwinning op die Smithfielders en die weduwee, en sy listige draaitjies laat ons meer aan die geregshof dan die Teologiese Kweekskool dink. Vir die samestelling van sy intrieges kon De Waal dan ook profiteer van sy eie ervaring by die geregshof, 'n element wat 'n ruim plaas beslaan in albei romans. Die lewendigheid van sy dialoog laat aan dieselfde invloed dink. Oor 'n raak antwoord staan sy persone selde verleë, en tog ontaard dit nie in 'n vernufsdialoog nie, maar is gewoonlik 'n weergawe van die los natuurlike gesèlstoon. Dat hy dit egter nie altyd tref nie, bewys die volgende kromtaal, wat hy in die mond van Professor Clarke lê: "Jy het skone vooruitsigte, my jong (sic!), as jy net getrou by jou studies wil bly; en ek gee jou my woord, dat alles, wat ek kan doen om jou meriete bekroon te kry met die sukses, wat dit verdien, sal ek.[235] Ook Ds. Kestell en Conradie spreek Andries toe as my jong.[236]

'n Staaltjie van gebrekkige psigologie vind ons in Die Twede Grieta. Dis Andries se verjaarsdag en hy moet natuurlik die gewigtige gebeurtenis aan sy maat op skool meedeel. "Mag jy soet opgroei! fluister die ander grappig terug."[237] Wie sou so 'n ou-tante-agtige wens verwag van 'n kind van elf jaar? As hy nou nog gevra 't: "Het jy baie presente gekry?" dan kon ons dit verstaan!

[Pg 127] By De Waal kan ons konstateer 'n byna volslae veronagsaming van die volkstaal. Hy was een van ons eerste skrywers en het soos weinig ander die kans gehad om gebruik te maak van tiepies Afrikaanse wendinge, wat in die rykste verskeidenheid net op die lewewekkende adem van die kunstenaar gewag 't. Maar in plaas daarvan gebruik hy die dorre beendere van 'n voos ou-tydse retoriek, wat al twintig jaar morsdood was. Of wat uit kultuuroogpunt nog veel erger was, hy leen hot en haar van die Engelse en set die jong lesers van De Goede Hoop 'n onsmaaklike hutspot à l'anglaise voor—juis dié mense, wat hy, as taalyweraar, moes oortuig van die deugdelikheid van die Afrikaanse taal. As De Waal woordkunstenaar gewees 't, dan sou hy op sy togte met die Rondgaande Hof, wat hom in nou aanraking met al die klasse van die samelewing oor 'n uitgestrekte gebied van die Kaapprovinsie gebring 't, die volkstaal beluister 't, met volle teue die fris veldgeur van die ongerepte Afrikaanse idioom ingedrink 't. En indien hy ook al dikwels die verpestende lug, wat stadig maar seker by ons taalvensters ingewaai het, moes opsnuif, was dit dan nie juis sy heilige plig as voorman om met speurende sorg alle uitlandse bysmakies uit die nasionale taalspys, wat hy vir argelose jongeliede opgedis het te verwyder nie? Maar die Engelse stormwind het De Waal omgewaai en al het hy in die afgelope sewentien jaar effentjies gespartel om op te staan, die vyfde druk van Johannes van Wyk en die twede druk van Die Twede Grieta bewys dat dit hom tot nog toe nie geluk 't nie.

In sy dissertasie Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging het Dr. E.C. Pienaar gekonstateer, dat met betrekking tot anglisismes Johannes van Wyk "aan 'n ongeneeslike kwaal ly".[238] In Die Burger van Augustus 1921 laat De Waal hom as volg daaroor uit: "Is dit die skuld van die outeur dat soveel anglisismes burgerreg verkry het in ons taal? Toe ek die boek geskrywe het, het ek die spreektaal ten naastenby weergegee soos hy gebruik geword het, nie soos ek of my taalvriende sou verkies het dat hy moet wees nie. My [Pg 128] skryftaal was maar 'n weerspiegeling van die spraak.... Die woorde lyk (hou van) en kyk (blik) ... sou ek darem in geen geval laat vaar het nie. Hulle het pos gevat in ons taal en verarm dit nie." Dr. Pienaar het ongetwyfeld gelyk as hy beweer, dat De Waal se taal "'n weerspiegeling was van 'n kunsmatigvervalste spraak-werklikheid, soos die onder bepaalde anti-nasionale skool-invloede in bepaalde kringe geheers het."[239] Tereg word ook verder gelaak die gebrek aan "historiese atmosfeer" in Johannes van Wyk "omdat die skrywer deftige Hollanders van die jaar 1700 anglisismes in die mond lê, wat tuis hoort by verengelste Afrikaners van twee honderd jaar later, en selfs dan nog maar in sekere kringe."[240]

"Moed broei moed" is die vertaling, wat Grace Palmer gee van "Courage breeds courage". Andries verbeter dit tot: "Moed kweek moed"[241]. Dit is presies die wyse waarop De Waal te werk gaan. Sy gedagtewêreld is Engels; en sy skrywery is 'n langdurig gesukkel, 'n kriewelagtige gepeuter om aan Engelse gedagtes 'n Afrikaanse tint te gee. Só kan geen kunswerk ontstaan nie. Ons stuit gedurig op uitdrukkings en woorde, waarvan die Engelse voorbeelde hul direk aan ons opdring. Dit is dan ook 'n vergeefse poging om die twee romans van anglisismes te suiwer, wat die skrywer alreeds probeer doen 't; die rooi suurdesem het deur-en-deur getrek tot in hul kern, soos blyk uit die volgende paar voorbeelde wat gemaklik verdubbel kan word. In Johannes van Wyk, vyfde druk 1921, kom voor: p. 29, "sou hy 'n twintigtal van daardie gebroed binne vyf minute kon uitgevee het; p. 149, "Wat 'n jammer ..." p. 173, "dat F.K.... sy kop mag verloor en 'n hand in so 'n daad hê; p. 174, Sou sy nie ... iets kan sê of doen wat hom mag weggee nie? p. 215, (hy) bind sy rooi sakdoek oor die groter deel van sy gesig; p. 224, Die twee lawwe kêrels ... [Pg 129] vind hulle uitgesny deur "die Franse advokaat"; p. 76, "Gou nou!" haas Joosten sy twee vrinde aan, ...

In Die Twede Grieta, twede druk, 1921: p. 11, watter adres hom in Johannesburg sou vind, p. 54, Brittanje steek weer sy vinger in die pasty; p. 136, 'n Stuiwer vir jou gedagte; p. 149, maar sy vrees het nog die bo-hand gevoer; p. 213, Ons kon om die lewe nie raai; p. 242, in die klein uurtjies van die nag; p. 308, die gees van jingoïsme—waarvan alle ... Afrikaners in die stede prooi was; p. 326, koerasie byeengesamel; p. 328, in watter woorde die nuus te breek; p. 377, Die aparte uitdrukkings, wat daar beurtelings op die gelaat van Grieta verskyn het ... was 'n studie.—Plompe wange is reeds in 'n ander verband genoem. In Die Twede Grieta hoor ons nog van 'n milde behandeling! (Eng. mild).

Ook die volgende uitdrukkings, meestal onbeholpe vertalings, toon duidelik aan hoe De Waal in Engels dink en dan 'n woord of wending kies, wat glad nie in die verband pas nie. In Johannes van Wyk b.v. p. 48, aan die agterdeel van die huis; p. 80, 84, 246 die gestremde (Eng. strained) stilte, verhouding, ens.; p. 84, En hy ... ontmoet haar lippe met syne ... in 'n soete, hartelike kus; p. 101, U het ons almal uiters gul vergas; p. 180, Die stem klink op verhewe toon[242]; p. 217, jy 't my in 'n desperate weg gedring; 'n goeie dag gee.

In Die Twede Grieta: p. 41, Die ruime stellasies ... was besprenkeld van toeskouers[243]; p. 56, Op laasgenoemde plek spring daar 'n stad op; p. 59, tegelyk sou die forte by Pretoria gegryp word; p. 198, sy volledig die sin; p. 175, Intussen doen die verpleër aldeur alles in sy vermoë om die vloei van die bloed te stuit, en werklik was die lekkasie(!) binnekort aanmerklik verminder.

Kyk (blik), kom kyk (besoek) en lyk (hou van) is vaste uitdrukkings van De Waal. By die gebruik van voorsetsels is hy ook gedurig onder Engelse invloed of maak hy die snaakste foute. In Johannes van Wyk b.v. p. 19, onttrek ... uit; p. 24, voorsien ... met[244]; p. 59, [Pg 130] trakteer met lekkers; p. 60, deelneem in; p. 61, Aan sy breë mond kan jy ... lees; p. 71, vermorsel aan 'n rots; p. 96, hy roep op die sangpaar; p. 128, vervang met; p. 170, gedagtes in die saak vorm; p. 180, om jou naamtekening aan hierdie getuigskrif ... te verkry; p. 204, hy hou hom onledig aan die heel-maak van 'n ... mandjie; ens.

In Die Twede Grieta: p. 335, om hom met die nou gang te begewe na sy kompartement; p. 344, berus by haar laaste antwoord; p. 369, hy spring met 'n skrik in sy sitplaas op; p. 388, 'n kelkie ... tot mekaar se gesondheid drink; p. 227, "Kom!" roep die boer aan die pêrde; p. 156, duskant van Paardeberg; p. 285, ryk in bobbiaan ...; ens.

'n Voorbeeld van stokkerige Hollands vind ons in Johannes van Wyk, p, 190: Die verbeide vyand. Telkens is die woordskikking verkeerd. In die Tw. Gr., p. 47, b.v. Die trant van die spel, ja, het so 'n keer geneem, dat, binne vyf minute na die ongeluk, was een van die donkerbloues in staat ...; p. 79, Hy het my onder ander vertel ... dat ofskoon Hollands en Engels op papier gelyke regte het, word daar in die praktyk gesorg....[245]

Die lidwoord ontbreek in: om sake weer op ou voet te kry; pas het hy hierdie prooi in oog gekry; hulle wag tot oordeelsdag.[246] Of anders staan dit waar dit onnodig is: Omtrent honderd kanonne (word) in die werking gebring.[247]

Verder kom daar nog 'n hele stel uitdrukkings of woorde voor wat (a) 'n allerkoddigste indruk maak deur hul lompheid; (b) volmaak onverstaanbaar of ongebruiklik is; (c) waarvan De Waal die gevoelswaarde nie besef 't nie. Ek gee enige voorbeelde:

(a) Uit Johannes van Wyk:

(p. 42) Toe verkwik hy sy gestel by 'n dammetjie; p. 68, die lewendige kou water; p. 70, Versigtig en langsaam kom hy (die skuit) met sy swaarbelaaide [Pg 131] mensevrag gedurig nader; p. 82, die gemoedvolle vader; p. 192, 't Was allesbehalwe 'n gevoel van gerustheid waarmee die verdediger van die kraal nou beset was. Hy moes die toneel ... toeskou; p. 226, Die liewe natuurlike musiek, wat hierdie lewendige water op sy weg ... ondertoe na die vlakte baan; p. 82, En wat kom die gewaad ook daarop aan, solank as dit nog reg is miet sy inhoud! (Ds. Linde tot Hester); p. 227, Daardie selvolle kykers, wat so sy hart verteer het.

Uit Die Twede Grieta:

(p. 236) Haar storie ... het sy op so 'n belang-prikkelende manier vertel, dat dit van begin tot end die aandag van haar geleide boeiend geïnteresseer het; p. 295, So het die burgers hulle gelate wil berus by die besluite ...; p. 394, die vooruitlopende weet-al-leser; p. 4, in die wye, rond-gegruisde tuinpaadjie.

(b) Uit Johannes van Wyk

p. 7, Sy ... ontlos haar van haar helper; p. 201, die bedleërige; p. 163, 'n aangestrande vreemdeling, 'n vermoede gevlugte seeman; p. 24, spieder en bespeurder; p. 2, sy goedbelynde gesig.

Uit Die Twede Grieta:

p. 295, die harttrillende vierkleur; p. 308, weervaardigheid; p. 381, die salig-oorstelpte besoeker.

(c) Uit Johannes van Wyk:

p. 5, die dik prettige dogter; p. 235, met 'n gesig oppervlakkig prettig; p. 140, 'n prettige boer; p. 169, 253, nering; p. 102, Het komt my voor dat tante Debora hem daartoe aansart; p. 58, die mense was gemoedelik aangedaan; p. 68, Köhler het haar (die meisie) met geweld weggeraap; p. 80, terugwerping; p. 75, toewerping; p. 165, Ek weet waarlik van niemand wat 'n mooier vorm en postuur het nie (van Johannes geseg); p. 188, en al die huisgesinne ... het met waens en karre na die setel van plesier en vrolikheid vertrek.

[Pg 132] Uit Die Twede Grieta:

p. 19, Wat sal van daardie verskriklike wil van hom word, as ...; As ek jou belet om dit met geweld uit hom te delg; p. 20, Phineas Junior ... het welig opgegroei; p, 34, Haar geselligheid, wat sy by al haar kennisse ... beoefen het; p. 114, na 'n koppie koffie by 'n buurman te benuttig het; p. 286, om Andries handtastelik te verwelkom; p. 302, tasbare dank; p. 265, nouliks was daardie aanval aanvaar.

Stompies.

Stompies, 'n bundel stories, rympies en toneelspelletjies is, wat die prosastukke betref, uit dieselfde hout as die romans gesny. Tien of twaalf sulke stompies met timmermansvaardigheid aanmekaar gelas en met historiese kleefstof van 'n patriotiese merk vasgelym vorm die lang stompe van die romans. Maar dis dorre stompe van 'n stokoue, doodgebloeide boom, wat De Waal omgekap 't om die taalvuurtjie mee op te stook.

In Stompies (1911) word die getal van die "engelagtige" meisies met hul "betowerende, hemel-fraaie kykers (o.a. p. 7, 10, 156), plompe rooskleurige wangetjies (p. 98), Venusagtige gestalte (p. 140), ens. vermeerder. Hulle "stuur 'n elektriese stroom deur al die lede" (p. 156) van hul aanbidders en as hulle so onversigtig is om in die water te val, of deur Kaffers toegetakel word, dan kry die dapper redders, wat toevallig daarop afkom die welbekende "koue rilling" wat "deur hul hele lyf loop" (o.a. p. 78), totdat hul uiteindelik "die hemelse gedaante van hul teergeliefde(s) te gemoet vlieg" (p. 83) en "verrukkelike vreugde in hul hart straal." (p. 83.) Die gelukkige paartjies word dan nog almal voorsien van 'n liewe gesonde seuntjie (p. 60), "twee fraaie kindertjies" (p. 104) of "drie gesonde kleintjies" (p. 158).

Die voorwoord bevat nog 'n merkwaardige verklaring: "Soals die ironie dit wil, gee ek, die alle digters en rympiesmakers beskou als beklagenswaardige dromers en dwepers, nou self 'n klomp rympies uit!—" Dat iemand wat so 'n beskouing daarop na hou, geen kunswerk kan lewer nie, spreek vanself. Hy het self dan ook [Pg 133] erken dat hy nie "in die wieg gelê was om romans te skrywe nie. (Hy) het maar die leeslus onder ons volk vir Afrikaans wil help opwek"[248]. Hierdie oordeel kan na ons ondersoek volkome bevestig word. Sy romans het geen letterkundige, maar wel kultuur-historiese waarde. Dit was propaganda-werk, wat verskyn het in 'n tyd toe die meeste ander voormanne nog niks gepresteer had en daar feitlik geen Afrikaanse leesstof was nie. Sy doel het De Waal dan ook bereik; Hy het 'n groot deel van die Afrikaanse volk hul eie taal leer lees. Wanneer ons nou dat die stryd vir Afrikaans gewin is, behoefte gevoel om ook die letterkundige waarde van die eerste prosawerk te bepaal, dan moet daar nogeens met nadruk op gewys word, dat Johannes van Wyk met al sy gebreke 'n faktor van belang in die taalstryd was.

Dat dit gelees is, is veral te danke aan die spannende intriege. Wat J. Koopmans van Van Lennep sê is ook van De Waal waar: "Meesterlik worden de draden in één punt samengetrokken; als in een vuurwerk knapt en knettert de kruithuls aan alle kanten; de ene vonk ontsteekt de andere en draait de spil naar de gewenste zijde"[249]. Solank as daar mense is wat 'n boek lees alleen "vir die storie", sal De Waal se romans seker gelees word.

§ 2. J. Lub.

J. Lub is op 1 Mei 1868 gebore te Garijp, 'n dorpie in die provinsie Friesland. In 1892 het hy as onderwyser na die Transvaal gekom. In die Anglo-Boere-oorlog was hy vir ses maande in diens van die Rooi Kruis as bestuurder van die ambulanstreine. Na die vrede het hy opgetree as Hollandse dosent aan die Johannesburgse Normaal-Skool en tans is hy inspekteur van skole op die Rand. Vyf bundels sketse het van hom verskyn: Eenvoudige Mense (1908), Donker Johannesburg (1910)[250], In en om de Goudstad (1912), Het Zwarte Gevaar (1913), Oom Frikkie en ander Sketse (1918).[251]

[Pg 134] Van Lub se sketse is 'n groot aantal in Afrikaans geskrywe, maar dit is die Afrikaans van 'n buitelander, waarin, hoe goed hy die taal ook al deur 'n langdurige verblyf onder ons mense geleer 't, tog altyd nog iets vreemds klink. Omdat sy persone meestal in 'n Engelse milieu optree, kom daar in sy werk nogal baie Engelse uitdrukkings voor en hoewel dit soms deur die geaardheid van die sketse noodsaaklik word, moet die veelvuldige gebruik van woorde soos "cab, stretsjer, uitgeswindel, loafers, motormen, sweets, gingerbier" ens. beslis afgekeur word. "George lyk om te "marry", maar sy "job" betaal maar net £12-10s., en hy het die laaste tyd op die reisies verloor, want sy "friend" het hom die "wrong tip" gegee" (Eenv. Mense3, p. 52). Al dien so 'n staaltjie nou ook ter karakterisering, tog word die herhaling van sulke gebrabbel op lange laas onleesbaar.

Die verwording van die Afrikanerkarakter in die kosmopolietiese goudstad—dit is die vernaamste onderwerp van Lub se sketse. "Daar binne in die kuil (Johannesburg), vergaan 'n deel van ons arm mense, wat in hoë plekke behoort te wees, maar wat nou in hole van ellende omkom en bedelaars is ... of nog erger" (Oom Frikkie, p. 66). Die degenerasie van sulke sosiale drenkelinge word in lewendige tafreeltjies beskryf. Die algemene opset is gewoonlik so: eers word met 'n paar vegies die stadsbeeld geteken; dan ontmoet "meester" een van sy oud-leerlinge of 'n ander bekende van die plaas, wat nou in die uiterste ellende verkeer. So kry "meester" af en toe 'n kans om die rol van Hildebrand teenoor die diakenhuismannetje te speel. Anders word allerlei straattiepes op die manier van Justus van Maurik beskryf, soms met 'n moraliserende prekie as slot. "Dink tog 'n bietjie, as julle die busdrywer(s) sien, dat hy ook een van ons medemense is", ens (Eenv. Mense, p. 36). Met 'n poliesman as geleider besoek Lub die gevangenisse, agterbuurte en reddingshuise. Die redakteur van Die Brandwag het sy werk juis gekarakteriseer: "Sulke sketse is menslike dokumente ... 'n simpatieke argief, wat die koue koerante en dokumente-argief van vandag se geskiedenis aanvul vir die toekoms" (t.a.p., Des. 1918). [Pg 135] Dit is goeie joernalistiek, met veel mensekennis geskryf, en dit werp 'n lig op die ontstaan van ons arme blanke, 'n kwessie wat nog altyd aktuëel is.

By die beskrywing van sy melankoliese tonele gebruik Lub soms melodramatiese motiewe, wat as pakkende slot moet dien. Op die manier verswak hy die indruk van roue realiteit, wat sommige van sy woordfoto's op ons maak. Ter afwisseling kry ons sketse in die komiese genre, wat meestal goed geslaag is.

§ 3. J.G. Engela.

J.G. Engela is gebore in 1862 op Ceres, waar hy alleen Engels op die skool kon leer. Op sewentienjarige leeftyd was hy al ouerloos en toe moes hy tog-ry, skoolhou en allerhande ander werk doen om 'n bestaan te maak. In die Transvaal was hy op die kantoor van die mynkommissaris, toe die oorlog uitbreek. Hy is by Paardeberg gevang en na Ceylon gestuur. Na die vrede was hy klerk in 'n winkel en in dié tyd het sy boeke verskyn. In 1914 is hy as winkel-inspekteur aangestel, en toe hy op sestigjarige leeftyd volgens die regulasies moes aftree, het hy gaan boer op "Die Vlakte", in die distrik Bloemhof.

Afrikaanse Verhale en Gesellige Half-Uurtjies.

In die voorwoord van sy twede bundel, Gesellige Half-Uurtjies verklaar die skrywer, dat hy "in alle eenvoudigheid getrag (het) om ons volk tot meer lees aan te spoor." Dié doel het hy seker bereik, veral omdat in 1909, toe die eerste bundel verskyn het, Afrikaanse boeke nog baie skaars was, maar ook omdat hy sy grappies op aangename wyse vertel. Engela laat gewoonlik een of ander norse persoon in 'n strik loop. Hoe om iemand 'n poets te bak is sy spesialiteit. Wie onder humor nog iets anders verstaan dan pure grapperigheid sal dit seker nie eens wees met Nico Hofmeyr nie, waar hy in die voorrede van die Verhale die skrywer se "fyn humor" roem.

Minder gelukkig is Engela met sy ernstige verhale, [Pg 136] wat by voorkeur 'n moordgeskiedenis behandel en erg melodramaties is. Vir romantiekerige situasies is hy ook lief. So hoor ons dat Gratia "plaas neem op die ou omgevalle boomstam, en ... haar betraande oë omhoog-slaan, naar die heerlike groen lommer waarmee die woud so kunstig in 'n Septembergewaad versier was.... Saggies roer sy die snare van haar Mandoliene aan...." (Half-Uurtjies, p. 33). Tog ken Engela Rhijnvis Feith seker net uit sy gesangeboek.

Gesels.

Gesels (2de druk, 1913) is die swakste van die drie bundeltjies. Taal en styl is hier besonder onbeholpe, die grappies word flou, soms selfs stuitend. Die Storms van Bergendal is seker die summum van alle bereikbare onnatuurlikheid. 'n Broer, wat met sy verlore gewaande suster trou, haar dan keel af sny; 'n lyk, wat na 'n vreeslike storm deur die "rumoerige woelwaters ... met alle sorg" in 'n kar "neergelê" word; 'n gedrogtelike misgeboorte, wonderlike drome, en geesverskynings, waarby vier predikante te pas kom, 'n groot skat, ens ... brr! Dis 'n gruwelstuk, wat Jan Vos sou laat watertand!

As 'n staaltjie van Engela se gebrekkige sinsbou kan die volgende dien: "David was 'n Hotnot van ongeveer 40 à 50 jaar: Kort en sterk geboud, en was van nature 'n buitegewoon opgeruimde skepsel, en kon hom ..." (p. 41); "Hy was uit op huisbesoek, en waarmee hy toe klaar was, en weer op die terugreis huis toe" (p. 42). Dié snaakse gebruik van die voegwoord tref mens deur die hele boek aan.

§ 4. Adv. C.J. Langenhoven.

Polietikus, joernalis, digter, prosaïs en toneelskrywer is Langenhoven, en veral in die laaste tyd toon hy 'n veelsydige bedrywigheid op letterkundige gebied. Op Oudtshoorn was hy redakteur van Het Zuid-Westen. In 1911 het verskyn Stukkies en Brokkies, "'n leesboekie vir almaal en hulpboekie vir Kristelike Jongeliede- en Debatsverenigings". Dit is in 1914 opgeneem in Ons [Pg 137] Weg deur die Wêreld,[252] grotendeels 'n didaktiese werk, wat egter ook verhale, fantasieë, samesprake, aforismes en gedigte bevat. Die verhale en fantasieë word hier bespreek, die didaktiese gedeeltes in hoofstuk VII. Die samesprake behoort tot die toneel-literatuur en die "Spesiale stukke vir Debatsvereniginge" (Afd. V.) kan buiten beskouing bly.[253]

Op Langenhoven se belangrike aandeel in die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar gewys[254]. Nadat hy 'n tydlank lid van die Kaapse Provinsiale Raad was, word hy volksraadlid vir Oudtshoorn. Tans is hy senator.

Van hom het ook verskyn: Die Pad van Suid-Afrika, 'n digbundel; twee satieries-humoristiese verhale: Sonde met die Bure (1921) en Doppers en Filistyne (1922), wat in hoofstuk VI bespreek word; Die Hoop van Suid-Afrika en ander toneelstukke; Twee Geskiedkundige Opstelle[255] in samewerking met G.S. Preller; in Engels: Republicans and Sinners en The Everlasting Annexation. Aan Stille Waters, wat nou in Die Burger verskyn, is 'n reeks artiekels oor onderwerpe van uiteenlopende aard. Daar is verhale, fantasieë, gedigte en bewerkings van psalme, gesange en Engelse liedere. Binnekort verskyn dit in die Almal se Boeke-serie, terwyl die gesange al afsonderlik uitgegee is onder die tietel Afrikaanse Gesange. Die Eensame Hoop (1922) is 'n kinderverhaal.

Ons Weg deur die Wêreld.

(Afdelings II en III.)

In die eerste verhaal raak Ou Verkeerde Faans "'n onvermoeide ou twismaker" onder die strelende warmte van die kaggel al sy kwellings kwyt. Maar daar sal "nie more weer vuur in die kaggel wees nie" en daarom moet Neef Kerneels maar dadelik die saak oor die bogslootjie tussen hom en sy buurman skik. Lammetjie en Wolf is die verhaal van 'n verdwaalde kindjie, wat in die [Pg 138] hande raak van 'n verstokte misdadiger, vir manslag tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Klein Miemie verteder die ou sondaar se hart en hy bring haar terug na haar ouers. Die omkeer by Hans Bonsa word alleen op betogende wyse beskryf; daar is geen plastiese uitbeelding, soos van Miemie se dwaaltog nie, wat met mooi innigheid geteken word. Dieselfde innigheid tref ons in Twee Oues van Dae, waar 'n grysaard op gevoelige wyse uiting gee aan sy liefde vir 'n troue hond. Die Nuwe-Jaars-offer is 'n verhaal van 'n jonge man, wat gewillig die dood tegemoet gaan om 'n medeminnaar te red. In die Brief klink die fyn sarkastiese toon van Doppers en Filistyne al helder op, en ook die Sonde met die bure-motief is aanwesig. "Eergister het Bertus Bakbene weer 'n straal van my beurt water gesteel om sy ou pattatta-tuintjie nat te maak en ek het sy jong se graaf daar uit sy hande geruk en hom 'n skrams raps daarmee oor die korrelkop gegee en toe in die uitkeerplek ingerol om weer reg te lawe" (p. 48)[256]. Waterlei-moeilikhede gee ook in Doppers en Filistyne aanleiding tot kostelike humor, maar Oom Stoffel moet op die dorpse bure 'n meer verfynde taktiek toepas. Die naskrif van die brief is 'n mooi voorbeeld van misplaatste moederliefde. Die Kluisenaar van die Karro "kon ... uit elke bossie 'n preek haal" (p. 60). Dit is 'n botaniese les in aantreklike vorm. Meester bevat skoolherinneringe. Dat meester egter "'n suiwere Nederlandse aksent" had is onjuis, want die Nederlandse "e" is allesbehalwe "presies die Afrikaanse ij" (p 62).

Die Fantasieë begint met 'n allegorie in Bybelse styl. In die orige stukke is "Boet Nelie" 'n grysaard, wat soos Jonathan in Waarheid en Droomen op weemoedige wyse aan mymer gaan. Hy het 'n hunkering na die ou "romantiese, skilderagtige" boereplase "met onbewerkte hoekies en kweek-plekkies onder 'n skaduboom om op te lê en droom" van sy kinderdae (p. 77). Niks is daar wat hom so treurig stem nie as die gestadige verwoesting van soveel heerlikheid in die natuur deur die moderne boerderymetodes. "Alles moet nou gelyk gemaak word—gelyk en reghoekig en reglynig. Die tyd van sentiment [Pg 139] is verby: dis nou die dag van besigheid". Daarom gaat Boet Nelie vir laas kuier na die ou watersloot en hy gesels op vertroulike wyse daarmee oor die ou dae. Hy is ook, die vriend van die ou wa, wat vir brandhout moet verkoop word. Die sê van Nelie "Sy hart is so vol liefde dat daar plek is vir al die ou goedjies wat hy as kind mee maats gemaak het en al is hy nou 'n bejaarde man ... dan kom hy nog met my gesels net soos toe hy 'n kind was—met my, die stomme ou wa asof ek 'n mens was net soos hy" (p. 100). Die motorkar wat Nelie mee plaas toe ry "is 'n masien. Daar is geen siel in hom nie en hy roof my van my siel ook." (p. 105.) Op die ou geboorteplaas vind hy nêrens troos nie. "Al die ou dinge wat sy hart aan vasgekleef het en die metgeselle van sy skooldae en die dierbare van sy huisaltaar word een vir een weggeruk ..." (p. 107.) Maar die ou berg het staande gebly en die moet vir hom die raaisels van die lewe help oplos. "Seg my, my ou berg, wat is die plan van die hele besigheid?" (p. 109.) Net soos Elia wil hy weg wees "van die kranksinnige gewoel van die wêreld en nader naar die troosvolle rus van die voorportaal van die hemel" (p. 110). En die berg vertel hom: "dis nie die groot dinge wat belangrik is (nie)." (p. 110.)

Op die weemoedige kadans van sy mymerstemming laat Nelie hom saggies voortwieg en die klare eenvoud[257] van sy volsinne, wat met rustige en kalme geleidelikheid mekaar opvolg is in harmoniese ooreenstemming daarmee. Maar die doodnugter opmerkings oor mishandeling van die maag, en die walging vir "insak-gansveermatrasse", waarin party mense op "bloedige Karro-somerdae" kruip—dit is wanklanke in die fantasie-atmosfeer.

Blykens die voorberig van die derde druk het Langenhoven afgesien van "die imperfektum wat (hy) eentyd van malligheid wou invoer".[258]

Eienaardig is die gebruik van "ieder 'n mens" i.p.v. iedere mens[259], "tussenposend" (p. 67), "'n lustige gemak" [Pg 140] (p. 84, Ons Weg). Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: die kalwertjies wat wil laat drink wees (p. 15); die dik doringplate ... het begint minder te weergalm (p. 19); 'n groot karree-boom, wie se diepgaande wortels.... (p. 41); hy stuur hom daar haal (p. 54). Daar is 'n paar opslag-mangelwortels tussen die beetrye,[260] o.a.: "sonder om enige partikuliere persoon toe te spreek (p. 6); met 'n effe suggestie van rood (p. 80, Ons Weg); die doodskleed van die nag word ingegaar deur die hand ... (id. p. 79).

Daar is oorspronklike beeldspraak: as verkoue en sinkings jou gelyk beetkry "een aan die disselboom ... en die ander aan jou briek ..." (p. 6); maar taamlik afgeslyte kom ook nog voor o.a.: die veld ... weef 'n prag-tapyt op die vloer van die aardse tempel ... (Ons Weg, p. 29); die onstuimige boesem van die rivier (p. 88); om snare in die liefde-ontblote hart aan te roer (p. 21); die laken of doodskleed van die winter, (Ons Weg, p. 78).

§ 5. Christian Zinn.

Van Christian Zinn het in 1911 verskyn: In Harte Verenigd, of Sketse uit die Boere-Lewe. Dit is 'n verhaal uit die tyd van die Jameson-strooptog en Anglo-Boere-oorlog, waarin die skrywer geleentheid vind om heelwat politieke beskouings aan die man te bring. Die dapper held, mooi meisie en lae verraaier ontbreek nie. Die liefdesverhaaltjie is vol soeterige sentimentaliteit. Daar is o.a. sprake van "'n miljoen dralende soene"! Die historiese gebeurtenisse word oppervlakkig behandel en die uitwerking daarvan op die uitgebeelde persone uiters gebrekkig aangedui. Letterkundige verdienste het die verhaal nie, want die styl is onbeholpe, gebrekkig en taamlik vol anglisismes. Vir die taalkundige kan dit interessant wees, omdat daar soveel oorgangsvorme in voorkom. Van die woord baie het Zinn blykbaar 'n groot afkeer; dit kom glo maar eenmaal voor (p. 127). As voorbeeld van taal, styl en spelling kan die volgende dien: Dit was net als of Suid Afrika verdoemd was [Pg 141] om 'n vreselike terugsetting te kry net so's voorspoed in bereik was. Die land had mooi vooruit gegaan, in alle rigtinge was verbeterings te bespeure, kapitaal had ingevloei, en die wonderlike rykdom wat S.A. eige is, werd geopend, (p. 33); Sannie haar auntie Maria maak net goeie vooruitgang met haar jongste minnaar, 'n jeugdige luitenant die met 'n party van die Yeomanry uitgekom had, en die so opgenome was met die lewe in die uitgestrekte Karroo, dat hy met graagte daarnaar vooruitsiet om sig neer te set tot vee-boerdery ... (p. 132).

§ 6. Dr. D.F. Malherbe.

Vir sy lewensloop en werk kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar se proefskrif.[261] Van belang is die volgende meedeling: "As 17-jarige knaap het hy een keer deur die Karo gery sonder om meer te sien as 'n vervelige uitgestrektheid van vlakte, dor en verlate. Maar toe hy in 1907 weer in daardie omgewing kom, het dit hom magtig aangegryp. Daar was vir hom so 'n wonderlike geheimsinnigheid in, so 'n bekoring dat hy gemeen het om daar vergoed te bly. In dié stemming is sy eerste werklike gedigte geskrywe."[262] Vir sy prosawerk ook, is soos nader sal blyk, sy verblyf in die Karo van groot belang gewees.

Vergeet Nie, (1913).

In die nabyheid van die rustige Karodorpie, Steenburg woon die Du Pré famielie op die plaas Rietfontein. Oom Willem en Tant Annie het saam oud geword in die Karo-eensaamheid. Hul dogter, Bettie is ook 'n "kind van die vrye veld, 'n pragtige voorbeeld van die Afrikaner-meisie". Oom Willem is enigsins melankolies van geaardheid en die oorlogsgerugte vervul hom met 'n donker voorgevoel. "Die vuur sal brand van noord tot suid ... en dit is my asof ... ek die end nie sal belewe nie", so lui sy [Pg 142] profetiese woorde op die vooraand van die groot kriesis. En die plegtige huisgodsdiens is nog nie afgeloop nie, toe Servaas Vermaak, die bywoner, wat dorp toe was en daar Adonis as skaapwagter gehuur 't, met die oorlogstyding vergoed 'n end maak aan die "rustige rus" van die plaasbewoners. Nie lank na Servaas kom Bettie se verloofde, Piet Marais, geneesheer op Steenburg om afskeid te neem. Hy is Kolonialer, maar offer al sy goeie vooruitsigte op om by die Boere-ambulans in diens te tree. Oom Willem, wat in alle sake die Bybel tot rigsnoer neem, veroordeel rebellie, maar heg tog sy goedkeuring aan Piet se daad, as hy hoor dat hy veral gaan om geneeskundige hulp te gee. Met gloeiende geesdrif verdedig Piet sy handelwyse teenoor Bettie se besware en peil dan op sy vosperd reguit Boere toe. Ons ontmoet hom weer by die Boeretroepe, maar nie meer as Rooikruisdokter nie, want dis al die tydperk van guerilla-oorlog. Piet is trots al die teleurstellings nog dieselfde vurige entoesias, die geswore vyand en bestryer van papbroekerigheid. "Nee, manne, laat ons saamstaan(,) almal wat kan tot die end." Onder sy invloed word die flouhartige Japie du Plooy en Oom Jan ook "bitter-einders".

Intussen kom Bester, die beroemde rebelle-kommandant met 600 man die eentonigheid van 'n vervelige namiddag verdryf op Rietfontein. Bester,'n 35-jarige man, wat tot hiertoe alle vroue met onverskilligheid verby gegaan 't, moet dadelik "hands-op" vir Bettie! As sy na Piet verneem, deel hy haar mee, dat hy weet van 'n Dr. Marais, wat vroeg in die oorlog aan koorssiekte dood is. Hy beloof haar om nader inligtings in te win. Oom Willem verwek heelwat ontstemming onder die rebellekommando deur die verdediging van sy bybelse standpunt aangaande trou aan die regering. Die volgende oggend sukkel hy dorp toe met sy eseltjies om die besoek van die Boere aan Kommandant Hunt te rapporteer, en loop 'n lelike skrobbering op, omdat sy rapport so laat inkom.

Bester se liefde vir Bettie beïnvloed die bewegings van sy kommando en deur sy herhaalde besoeke aan Rietfontein raak die Du Pré famielie in die moeilikheid. Oom Willem, pas herstel van 'n swaar siekte word in 'n vreeslike storm dorp toe gevoer deur die Engelse. In [Pg 143] haar radeloosheid bedenk Bettie 'n wanhopige plan om haar pa te red. Sy skryf 'n brief aan Bester, wat met sy kommando nog in die nabyheid verkeer, en laat dit deur Servaas besorg. Maar Adonis verklik alles aan die Engelse en as Servaas terugkom van sy vrugtelose tog, word hy saam met Bettie en haar moeder na die tronk geneem. Oom Willem en Servaas word na Port Alfred gestuur deur die militêre, Bettie kom agter die tralies, terwyl Tant Annie vrygelaat word op parool.

Intussen het Dr. Marais een van Genl. De Wet se vertroudes geword en as Du Plooy met rapporte na die Kolonie vertrek, kry hy 'n brief vir Bettie mee, wat hy in Bester se hande laat. Maar deur sy poging om die brief aan Bettie te besorg, raak Bester gevange en word ter dood veroordeel. In die tronk kry hy geleentheid om Bettie te vertel, dat Piet nog leef. Kort na Bester se teregstelling keer Bettie en haar moeder weer terug na Rietfontein. Oom Willem het kort na sy aankoms in die kamp op Port Alfred beswyk. Na die vrede kom Piet terug om sy bruid te trou.


Bettie word ons voorgestel as 'n ideale Boermeisie. Alleen die feit, dat sy haar afgeleefde ouers nie kan verlaat nie, weerhou haar om Piet se voorbeeld te volg en aan te sluit by die ambulans. In die gevangenis en teenoor Hunt gedraag sy haar kloek. Sy is blykbaar trots op die rol wat sy gespeel 't, en as Piet haar na die oorlog vra, of sy bereid is om vol te hou in die groot stryd teen die Engelse kultuuroorweldiging, antwoord sy met 'n tikkie verontwaardiging in haar stem: "Piet, mag jy my nog so 'n vraag vra nadat ek soveel opgeoffer en gely het?"[263] Dit kom my egter voor asof Bettie haarself moedswillig in die ongeluk gestort 't, en as dit die geval is dan verloor haar "offer" vir die nasionale saak heelwat van die heroïese kleure, wat die skrywer daarin geweef 't.

Op pagina 66 staan: "Al die veerkrag van haar nasionale gevoel is deur die oorlog in volle beweging gekom, en niks is daar sterker by haar gewees as die wens om [Pg 144] positief te mag meedoen aan die stryd nie. Maar hoe kon sy haar ouers verlaat? Onmoontlik vir haar om uit te gaan as verpleegster! En so is dit haar ernstige gebed geword dat sy op watter wyse dit God behaag 'n aandeel mog kry aan die oorlog. En as sy niks kan meedoen nie, dan wou sy meely met haar volk." Hoe edel hierdie besluit op sigself ook al mag wees, dit neem die feit nie weg, dat Bettie se naasbysynde plig ongetwyfeld was om vir die veiligheid van haar afgeleefde ouers te sorg. Maar as sy by haar vader se siekbed moet waak, dan spook die gedagte van deelneem aan die oorlog, wat 'n idée fixe by haar word altyd deur haar brein: "Sou die Here haar roep om haar siek vader op te pas, en mag sy daarom geen deel hê aan die oorlog nie? Sou dit haar roeping en werk worde, beskeie en stil, waar sy hoë aspirasies had?"[264] Piet Marais se oorlogsgeesdrif en wie weet, miskien ook die Engelse romans, wat sy van die skool af meegebring 't,[265] het haar blykbaar taamlik sentimenteel gestem en haar belet om 'n nugter kyk op sake te behou. As Bester haar meegedeel 't, dat 'n sekere Dr. Marais in die begin van die oorlog aan koorssiekte dood is, maak sy allerhande onuitvoerbare planne—"sy sou stilletjies wegraak, te voet loop as dit al was, haar lewe daaraan waag, sy sou sôre, dat sy êrens by die Boere te lande kom, sy sou Piet soek ... en as hy waarlik dood was, sy graf met haar trane bevogtig!"[266] Die laaste sinnetjie kon wel in een van Feith se romans gestaan 't! Daar is trouens meer wat ons aan die sentimentele romans van die agtiende eeu herinner. 'n Paar ou briewe van Piet maak sy "met voldoening ope en lees dit in stil mymering en met die gevoeligheid van 'n teer vrouehart." (p. 64.) Dat Bettie "in die traag-skrydende ure van die nag" romantiese plannetjies uitgedink het, is psigologies volkome juis, maar ons is nie gewend, dat 'n flink Boermeisie van drie-en-twintig jaar, wat bowendien reeds op haar agtiende jaar "selfbewus en ryp genoeg vir verantwoordelikheid" (p. 33) was, dat so 'n [Pg 145] meisie, tans die enigste[267] stut en steun van haar grys ouers in uiters benoude dae haar al te lank oorgee aan 'n Wertheriaanse sentimentaliteit nie.

Bettie se volgende dade toon dat sy doelbewus, ja moedswillig alles doen om "'n aandeel aan die oorlog te kry"—m.a.w. sy leg die veiligheid van haar ouers in die waagskaal ter wille van 'n meisiesagtige gril, wat sy vir "hoë aspirasie" aansien! Sy weet, dat haar pa 'n swartkruis agter sy naam het, dat die geringste suspiesie hom in lewensgevaar kan bring en tog ontvang sy Bester "alleen in die sitkamer" (p. 92). Bester het ongetwyfeld 'n sterk indruk op haar gemaak, en ofskoon sy trou bly aan Piet en haarself wys maak, dat "as Piet dood is, sy ook dood (sou) wees vir die wêreld" (p. 90), sien sy tog verlangend uit na Bester se terugkeer. En nie alleen omdat sy hoop, dat hy nuus van Piet bring nie. Piet behou wel die ereplaas in haar gemoed, maar uit die omstandigheid, dat sy oorweeg wat Bester vir haar kan beteken in geval Piet werklik dood is, kan ons besluit dat sy persoonlikheid haar diep getref het. Sy redeneer so: "Sy is mos sterk genoeg, sy het Piet te lief om aan enig ander man te dink" (p. 95). En sy doen dit tog! Bettie maak 'n kriesis van ernstige weifeling deur. Sy het Bester lief en al wat haar terughou is "die dure besef van plig en eer." (p. 99.)

Oom Willem het dadelik die groot gevaar ontstaande uit die herhaalde besoeke van Bester ingesien en Bettie ernstig gewaarsku (p. 95). Sy het volkome goed geweet, "dat alle persone, wat geheime konneksies met so 'n gevreesde en verwenste mens het op die ongenadigste manier sou gestraf word." (p. 96.) Tog ontvang sy Bester nòg eenmaal alleen—sy dink nie aan die gevaar waaraan sy haar ouers blootstel nie, ofskoon hy haar meedeel dat sy stap gevaarlik is en dat die Engelse dus naby is—sy gaat swygend met hom die sitkamer binne en steek nog daarby 'n kers op (p. 97). Op die manier, bewerk sy haar pa se ongeluk. Kan ons haar dus glo [Pg 146] as sy uitsnik: "Ag Pa, ek kan dit nie help nie, ek is net so onskuldig soos Pa"? (p. 102). Miskien wel; miskien was dit bloot vroulike onversigtigheid. Maar die volgende stap van Bettie—die brief wat sy aan Bester skrywe—is alleen verklaarbaar as 'n moedswillige poging om haarself "'n aandeel aan die oorlog" te verskaf. Sy kom tot die konklusie, dat alleen Bester haar pa kan red. Het sy gemeen, dat hy die Engelse moet agtervolg en Oom Willem terugbring plaas toe? Moes Bester vervolgens Rietfontein verdedig teen die Engelse oormag? homself, sy kommando en die vrouens laat platskiet ter wille van één man? Of moes hy die afgeleefde, sieklike grysaard, teen die se eie wil saamsleep op sy swerftogte? In haar opgewondenheid het hierdie eenvoudige oorwegings nie by haar opgekom nie en in haar naïewe geloof aan Bester se al-sterkheid skryf sy aan hom—'n impulsiewe daad—psigologies volkome juis. Maar haar moeder se opmerking, dat haar plan gevaarlik is, bring haar nie tot nadenke nie. En plotseling blits dit deur haar gedagte: Nou kan ek my "hoë aspirasies" bereik—sy kry die "besef ... dat sy self in die draaikolk van gebeurtenisse begin meedans. Was dit dan nie altyd haar ernstige versugting nie?" (p. 107). Juis, sy is lank al moeg vir die eensame lewe op die plaas, waar sy al meer dan 'n jaar opgesluit sit. Haar romantiese siel smag na dade van durf en intussen suggereer sy haarself, heeltemal ter goeder trou, dat sy alles doen om haar pa se ontwil!

Maar Servaas is die man, wat haar tot rede sal bring! Hy weet meer dan sy: "Die vlakte, die bossies, dit lewe van duisende kakies so na Vaaldam se kant toe. Die hele wêreld is vanaand vol van hulle." (p. 110.) Hy erken: "dis byna verniet om so iets te probeer en daarby gevaarlik." (p. 109.) Helaas! Arme Servaas verloor ook àl sy gewone boere-nugterheid—hy kan "die vurige pleit van 'n skoon jonkvrou" nie weerstaan nie! En hy gaat jou waarlik waar op die dollemansboodskap uit, ofskoon sy vrou uitdruklik verklaar dat dit "gek mense se werk is om so iets te doen" (p. 112).

By 'n nugter beskouing van die feite moet ons kies tussen twee opvattings: (1) òf Bettie is ten spyte van [Pg 147] haar drie-en-twintig jaar nog maar 'n bogkind soos Janetta haar noem, wat met die grootste onversigtigheid haarself, haar ouers en Servaas in die ongeluk stort, òf (2) in 'n toestand van radelose opgewondenheid maak die idée fixe "om haar deel aan die oorlog by te dra" haar onbekwaam om die simpelste logiese gevolgtrekking te maak. In albei gevalle word dit dan egter onmoontlik om haar handelwyse as 'n onselfsugtige, edele daad te beskou en verloor haar offer sy grootse betekenis. Soos Malherbe haar geteken 't kan sy nooit as heldin, as die "moedige Boermeisie met haar sterk en besliste karakter"[268] beskou word nie. Sy is eenvoudig die slagoffer van haar kinderlike onnoselheid of van haar "hoë aspirasies", wat ons medelyde opwek, en die bewondering vir haar kloek gedrag in die gevangenis word getemper deur die bewussyn, dat dit alles onnodig was, terwyl ons haar bowendien met reg kan verwyt, dat sy haar ouers en Servaas met sy famielie in die ongeluk gestort 't—ja selfs die dood van haar vader verhaas het. Bettie, soos die outeur haar wil voorstel, is 'n psigologiese teenstrydigheid.

M.H. van Campen het die raak opmerking gemaak, "dat kunst het zichtbaar worden der noodwendigheid in 't, voorgesteld gebeuren ten gevolge heeft, en dat het blijken dier noodwendigheid de schóónheid van 't voorgesteld gebeuren uitmaakt."[269] Dit is juis die sigbaarwording van die noodwendigheid, wat ons in Bettie se "offer" mis. Malherbe het een van die mees dramatiese momente in sy verhaal laat glip. Hy gee ons self die gegewens vir die uitbeelding van 'n geweldige konflik: aan die een kant Bettie se geheime liefde vir Bester, die bestaan waarvan sy self nog nie wil erken nie; daarmee saamgevleg die hoop, dat hy haar iets omtrent Piet Marais sal kan meedeel en bo-op dit, haar kriewelige ongeduld om na 'n jaar van gedwonge niks-doen eindelik haar lang gekoesterde plan om aktief op te tree in die oorlog uit te voer. Aan die ander kant: die besef dat dit haar plig is om terwille van haar ouers en as verloofde van Piet, wat [Pg 148] miskien nog leef alle omgang met Bester te vermy. As Bettie in só 'n konflik eenvoudig haar naasbysynde plig gedoen 't, dan sou ons haar ook sonder om te weet, dat sy dapper was in die tronk, as 'n heldin kan bewonder.

Vergeet Nie is 'n aaneenskakeling van dramatiese tonele, waarin die oorlog voor ons geestesoog verbytrek. Sonder veel verandering sou dit dan ook moontlik wees om die roman om te werk tot 'n toneelspel, waarin daar wel veel aksie, maar weinig botsing van hartstogte sou voorkom Ons kry 'n indruk van wat daar gewoel en gekook het in die hart van die volk gedurende die oorlogsjare, van die lyding van vrouens en oumense, van die dapperheid van die Kolonialers, die laagheid van die National Scouts, die vervolging en plaery onder die krygswet. Maar by die beoordeling van die boek moet ons een faktor veral nie veronagsaam nie: dit naamlik, dat die teenswoordige geslag nog in meerder of minder mate onmiddellik betrokke was in die gesketste gebeurtenisse, dat daar tallose herinneringe van die groot oorlog nog lewe in ons bewussyn. Dié herinneringe word deur die skrywer in dramatiese verhoudinge gegroepeer en iedereen kan dadelik uit sy eie ondervindinge analoge gebeurtenisse rekonstrueer. Dit versterk die indruk wat die gelesene op ons maak honderdvoudig. Die skrywer roep ou halfvergete impressies uit hul wegkruipplekkies te voorskyn. Op onbewuste wyse vul ons self die verhaal aan, en so kry dit op laas 'n aktuële kleur, 'n sterk geprononseerde persoonlike karakter, wat die leser tot in die diepste roersele van sy siel beweeg, maar wat die verhaal op homself nie besit nie.

Ek noem een voorbeeld om my bewering te verduidelik. Die teregstelling van Bester herinner ons dadelik aan Kommandant Scheepers. Die oorspronklike ontroeringe, veroorsaak deur die tragiese uiteinde van Scheepers, versterk die indruk, wat die soortgelyke lot van Bester by ons verwek en raak daar gedeeltelik mee geïdentifiseer. Die gevolg is, dat Bester-Scheepers in die roman 'n werklik lewende persoonlikheid vir ons word.

Maar nou ontstaan die vraag: Is Bester, wanneer ons ons persoonlike ervarings heeltemal uitskakel, nòg 'n lewende persoonlikheid, ontroer die wyse waarop [Pg 149] Malherbe hom uitgebeeld het ons dàn nog? Dit is die enigste wyse waarop ons die kunswaarde van Vergeet Nie vir die nageslag kan bepaal, want oor 'n tagtig of honderd jaar, sal die boek nie meer in so 'n voordelige posiesie verkeer nie, dan kan dit alleen nog profiteer van die nasionale oorleweringe van die groot stryd. En selfs dìt sal die boek nog 'n groot voorsprong gee, want by 'n volk met 'n kragtige bewussyn word die nasionale helde uit 'n vergange glanstydperk altyd met 'n stralekrans van heilige aanbidding versier. Dit is bekend dat De Geuzen van Onno Zwier van Haren lank as 'n kunswerk van die hoogste skoonheid beskou is, eenvoudig omdat dit 'n nasionale onderwerp behandel.

Maar ons keer terug tot Malherbe se karakteruitbeelding en vraag: Wat weet ons nou eintlik van Bester? Hy is 'n bekwame en dapper kommandant, wat verlief raak op Bettie. As hy hoor, dat haar verloofde nog leef, besluit hy na enige stryd om haar dit mee te deel. In die hof verdedig hy sy handelwyse op hartstogtelike manier en gaat sy dood tegemoet soos 'n held. Alleen by die beskrywing van sy laaste dae kry ons enigsins 'n blik op sy sielelewe en die totaalindruk bly vaag. Bester is sonder lewensdoordringing geteken, daar is niks indiwiduëels, wat hom tot 'n duidelike persoonlikheid maak nie.

Piet Marais eweso. Hy is 'n tiepe van die ontwikkelde Afrikaner, wat deur 'n vyfjarige studie in Europa sy insigte verruim en sy lewe verdiep het. Hy het daar "jare van worsteling" gehad, hy moes dikwels "met smart afskeid neem van oortuiinge wat (hom) in vlees en bloed oorgegaan (was) van (sy) kindsheid af." Hy was 'n ernstige soeker na waarheid, wat uit ou tradiesies en nuwe wetenskap vir homself 'n eie lewensbeskouing gebeitel het. In die karakter van Piet lê seker 'n stukkie outobiografie, maar in 'n oorlogsroman was daar geen kans vir 'n psigologiese uiteenrafeling van hierdie interessante fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse student nie. Ons wag nog op die kunstenaar, wat die botsing en gedeeltelike samesmelting van die Afrikaanse en Europese kultuur moet uitbeeld.

Ons verneem ook nog enige besonderhede van Piet se oorlogservaring en hoe hy verlang na Bettie. Maar [Pg 150] 'n lewende persoonlikheid, met wie ons al die wisselende stemminge van die awontuurlike kommandolewe deurvoel, word hy nie.

Ook Tant Annie bly 'n vae figuur. Op Bettie het sy blykbaar geen invloed nie. Selfs aan Hunt was dit duidelik, dat sy geen aktiewe rol kon speel nie en die treurige gebeurtenisse slaan haar dan ook heeltemal terneer.

Oom Willem is met meer liefde geteken. In sy bybelvasteid, sy afkeer van pronk en na-apery is hy 'n tiepe van die Afrikaanse boer. Ons verneem dat "dors na kennis hom aangespoor (het) tot selfopvoeding", maar uit die opgawe van sy biblioteek blyk, dat dit hoofsaaklik godsdienstige kennis was, waar hy na gestreef 't. Hy bly getrou aan die Engelse regering, omdat sy godsdienstige oortuiging hom leer, dat rebelleer sonde is. Maar, as hy later persoonlik kennismaak, met die onregverdige taktiek van die Engelse, laai sy haat op teen die vyand van sy volk en kry hy simpatie met die rebelle. Vergeet nie is die plegtige boodskap, wat hy aan Servaas gee op sy sterfbed.

Bester, Piet Marais en Tant Annie is karakters, wat getiepeer, maar nie psigologies gekreëer is nie. Die skrywer staan te veel met sy eie ekheid tussen die objektief beeldende teksdele, hy mis die gawe om sy gegewens tot 'n saamgegroepeerde eenheid te bring, om sy persone heeltemal objektief van uit hul eie innerlike wese te laat lewe. Deur die subjektief deurleefde werklikheid vleg hy sy eie beskouings en daardeur verdwyn die realiteitsillusie. Die roman word 'n aaneenskakeling van dramatiese momente, maar geen epiese struktuur, waarin die ganse sielelewe van 'n groot tydperk in sy gehele menslikheid tot een grootse beelding samesmelt nie.

As Piet Marais oorlog toe ry hoor ons: "Dis die eerste rit vanaand van 'n besielde Kolonialer na 'n slagveld wat so groot sal word soos byna die gehele beskaafde Suid-Afrika, na 'n oorlog wat nie sal oortref word in gemene gruweldade nie ... ens." (p. 22). Dit is wat Malherbe weet, maar Piet was tog geen profeet nie. Op hinderlike wyse dring die skrywer homself hier op die voorgrond.

Sy historiese kennis verwerk Malherbe presies soos [Pg 151] De Waal. Op pagina 52-54 staan 'n lang oorsig van militêre gebeurtenisse en op pagina 63-64 'n uiteensetting van die toestande onder die krygswet. Alleen deur 'n betoog kan hy die nodige atmosfeer vir sy verhaal skep. Só kry ons geen begrip van die dramatiek van die worsteling nie.

Soms egter slaag Malherbe daarin om deur pittige plastiek die leser direk te tref. 'n Voorbeeld daarvan is die mooi kommando-toneeltjie in hoofstuk X, waar 'n lewendige dialoog ons dadelik op hoogte van sake bring. Die brief uit die konsentrasiekamp met sy bemoedigende woorde: "Gaan voort, want ons saak is reg en God sal ons nie verlaat nie" laat ewe ons gemoed tril en ons sien die duisende vroue in geduldige lyding. 'n Oomblik later vaag die nugter vraag van Generaal De Wet: "Hoe is die posiesie?" alle droomgepeins weg. Maar as kort daarop "soos 'n magtige gebed waar berusting in ruis" die burgers se plegtige lied tussen die koppies weergalm en die generaal en sy staf met eerbiedig gebaar hul hoede afhaal, dan sweef ons op die klankedeining na 'n wonderland van heilige herinnering—dan sien ons die stoere manne "saamsing met vrou en kind, met vrind en bloedverwant onder gewyde dak...." Hier is innigheid van weergawe. Ons voel die diepe kneusing van sterk manneharte, wat op die nuwe dag in stille Godsvertroue wag. 'n Skrywer, wat so mooi die nodige sfeer met uiters gevoelige tikkies kan aandui, hoef waarlik nie sy toevlug tot koel-verstandelike histories geredeneer te neem nie. Hy hoef nie uit sy denkbewussyn allerlei verklarende toeligtings aan te voer nie—die leser vang dadelik die aksent van waaragtigheid uit die klank van sy woorde op.

Maar selfs by hierdie mooi veldtablo kom die skrywer se opdringerigheid te pas. Hy vind dit nodig om weer blyk te gee van sy historiese kennis en vertel ons dat "die wêreld in kampe van blokhuise afgeperk is ... waaromheen swaar kolomme opereer met 'n onuitputlike gedetermineerdheid om die groot veggeneraal van die Boere in die reusenetwerk van bewegende lyne toe te wikkel".[270] Dat De Wet se gevangeneming die Boer-magte [Pg 152] sou knak is 'n feit, só vanselfsprekend, dat die meedeling daarvan absoluut oorbodig is, vir ons èn vir die nageslag. Mens sou ewegoed 'n Fransman daaraan kan herinner, dat Blücher en Wellington vir Napoleon wou vang by Waterloo!! As die skrywer die orige informasie tog wou meegedeel 't, dan moes hy dit so in die dialoog gevleg 't, dat ons dit nie voel as 'n opsetlik skoolmeesteragtige opmerking nie.

Gebrek aan plastiek is daar in die volgende sinnetjie: "In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer." (p. 135.) Dit is 'n blote konstatering, wat by die leser geen impressie van die handeling wek nie. En juis in die vorige sin slaag die skrywer daar pragtig in om deur die herhaling van die woord afsaal 'n duidelike gehoorbeeld te suggereer. "Afsaal", klink dit deur die rye, "afsaal tot ver agteruit en rondom". Ons hoor hoe slaperige burgers met sware basstem mekaar die woorde nasê, totdat die klankeketting dreun in die agterste gelid. Maar in plaas van die gehoorhallusinasie te verinnig deur die geskuifel van die saals, wat met dowwe plof en stiebeuelgerinkel op die aarde bons, kom die skrywer met sy niksseggende verklaring: "In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer."

Nog so 'n geval vind ons op pagina 13. "Dit kan stil, ontsettend stil word op Rietfontein. In die middel van die dag kan dit gebeur dat daar geen lewensteken te bespeur is nie." Uit so 'n beskrywing blyk duidelik, dat die outeur nie in die toestand is nie, maar praatjies oor die toestand maak. Hoeveel mooier is die beeld waarmee hy ons dadelik die stilte en eensaamheid op Steenburg laat voel—die dorp, "waar alle geluid en rumoer van menslike bedrywigheid nietig wegsterwe soos die breek van 'n dun, droë takkie in 'n ontsaglike woud".

Dan is daar nog iets wat hinderlik is in die kommando-toneel. Japie du Plooy is "deur die invloed van Dr. Marais tot 'n waaghals en onvermoeide verkenner omgetower." (p. 138.) Ook al "in 'n omsientjiestyd"? Vir so 'n sielkundige bolmakiesie het mens 'n ouderwetse toordokter nodig en ek twyfel of Piet dié kuns in Duitsland geleer 't.

[Pg 153] Daar is nog meer voorbeelde van die neiging van die skrywer om hom tussen sy verhaal en die leser te plaas. Servaas kom die dorp ingery op die 12de Oktober 1899. Dan kry ons in enkele raakgetekende lyne 'n pragtige ets van Steenburg en omgewing,—maar dit is nie Servaas, wat die dorp so sien nie—dit is Malherbe. Ons loop nie saam met Servaas onder die peperbome nie. Nee, die skrywer sit op een van die koppies en peins oor die "sukkel-werksaamheid" van klein mensies en die wyd-omhemelde velde, waarin die dorpie "soos 'n nouliks sigbare stippie" wegsink. Intussen vergeet ons Servaas totaal, verdwyn alle realiteitsgevoel. Malherbe vertolk die gedagtes van sy persone deur sy lieriese parafrase in plaas van die gedagtes self, in hul eie taal te gee.

Op pagina 34 word die gang van die verhaal onderbreek deur die volgende opmerking: "Arme Bettie en Piet, watter reggeaarde sou nie medely hê met julle nie, ..." en op pagina 46 roep hy uit: "O, die wonderlike gawe van heerlike ontboeseming aan die mensekinders gegee, ..."

Bettie se innerlike lewe word soms op fyn-psigologiese wyse deurvoel. Haar tobbery oor die lot van die geliefde, die nuansering van haar gevoelens by die verskyning van Bester, die manier waarop sy wik en weeg wat hy vir haar sou kan beteken ingeval Piet werklik dood is, dit is treffend uitgebeeld. Maar haar karakter word onwaar, omdat ons nie kan glo aan die egtheid van haar "offer" nie. Ook die tekening van Oom Willem is aandoenlik in sy egte menslikheid. Maar die groot betekenis van Vergeet Nie as literere kunswerk lê nie in die karakter-tekening of komposiesie nie, maar in die styl met sy sterk persoonlike aksent.

Malherbe se prosa is byna heeltemal vry van vreemde invloed. Dit is prosa met 'n eie ritme, prosa waarop 'n fyn digterlike waas rus. Hy beskryf nie alleen die uiterlik van wat hy sien nie, maar dring deur tot die innerlikste wese, sodat ons die geur daarvan kry. Die skroeiende son brand ons deur die hele boek, ons sien die stowwerige dwarrelwinde op hul grillige togte oor die vaal Karovlaktes. Al die wisselende natuurtonele het die skrywer diep ontroer—die skaduwees van die swart wolke, langsaam skuiwend oor die jong skaapbossies, wat "soos dwergies [Pg 154] koes"; die plasreens, wat neerbons met woeste geswiep, die langgerekte kettingligte wat geheimsinnige tekens aan die swart hemel skrywe. Op Rietfontein het hy die witgeswelde arms van die vyelaning gesien, "waar die jong vye soos klein kindervuisies aan uitloer"; Steenburg teken hy met 'n paar uiters fyn penseelstrepies—die "rustige Karodorp, dromend in selftevredenheid en wyd omwoon deur slapende koprande wat in donkerbruin pantser en ylvaal groei uitgebeiteld rus teen die ewig-blou hemel aan."[271]

Sonder aarseling vertolk die digter die fantastiese skyn wat die dinge in sy oog aanneem; sy impressionistiese beelde tril en bewe van jong lewe. Sy metafore is nie spoggerige blinkgoed, wat as versiering van buite opgeplak is nie, hul sit vasgegroei in sy skepping, wel spontaan op uit sy onbewustheid. Adonis se ou baadjie is "lewensmoeg en klaar met die wêreld", die kleurevariasie van sy gelapte ferweelbroek is "soos 'n bont mensesee by 'n wedstryd waar die son sy ligte glans oor heenstrooi op 'n vrolike somermiddag". So gee Malherbe ons telkens met 'n paar raak-etsende woorde 'n verrassend-nuwe kyk, en haal hy skoonheid selfs uit die flenter-ploiings van 'n ou Hotnot. Op die plaas het hy die "dowwe basmusiek van die ooie, swaar van dreuning nes dié van 'n aanstormende vloed afgewissel deur indringende skreenote van die lammertjies" gehoor; hy het die kalwers stofdraaie sien maak as hul onbekommerd die jong dag ingaan. Die swaar reendruppels spat teen die vensterruite "of jy ertjies saai"; die westewind, "die hoopbederwer van die Karoboer ... vlie tussen die wolke in en skeur hul uiteen met dreunende en druisende gebaar. Wild klop hy hulle uiteen, die swaar gepakte wolkemassas soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte klomp vee, totdat [Pg 155] hul uitgedun heenseil, een-een wegsmeltend onder sy verskroeiende asem, en die lug weer vry neerblou in die hittige sonstrale."[272]

So magtig is die indruk van die natuur op die skrywer, dat hy al die wisselende stemminge van sy persone met 'n stukkie natuurviesie deurwewe. As Servaas "vol van vrees vir die toekoms" teen "die vaal hange uitslinger met sy kar", dan lyk "die swygende rande so naar, so onvriendelik nes dreigende ongediertes", dan ry hy op 'n pad, wat "spookagtig wegslinger tussen die donker swartkoppe in." Wanneer Piet Marais wegry van Bettie oorlog toe, dan is dit donkermaan, dan sing "'n byterige Oktoberluggie 'n klaende sangetjie" in sy ore. En as Bettie hom agterna kyk dan straal "die blinkende sterre met oë van genade op 'n verbroke vrouehart" neer. By haar ontwaking die volgende oggend "lê die sonnegoud heilig en skoon soos 'n glimlag van Gods genade" op tafelrande en koppies. Vir Japie du Plooy en sy maats is die rooi lug 'n onheilspellende teken. Die westewind laat Bettie huiwer; "net so wreed en meedogenloos soos die stofstorm daar buite heenbruis, so het die omstandighede ook met haar lewe gespeel!" Wanneer Oom Willem weggevoer word van Rietfontein hang "'n afgryslike weer in die lug" en na die storm ruis die sagte buitjies "soos 'n vreedsame verontskuldiging vir verbygegane wreedheid" neer oor die onskuldige grysaard. En die vroue op die plaas voel "of die natuur selfs geen simpatie en gevoel vir hul leed had nie." Oor die kindertjies van Servaas "gly die sonstrale van 'n koninklike somermiddag beskermend en seënend." Oom Willem sterf saam met die ondergaande son en die geruis van die see is 'n plegtige dodeklag". Wanneer Bester sy doodvonnis hoor, sien die son "soos 'n rustige god in spraaklose medely op 'n toneel van menslike leed" neer. By die uitvoering van die vonnis kom die son weer "net agter verre rande uit ... terwyl rondom die ligfontein 'n bloedrooi halwe maan ver in die blou uitsirkel. Betyds gekom om bloedvermaak te aanskou". Hier egter kry ons die indruk, dat die son en die bloedrooi [Pg 156] maan daar met geweld bygesleep is. Veral die gekursiveerde sinnetjie bederf die stemming, terwyl die omskrywing "ligfontein" banaal is.

Wanneer Piet en Bettie na die oorlog op die klipheuwel by Rietfontein sit, dan "treur ook die son in sy bloedrooi vlieserige omhulsel, 'n weerglans van die bloed wat vergiet is op die Afrikaanse velde", maar enige oomblikke later as hul twee siele "saam(vloei) in 'n heilige vervoering van onvermengde geluk, van toekomsdrome en toekomsweelde" dan "skemer die laaste glimlag van die ondergegane son in roerlose stilte uit...."

Vergeet Nie begint met die son en eindig met die son. Meestal slaag die skrywer daarin om met sy digterlike viesie op die natuur sy stemmingsbeelde te verinnerlik, maar dit word ook soms bloot manier.

Naas eg-Afrikaanse beelde, wat getuig van fyn waarnemingsgawe kry ons egter ook flou-geryde uitdrukkings soos: "Verder het hy die sleutel waarmee hy onmiddellike toegang tot Bettie sou verkry", (p. 69); Bester is oortuig van sy "onblusbare liefdegloed" vir Bettie (p. 96); Aan Oom Willem het die willekeur sy skaamtelose hand geslaan (p. 149); Bester het sy vonnis in die gesig gekyk soos 'n marmerbeeld (p. 186); die maatskappy, waarvan hy 'n bruikbaar lid geword het (p. 17); vanaand sal 'n nog bitterder leed haar siel deurboor (p. 19); Daar brand 'n vuur, daar gloei 'n drif, 'n hartstog wat geen stormvloed sal uitdoof nie, daar setel 'n beslistheid wat die teerste bande nie sal verander nie. (p. 22). En so staan hy daar voor Servaas as 'n toonbeeld van goeie voornemens.... (p. 7); ens.

Ook onvervalste retoriek: Die suiwer suiderhemel met sy ontelbare flikkerbronne ... 'n klanklose(?) prag van lewende juwele gesaai oor die grondelose boesem van die lug, ... (p. 44); 'n gloeiende naald boor langsaam deur sy siel, agterlatend 'n smal baan van verskroeide lewensvreugde (p. 44)—'n beeld wat positief walglik is.

Dan vind ons ook nog uitdrukkings, wat onduidelik en onbeholpe of minstens vreemd is: Bettie is besig om met haar eenvoudige musiek "die grondtoon van haar lewensgeskiedenis te vertel (p. 73); die trek van verwyt in haar vader se woorde (p. 105); 'n woord wat wreed [Pg 157] sou val op die tere bodem van plegtige liefde ... (p. 38); Bettie is die voorwerp van die liefde (p. 18); Dit is of sy beperktheid oor homself weggegroei ... het (p. 195); Bester met sy listige planne en parmantigheid moes in die hand kom, ja selfs op sy lewe was dit gemunt, waar kleurlinge in diens van Sy Majesteit hul lewe moes prysgee onder sy hande! (p. 161); Bester "met sy onverskrokke bende (p. 161);[273] program (p. 31); aanspeling i.p.v. toespeling[274] (p. 77 en 90); vuurgeveg (p. 140); Daarheen word gestuur wat in die oë van die Engelse outoriteite as lastige pro-Boer-mense verskyn het ... (p. 151). Alle kommunikasie met die distrik (is) afgesny en handel tot 'n nietigheid afgedruk (p. 82); sommige oomblikke voel dit hom of sy verstand hom begewe onder die invloed van gedagte (p. 150).

Waagmoed is 'n ongelukkige neologisme; wikkelwakkel is ontleen aan Guido Gezelle se gedig: "Bonte Abeelen" "Die Dood se grillige ontklemming" is geen Afrikaans nie. (p. 154). 'n Voorbeeld van lelike klink-klank staan op p. 175: Dit was 'n beleefde voorspel van die treurspel." Malherbe is trouens nogal lief om kort op mekaar, soms in een sin dieselfde woorde te gebruik. So kry ons tweemaal toevallig op p. 99; warrel op p. 65; huis op p. 17, skynbaar op p. 18, nou op p. 14.

Gevoel is maar al te dikwels gemengd—'n stereotiepe niksseggende uitdrukking: (p. 24) daar woel 'n mengeling van gevoele in haar siel; (p. 66) 'n warreling van gemengde gevoel.

As 'n kunstenaar ons vertel dat iets onbeskryflik is, dan is dit 'n belydenis van onmag of 'n retoriese reminisensie. Enige voorbeelde: (p. 65) Wie beskryf haar sielelyding ...; (p. 44) met 'n onbeskryflike krag; (p. 46) die onbeskryflike weelde van onbeheerste gevoel.[275] Op [Pg 158] p. 34 kom nog 'n ouderwetse slim draaitjie voor: "Bettie is toe na haar kamer gegaan en ... wat sy daar gemaak het, sal iedereen wel weet wat van meisies kennis het"! En wat moet ons dink van die "arme student wat met 'n verskeurde hart en verslae gees moet afskeid neem van sy dierbaarste op aarde en dit vir baie lang tyd"! (p. 34).

Afgeslyte uitdrukkings ontstel ons in dubbele mate by Malherbe omdat sy stylkuns oor die algemeen deur so 'n innige, suiwer-eenvoudige woordkeus beheers is. Ons voel dat hy gesoek het na die alleen-juiste woord en dikwels klink daar 'n harmoniese toon in sy geïndiwidualiseerde sinsbou. Hy wou méér gee, dan 'n gewone amusementsroman en as een van die eerste kuns-uitings in prosa sal sy werk steeds van belang bly. Hy het die joernalistieke vaalheid uit ons taal weggevaag deur sy fleurige beelde, ontleen aan Afrikaanse veld en lug, en daarby besit hy as digter 'n fyn gevoel vir woord- en klankwaarde.

Ten spyte van die foute in sy styl en komposiesie hang Vergeet Nie soos 'n klein druiwetrossie in die groen wingerd van ons letterkunde. Die beelde met hul Karo-omwaasde ongereptheid is die wynkleurige korrels, mekaar verdeukend in die transparante ronding van sappige swelling, wat die tingerige steeltjies in hul liefdegroei bedek. En wie, stil-gelukkig, die korrels een vir een in al hul sonnegeurende sappigheid geproef het, sal ook die tere stingeltjie nie àl te wreed vergooi nie.

§ 7. Mej. Chris. C. Euvrard.

Van Chris. C. Euvrard, onderwyseres in Rhodesië het drie novelles verskyn: Twee Susters, Lena en Twee Broers. Haar werk word hier alleen vermeld, omdat aan Twee Susters in 1914 die eerste prys toegeken is in die jaarlikse wedstryd van die Akademie. Dit is van geen letterkundige belang nie, en bevat oorlogsondervindings in onbeholpe skoolmeisies-styl. Ter tiepering 'n enkel staaltjie: "Lena was skaars onder die seil uit, toe een van die wagte wat by die wa was, vir haar vra of hy die seil sal aftrek. Lena sê ja en in 'n paar oomblikke [Pg 159] was die seil af en kon almal weer lug kry. Die seil was maar net af van die wa, toe 'n offisier daar kom. Hy begin met mev. van Eeden en tant Sannie te praat, en terwyl hulle nog praat, kom 'n paar soldate ook by die wa en begin ook met die meisies te praat." (Twee Susters2, p. 45.) Die redakteur van Die Brandwag het in Des. 1918 nog verklaar, dat ofskoon haar werk oppervlakkig is dit "veel daartoe by(dra) om leeslus op te wek by die wat anders nooit 'n boek sou opneem nie" (p. 214). Vir die taalstryd mag dit dus miskien wel van enige betekenis gewees het.[276]

§ 8. Joubert Reitz (1880-1919).

Joubert, 'n seun van President F.W. Reitz is gebore op Bloemfontein in 1880, kort na die slag van Majoeba. Daarom het sy vader Generaal Piet Joubert gevra om sy peetoom te wees. Met die oorlog van 1899-1901 het hy dadelik aangesluit by die Pretoria-kommando. In 1900 het hy gedien onder Kaptein Heinrich du Toit en terwyl hy in die Soutpansbergse distrik siek lê aan die koors, het die Engelse hom gevang en na Bermuda gestuur.

Na die vrede is hy met twee broers Madagascar toe, maar omdat dit daar nie na hulle sin was nie, het hulle teruggekom na die Transvaal. Joubert het hom toe as prokureur op Potchefstroom gevestig, waar hy in 1919 oorlede is.

Van hom het verskyn twee romans: Die Dolosgooier (1916) en Beproewing (1918). Vir die Potchefstroomse koerant het hy dikwels gedigte en prosastukke geskrywe, meestal van grappige aard. Onuitgegee is 'n reeks artiekels oor "Oom Fanie en sy ervarings met 'n maai- en vliegmasjien."[277]

[Pg 160] Die Dolosgooier.

Frits Kok, 'n Johannesburgse klerk gaan na die diamantvelde by Bloemhof, maar die groot geluk bly weg. Gedurende 'n aanval van moedeloosheid wil hy vertrek, nadat hy op die stasie "'n sterretjie" gesien het, maar sy kaffer gooi die dolosse en die se voorspelling blyk juis, want Frits kry 'n paar mooi diamante. Nou trek hy weg om sy "sterretjie" te gaan soek en al gou blyk dit, dat sy die dogter is van Harvey, met wie hy 'n vennootskap gesluit het. Met Collins het hy op Bloemhof moeilikheid gehad en dié strooi nou skinderpraatjies uit, want hy het ook 'n oog op die "sterretjie". Collins slaag daarin om 'n fabelagtige skat uit Sekekoen se kafferstad te roof, maar hy beswyk aan 'n wond op die hoëveld, waar Frits hom nog eers verpleeg. Frits laat die kaffers £5000 betaal vir die verlore diamante en die dolosgooier se twede voorspelling kom ook reg, want hy sluit Maria in sy arms.

Beproewing.

Hierdie roman is meer of min op dieselfde plan gebou as Die Dolosgooier. 'n Doodgoeie jonge man word vervolg deur 'n gewetelose skurk, maar na baie moeilikheid triomfeer die onskuldige, word plotseling skatryk en trou met die meisie, terwyl sy mededinger deur 'n koeël uit die weg geruim word. Die ekspediesie na Duits-Suid-Wes en die opstand vorm die agtergrond van die verhaal; 'n vervalste tjek gee aanleiding tot verwikkeling en die spanning oor die erfenis word deur middel van 'n naamsverandering tot die ontknoping bewaar.


Teen sy sin en oortuiging het die skrywer deelgeneem aan die Duits-Wes-veldtog. Die raamwerk van Die Dolosgooier het hy in 'n militêre gevangenis geskryf, want hy het in die hande van die Duitsers geraak. Later het J.H. Malan, die "Oom Fanie" van die voorwoord dit persklaar gemaak, onvoltooide gedeeltes verder uitgewerk, taal en styl verbeter, kortom die hele boek oorgeskryf met behoud van die oorspronklike [Pg 161] intriege.[278] Dat die aandeel van die bewerker taamlik groot was, blyk uit 'n vergelyking met Beproewing, waarin taal en styl so sleg versorg is, dat die verhaal feitjik onleesbaar is. Dit krioel van anglisismes en alle moontlike foute. Reitz had aanleg om 'n spannende intriege inmekaar te sit, maar sy uitdrukkingsvermoë was hopeloos swak. Selfs na die skawery van die bewerker het daar in Die Dolosgooier soveel oorgebly, wat onbeholpe is, dat van letterkundige verdienste weinig sprake is, ofskoon dit deur die handige toepassing van Afrikaanse motiewe seker tot die beste van ons awontuur-romans behoort.

As voorbeeld van die kreupel styl en taal kan die volgende dien: "Frits, hoewel 'n jonge, onervare man, terwyl hy nog onder sy komberse half-sit, half-lê, naar die pragtige natuurprent kyk, gedronge om die natuurskoon in oëskou te neem en, daar hy 'n dorpenaar was, moes tot die konklusie kom ... ens. (p. 17); Harvey ... had die saak van die likwidasie moet laat vaar.... Harvey het dit so haastig aangeneem, dat die kêrel had begin te dink...." (p. 105). Anglisismes groei ook nog geil: (Hy) moes van skool om sy eie lewe te verdien (p. 4); ons geluk is uit (p. 26); hy begin te voel dat die grappie nie die kers wêrd was nie (p. 146), ens.

Op p. 3 is daar al 'n toespraak tot die "troue geagte leser" en dwarsdeur die verhaal bly die skrywer aan die woord. Collins, Hooper en Petrus is tiepes van die bekende volbloed skurke. In Beproewing neem die politiek 'n groot plaas in. Die skrywer sê self: "Maar laat ons liewer nie van die dinge praat nie, anders word die verhaal 'n politieke vlugskrif...." (p. 97), wat dit dan ook teen die end werklik word.

§ 9. Jochem van Bruggen.[279]

J. van Bruggen is gebore te Groede in die provinsie Zeeland, Nederland, op 29 September 1881. In 1892 het sy vader hom in Johannesburg gevestig. Aan die [Pg 162] Pretoriaanse gimnasium het Jochem begint verse maak oor die Voortrek. Die Anglo-Boere-oorlog het 'n end gemaak aan sy studie en vir sewe maande was hy op kommando, totdat hy, by die oorgawe van Johannesburg vasgekeer is. Van toe af moes hy vir homself sorg en in plaas van ingenieur te word moes hy lewe van die geringe verdienste, wat 'n agentskantoortjie aan 'n onervare jong man in daardie tyd kon gee. Na die vrede het hy in 'n wassery die gestrykte wasgoed in pakkies opgemaak, boordjies getel, ens. Maar dit kon hy nie uithou nie. Hy het uitgebars die veld in, ruimte toe en by sy boesemvrind G.J. Oosthuizen op Steenkoppies gaan woon. 'n Tydlank was hy daar onderwyser aan die C.N.O. skool. 'n Debatsvereniging en koor het onder sy leiding gebloei, terwyl daar ook van hom toneelstukke opgevoer is. Sy volgende onderneming was 'n tabaksbesigheid, wat hy met sy vrind Oosthuizen opgerig het. Aanvanklik het alles goed gegaan, maar later, veral deur 'n konneksie met 'n uitgeslape seun van Israel het die besigheid 'n totale mislukking geword, met die gevolg dat albei in 1909 diep in die skuld was. In Ouboet is o.a. 'n sydelingse herinnering aan hierdie episode, wat vir 'n tydlank sy letterkundige aspirasies heeltemal gesmoor het. In 1912 het hy sy Voortrekkerverse weer verwerk, maar kon geen uitgewer daarvoor kry nie. In 'n wedstryd van Die Brandwag het Die Praatmasjien in 1914 'n prys gehaal en van toe af het Van Bruggen sy koers gekry.

In 1917 het sy roman Teleurgestel die Hertzogprys van die Akademie behaal en in 1920 is sy kort verhale onder die tietel Op Veld en Rande gebundel. Van 'n nuwe roman, Ampie het twee hoofstukke in tydskrifte verskyn. "As boer moet ek in hierdie swaar tye net my kop gebruik om die boerdery agtermekaar te hou, wat my werk as skrywer uitermate belemmer", skryf Van Bruggen na aanleiding van Die Burger se enquête. Die Burgemeester van Slaplaagte het in die serie Almal se Boeke in 1922 verskyn.

Teleurgestel,

is 'n roman uit die Anglo-Boere-oorlog. Die Boere van Waterval en omstreke is besig met skyfskiet as die [Pg 163] veldkornet hulle kom opkommandeer. Dirk Liebenberg het sy afgeleefde ouers na die kruitbadjie by Waterval gebring en op 'n wandeling deur die kloof probeer hy om Maria Brinkman oor te haal om sy vrou te word. Sy gee egter die voorkeur aan haar ou speelmaat, Gys, wat as gevolg van 'n speelse opmerking van haar die kordaatstuk uitvoer om 'n blom op 'n gevaarlike krans by die waterval te pluk. By dié geleentheid word Gys en Dawid, Maria se broer, deur Swartbooi, 'n geheimsinnige potteskuurder in 'n spelonk gelei, waar hy vir hulle dolosse gooi en somber voorspellings oor die naderende oorlog maak.

Na vyftien maande kom 'n kommando nuwejaar vier op Waterval. Dirk koester hands-op-planne, wat afstuit op die idealisme van die vrouens. Later vind hy geleentheid om met Stols en Greef, wat graag hul famielies wil besoek stilletjies af te swenk van die kommando. Hy trakteer hulle op 'n paar goeie doppe "perskesop". Stols is 'n swak jabroer en laat hom maklik oorhaal, maar Greef ry met sy maats se perde terug kommando toe. Dirk vind Maria nog onhandelbaar en sluit in groot verbittering by die Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak, Stols sukkel terug Boere toe, maar laat in sy verbouereerdheid sy geweer agter, wat die vyand aanleiding gee om die woonhuis op Waterval af te brand. Deur Dirk se verraad word Gys en Dawid vasgekeer in Swartbooi se grot, waaruit hulle met moeite ontsnap. Gys word later gewond, die vrouens raak in die kampe, maar na die vrede trou Gys met Maria, en Dawid met Elsie Greef, terwyl Dirk 'n suiplap word.

In Teleurgestel het Van Bruggen sy oorlogservarings verwerk. "Hy het die verwoeste plase gesien na die oorlog, en hy het geluister na die ondervinding van die Bittereinders, na die verhale uit die tyd toe die Engelse oor Steenkoppies en omgewing hot en haar getrek het en uit die droewe tyd van Johannesburg se renbaan."[280] Swartbooi se prototiep was "'n verdwaasde ou kaffer, wat die Hartleys—daardie tabakmagnate—se [Pg 164] kombuisgereedskap geskuur het, dag vir dag in 'n driffie en as 'n malmens geskreeu het party nagte as hy rondloop."[281]

In Die Burger het Van Bruggen verklaar: "In ooreenstemming met my vorige werk, sal my strewe bly: 'n afbeeldsel van die lewe soos ek dit gewaar, wat duidelik sal staan in die skynsel van romantiek."[282] Nou is "romantiek" juis een van die terme wat moeilik definieerbaar is, maar Van Bruggen wil blykbaar te kenne gee, dat hy geen realis in die enge betekenis van die woord is nie. Is die opvatting juis, dan gaan hy van dieselfde beginsel uit as meer dan een kunstenaar van betekenis. Johan de Meester sê b.v. "En als ik iets als onbelangrijk voel—als een ding dat me niet interesseert—dan is 't het realisme, dat aan de loutere beschrijving zonder meer van een brok werkelijkheid z'n volle kracht geeft. Dat zou ik nooit kunnen doen."[283] Cyriel Buysse verklaar: "De beschrijving van een realiteit is toch heel iets anders dan die realiteit.... Als de artiest niets aan de werkelijkheid toevoegde, zou hij geen artiest zijn. Het beschrijven van détails zonder meer, zooals Van Deyssel wel eens heeft gedaan, daar voel ik niets voor. Dat kan ik niet mooi vinden. "L'âme des choses", zooals de kunstenaar die voelt, moet uit zijn werken spreken."[284] En Is. Querido verklaar met die grootste stelligheid: "Ik moet met mijn innerlijk leven ingaan op de dingen ... ik kan de dingen niet klein zien: ik moet ze vergrooten, doorlichten ... ik moet er heelemaal door vervoerd worden ... Ik heb niets aan de realiteit!"[285]

Ofskoon ons Van Bruggen se beginsel dus kan aanvaar, lei sy ver-romantisering dikwels tot 'n sodanige vermooiing en opsiering van die werklikheid, dat die egtheid van sy figure in die gedrang kom. En daarvan sê Querido: "Elke willekeurige fantastische belichting van 'n werkelijkheidstafereel ... wordt valsch maakwerk, onechte, gedrochtelijke romantiekerij."[286] Swartbooi met "sy dwalende [Pg 165] brein, wat sy lewe so vol misterie maak" (p. 195), sy geheimsinnige grot en orakeltaal is seker romanties geteken, maar wek skeptiese bedenkings van ernstige aard. Gys en Maria op wie ook 'n sterk romantiese skynsel val, bly vir ons vae figure. Stols daarenteë, wat deur sy jabroer-geaardheid geen aanleiding tot romantiekerige vermooiing gegee het nie, is deur 'n raak-realistiese uitbeelding tot 'n lewende mens geword, wat ons nie maklik vergeet nie. Arme Liepie met sy "bang-oormekaar-kyk oë", seer rug en orige knipmes ken ons deur en deur. Nog 'n ander byfiguur, Moeder Greef met haar laslappies en ou-mens gemaal is met trekkies van boetserende fynheid geteken, terwyl Luikes Greef met sy droë humor ook goed geslaag is.

By die uitbeelding van Dirk Liebenberg gee Van Bruggen 'n psigologiese uiteenrafeling, maar sy afkeer van die skepsel van sy eie verbeelding is só groot, dat dit hom nie geluk om onpartydig teenoor die figuur te staan nie. Sy haat vir die walglike kreatuur het hom verhinder om heeltemal op te gaan in Dirk se psiege. Reeds in die eerste hoofstuk verraai hy deur 'n kwasi-twyfel sy vooroordeel. "Ons huiwer om hom so wreed te beskuldig, want ons ken sy verlede nie in besonderhede nie. Miskien sal die toekoms 'n gedagte aan die moontlikheid daarvan regvaardig."[287] Nou weet ons al: Dirk gaan die sondebok word, en die ongeregtigheid word dan ook by wavragte op hom gelaai! Maar let wel, Van Bruggen sèlf ken sy verlede nie in besonderhede nie. Hoe kan so 'n persoon nou ooit fel-lewend vir ons word? Met 'n sug van verligting neem die outeur afskeid van hom: "En so het ons klaar met Dirk" (p. 219). Hy het só boos geword, dat hy hom, na 'n paar kwaai trappe vir ou-laas, uit sy verhaal bons! Dit word mos bruilofstyd en daarby pas Dirk, die suiplap met sy "valse gryns" nie. Maar dis 'n oplossing, wat ons nie bevredig nie. Geslaag is die figuur nie, ofskoon daar telkens brokke treffende analiese is. Maar meestal neem Van Bruggen teenoor Dirk die houding van 'n bestraffende regter aan. "Kan 'n wolwe-aard so gou verander [Pg 166] in skape-gedweeheid; 'n dwingeland in 'n oë-dienaar ...?" (p. 12). 'n Oomblikkie tevore het hy nog gehuiwer "om hom so wreed te beskuldig", maar nou is sy vonnis al gevel. Juis die bo sy onderwerp staande gevoelloosheid verhinder hom om 'n warm-menslike omtrek aan die verraaiersfiguur te gee. Later word Dirk dan ook eenvoudig as 'n besetene uitgebeeld. "Die fluisterstem van sy gewete sterf in die diepte weg, wat Satan bliksemsnel met misdaadplanne vul" (p. 145). By die dood van sy moeder kry hy 'n "laaste kans" (p. 191). "Dis een van die momente, waarin 'n goeie gees, so hom die tyd gegun werd om tot die harde hart van Dirk deur te dring, 'n ander mens (van hom) sou kon maak". Gelukkig bly ons die koddige psigologiese gedaanteverwisseling bespaar!

Soms gaat Van Bruggen so op 'n paar tree van sy persone af staan en bepeins dan hulle toestand. Gys is "in strak starend gepeins" (p. 216). En dan roep die outeur uit: "O watter gedagtes! So sterk nog as in sy volle kragtyd ...." ens. Daar is nog meer sulke hinderlike ingrypsels van die outeur. "Die leser wat onsigbaar agter Dirk aangestap en oor sy skouer geloer het ... Dirk is te ongeduldig om die kamer rond te kyk, maar ons kan dit nog net doen, vóór die aandskemering ons dit belet" (p. 23).[288] Dit is verroeste romantegniek van die jaar nul! Dat Van Bruggen egter 'n plastiese gawe van geen geringe betekenis het nie, bewys die welgeslaagde toneel, waar Liebenberg vir Greef en Stols wil oorhaal om die wapens neer te lê.

'n Weemoedige klaagtoon van verdrietige berusting deurhuiwer die ritme van Van Bruggen se styl in Teleurgestel. Die smart oor verlore onafhanklikheid en die droewige herinnering aan oorlogsleed tril na in somber klanke. En teen die end word Van Bruggen moeg vir die trommelslae wat "die doodmars deurdof". "'n Lange sombere storie ... ons wil hom deurhardloop" (p. 222). Tog klink daar soms 'n skaterlag; as die kakies retireer vir 'n rollende pampoen (p. 173) en Greef vir Stols laat "handsop" (p. 156). 'n Paar mooi kindertoneeltjies beloof iets vir die toekoms.

[Pg 167] Opvallend is die gebruik van koppelwoorde soos: knutselwerk-uitdenk-vermoë (p. 230), swaai-arm-beduie (p. 9), goudblom-oorlaai (p. 20), droomglans-dowwe oë (p. 195). 'n Enkele maal word daarmee 'n mooi effek bereik, maar meestal gee die oorvloedige aanwending 'n indruk van gesogtheid, terwyl baie saamkoppelings in stryd met die taaleie is. Die voorliefde vir lang-asem sinswendings versterk die sware klank van sy prosa, wat met afgemete pas moeisaam voortbeweeg. En daardeur ook hoor ons telkens dissonante b.v.: "Van onder oop, het hoëveld se voor- en najaarsstorme daardeur gestroom en binne die lang huise opgestuiwe in die smal-langwerpig drukke reghoek-ruimte, waar die lewe in en uit rumoer na sy hokkies, en kinders spelend raas, natbesweet" (p. 221). Tog het Van Bruggen deurgaans 'n fyn gevoel vir woordklank. Telkens kry ons brokkies van sinne, wat in gereëlde versritme vorentoe gly; "en vínnig word haar stáp, ofskóon sy dralend peíns oor wóndervraág...." (p. 77). Maar ons stuit ook op klinkklank: "terwyl sy rol-oë die kamer vergenoeg deurrol" (p. 114); Al kante uit wil hy koers vat, so rol sy uitpuil oë al kante uit (p. 149); dat drie ... by die val hulle eie val sal vind (p. 194); dit beslis die twyfel van die onbesliste goeie man (p, 150).

Koppelwoorde en sinsbou gee aan Van Bruggen se styl 'n moderne cachet. 'n Allersnaakste indruk maak daarnaas, die ouderwets-retoriese taal, soos ons die ken uit die Hollandse predikante-literatuur van vóór 1880, wat ook nog dikwels van Suid-Afrikaanse kansels gehoor word. 'n Knagende wee, wat die hart verteer (p. 86); Daar drup dit in sy hongerige siel heilsame lafenisdruppe en sy gedagte sien, as deur hemelse ingewing ... (p. 83); wat alles die plegtige oomblik verhewe maak (p. 67); 'n Sug ... tower 'n nuwe gevoel in sy boesem (p. 51); 'n swarte afgrond ... gaap (p. 76), ens. Dit krioel ook van sulke domineesterme soos: hartsvriend (p. 202), hartebodem (p 76), brandende gemoed (p. 50), tomelose hartstog (p. 126), geestesoog (p. 57), skoonste hemeldeug (p. 80), ens.

En hoe deftig paradeer Van Bruggen met 'n hele kommando holrug perde! Dit is perde wat al meer as 'n halwe [Pg 168] eeu nie meer "pylsnel oor die pad sweef" nie (p. 70), dis ou doodgemoorde knolle, wat skaars nog 'n vuiliskar kan trek. Gys is die "eweknie van Dawid in geesdriftige opwerping van oorloglugkastele"; daar is in die kloof "'n reusemagneet" wat hom trek (p. 56); "Die ontboeseming was as 'n warme son, wat die yskors ontdooi" (p. 82); "toegedekte liefde (het) haar windsels afgegooi" (p. 99); Die liggie lei hom soos 'n vuurtoring die ... skip (p. 167); aan bande gelê (p. 169); ens. Gelukkig kry ons tussen die muwwe, onpersoonlike beeldspraak so 'n enkele keer 'n fris veldwindjie: As Swartbooi die plaasmense sien wegvoer deur die kakies dan is "die lewe wat in sy oë kom blink, ... soos die ... in 'n koei se oë, wat wild oor die kraalmuur kyk, wanneer haar pasgebore kalfie hok-toe weggedra word", (p. 196); "die stryd teen onsigbare wapens ... soos mambas in die ruigte" (p. 192); "Af drif toe ... kom 'n groot tentwa aangeklop" (p. 7). Daarnaas kry ons egter weer sulke badkamer-beeldspraak soos: Maria "aarsel niks om 'n doeltreffende bekoeling uit te giet nie oor sy brandende gemoed"! (p. 50); "Of 'n vloed yskoue water oor hulle rugge uitgegiet word, so laat, wat agter is hulle ril" (p. 65). Ook onsmaaklike triwialiteite soos: "Daar is geen druppel bloed meer in Stols se neuspunt nie; dis alles weggestroom na die midde van sy romp ..." (p. 157).

In sy natuurbeskrywing is Van Bruggen onbeholpe en soms banaal. Hy skerm met groot woorde wat volkome retories en aandoeningloos van algemeenheid is. "Die skone dal lê voor die perdelose ruiters in volle somerweelde. Die ou opstal lyk so skilderagtig.... Ook is dit of die skouspel hom hipnotiseer.... Die ganse moot brei uit in sombere somerweelde" (p. 126-7). Sulke niksseggende frases laat ons heeltemal koud. Nie deur die woord somber ontstaan die indruk van somberte nie. Die somberte-emosie moet hy in beeld bring, moet hy ons laat aanvoel deur plastiese trekke. Maar hy verswak nog meer die indruk van sy frases deur te praat van "die lentegroen, (wat) in jeugdige ydelheid wou spog ..." En dan vervolg hy met valse, ondeurvoelde beeldspraak: "Uit egaal donkergroen spreek nou éénselfde stemmige gedagte, waar uitgeswelde rypheid elke deeltjie van die ernstige boskasie [Pg 169] herinner aan verwelking." Dit is viesie-verknoeiing. "Die stemming deel sig onbewus mee aan die twee ..." Juis, onbewus, want hoe dit gebeur bly vir ons 'n raaisel. En dat Stols en Dirk albei in presies dieselfde stemming geraak, is papier-psigologie! Daar is nog meer holle frases: "Dieselfde voorjaarsagtermiddag het ook sy toweraandeel volbreng in die natuurherlewing" (p. 20). Dirk kry "lewens-lente-visioene"! Die voëltjies sing mooi "en dis of die ganse omgewing wil meedoen aan 'n gemoedsontboeseming"! (p. 31) "Grootse natuurskoon" (p. 47), "roerlose aandskoonheid" (p. 90); "dis van die aande, waarin natuur sy wonderskoonheid wys met stille majesteit" (p. 166), "ruwe natuurprag" (p. 52); "Die lente het weer 'n jong gewaad oor die velde gesprei" (p. 202). En op p. 52 is daar weer "'n grootse gedagte, wat setel in die lower-woestheid". Die gedagte spring van sy "setel" af en hou 'n netjiese prekie in die tale Kanaäns. "Dis 'n plekkie, wat mensekindere wil goedmaak en verhef bo wêreldse nietighede," ens.

Duisterheid is dikwels die gevolg van die retoriese opblasery. "Die kranse voor en weerskante is hoog en amper loodreg, bedek met ruwe natuurprag, wat gestapel op kwynend-skemerlig en duister ... (p. 52). Hoe moet mens jou nou 'n voorstelling vorm van wilde plante gestapel op skemerlig en duister? Op p. 32 is daar "klanke, wat hemelwaart denk en dankbaar swewe, vir sparende liefde ..." Al slaan denk ook op gevoel dan is dit nog 'n onbeholpe parallelisme. Onverstaanbaar is: "Ligvlekke, wat die boomskaduwees werk, hou vaste lyne" ens. (p. 87). En wie hoor nie die gekreun van die bombastiese blaasbalk agter sinne soos die volgende: "Dis pynlik om die afbreuk van geesverbystering (?) te sien, wat flou, al flouer 'n kwynend verset teen eie onmag vertoon en in sielsmart oorgaan ..." ens. (p. 9). Maria se "sterk gestel (het) begin te luister na die stem van siekte. Tallose skrikgedagtes het senewee-skokkend met haar liefde gespeel en bondgenoot geword van 'n ongesteldheid wat haar sou neerdruk ens. (p. 234-5) En daarom het die siekte so gesloer om uit te breek, uit eerbied vir die grondigheid van haar verset en heldepoge." Sy kom uit die hospitaal "met twee (!) grote, siel-vertolkende oë, [Pg 170] verhewe-boeiend"! En daar is nog meer voorbeelde van sulke opgeskroefde woordkramery. Wat moet mens aanvang met taalgeknoei soos die volgende: "Humeur lê diep bedolwe onder tallose swaardrukkende gedagtes" ens. "'n Onmag van sy logies verstand, laat pessimisme die vrye teuel" (p. 82); Luikes is "oortrek deur die waas van sy karakter ..." (p. 35); "die inwendige Greef" (p. 36);[289] ens. ens.

Die verpersoonliking van abstrakte begrippe gee aanleiding tot raaiseltaal en gesogte wendings. "As die sluipgang van hulle genegenheid tuis gekom het is dit getrouheid tot die dood ..." (p. 35); "die koers ... waar vinnig verlange die bome deursoek" (p. 76); "Hartverheffende momente wat grondslag vir 'n toekoms lê en lewens bou of brokkel—kort as 'n sug, 'n fluisterwoord, 'n oogstraal as diamante bly skitter aan die langste lewensdraad en nog glansies op sy rafelpunt werp; gebonde aan seisoen nog tyd" (hoe rym dit met "kort as 'n sug"? P.C.S.) ens. (p. 106.) Met nog een voorbeeld van Van Bruggen se onbeholpenheid kan ek volstaan: "Maar lewe het vasgeklem aan sy omhulsel met ongekende adhesie, waardeur die wetenskap verbaas, wat eers verwaarloos werd, omdat geen hoop bestaan het nie, met ywer die omhulsel onder sy behandeling geneem het." (p. 214).

Die dialoog is meestal onnatuurlik-styf en soms so deftig as 'n redevoering. Gys sê: "Dis of natuur 'n moedwil toon om haar wonderwerke treffender te maak. (p. 53); Ons volksaard is opgeruimd en vol korswil, wat wys veral op sulke dae, waar hoop, by nuwe begin, ook nuwe ambiesie gee" ens. (p. 89). En hoe netjies ryg Dirk sy sinne aan mekaar as hy pleit vir Maria! Hy eindig so: "Die hoop sal my in doodsgevaar dapper-versigtig, in moedeloosheid vasberade maak en my nasie laat liefhê, omdat jou ideale myne sal word!" Met dié woorde vat hy haar hand "wat sy nie kon terug trek nie, omdat haar sielestryd onbeskryflik geword het." Dieselfde onmag om heftige emosie plasties uit te beeld vertoon Van Bruggen ook waar hy Dirk se houding moet [Pg 171] beskryf: "As hy verneem dat sy moeder gestorwe is, voel hy getref en kyk somber na die aarde voor sy voete." (p. 191.)

Die taal van Teleurgestel is sterk Hollands gekleur. Woorde soos bot, mat, meewarig, halfliggend, gebly (gesneuwel) (p. 111), hawe, struik, dryn word dikwels aangetref. Maar ook die sinsbou is onafrikaans en veral die gebruik van infinitiewe vorme is storend. "Maria hunker na meer wete, nou die skiete opgehou het" (p. 171). Van sulke vorme krioel die boek en dit gee soms aanleiding tot duisterheid soos op p. 184: "'n wese, wat versuim tot sy kom". Onafrikaans is ook: "Maria en Elsie doen saam in die spel" (p. 91); "waarvoor diensies" (p. 6). Die gebruik van die vorme en het is soms verkeerd.

Op Veld en Rande.

In Op Veld en Rande (1920) is dit moeilik om die skrywer van Teleurgestel te herken, as die laaste verhaal, Die Beeswagtertjie buiten beskouing bly. Alleen enkele stylwendings soos "wit orkaan gedrewe wolke" (p. 122), en 'n paar geykte frases soos "toe twee harte, wat lief en leed van die wêreld verstaan, opreg ineensmelt!", "sielsgenot" (p. 109), "hartsgevoel" (p. 28), "hartetaal, vol gloed" (p. 59), herinner aan die manier van Teleurgestel. Hier ook geen romantiekerige opsiering, maar onvervalste werklikheid. Hoe raak en eenvoudig-waar word Sitman, die "meeldiaken" met sy "ongebleekte kussingsloop" nie geteken nie! Hy is die man, "wat sit waar hy sit", "die elfde plaag" (p. 27). Soos Van Bruggen hom geteken het met sy astrante indringerigheid, altyd kunsies bedenkend om tog maar nooit aan die werk te kom nie, sy windmaker-praatjies wat eie nietigheid moet bedek, sal die bywonersfiguur lewe in ons letterkunde. Hy staan vlak voor ons met al die flenters van sy verslegting. Hoe goed is nie geteken sy poging om tog nog 'n skyn van vernaamheid te ontleen aan die reputasie van sy onbekende "ouboet Karel van Staanderton se distrik". En die dialoog is so spontaan—dis die lewende terugbeelding van egte gesprekke sonder retoriese byspinsels van die outeur. Hoor maar ou Sitman se gesanik: "Nou ja! ek hoor toe gister ... of was dit eergister ... nee [Pg 172] dit was gister, dit wil my nou goed byval—Willemse het gister hawer gelaai—ja dis reg, dit was gister.... Nou ja, ek hoor toe gister by Oom Andries dat meneer de Klerk altemit iemand sal nodig kry om hand by te sit" (p. 23). Hoe raak is ook die bywoner se hele persoonlikheid geteken in die kwasi-gewigtige wyse waarop hy meedeel, dat hy "tot 'n besluit gekom 't" (p. 256), of as hy klaag oor die baie werk (p. 43). Uit so 'n paar plasties uitgebeelde toneeltjies word Sitman vir ons meteens fel-lewend, terwyl Dirk Liebenberg, trots al die swaarwigtige analiese alleen 'n toneelskurk bly.

Ook "kromrug Bettie" met haar huilende kleinspan in die rokerige lug van die hartbeeshuis is goed getiepeer. Hoe mooi leef die moeder-instink op in die verdwaasde skepsel, as daar planne gemaak word om haar kinders na die weeshuis te stuur. Sy glo tog so vas, dat niemand anders so goed vir hulle sal kan sorg nie, al sit sy in die grootste ellende. "Daar is Driesie!... Uit die staanspoor is sy maag onderste bo!... Sal hulle tussen die kliprandjies rondloop om aambeibossie te soek? En dit laat trek? En dit vir hom ingee?—Nog nooit nie!..." (p. 54). Hoe diep het Van Bruggen ingedring in die kommergedagtetjies van die arme sieltjie!

Die ander bywoners se mentaliteit word ook met 'n paar fors trekke aangedui: Willemse, die staatmaker voorman, Neef Niklaas met sy naïef-wysgerige praatjies oor "bestiering" en "bestuur", Gouws, die dwarskop. Stols, uit Teleurgestel kon deur die oorlog nie in sy gewone lewe geteken word nie. Maar nou sien ons die bywoners in hulle daelikse besigheid, hulle getob oor allerlei kwellings en die wrokkende gevoel oor hul afhanklike posiesie. En ook hulle baas, Andries Vry, die konserwatiewe boer en Bybelvaste ouderling ontmoet ons.

'n Enkele maal kom Van Bruggen self om die hoekie loer, op pagina 29 nl., waar hy verstandige maar onletterkundige opmerkings maak oor kafferpolitiek.

Ouboet, Oom Jannie en Die Praatmasjien is ook goed geslaag. Veral die lugtige verhaaltoon val op na die sware sleepgang van Teleurgestel. Daar is 'n vaardigheid in komposiesie, 'n handige groepering van allerlei tiepes uit die boerelewe, wat met al hul eienaardighede [Pg 173] goed geteken word. As realistiese skilder van die plattelandslewe openbaar Van Bruggen 'n bewonderenswaardige deurdringingsvermoë. Stoffel Harmse, die omslagtige verteller en lastige buurman, met sy vervelende "jy kan vir Sarie ook vra", Oom Jannie en die weduwee, wat by "gebrek aan stof vir vertroulike konversasie hoofpersone uit geslagregisters van al twee kante opnoem en bespreek" (p. 101)—dit is fyn-psigologiese trekkies, wat bewys dat die skrywer hom ingeleef het in die mentaliteit van sy mense. Hulle karakter word nie bestuur deur geestige bokkespronge van die outeur nie, maar daar is 'n innerlike ontplooiing, wat ons direk as waar en noodwendig voel. Dit geld egter nie van Die Beeswagtertjie nie, wat eenvoudig 'n nugter bedenksel is, en waar alleen Kleinbooi met enige lewenswarmte geteken is. Die mynwerkers is alleen met so 'n paar strepies toneelverf bestryk en die styl het weer dieselfde opgeskroefdheid as in Teleurgestel. Veral pagina 140 is swak, waar "die onmusikale Josef 'n singlus uiter", en "'n siel-treffende Engelse liedjie" deur sy neus gons "met omgewing-influenserende dreun"! Die beskrywing van die begrafnis in Oom Jannie (p. 83) is ook gedeeltelik misluk. Die toespraak tot die "onverskillige, gevoellose ligmis" is heeltemal misplaas, terwyl die volgende sinne ons aan die paddas herinner, wat met so 'n voortreflike gawe des onderskeids die boere op Waterval verwelkom (p. 88). "Kyk! die osse hou op met wei, of die redelose vee gevoel, dat nou die tyd nie is vir sinlike lus nie," ens. (p. 83).

In die natuurbeskrywing tref ons nog gemeenplaatse aan. "In lewensvolheid juig die veld-van-reuse-blare, vol frisse groeikrag, (wat?) met die fynste silwer blink en as diamante skitter" (p. 121). 'n Enkele stylwending en woord, b.v. mande (p. 21), welk (p. 112) verraai nog Hollandse invloed. Onbeholpe of foutief is o.a. die volgende: argelose boerewerwe (p. 55); voorbeeldige besef (p. 112). In sy beperkte moreel-voel is 'n verdrietige wens (p. 129); myners-ontboeseming (p. 133); Met Sitman op die onderpunt ... gaap die reeks van bywoners en spring op die gros ... (p. 12) diamante te grawe wat stadig in die stroewe hersens vreet (p. 14); 'n Ry van arbeid (p. 15); 'n gehele [Pg 174] voorkoms, wat H. dadelik kooi toe bring (p. 41), ens. Die volgende meditasie is van die outeur en nie van Oom Jannie nie: "Daar moet weer lewe kom, waar sorgvolle vlyt...." (p. 90).

In die roman Ampie, waarvan nog net twee hoofstukke verskyn het[290] is Van Bruggen op sy beste. Hier laat hy ons as objektief-beeldende kunstenaar die lewe van die opgevoerde persone intens meeleef. Hoe suiwer is die weergawe van Ampie se gewaarwordings as sy maat, die esel verkoop word! En op wat 'n innerlik-ware toon is sy in-hom-self-pratery meegedeel! Los en natuurlik is die dialoog, waarin soms ewe 'n toon van die rou werklikheid opklink: "Ampie stamp sy simpel suster eenkant-toe: "Gee pad van my plek af!—Ma, kyk vir Ampie!—Ampie jy sal bars! brom die ma, sonder om te roer." Raak-psigologies is dit om ou "Goor Dawid" saam met Booyse vir sy seun te laat vermaan: "Ja Ampie, doen jou bes, ... dis Kaffersleg as 'n mens ongeleerd bly." Hoe rats is hy om 'n ekskusie te bedenk as hy die kontrak moet teken: "Oom Kasper, jy weet die griep.... Ek het hom in my rug gehad, en my hande was daardie tyd glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken. Kom Ampie, vat die pen onder: ek sal bo vat."[291] 'n Enkel minder gelukkige uitdrukking kom af en toe voor o.a.: "Nou is hy die voortbrengsel van wat sy taaie liggaamstemming eis en sy sintuie."[292]

Die Burgemeester van Slaplaagte.

In Die Burgemeester van Slaplaagte bly die opgaande lyn in Van Bruggen se kuns gehandhaaf. Dis 'n heel eenvoudige geskiedenis van 'n paar eenvoudige mense in 'n dooierige dorpie, maar Van Bruggen maak dit tot 'n stukkie treffende realiteit deur sy lewensware uitbeelding. Oom Lood wat "almelewe oorhoekse jukskeie en vrot voorslae" (p. 88) met 'n toegeknypte oog verkoop, is famielie van Stols uit Teleurgestel. Maar hy is met 'n dieper indringingsvermoë geteken. Ons ken nie alleen sy uiterlike [Pg 175] eienaardigheidjies nie, sy lus vir 'n boegoesopie, sy neiging om alles voor die voet te sekondeer op 'n vergadering, maar droom saam met hom oor sy toekomstige kosterskap, kreun saam met hom in sy vadersmart. Want Lewina, sy dogter, doodmoeg vir die eentonige lewe in 'n slaperige stofholte trek na Johannesburg. Goed is die ouers se instinktiewe wantroue vir die grote-stadslewe aangedui. Maar as hul dom-gerus oor die dogter se toestand huistoe kom, is dit tog lekker om so 'n bietjie te spog oor die ryk "huwelik"! Wanneer Lewina eindelik met haar skande terugkeer, tob haar vader oor die raaisels van die stadslewe, wat hy met sy onnosele Slaplaagte-logika wil oplos. Oom Lood is met soveel gelukkige trekke uitgebeeld, dat ons hom deur-en-deur ken. Die nasionale skoolmeester se skoene word toegedraai in die Engelse krant, waarmee Peach hom wou oortuig van die Duitse gruweldade! Van sulke kostelike humor is daar meer staaltjies. By Oom Lood staan dit vas: "Daar was net een vèrplie baklei, en dit was in een-en-tagtig se oorlog; en daarom het ons die Rooies toe uitgestof"! (p. 39). Van 'n kunstenaar, wat so diep in die psiege van 'n eenvoudige siel kan deurdring, kan seker nog veel verwag word. Treffend-juis is ook die uitbeelding van Tant Lewina, 'n eenvoudige werk-esel met tog so 'n gevoelige moederhart. As Boet Heina met sy plegtige waarskuwing kom, gaan sy sit "soos 'n huismoeder op 'n Sondagmôre se boekevat as sy tewens die kokery moet dophou" (p. 51). Deurtastend van geaardheid hou sy haar met geen gepiep op nie (p. 84) en verstaan die kuns om nuuskierige famielielede te troef met haar ratse tong.

Ook die byfigure word met enkele raak trekke geteken, sodat die hele stowwerige Slaplaagte met sy bewoners helder voor ons staan. Daar is Pieter van Staden met sy moedelose, don't-kêr-stemming, omdat die reent nie wil kom nie, maar vol vuur op die skoolkommissie-vergadering, waar hy sy wysheid oor windpompe uit. Die hele vergadering is 'n mooi geslaagde voorbeeld van Van Bruggen se "copiëerlust des dagelijkschen levens". Hy hoef ons nie nog te verseker, dat 'n voorval "histories" is nie (p. 60), ons voel direk dat alles eg is, so noukeurig selfs, dat dit telkens die indruk van 'n "document humain" maak.

[Pg 176] 'n Enkele maal kan hy 'n uitroep nie bedwing nie; "O, die kwaadpraat en kwaaddink van die mensdom!" (p. 38). Ook in die dialoog is daar hier en daar 'n plekkie, waar ons die skrywer, en nie die uitgebeelde persone hoor praat nie. So sê die meester: "Ek hoop julle sal van teleurstelling vrywaar wees" (p. 70), en Oom Lood: "Alles is net een infame bedrog" (p. 101). Komies is dit om net na die beskrywing van die groot droogte te hoor dat "niks (voor)val wat stof gee tot gesels nie"! (p. 4). Onduidelik is die volgende: "Op die bulteveld ... boei die eensaamheid deur 'n magtige bekoring die onsigbare werking van die skeppende Almag...." (p. 73); en slordig: "'n Trek van onverskilligheid omtrek haar oë" (p. 35).

§ 10. Gordon Tomlinson.

Gordon Tomlinson is gebore op Swellendam in 1889. Vir alles wat Afrikaans is, was hy van jongs af aan 'n sterk propagandis, sodat hy b.v. in die Anglo-Boere-oorlog van skool weggeja is, omdat hy 'n Vierkleur-ruiker in sy knoopsgat gedra het. Later het hy voortdurend stroebeling gehad met die Engelse hoof. Die meeste awonture, wat in Deur die Smeltkroes beskrywe word het in Swellendam gebeur tydens die oorlog. Eers wou Tomlinson predikant word, maar weens 'n keelaandoening moes hy die plan opgee. Op Stellenbosch het hy in die regte gestudeer en daar het hy saam met Dr. Tobie Muller en Professor J.J. Smith een van die voormanne van die A.T.V. geword, en deel uitgemaak van die redaksie van Ons Moedertaal. Later het hy hom ingespan vir die Helpmekaar en tans woon hy in Vredefort, waar hy hom met sy eggenote aan die skilderkuns wy.[293]

Deur die Smeltkroes, (1917).

Op die dorp Vergenoeg woon Oom Gert de Bruyn, "'n egte tiepe van die opregte Afrikaner" (p. 4) en Van der Bijl, 'n jingo, wat "rooier dan rooi" is. As die Anglo-Boere-oorlog uitbreek kom daar 'n end aan die [Pg 177] vrindskaplike verhouding tussen die bure, tot verdriet van die kinders, wat oor en weer verlief geraak 't—Piet de Bruyn op Susan van der Bijl, en haar broer John op Lenie, Piet se suster. Susan het egter 'n "Engelse modepoppie" geword en deur toedoen van Carel Nel, wat by die Van der Bijls inwoon raak Piet in die moeilikheid en val in ongenade by Susan. Verskeie awonture van Piet en John se skooldae word vertel, asook hul ondervindings aan die Victoria Kollege. Hulle sluit by die kommando van Scheepers aan en as John gevang word, slaag Piet daarin om die verraaier Nel te ontmasker. Van der Bijl word 'n goeie Afrikaner en tussen die jongspan kom alles reg, terwyl Nel so vrindlik is om in Australië spoorloos te verdwyn.

Deur die Smeltkroes het 'n sterk-propagandistiese strekking. Tomlinson verdedig die Afrikaanse beginsels teenoor die imperialistiese idee van Engelse en verengelste Afrikaners. Hy gaat te keer teen die verwaarlosing van Hollands op die skole, die onnasionale geskiedenisonderwys, die eksamenstelsel, "die oudwyfse Skotse sisteem alhier deur 'n Dr. Muir ingevoer" (p. 59), en "die nuwe kindergarten-metode" (p. 9). Hy laat "Jong Suid-Afrika sug om die vryheidsin, wat leef en sal leef, solank daar Afrikaners op Afrikaanse bodem wandel" (p. 53) en gebruik elke geleentheid om sy patriotiese gevoelens te lug. As pleidooi vir 'n suiwer-Afrikaanse kultuur het die boek ongetwyfeld waarde. Maar as roman beskoud is dit 'n mislukking. Behalwe die regstreekse propaganda, tree die outeur van die staanspoor af gedurig op die voorgrond. Hy spreek sy lesers toe,[294] vertel hulle wat hy met "die spelers in hierdie drama" (p. 6) gaan doen, en omdat hy hoofsaaklik 'n outobiografie skryf, verval hy telkens in persoonlike mymeringe.[295] Telkens moraliseer hy oor die dade van sy persone, b.v. "Arme Piet! Had hy maar geweet, wat voorlê. Gelukkig, egter, het die Voorsienigheid ons so gevorm, dat ons slegs vandag kan sien—en skaars dit" (p. 62)

Ofskoon hy blykbaar sielkunde by "Pappie (saliger [Pg 178] gedagtenis)" (p. 69) geleer het, blyk daar weinig van in die roman. Van kalwerliefde kry ons die volgende vermaaklike verklaring: "Nie 'n nooi, leser, soos u en ek seker al gehad het, maar een, wat jy in 'n meer idealistiese sin liefhet. Jy het haar lief, maar hoe, weet jy nie. Jy het haar, hulle ook, lief, as jy nog so jonk is, sonder dat die liefde miskien ooit bekend word. Dis somar liefhê." (p. 17-18).

Hoe weinig begrip Tomlinson het van die ingewikkelde prosesse van die puberteitsjare blyk uit die beskrywing van Piet se aankoms op Stellenbosch. "Piet stuur 'n stille gebed van dankbaarheid op, dat hy in so 'n omgewing kan studeer en besluit om van die studentelewe in sy geheel gebruik te maak, sodat hy 'n veelsydige ontwikkeling kan geniet om also bes sy land te kan dien" (p. 66). Dis kastig dieselfde Piet wat sulke uithaler kaskenades op die dorp aangevang het! Nou is hy meteens 'n suikersoet oompie, op wie Van Alphen 'n mooi gedig sou gemaak 't!

As Piet die eerste maal in 'n geveg is, word sy gewaarwordings as volg beskryf: "Die eerste paar oomblikke wis Piet nie eintlik, wat om te maak nie. Sy hart klop vinniger, en as 'n koeël oor sy hoof fluit, koes hy een kant toe. Maar gou-gou het die oorlogsgees hom oormeester...." ens. (p. 125).

Hoe oppervlakkig die psigologie is blyk uit die pogings om felle emosies te beskryf. As Piet onverwags op sy maat by die kommando afkom, word ons vertel: "Soos 'n mens maklik kan verstaan, was die wedersydse vreugde by die ontmoeting groot." (p. 122.) "Ons sal liewer 'n sluier trek oor die afskeid tussen die jong verloofde; waar die liefdegodin alheersend vir 'n oomblik is, moet die gewone mens soetjies trap." (p. 96.) Met sulke praatjies maak hy hom van die saak af!

Piet het die slapende Susan wakker gemaak met die vraag: "Het jy my lief?... Vir Piet was daardie oomblik een van die vreeslikste, wat hy ooit deurleef het. Dit was, asof die lot van die hele wêreld, van die heelal selfs van haar hart afhang. Hy hoor duidelik die klop van sy hart. "Is jy kwaad vir my?" fluister hy. Stadig draai sy haar hoof weer om, en met 'n gloed van vreugde [Pg 179] deur sy are, sien hy 'n vrindelike glimlag op haar gesig. Hy buig neer, en die hele wereld verheug hom met Piet, as hy die eerste reine soen van die onbevlekte lippies ontvang...." (p. 37).

Van der Bijl se bekering tot opregte Afrikaner is seker goed gemotiveer, maar dit is geen proses, wat as 'n coup de foudre in een sinnetjie kan beskryf word nie. (p. 110). Presies so gaan dit met Susan (p. 112) en haar moeder (p. 111).

In die karakteruitbeelding is daar die bekende skerp teëstelling tussen goed en sleg. Oom Gert is die ideale patriot, Piet en John die dapper helde, Van der Bijl die vurige jingo, Nel die lae verraaier. Die meisies is "twee beelde van deug en skoonheid" (p. 146). As Nel genoeg moeite veroorsaak 't om die "dapper helde" se "verhewe" karakter aan die lig te bring, word hy nog vir ou-laas ekstra swart gesmeer en dan eenvoudig uitgewip (p. 141). Dit is "merely a mechanical device for stopping somewhere", soos Cross tereg opmerk. "A literary form cannot exist without its art. If a fable may drift along at the pleasure of an author, with the episode thrust in at will, then anybody can write a novel."[296]

Die swaarmoedige Piet werp hom "in wanhoop ... neer op sy bed, wat skud van die storm, wat in die siel van die onstuimige jongeling woed"! (p. 22). Die "edele siele" van die arm meisies word ook "deur storme geteisterd" (p. 134, 92), hulle droom "van rose en melk, van ongekende en verrukkende klanke, van ruisende strome en bedwelmende blommegeure" (p. 72). Die toneel op die strand tussen Susan en Piet (p. 41) is taamlik sentimenteel.—"Die misterie van die nag pak hul beet; en met 'n kleine skudding,(?) skuiwe Susan nader aan Piet.... "Piet, wat makeer? Waarom is jy so stil?"—"Dit weet ek nie, maar ek word so swaarmoedig. Ek dink, dit is die verhewenheid van die heelal, wat my aangryp." ... "Dit was asof hy met die onbekende worstel, asof daar 'n wêreld van gedagte hom oormeester. Naderhand, asof tot homself sprekende, [Pg 180] fluister hy 'n Lied van Smart...." Die gevolg is "dat Susan bitterlik ween" en "met geboë hoofde keer hulle huiswaarts."

Die talryke sugte in ons Afrikaanse romans vul Tomlinson onder ander met die volgende variëteite aan: "geskok tot in die diepste wese styg daar 'n sug van die bodem van sy beroerde(?) hart—'n sug, wat 'n wêreldspraak was. (p. 29); Susan sug alleen die sug van die tevredene en die regvaardige"! (p. 116), ens.

Tomlinson skryf 'n gemaklike styl, sy taal is suiwer en die dialoog meestal los en natuurlik. Daar is lewendige toneeltjies met rake praat en weerpraat o.a. p. 44-45, waar Oom Gert en sy buurman aanmekaar spring. Onwaar word die dialoog wanneer hy Piet, wat toe nog nie deur sy matriek was nie, laat sê: "Kerel, wie sal hom daar onder daardie mengelmoes begeef behalwe alleen die met Imperialisme besetene?" (p. 54.) Bybelse wendings word met voorliefde gebruik, en dikwels is daar ook 'n predikanterige kleur, b.v. "om sy sondedaad uit te wis" (p. 30). Die veelvuldige gebruik van stereotiepe beelde is opvallend. "Maar al was hul harte bloedende, het niemand dit getoon nie. Hulle harte was aanmekaar gesnoer deur nuwe bande en deur 'n gemeenskaplike liefde teenoor hul geliefde Suid-Afrika" (p. 142). Sulke gemeenplaatse ontneem aan die styl alle persoonlike aksent.

Onvervals retories word Tomlinson veral in sy natuurbeskrywings. "Die son, bloedrooi, begin hom stadig in die arme van 'n veelkleurige see te werp. Dit was, asof bruid en bruidegom ontmoet, albei in die fynste en pragtigste kledy uitgedos.... Fyn goud val oor die hele aarde en verfraai die skoonste paleise en die armoedigste strooihuise—ens." (p. 40).[297] Die paleise sou 'n mens aan Potsdam kan laat dink! Maar, die "ouderwetse woning" van Van der Bijl had ook "honderde klein venstertjies" (p. 4). Mooi is die stemmingsvolle gedig op p. 72, met uitsondering van 'n enkele stoplap.

[Pg 181]

§ 11. Adv. H.A. Fagan.[298]

H.A. Fagan is gebore op Tulbagh in 1889. Van 1905 tot 1910 het hy op Stellenbosch gestudeer en behalwe B.A. honneurs ook die Prel. L.L.B. en Kerkadmissie-eksamens afgelê. Nadat hy ses maande op die Teologiese kweekskool was, het hy vir enige tyd opgetree as waarnemende professor aan die Victoria Kollege en vervolgens sy juridiese studie voortgeset in Londen, waar hy advokaat geword 't aan die Middle Temple en ook die L.L.B. graad behaal 't. In die begin van 1914 het hy hom gevestig as advokaat in Kaapstad. Hy was een van die eerste direkteure van die Nasionale Pers, 'n tydlank assistent-hoofredakteur van Die Burger en daarna vir enige tyd professor in Hollands-Romeins reg aan die Stellenbosse Uniwersiteit. Tans het hy weer sy praktyk as advokaat in Kaapstad hervat.

Van hom het verskyn 'n Eerste Digbundel, Uit 'n Studente-Album[299] en 'n bloemlesing Uitgesogte Afrikaanse Verhale (Burger-Leeskring, 2de jg.).

Uit 'n Studente-Album.

Uit 'n Studente-Album bevat ses kort verhale, twee waarvan tot die komiese genre behoort, 'n Vondeling lyk die meeste op jeugwerk. Die beskrywing van Japie se ontnugtering bly aan die buitekant, en die melodramatiese ontknoping word deur niks voorberei nie. Op 'n Vakansiereis en Tableaux Vivants gaan baie dieper en bevat 'n belofte. Dit geld ook van 'n Gewone Rosie, waarin daar iets teers sprokiesagtig is. Twyfel ontstaat egter aan die psigologiese uitbeelding, wanneer ons hoor, dat die seuntjie hom die nag voorgestel het "as 'n meetlose swarte ruimte, waarin jy sou dool en swerf as 'n verlore siel" (p. 168). Ook die volgende sin mis die kinderlik-naïewe toon, wat anders goed bewaar word: "Tog is daar 'n waas van geheimsinnige betowering oor die hele natuur gesprei" (p. 169).

[Pg 182] Fagan het 'n aangename verteltoon, 'n goedversorgde styl, wat net hier en daar bietjie konwensioneel word. "Die dood van sy vrou het 'n ledigheid in sy hart gelaat ... (p. 116); Sy was 'n sonnestraal in sy koue, sombere woning (p. 117); die spore van wrange sielsverdriet" (p. 126). Erg ongemaklik moet Japie gevoel het "met 'n gloeiende vuur in sy brein"! (p. 28).

'n Eerste Digbundel bevat ook enkele prosastukke.

Uitgesogte Afrikaanse Verhale.

Hierdie bundel bevat negentien kort verhale van die volgende outeurs: Helene Oldendorf, T. Schumann, G.R. von Wielligh, Rikie Postma, F.E. de Villiers, C.R. Swart, Eugène C. van Wijk, Sarah Goldblatt, Essie Malan, Frina Roux, Marjorie Hofmeyr, Chris. Fourie, N.H. Theunissen, D.W. Wessels en "Veritas". Afgaande op die tietel sou mens verwag, dat dit 'n bloemlesing is, maar die meeste verhale verraai 'n ongeoefende hand. Daar is spore van diep gevoel, hier en daar 'n geslaagde toneeltjie, maar weinig wat ontroer deur skoonheid van segging, klank of uitbeelding. Die taal is deurgaans suiwer,—die skaaf van die versamelaar het seker daaroor gegaan—en tog is daar kreupel uitdrukkings soos die volgende: "Hy ken die druk van sy moeder toe hy (aan) haar bors gekweel het (p. 22); Sy vraag ... bring haar terug (p. 51); die vryerpaar wat hier ... staan te sug, te verwyt ... (p. 73); die onmeetbare landstonele van die gedagtes (p. 145); in vyftig jaar het die land die mantel van beskawing aangegooi (p. 147); Watter rede het u om nooit ag te gee aan ons uitnodiginge nie? (p. 175); Is u boodskap in militêre belange? (p. 198); Sy geheue hou nog 'n allerskoonste gesig en onwillekeurig bring hy sy hand aan die saluut" (p. 202).

Die taal kon beskaaf word, maar die ouderwets-retoriese beeldspraak het te diep gesit. Daar is b.v. 'n verhaal van "onbreekbare skakels in 'n ketting deur smart gesmeed" (p. 42), waarin reeds op die eerste pagina onder meer die volgende staaltjies voorkom: "Oorlog is in die lug. Selfs die lieflike geur van die [Pg 183] nuut-ontwaakte lenteblomme word verdring deur 'n verstikkende reuk van kruit en rookdamp; Offers ... op die altaar van die nimmerversadigde oorlogsgod; die awendstond van sy veelberoerde lewe", ens. (p. 36). So gaan dit die hele boek deur, alles mooi grammatikaal korrek, maar sonder die fris geur van oorspronklikheid. Die dames met hul "sielvolle blou oë" sug danig baie en die wind maak nogal koddige maneuwers met die "geslaakte" dingetjies. "Dadelik skraap die nagwind die suggie op, neem dit op sy vlerke en ry daarmee weg: oor die velde en vlaktes, oor berge en dorpe, tot hy eindelik by 'n groot stad kom. Tussen die hoë geboue deur vind hy sy pad tot by 'n oop venster. Hier vertoef hy net 'n halwe sekonde, om die suggie van sy vlerke af te skud, sodat dit binne in die kamer val"! (p. 128).

Van Von Wielligh is daar 'n soort politieke allegorie, waarin hy dit regkry om Dr. Jameson vóór die Groot Trek te laat optree. Ook nog 'n vaderlike predikasie oor blomme: "Eiliewe nee, laat ons hartsnare dan liewer weerklank vind" ens. (p. 29). Sy gehoor het so fyn geword, dat hy "klapwiekende skoenlappers" (p. 32) ontdek het!

Drie verhale gebruik die Duits-Suid-Wes-veldtog en verandering van politieke oortuiging as motief en die meeste is dan ook geskryf tussen 1915 en 1918.

Droogte van Helene Oldendorf bevat 'n belofte, Oog om oog is in sy soort goed. Die gelukkige en treurende paartjies van die meeste verhale maak geen blywende indruk op ons nie, wat behalwe aan reeds genoemde oorsake ook gewyt moet word aan onbekendheid met die tegniek van die kort verhaal. "More real brains are required for the construction of an excellent short story than for a hundred pages of many a novel", sê Harry T. Baker,[300] en die uitspraak bevat seker waarheid.

§ 12. Reenen J. van Reenen.

Reenen J. van Reenen is in 1884 op Calvinia gebore. In 1902 het hy met sy B.A.-eksamen die eerste Koningin Victoria-beurs aan die S.A. Kollege behaal. Vier jaar [Pg 184] later het hy in Amerika sy studie vir siviele ingenieur voltooi en na 'n jaar praktiese ondervinding op groot besproeiingswerke in Nebraska na Suid-Afrika terug gekeer. Gedurende sy studiejare het hy hom ook op taal en lettere toegelê en reeds van 1898 af op die tekenkuns. Aan die Brandwag-interviewer vertel hy: "Dit was met die herlewing van die Afrikaanse Taalbeweging, wat in 1915/16 so sterk gegaan het, dat die skryflus by my opgekom 't. Ek het 'n paar hoofstukke prosa en verse geskrywe, wat my vrinde hier op Bloemfontein beval 't. Hulle aanmoediging het my beweeg om Die Agterstevoortrekkers (1917) uit te gee. Maar gedurende die voorbereiding van dié werk moes ek toe my ou teorie toepas: n.l. dat die poging om leeslus onder ons volk op te wek, sal misluk, of in alle geval baie langer sal neem eer dit met sukses bekroon word, as die leesstof nie geïllustreer is nie."[301]

Van Reenen is ook 'n kampvegter vir die bestryding van grondverspoeling en het hom spesiaal gewy aan die studie van die Boesmankuns, nadat hy in 1917 'n voordrag van die skilder Pierneef oor die inboorlingekuns gehoor het. Ook op die gebied van folklore het hy al interessante ontdekkinge gedoen. Behalwe die genoemde werk het van hom verskyn Celestine (1919), en Verborge Skatte (1920), twee bundels sketse; 'n roman: Die Lokaas (1921) en twee kinderboekies. Hy het ook baie ander werke geïllustreer. Die Agterstevoortrekkers word in hoofstuk VI bespreek.

Celestine en Verborge Skatte.

Dit is twee bundels verhale, hoofsaaklik navolging van Edgar Allan Poe aan wie Verborge Skatte dan ook opgedra is. Celestine bevat spookstories, met een waarvan die skrywer in 1903 'n prys behaal 't in The South African News. Dié verhaal, 'n Hopie Bene, is 'n droom, maar in die orige word die geheimsinnige element nie verklaar nie, behalwe in Tant Annie. James Russel [Pg 185] Lowell het aan Poe toegeken "a power of influencing the mind of the reader by the impalpable shadows of mystery".[302] Verder sê hy: "In raising images of horror, also, he has a strange success; conveying to us sometimes by a dusky hint some terrible doubt which is the secret of all horror."[303] Dit is wat ons grotendeels by Van Reenen mis. Sy voorstellinge is te nugter, sy geheimsinnigheid te deursigtig. Die subtiele realistiese illusie, wat Poe b.v. in een van sy beste verhale Ligeia skep, lê buite Van Reenen se bereik. Wie b.v. Poe se nagwake by die lyk van die Lady Rowena vergelyk met die enigsins analoge situasie in die verhaal Celestine (p. 30) voel direk, dat dit veral realistiese uitbeelding is, wat by Van Reenen ontbreek. Poe verstaan die kuns om deur allerlei suggestiewe besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep—Van Reenen noteer alleen die geheimsinnige feit. Die vergelyking wat Dr. Dorothy Scarborough tussen Poe en Hoffmann maak, pas ook op Van Reenen "His (Poe's) horrors have a more awful effect because he is an incomparably greater artist. He knows the economy of thrills as few have done. His is the genius of compression, of suggestion."[304]

Die Verborge Skatte word deur Professor Erts se buitengewone vernuf ontdek. Die raaiselskrif in Die Voortrekker se Skat is gebaseer op die van Poe se verhaal, The Gold-bug. In Die Kinderdief word gebruik gemaak van 'n motief, waarop Poe o.a. The Purloined Letter gebou het: "the intellect suffers to pass unnoticed those considerations which are too obtrusively and too palpably self-evident. The Minister had deposited the letter immediately beneath the nose of the whole world, by way of best preventing any portion of that world from perceiving it." Ook in die uitwerking van die besonderhede is daar ooreenstemming.

Van Reenen het 'n aangename verteltoon en sy verhale is verdienstelike ontspanningslektuur.

[Pg 186]

Die Lokaas.

Gert Vermaak, 'n begaafde weeskind word deur oom Willem en tant Miem aangeneem. Toe hy ses jaar oud was, kom 'n ontwikkelde Hollandse skeepskaptein om gesondheidsredene op die Karoplaas woon. Onder sy leiding word Gert so buitengewoon skerpsinnig, dat dit die opmerksaamheid van 'n kapitalis trek, wat hom na Europa stuur om vir advokaat te leer.

Na sy terugkoms vestig hy hom in Kaapstad en word gou een van die leiers van die Boereparty. Maar die kapitalis gebruik 'n mooi vrou as lokaas, en by die stemming oor 'n gewigtige wetsontwerp word Gert ontrou aan sy party.


Voorop moet gestel word, dat die skrywer geen poging doen om die geleidelik voortskrydende geestelike ontwikkeling van 'n geniale kind te skets nie. Hy gee alleen "'n loshangende versameling van staaltjies wat Gert (hom), af en toe in die laaste dertig jaar ... vertel het." Die skrywer is nie die objektiewe uitbeelder van 'n deurleefde werklikheid nie, hy is net die verteller van Gert se geskiedenis. Hy self tree telkens op die voorgrond, spreek "die welwillende leser" toe (p. 29), en voel hom kort-kort gedronge om brokkies van sy eie wysheid by die verhaal in te las. Daarom mis dit die warme tinteling van intimiteit, daarom bly die skrywer maar al te dikwels aan die buitekant van sy persone. "Dit lyk asof (Gert) teenoor die kaptein voel soos 'n minnaar teenoor sy nooientjie ... hulle gesprekke was hom heilig en dit sou heiligskennis wees om dit te publiseer" (p. 29). Alweer die treurige sluiertaktiek, 'n vyeblaartjie om eie magteloosheid as kunstenaar te bedek! Is dit dan nie juis die kunstenaar nie, wat met sy wondere intuïesie moet deurdring tot die heilige der heilige? Die uiterlike lewensfeite sien ons almal, lees ons daagliks in die krant, maar dit is die kunstenaar, wat die verborge roersele van die hart moet openbaar. Hy moet so opgaan in die persoonlikheid van sy figure, dat hy alles seker weet, dat hy die kleinste nuansering van gevoelens en gewaarwordinge kan ontleed. As hy alleen [Pg 187] kan sê: "Dit lyk asof ..." (p. 29), dan twyfel ons aan die egtheid van sy voorstelling. Hoe moet ons nou met Gert meelewe, as van die drie belangrikste jare uit sy ontwikkeling selfs geen "loshangende versameling van staaltjies" meegedeel word nie? Maar wat wèl verhaal word is, dat die R.M.S. Tartar presies om vieruur uit Tafelbaai gestoom 't met Gert aan boord en dat hy met die R.M.S. Scot uit Europa teruggekeer 't! Van die jong advokaat weet ons nie veel meer dan die plaat by p. 132 ons te sien gee nie—'n jongkêrel soos duisend ander—geknip uit die eerste die beste kleermakerskatalogus!

Gelukkig is daar enkele gedeeltes waar Van Reenen nie alleen die verteller nie, maar Gert self is. Die uitmekaarhalery van Oom Willem se oorlosie (p. 19-20), die waterlei in die nag (p. 40) en nog ander toneeltjies uit Gert se kinderjare toon, dat die skrywer 'n fyn psigologiese insig het. Dit geld ook van die manier, waarop Gert sy besluit neem om Stella nie op te gee nie. Hoe treffend-juis is dit gesien om die nesmakende duiwe die deurslag aan sy redenasies te laat gee! Maar die mooi gestileerde sinne, wat Gert se dink-taal moet voorstel is weer van Van Reenen. Ook enkele gelukkige trekke in Tant Miem en Oom Willem toon, dat die skrywer 'n taamlike uitbeeldingsvermoë het. Maar dit is alles so fragmentaries, dat die persone tog vaag bly. So word die planne van die intrigerende kapitalis met dieselfde behendigheid as in Verborge Skatte uitgewerk, maar daar is weinig aanduiding, dat hy behalwe draadtrekker ook mens is.

Gert is blykbaar 'n uitsonderingsfiguur, maar selfs so beskou, is daar enkele trekke in sy karakter, wat wys op 'n verdraaide psigologie. Op p. 24 word ons verseker: "Soos 'n openbaring ... word sy volksbewussyn skielik gebore". Hy is nog maar ses jaar oud, maar omdat hy so 'n talentvolle knapie is, wil ons dit aanneem. Ongeveer ses of sewe jaar later hoor ons egter: "Volksbewussyn sal hy maar ontwikkel in die vreemde lande wat hy later sal deurreis" (p. 68). Afgesien van die teëspraak is die voorstelling hier absoluut vals, want daar is geen enkele jongeman van twaalf of dertien jaar [Pg 188] nie wat, selfs al begryp hy die abstrakte idee ook, so 'n wonderlike besluit kan neem. En die wysgerige bespieëlinge op p. 52-53 is geen "raaisel" nie, maar eenvoudig gedagtes van die skrywer self, wat hy aan die twaalfjarige knapie opdring.

As voorbeeld van die swak tegniek kan aangehaal word, dat deur die lang uitweiding op p. 11-12 die spelende Gertjie skoon vergeet raak. Net so gaan dit met die kaptein. "Ons durf darem nie langer by hierdie interessante woordkuns vertoef nie, want ons vriend die seevaarder wag nog al die tyd vir ons op die drumpel van die voordeur ..." (p. 16). Op p. 22 heet dit: "Maar ek loop my verhaal verby, en ons moet eers weer 'n bietjie terugkeer."

Van Reenen het 'n los, gemaklik-vloeiende styl, wat egter weinig persoonliks het. Beeldspraak gebruik hy maar selde; die "verdraaide beeld" op p. 139 is nie gelukkig nie, en die "spatsels van die smeer van die misvloer" wat mens aan golwe laat dink nog minder (p. 66). Die "liefdesbeker" (p. 52) ken ons al van toeka se dae af! "In hierdie dae begin Gertjie al in brein en liggaam tamelik uitrek" (p. 39)—'n pynlike proses, wat mens aan die inkwisiesie laat dink! Verkeerd is: "Maar die werk wat hy gedoen het, gee 'n weerkaatsing in sy professionele werk" (p. 92). Veral in Verborge Skatte is die anglisismes volop. "Toe ek my op my ou dag geskilder het as omring deur 'n kring talryke kinders (p. 112); om hande op die skobbejakke te lê (p. 151); Alles wys daarheen ...; Kan ek vanaand ... met my kollega opkom?" (p. 154) ens. In Celestine kom o.a. voor: "Gelukkig had ek nie lank te wag ... (p. 93); van êrens ... val daar 'n geweldige hou (p. 33); haar brood en botter verdien" (p. 20).

§ 13. Léon Maré.

H.L.F. Maré is in 1889 op Pietersburg gebore. Na 1902 het hy o.a. op Wellington en Pretoria sy opvoeding voortgeset. Maar hy moes al gou sy eie potjie skraap en toe het hy, terwyl hy in die posdiens was, privaat gewerk vir Skool-Hoër. Hy is nou amptenaar in die Uniegebou, [Pg 189] Pretoria. Party van sy eerste stukke het in Nederlands verskyn. Van 1911 af is hy 'n troue medewerker van Die Brandwag gewees. Van hom het verskyn: Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918) en Ou Malkop. Laasgenoemde is bekroon met die Hertzog-prys van die Akademie (1919)[305].

Die Nuwejaarsfees, (1918).

Léon Maré is een van die weinige Afrikaanse skrywers by wie die awontuur bysaak en die mens hoofsaak is. 'n Armsalige putgrawertjie, wat deur 'n harde rotsrif skade ly, 'n houtryer op weg na die mark met 'n vrag—sulke eenvoudige motiewe gebruik hy vir verhale. Tog leer ons Toot veel beter ken in die omvang van 'n kort verhaal, dan al die brawe-Hendrik helde van die awontuur-romans, wat hemel en aarde beweeg deur hul buitengewone dade. Léon Maré besit die gawe om sy karakters te laat lewe, só te laat lewe, dat mens hul asem op jou aangesig voel. Deur die tekening van allerlei uiterlike eienaardigheidjies, gelaatsuitdrukking, gebare, ens. sien ons hul vlak voor ons staan. Terselfdertyd openbaar hy in sy beste stukke 'n indenkingvermoë, wat hom in staat stel om selfs die fluistergeheimpies van 'n mensehart te verstaan, deur te dring tot die diepste kern daarvan en al die begeertes, stemminge en lewensaanvoelinge uit te beeld. Deur ligte aanwaaisels van allerlei herinneringe laat hy ons heel die verlede van sy figure begryp, terwyl ook die inwerking van hul omgewing plasties voorgestel word. Selfs waar hy romantiese gegewens kies, soos in die oorlogsverhale is dit tog altyd meer die mense, as hul awontuurlike ondervindinge, wat Maré interesseer. Met hoeveel liefde verwyl hy nie in Die Kommandeer van Japie Moolman by allerlei besonderheidjies, die aanval van die waghond, die trappery op die kat, ens. Soms is sy tafreeltjies 'n byna dood-nugter kopie van die gewone lewe en tog ontroer dit omdat deur die beskrywing so iets warm-mensliks huiwer. Daar is b.v. die inmekaar gekrimpte [Pg 190] Toot op die putwal (p. 152)[306] met sy brood en koffie; langs hom sy verkluimde seuntjie. Hoe suiwer en eg word die outjie se kindergedagtes weergegee! Dan weer Toot in sy huur-kamers, met 'n konsertiena op die knie, of besig om 'n kinderskoentjie heel te maak. Goed gesien is dit ook om Outa Booi na die oorlog op Japie Moolman se geroeste ploeg te laat afkom (p. 85). Deur sulke eenvoudige middels bereik die skrywer sy doel. Met tallose klein handelinge bou hy vir ons 'n lewende mosaïek.

Op iedere pagina gee hy blyke van fyn waarneming. Hy het gesien hoe die wind met die ou ooms se baard speel, hoe die stoffies agter 'n galopperende ruiter uitslaan en wegkwyn, hoe die wagvure opflikker en fantastiese skaduwees ronddans. Vir al die wisselinge in die natuur het hy 'n ope oog—vir die songetinte wolke, die wasige mis op die bergrande, die wondere van die sterrehemel. Ook weet hy hoe die steenbokkie "sy eerste bekkie vol soet gras onderuit 'n graspol" afknyp (p. 195), hoe die rysmiere uit hul gaatjies glip, hoe die muggies "in sirkels van tallose spikkeltjies wals en sigsag ... oor waterpoele" (p. 102). Telkens weef hy mooi stemmingsstukkies inmekaar, gee hy met 'n paar trekke die atmosfeer so duidelik aan, dat dit die werklikheidsillusie versterk.

Altyd geluk dit hom natuurlik nie. Hy is te veel geneig om iedere keer weer te praat van gordyn, disk, karmosyn, silhoeëtteer, ens. Op p. 42 las hy op storende wyse 'n kwasi-astronomiese opmerking in: "Die klein fonkelende sterretjies is ligte van die eindelose Planete-wêreld ..." ens. Grotendeels misluk is ook die tekening van Annie Bester voor die ou harmonium: "In die voorhuiskamer, voor 'n oopgetrekte vensterraam ..." ens (p. 37-38). Uit allerlei klein besonderhede blyk dat Maré die toneeltjie alleen as toeskouer beskryf.[307]

In Die Nuwejaarsfees word die vrolikheid van 'n klomp olifantjagters, met forse trekke geteken. Die kaskenades van Oom Klaas, wat 'n ankertjie egte brandewyn op slinkse wyse bespring, is goed beskryf. Annie Bester, [Pg 191] Japie Moolman, Freek en sy perd Bles behandel episodes uit die vryheidsoorlog. In Wrange Vrugte word 'n geeerde volksraadslid deur kindergebabbel en die afskietery van klappers op Krismisaand aan sy verraad in dieselfde oorlog herinner. Die skets gee blyk van 'n goeie psigologiese insig. Die afskeid van voortrekkers aan Dassieshoek in die ou Kolonie en die rit van Frans Malan om die laers vir Dingaan te waarsku, word in twee sketse beskryf. Die Stem van die ou Kafferkraal-Murasies is 'n poging om die mentaliteit van 'n Soeloesoldaat te teken, 'n poging, wat herhaal word in Soeloe-Eer uit die bundel Ou Malkop. Moebie vertel van die tobbery van 'n kaffermoeder oor haar seun, wat toevalle kry en Joggem Helberg is 'n jongkêrel, wat in 1863 deur leeus verskeur word. Die eerste druk van Die Nuwejaarsfees het ook nog bevat 'n retoriese beskrywing van 'n storm, wat met reg by die twede druk weggelaat is. Drie nuwe verhale, Wrange Vrugte, Moebie en Joggem Helberg het daarvoor in die plaas gekom, terwyl tallose taal- en stylverbeteringe gemaak is.

Onvoldoende taalkennis gee Maré se werk 'n lelike knou. Hy maak foute, wat skooljongens kan verbeter. Sy interpunksie is swak, sy spelling treurig. Hy skryf b.v. lysels, geoeffende, vors (fors), vergaarderde, gesannikie, ens. Die dubbele negatief ontbreek dikwels en anglisismes is volop o.a. "die hele van die ander dag (p. 42); een onheil, wat moet plaas neem (p. 56); 'n menende knik (p. 60); afwerk (p. 92); twee meer veldstoele (p. 105); (ek) lei die weg soheentoe (p. 138); opgelig (p. 141); hy gee 'n ander gapie (p. 148); gesette kake (p. 193); as die vlamme ... opflaar (p. 201); haar bors ... hewe op en af (p. 225); (hy) rys hom uit sy sitplek (p. 61); toe het bloedvergiftiging in die been gesit" (p. 217) ens. ens. Woordskikking en verbuiging van byvoeglike naamwoorde is dikwels gebrekkig, b.v. "En hy word gou agterna gevolg, na die plek van bestemming, goed of sleg, deur sy troue manskappe (p. 78); deftige geklede dames (p. 157); 'n spoelende en bruisend, kristal stroom water (p. 102).

Die opdrag om 'n kort skets te skryf, waarin die woorde alleenliks en nouliks nog nie mag voorkom nie [Pg 192] sou seker vir Maré die swaarste straf wees. Tot vervelens toe prop hy dié woorde in alle hoekies en gaatjies, en naderhand weet hy absoluut nie meer, wat hul eintlik beteken nie! In Ou Malkop kom selfs voor uiteindeliks (p. 145), oogverblindeliks! (p. 148), natuurliks (p. 195), en die volgende: "Guillaumet kan geen woord uitkry van verbasenheid (!) nie en blik die gouverneur alleenliks net meer in verwondering aan" (p. 198).

Foutiewe meervoudige vorms soos die volgende kom voor: lofliede (p. 178), sugge (p. 95), streeltjies (p. 94), wandels (p. 131), getjilpe, gefluite, gebruise (p. 43, 45, 52) ens. Die werkwoord word verkeerd gebruik in: "Die son kom agter die koppie uit en skitter strale van goud oor ... (p. 101); 'n vensterraam, waardeur 'n groot hanglamp sy breë wit lig ... na buite ... stroom (p. 37); tante sweef haar arms so voor haar uit ... (p. 35). Maar hy gewaarword nie 'n meisie nie (p. 75); Towenaars alleen woon so 'n kluisenaarslewe (p. 131); deur sy fluksheid het hy gou bevorder tot kommandant ... (p. 209); Uit die gewoel ... hef 'n nat voorhoof omhoog (p. 211); agtervolg (p. 60); die doudruppels ... blink en skitter en rol boomstamme orals af" (p. 54).

Lomp, of heeltemal onverstaanbaar is o.a. die volgende: "Haar gemoed skiet haar diep (p. 60); Die grasdak ... skep nuwe herinneringe ... te voorskyn (p. 98); met 'n gefynde oor (p. 79); Ek worstel om van 'n betowerende wilskrag los te kom (p. 123); 'n stulpende onderaardse skok (p. 141); 'n Vaal hond ... vlieg ... uit sy skuilplek, haal-haal oor die gedraai of die ruiter hou-hou met sy karwats agtertoe ... (p. 61); die vroutjie ... word veronderstel deur haar rokende man langs aan (p. 152); die agent is toegehul in die geheime; deur al sy omgewings van grootheid en deftigheid, word geen ondersoek ingestel nie ... (p. 155); nog 'n terugdeinsende tree vorentoe" (p. 228).

Die volgende rariteite gebruik Maré ook: geheelal (p. 42); die toeskou van so 'n klomp waens ... het 'n dagbreek-oujaarsmore net toepaslik gekleur (p. 14); gewigte rapport (p. 40); 'n staanbeeld uitgehou in graniet (p. 43); met opgestrekte lippe (p. 56); wyshooftig (p. 70); diep bewoog (p. 72); Die jonge rapportganger ... arriveer [Pg 193] terug (p. 114); opgedoste krygsmanne (p. 125); sissende-vurige dinamiet lonte[308] (p. 141).

Hoe die skrywer soms sukkel, blyk uit die volgende. In die eerste druk kom voor: "'n toegerankte grennadella stoepie" (p. 43). Dit word in die twede druk: "'n grenadella gerankte stoep"! (p. 44). Op p. 122 kry ons weer "'n toegerankte grenadella-veranda".[309]

Soms is daar iets telegramagtigs in die styl, meestal veroorsaak deur die veelvuldige gebruik van verlede deelwoorde. Wanneer Ter Blanche die voorhuiskamer beskou, lees ons: "'n Mooi aardige skulpaddoppie kom eindelik onder oog, opgestaan en oorgetree, en dit word gou opgetel van die tafeltjie, waar 'n groen kleedjie netjies oorgetrek is, en waarop 'n groot lamp met 'n kleurige oorglas staan, en dit word noukeurig beskou en bewonder." (p. 56.) Dit is 'n tiepiese voorbeeld van Maré se verwarde, inmekaargedrukte sinne, slordig aanmekaar gekoppel. Sulke en-en-reekse is daar soos bossies. "En eindelik sissend en stomend verlaat die lokomotief die treinstasie stadig, en onder 'n geween en geskreeu van "hoeré!" en hoede in die lug opgegooi. En sy(!) trek voort, en nouliks ... ens." (p. 68). Dat die koppelwoord naderhand glad geen betekenis meer het nie, of heeltemal verkeerd gebruik word, blyk uit sinne soos die volgende: "Onderwyl hy besig is, kom die diensmeisie binne, en met 'n silwer teepot, en sinese koppies en pierings ... (p. 151); Behalwe vir 'n paar opmerkinge nog oor die mooi onweer, wat diekant in die lug lê, en die seun gaan haastig vooruit ..." (p. 65). Ook hul-hul-sinne kom voor. "Menige van die burgers ... is ... in hul distrik teruggekeer as versterking, maar hoewel in hul eie deel van hul land, was hulle geskei van hul famielie-betrekkinge, want hul plase was so kaal ... en hul famielies was almal ingevoer deur die vyand na die kampe ..." (p. 69). Daar is nog meer sulke herhalings, wat aantoon, dat Maré se klankgevoel soms erg gebrekkig is. "Bo op die kruin ... bars die son deur ... en verlig met uitgespreide trillende strale die grastoppe van die [Pg 194] bergtoppe, en verlig donkere spelonke op(!) (p. 195). Maar hy gewaarword (!) nie 'n meisie nie wat buitekant kamp drade diekant, op haar knieë neersak, haar hande tesame omhoog vou, vertrouend op na die troue heldere wagtertjies bo haar kyk (p. 75); Skerp flikker die staal mes voor aan die punt van sy geweer weer ... (p. 76); 'n gekletter van perdepote van verwilderde perde" (p. 49). Maré is ook te lief vir langdradige omskrywings, wat soos 'n remskoen op sy verhaalgang werk. As ons lank al weet wie Annie is, dan hoor ons nog altyd van "Oom Andries Bester se dogter Annie" of "oom se dogter", (o.a. p 37, 38).

Nog 'n paar staaltjies van die skrywer se gebrekkige uitdrukkingsvermoë: "Die tyd tree weer met haar sikkel soos gewoonlik in, en die uur of so se vereniging hier word ook eindelik weer die verwyderde sny gegee[310] (p. 73); Daar verlos hy hom gou van sy swaar dik winter jas (p. 147); baie hartseer luister die oubaas na die laaste koei vanaand op die plaas se melk ... (p. 93); die generaal halt voor en klim uit sy saal, die manskappe uit hul saals, en nouliks is al die tooms versamel of 'n paar burgers kyk voor vasgehoude perde hul maats agter, wat so agter die leiers aan wegtree, met hul mousers (p. 72); Dan maak ou oom en sy troue oujong Jonathan stoele en rusbanke uit aardige houtsny uit stinkhout ... (p. 203); Die hele dorp spring in wakkerte" (p. 80).

Daar is ook voorbeelde van afgeslyte beeldspraak soos: "deurboorde harte (p. 74 en 100); eindelik sprei die duisternis ... soos 'n swart kleed wat neerval (p. 72); die bytende tand (p. 78); die hamer van Tyd" (p. 95). Komiek word dit wanneer ons hoor: "haar bors bewe meteens op en neer soos die rustelose golwe van die see"!! (p. 60).

Maar ten spyte van sulke opvallende stylgebreke ontroer Maré se prosa ons tog, omdat, soos Jan Celliers tereg opmerk in sy voorwoord, hy "dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie". Sy krag lê nie in die tekening van groot-opgesette tonele [Pg 195] nie; dit is die vlugge vegies, waarmee hy op verrassende wyse 'n realiteits-illusie kan skep. In sy beste werk is daar 'n innigheid, wat die kleinste voorval beglans met 'n sagte en suiwer lig. Dan klink daar ook op in sy sinne 'n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste woorde om sy emosie te vertolk. Dit is 'n gebrek aan tegniese vaardigheid, wat sy werk hier en daar soos skooljongens-geskryf laat lyk.

Dié gebrek is in sy twede bundel

Ou Malkop

só markant, dat mens nie anders dan van taalgemors kan praat nie. Voorbeelde daarvan staan op byna iedere pagina, en sitate word feitlik oorbodig. Heeltemal misluk is die beskrywing van die ontsporing van die Engelse trein (p. 41-42). "Hy kom aangestoom en aangedroom op sy masjienery en hardloop los vooruit met alle krag en verdelgende mag.... Die bodem van die aarde tril! Dis of die sterre in hul blou firmament gril met iedere naderende stamp en uit hul gewelf wil losbeef!... 'n Gehom-mmm! van raddewerk van masjienery!—en meteens! 'n lang ry swart-kamers hol dol en ril duiselig oë verby!—'n groot windvlaag skep alles op onder die kranksinnige gedruis! 'n Stulpende onderaardse skok!! 'n donderende donderslag!! en daar omrol 'n stuk swaar ysterwerk soos 'n kanon in die lug" (p. 42). Dit is magtelose gestamel met viesie- en taalverknoeiing, wat in die historiese skets Etienne Barbier 'n toppunt bereik en soms geheel onverstaanbaar word. "Mnr. Guillaumet gryp sy musiek in die een hand fermer, laat sy krullende kop effens op sy skouer val en sy basstem rol uit sy breë bors:

Ons blink gespande snare!
Saam 't stem van sangster's hare;
Roep my hart van Cabo's kuste walm
Terug na Nederlandse strande kalm!

En daar volg handeklappies onder 'n toejuiging, en deur twenk! twenk! snare alweer en 'n basstem klink ernstig deur...." (p. 168).

Enkele staaltjies moet nog gegee word om aan te toon hoe Maré se taal en styl verwilder het: "Die skaduwees [Pg 196] dans en flonker hier en daar (p. 11); hy roep protestend deur 'n bol rook (p. 21); Uitgestrekte liggame van slapende burgers is gedompel en verswak in die diepte van die nag se boesem (p. 33); 'n opgeheefde sabel (p. 43); en nouliks of hy 's te voorskyn gekom om te ontwapend (p. 44); met verslaagde oë (p. 53); ek (het) my die vraag al gesit (p. 72); waar ... hiënas eentonig in monotoon af en toe tjank (p. 81); ou Loftus ... wat 'n groot moege glimlag vir hulle dra (p. 128); in 'n verre afwykte land (p. 133); Borste hewe op en af ... (p. 142); die jagveld (is) nog in die luim van die vroeë stilte gedompel (p. 154); Die meisie aan die sy van G. tree die ontvlugte man uit die kasteel te voorskyn (p. 181); Vir 'n oomblik is die voorgeneemde moordenaar ... in al sy ruheid gestem (p. 190); En die aand laat, toe daar nog 'n tippie roesrooi in die verre geskiet langs die verhewende bergkruine opskemer ..." (p. 200).

Dit alles en veel wat nog erger is staan in die boek wat mirabile dictu in die jaar onses Heren 1919 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns bekroon is met die Hertzogprys!

Hier en daar is natuurlik nog enkele gelukkige trekke, wat ons aan die skrywer van Die Putgrawer herinner. Veral in Fekkie, die verhaal van 'n blomverkoopstertjie en O so 'n harde Hart, waarin die besoekers van 'n kantien geteken word, is daar goeie gedeeltes. Die Liefling van die Korps gee 'n skildering van die kommando-lewe; 'n Wonderlike Ongeluk en Die ou Poskoets voer ons terug na die ou dae. In 'n brief aan Die Burger praat Maré van "die onuitputlike bron van die lewes van ons gewesene Afrikaners" en dit blyk dat veral "die stoere ou olifants-jagters van 1861 se dae" hom aantrek. "In die algemeen is die rigting van my strewe om al die goudgeel sonstraaltjies van die verlede van ons voorgeslagte te herroep en te trag om dit vars te laat bly in die geheues van ons jong geslag."[311]

In die skets Ou Malkop word moralisasies van die skrywer tussen die gepeins van die kaffer ingevleg en op p. 150 is daar 'n uitweiding oor "die ou dae". In [Pg 197] Eensame Prospektors is die dialoog onnatuurlik.[312] Ook in sy portret-tipiek is Maré nie gelukkig nie. As ons lees op p. 82, dat Van der Walt 'n "dik gedraaide swart buffel-horing snor" het, en as hy lag "geluide maak soos wat kom van wegdrentelende makoue" (p. 92), dan ontstaan daar al twyfel; wanneer ons enige pagina's verder hoor, dat Hoard "'n stywe snor oor die bo-lip soos gevoude swawelvlerkies" het (p. 100), dan versterk dit die suspiesie, dat die opsetlik bedagte kenmerke meer van 'n lomp toneelspeler afgekyk is, dan na die lewe geteken.

Sal Maré na 'n paar jaar ernstige studie alle tegniese moeilikhede oorwin, en ons 'n kunswerk van rype voldragenheid aanbied? Dan vergeet ons sy jeugdige malkop-onderneming, ten spyte van die onsterflikheidsstempel van die Akademie.

§ 14. D.P. du Toit.

D.P. du Toit is 'n afstammeling van die Du Toits Van Daljosafat, waar hy groot geword 't. Sy moeder was 'n suster van Ds. S.J. du Toit. Omdat sy gesondheid toe nie teen plaaswerk bestand was nie, het hy van 1891 af onder Ds. S.J. du Toit gewerk op die redaksie van Di Patriot en ander blaaie. In 1896 was hy sekretaris van die eerste Afrikaanse Taalkongres in die Pêrel en Ons Kleintji het hy feitlik geredigeer onder toesig van Ds. S.J. du Toit. Later was hy aan verskillende krante verbind, by Het Westen o.a. as redakteur. Sedert die oprigting van Die Burger is hy een van die subredakteure van die blad.

Een van sy toneelstukke, Die Bedriegers is in 1893 geskryf. Wanneer Melt Brink se toneelwerk buiten beskouing bly, dan is dit die eerste Afrikaanse stuk wat gedruk en opgevoer is.[313] Op Somerset-Oos is dit vir die eerste maal gespeel. Van Du Toit het verder verskyn die toneelstukke Geldsug of Jaloesie en Die Herwonne Koninkryk; 'n roman, Sy Pa se Skuld (1918) en 'n bundel grappige versies Treinnonsens (1922).

[Pg 198]

Sy Pa se Skuld.

Lina trou teen haar vader se sin met Fred, 'n volbloed skurk, wat met die huwelik sy finansiële ondergang wil voorkom. Sy word onterf en Fred moet vlug na 'n hele reeks misdade. Sy seun, Gert boet vir die misdade van sy vader en word in sy liefde gedwarsboom. Op die ou end kom alles tog reg en selfs die berouvolle Fred word in sy eer herstel.

Du Toit doen wel 'n poging om deur te dring tot die innerlike lewe van sy karakters, maar vir die uitbeelding van 'n geweldige psigologiese kriesis is hy te huiwerig. "Dis te heilig, ons mag nie probeer om dit na te speur nie" (p. 99); "Die afskeid sal ons egter nie trag te beskrywe nie, eenvoudig omdat dit nie kan beskrywe word nie"[314] (p. 113). Op dieselfde manier glip hy oor die smart wat Gert en Lorrie uitstaan as gevolg van die vervalste briewe. Dit is nie 'n deurleefde verhaal nie, waarin die roersele van 'n mensehart blootgelê word. Du Toit beskou sy persone meestal op 'n afstand as belangstellende toeskouer. "Terwyl hy daar agter die randjie ry, raak hy ons ook uit die gesig" (p. 106). Die handeling word nie direk in plastiese vorm gegiet nie, sodat iedere leser onmiddellik sien en hoor wat daar gebeur. Die skrywer self is telkens aan die woord en deur sy nugter opmerkings en prekerige uitweidings kom die gebeurde tot ons langs 'n groot ompad, sodat dit nie tot werklikheid kan vergroei nie. "Nou dis nie nodig om die twee nes hul skaduwee te agtervolg nie...." (p. 48). "Die betrokke persone het ons heeltemal uit die oog geraak" (p. 144). Daar is meer sulke aanduidings van gebrekkige tegniek.[315] Die preek oor die teks "Ik stond op het zand der zee" is 'n nuttelose uitweiding en die lang beskrywing van die viskopery net so. Die skrywer vertel ons self ewe naïef, dat Gert en Lorrie [Pg 199] "ook maar bloed weinig van die hele toneel gesien het"! (p. 151).

Besonder omslagtig is Du Toit se verhaaltrant dikwels. 'n Enkele keer besef hy dit self: "Dog ons sal nie op haar hande staan en kyk om te sien hoe sy werk nie." ens. (p. 51.) Hy vermoei deur 'n langdradige opsomming van allerlei onbelangrike besonderheidjies (vgl. b.v. p. 212), terwyl ook die gesprekke met reportage-noukeurigheid weergegee word.

Die styl verraai die hand van die geoefende joernalis, wat met gemak sy sinne aanmekaar ryg, sonder juis te streef na skoonheid van klank. Maar selfs die haastige joernalis mag nie sulke sinne soos die volgende neerskryf nie: "Hy herinner hom nou goed, so duidelik as kan wees, dat, toe hy gistraand sy tabaksak uit die sak wou haal sy sakdoek bo-op die tabaksak in sy sak was, dat hy toe die sakdoek eers uitgehaal het en toe die tabaksak en toe weer die sakdoek in sy sak gesteek het, en na hy sy pyp gestop het, het hy die tabaksak somar so onverskillig bo-op die sakdoek in sy sak gesteek." (p. 104)[316] Maar sulke sinne is gelukkig uitsondering en die styl is deurgaans helder en goed versorg. Om dié rede veral moet die roman, ofskoon dit geen aanspraak kan maak op hoë letterkundige verdienste nie een van die leesbaarste Afrikaanse romans genoem word. "'n Rousteen vir die binnemure" noem die skrywer sy werk met goeie selfkennis in die voorrede. Voorlopig kan ons sulke roustene nog goed gebruik, al bestaan daar gegronde rede om te vrees, dat dit mettertyd sal verbrokkel.

As 'n voorbeeld van Du Toit se beeldspraak kan die volgende dien: "'n Vat kan maar 'n sekere hoeveelheid hou. Pomp jy daar meer in, dan loop dit oor. So is ook die menslike gemoed." (p. 87.)

Engelse invloed blyk uit die volgende: "'n Man van professie (p. 178); dit help nie vir ons om oor gestorte melk te huil nie (p. 190); tot my dooddag toe (p. 207); 'n buig" (p. 160).

[Pg 200]

§ 15. A. du Biel.

A. du Biel is die 27ste Oktober 1884 gebore op Geelhoutboom, distrik Mosselbaai. Gereelde onderwys het hy nooit gehad nie en in "die bittere publieke skool van die lewe" het hy al sy kennis opgedoen. Van sy twaalfde jaar af het hy baie gelees en van kleins af met sy vader lang reise gedoen. Maar reeds op vyftienjarige leeftyd moes hy sukkel om vir homself 'n bestaan te vind en 'n weinig later het die sorg vir sy ouers ook op hom geval.

Getrou het hy in 1914 onder baie moeilike omstandighede geskryf.[317] Die Misdade van die Vaders het in 1919 verskyn. 'n Nuwe roman, Kain, wat oor die periode 1870-80 handel is nou in die pers. Op die oomblik verskyn in afleweringe Oor Berg en Vlakte of Onder die Vierkleur, 'n verhaal vir die jeug, in die eerste nommer waarvan "pakkende awonture" in vooruitsig gestel word.

Die letterkunde beskou Du Biel as "die kragtigste wapen om ons volkie te ontwikkel". Hy streef veral daarna om die leeslus van jong Suid-Afrika op te wek.

Getrou.

Dit is 'n Hugenote-roman, die gebeurtenisse waarvan in Frankryk, Holland en Suid-Afrika plaasvind. Die Europese atmosfeer is egter so swak aangedui, dat dit net so goed Pole of Tibet kon gewees 't. Moet die praatjies oor Lodewyk XIV, die "prag en praal van Versailles" en 'n paar armsalige ma chère's ons nou onder die indruk bring, dat ons in Frankryk verkeer? Met die innerlike kern van die tydperk kom ons nooit in aanraking nie, en die historiese vliesie is baie dun. Met 'n komieklike naïwiteit vertel Du Biel ons in beeldspraak, wat baie op die van Von Wielligh gelyk, hoe hy gesukkel het om "Vader Tyd se rytuig" te laat stil hou! (p. 142). "Dit neem dan ook heelwat inspanning van die verbeeldingskrag om die plek voor te stel soos dit twee eeue [Pg 201] gelede was, want die meedoënlose hand van vooruitgang spaar nie die oudhede nie" (p. 141). Dat die koms van die Hugenote was "die stigting van die Afrikaanse volk" (p. 127), is 'n onjuiste bewering. Verrassend is die meedeling, dat die sewentiende eeu veral die eeu was "waarin die hele wêreld sy eie sienswyse wou handhaaf ten spyte van Kristelike liefde, van reg—ja, ten spyte van die Almagtige" (p. 147). Ook die volgende slaan ons heeltemal dronk: "As ons die Amerikaanse volk beskou ... dan vind ons oral 'n diep bewussyn van die majesteit van die Allerhoogste" (p. 127). Sulke bewerings toon duidelik dat die skrywer 'n primitiewe historiese insig het.

Van 'n realistiese uitbeelding is daar dan ook geen sprake nie. "So 'n man was ds. Pierre Simond, en ons kan aanneem dat voorgaande in hoofsaak sy lewensgeskiedenis was" (p. 146). Moet hy felle emosie beskryf, dan pas hy die welbekende sluier-taktiek toe! "Wel, leser, ons sal die twee vanaand nie verder volg nie. Daar is tye in die lewe van 'n mens wat te heilig is om aan vreemde oë te ontbloot" (p. 30).[318] Gedurig dring die skrywer homself op die voorgrond. Hy lewer prekies soos 'n teologiese student en gebruik selfs die dialoog vir sedekundige verhandelinge.[319] Die twee "ou seerobbe", wat op p. 160 begin te praat, het nog nooit soutwater geruik nie! Hoeveel sou die sewejarige Marie van Henri se storie (p. 15-20) verstaan het?

Die verhaal is van die Johannes van Wyk-soort—'n aaneenstrengeling van awonture—soms erg onwaarskynlike. Daar is 'n toneelheld, wat wondere verrig, 'n skurk doodsteek en selfs Adriaan van der Stel laat sidder. Die skurk is "nie geheel sleg nie—geen mens is" (p. 99).[320] Tog kom daar van die psigologie nie veel tereg nie. Die ontstaan van liefde is vir Du Biel eenvoudig. "Daar is diepe agting in haar hart vir haar vriend—'n agting wat besig is om in liefde te verander: die enigste weg waarlangs 'n edele liefde kan ontstaan"! [Pg 202] (p. 53)[321] Die ingewikkeldste psigologiese prosesse word ons in een sinnetjie meegedeel. "In een uur het hy van 'n jongeling tot 'n man geword" (p. 38). Ofskoon heeltemal slegte mense volgens Du Biel dus nie bestaan nie, skyn hy aan heeltemal goeies tog te geloof, want Van Bergen is stroperig braaf en daar is nog ander ook wat niks op hul kerfstok het nie. Potsierlik is veral die toneel met Juffr. Le Notre. (p. 54 vlg.)

Die Misdade van die Vaders.

Veel beter geslaag is Die Misdade van die Vaders. Hier is die skrywer op meer bekende terrein, want dit is 'n verhaal uit die Voortrekker-periode. Jan Alpenveld, 'n misdadiger besluit om aan die Kaap 'n fatsoenlike lewe te begin. Met sy hoflike maniere verower hy die hart van Annie Bester, 'n eenvoudige plaasmeisie, die aangenome kind van Petrus Liebenberg, wat verloof was aan sy seun Tjaart. As Oom Petrus beswaar maak teen die huwelik, vlug Annie met Jan Kaap toe. Annie is die dogter van "'n roekelose kêrel en 'n hopelose dronkaard" (p. 11 2de druk). "Die Heilige Skrif is vir (Liebenberg) 'n lewendige wet en hy trag om dit letterlik te volg". Na Annie se vlug sny hy haar naam uit die famielie-register voor in die Bybel en lees daaruit die vervloeking plegtig voor: "Die de misdaad der vaderen bezoek aan de kinderen, aan het derde, en aan het vierde lid dergenen, die Mij haten." Jan Alpenveld raak na enige tyd in die hande van die gereg maar tussen sy seun, Nikolaas en Tjaart se dogter, Lenie ontstaan weer 'n liefdesbetrekking, wat deur dieselfde Bybelteks verydel word. Nikolaas trek alleen na die woeste Noorde, waar hy later op geheimsinnige wyse groot dienste aan die Trekkers bewys. Hy ontmoet Lenie weer en val in 'n geveg met die Kaffers. Tjaart word deur sy vrou geleer, dat die grootste gebod die van die liefde is.

Twee motiewe uit Getrou word nog 'n keer gebruik. [Pg 203] Soos Annette in haar eenvoud verlei word deur die genoegens van Parys en die mooi praatjies van La Fontaine, word ook Annie Bester bekoor deur die fyner lewe in Kaapstad en die vername houding van "Graaf Alpenveld". Van Bergen bewys sy ou vrinde groot dienste sonder dat sy ware naam bekend word, Alpenveld net so. Die geheimsinnige "Verdwynende Boerewag" is 'n knap verafrikaansing van die dolende middeleeuse ridder. In plaas van gifbrakende monsters veg hy teen leeus; die skone dame word nie uit 'n onderaardse kerker van 'n betowerde kasteel gered nie, maar uit die hut van 'n Kafferkaptein.

Die Voortrekkers word verdedig teen lasterpraatjies; die vrymaking van die slawe, die kafferpolitiek van die Britse regering en die handelwyse van die Engelse sendelinge word bespreek, 'n Poging word gedoen om dit alles binne die kader van die verhaal te hou; die historiese uitweidings is kort. "Dit sou te lank duur om alles hier mee te deel ... en dit is ook geskiedenis." (p. 124). Dat Du Biel ten spyte van sy goeie verhaal tog nie daarin slaag om ons in die volle werklikheid van die Voortrekkertydperk te plaas nie, is hoofsaaklik 'n gevolg van sy gebrekkige en verouderde tegniek. Hy hou gedurig 'n praatjie met die leser, gee beskouings oor die gedrag van die karakters, las sedekundige prekies in net waar hy kan. Die hoofverhaal loop oor drie geslagte, maar daarby moet ons o.a. ook nog kennis maak met al die bewoners van Uitkyk. Die gevolg is dat die meeste persone baie vaag geteken word. Selfs waar dit enigsins uitvoeriger gebeur, soos o.a. met Lenie, kry ons selde die indruk, dat ons met werklik lewende mense te doen het. Lenie word ons op p. 59 voorgestel as 'n digteres. Dit word verseker, dat haar vader die "kundigheid"(!) waardeer, ofskoon ons van die waardering nooit iets merk nie. Die geduldige leser word op p. 135 weer aan Lenie se digterskap herinner en 'n gediggie "wat sy in dié dae gemaak het" word meegedeel. "In die dae" is net voor die Groot Trek, maar op p. 141 word ons vertel—dis nou 'n goeie paar maande later—dat van dieselfde gedig, wat ons al klaar gelees het nog net "enkele reëls" geskryf is! [Pg 204] Deur sulke onhandige sette[322] is dit, dat ons in plaas van die uitgebeelde persone altyd sien Meneer Du Biel aan sy skryftafel, verskans agter Theal, Cory en ander historisie!

"In 'n oomblik sien hy alles in sy ware kleure. Hy aanskou sy eie siel in al sy naaktheid...." (p. 144). Dit is van die soort blits-psigologie, wat so dikwels in Getrou voorkom.[323] Van wat in die siel van Nikolaas en Lenie omgaan na die indrukwekkende vervloeking deur Oom Tjaart hoor ons weinig. Du Biel bly te veel aan die buitekant. Nikolaas "lyk jare ouer: die gewone hoopvolle glimlag is van sy gelaat weg, en in plaas daarvan staat erns geskrywe" (p. 98).—"Arme Lenie! Sy is nou maar slegs die gees van wat sy vroeër was; en die treurige en hopelose blik op haar gesig is onvergeetlik" (p. 99). Later slaag Du Biel daar veel beter in om ons te laat voel die tragiese noodlot, waarteen Nikolaas tevergeefs stry. Die vloek wat op hom rus deur sy geboorte kan selfs deur sy dapperste dade nie weggeneem word nie. "Die misdade van sy vaders" maak 'n volkome rehabilitasie in die trekkerslaer onmoontlik, en dat hy sy lewe opoffer vir dieselfde mense, wat hom as 'n onwaardige uit hul gemeenskap stoot is 'n treffende kliemaks van 'n eg-menslike drama. Met sy dood is die drama uit, en die slothoofstuk verswak alleen die indruk.[324] Lenie behoort aan niemand anders as aan die gevalle held nie.

Deur die kreasie van Nikolaas Alpenveld word Die Misdade van die Vaders iets meer dan 'n gewone awonture-verhaaltjie. Die moralisasies, wat 'n groot gedeelte van die roman inneem is van dieselfde gehalte as in Getrou. Daar is geen sprake van mooiheid van segging of oorspronklikheid nie. "Hoe wonderbaar is ons lewe! Alles is veranderlik; niks bly vir een enkele uur geheel dieselfde nie." (p. 124.) Van sulke afgesaagde bewerings krioel die boek. Of anders kry ons twyfelagtige stellings [Pg 205] soos die volgende: "Dit is een van die wonders van die skepping dat dit in die mag van die mens is om te word wat hy verkies" (p. 50).

"Die taal en styl openbaar 'n bekoorlike helderheid en eenvoud", verklaar Prof. J.J. Smith in sy voorwoord. Helder en eenvoudig is dit seker, maar dit mis alle bekoorlikheid, omdat Du Biel geen eie stem het nie. Daar is niks persoonliks in sy styl, nêrens iets wat ons ontroer deur fynheid van segging of klank, nie. Dikwels stuit ons op 'n eentonige "hul-lerigheid" "Hul wou blomme pluk. Plotseling het hul 'n aantal Kaffers na hul sien aankom, en hul het begin hardloop. Hul het gou gesien dat hul nie sou voorbly nie, en het na 'n dik plek bosse weggedraai, waar hul gedink het dat hul miskien kon wegkruip. Hul het die bosse gehaal; maar hul was doodmoeg, en die Kaffers was kort agter hul. Hul moed was al byna op, toe hul by 'n erdvarkgat kom." (p. 187.)

In die taal is daar 'n paar anglisismes, onder meer die volgende: "watter goeie doeleinde kan dit dien (p. 98); ontdoen" (p. 132, 228). In Getrou: "En die dogter, is sy skoon? (Hollandisme).—O ja, sy is gangbaar (p. 39); sy is in geen haas om terug te gaan nie (p. 92); vroulike vorms" (p. 48). Die gebruik van beken en erken (p. 65, 71), gelaster (p. 86)[325] is verkeerd.

§ 16. Mevrou M. Jansen-Pellissier.

Martha M. Pellissier is gebore op Bethulie. Haar grootvader was 'n Franse sendeling. Aan die Hugenote-Kollege het sy in 1909 die B.A. graad behaal, daarna onderwys gegee in Pieter-Maritzburg en in 1912 in die huwelik getree met Advokaat E.G. Jansen L.V. Vir jare al is sy een van die stuwende kragte van die Afrikaanse saak in Natal. Vir verskillende vereniginge het sy ge-ywer en onder haar leiding het die Saamwerk-Unie die eerste openbare eksamens in Afrikaans gehou. In verband met die eksamens het sy haar ook toegelê op taalstudie en met medewerking van C.M. Booysen [Pg 206] 'n Afrikaanse grammatika geskryf. Haar Brandwag-verhale is in 1919 gebundel onder die tietel Die Veldblommetjie en andere Verhale. Verder het sy nog geskryf Afrikaner Harte, 'n toneelstuk.


Die meeste verhale in Die Veldblommetjie het 'n duidelike strekking. Dit is veral pedagogiese en seksuele vraagstukke, wat behandel word. "Die skryfster toon ons die sedebederf aan wat saam met 'n bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het" sê Dr. W.M.R. Malherbe in sy voorwoord. Daar is eintlik drie "veldblommetjies". Een volbring haar kinderplig ten spyte van die ontevredenheid van haar verloofde, die ander twee word verlei deur die skynskoon van die wêreld. Waarom die Agteruitgang? is geskryf "uit oortuiging dat die agteruitgang van ons mense op godsdienstig gebied grotendeels toe te skrywe is aan die feit dat Afrikaans nie van die kansel gebruik word nie ..." (p. 47).

Die skryfster gaan só te werk: verskillende episodes uit die lewe word op so 'n manier samegevoeg, dat dit as afskrikwekkende voorbeeld of direkte les kan geld. Om haar moraal beter te laat inslaan, verskerp sy die situasie gewoonlik en eindig met 'n melodramatiese slot, wat soms nogal onwaarskynlik is, soos b.v. die moord op p. 169. Om meer nadruk te lê op die didaktiese doel word die lesers direk toegespreek[326] en beskouings oor die gedrag van die karakters ingevleg.[327]

As gevolg van dié werkwyse het Die Veldblommetjie 'n bydrae op nasionaal-sedekundige gebied geword, wat 'n ernstige waarskuwing bevat, en sal meewerk tot opbouing van 'n gesonde Afrikaanse kultuur. Uit 'n letterkundige oogpunt moet egter die bewuste vooropstelling van 'n tendens afgekeur word. Die vernaamste fout is "that the moral suggests the tale far more frequently than the tale suggests the moral"[328]. "Zoodra je de bijgedachte hebt: ik wil 't leven zóó laten zien, dat de menschen onder den invloed van mijn werk op ideeën komen, die ze anders niet zouden hebben, moet je het [Pg 207] leven een beetje verwringen, datgene er uitkiezen, waardoor die ideeën worden opgewekt, en zoodoende een eenigszins valsch beeld geven van het leven."[329] Dit is 'n gevaar waaraan die skryfster in haar ywer om ons oor te haal tot haar opvattings nie ontsnap nie, maar dit geld meer die bou en opset van die verhale, want in die uitwerking van details word ons dikwels getref deur raak tekening van die lewe op plaas en dorp. Natuurlik kan tendensieuse werk ook goeie kuns wees. Volgens Frederik van Eeden is die verskil tussen goeie en verkeerde tendens-literatuur dit: "dat de kunstenaar, die een zuiver kunstwerk maakt, daarbij wordt bewogen door de schoonheid van zijn idealen, ook al zijn dit ethische idealen. De mensch, die onzuiver werk maakt, denkt om den invloed, dien hij op anderen zal hebben, tracht zijn lezers over te halen tot zijn overtuiging. Dit nu kan een echt kunstenaar als zoodanig niets schelen. Die let alleen op de schoonheid van hetgeen hij voor zich ziet. Let u op een van de hoofdwerken van Shelley, dan voelt u, dat hij in grenzelooze bewondering is voor hoog-menschelijke eigenschappen. Maar u merkt niet in hem de kleinste poging om iemand te bekeeren tot zijn opvattingen. Als die bekeering komt, dan moet ze komen door de schoonheid van wat hij te aanschouwen geeft."[330]

Bedenklik lyk my die houding, wat Professor Jan F.E. Celliers in sy voorwoord by die sketse Uit die Lewe van Gawie J. Otto aanneem teenoor strekkings-literatuur. "Die meeste sketse laat hy heeltemal vir hulselwe spreek. Dog as egte Afrikaner, wat voel vir sy volk, sien hy met besorgdheid hoe gebruike en sede onder ons verander, en nie altyd in voordelige sin nie. Daarom verwyl hy graag met liefde by herinneringe uit die verlede ... en kan hy nie nalaat nie om nou en dan voor die ligbeeld te tree wat hy op die doek gooi en 'n paar ernstige woordjies met ons te praat.... So 'n opbouende strekking vra nie in die eerste plaas of hierdie of daardie opvatting van kuns daarmee tevrede is nie; en dit was maar altyd en oral die kenmerk van [Pg 208] die letterkunde van 'n jong volk, wat vir sy opbou waarskuwing en lering nodig het. Van die ouere skrywers is daar menigeen wat ook, so tussenin, gemoedelik met ons kan gesels." Die sedeprekery in ons letterkunde kan op dié wyse nie geregverdig word nie. Aan 'n letterkunde wat in die begin van die twintigste eeu pas ontluik, moet tog ander eise gestel word, dan aan die van volke wat al vyf of ses eeue bestaan. Is daar dan miskien sedert die tyd van Maerlant b.v. geen vooruitgang in kunsbegrip gewees nie? Moet ons literatuur dan opgebou word op hopeloos verouderde beginsels? Die Europese volke van vandag het seker nog net soveel "waarskuwing en lering" nodig as in die tyd van Maerlant, en tog is daar geen enkele kunstenaar, wat nou nog b.v. natuurlike historie op rym gee nie. As ons skrywers voortgaan met die "gemoedelike geselsery" en sedeprekery, dan kry ons 'n versameling van traktaatjies en geen letterkunde nie. Wanneer iemand sketse uit die lewe skryf, dan moet dit só lewend wees, dat die skrywer nie nog met 'n stokkie by sy beeld hoef te staan en preek nie. Teken hy die egte Boereseuns, dan sal ons vanself weet, dat hy nie die "bioskoopaanbidders, sigaretteverslinders, ens." bedoel nie. (p. 16.)

"Al wat werkelijk schoon is geeft een zekere veredeling en heeft daardoor ook overeenkomst met godsdienstige dingen. Als iemand die goed begrijpt en als iemand een stuk kunst goed begrijpt, dan wordt hij daardoor tot nadenken gebracht en dan wordt hij er ook beter door. Het zal ethisch werken, zooals ook de muziek ethisch werkt ..."[331] Op dié wyse werk die kuns mee tot die opheffing van 'n nasie. Die dae van Vader Cats is verby. Ons het tot die oortuiging gekom, dat "juist het aller-subliemste in den mensch, het edelste, door iemand die er didaktisch naar zou streven niet kan worden bereikt ... Zoodra je didaktisch te werk gaat, moet je de menschen al redeneerend er toe brengen goed te zijn. Maar wanneer je de menschen kunt ontroeren door schoonheid, dan worden zij vanzelf goed."[332]

[Pg 209] Enkele verhale in Die Veldblommetjie is sonder strekking. Ons Heldinne beskryf die tyding van vlugtende vroue gedurende die Anglo-Boere-oorlog; Andries is 'n grapperige vertelling van die makmaak van 'n kwaai vrou en Die Storie van 'n Lam 'n goeie kinderverhaal.

Die skryfster het 'n aangename verteltoon, wat alleen in Liefdeswee spore van retoriek vertoon. Hier hoor ons o.a. van hartsnare (p. 177) en dat "die tand van twee lange jare byt" (p. 183). Ook die beeldspraak word troebel: "In sy donkere kykers, skuil daar nou weemoedige skaduwees wat die weerkaatsing is van die soet-suur liefdesbrand in die hart" (p. 174). Die styl is egter deurgaans helder en natuurlik. In Liefdeswee is daar 'n paar mooi brokkies natuurbeskrywing. Enkele anglisismes kom voor, o.a.: "Perderuiters ... dring hul 'n weg deur die skaar (p. 24); ek gaan vir 'n wandeling (p. 42); Tante ... haas na die kombuis (p. 88); klok-gesig (p. 111); die kinders neem daar 'n pret in" (p. 142).

Foutief is: "eikeboom, wie se spreiende takke (p. 154, 171) en gesuiwer (p. 115). Die dubbele negatief ontbreek ook soms.

§ 17. J.H. Malan.

J.H. Malan is in 1874 op Groenberg, Wellington gebore. Sy eerste onderwys het hy van C.P. Hoogenhout ontvang. Van 1894-1897 was hy onderwyser in die Vrystaat. Daarna het hy verder gestudeer en tydens die Anglo-Boere-oorlog Hollands gedoseer aan die Hoëre Skool op Seepunt. In 1904 begin hy sy joernalistieke loopbaan by die Re-Echo. Vervolgens het hy gewerk by Het Zuid-Westen en Het Westen. In Potchefstroom was hy ook redakteur van die tydskrif Werda, wat vir ongeveer 'n jaar bestaan het. Op die oomblik is hy op die redaksie van Die Volksblad in Bloemfontein.

Na die drie-jarige oorlog het Malan sy historiese ondersoekings in die argiewe begin en 'n versameling van Africana aangeleg. Boer en Barbaar het in 1913 verskyn,[333] [Pg 210] 'n toneelstuk Na Olikheid kom Vrolikheid in 1917, en Die Swerweling in 1921.

Tydens die veldtog van Dr. W.J. Viljoen ten gunste van die Vereenvoudigde Spelling het Malan in Ons Land vir Afrikaans gepleit onder verskeie pseudonieme, soos Cabo, Bonhomie, ens. Op joernalistieke gebied is hy as Oom Fanie bekend. Hy het o.a. deur die halfkroon-fonds £4000 vir Generaal De Wet se boete ingesamel. Vir sy aandeel in Die Dolosgooier van Joubert Reitz word na die bespreking van dié boek verwys.

Die Swerweling.

Die Swerweling is "'n verhaal uit die tyd van die Franse Hugenote in Drakenstein". Lambert Lourier, wat in Frankryk baie Hugenote oor die grense gebring het, word in Suid-Afrika "'n onverbeterlike makdroster, swerweling en niksdoener" (p. 165). Hy is 'n sieltjie sonder sorg, wat "geen staanplek in hierdie wêreld (wou) hê nie." (p. 40.) "Ek is wat ek nog mag word. Ek glo aan geen instelling van die mens nie" (p. 47). Sy vernaamste besigheid is dan ook rondkuier, jag en ipocras drink by die landdros, Samuel de Meurs, wat ook vroeër Hugenote gehelp 't om te ontvlug. Van dié vlugtelinge woon daar ook in Drakenstein, en in die smidswinkel ontdek Danie Hugo, dat Lambert die melkjong van die Orleanse klooster, en De Meurs die brandwag was, wat hom so fluks gehelp 't om met die meisies Anne en Jeannette te ontsnap. Anne het die vrou geword van Pierre Rousseau, maar Jeannette, Hugo se verloofde het aan die ontberings op die vlug beswyk. Lambert toon 'n neiging om sy swerwersbestaan op te gee as hy verliefd raak op Anna, die dogter van Rousseau. Maar hy verspeel sy kanse, omdat sy Kaapstadse "pepermintjie" Isabella so vrypostig met hom omgaan. Nadat Danie vir Anna uit die see gered 't, kry sy die ou-jonkman lief, terwyl Lourier troos soek by Isabella. Op voorspraak van sy vrinde, benoem die Goewerneur, Louis van Assenburgh, Lourier tot onder-stuurman op die retoervloot en op die Amsterdamse skeepstimmerwerf vergeet hy al sy swerwersideale en word 'n rustige werksman.

[Pg 211] Die Swerweling is 'n historiese roman, die hoofdoel waarvan die aanbrenging van geskiedkundige kennis is. Daar is tallose historiese uitweidings o.a. oor die vervolging van die Hugenote in Frankryk, die politiek van die Oos-Indiese Kompanjie, ens. Uit allerlei besonderhede blyk ten duidelikste dat hier 'n historikus, wat jare lank met groot toewyding in argiewe sy gegewens bymekaar gesnuffel het aan die woord is. "Dit is 'n jammerte dat geen enkele brief uit die tyd bewaard gebly is nie in sover dit die Kaapse Hugenote aangaan" (p. 17). Soms deel hy sy kennis op betogende wyse mee, soos in hoofstuk V, of anders laat hy iemand 'n opsetlike vraag stel. Anne wil weet, wat vir mense die Dragonders is (p. 20); Anna vra: "Maar wat is nou eindelik (eintlik?) die galeie? (p. 22); De Smit: "Maar Aploon, wat is nou eintlik die Buddhisme? (p. 59); en op p. 105 vra Anna weer: "Maar wat doen die Hugenote en die misdadigers dan nou eintlik op die galei?" En so is daar meer voorbeelde, wat ons telkens laat voel, dat ons hier met geen mense te doen het nie, maar alleen met 'n skrywer, wat onder allerlei vermomming sy byeengegaarde kennis aan die man wil bring.

"Koopmans heeft voor eenige jaren in De Beweging (III jg.) den historischen roman vergeleken bij die eigenaardige soort van publieke vermakelijkheden, die zich toen nog wel als aanhangsel van tentoonstellingen, onder den naam van Oud-Antwerpen, Oud-Dordt, Oud-Holland en wat niet al voordeden. Een oudheidkundige en een architect zetten zich aan het werk; oude prenten worden geraadpleegd, en oude kaartboeken en werken over meubel- en kostuumkunde opgeslagen en daar verrijst na wat passen en meten, wat "woekeren met de ruimte" een marktpleintje met een straatje en een grachtje, overschaduwd door vierjarige iepen, alles opgebouwd uit pleister, paklinnen, riet en bordpapier. Een vroegere keukenmeid komt er u misschien als oud-Hollandsche kellnerin een potje peuzelaar uit Heineken's brouwerij brengen. Ge krijgt een oogenblik een gezellige illusie, maar dat is het frissche, rijke leven niet. Gij houdt ten slotte het besef, dat alles maar komedie en aanstellerij is, midden in de moderne maatschappij. Achter gindsche [Pg 212] schutting, die het raadhuis voorstelt, snort de electrische tram voorbij."[334]

Die vergelyking pas op Die Swerweling, want ten spyte van die argaïstiese tintjie in die styl, ten spyte van al die moeite wat die skrywer gedoen het om histories juis te wees in die skildering van die omstandighede, gewoontes, huisraad en klere van die Kaapse Hugenote voel ons direk, dat dit 'n bordpapiere wêreldjie is, wat ons die moderne werklikheid nie laat vergeet nie. Die indruk word nog versterk deur die gebruik van sulke outydse foefies soos die volgende: "Ons mag 'n gedeelte van die gesprek by die voordeur afluister, solang die slaaf in die kombuis aan slaap is ..." (p. 92); As 'n mens 'n dag na die gebeurde in die vorige hoofstuk vermeld, en dit kort na sonsondergang, saggies by die opestaande gang binnestap en by die deur links in die kamer kyk, sou 'n mens 'n meisie van omtrent 19 jaar oud voor 'n groot spieël het sien staan." (p. 144.) So teken die moderne kunstenaar nie. Die laat ons geen gesprekke by die voordeur afluister nie, maar plaas ons in die volle realiteit, omdat hy met sy eie persoonlikheid die lewe van sy uitgebeelde persone deurleef het. "Il faut que la réalité extérieure entre en vous; á nous en faire crier, pour la bien reproduire", sê Flaubert.

Mens is halfpad deur die boek voor jy weet wie Anna en Anne is en die ongelukkige gelykluidendheid van die name gee aanleiding tot kindergestamel. "Anna mag wel verliefd op Lourier wees of word, maar dit sal ten minste nie met die toestemming van Anne wees nie, as Anne weet dat hy van Anna meer as van 'n vriendin hou." (p. 83.) Anna openbaar in haar liefde so 'n netjies-redenerende nugterheid, dat ons twyfel aan die egtheid van haar gevoel. Dit geluk haar uitstekend om haar vader se raad op te volg. Sy moet "met Lourier se innerlike karaktertrekke soveel moontlik in aanraking ... kom ... met intoming van gevoelens, sodat daar 'n terugtrekking kan wees" (p. 127). As Lambert by haar aandring op 'n beslissing, dan antwoord sy ewe verstandig: "Dit is ingewikkeld vir 'n meisie van my jare en onbedrewenheid om alles [Pg 213] so haarfyn oor my verlange en my wense uit te pluis en te beslis." (p. 133.) Tog het sy hom werklik lief, maar na die onthullings in die bootjie volg daar so 'n plotselinge ommekeer in haar gevoelens, dat dit baie op geestelike akrobatiek gelyk. Vóór die bootongeluk het sy vir Hugo "nie die minste ontferming of vriendelike nagedagte nie" (p. 168), maar kort daarna "huil (sy) bitter en lang in haar pynlike verlange na hom" (p. 175). Sy is ongetwyfeld 'n "fatsoenlike dame", wat heel verstandig handel en weinig las het van 'n impulsiewe Franse temperament, maar in so 'n koel-berekende "liefde", waarby finansiële oorwegings 'n groot rol speel[335] is niks wat ons deur skoonheid ontroer nie.

Dat Lourier "die onverbeterlike swerweling en niksdoener" so 'n rustige ambagsman in Amsterdam word, waar hy "'n verantwoordelike en winsgewende pos" beklee (p. 198) is ook in stryd met die gewone menslike geaardheid.

Hugo, "die verstandige, kalme figuur aan die Bergrivier" (p. 125) bly ook meestal doodbedaard. Hy vind dit heeltemal billik, dat Anna "die man se innerlike (moet) leer ken, wat verlang dat hy haar lewensgesel sal wees" (p. 84). En as dit blyk dat sy verwagtings op 'n sandbank gebou is, bring Pascal hom tot die heldhaftige besluit: "Hy sal losbly van homself(?), om nie te verlang nie, dat sy vir hom liewer as vir 'n ander sal hê en dit net omdat hy vir haar lief het" (p. 116). Van lange duur is die filosofiese wysheid egter nie, want hy gaan slaap "met die gedagte wat streef om die holligheid in die huis en haard tog eenmaal op te vul met die geluk waarna hy in sy troostelose allenigheid smag" (p. 117). Dit kom my voor dat die neiging van die outeur om in die persoon van Hugo die Hugenote te idealiseer hom hier parte speel. "Hy (behoor) ook groot genoeg te wees om vir hom (aan 'n teleurstelling) te onderwerp, soos hy met sy geloofsgenote gewoon was om te doen" (p. 116). Maar van die grootheid merk ons nie veel nie, want as hy gaan slaap, verlang hy al weer na Anna, doen [Pg 214] hy dus presies, wat hy hom voorgeneem 't om nie te doen nie!

Die slemppartye van Lourier en De Meurs is miskien die besgeslaagde toneeltjies in die boek. De Meurs met sy toegeknipte oog en knorrende brak. Lambert in sy astrante vrindskaplikheid is goed geteken, terwyl die dialoog meestal fris en lewendig is. Hoe styf en onnatuurlik word dit egter op ander plekke! "Ja, as dit (die liefde) die diepte van die ware moederliefde het en 'n vermeende liefde nie 'n bandelose drif is nie wat te dikwels en helaas, al te gou tot 'n ontnugtering van die werklikheid (?) kom." Sulke en nog swaarwigtiger betoë lewer Jacob de Smit op p. 137. Hy praat van "'n nimmereindigende lewenswroeging", terwyl ook Isabella so deftig soos 'n dominee redeneer: "Jy sien daar so beteuterd en ontredderd na liggaam en siel uit, asof jou sterwensuur naby is." De Smit vertel Lourier dat sy ouershuis "nou 'n droom, 'n ysingwekkende, nimmereindigende herinnering (is). Terwille van (sy moeder) het (hy) nog teen die verdrietelikhede van die lewe manhaftig en hygend geworstel...." (p. 46). De Smit met sy triestige beskouings moet dien as teëhanger van Lambert Lourier met sy lugtige swerwersnatuur. Maar die hele selfmoordepisode behoort tot die swakste gedeeltes van die boek. Malan verstaan nie die kuns om deur intuïtiewe deurdringende details sy persone te laat leef nie en De Smit bly vir ons 'n skim. Sy teatrale lamentasies mis alle egtheid en die tekening van sy geval is so alledaags, dat dit by ons geen dieper gevoel opwek nie dan soortgelyke berigte, wat ons af en toe terloops in 'n krant raaksien.

Die onverstaanbare praatjies van Aploon oor Boeddhisme lyk baie na onhandige vertalings uit 'n handboek oor Oosterse wysbegeerte. Onder ander sê hy: "Die mens het geen eie ek nie. Hy bestaan uit 'n liggaamlike uiterlike gevoel, waarneming, begeerte en bewussyn wat hy hom kan verbeel en as hy sterf, plof dit almal uiteen" (p. 59). Die vertalings uit Pascal is ook nie almal gelukkig nie "Die teenwoordige is nooit ons end nie...." (p. 115). Die Franse teks lui: "Le présent n'est jamais notre fin: le passé et le présent sont nos moyens; [Pg 215] le seul avenir est notre fin".[336] Dit lyk baie of 'n Engelse vertaling Malan hier op 'n verkeerde spoor gebring 't, want uit die verband blyk dit dat Pascal wou sê: Die teenwoordige is nooit ons doel nie. Onduidelik is ook Malan se vertaling van: "Si nous naissions raissonnables et indifférents, et connaissant nous et les autres, nous ne donnerions point cette inclination à notre volonté.[337] "As ons onverskillig—oplettend...." ens. (p. 115).

Onverstaanbaarheid is 'n vaste kenmerk van Malan se styl. Telkens stuit mens op sinne, wat jy drie of vier keer moet lees, voordat dit op 'n manier duidelik word. Sy verwronge uitdrukkingswyse laat mens dink aan 'n swaargelaaide wa, wat kreun-kreun teen 'n knaende opdraand uitgesleep word.

Die duisterheid word meestal veroorsaak deur 'n onbeholpe sinsbou en woordskikking, of 'n verwarde gedagtegang. "'n Halwe of hele bottel wyn by glasieswyse genuttig in 'n aand deur een persoon, is nie juis beskou deur die fatsoenlikste in die land nie, dat 'n mens op 'n ongeoorloofde wyse oor jou maat gaan." (p. 92); "Ek snap dit nie, maar ek glo dat 'n Indiese bende ook in die rigting van die onsienlike en harmonie vir hulle beweeg" (p. 122); "Daarmee is hulle die aand, byna histories vir die famielie se geskiedenis uitmekaar" (p. 126); "Hugo redeneer, dat hier daar nou 'n mooi geleentheid moontlik sal kom ..." (p. 101); "Die okkultistiese wysbegeerte ... had 'n vèrreikende invloed op die ongelukkige man, waaroor hy dae lang steeds gedroom en met sy eie toestand vergelyk het." (p. 61); "In geen land is 'n somersnag bekoorliker nie as in Suid-Afrika.[338] Die suidooste wind het af en toe die dag gewaai en alhoewel dit in Olifantshoek byna pynlik was, die alom-besielende stilheid in die natuur, kon die aanhoudende dreuning van die "Sedoos" se geblaas ... nog duidelik gehoor word ..." (p. 132); "Vir sy onderwyserskap wil [Pg 216] hy verhoging van traktement hê, wat maar twee dae in 'n week ... duur" (p. 12); "Dit was ons leiers se grootste fout gemaak, dat hulle ..." (p. 19); "Vir haar skyn daar met 'n oormate van poeier aan die gesig, voorligting oor betaamlikheid en stemmigheid sonder suur en spraakloos te wees, ten minste ontbreek te hê" (p. 144-5).[339]

Naas meer sulke voorbeelde kom daar nog baie staaltjies van onbeholpe styl en verkeerde woordgebruik voor, waarvan enkele voorbeelde ter tiepering gegee word: "Die geplas van die strooidak neerstromende water" (p. 15); "oorstelp" (p. 64); "En as hy met ander honde op straat brutaal is, dan as hy aan die kortend kom, vlug hy tussen sy baas se bene, wat sy Nimf ... dan met sy stok verdedig" (p. 69); "ontbreek" (p. 72); "Toe hy sy hand bo sy oë hou, om die gedaante ... te ontsyfer" (p. 74); "herinner" (p. 124); "onderhoud" (p. 135); "Hy het ... so skokkend geskrik" (p. 149); "bevel" (p. 178).

Storende herhaling van dieselfde woord kom maar al te dikwels voor: "Hy kan moontlik Hugo se sukses al onmoontlik gemaak het; ongetwyfeld—sonder twyfel; belangstelling ... gestel het of stel" (p. 82-3); "weer ... weer ... weer" (p. 86, in een sin); so ook "buurman" (p. 102); "Toe was sy ook etlike male voor die spieël en vol van mooie bespiegelings oor haar indrukwekkende postuur ..." (p. 146); "almal ... almal; wispelturige; Daar was ten minste 'n kenlike gemoedsvrede ... in die kombuis van Pierre Rousseau kenbaar" (p. 9); ens.

Die beskrywing van die verjaardagfees op die kasteel in Hoofstuk XVII mag in alle opsigte histories juis wees, maar met kuns het dit seker niks te maak nie. "Eindelik tree die goewerneur, onder menigvuldige buigings van die gaste ... binne. Daaronder word opgemerk, onder meer, landdros de Meurs, lede van die Politieke Raad, ander vernaamste ingesetene van die stad.... Isabella was in 'n platgeplooide swart syrok, mevr. luitenant Rheede in 'n polonnaise-plooirok...." [Pg 217] (p. 153-4). So 'n verslag kan die jongste rapporteur van Die Volksblad ook skrywe! In wat blykbaar as 'n kunswerk bedoel is, behoort so iets, om die minste te sê seker nie voor te kom nie.

Malan het 'n manier om met die grootste erns uit te wei oor alledaagse onbelangrikheidjies. "Anne wat in die kombuis besig was om te stryk, het binnegekom nadat Anna, haar dogter, vir haar van die gaste vertel het en sy het hulle almal hartlik welkom geheet, nadat sy vir hulle gegroet het" (p. 8). Nou weet ons dit tog sekuur: eers groet, dan welkom heet! Maar, "intussen sal Anna voorbereidsels vir die ete maak" en "solang die gaste en Pierre oor die rit, die weer en die boerdery praat is die tafel gedek en verder alles in verband met die aandete in orde gebring. Toe hulle almal aansit, was daar genoeg vir almal." Gelukkig vir die huisvrou, maar hoe sy dit so sekuur kan weet by die begin van die maaltyd al, is nie erg duidelik nie! Dan volg 'n uitweiding oor die "Fransche brood". "Na die ete is die huisgodsdiens, wat deur Pierre gelei is, waargeneem. Eers is 'n hoofstuk uit die Bybel uit voorgelees, toe 'n psalmvers gesing, ens ..." Waarom moet sulke welbekende sake so plegtig meegedeel word? Hier het Malan nou 'n mooi geleentheid gehad, om deur enkele plastiese trekkies, deur die tekening van 'n paar gebare of die aanduiding van 'n reeks klein handelinge sy persone uit te beeld. Maar vir hom is dit, as historikus hoofsaak, dat die leser moet weet van "die worsteling van die Camisarde, (wat) op die punt is om onderdruk te word".

Na die huisgodsdiens gaan die gaste in die kombuis om die vuurherd sit. Die poging om die nuwe atmosfeer aan te dui is nie erg gelukkig nie—daar is storende herhalings en verwronge sinsbou—terwyl die volgende sin seker uit 'n kinderboekie verdwaal het: "Anne vra vir Anna om die tessie met die stoof asseblief te gaan haal; en nadat sy dit gebring het, (gewigtige meedeling! P.C.S.) het sy vir haar moeder daar kole met die tang ingedoen en dit het onder Anna se voete in die stoof gekom"! (p. 9-10).

Gevoel vir die natuur het Malan wel, maar hy vergenoeg hom meestal met konwensionele beeldspraak. [Pg 218] Die bergpunte gooi hul "wit musse" ongeduldig af (p. 5); "van die sonneskyf (spat) 'n see van gloeiende vonke (af)" (p. 6); "Statig en deftig is die son reeds agter die westerkimme weggestap in sy fonkelende mantel van goud en oranje en violet" (p. 199). Waag hy hom aan 'n nuwe beeld dan kry ons rariteite soos die volgende. 'n Wyfie-kokkewiek antwoord haar maat "in 'n perfekte maat ..., met halleluja's" (p. 63), terwyl die lenteson elke jaar "nimmerfeilend oor elke boom en blad na 'n gure winternood halleluja's neergiet—helaas, helaas, ook as requiem vir die voorgeslag wat verby is, wat leef, wat kom." (p. 80-1). Halleluja's as requiem! 'n Voorgeslag wat leef, wat kom! Dit staan daar!

In hoofstuk III moet 'n vergelyking van die voortreflikhede van "eiland- en waterleipatats" ons in die stemming bring vir 'n lofrede op die Bergrivier "die lewensaar en voeder van die allereerste wegbaners in die nuwe vaderland" (p. 38). "Aan sy oewers is hy die een na die ander geslag as 'n neulende kindjie in die skommelende wieg, 'n nooit-vergete troos." Maar in die volgende sin hoor ons: "By hulle moes die Bergrivier se aansyn en waterrippeling die afspieëling van 'n moederportret gewees het ..." Dat "die puriteinse gedeelte van die volk ... die rooivlag ... uitgehang het" teen die ou bruilofsliedjies is 'n anakronistiese beeld, wat 'n snaakse indruk maak in die agtiende-eeuse sfeer. (p. 183.) In die "aambeeldklanke aan die oewers van die Eersterivier" klink 'n harmoniese toon, maar waarom moet ons driemaal hoor dat die water "haastig" is? (p. 81).

Stereotiepe uitdrukkings soos die volgende kom dikwels voor: "'n Skynende lig in die ... dikste duisternis" (p. 108); Lourier bly "as 'n soutpilaar staan" (p. 86), en voel "asof hy langsamerhand in 'n see van wanhoop wegsink" (p. 162); ens. Naas retoriese uitdrukkings soos: "Sy kreun van sielswroegende spyt" (p. 173) ook die mees alledaagse beleefdheidsfrases: "By die geleentheid het hulle vir hom met die innigste hartlikheid vir sy heldhaftige daad bedank en Hugo het dit met die minlikste bereidwilligheid aanvaar" (p. 176). En hoeveel "sugte" word daar nie "geslaak" nie! De Meurs "slaak die een na die ander sielsverstorende sug" (p. 72); Anna "slaak [Pg 219] ... 'n diep sug van troos en verligting" (p. 174); ens.[340]

Onder die anglisismes kom voor: kyk (blik, en iemand besoek, p. 6, 13, 186, 62, 76); sieniek (sienikus, p. 84); "om daar ... so 'n ekshibiesie van hom te maak" (p. 162); afgetrek (p. 183). Malan gebruik dikwels Hollandse woorde en wendings: tors (p. 27); desulke (p. 32); verhole (p. 44); ens. Die volgende voorsetsels is foutief: "Uit die gang uit gaan 'n mens by 'n rei[341] trappe op na bo" (p. 24); "student in 'n Neerlandse Uni(w)ersiteit" (p. 48); "die kroon was ... deur mak-roosmaryn ... versier" (p. 183); "sakdoeke aan die vertrekkende gewaai" (p. 189); "As amptenaar van die O.I.K. het hy ... by hom die stempel van Batavia gedra" (p. 66). Uit 'n taalkundige oogpunt sou daar nog heelwat op Malan se sinsbou aan te merk wees. Onder ander is sy gebruik van die dubbele ontkenning, van het en dikwels foutief.

§ 18. Ds. J.H. Kruger.

Ds. J.H. Kruger is in 1878 gebore op Venterstad, K.P. Aan die Teologiese Skool, Burgersdorp het hy gestudeer en daarna enige tyd onderwys gegee. Sy teologiese studie is in 1899 deur die oorlog onderbreek. Met die hulp van vriende het hy deur Grootrivier gevlug en as rebel by die kommando's aangesluit. Na herstelling van 'n wond by Spioenkop, Natal opgedoen, het hy by Generaal De Wet aangesluit, maar in die verwarring by die slag van Sandrivier is hy gevang en moes twee jaar as balling in Ceylon deurbring. In 1906 het hy in Potchefstroom proponentseksamen gedoen. Sy eerste standplaas was Elliot en van 1911 af Postmasburg. In 1921 het van hom verskyn 'n roman, Twee Rampe en Twee Gelukke, waaraan in die prysvraag van die firma J.H. de Bussy die twede, prys toegeken is.

[Pg 220]

Twee Rampe en Twee Gelukke.

Bram, die eienaar van die plaas Leeukop het agteruit geboer en was verplig om geld op te neem by sy buurvrou, ou tant Anna Smal, wat van sy verleentheid wil gebruik maak om haar buffelagtige seun Hans met sy fynopgevoede dogter Isabella te laat trou. Met skinderpraatjies steek tant Anna vir Bram op teen die Breed-famielie, sy beste vrinde, wat op die aangrensende plaas Oupos woon. Isabella het vir Piet Breed lief, maar haar vader se afhanklike posiesie verplig haar om met Hans uit te gaan, wat haar na 'n dansparty sleep. Tant Anna en Bram jaag die Breeds van hulle huurplaas weg, maar Bram se gewete plaag hom so, dat hy sy dogter en die Breeds kort voor sy dood om vergewing vra. Hans word in die pad gesteek deur Bram se weduwee en as tant Anna die geld opsê, word Piet Breed deur die vrygewigheid van Oom Segrys Boshof in staat gestel om Leeukop te koop.


Die roman is hoofsaaklik in dialoogvorm geskryf. Die gesprekke word baie breedvoerig weergegee, en as gevolg kry die verhaal hier en daar 'n slepende gang. Heel weinig word aan die fantasie van die leser oorgelaat. Daar is soms 'n neiging om alles tot op die been af te kluif. Groetery, koffiedrinkery en soortgelyke dinge word oor en oor vertel. Die skikkinge vir die begrafnis word baie omstandig meegedeel en ou Jefta se relaas (p. 37-40) kon heelwat korter gewees 't.

Die dialoog tref deur 'n besonder losse natuurlikheid. Die mense praat geen kunstig inmekaar gesette vernufstaaltjie nie, maar hul gesprekke word gekenmerk deur die sig-sag gang, die toevallig gebrokene van die geselstaal.[342]

Maar, "gesprekjes weergeven is geen dialoog, hoe letterlijk de weergegeven woordjes en zinnetjes ook zijn.... De hooge en werkelijk groote dialoog ontstaat pas in de door de ziel van den kunstenaar herschapen taal-levingen. Dialoog krijgt alleen dan diepte, als hy [Pg 221] geheel op hetzelfde geïndividualiseerde plan staat van de waarde der menschen en omgeving. Dialoog scheppen is even moeilijk als tragiek scheppen, of liever moet zich geheel scheppend oplossen in de gansche uiting. Evenmin als 'n fotografische opname eener omgeving, die alleen door de ziel van een kunstenaar er in te brengen stemming kan weergeven van die omgeving, evenmin kan een fonografische op- en overname van een gesprek de stemming weergeven van de ziel der wezens die spreken. Dialoog is stemmingskunst in de hoogste volmaking en 'n innig-levende dialoog kan nooit 'n klankweergeving zijn van afgeluisterde zinnetjes."[343] Fonografies korrekte sinnetjies is seker volop in die roman, maar in die pratery van ou tant Anna bereik Kruger ongetwyfeld iets van die hoë dialoog. En dat sy mense op natuurlike wyse gesels is ook al iets om dankbaar voor te wees, aangesien so baie van ons skrywers nog soos Bredero van Rodenburg sê "de Vrouwen, Dienst-meysjens, ja Stalknechts doe(n) Philosopheren ... dat ick doch meer voor een bewijs van uwe wetenschap acht, als voor een eygenschap in die slach van Menschen."[344]

Kruger verstaan die kuns om uit die dialoog die innerlike wese van sy mense te laat opduik en daardeur bereik hy meer dan baie ander skrywers met analiese of beskrywing. Tant Anna het skaars haar mond oopgemaak of ons ken haar al deur-en-deur in al haar skynheilige vroomheid. As skinderbek veral is sy goed geteken. Op listig-diplomatieke wyse word die driftige Bram eers opgestook, maar as hy te ver wil gaan in sy woede laat sy hom bedaar met 'n bybelteks! (p. 66). Deur allerlei gelukkige trekkies en haaltjies word sy so goed uitgebeeld, dat sy naderhand lewendig voor ons staan met die vetswam onder haar kin, die vuil-gelige tande, bleekrooi sakdoek en snuifdosie. Ook van Hans en Jan Booise kry ons 'n realistiese portrettekening. Ou tant Anna se vroom uitvalle, haar met bybeltekste deurspekte taal en haar manie om almal te dokter is goed [Pg 222] weergegee. So ook die buffelagtige lompheid van Hans. Maar die kenmerkende eienskappe van moeder en seun word teen die end van die verhaal só aangedik, dat die tekening karikatuuragtig word. Kruger moet dit nie vergeet nie: "il n'y a point d'unité complète dans l'homme, et presque jamais personne n'est tout à fait sincère ni tout à fait de mauvaise foi."[345]

Tog is daar 'n paar mooi realistiese toneeltjies uit die lewe op Tweefontein[346] en die manier waarop Hans van Leeukop verwilder word (p. 202, vlg.) is 'n gelukkige vinding, wat van diep-psigologiese insig getuig. Dit is ook waar van die uitbeelding van die oplopende Bram, wat na die dansparty tot inkeer kom; die kwaai-koppige Oom Segrys, wat dit nie kan kleinkry nie, dat dit na 'n dansparty altyd so mooi reent (p. 182); tant Martina, wat so trots is op haar "skoon geslagte" en die so fyn kan uitrafel. Maar Piet bly 'n skim en die maklike manier, waarop hy eienaar word van Leeukop gee hom die allures van 'n "romanheld". Dit is die swak punt in die komposiesie van die boek. Oom Segrys se buitengewone vrygewigheid word wel enigsins gemotiveer deur die feit, dat die Breeds hom in die stormagtige nag gered 't, maar die oubaas, wat so 'n swak het vir famielie-betrekkings het tog seker nog nader verwante gehad, wat meer reg op sy geld het as Piet. Oom Segrys is eenvoudig die deus ex machina, wat die ontknoping van die verhaal moet bewerk. Sulke goedhartige ooms is maar bra skaars in die werklike lewe.

Die tekening van Isabella is ook net gedeeltelik geslaag. Haar ervarings op die dansparty is meer die indrukte van 'n dood-onskuldige teologiese student, wat vir die eerste maal iets van die sondige wêreld sien en notiesies maak vir 'n retoriese preek teen wêreldsgesindheid. "Will Bottel het op haar 'n treurige, sonde-vieslike[347] indruk gemaak" (p. 151). Sy sien hom lê op die vloer "soos iemand in die poel van rampsaligheid moet lê" (p. 172). "Dit was vir haar of sy in 'n onheilige [Pg 223] omgewing staan en 'n besoedelde atmosfeer inasem, 'n atmosfeer, waarin verpestende sondekieme ronddrywe" (p. 152). "Die onreinheid en onheiligheid het haar angstig gemaak, ontevrede, ongemaklik en verwaarloos laat voel, net soos iemand, wat vuil was en lanklaas gewas het"!! (p. 177). Sulke opmerkings bewys, dat hier die predikant baas speel oor die outeur. Hy kon hom nie vereenselwig met die malkop-dansers in hul "dolle gloria" nie, maar bly 'n onwillige toeskouer van al die sondige pret. Sy aanvoeling van Isabella se gewaarwordings is grof-manlik en nie vroulik-subtiel nie. Maar as Isabella met Koos dans, dan maak hy 'n raak opmerking: "Sy dans en voel, dat dit 'n genot moet wees om te dans met 'n jonkman, wat sy sou bemin" (p. 163).

Oom Freek is geen figuur wat ons tref deur indiwiduële tekening nie. Sy mymering op p. 10-11 sit te netjies inmekaar om eg te wees. Dieselfde indruk maak ook p. 74, terwyl Hans onmoontlik ou Jefta se woorde so presies in sy gedagte kan nasê (p. 78). Dat al drie reisigers dieselfde indruk van die verlate Oupos kry (p. 138) is ook onmoontlik. Mooi word egter die atmosfeer aangedui as Piet in die waanhuis die doodkis toeskroef (p. 20) en treffend-eg is die uitbeelding van sy grillerig-bange gevoelens. "Piet verbeel hom meteens, daar uit die groot, wye spinnekop-nes kom 'n grillerige langbeen....; die verewa agter in die waanhuis kyk hom aan met groot starende oë".[348] In die damtoneeltjies is daar stukkies beskrywing van 'n suggestiewe fynheid.[349]

In die verhalende gedeeltes is Kruger se styl soms so kort afgebyt, nes een wat ver gehardloop het en nog uitasem sy storie vertel.[350] Eweas in die dialoog kom hier ook 'n breedvoerigheid voor, wat af en toe hinderlik word. "Die predikant staan op, maak keel skoon, haal sy bril uit die skyf, vee dit af, hak hom met albei hande agter die ore vas, gee 'n versie op, lees 'n kapittel en begin toe, so effens oor die brille[351] loerend." (p. 30.) [Pg 224] So 'n eentonige reeks moment-opnames steek lelik af by realistiese skilderytjies soos die volgende: "Ou tant Anna lag met wyd oopgerekte mond, die vetswam onder haar ken uitdyend en die gehemelterooi agter haar vuil-gelige tande wysend." (p. 65.) En wat maak vlak-vaal sinne, waarvan die volgende maar een voorbeeld is in 'n letterkundige werk? "Die meeste meisies was in die groot langwerpige eetkamer, waarin, behalwe 'n eettafel en 'n paar ouderwetse swart stinkhout stoele, niksnie besonders was nie." (p. 152.) Onbeholpe van segging is o.a. die volgende: "'n groot misstof stofwolk (p. 70); die om sy lyf met 'n riem vasgegorde te wye ferweelsbroek (p. 86), Oom Freek (vra) met bewende ken, waaraan die lang yl baard skud en vlammende oë" (p. 87); die herhaling van slaap op p. 181.

'n Voorbeeld van smaaklose klink-klank is die beskrywing van die wind op p. 146. "Draaiende, swaaiende kom met die paaie aangewaai stowwe suile (stofsuile?), wat soos geel krullende kuiwe opstuiwe. Die hollende, jollende wind skop die stowwe bolle (stofbolle?) soos dwalende, malende vuilkolle hoog in die lug in...." So rym en allitereer hy dapper voort nes 'n poëtaster, wat sy eerste versfabriekie aanmekaar klink! Ondertussen word die stofsuile van krullende kuiwe tot stofbolle en die weer tot vuilkolle! Komies is die klankeffek in die volgende: "Die slappe wilkertakke ... skoppermaaie rusteloos, moedeloos, lindelam heen en weer oor die dam"![352]

In sy beeldspraak is Kruger 'n enkele maal fris en oorspronklik. Ou Jefta se hemp word deur die wind bulsak geblaas tussen sy skouers (p. 147); Isabella sidder "soos 'n voëltjie vir 'n mamba-slang" (p. 153); Jana lyk "soos 'n Bloemfonteinse straat, wat ... opgemaak (is) vir die hertog van Connaught" (p. 149). Die gewone cliché-praatjies is egter ook volop: Die lykpreek het "byna 'n eeu geduur" (p. 30); "Koud soos 'n stuk ys, waaraan sy gloeiende hart raak ..." (p. 84); "Haar hart het ... gebrand van verlange, maar sy moes daardie liefdekole in haar boesem dra"! (p. 223). Arme meisie!

[Pg 225] Storend is die gebruik van 'n driedubbele negatief en weglating van die dubbele negatief. "Vir haar was daar niksnie aangenamer nie (p. 24) nooitnie ... nie; ens. "G'n blaartjie het geroer" (p. 7); ens.

Ofskoon die gebruik van dialektiese vorme in die dialoog toelaatbaar is, moet dit afgekeur word in die verhalende teks. Kruger gebruik o.a. suffel, groos, espres, bebliek, ens. Wat hy o.a. met preer (p. 204), effetroon (p. 62), eenspaier (p. 141) bedoel is my onbekend.[353] Verkeerd is: ongehawende stemme (p. 8), kostelike gordyne (p. 214), terwyl moedvallig 'n Krugerisme is.

Afsonderlik moet nog vermeld word, dat Kruger sy eie persoon nooit op die voorgrond dring nie. Hy hou geen toesprake tot sy "geagte lesers" en moraliseer nie oor sy karakters nie. Van 'n skrywer, wat in sy eerste werk so 'n psigologiese indringingsvermoë openbaar en so realisties teken, kan nog veel verwag word.

§ 19. Mej. Sadie Bosman.

Langs Kronkelende Weë (1921). Dit is 'n verhaal van "hartverskeurende afskeid", van eindelose gekreun en gesteun, van sugte en snikke! Dis nie die gewoonte om statistiese tabelletjies in 'n letterkundige kritiek te gebruik nie, maar in hierdie geval moet tog vermeld word, dat daar byna vyftig maal gesug word! Dan nog al die trane! Emmers vol! Soms kom al om die ander bladsy byna die uitdrukkings "met 'n sug", "met betraande oë" voor.[354] Met sulke en dergelike huilerige woordjies, met 'n salwende tederheidsbetoon, 'n sieklik-verweekte gevoelerigheid probeer die skryfster om ons te ontroer. Met sielsleë frases wil sy ons in 'n droefnisstemming bring! "Duisenderlei bange vrese vervul steeds haar treurende hart en die skoon oë was moeg van al die stil geween ... die oë vol skaduwees (waaragter) 'n wêreld van wee verberg was" (p. 155). "Maar vanaand moes die sterre hulle aangesig verberg vir die hartverskeurende strome van mensebloed(!) wat orals vloei, en skyn die [Pg 226] hemelse vrede verder as ooit te wees van die oorlog-geteisterde aarde" (p. 61). "Met gebukte hoof, verbleekte gesig, en dromende oë hervat sy haar lewenstaak; maar die glimlag op haar lippe het vir altyd verdwyn, (So, so! P.C.S.) en haar hart daarbinne was versteend" (p. 96). Nêrens 'n gevoelde woord, met pure aanstellerige bombas. Of anders 'n mislike foefie om eie onmag te bedek. "Oor die bitter skeiding en hartverskeurende vaarwel laat ons saggies 'n sluier neer" ens. (p. 47).

As Lear uiting gee aan sy droefheid oor die dood van Cordelia, dan sê hy met 'n eenvoudige gebaar: "Pray you, undo this button. Thank you sir". Só werk die beeldende kunstenaar.

Groot en egte lewensgevoel kan alleen geuit word deur groot styleienskappe. Daar is duisende diep ontroerdes, by wie alleen hakkelwoordjies of stomme gebare 'n aanduiding gee van die lewenstragiek. Maar alleen die kunstenaar kan die donker dieptes vir ons oopblits. Dit kan nie gedaan word met praatjies oor "snikkende geween" en "gesmoorde smartelike kreune" nie. In Sadie Bosman se styl is daar nooit 'n opglansing van oorspronklikheid nie. Dit is wat Querido noem 'n "grijseffene breikousenstijl", waarin die dooiste gemeenplaatse met 'n geroetineerde ratsheid afgerittel word. Nooit raak sy verleë oor 'n woord nie, die naalde klik-klik met masjinale reëlmatigheid.

Tog het sy 'n stof behandel, wat by 'n waarlik voortreflike werker tot 'n geweldig aangrypende tragedie sou kon gegroei het. Hannes en Miemie is verloof, maar deur die rebellie en die veldtog teen Duits Suid-Wes (1914) ontstaan daar vyandskap tussen hul vaders. Hannes kom tot ander insigte deur sy omswerwings in die Vrystaat en op die end van die "kronkelende weë" kry hy tog vir Miemie. Geteken word dus die reaksie op 'n paar persone van die geweldige konflik, wat die Afrikanerdom in twee partye verdeel 't en vandag nog soveel bitterheid veroorsaak. Maar die twee vroue, deur wie Hannes tot Nasionalis bekeer word is geen gewone sterwelinge nie—hulle is engele! Veral Lida word ons voorgestel as "'n vleklose engel" en selfs die dokter "'n bedaarde ou Engelsman" (p. 198) verklaar, dat "vir [Pg 227] so 'n engel ons besoedelde aarde 'n onwaardige woonplek (is)" (p. 199). Maar ook Miemie is so 'n voorbeeldige jongedogter, dat dit geen verbasing wek as ons hoor dat sy "engelagtig lyk" nie (p. 16) en Hannes "met so 'n hemelse teder blik aan(sien)"[355] (p. 44). Hannes is "'n treffende beeld van 'n flink jongeman, wat 'n suiwer, eerbaar en opreg lewe lei" (p. 24). Sy enigste sonde is, dat hy 'n Sap is, maar die stroopsoet seuntjie word deur die liewe engeltjies so mooi reggehelp, dat hy ook volmaak word! Beskou ons nou die orige figure van die limpatiese geselskap, dan blyk dit, dat Oom Gideon ooreenkoms vertoon met die swaarmoedige grysaards uit Vergeet nie en Teleurgestel. Hoe dat Oom Koos nou eintlik tot berou kom, word nie vertel nie. Die bedrywige Tant Lizzie, wat gelukkig geen tyd het om te veel te sug nie is die bes geslaagde figuur. Waar daar geen geleentheid vir sopperige sentimentaliteit is nie, blyk dit dat die skryfster 'n goeie opmerkingsgawe het. Tant Lizzie is ten minste 'n menslike mens.

Tot watter onsinnigheid die sentimentele neiging aanleiding gee blyk hieruit: Miemie het "'n ondeunde kuiltjie, wat elkemaal so skelmpies uit die wange loer, en waarin die hart van Hannes lank reeds baie diep ingetuimel het"! (p. 3). Sy gaan na die somerhuisie waar "die roostakkies en kamperfoelie om die latwerk heen(slinger); daar steek sy dikwels haar arms na hulle uit "om hulle aan haar bekommerde hart te druk"! (p. 56). Stel mens jou die dinge nou nugter voor, dan is dit om van te skater!

Die toneeltjie waarin die oue Basson, wat aan die maal geraak het oor sy in die rebellie gevalle seun in die middel van die nag vir Hannes kom vra: "Vir watter kant het jy gestem?" (p. 167) laat ons op plastiese wyse voel, wat 'n lewenssaak die politiek vir ons mense is. Dit is psigologie-in-aksie en heel wat anders dan 'n bewering soos die volgende, wat ons op goed geloof moet aanneem, sonder dat ons daar iets van gevoel het. "In die oorlogskool het (Hannes) geleer dat helde gebore, en nie gemaak word nie, en dat die beesagtige in die [Pg 228] mens soms die redelose dier ver oortref" (p. 102).

Die politieke tendens en die feit dat daar resente gebeurtenisse van nasionale belang in behandel word, gee die roman 'n aktuele kleur. Deur die een party kan dit as 'n wapen in die politieke stryd beskou word, maar van letterkundige belang is dit nie. Feitlik is dit dan ook slegs 'n vertaling, want die oorspronklike uitgawe van 1916 was in Hoog-Hollands.

§ 20. G.J. Otto.

Gawie Joh. Otto is in 1880 gebore op Marico, Transvaal. Ottoshoop is na sy vader genoem, wat onder die Republiek daar Mynkommissaris was. In 1896 het hy klerk geword in die Onderwys-Departement. Met drie wonde het hy by die slag van Elandslaagte na awontuurlike ondervindings ontsnap en deurgeveg tot 1901, toe hy gevang is en na Indië gestuur. Na die oorlog was hy werksaam by C.N.O. skole. Hy het ook besonder aktief opgetree in verskillende verenigings, asook op kerklike en politieke gebied. In De Volkstem het behalwe baie ander artiekels van hom 'n feuilleton, Koen Vermaak verskyn. Sy brosjure Vreemde Stertvere (1910) is 'n aansporing om ons taalregte prakties toe te pas. 'n Toneelstuk, Josef het in Die Brandwag verskyn, Uit die Lewe, 'n bundel sketse in 1921. Sedert 1919 is hy Inspekteur van Blanke Arbeid vir die Vrystaat en o.a. ook Sekretaris van die Raad van Advies vir Jongeliede.

Uit die Lewe.

Die skrywer vertel in 'n paar kort sketse hoe die Boereseuns in sy jong dae skyfgeskiet, vis gevang en klippe gerol het. Hulle wys 'n Hollander, wat sy Hoog-Hollands blykbaar eers in Afrika geleer 't, hoe om kalwers te ry en met 'n nooi op te sit. Verder gee Otto 'n verslag van die eerste twee maande van sy lewe en skets die ongerustheid van 'n paar arm blankes wat ure lank op die Bloemfonteinse trein wag. Prof. Jan Celliers het in sy voorwoord die bundeltjie goed gekarakteriseer: "Sonder [Pg 229] te danig hoë pretensies, wil (die skrywer) net die Afrikaanse lewe weergee, en padlangs-eenvoudig met ons daaroor praat." Die klein stukkie lewe wat hy teken, ken hy goed, maar hy is nie by magte om sy sintuiglike waarnemings op te hef tot 'n hoër plan nie, omdat dit hom ontbreek aan styl en uitbeeldingsvermoë. Dat 'n paar sketse 'n strekking het, is alreeds opgemerk.[356]

§ 21. "Wolla".

Wolla vertel in My Groot Dag (1921) die vakansie-awonture van Petrus Breytenbach, onderwyser in Ermelo, van wie se Ford-outo 'n diamante-dief met 'n mooi vroutjie behendig gebruik weet te maak. Die drietal word deur speurders agtervolg en na allerlei wonderlike en soms erg onwaarskynlike ondervindings gepak. Pietjie en Thea kom met die skrik vry, maar Pietjie slaan 'n onnosele figuur as hy uitvind, dat hy in plaas van 'n Duitse vliegenier 'n dief gehelp 't, en dat van sy mooi plannetjies met Thea niks kan kom nie. Dit is 'n goed vertelde amusements-verhaaltjie, net geskik vir spoorweg-lektuur. As die outo verby Majoeba en ander slagvelde ry, dan vergeet Pietjie vir 'n ruk sy "verhewe romantiese gedagtes" (p. 48) en verval in patriotiese oorpeinsings. Af en toe laat Wolla ons effentjies glimlag, maar die humor is soms plat by die grond, "'n Kêrel het eenmaal gesê, hy dink hy kan gewoon word om te lewe op kasterolie, as hy net lank genoeg kan aanhou daarmee. Ek glo dit goed." (p. 64.)

Wolla vertoon 'n bedenklike ratsheid in letterlike vertaling uit Engels, soms van die slang soort. "Om alles te kroon (p. 3 en 68); Wel, van al die pedante snuiters ... vat die vent die koek (p. 127); Wel, ek was al net siek van die plek (p. 93); Vir eenmaal het hy niks te sê gehad nie.... (p. 123); Ermelo Hoger Skool" (p. 1); ens.

[Pg 230]

§ 22. "Slypsteen".

"Slypsteen" het blykbaar De Waal se romans goed bestudeer. Hy gebruik motiewe uit Johannes van Wyk en Die Twede Grieta, maar slaag daar nie in om sy storie so oulik inmekaar te draai nie as De Waal. Hans is die "karakterlose wreedaard" (p. 79) van die verhaal Broerliefde (1921). Maar hoe volleerd in duiwelstreke ook, hy word uitoorlê deur Gert, wat 'n plaas in die heilige-kalender verdien.'n Gesteelde kind veroorsaak 'n verwikkeling, waardeur Gert byna met sy suster trou. Daar is 'n oujonkman, wat sy bes doen om 'n paar grappies te maak, in sy "mymering" 'n hele storie vertel en in sy moralisasie tot by Adam en Eva verdwaal! (Hoofstuk IX). Twee opgeskote seuns wat stroebeling kry, laat Slypsteen so praat: "Ek meen, dat as jy jou nie verbeter nie, 'n treurige toekoms jou deel sal wees, en jy 'n armsalige uiteinde sal hê."—"Jou kleine niksnuts!" skree Hans.... "Wag, wag, Hans," hervat Gert, ... "Kyk, toe jy daar op Kransburg my oor 'n draai gegee het, toe moes ek dit verdra, maar sinds daardie tyd het ek 'n bietjie groter geword. Egter, waarom sal ons nes vuil skuim teen mekaar bruis. Daardeur sal my karakter net besoedel word, en jy nog dieper in die modder sak as waar jy al reeds sit" (p. 47). Mens sou sê die brawe Gertjie was al 'n paar jaar op die Teologiese Kweekskool!

Op die heel laaste bladsy word in die gouigheid drie huwelike gesluit, terwyl selfs die oujonkman nog verloof raak aan 'n ryk weduwee! Hans trek na Rhodesië. Of hy daar nog altyd "helse planne" brou word nie vermeld nie!

Slypsteen skryf 'n eentonige styl, waarin nooit iets persoonliks opklink nie. Hoe weinig hy sy taal beheers blyk uit voorbeelde soos die volgende: "geondersoek (p. 17); sobat (p. 109 en 116); speuljies (p. 109); poosjie (p. 85); op plig (p. 91) en die verkleinwoorde: soenjie, swaweljie, ens.

VOETNOTAS:

[162] Hierdie feite is ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[163] Vgl. Die Burger, 23 Sept. 1921.

[164] Eerste hoofstuk in De Goede Hoop, Jan. 1904.

[165] Die Burger, 12 Aug. 1921.

[166] Vgl. vir "voorbodes" van die Twede Beweging: E.C. Pienaar, Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging, 2de druk, p. 195.

[167] De Waal in Die Burger, Aug. 1921.

[168] Voorwoord Vyfde Druk, waaraan al die sitate ontleen is.

[169] J. Prinsen: De Oude en de Nieuwe Historische Roman in Nederland, p. 18.

[170] Die Burger, 12 Aug. 1921.

[171] Volgens Prinsen, t.a.p., p. 51 is die "romantische roes in Scott gekristalliseerd. Van dit kristal is Van Lennep de grove namaak in ordinair vensterglas." Na 'n vergelyking van die twee skrywers kom Prinsen tot die gevolgtrekking, dat al oorspronklikheid van Van Lennep is "een zekere Hollandsche, soms lamlendige, soms goedmoedige breedsprakigheid en een evenzeer Hollandsche ordinaire neiging tot laag-bij-de-grondsche moppigheid." p. 53.

[172] Louis Maigron, Le roman historique, gesiteer deur Prinsen, t.a.p., p. 1.

[173] Prinsen t.a.p. p. 7.

[174] id. p., 25.

[175] id. p., 21.

[176] Het Dagboek van Adam Tas: Leo Fouché, Hoofdstuk II § 1-3.

[177] t.a.p., p. 362.

[178] J. v. W., p. 133.

[179] Dagboek onder datum 2 Febr., p. 126. Vgl. ook p. 142 waar Tas gewaarsku word: "ook zeijde hij mij dat ik op mijn hoede moeste weesen...."

[180] Dagboek, p. 138 onder datum 18 Feb. 1706.

[181] t.a.p., p. 142.

[182] p. 150.

[183] J. v. W. p. 133.

[184] Dagboek, p. 90.

[185] J. v. W. p. 134.

[186] Eers op p. 232 verneem ons, dat Jan van Meerland op die see gesterf het.

[187] Fouché, Dagboek, p. 236.

[188] J. v. W., p. 187.

[189] Fouché, p. 248.

[190] p. 242.

[191] t.a.p., p. XXVI.

[192] Twede Druk, 1921.

[193] Prinsen: De Oude en de Nieuwe Historische Roman, p. 91.

[194] id.

[195] t.a.p., p. 104.

[196] Taal en Letteren, 1892.

[197] Vgl. hierby nog Prinsen: Handboek tot de Nederl. Lett. Ges. p. 613-614.

[198] J. Koopmans: De Beweging, 1913.

[199] J. v. W., p. 126.

[200] t.a.p., 164.

[201] t.a.p., p. 250.

[202] Tw. Gr., p. 160.

[203] t.a.p., p. 242.

[204] Vgl. p. 217.

[205] t.a.p., p. 261.

[206] p. 283.

[207] p. 295.

[208] Feitlik die enigste menslike gevoel, wat beide Gert en Phineas besit, is liefde vir hul ... perde!

[209] Nederlandsche Romancières van onzen Tijd, p. 10.

[210] Tw. Gr., p. 305.

[211] t.a.p., p. 38.

[212] t.a.p., p. 306.

[213] J. v. W., p. 210.

[214] Tw. Gr., p. 331.

[215] Taal en Letteren, 1892.

[216] Tw. Gr., p. 225. Dag op dieselfde pagina is seker 'n drukfout vir nag.

[217] t.a.p., p. 233.

[218] t.a.p., p. 89.

[219] t.a.p., p. 313.

[220] t.a.p., p. 229.

[221] Tw. Gr., p. 349. Beter geslaag is die beskrywing van Johannes se kamer, J. v. W., p. 163.

[222] Vgl. Rémy de Gourmont: Esthétique de la langue française.

[223] Ferdinand Huyck, p. 42.

[224] o.a. Ferd. Huyck, p. 91.

[225] Vgl. o.a. J. v. W., p. 101, 122, 201; Tw. Gr., p. 200, 357.

[226] Uit J. v. W.

[227] Uit Tw. Gr.

[228] Dichtbloemen, p. 150.

[229] J. v. W., p. 63 en 226.

[230] Vgl. hiermee Tw. Gr., p. 233-4 waar Krysie ook 'n kappie dra.

[231] t.a.p., p. 106. Uitgave Sijthoff.

[232] t.a.p., p. 44.

[233] Vgl. ook J. v. W., p. 174.

[234] J. Mathijs Acket: Nieuwe Taalgids, 15de jg., 6de afl., p. 275.

[235] Tw. Gr., p. 67.

[236] t.a.p., p. 295, 311.

[237] t.a.p., p. 14.

[238] Twede Druk, p. 153, noot.

[239] Die Burger, Aug. 1921.

[240] Vgl. ook Dr. Pienaar se dissertasie, p. 151-6 en Dr. Boshoff: Volk en taal van Suid-Afrika, p. 407-424 waar die kwessie uitvoerig bespreek word.

[241] Vgl. hiermee J. v. W., p. 210 "'n Vreesagtige hart sal nooit 'n flinke vrou vang nie."

[242] Vgl. p. 62, 'n verhewe betrekking in die diens van die Kompanie.

[243] Vgl J. v. W., p, 226 en Tw. Gr., p. 237.

[244] Vgl. Tw. Gr., p. 296.

[245] Vgl. ook J. v. W., p. 199 en Tw. Gr., p. 333.

[246] Tw. Gr., p. 309, 51, 80.

[247] t.a.p.. p. 159.

[248] Die Burger, Aug. 1921.

[249] De Beweging, 1913.

[250] Ook in Engels verskyn as Dark Johannesburg.

[251] Lewensskets ontleen aan Prozabundel van Hoekstra en Viljoen.

[252] Die derde druk verskyn nou in afsonderlike afdelings.

[253] Vgl. Hoofstuk I, § 9.

[254] Taal en Poësie2 ens., p. 58-64.

[255] Sien Hoofstuk X.

[256] Nuwe Deel I. Sitate uit die nuwe druk word afsonderlik vermeld.

[257] Vgl. die opmerkings oor 'n eenvoudige styl op p. 190-1. In Die Banier, Julie 1921, staan ook 'n artiekel oor: Lett. Styl.

[258] Opvloog op p. 5 is seker 'n drukfout.

[259] O.a. p. 17. Vgl. Ons Weg: "elk 'n man", p. 136.

[260] Vgl. p. 46.

[261] Taal en Poësie ens.2, p. 329. In 1921 het nog van Malherbe verskyn: Die Timmerman, 'n Verhaal in Verse en Koringboere 'n toneelstuk; in 1922: Rivier en Veld, 'n digbundel.

[262] Die Brandwag, Des. 1918.

[263] Vergeet Nie (1920), p. 198. Ek kursiveer.

[264] t.a.p., p. 91. Ek kursiveer.

[265] Vgl. p. 15.

[266] p. 89. Ek kursiveer.

[267] Sy het nog wel 'n broer, "wat op die aangrensende aanleg woon", maar van hom verneem ons net, heeltemal teen die end van die roman, dat hy na Servaas se gevangeneming die plaasbelange behartig 't—'n rol wat erg onwaarskynlik klink.

[268] p. 129.

[269] Over Literatuur, p. 110.

[270] p. 138.

[271] Uitgebeiteld is minder gelukkig, want terwyl ons deur die woorde omwoon en slapende die goliat-rotse as lewende monsters voel, laat uitgebeiteld weer aan 'n dooie materie dink. "De hoofdzakelijke schoonheid van een "beeld" bestaat daarin, dat het de verborgen eenheidsessentie van twee verschillende of zelfs schijnbaar tegenstrijdige begrippen, zaken of wezens aantoont. En hoe duideliker en overtuigender ons die eenheid wordt aangetoond, hoe grooter onze verrukking is." (M.H. v. Campen Over Literatuur, p. 138). Die verborgen eenheidsessentie wat Malherbe ons eers so goed laat voel, verbreek hy deur een ongelukkige woord.

[272] p. 65.

[273] Die verkeerde gebruik van bende is oor die hele land verbrei deur 'n welbekende lied uit die Hallelujah-bundel, waarin van "'n Daniëlsbende" sprake is! Ook Von Wielligh praat in Eerste Skrywers (p. 138, by die portret) van "die klein bende van die Genootskap van Regte Afrikaners".

[274] 'n Germanisme.

[275] Vgl. nog p. 101, 158, 104; en p. 24, Piet met sy onnoembaar soet glimlag!

[276] Die Kommissie vir Taal en Lettere het gerappotteer: "'t Novelletje ... Twee Susters, hoewel taal, stijl en inhoud nog veel te wensen overlaten, is nochtans van genoegzame historiese waarde en geeft blijk van belofte voor de toekomst ..." Akademie-Jaarboek V, p. 51.

[277] Meedelings van Oud-President F.W. Reitz.

[278] Meedeling van die heer J.H. Malan. Vgl. ook voorwoord van "Oom Fanie". Sitate volgens die 1ste druk.

[279] Die biografiese feite is ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[280] Die Brandwag, Des. 1918.

[281] Die Brandwag, Des. 1918.

[282] Brief van 6 Jan. 1922.

[283] D'Oliveira, De Jongere Generatie, p. 21.

[284] t.a.p., p. 70.

[285] t.a.p., p. 139.

[286] Querido: Over Literatuur, p. 43.

[287] p. 8. Twede druk. Ek kursiveer.

[288] Vgl. ook p. 206 en 222. In Op Veld en Rande kry ons net eenmaal 'n toespraak tot die "geduldige leser" (p. 101).

[289] Vgl. p. 108.

[290] In Die Burger, Nuwejaarsno. 1922 en Die Brandwag, Des. 1921.

[291] Die Burger, N.J. No. p. 19.

[292] Die Brandwag, t.a.p., p. 172.

[293] Die lewensskets is ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[294] O.a. p. 14-15, 17-18, ens.

[295] O.a. p. 7.

[296] W.L. Cross, The Development of the English Novel. (1920), p. 64.

[297] Vgl. ook p. 47: "goue velde met karmosyn geskilder".

[298] Lewensskets ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[299] Sonder jaartal. Die meeste verhale is in 1914 vir Ons Moedertaal geskryf.

[300] The Contemporary Short Story, (p. 101).

[301] Die Brandwag, Des. 1919.

[302] The Works of E.A. Poe I, p. XI (1866).

[303] t.a.p., p. XII.

[304] The Supernatural in Modern English Fiction, p. 59.

[305] Uit: Lett. Leesboek, Bot-Kritzinger.

[306] Alle sitate volgens 2de druk.

[307] Hy vergeet selfs die "groot hanglamp", want op p. 40 word die huisgodsdiens by kêrslig gehou.

[308] So word die meeste saamgestelde woorde dwarsdeur sy werk geskryf.

[309] Vgl. hiermee: "'n wit seil bemaste Jonge Thomas", Ou Malkop, p. 168.

[310] Vgl. ook p. 100: "iedere stamp en skok, wat die wa gee is 'n verwyderende skeur in droewige harte."

[311] Brief van 17 Jan. 1922.

[312] Vgl. b.v. p. 74.

[313] Meedeling van die outeur.

[314] Vgl. ook nog o.a. p. 29.

[315] O.a. p. 194 "Daar dit nie goeie maniere is om af te luister wat sulke twee jonge mense ... praat nie, word die gesprek hier nie meegedeel nie."

[316] Vgl. ook p. 238. "Die twee is getroud ..." ens.

[317] Oorspronklik as vervolgstorie in Die Huisgenoot verskyn; in 1921 in Die Burger-Leeskring uitgegee.

[318] Vgl. o.a. ook nog p. 210. "Ek laat dit aan die verbeeldingskrag van die leser oor ..."!

[319] O.a. p. 184.

[320] Waarom is dit "die treurspel van mislukte lewens"?

[321] Ek kursiveer.

[322] Vgl. b.v. p. 41. "Albei sê baie wat nie juis vir ons van belang is nie". Hoofstuk XIX staan op 'n verkeerde plek, en daarom moet die leser uitgenodig word "om 'n weinig terug te gaan"!

[323] Vgl. ook die plotselinge omkeer by Oom Tjaart, p. 234.

[324] Die sgn. proloog kan ook gerus weggelaat word.

[325] Ook gespot in M. v.d. V., p. 201.

[326] O.a. p. 61.

[327] O.a. p. 183.

[328] The English Novel: Walter Raleigh5, p. 268.

[329] Willem Kloos in De Mannen van '80 aan het Woord3: D'Oliveira p. 46.

[330] t.a.p., p. 76.

[331] Lodewijk van Deyssel. t.a.p., p. 32.

[332] Herman Robbers in De Jongere Generatie: D'Oliveira, p. 120.

[333] 2de druk 1918.

[334] Prinsen: De Oude en de Nieuwe Hist. Roman, p. 71.

[335] Vgl. p. 127.

[336] Pensées de Pascal, par A. Gazier, p. 318.

[337] t.a.p., p. 158.

[338] Vgl. 'n dergelike naïewe opmerking op p. 178: "'n Boerenhave (sic!) was daar nie in die ganse volksplanting nie ..."!

[339] Vgl. nog p. 80: "Die rus en kalmte ..." en p. 81: "Is dit nie dieselfde streling ..."

[340] Vgl. o.a. nog p. 199, 29.

[341] Dwars deur die boek word dié woord en ook uitwei verkeerd gespel. Dimunitiewe op -fie ook. Vgl. ook neervlei op p. 192, rat op p. 121. Die sinstorende drukfoute moet, soos die skrywer my meedeel, gewyt word aan die besonder omstandighede, waaronder die boek gedruk is.

[342] Die ketting-sin op p. 67 lyk egter wel "ghevernuftizeert".

[343] Is. Querido: Studiën, p. 219.

[344] Voorrede: Griane.

[345] Benjamin Constant: Adolphe.

[346] O.a. p. 81.

[347] 'n Ongelukkige koppelwoord.

[348] Waarom die stuitende en onnodige herhaling van spinnekop?

[349] Vgl. p. 220 b.v.

[350] Vgl. b.v. p. 7.

[351] Verstaan: glase.

[352] Vgl. nog p. 171: berge—werwe—swerwe; p. 194 dwars bars.

[353] Duister is ook: "dat die ou jong simpatie ken", p. 188.

[354] Vgl. o.a. p. 184-204.

[355] Daar is ook 'n verpleegster, wat 'n engellied sing, (p. 71).

[356] Op pag. 207.


[Pg 231]

HOOFSTUK VI.

Satieries-Humoristiese Prosa.

§ 1. Ds. Willem Postma. (1874-1920). (Dr. O'Kulis).

Ds. Willem Postma was 'n seun van Prof. Dirk Postma, die vader van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hy is in 1874 in Burgersdorp gebore, waar hy hom vir die leraarsamp voorberei het onder Prof. Jan Lion Cachet, (Ou Oom Jan). Op Bethulie, Bloemfontein en Reddersburg was hy predikant. In die oorlogsjare (1899-1902) moes hy uitwyk na Middelburg, K.P., omdat hy geen eed van trou wou aflê nie. Daar het hy die kos vir sy gesin in 'n winkel en deur privaatlesse verdien.

Onder groot moeilikhede het hy die gemeente in Bloemfontein gestig. In Mei 1905 het hy onder die skuilnaam Jong Afrika in die Hollandse Friend begin te skryf oor die Afrikaanse taal, sonder dat hy iets van Preller se stukke afgeweet het. As gevolg van die groot byval het Ds. Postma toe gereeld bydraes onder die tietel Oogdruppels gelewer. Toe die setter verstaan, dat die ondertekening van die eerste stuk, nl. Okulis, oogdokter beteken, het hy daarvan Dr. O'Kulis gemaak en so het die naam gebly. "Deur dié stukke het hy hom as volksman geopenbaar, het hy hom 'n weg gebaan na die hart van die Vrystaatse volk ...," verklaar Totius.[357] In Bloemfontein was hy ook die stigter van wat tans bekend is as die "Voorbereidende Tegniese Skool".

[Pg 232] In die aangehaalde artiekel gee Totius 'n paar persoonlike herinneringe en sê o.a. dat hy "nie maar 'n merkwaardige figuur (was) nie, maar 'n heldeverskyning". Van hom het verskyn: Die Eselskakebeen,[358] Doppers (1918) en Die Boervrou (1919).

In Die Brandwag (1912) het hy 'n teorie oor die ontstaan van Afrikaans uitgewerk.[359] Sedert 1918 was hy lid van die Akademie. Van belang is nog dat sy vriende huiwerig was oor die uitgawe van die Eselskakebeen. In 1920 is hy oorlede.

Die Eselskakebeen.

In Die Brandwag[360] het die skrywer verklaar, dat die boek 'n "suiwere outobiografie" is met uitsondering van die laaste hoofstuk. Maar dit is veel meer; dit is ook die biografie van etlike Afrikaner geslagte, wat nog vir 'n tiental jare na die Anglo-Boere-oorlog gekreun het onder dieselfde treurige onderwysstelsel deur hom beskryf. Pas in die laaste jare het daar verbetering gekom en in sommige dele van ons land heers feitlik dieselfde misstande noù nog.

Eers beskryf Dr. O'Kulis sy geboorte, waarby Tant Antjie met haar medisynetrommeltjies gehelp 't. Spoedig begint die taalmoeilikhede en in 'n donker onweersnag doen hy die ontdekking, dat ons liewe Heer ook Afrikaans verstaan. Op skool is dit van die eerste dag af 'n gedurige stryd teen die step-by-step-denasionalisering, wat die doel was van 'n verpolitiekte stelsel, as so 'n onpedagogiese gedoente ten minste die naam stelsel ooit verdien het. Mooi word die wisselwerking tussen die skool- en huislike invloed beskryf. "Wel, die Boere het van al daardie Royal Reader gedoente niks geglo nie as ek hulle bietjie wou vertel. Al wat ek vir my moeite gekry het, was: "Jou Rooinek, glo jy al daardie leuns?"[361] Langsamerhand groei die verset van die aanvanklik deur skoolwysheid oorblufte seuntjie. Die omgang met [Pg 233] Boerfamielies, wat vashou aan die ou Trap der Jeugd en die Bybel versterk die Boergees in hom, totdat hy die geleerde weefsel van bedrog wegvee en met volle selfkennis sy Engelse meester toevoeg: Ek is 'n Boer (p. 44). Hy wil nie langer "'n agterryer in sy eie land", 'n jingo of weeluis wees nie (p. 42). Wanneer die seun 'n man word, maak hy 'n eselskakebeen vogtig[362] met die trane van sy lang opgekropte spyt en dan dreun die mokerslae op "die Filistyn in die Afrikaner". Dit word 'n geweldige wapen in sy hand, waarmee hy seker meer as 'n "duisend man" verslaan het! In die begin is daar 'n bietjie goedaardige skerts o.a. oor die dominee se gesukkel met die Hollandse geslagte (p. 16), maar wanneer hy die toestande op die Engelse skool beskryf, word die toon kwaai-sarkasties en bitter. Die eensydige onderwys uit die Royal Reader, oor British en Cape History, Geography, ens. word met satieriese skerpsinnigheid aan die kaak gestel. Met 'n speelse vernuf word die oorsprong van die Engelse nasie uitgepluis. "Daar is van die geskiedskrywers, wat die oorsprong wil aflei uit die naam, nl. Angel (Engel) en dan wil meen dat hulle van 'n Engele-geslag is. Of dit van die gevalle engels is of van die ander is onmoontlik om uit te maak"! Op aanskoulike wyse word aangetoon dat die geïmporteerde eksamenstelsel geen rekening hou met die eise van ons samelewing nie. "Jannie het op skool net 'n bietjie algemene kennis en die School-Higher-sertifikaat opgetel. Vir die lewe moes hy daarna eers klaar maak." (p. 55.)

Selfs vandag het die boekie nog aktuele waarde, en dis 'n kultuur-historiese dokument, wat selfs die verre nageslag nog met belangstelling sal lees. Al sal dit hulle nie so heftig ontroer nie soos ons, wat al die ervarings self ondervind het, tog moet dit altyd treffend bly deur sy raak voorstelling en bytende spot. Daar is enkele uitweidings, wat die eenheid van die strydskrif verstoor, 'n paar anekdotes, wat die direktheid van die aanval verminder, maar omdat dit iets is wat werklik "uit (die) hart opgeborrel het"[363] sal dit altyd sy waarde behou.

[Pg 234]

§ 2. Reenen J. van Reenen.

Die Agterstevoortrekkers (1917).

Johan van Heemskerck het in sy Batavische Arcadia (1637) 'n paar Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om "onder 't soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort te zijn." Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en kunstenaars met hul famielies op die ou voortrekkerpad "om te probeer of daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse omgang te gebruik nie" (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is daar nie soveel "loofwerck van liefkooserijtjes", maar die minnende paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê ook nog: "Dis die doel van die uittog ... om 'n veldwasempie op te vang uit die Afrikaanse Son en Veld" (p. 31). Nog duideliker straal die pastorale motief uit die volgende deur: "Daar in Bloemfontein in 'n atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van die wiele bly." (p. 110). Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit: "Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste klas plan was om die sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met smaak te leer lees...." (p. 20). En die sewende trekreël lui: "Elke aand sal een van die trekkers ... 'n lesing gee oor die een of ander in die geskiedenis van die Voortrekkers" (p. 37).

Maar sterker nog dan die pastoraal-didaktiese motiewe [Pg 235] van die verhaal is die satieries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die "afskeidsbrief" heet dit: "Ons is beslote om ... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te maak" (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai "om aan die boere te verkoop"; Jan, die "goggadeskundige" wil die boere waarsku teen skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek "nuwe ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van ons skitterende strale inkom." (p. 31.) Oom Jakob egter voel dat die groot geleerdheid van sy maats eensydig is. "Op seker gebiede het ons ... vooruitgegaan, maar op ander ... is ons baie versleg" (p. 32). Hy is dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse van hom te leer. Ook Oom Kaas, die "diepgeleerde professor in geskiedenis" voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die Agterna-trekkers bes moontlik Agterstevoor-trekkers sal word, en sy voorspelling kom uit.

Die vernaamste, doel van die skrywer is om die verwaandheid van die hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger toeskryf, is meer dan 'n gelukkige grappie; dit is meteens al 'n simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die voortrekker- en die moderne beskawing.

Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat Oom Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe: "Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou nie." (p. 54.) S.K., die professor in fiesika vind uit, dat al sy gekompliseerde instrumente en spitsvondige berekeninge minder vertroubaar is dan die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die [Pg 236] erkentenis bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe Oom Jakob 'n gek figuur. Die dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor! Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp toe moet gesleep word is weer 'n ironiese beeld—die moderne vernuf afhanklik van die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in "'n hoekie van die Vrystaat" 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene bespotting aanleiding gee.

By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die historiese gevoel ontwaak en Oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n humoristiese regsaak tussen ossewa en outo. "Ek het die Afrikaner Nasie gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy nog nie eers gebore is nie." "Grootgeraas" is 'n outo van "aanstaande jaar se model" en "Die Dromedaris" weier om pad te gee vir so 'n "aangewaaide, buitelandse ding—niemand weet eers wie sy ouers is nie!" (p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is "der hinter den Scherz versteckter Ernst",[364] want uit so 'n toneel spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar "van vreemde smetten vrij".

Dirk vind nog 'n geleentheid om die "geleerde ape", S.K. en die Goggadoktor droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies van die twee deur die egte voortrekkervurk met sy pennemes uit te grawe, [Pg 237] terwyl 'n verroeste valse "versigtig in watte opgewoel" tereg kom in Jan se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopskoot op die dorre kamergeleerdes!

Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees van dié grootse tydperk met sy skrynende wee. As die maan wegraak, en die uile droewig skree, begint Antoon se viool "te huil soos 'n moeder oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een vir een" (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy innigheid uit te beeld—daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy "dis nou regtig 'n lekker bal" klink nog in ons ore as ons by die "stille snikke van sterk mans" kom. Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk deur na so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy dit nie heeltemal deur die ragtime-klanke van die agterrede nie? Ek meen van wel.

Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor die natuur. Die trekkers mag 'n "veldwasempie" opgevang 't—ons kry nie eers die ruik daarvan nie! "My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel het...." (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel oor die onbeskryflike kleure nie (p. 138). Dit is vir hom "'n soort heligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle teenwoordigheid te analiseer" (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook 't, en dat hy nooit moeg word van die Treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.)

[Pg 238] Beskouings oor bou- en skilderkuns, meubilering en musiek word in die verhaal ingevleg. "'n Mooi sandsteengebou gepleister met sement, soos klipwerk nagemaak" word die aanleiding om teen na-apery van vreemde kultuurvorme te waarsku (p. 86). Tussen die sekretaris en Antoon vind 'n kunsdebat plaas (p. 138 vlg.). As Van Reenen egter meen dat die doel van die kuns is om "die Natuur akkuraat ... weer (te) gee" (p. 141), dan is hy nog op 'n dwaalpad.

Met die taal sukkel hy ook nog baie. Sy woordskikking en voorsetsels is telkens verkeerd. "In Switserland[365], elke tien jaar voer hulle 'n toneel op wat gebeurtenisse in die lewe van die Here Jesus voorstel.... (p. 121); om aan die datum van die almanak te kyk (p. 102); wat ek voor strewe" (p. 141). Ook 'n hele paar anglisismes kom nog voor: "in herfs (p. 19); Harrismith Distrik" (p. 154) ens. Gebrekkige taalgevoel blyk o.a. uit die volgende: "Afrikaans het haar swak punte (p. 119); Basoetoeland wat haar berge vir ons wys (p. 138); die woede eienaar" (p. 42). Die juffrou M., op p. 153 moet blykbaar deurgaan vir 'n Hollandse, maar "dat berg" het sy tog seker nooit gesê nie! Hoe weinig "felicity in the flow of words" daar by Van Reenen is blyk uit kreupelsinne soos die volgende: "Dan kom die sonsondergang en asof 'n reuse skilder met 'n reuse rooi of rooskleur kwas die landskap skilder, neem die blou berge 'n rooskleur skynsel aan. Dan word die kleur meer en meer pers." (p. 138.) Ook die beeldspraak is weinig oorspronklik: "die deken van die grappe (p. 137); 'n lugkombers" (p. 237). Beets is ook versot op die banale deken- en mantelbeelde (vgl. XXI). Sou hy nou werklik gemeen het, dat sy erbarmlike gerymel in dieselfde hoofstuk vir poësie moet deurgaan?

Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent. Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op [Pg 239] storende wyse van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat "Herinneringe uit die Engelse oorlog" bevat. Daar is nog meer sulke uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes laat lyk.

§ 3. Adv. C.J. Langenhoven.

(Sagmoedige Neelsie).

Sonde met die Bure, (1921).

"Die ou wêreld is nou so treurig donker.... Om my dan self 'n bietjie op te beur—en as ek dit kan regkry, menige ander arme drommel ook wat altemit teen dieselfde versoeking moet stry om nie maar gedurig miesrabel te voel nie ... (het) ek hierdie noukeurige en onverbloemde verslaggie geskryf van 'n baie gelukkige vakansieplan...." (p. 1-2). Die ou wêreld het té treurig geword, en daarom sit Langenhoven die hele werskaf onderstebo neer. Sy bure het hom versondig en nou sê hy: Ek maak soos ek lekker kry en kom julle nog verder met my lol, dan koggel ek julle almal uit! Dit is so ongeveer die stemming waarin Neelsie geskryf het.

Sy vrou wou haar nie laat vermaak deur die weelderige leefwyse van haar bure nie—dit was in die dae van Oudtshoorn se volstruisgloria. Sy het aan hom gekarring en al sy besware "doodgealmiskie". Hy koop "'n afgeleefde tremwa" in die Kaap, en toe agtien osse die soort strandhuis nie kon trek nie, verower hy op 'n sirkusvendusie die olifant, Herrie. Dwars deur die dorp gaan die tog, Olifantsrivier op. Almal wat hom lastig val raak lelik gepier. Die burgemeester is eerste aan die pen en sy bemoeisug gee Neelsie 'n kans om sy ergernis oor belastingkwellings te lug. Op Stolsvlakte raak die pad versper deur die slingerende gevaarte en van weerskante word die verkeer opgedam. Maar Herrie verwilder die spul met sy gesnork deur 'n motorbeuel. So ver as Neelsie gaan versondig hy sy bure—maar hulle het mos eerste begin te lol! En hy slaan nog geld uit hulle ergernis ook om vir Engela, sy dogter se [Pg 240] numodiese klere te betaal! Dit word 'n wraakneming van 'n getergde man. Die magistraat, Afdelingsraad en geregtelike mag agtervolg hom, maar moet met hangende pootjies en skoongewaste koppe stamp-stamp huistoe ry oor 'n omgeploegde pad. In Meiringspoort vind hy eindelik rus—vir 'n tydlank ten minste. Daar raak hy aan filosofeer oor "al die nietige ou mensies op aarde" (p. 61) en die wondere van die skepping. Maar die lekker rooipit perskes, wat gedienstige jongkêrels vir Engela aandra, laat hom uitvaar teen die nuwe soorte, wat allerhande plae in die land gebring 't. En 'n stapel koerante maak hom briesend! Vroutjie peuter aan hom oor sy ongeselligheid en as gevolg praat hy die arme dominee skoon dronk van pure gasvryheid. Met 'n groot reent raak die kos skaars, maar die jongkêrels knoop al De Rust se kabeltoue aan mekaar om oor die kranse van dertienhonderd voet nuwe voorraad en ... Engela se beste vryer af te hys!

Een van die afdrifsels op die rivier is 'n dronk Hotnot, wat onder die sing van "God save the King" op 'n stomp afdryf! "Ons het later gehoor dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende "Rule Britannia". En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy onder Gouritzrivier se brug deur is see-toe met die laaste van sy drie liedere. Dit was "Home Fires" (p. 93). Kostelike ironie!

Oom Hendrik kom ook aangespoel om 'n goeie spook-storie te vertel. En met sy vasgereende bure kom Neelsie gelukkig so goed klaar, dat selfs die arm-blanke-vraagstuk aan sy geselligheid geen afbreuk doen nie. Engela is ook in die skik met haar uit die lug gevalle vryer en die hele wêreld kom so stadig aan weer reg.

Skaars is die pad egter rybaar of die "sondesoekery" begint weer. Twee deputasies kom Neelsie vra om hom verkiesbaar te stel, Prins Albert vir die volksraad en Oudtshoorn vir die stadsraad. Prins Albert hoop om op die manier sy paaie ongeploeg te hou en Oudtshoorn sê: "Ons wil hê jy moet so vas wees in die dorp dat jy nooit weer daar uitkom nie" (p. 118). Dit is die laaste, maar glad nie die enigste klap wat Sagmoedige Neelsie aan sy eieliefde gee nie. Die [Pg 241] "sagmoedigheid" van hom is sommer bossies. Juis die manier waarop hy daarmee omspring, sy koddige pogings om kastig eie vernaamheid te handhaaf en homself te rehabiliteer is een van die besgeslaagde humoristiese trekke. "Neelsie, ons bring jou De Rust se groete. Jy weet hoe lief ons jou het. Moenie laat daar iets tussen ons kom nie.... Bly op Oudtshoorn.... En die beswaar het ek gewaardeer.... En tot vandag toe het daardie mense my nog lief. Ek moet darem maar 'n goeie man wees" (p. 46).

Komieklike verdraaiings, woordspelings en paradokse, die eienaardige nuanse wat hy in geestige maar ook in die eenvoudigste opmerkings lê—dit is 'n paar middels wat gebruik word. "Soos die ou spreekwoord tog sê, as 'n mens dom is moet jy slim wees." (p. 6); tafelpote "moet glo op een of ander manier ongelyk wees om gelyk te wees." (p. 10); "Ek wil nie altyd wil nie, maar as ek darem nou wil, dan wil ek, of as ek nie wil nie, dan wil ek nie." (p. 23.) Met 'n paar woorde bereik hy soms 'n mooi effek. Nadat hy 'n opsomming gegee het van al die swaar goed wat op die tremwa is, voeg hy so ewe droog by: "En Engela se klere." (p. 48.) Anders kom hy weer met groot vertoon van erns die mees vanselfsprekende feit vertel: "Engela en Willem het hulle, met prysenswaardige bedagsaamheid jegens ons ouere smaak, onderwerp om maar besonders van ons geselskap te bly en met hulle eie tevrede te wees, by gebreke aan beter." (p. 110.)

"The sense of the Comic is much blunted by habits of punning and of using humouristic phrase: the trick of employing Johnsonian polysyllables to treat of the infinitely little. And it really may be humorous, of a kind, yet it will miss the point by going too much round about it."[366] Gelukkig kan dit nie van Langenhoven gesê word nie. Hy maak 'n spaarsame gebruik van al die foefies en om die bos loop hy ook nie. Mens kry by hom, wat Meredith noem "stout animal laughter", maar ook "spiritual laughter".

"Die geagte leser kan glo wat hy wil en as hy nie [Pg 242] wil nie kan hy laat staan," sê die skrywer in sy voorwoord. Maar die onwaarskynlikheid is in so 'n verhaal 'n deug. "There is nothing more powerfully humorous than what is called keeping in comic character ... (i.e.) consistency in absurdity; a determined and laudable attachment to the incongruous and singular. The regularity completes the contradiction; for the number of instances of deviation from the right line, branching out in all directions, shows the inveteracy of the original bias to any extravagance or folly, the natural improbability, as it were, increasing every time with the multiplication of chances for a return to common sense, and in the end mounting up to an incredible and unaccountably ridiculous height, when we find our expectations as invariably baffled. The most curious problem of all, is this truth of absurdity to itself. That reason and good sense should be consistent, is not wonderful: but that caprice, and whim, and fantastical prejudice, should be uniform and infallible in their results, is the surprising thing."[367]

Nou is daar nog 'n paar "muggies"[368], wat moet katswink geslaan word, vóórdat hulle ons slaapsiekte kan gee! In Die Brandwag (15 Mei 1912) het Langenhoven gepleit vir "sulke handige woorde as: mistyk, baaisikkel, drein, spiets, toast". In dieselfde artiekel kom voor: papier (krant), gedrop, hendikep, remnant, op te dres. As 'n takhaar, soos Oom Stoffel in Doppers en Filistyne praat van "die haai sosaaietie van die dorp", dan het ons daar vrede mee. Ons sien hom sy neus optrek vir die hele gedoente en hoor in die klank al sy veragting. Dit is dieselfde beginsel wat hom laat sê Broes Dekstrooi en Makpaatrie en dit tiepeer die man meteens. Maar die gereelde gebruik van die sogenaamde "handige woordjies" moet stellig afgekeur word en dit kan ons met Langenhoven se eie woorde doen: "Sal 'n groot Afrikaanse letterkunde ooit ontstaan, dan sal hy groot wees omdat hy Afrikaans is: Afrikaans in sinsbou, idioom, taalgenie, taalopvatting, taalgevoel, taalstandpunt." (t.a.p.). In Sonde met die Bure stuit ons taalgevoel [Pg 243] op: "bargain (p. 16), trieks (p. 18), sake in order bring (p. 22), kerrietse (p. 36), wybel (p. 98); ons dogter Engela had ook intussen teruggekom (p. 20); nie alleen dat Vroutjie haar daaraan sou moes versoen.... (p. 15); Vroutjie gee my weer 'n kyk" (p. 88). En is die vorm aan die gesels (p. 41) nie veel meer Afrikaans nie as aan 't afkom, aan 't uitspan, ens.?

Doppers en Filistyne, (1922).

"Nou ja, net soos Delila met Simson gemaak het—gekerm en gekarring tot sy haar sin gekry het—net so het Soetlief met my gewerk tot sy my oorgelewer het aan die dorpse Filistyne" (p. 7). Soetlief volg dieselfde taktiek as Vroutjie. Sy is moeg vir die rustige plaaslewe en dwing dorp toe om ook in die "adelkringe" te kom. Oom Stoffel, 'n opregte ou takhaar moet toegee en dan begint die sonde met die dorpse bure, en die dorpse gewoontes. Alles is "blink bedrog". In plaas van sy koele rietdakhuis trek hy in "'n moderne ongerieflike verspotterigheid ... wat jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande sou stukkend sny." (p. 18.) Van "sonde en ergernis en dorpse modes en dorpse vleis en brood" word hy dodelik siek. Neelsie jaag hom die stuipe op die lyf en as die dokter hom wil opereer, slaan hy die kêrel "dwars oor die wastafel" en vlug na die plaas.

By sy terugkoms begint die spokery met sy buurman Makpaatrie oor die waterlei-beurt. Steekbaard, die ou plaashond bevlieg die Skotsman, want hy reken: "'n Vroumens met 'n lang rooi snorbaard en rokkies bokant die kaal knieë—nee, soiets moenie wees nie" (p. 63), En hy veroorsaak nog meer moeilikheid deur 'n slagting onder die Skot se "uitheemse soorte bog-ongedierte".

Die anderkantse buurman was "Ja-mes Wénderbaail". Miesies Ja-mes gee Soetlief 'n kursus in dorpse beskaafdheid, maar Oom Stoffel hou sy lyf nog altyd takhaar. Die onderhoud tussen hom en Miesies Ja-mes is 'n meesterstuk van vlymende satiere. (p. 73-75.) Soos Langenhoven die verengelste Van der Byl-famielie [Pg 244] geteken 't sal hulle bly lewe in ons letterkunde. Hier is hy werklik 'n "virtuoos van het sarcasme".

Neelsie se joernalistieke ervaring kom Oom Stoffel te pas as hy die Taaims-vaatdoekie aan flenters skeur en die hele redaksie met sy karreekierie deurloop. Die Progressiewe Hollandse predikant word ook ongenadig geroskam. As Neelsie met 'n vernuftige varkeberekening bewys, dat Oom Stoffel koninklike bloed in sy are het skaam die ou hom bitterlik. "Ek het gedog my peddekrie was skoon"! (p. 113.) Dit is die ou Boeretrots wat met al sy veragting van uitheemse tietels hier opflikker.

Engela se klererekening bring vir Neelsie "in die verknorsing" en dit gee aanleiding tot 'n humoristiese hofsaak. Die gedig wat hy in die tronk maak, het egter onder sy verdrietige stemming gely.

"Die dorpse duiwels se naam is legio" en in die loop van die verhaal kry meer as een 'n goeie raps onder Oom Stoffel se kierie. Dit word 'n deurlopende veroordeling van alle nuwe boggedoentes, van die "met blink klatergoud-beslane doodkis", die "Mayoral Sunday", die ingevoerde Engelse honde tot die vrot perskes, pere en appels met fensie-name en fensie-wurms om maar 'n paar te noem. Oor alles moet hy sy takhaar-wysheid lug, en as hy nie te kwaad word nie, laat hy ons glimlag oorslaan in 'n onbedaarlike skaterlag. Al die nuwerwetse verspotterigheid word met die ou plaaskierie goed deurgeloop.

Dan kom egter "'n groot versoening ... my ou teëparty is almal bekeerd; wat my vyande was is vandag my vriende" (p. 136). "Soos met 'n towerslag is ons gevoelens teen mekaar verander en van onverdraagsaamheid tot liefde oorgegaan. Makpaatrie en Broes is nie meer uitlanders nie; hulle is Afrikaners.... Op die ent van vergaderings en konserte sing ek God save the King uit volle bors ... (p. 67). Die groot versoening het nie alleen van die Engelse Jingo's Afrikaners gemaak nie, maar ook die Afrikaner-Jingo's bekeer (p. 86). Voortaan werk Oom Stoffel saam met Miesies Ja-mes by die verkiesings.

Maar die kastige "versoening" is juis die toppunt van alle ironie! Oom Stoffel gee homself sy eie doodsteek! [Pg 245] Hy het die teëparty so ongenadig gekneus en gelooi, dat ons voel dat húlle nooit ofte nimmer met hom kán saamwerk nie. Hoe moet ons dan die psigologiese raaisel van die versoening verklaar? Delila-Soetlief het die ou takhaar se baard afgeskeer! Nie alles nie—hy het nog heelparty van sy ou swaap-nukke—maar Soetlief "knip elke oggend (s)y bokbaardjie vir (hom) met die skêr reg volgens die nuutste S.A.P.-mode" (p 142). En al die tyd verbeel hy hom, dat Soetlief en sy ou vyande "aan (s)y kant kom staan het en saam met (hom) voel vir die beginsels en ideale, wat (hom sy) lewe lank besiel het ..."! (p. 141.) So kom daar 'n vlymende politieke ironie in die boek. En dit is 'n raak hou, omdat Langenhoven dit reg gekry het om die ou takhaar homself te laat veroordeel.

"If you detect the ridicule, and your kindliness is chilled by it, you are slipping into the grasp of Satire. If instead of falling foul of the ridiculous person with a satiric rod, to make him writhe and shriek aloud, you prefer to sting him under a semi-caress, by which he shall in his anguish be rendered dubious whether indeed anything has hurt him, you are an engine of Irony."[369] Die "satiric rod" was Oom Stoffel se kareekierie; die "semi-caress" het van Soetlief gekom.

"The foppish irony fretting to be seen, and the irony which leers, that you shall not mistake its intention, are failures in satiric effort pretending to be treasures of ambiguity"[370]. Omdat Langenhoven so goed daarin geslaag het om ook hierdie fout te vermy, daarom sal die satiere ook vir later tyd sy oorspronklike frisheid behou, wanneer die politieke koaliesie daarin gehekel al lank reeds tot die geskiedenis behoort. Hy het self die grootste gedeelte van Oom Stoffel se ervarings deurleef en kon die oubaas teken in 'n stemming van vergewende spot. Sy humor is soos Höffding sê "das Gefühl des Lächerlichen auf Grundlage der Sympathie". Al is hy vandag Oom Stoffel se politieke teenstander, hy het die ou bondgenoot nog lief. "Der Humor trägt die [Pg 246] Versöhnung im Gemüte. Er unterscheidet sich von dem Witze, dasz er an den Dingen mit denen er spielt einen innigen Herzenanteil nimmt, und das die Lust des Lachens ein inniges Mitgefühl der Rührung für das Verlachte begleitet und durchklingt."[371] Die simpatie behoort Langenhoven in staat te stel om ook die langsame groeiproses van die versoening in Oom Stoffel se gemoed uit te beeld.

Oom Stoffel word ons voorgestel as 'n ongeletterde takhaar. Sagmoedige Neelsie, sy neef skuld hom 'n klompie geld en die moet sy spelling en interpunksie verbeter. Dat Neelsie die Akademie-spelreëls op krietiese wyse toepas—daaroor sal weinig hom seker berisp; maar van die kommas het hy seker 'n goeie honderd vergeet. "Inhoud woordekeus en styl"—alles is van Oom Stoffel. Hoe goed Neelsie hom ingeleef het in die psiege van die ou takhaar blyk uit iedere pagina. Oom Stoffel word vir ons 'n lewende persoonlikheid. Hy redeneer met die egte boere-logika. "Soetlief het rooihare. Met 'n rooihaar-ding—of jy hom ruil of koop of aanteel of trou; hoé jy hom ook kry—steek jy jou in 'n waag." (p. 19.) Dié stelling bewys Oom Stoffel deur sy ervarings met vosperde. "Onder al ... die klomp was maar een goeie. Nou kan die leser by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaar-ding aanskaf." Dit is 'n raak psigologiese uitbeelding, wat ons direk tref deur sy egtheid. Ook Oom Stoffel se gesukkel om die hoe en die waarom van al die dorpse instellings en gewoontes te verstaan is goed weergegee. "Hoe dít uitwerk weet ek nie en Neelsie kan my dit ook nie uitlê nie.... Waarom kan die Engelse kerk my kerk vat en hom uit 'n blote dorp optel en in 'n city neersit?" (p. 29.) Dit is deur sulke trekke, dat Oom Stoffel lewendig voor ons kom staan. Hy bly nie in die boek nie. Die dorpelinge het straatlampe, "om hulle op hulle pad hel-toe te verlig" (p. 34). Die dokter "kap met die punte van sy vingers oral oor my bors en my maag rond nes 'n houtkapper aan 'n vrot wilgerboomstam" (p. 46). "Waarom sou ek daardie ou koeie uit die sloot opgrawe en aan hulle dooi [Pg 247] beendere kou en gallamsiekte kry?" (p. 136). "Ou Ja-mes wat anders so suinig is dat hy 'n vlooi sal afslag en dan die soutkorreltjie viermaal middeldeur maak om die vel in te pekel" (p. 84). Uit sulke en tallose ander voorbeelde blyk hoe diep Langenhoven ingedring het in Oom Stoffel se gedagtewêreld. Oom Stoffel is 'n afsonderlike persoonlikheid. Hy leef, en hy leef sy eie lewe. Hy praat ook sy eie taal, maar wanneer hy skryf, dan herken ons af en toe Neelsie se gladdigheid, regsgeleerdheid en humor. Opvallend is dit nie, maar ons voel dit tog in sinne soos die volgende: "Maar toe die ou weer met my oor die muur aan 't raas gaan, beskuldig ek hom dat hy met vrou en kinders en volk, en met die medepligtigheid en korrupsie en kollusie van ou Broes Dekstrooi, my stelselmatig van my water besteel." (p. 66.) Só kan 'n ou takhaar nie skryf nie.

Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: "gedryfde gelukjag (p. 17); dat ek aan 'n boek aan 't skrywe was"[372] (p. 1); ook 'n paar anglisismes, o.a. "die doem van die Adamskind (p. 26).

"Ek het geen rede om te dink dat Oom Stoffel Multatuli lees nie," sê Sagmoedige Neelsie (p. 83 voetnoot). Ons ook nie, maar vir Neelsie self moet Multatuli in baie opsigte 'n simpatieke skrywer wees. Fonkelende vernuf, bytende sarkasme, 'n voorliefde vir paradokse en soms ook vir oud-testamentiese wendings, dit en nog meer het Langenhoven met Multatuli gemeen. Ook sy spelling-opstandigheid en afkeer van "hooggeleerde akademiese here" en deskundiges herinner ons aan Multatuli. "Die geleerde mense is alleen geleerd—die verstandige mense is ongeleerd" (p. 135). "Die land wemel van skitterende deskundiges" (Die Burger, 14 Aug. 1922). En dat hulle self so weinig presteer en net "die verstandige mense" se werk wil kritiseer—dit steek Langenhoven in die krop. Is dit nie of ons Multatuli se uitdaging hoor aan die "hooggeleerde Muurling": "Laat zien wat gij voor den dag brengt, gij ... geen doctorandus meer, maar doctor, leeraar! Gij, geen doctor meer, geen [Pg 248] leeraar meer, maar hoog-doctor, hoog-leeraar, leeraar van doctoren, doctor van leeraren, opperleeraar, opperdoctor!" (Idee 279.) "Komäan, hoog-geleerden en zeer-geleerden, lever eens wat volkeren-wijsheid aan 't volk dat uwe wijsheid in huur heeft, en betaalt!" (Idee 281.) Sou Langenhoven hom nie met Multatuli vrolik maak nie oor "den armen speciaal-professor die gestruikeld is over 'n speciaal eigenschapje van 'n speciaal-atoom zijner specialiteit"? Ons gun hom die plesier, as hy maar onthou dat 'n kunstenaar nog iets anders is as 'n hooggeleerde.[373] En ons lag saam met hom oor "taal- en spelling-grille" as hy net nie in ernstige letterkundige werk daaroor peuter nie![374]

VOETNOTAS:

[357] In Die Huisgenoot, Jan. 1921, waaraan hierdie lewensskets ontleen is. Enkele feite kom uit Die Brandwag, Des. 1918.

[358] Twede druk 1909. Die datum van die eerste druk is my onbekend. Doppers en Die Boervrou word in hoofstuk X bespreek.

[359] Vgl. Boshoff: Volk en Taal van S.A., p. 76 vlg.

[360] Des. 1918.

[361] Derde druk, p. 31.

[362] Vgl. Richteren 15:15.

[363] Voorwoord by die 3de uitgaaf.

[364] Welt als Wille und Vorstellung II, p. 109.

[365] Bedoel word Oberammergau, wat tog nie in Switserland lê nie. Vollendam op p. 120 moet wees Volendam.

[366] An Essay on Comedy by George Meredith, p. 65.

[367] English Comic Writers: W. Hazlitt, p. 10. (Bohn's edition).

[368] Sien voorwoord, No. 4.

[369] Meredith, t.a.p., p. 79.

[370] id., p. 83.

[371] Backhaus: Das Wesen des Humors, p. 70.

[372] Vgl. Sonde met die Bure: "En toe gaan ek aan 't skiet aan die haan", p. 24.

[373] Oor die onvrugbaarheid van akademiese professore het Langenhoven hom herhaaldelik uitgelaat. In Die Banier, Julie 1921, beweer hy selfs, dat dit daarna lyk of 'n akademiese opleiding vir die vorming van 'n kunstenaar noodlottig is—wat seker 'n onjuiste bewering is. So 'n opleiding "het uitgeloop, nie op 'n mislukking nie, maar op 'n sukses: op die sukses van 'n beoogde mislukking, want hy was opsetlik bereken om te misluk"! Vir sulke spitsvondigheidjies is Langenhoven maar àl te lief!

[374] Vgl. b.v. Ons Weg deur die Wêreld2, p. 81: "gesteelde—nee, gestole moet ek sê—...." In Aan Stille Waters is daar ook spellinggrappies.


[Pg 249]

HOOFSTUK VII.

Didaktiese Prosa.

§ 1. Adv. C.J. Langenhoven.

Ons Weg deur die Wêreld I, IV, VI, IX.[375]

Die eerste afdeling: Naarheid en Waarheid bevat aforismes. Bestaande spreekwoorde word aangevul, verbeter of ontken. "Dis wáar, klere maak nie die man nie. Maar slordigheid nog minder." "Een swaaltjie maak geen somer nie. Hy maak nie eers 'n nes nie." "Daar mag halwe eiers wees wat beter is as leë doppe, maar die halwe eiers wat naar my koers toe gekom het was nog altyd vrot." 'n Groot aantal spreuke is woordspelings: "Om te weet is net so maklik as om nie te weet nie. Wat swaar is, is om te weet wát jy weet deur te weet wat jy nie weet nie." In andere klink daar 'n sarkastiese toon: "In 'n vrye land behoort elke koerantskrywer die reg te hê om dwaasheid te verkondig." Die sonde-met-die-bure-motief is hier ook aanwesig: "Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se famielie." Oom Stoffel sal seker instem met die volgende: "As die son nou met die beskawing wil saamgaan, moet hy in die nag skyn wanneer die mense wil wakker wees en in die oggend ondergaan wanneer hulle wil slaap." "Vroutjie" se redeneerkuns word so getiepeer: "Oortuig 'n vrou dat sy nie reg is nie, sy klap jou om met simpel almiskié."

[Pg 250] Die spreuke is 'n pittige samevatting van die skrywer se lewenswysheid. Daar is raak opmerkings, wat getuig van 'n helder, logiese gedagtegang en 'n uitgebreide ervaring; nuwe waarhede, op pakkende wyse uitgedruk; ou waarhede, in 'n nuwe, oorspronklike vorm. As voorbeelde van sy kernagtige styl kan die volgende dien: "Waar die vader op 'n donkie gery het en die seun op 'n galop, kry jy die kleinkinders te voet." "Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid."

In die Ligte Leekprekies (IV) is daar 'n preek vir kinders oor wedywer. "As julle nie weet wat kompetiesie is nie, soek 'n handvol koring en gooi die vir 'n klompie hoenders. Dan sal julle kompetiesie sien." (p. 71, Derde druk.) Die verskille tussen "hoender- en mens-kompetiesie" word dan uitgewerk na aanleiding van wedywer op sportgebied. Die deurmekaar Engels en Hollands pratery "is my skoolmeester se skuld" verklaar Langenhoven. Mooi is dit seker nie!

In 'n Preek vir Nooiens word die deugde van die voorouers teenoor die hedendaagse nuwighede geplaas, en die vergelyking val nie ten gunste van die laaste uit nie, soos blyk uit die volgende lang-asem sin met sy komieklike nadraaitjie: "En onse jonge dogters begint in te teken vir ryk ge-illustreerde mode-joernale en 'n aangeleerde smaak te ontwikkel vir bloedsomloop-versperrende nou-ryg borste-rokke, voet-martelende en senuwee-renewérende spyker-polfytjies; vir die gesig-belemmerende wa-wiel-hoed en die bene-belemmerende hobbelskirt; vir die lae-nek blous en die ope-werk kous." (p. 80.) Teen die wedywer in huweliksgeskenke word ook protes aangeteken: "Maar onder die teenswoordige opjaagvendusie wat van menige bruilof gemaak word, weet jy nie watter geskenk 'n konvensionele pligvervulling verteenwoordig en watter werklik van harte gemeen is nie...." (p. 83).

In Beweging word die ontwikkeling van ons vervoermiddels geskets en die voorgeslag verheerlik: "Baie van ons voorouers had stoomharte by die remskoenwaens; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens." (p. 88.) Al die menslike voertuie is egter onvolmaak, wanneer dit vergelyk word met een "deur die [Pg 251] liewe God gemaak." "So stil, so absoluut eengalig, loop die ou aarde wat vir ons oor en deur die peillose afgronde van die hemelruim veilig meevoer, dat die oorgrootste meerderheid van die mensdom vandag nog oortuig is dat sy dood-stil bly staan in een plek, beweegloos, roerloos." (p. 89.) Die aarde is "ons ou moeder-wa" waarop die lewensreis afgeleg word. Dan ontstaan die vraag: "Waarheen? Waartoe? Waarom?"

In die kinderprekie oor Ideale word die volgende spreuk nader uitgewerkt "Die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die wêreld is maar die oeste van ongesiene gedagtesaadjies."

In die sesde afdeling word Die Betekenis van Opvoeding op aanskoulike en helder wyse uiteengeset en nagegaan wat Die Kenmerke van 'n goeie Toespraak is.

In die negende afdeling, waaraan die boek sy naam ontleen, tree Langenhoven op as 'n gids op Ons weg deur die Wêreld. In 'n honderdtal kort prekies, elkeen voorsien van 'n pittige teks word onderwerpe van 'n groot verskeidenheid behandel. Daar is preke oor die mode, dronkenskap, skindery, politiek, sedelike kwessies, ons eksamenstelsel, opvoeding, skuldmaak, fariseïsme, liefdadigheid, eerlikheid, borgstaan, godsdiens, die dood. Ook maatskaplike vraagstukke, soos die verhouding tussen kapitaal en arbeid word bespreek. Hy probeer om homself en sy bure grondig te leer ken. Hoe moeilik die ken jouself is, weet hy maar al te goed: "Die enigste mens in die wêreld wat in die posiesie is om jou te beoordeel is jyself, maar jy is die onbevoegdste, want jy is tegelyk regter en beskuldigde. Jy alleen kan in jou hart inkyk: maar ongelukkig dis jy wat inkyk—die baas en dienaar van die hart." (72.)

Op sy weg deur die wêreld vind hy baie dinge wat verkeerd is, maar tog bly hy optimisties: "Laat ons moed hou, maat, die ou wêreld is darem nie so sleg nie!" (92.) "Die grote waarhede van godsdiens en wetenskap en idealisme en vaderlandsliefde: immers dié regeer die wêreld." (id.) Tog moet hy af en toe peins oor die volmaakte wêreld, wat sou ontstaan as die menslike natuur anders was: "Veronderstel die hele mensdom sou volkome waarheid-sprekend word, wat sou [Pg 252] almal nie win daarby nie!" (50.) "Die wêreld kon 'n soort van lushof gewees het waar ons al singende en huppelende 'n lower-beskadude en bloem-bestrooide weg vervolg het van ons wieg tot aan ons graf." Maar ons moet "met skaamte bely: ... Alles is hier skoon en edel en groots behalwe die inwoners." (53.)

Enkele volkstiepes word raak gekarakteriseer; in nommer 10 die man wat by alles voor-op-die-wa wil wees, in 64 die lastige kuiergas, wat "nie gesels nie, maar gesels-maak". In 78 kom een van die weinige anekdotes voor, want die direkte preektoon word maar uiters selde deur 'n verhaal onderbreek.

In die honderdtal preke vind ons veel wat fris en oorspronklik is, en selfs die ou waarhede word op 'n besonder persoonlike wyse uitgedruk, sodat dit prikkel tot nadink. "As jy op trou staan sal jy geen goeie raad aanneem nie, en as jy op sterwe lê sal jy dit nie kry nie." (14.) "My liewe man, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou dood sal jy verby kom: hy sal nie te swaar wees nie; want as hy te swaar sou wees, sou hy onmooglik wees; en as hy onmooglik sou wees, sou jy onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie—daardie laaste skuld sal jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning" (55). Dit is deur so 'n ongewone manier van sê, deur sulke verrassende wendings, dat Langenhoven meestal daarin slaag om ons aandag vas te hou, want sy preke is pure pit-kos, wat nie in oomblikke van verstrooiing moet gelees word nie. Die oorvloedige gebruik van abstrakte begrippe, die epigrammatiese styl met sy vernufspelings, paradokse en parallele sinsbou vorder die grootste opmerksaamheid van die leser. "'n Bekwame booswig sou minder van 'n booswig gewees het als hy 'n onbekwame booswig was. Dáár, o mens, is jou kostelikste besitting: jou karakter wat jou bekwaamheid bekwaam kan maak ten goede" (68). "Die meeste wyse mense wat ek nog raak geloop het is dom mense, en die meeste slim mense dwaas" ens. (9). "Al ons geluk is verbeelding en alle verbeelde geluk is geluk" (Aan Stille Waters). "Leugenliewende waarheidgierigheid (92), [Pg 253] die ontsag vir sy gesag (93), die onreg dat 'n ander die reg ... het" (77)—vir sulke knal-effekte is Langenhoven besonder lief. Dat hy met sy puntige gesegdes soms 'n mooi indruk maak is seker; maar die vuurwerk van sy vernuf verteer ook soms die gedagte wat hy wil uit. Op die manier gaan die eenvoudigheid wat hy bo-alles na streef verlore. "Die eenvoudigste sprekers, die eenvoudigste skrywers, is die wat die diepste, diepste denkers is.... 'n Suiwere gedagte, 'n suiwere waarheid, is van self soveel wêrd dat hy die beste indruk maak as hy op sy eie verdienste, op sy eie waarde, ten toon gestel word in plaas van deur 'n misdamp onduidelik bespeurbaar te wees." ('n Goeie Toespraak.)

Op enkele minder gelukkige taalvorme kan hier nog gewys word: "Die man wiens raad (21 et passim); toe hulle van alle invloede van Kerk en Skool en Wet ontstoke was (27); die taktieke voordeel (37); meineders (85); verrottenheid (86); om te wanregeer (91); ons beweeg die graaf in die grond in" (p. 85, Derde Dr.). Die woordskikking is soms foutief o.a.: "Anders maklik kan jou eie redenasies jouself naderhand ... verlei" (p. 218). Troebel is die volgende beeldspraak: "die lente van nuwe lewe en bottende, bloemende, bloedgalop." (p. 90, Derde Druk.)

Afgesien van die storende gebruik van Engelse woorde soos: dres, mistyk, blackmailer, safe, snobbery, jollie, shabby, independent, ens. is die aantal anglisismes taamlik groot. Die volgende voorbeelde is aan afdeling IX ontleen: "'n Klassiek van die literatuur (12); in growwe opsigte (20); naar 'n gevolgtrekking te spring (21); op die lange baan verydel die luiaard sy eie doel (25); sy professie van reine bedoelings (37); nou en dan trek ons 'n blank; om deliberaat meineed te pleeg (48); raar (Eng. rare) (52); die eerste plig is die makliker plig (61); die wilde-hawer-saaiers in hulle jeug ...; sy iedere woord (71); die ou vriende van jare lange stand" (83). In 'n Goeie Toespraak hoor ons van welsprekendheid, wat platval (p. 216). Ook in die sinsbou stuit mens op Engelse wendings.

Uit die reeks artiekels Aan Stille Waters kan ons Langenhoven se letterkundige opvattings leer ken. "Die [Pg 254] hedendaagse Europese dekadensie van die kubiste en futuriste en impressioniste (volgens wie 'n ding moet lelik wees om mooi te wees)" moet nie "aan ons Afrikaanse waarheidssin en eenvoudsgevoel ... af(ge)smeer" word nie. (Die Burger, 14/8/22.) In dieselfde artiekel spreek hy hom teen 'n beroepstoneel uit: "Ek (sou) liewer ons kultuur op die gebied van die drama onontwikkeld sien bly as dat ons beroepsbeoefenaars sou hê.... Ek hoef nie meer te sê nie as dat volgens my insigte 'n klas van beroeps-vermaak-skaffers nie tot genoeg nut vir die samelewing is om op te weeg teen die besware wat daar in te bring is nie." As 'n beroepstoneel niks anders dan "vermaak-skaffers" oplewer nie, sal baie die bewering seker onderskryf; maar van 'n goeie toneelspeler verwag ons tog veel meer dan bloot vermaak! Ook "vir die gewone mens" moet die kuns méér wees as "ontspanning ... tussen die harde en dikwels onlieflike pligte van die lewe." (28/8/22). Maar hoe hoog Langenhoven sy roeping as kunstenaar opvat, blyk uit die volgende: Vir die kunstenaar sal die kuns "nie 'n afwisselende tydverdryf wees nie; dit sal sy hele lewe wees." (id.)

Die Bybel, die psalms en gesange is vir hom die toppunt van alle bereikbare skoonheid. "Hy (d.i. Langenhoven) haal uit die Bybel aan, omdat hy van geen letterkunde in die wêreld weet wat, as 'n saak van blote verhewenheid en skoonheid, in die verte daarby kom nie; en uit ons Psalms en Gesange, omdat hy van niks in die Nederlandse lettere weet wat daarby kom nie" (31/7/22).[376] By so 'n uitspraak het die gewyde inhoud van die aangehaalde werke met hul geheiligde herinneringe seker swaar geweeg. Veral die gekursiveerde stelling wek verwondering, want wanneer die Bybel, weens sy unieke posiesie as die geïnspireerde Woord buiten beskouing bly, dan is daar tog seker genoeg geestelike liedere wat 'n vergelyking met die offisiële gesange glansryk kan deurstaan.

Langenhoven se ideaal is om 'n boek te skryf "wat genot verskaf by die veewagterskraal en nie benede [Pg 255] die aandag van die hoogsgeleerde uniwersiteits-professor (is) nie." (12/6/22). "Skryf ek vir die geleerde mense, met die veronderstelling van kennis en ontwikkeling wat hulle reeds klaar besit, dan word ek vir die grote meerderheid van die volk onleesbaar—dan kan hulle geen vattigheid by my kry nie. Skryf ek met die oog op die onbevoorregtes, waar my hart van jammerte en medelye is, dan loop ek die gevaar dat teen die hoof van my nasie die vernederende vreemde verwyt kan geslinger word: Julle is onbeskaaf; julle kultuur is benede die hedendaagse ontwikkelde peil" (id). Die "versoening tussen hierdie twee teenstrydige uiterstes" vind hy in die Bybel en by Homerus. "Daarin is die verhewenste bereik waartoe die kuns van die lettere in staat is, en bereik langes die weg van die allernederigste eenvoud."[377]

Duidelik word sy didaktiese standpunt uiteengeset in Hoe skryf 'n mens? (17/14/22). "Wat ons roeping en plig is, ons wat skryf, is om naar ons broers om te kyk wat die opvoeding van node het wat aan hulle in hulle jonge dae weerhou is en wat hulle nergens anders kan kry nie as by ons.... Met ons boeke, met ons tydskrifte, met ons koerante, behoort ons veral diegene te help wat hulle nie self kan help nie." Langenhoven streef na gemeenskapskuns. Sterk ontwikkel is by hom die liefde vir die massa, vir "die onbevoorregtes, waar (s)y hart van jammerte en medelye is." Op hom is die woorde van Frans Bastiaanse toepaslik: "Als een kunstenaar zoo veel houdt van die massa-idee als een ander bijv. van zijn geliefde of zijn moeder kan houden, dan kan die massa-idee in hem dien ontroeringsstaat wekken, die tot het kunstenaarsschap aanleiding geeft."[378] Langenhoven begaan egter die fout om aan àl ons skrywers 'n didaktiese dwang op te lê en in sy ywer en liefde vir die "arme sukkelaars op die nederigste onderste sportjie" vergeet hy, dat die waaragtige kunstenaar geen skoolmeester is nie. Die waaragtige kunstenaar is iemand wat deur skoonheid ontroer is en wat die wondere gawe besit om sy ontroering in taal of klank of kleur [Pg 256] of marmer so te uit, dat die oorspronklike verrukking wat hy by sy skeppingswerk ondervind het, vir ander navoelbaar is. Dat daar van alle goeie kuns 'n veredelende werking uitgaan, is vir die kunstenaar iets bykomstigs; doel mag dit nooit wees nie. "Het primaire van een kunstwerk is de ontroering die er in schuilt, en of die ontroering bij den kunstenaar nu gewekt wordt doordat hij haar krijgt uit het massa-sentiment, of door het natuurleven, of wat dan ook, dat blijft ten slotte hetzelfde, mits de diepere ontvankelijkheid en het kunstenaars-temperament er zijn."[379] 'n Kristen-kunstenaar b.v. sal in sy werk, ja moet as dit eg is, sy godsdienstige gevoelens openbaar, omdat hy in 'n kunswerk vorm gee aan die innerlikste roersels van sy wese. Maar as die self-openbaring van die Kristen-kunstenaar ontstaan, nie uit 'n suiwer-estetiese drang nie, dog met die bedoeling om ander te bekeer, dan word dit 'n preek, wat met kuns niks te maak het nie. As die Kristen alleen uiting gee aan sy godsdienstige ontroering en alleen daardeur gedryf word tot skepping van sy werk, dan kan dit kuns wees. Op dieselfde wyse kan iemand wat diep ontroer is deur die nood en behoefte van ons arm blanke, soos Langenhoven b.v., kuns skep wat hul harte sal raak. Maar gaat al ons skrywers nou voor hul skryftafels sit met die bewuste, vooropgestelde doel: Ons moet "die duisende onbevoorregtes van ons volk", wat nou vir die eerste maal boeke in hul eie taal kan lees, help, tot 'n hoër trap van beskawing ophef, dan kan daar wel goeie didaktiese verhandelinge, ens. ontstaan, skoolboekies vir grootmense, maar nooit ofte nimmer kunswerke nie. Eenvoudig omdat kuns nie gefabriseer of gekommandeer kan word nie, omdat kuns sy ontstaan dank aan 'n spontane ontroering van 'n begenadigde eenling. "An essential in creative art is the artist's temperamental absorption in his own work. Art in that respect is essentially aristocratic, however democratic its appeal may be. That is what Meredith meant when he said, 'Do not democratize literature'. Beer or blankets or biscuits or braces may be manufactured to [Pg 257] please the taste of the average man, but art cannot be so dealt with under penalty of losing its quality as art."[380]

Langenhoven beweer: "Die meesterstukke van die wêreld, die klassieke wat die toets van die tyd deurgestaan het, is nie dié wat te hoog vir die volk was nie, maar juis die wat elementaal (verstaan: elementêr) was en hulle beroep gemaak het op die ewige gevoelens en behoeftes en ervarings van die ongekunstelde volkshart." (17/4/22). Om dié snaakse bewering te bewys, neem hy die Bybel as voorbeeld. Maar afgesien van sy letterkundige waarde, wat ongetwyfeld groot is, het die Heilige Skrif deur sy godsdienstige inhoud só 'n bevoorregte posiesie, dat daarop geen argument kan gebou word nie. Shakespeare, Dante, Vondel—aan sulke kunstenaars moet ons die bewering toets. Hulle was en is nog altyd "te hoog vir die volk", soos in hoofstuk II al aangetoon is. Dit is pure onsin om van 'n kunstenaar te verwag dat hy hom na die publiek moet rig. Hy moet eenvoudig getrou wees aan die innerlike stem, aan die heilige ontroering, wat die skepping van kunswerk vir hom tot plig maak.

"Wer den Dichter will verstehen
Muss in Dichters Lande gehen"

sê Goethe. "Dat is een wet van alle tijden voor de poëzie.... Een dichter moet in niets anders leven dan in de aandoening, in de idee die hij aan het dichten is. Hij moet niet met zijn verstand een geleidertje bij zijn werk zetten, dat toekijkt of hij wel zoo schrijft dat vele menschen het zullen kunnen lezen. Dan is de toestand niet zuiver meer en is de poëzie vertroebeld."[381]

Met dit alles word volstrek nie beweer, dat die kuns buiten die maatskappy, buiten die volk hoef te staan nie. "Goede en groote kunst heeft steeds in de maatschappij gestaan; al werkt ze niet rechtstreeks op de massa, zij is en blijft een macht in de gemeenschap. Het voortbrengen van goede, groote kunst is iets zeer persoonlijks en individueels. Als toevallig dat persoonlijke en [Pg 258] individueele dwingt tot het scheppen van gemeenschapskunst, prachtig! Maar zoo iets opzettelijk aan te kweeken of bij politieke leuze voor te schrijven is een dwaasheid. De hoogste en teerste en tevens machtigste kunst oefent haar levenden invloed rechtstreeks meestal slechts in beperkten kring, zal wel zeer zelden spreken tot het gevoel en begrip van de grove massa...."[382]

Laat dié kunstenaar wat deur sy innerlike geaardheid en natuurlike aanleg tot gemeenskapskuns geroep word, dit voortbring; maar laat ons dit nie as enge dogma aan almal voorskryf nie, want iedere waaragtige kunstenaar dien die mensheid op sy eie manier. Kloos sê: "Een gedicht is de individueelste expressie van de individueelste gevoelens", en Adama van Scheltema se formulering is presies die teenoorgestelde: "Een gedicht moet zijn een muziekstuk van woorden en gedachten, dat door zooveel mogelijk onzer medemenschen kan worden gevoeld en begrepen."[383]. Tog het albei skoonheid geskep. Maar die indiwidualis, wat in stryd met sy roeping die hele gemeenskap wil dien met sy kuns gaat ten gronde. Ons hoef alleen aan Gorter te dink. En didaktiese kuns wat nie is "ontvangen en geboren uit de onweerstaanbare schoonheidspassie, gesteund door kennis en arbeid" kan wees "leerzame propagandistiese lectuur ..., maar dat gaat voorbij, daaruit vloeit niet de koesterende warmte van het stralend vuur, the joy for ever."[384] "Even in novels of a superior order, which may be marked by some psychological insight, atmospheric truth, and a highly consciencious exposition of character and motive, we find that the didactic touch often robs the story of the qualities of flexible grace and naturalness which are essential to fine craftmanship."[385]. Dit is 'n waarskuwing wat ons kunstenaars gerus kan oorweeg.

Gelukkig hoef ons in Suid-Afrika voorlopig nie te vrees vir indiwidualistiese verwildering nie. Ons kunstenaars sluit hul nie op in ivoren torens, gaat nie op in egoïstiese aanbidding nie, maar staan in die middel van [Pg 259] die volk. En as daar nog baie onbevoorregtes is, wat selfs ons nasionale kuns nie kan waardeer nie, dan is dit omdat die weg tot ware kunsbegrip lank is. Deur aan die volk hul moedertaal op die skool te gee het Langenhoven die enigste weg ingeslaan waarlangs hul gelei kan word tot 'n waardering van egte kuns.[386]

§ 2. Dr. C. Louis Leipoldt.[387]

Praatjies met die Oumense, (1918).

Die grootste gedeelte van die bundel bestaan uit 'n populêr-wetenskaplike behandeling van mediese onderwerpe, soos kanker, geslagsiektes en die drankkwessie. 'n Vyftal opstelle behoort egter tot die didaktiese literatuur. Die Praatjies is geskrywe "om oumense, veral die wat ouers is, aan te spoor om vir hulleself te dink".[388] Groot nadruk word gelê op die noodsaaklikheid om logies te redeneer en die skrywer toon dan ook dat hy dié kuns goed verstaan. Sy rustige betoogtrant munt uit deur klare eenvoudigheid. "Soos dit nou gaan, is die meeste gepraat selfs oor belangrike sake net maar babbelpraat, omdat diegene wat in die bespreking deel neem nie die moeite gedoen het om vooraf die feite, wat op die onderwerp van toepassing is, te leer ken nie." (p. 17.)

Die kuns om te lees, verbeelding, opvoeding, vryheid en verdraagsaamheid—dit is die didaktiese onderwerpe [Pg 260] wat behandel word. Sy pleidooi vir 'n suiwer Afrikaanse beeldspraak verdien die aandag: "Ons hoef vir geen nasie agter te staan nie, wat vergelykenisse, geput uit ons natuur, ons geskiedenis, ons alledaagse lewe, betref, maar waar sien of hoor jy dat ons publieke sprekers van sulke nasionale beelde 'n algemene gebruik maak?" (pag. 43.)

Telkens word Multatuli met groot ingenomenheid aangehaal en die lesing van sy werk aanbeveel[389]. 'n Paar van Leipoldt se denkbeelde is taamlik rewolusionêr en sal, deur ons land ten minste, seker 'n klein Multatuliaanse "rilling" laat gaan. Hy is 'n teenstander van godsdiens-onderwys op skole. "Is dit nie veel beter nie om uit die Bybel te put stories en stukkies wat 'n rein opvoedkundige waarde het, en dit voor te dra in die skool as deel van die algemene geskiedenis soos dan ook die Herbartse volgelinge dit doen?" (p. 84.) Sendingwerk beskou hy as 'n uiting van onverdraagsaamheid. Die sendelinge is "uitstekende, mensliewende persone.... En tog, dieselfde beminnelike mense gaan naar ander mense, wat nie juis bely wat hulle bely nie, en kwets die mense in hulle diepste en heiligste gevoelens op 'n manier wat hulle van jou en my nooit sal verdra nie." (p. 150.) Op p. 34 is sprake van "die middeleeuse hipotese van erfsonde" en "die predestinasie of verdoemingsleer van die Kristelike kerk." Predikante en prokureurs kry 'n opslagskoot op p. 16: "Die meeste van ons is geneig om die deskundige te wantrou. Daar is net twee van die soort mense aan wie onder ons mense 'n algemene roem toegeken word, naamlik die predikante en die prokureurs, en op die keper beskou is hulle deskundigheid tog maar van die minste waarde"!

Leipoldt se helder prosa bevat ongetwyfeld 'n belofte. "Ek weet dat wat ek aanvoer van belang is vir ons volk, en dat dit algar dinge is, waaroor 'n verstandige mens behoort na te dink" verklaar hy in sy voorwoord. Die waarde van sy Praatjies lê daarin, dat dit 'n aansporing tot selfstandig dink bevat. Op enkele minder gelukkige taalvorme kan nog gewys word: "Ons herinner, [Pg 261] hoe sy ewe manmoedig ... pal gestaan het (p. 12); as ek dus iets verbeel (p. 29); hy is een van die mense wat ... die naam van mistiek mag dra" (p. 32). "Die strikte onderwyser" (p. 87) en "vandag is ons begrip nog geverwe deur gewoonte" (p. 145) is anglisismes.

§ 3. G. Jordaan.

G. Jordaan vertel in Die Muurkassie (1919) hoe Oom Andries "deur oppassendheid en sorg ryk geword het". Hy hou vas aan die voorvaderlike gewoontes en gereeld kom die Bybel uit die muurkassie. As klein Andries, uit wie se jeug allerlei awontuurtjies meegedeel word, egter groot is, trou hy met Florence McWire. Hy word een van die "society-mense" en dit duur nie lank nie of die muurkassie word die bewaarplek vir kaarte en brandewyn. Armoede volg en na 'n beskouing oor die arm-blanke-kwessie roep die skrywer sy lesers, "wat ook grond geërf het van hulle ouers" toe: "Daar kom 'n stroom van immigrante uit Europa. Vele oë is op die erwe van die voorgeslagte (die plase van die boere). Laat ons met rotsvaste beslistheid Naboth nasê: Dit zij verre van mij dat ik u geven (of verkopen) zal de erve mijner vaderen!"

Jordaan "skryf as gewone boer aan (s)y landgenote"[390] 'n eenvoudige lekeprekie oor 'n aktuele kwessie. Ter afwisseling vertel hy 'n paar grappies: Oom Willie val in die stampkarring, Oom Andries in 'n bad water, ens. Maar sy waarskuwing is ernstig, en ofskoon van geen letterkundige, seker van kulturele belang. Hy is ook die skrywer van: Hoe zij stierven.

VOETNOTAS:

[375] Twede Dr. 1919. In afd. IX word by sitate die nommers van die stukke aangegee. Waar nie vermeld nie, word volgens die twede druk gesiteer.

[376] Ek kursiveer.

[377] Ek kursiveer.

[378] E. D'Oliveira: De Jongere Generatie p. 93.

[379] t.a.p., p. 94.

[380] Edward Garnett: Friday Nights, p. 257.

[381] D'Oliveira, t.a.p., p. 233. P.N. van Eijck.

[382] Prof. Dr. J. Prinsen: Handboek2 ens., p. 554. Ek kursiveer.

[383] D'Oliveira, t.a.p., p. 211.

[384] Prinsen, t.a.p., p. 671.

[385] Garnett, t.a.p., p. 265.

[386] Vgl. my artiekel oor die kwessie in Die Huisgenoot, Aug. 1922. In sy repliek (Die Burger, 4/9/22) slaag Langenhoven daar nie in om die persoonlike element buiten die kwessie te hou nie. Dit word 'n kriewelrige filippika teen "akademiese Fariseërs" en "skrifgeleerde ape", onder wie Kloos, Van Deyssel, Van Eeden en Robbers gereken word!! Hoe weinig begrip Langenhoven van die letterkundige kritiek het, blyk o.a. uit die volgende: "Die grootste vyande van alle kuns is die katedrale (sic!) kuns-eksperte." Die feite wat ek aangevoer het bly onaangetas staan, soos in een van die volgende nommers van Die Huisgenoot aangetoon word.

[387] Vir 'n lewensskets kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2 ens, p. 300 vlg.

[388] Voorwoord.

[389] O.a. p. 88.

[390] Voorwoord.


[Pg 262]

HOOFSTUK VIII.

Dierebeskrywing.

§ 1. A.A. Pienaar. (SANGIRO).

Sangiro is in 1894 in die distrik Pretoria gebore. Op elfjarige leeftyd het hy met sy ouers die voortrek na Duits-Oos meegemaak. Groot was die ontberings op die lang trek van die kus af na Kilimandjaro. Eers was dit malaria, toe vrek die trekdiere en eindelik was al die voedselvoorraad op—verweg in wilde bosstreke, waar niks te kry was nie. Kort na die aankoms by Kilimandjaro, waar toe al 'n paar Boerfamielies was, is twee van sy broers dood aan die gevolge van malaria en die ontberings langs die pad. Daar was geen ander maats naby die plaas nie en dus het hy alleen opgegroei tussen die diere. Van die tyd vertel hy: "Die grootste plesier het toe nog bestaan in die jagawonture en die doodskiet. Maar ek het baie behae daarin geskep om jong wilde diere lewendig te vang en aan my gewend te maak. Daardie eerste jare was 'n gedurige worsteling om die vee snags teen roofdiere te beskerm. Dié werk het hoofsaaklik op my gerus. Deur gedurige aanraking—jag en naspoor gedurende die dag en opsit in die kraal snags, het ek natuurlik 'n baie intieme kennis van die roofdiere veral gekry. Hierdie lewe het vier jaar geduur. Toe is ek na Suid-Afrika om te studeer. (Heidelberg, Tvl. en Stellenbosch). Toe ek in 1917 gaan kuier na Duits-Oos, was my lewensbeskouing baie verander. Ek het dit nou swaar gevind om wild dood te skiet, en het die jag alleen nog geniet wanneer dit gevaarlike teenstanders, soos die leeu en renoster geld. Die grootste [Pg 263] plesier het ek nou daarin gevind om die diere in hulle eie omgewing gade te slaan. Die gebeurtenisse in my boekie het gedurende hierdie twee jaar plaasgevind. Die stories is waar. Die leeus het ek 'n weeklank elke maanlignag sit en beskou uit 'n boom. Ek kon elke beweging bespeur en later weergee in my boek. Die jagters wat daarin voorkom is my broer, ('n jonger een) en ek self."

In 1920 het Sangiro aan die Stellenbosse Uniwersiteit gegradueer. Hy is nou op die redaksie van Die Burger, en uit die blad is sy sketse Uit die Lewe bekend. In 1921 het van hom verskyn: Uit Oerwoud en Vlakte, Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld[391]. Daarvan vertel hy: "Die boekie is geskryf in Quarta, Stellenbosch, waar 'n groot verlange na die wildernis van my besit geneem het, sodra ek in 1918 weer teruggekeer het uit Duits-Oos.... Ek kan dit nie help nie, maar ek het 'n gedurige heimwee na die wildernis—nou ook weer." So skryf Sangiro net na sy terugkeer van 'n lang jagtog. Die jag was egter bysaak en die volgende keer neem hy miskien net sy kamera saam. Sangiro is die bynaam wat die Kaffers hom gegee het.

Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld.

M.H. van Campen het opgemerk, dat in die loop van die eeue die beroemdste skrywers die dierewêreld "nimmer om zich-zelfs-wil in literaire kunst" uitgebeeld het nie. In die Pancatantra, die fabels van Aesopus, die Reinaert-sage en ook vir La Fontaine is die dier alleen van belang "voor zoover het als acteur te gebruiken viel, wien een menschelijke rol kon worden toebedeeld."[392] "Zeer zeker ging al dezen schrijvers het eigenaardige van het dier-leven niet onopgemerkt voorbij, maar dat leven zagen zij niet als een schoonen stroom, machtig, diep en hunner aandacht ten volle waardig, ook al hadden zij er nooit de spiegeling van der menschheid gelaat in [Pg 264] gezien.... De dieren spelen (in de Indo-Europeesche dierensage) wel de eerste rol, maar die dieren denken en handelen met menschelijk verstand, die dieren zijn verkapte menschen, zijn menschen in een dierenhuid gestoken, gelijk in Rostand's Chantecler." Natuurlik erken Van Campen dat "door spel en tegenspel dezer als 't ware psychologisch-kunstmatige en niet naar de doorgronde-werkelijkheid gebeelde dierfiguren, tafereelen van tot schoonheid gestegen schalkheid, satyre, wijsgeerig en mensch-kundig inzicht ontstaan (zijn), die voor geen andere werken van letterkunde onder hebben te doen."

In die diere-epos en diereroman van ons tyd word die dier om sy eie ontwil uitgebeeld. Jack London se Pittah noem Van Campen: "een dierenverhaal, dat ons den schrijver doet zien, zóó verzonken in de contemplatie van het dier-leven, dat dit op het allereerste plan van het werk staat, en de menschen er slechts in optreden voor zoover zij invloed hebben op geest of lichaam van het dier." So langsamerhand het daar 'n uitgebreide literatuur ontstaan, heeltemal gewy aan diere van allerlei soort. Charles Derennes raak in sy bestiaire sentimentale selfs in geesdrif oor 'n vlermuis en in Le Roman de la Rivière van Georges Ponsot is die held 'n jong snoek. By sommige kunstenaars is dit die herlewing van die ou pastorale idee, 'n wegvlugtery uit die smoor-atmosfeer van die moderne beskawing. Edward Garnett vertel ons van W.H. Hudson "who, (flings) off the soiled dust of our human thoroughfares, and (goes) into nature's wilderness to escape the sight of the pale civilized faces, with the mean round of petty human interests of their artificial indoor lives."[393] In Suid-Afrika met sy wyd uitgestrekte vlaktes, wat nog so dun bevolk is, kan daar van so 'n motief egter geen sprake wees nie. By ons is daar nog maar weinig "kinderen van weelderige overbeschaving",[394] want die grootste gedeelte van die volk leef nog in landelike eenvoudigheid. Maar deur die gedurige rondtrekkery in woeste streke het die Boere in intieme aanraking met die natuur gekom, en had hul die [Pg 265] geleentheid om die lewe van die groot wild van naby te bestudeer. In ons letterkunde is daar dan ook tallose jagverhale. Maar so 'n digterlike gees soos Sangiro is nie tevrede met die optekening van sy jagervarings nie. Deur 'n langdurige verblyf in woeste streke geraak hy onder die mistieke bekoring van die oerwoud, gaat hy geestelik heeltemal op in die geweldige drama van die natuur. "Man ... can only enter into the vast world of (nature's) myriad sentient life by employing all the old emotional tools—his sense of mystery, love of beauty, poetic imagination, and human love—to supplement and vivify the impassive truths of Science."[395] Dit is wat Sangiro doen. 'n Leeu is vir hom nie alleen "'n aantreklike wit" en "na 'n goedgeslaagde skoot ... 'n stuk dooie vleis" nie, maar in elke leeu sit "'n fyn georganiseerde lewe ..., 'n persoonlikheid in sy soort ruim so interessant as dié van die mens" (p. 83). "Ook onder die wilde diere bestaan daar 'n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hul uiterlike beweginge te verstaan" (Voorwoord). Maar Sangiro is veel meer as 'n "opmerksame waarnemer"; sy liefde vir die diere maak hom die digterlike vertolker van al hul emosies en instinkte en deur middel van sy plastiese uitbeelding laat hy ons dit ook navoel. "Wild nature's life being a natural drama of instinct, an unceasing play of hunger, love, battle, courtship, fear, parental emotion, vanity, and most of all, perhaps, pure enjoyment of physical powers, it is obvious that every man who is irresponsive in his feelings, or possessed of a dull artistic imagination, or weak aesthetic sensibilities, must remain practically aloof from wild nature and its infinite feast of characteristic displays."[395]

Edward Garnett het in die aangehaalde artiekel duidelik aangetoon, dat die noukeurige wetenskaplike waarnemings van die beroepsnatuurkundige aangevul en vertolk moet word deur artistieke en poëtiese verbeelding. Tot die wetenskaplike ondersoeker sê hy: "You tell us countless [Pg 266] facts about the laws of life, but the actual spirit of life, its living feeling, which is the essential volatile principle of life, can never be fully assessed by you." Dié artistieke verbeelding en innige aanvoelingsgawe besit Sangiro en daarom is sy sketse ook 'n kunswerk geword.[396] Hoe diep en innig die liefde vir diere kan word, blyk uit die volgende verklaring van Dr. Jac. P. Thijsse: "Ik heb nu al zoovele voorjaren met de vogels bewust meegeleefd, dat ik ook de Aprilmaand min of meer op vogelmanier gevoelen kan en ik voel 's morgens bij 't ontwaken, welke vogels in den nacht aangekomen kunnen zijn."[397]

In die eerste skets beskryf Sangiro die lotgevalle van 'n leeufamielie. In al hul houdings het hy die diere bespied, op al hul dwaalpaadjies het sy oog hul gevolg. Die speelse vrolikheid van die kleintjies, die versigtige sluipgang op die jagveld, die kennismaking met nuwe vrinde en die nagtelike smulpartye word op mooi realistiese wyse geteken. Hy probeer om al die fyn klanknuanserings in die leeuegebrul te verstaan. Wanneer hy die smart van die trotse bosreuse oor 'n doodgeskiete wyfie beskryf, die hulpelose verlatenheid en swerftogte van die bangerige kleintjies, dan bereik hy 'n diepte en innigheid van plastiese uitbeelding waar 'n roerende skoonheid in bewe. Die langsame ontplooiing van die jaginstink by die jong diertjies word met treffende waarheid geskilder. Die wilde natuur waarin die geweldige dieredrama afgespeel word is nie alleen dekor, is nie louter omlysting nie, maar maak onafskeidelik deel uit van die handeling. In die stilte van sy donker wegkruipplek, in die lange ure van sy spannende nagwake het die geheimsinnige gees van die wildernis hom aangeraak. Hy het die glans van die maanspatsels oor donker blare gesien, die wegskuiwende skaduwees in hul trage gang gevolg; die blitsoë van getergde leeus het hom laat huiwer; die geritsel van die gras, die gekreun van die bome, die jagkrete van al die oerwoud-bewoners het hy leer verstaan; die slagtande van gulsige hiënas het hy hoor kners op die [Pg 267] afgevrete bene van hul prooi. En deur die skoonheid van sy woord laat hy ons dit ook alles sien en hoor.

"Ek sou ... vandag die geweer opsy laat en net met kamera en dagboek ter hand 'n beeld uit die daaglikse lewe van die oerwoudbewoners probeer opvang." (p. 169.) So ontstaat die skets: In die Oerwoud. By 'n reënpannetjie is sy wagplek en al die lewe rondom hom word met raak trekke geteken, terwyl ook die hele atmosfeer van die oerwoud goed aangedui word.

Die derde skets Renosterlewe is 'n deurlopende verhaal van die vrindskap tussen 'n renostertjie en 'n jong seekoei, wat albei hul ouers deur die koeëls van die jagters verloor het en troos en veiligheid in mekaar se geselskap vind. Al hul awontuurlike ondervindings op lang swerftogte deur oerwoud en oor vlaktes word met liefdevolle oorgawe in treffende tafereeltjies uitgebeeld. Die hele tropiese omgewing met sy miljoene dier-bewoners en weelderige plantegroei word vir ons 'n skone realiteit, trillende van intense lewe tot in sy donkerste wegkruipplekkies. In so 'n geweldige oerwoud is die mens maar 'n nietige stippeltjie, en in die atmosfeer van plegtige stilte, waar elke geritsel 'n betekenis het vir duisende ore, besef ons, "that man's mind, though the most marvellously complex instrument of all, is still, as it were, but a human eyelet hole, through which the Universe can only be refracted back to us in certain aspects of its incalculable whole."[398] Hoe dankbaar moet ons wees, dat daar kunstenaars soos Sangiro is, wat ons nader aan die natuur bring, wat ons iets laat begryp van die intieme lewe van die diere. Hy is op die jagveld nie alleen 'n vernielende oorwinnaar nie, aangehits deur 'n primitiewe uitroeiingsinstink, maar ook die digterlike aanskouer, wat voel dat daar in die krioelende lewe om hom heen skoonheid te vind is. Dat hy protes aanteken teen die onridderlike praktyke van party jagters kan ons verstaan.[399] Maar sy hele boek is so 'n welsprekende aanklag teen menslike wreedheid, dat 'n direkte pleidooi, wat ook uit kunsoogpunt nie kan goedgekeur word nie, oorbodig is.

[Pg 268] Treffend is die tekening van die eensame renosterwesie. "Sy ongeduldige geproes, waarmee hy eers die seekoeitjie wou uitlok, onderwyl hy opgewonde op die oewer ronddrentel en die sagte brak vol ronde spoortjies trap, het langsamerhand, namate sy maat verder en verder swem, in 'n smekende gepiep oorgegaan.... Nog 'n rukkie staan die donker figuurtjie daar op die wit brak, af en toe sag kwiekende onderwyl hy oor die water staar, die knoestige koppie vooruitgestrek in 'n poging om verder te sien met die klein ogies. Eensaam en verlate genoeg lyk hy, met sy kneukelige dik lyfie, gerimpelde moddervelletjie en swaarmoedige renostergesiggie" (p. 204-6). So vind Sangiro vir al die woudbewoners die juiste, tekenende woord. Van 'n gekweste seekoei kry ons die volgende realistiese skildering: "In stomme wanhoop-staar hang die massiewe kop omlaag, die verbryselde kakebeen bloederig-kwylend in aanhoudende vergeefse poginge om tande op mekaar te knars." (p. 225.) Ook die atmosferiese verskynsels, die tropiese sonsondergang, die miswolke teen die hang van die berge, die sombere reënseisoen laat Sangiro in fyn stemmings-beskrywinge vir ons leef. "Dae het verbygegaan, en nog duur die sonskyn. Met die groei van die maan het die weer skielik verander, en na 'n week van woeste, stikdonker nagte en droefskemerige reëndae wasem die oerwoud weer geur uit onder 'n sonnige safierhemel; en wellustige dae word gevolg deur toweragtige maanlignagte, wanneer vuurvliegies oor 'n misties-glimmende watervlak dans en dowwe eggo-klanke van nagdiere onder 'n donker, vogtige oerwoud rondom weerklink." (p. 229.) Mens voel dat die skrywer sy gedagtes gekoester het, sy woorde liefhad en hul met sorg neergeskryf 't. Daar is 'n vloeiende buigsaamheid, 'n musikale streling in sy sinne. Telkens word ons verras deur raak seggingskrag en fyngevoelige uitbeelding, sonder dat aanstellerige en bygemaakte woordpronksels die klare eenvoud van sy styl bederf.

'n Enkele maal skryf hy aan die diere miskien te spesifiek menslike gevoelens toe, en soms twyfel ons aan die juistheid van sy psigologie. "Die renostertjie (staan) nog snuiwend in die rondte, gereed om te storm ... en [Pg 269] heeltemal seker dat hy nou vreeslik boos en luidrugtig is." (p. 233.) In so 'n geval bring die skrywer sy eie waarneming op die dier oor en oortuigend is dit seker nie. Maar daarteenoor staan, dat hy hom so ingeleef het in die diereverstand, dat sy intuïesie hom selde op 'n dwaalspoor bring.

Oor die beeldspraak nog 'n opmerking: maak dit nie 'n komiese indruk nie, as ons lees dat renosters "in alleryl die hasepad gekies het"? (p. 188.)

§ 2. Hans Anton Aschenborn.

Aschenborn is in 1888 gebore in Kiel. Sy vader is 'n Duitse admiraal. In Mecklenburg het hy op 'n groot landgoed prakties leer boer. Van Prof. Burmester in Kassel het hy skilderles gehad en sedert 1910 boer en skilder hy in Suid-Wes-Afrika. Op die gebied van die artistieke afbeelding van ons wilde diere is hy 'n baanbreker en verskeie uitgawes is al deur hom geïllustreer.[400] In 1921 het verskyn: Uit die Lewe van 'n Gensbok, die eerste van 'n reeks, waarin Aschenborn ook die koedoe, wildebees en eland wil beskryf en afbeeld. "Die gensbok het ek op my plaas in Suid-Wes so noukeurig gadegeslaan, dat hy vir my 'n intieme vriend geword het", verklaar hy in sy voorwoord. Maar so 'n woordkunstenaar soos Sangiro is hy nie. Sy boekie is van meer betekenis vir die skilderkuns as vir die letterkunde. In eenvoudige, soms gebrekkige taal skets hy 'n paar insidente uit die lewe van 'n gensbok.

VOETNOTAS:

[391] Oorspronklik in Die Huisgenoot verskyn.

[392] Over Literatuur, Twede Bundel: Pit-tah, De Grijze Wolf, door Jack London, p. 205 vlg.

[393] Friday Nights: Hudson's "Nature Books," p. 15 vlg.

[394] Vgl. J.H. van den Bosch, Inleiding by Hooft's Granida, Zw. Herdr.

[395] Garnett, t.a.p.

[396] Wanneer hy ons in sy voorwoord verseker, dat die verbeelding geen rol speel nie, dan bedoel hy alleen dat sy interpretasie op self waargenome feite berus.

[397] Het Intieme Leven der Vogels, p. 221.

[398] Edward Garnett, t.a.p.

[399] Vgl. o.a. p. 83 vlg.

[400] Ontleen aan Die Huisgenoot Des. 1920.


[Pg 270]

HOOFSTUK IX.

Reisbeskrywing.

§ 1. A.J. Jacobs.

Reisavonture op Land en See deur 'n Dómine, (1920).

Volgens De Goede Hoop, Augustus 1919 is Dómine die skuilnaam van A.J. Jacobs. Hy het oor Madeira 'n reis gemaak na Buenos Aires en vandaar na die Boerekolonie in Argentinië om vir die geestelike belange van die uitgewekene te sorg. 'n Lywige boekdeel het hy nodig om al sy ervarings te vertel. En dan betreur hy dit nog, dat hy nie alles haarfyn kan meedeel nie! "Dis tog jammer dat hulle nog nie 'n instrument soos 'n gramafoon uitgevind het nie, wat mens op reis by jou kan dra nie. Dit moet nes 'n sakkamera wees en daarmee moet mens alles wat jy hoor kan opvang en bewaar. Daar gebeur so baie dinge, wat mens hoor en dis moeilik om alles akkuraat weer te gee."[401] Die neiging om alles mee te deel is juis Dómine se fout. Hy veronderstel, dat tallose besonderhede, wat vir hom persoonlik van belang is, ook die leser sal interesseer en weet eenvoudig van geen ophou nie. En dit is jammer, want hy het ongetwyfeld slag om 'n anekdote smaaklik te vertel, soms met so 'n droog-humoristiese draaitjie, dat iedereen daarby moet glimlag. Maar sulke onderhoudende gedeeltes lê diep toegepak onder wavragte van onbelangrike sake. So kry ons b.v. allerlei banaliteite oor die Saxon; tot selfs die tonnemaat van die skip word meegedeel! (p. 18.) Soms lyk dit of die skrywer hom 'n klein [Pg 271] agterveldse leserskring voorstel, wat hy met groot syfers kan dronkslaan! Is dit nou nodig om nog in 1920 te vertel: "Eendag is die pond sterling veel meer waard as op 'n ander keer"? (p. 61.) Dit is maar een voorbeeld van die tallose uitweidings, wat allermins op 'n fris oorspronklikheid kan aanspraak maak en eenvoudig 'n herkouery van oorbekende sake word.

Soms lyk dit weer of die skrywer 'n handleiding vir toekomstige emigrante wou skryf.[402] Hy gee selfs kook-resepte![403] En so word sy reisbeskrywing 'n sonderlinge byeenskraapsel van allerlei wysheid.

Dat Dómine op spellinggebied geen deskundige is nie, blyk al uit die tietel van sy boek. Afgesien van die tallose drukfoute kry mens op byna iedere bladsy rariteite soos die volgende: "vollende, dokse, hemdjie, kerritse, nuwes, baik, stadte, raste (i.p.v. rasse), geflatter" ens. Ook anglisismes is volop en dwarsdeur die boek stuit mens telkens op sinne waarin die negatief, woordskikking en voorsetsels verkeerd is. Lomp uitdrukkings soos "puur bloed inboorlings" (p. 169), "die besnedenis van sy gesig" (p. 148) ens. toon duidelik, dat Dómine sy taal glad nie beheers nie. Hoe sou hy anders so iets, soos die volgende kan skryf: "Verre van in 'n soort afsondering, as in 'n groewe, vas te sit, het hulle met hul sedelike en nywerheids talente gewoeker. Die rykes het die armes voortgehelp deur onderlinge geselskappe om hout te saag, land van bosse rein te maak en alle soorte ambagte te beoefen." (p. 184.)

Natuurbeskrywings kom daar baie in die boek voor, maar gewoonlik word die land uit die oogpunt van 'n boer gesien. "Die plek waar ons sou staan, was besonder waterryk; groot kuile en helder strome loop deur die ganse breedte van die kañedón of vlei. 'n Boer se hart sal bly word, as hy die rykdom van gras en water kan aanskou" (p. 227). Hy is gedurig in die stemming van 'n boer, wat 'n nuwe landstreek opneem om die beste plek vir 'n plaas uit te soek, en ondertussen bereken watter soort boerdery daar die voordeligste sal wees. In 'n handboek [Pg 272] vir emigrante sou sulke aanwysings seker onmisbaar wees, maar die skrywer wou tog iets anders gee. As hy by die glanspunt van sy reis kom, en sy tog oor die mere en deur die oerwoude moet beskryf, is hy 'n opmerksame toeris, wat gedurig syfertjies en berekeninge in sy sakboek opteken. "Die formasie van mere tussen hoë berge is in veel opsigte merkwaardig. Op gesag van Delgado weet ek dat hierdie een 12,000 vt. bokant die oppervlak van die see geleë is" (p. 174). Gevoel vir skoonheid het hy ook, maar wanneer dit tot uiting kom, blyk sy volslae magteloosheid as taalkunstenaar. "Alles skyn omtower in iets onnatuurliks, denkbeeldigs, fantasties!... Nee, geen kunstenaar kan op die doek verewig, wat daar ieder dag afgespeel word nie. Die Skepper wat daardie onbeskryflik heerlike gloed van lig as met 'n towerslag op berg en bos heenwerp ... laat Sig nie naboots nie!... Bokant ons hoofde verskiet bundeltjies agterblywende sonstrale verby.... Dit word aand en die stil maar guur lug voel skerp teen hande en gesig.... Van alles wat mens sien en ondervind, skyn die bloedsomloop vinniger en warmer in sy werk te gaan: geen honger of koue hinder in hierdie towerwêreld nie...."[404] Wie sou nou in só 'n omgewing praatjies verkoop oor honger, kou en bloedsomloop—en nogal teenstrydige praatjies ook! "Majestueuse en reuse-berge, ontsaglike kratermond, onpeilbare diepte, toweragtige effek" ens.—dit is almal holle frases, wat ons gladenal nie kan ontroer nie.

By die beskrywing van die oerwoud kom die sakboekie weer te pas. Die "sirkelvormige bek van die onderaardse blaasbalk ('n krater) moet enorm groot wees ..." (p. 177); ongelukkig kon Dómine hom nie meet nie! Maar die bome is 150 vt. hoog, die uitholling vir die pad 20 vt. diep en die boomstamme lê 15 vt. dik op mekaar gestapel in 'n moerassige plek. "Een boom was 6 vt. dik, as die vet humus van varens en struikgewas wat daaraan kleef, meegereken word". Sulke duimstokbeskrywings kan nou eenmaal geen "onvergetelike [Pg 273] afdruk op die geheue" maak nie. Dit doen Sangiro wel, al meet hy sy bome nie.

Beter slaag Dómine as hy die toestande en gewoontes in Suid-Amerika beskryf. Hier val sy neiging om oor-akkuraat te wees nie so in die oog nie. Ook die ervarings van die trekkers en hul moeilikhede in die vreemde land het hy op lewendige wyse geteken.

VOETNOTAS:

[401] p. 85. Ek kursiveer.

[402] Vgl. o.a. p. 103 vlg.

[403] p. 173.

[404] p. 175. Ek kursiveer.


[Pg 274]

HOOFSTUK X.

Historiese Prosa.

§ 1. Inleiding.

Reeds voor die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners het 'n paar voorstanders van die moedertaal gewerk aan Die Geskiedenis van ons Land, in die Taal van ons Volk.[405] By die verskyning van die boek in 1877 word opgemerk: "Engelse, mar gen Hollanse Geskiedenis van ons land bestaan daar tot nog toe. En dat ons op die Engelse Geskiedenisse nie so mar o'eral kan afgaan nie, sal elke leser wel sien voor hy ons boek uitgelees het." Nog lange jare het dit geduur voordat Theal en Cory dié uitspraak in sy algemeenheid geloënstraf 't, en telkens moet ons historisie nog optree teen 'n uitgebreide laster-kampanje. Preller het op een van die oorsake daarvan gewys in die voorrede by die sewende druk van Piet Retief (1911), waar sprake is van "die gaotiese en primitiewe toestand waarin ons openbare dokumente-versamelinge asnog verkeer.... As die dokumente beskikbaar was ... dan is daar net een geskiedkundige waarheid bestaanbaar; dié naamlik, wat stap vir stap gesteun staan op die oorspronklike stukke."[406] 'n Stelselmatige geskiedverdraaiing wortelende nie alleen in politieke animositeit nie, maar met voorbedagte rade as politieke wapen gebruik—dit is een van die grootste prikkels wat tot historiese studie aangespoor 't. Die navorsingswerk van ywerige historisie met liefde en [Pg 275] groot opoffering gedaan, het 'n felle lig gewerp op ons eeu van onreg. Onder sulke omstandighede is dit verstaanbaar dat naas die besadigd-wetenskaplike weerlegging ook die bitterste verontwaardiging opgelaai het.

Die verhoogde belangstelling in ons vaderlandse geskiedenis is 'n uiting van die groeiende volksbewussyn, want eers wanneer 'n nasie volkome oortuig is van sy eie selfstandigheid ontwaak die begeerte om die helde van die wordingstydperk te eer. Die grootste gedeelte van ons historiese prosa bestaan dan ook uit biografieë. Rondom groot figure soos Piet Retief, President Steyn, Generaal De Wet en ander word die geskiedenis van 'n hele tydperk gegroepeer.

Die historisie wat daartoe bygedra het om die eer van ons nasie te rehabiliteer en aan die volk 'n gevoel van eiewaarde en selfrespek te gee kan reken op die eerbiedige hulde van 'n jonger geslag, wat nog maar gister verlos is van die benoude nagmerrie van hul skooljare. En hul aantal is veel groter dan die wat vir die volgende paragrawe in aanmerking kom. Hier word alleen 'n oorsig gegee van die vernaamste historiese werke in Afrikaans onder die Twede Beweging en 'n ondersoek ingestel na die letterkundige gehalte daarvan, 'n Bespreking van die historiese waarde val buiten die kader van hierdie werk.[407] Dit spreek natuurlik vanself, dat ook die dorste kroniek vir die historikus groot waarde kan hê.

Die herstelling van die Voortrekkerskerk in Pieter-Maritzburg en die inrigting daarvan as museum, die Vroue-monument en tallose ander gedenktekens—dit is maar 'n paar bewyse, dat die Afrikanervolk ontwaak tot 'n besef van die betekenis van sy nasionale verlede. Die oprigting van die Historiese Bond in 1920 met die doel om bronne op te spoor en te versamel, die tiende druk van Preller se Piet Retief in dieselfde jaar is ook tekens in dié rigting, terwyl op die jaarlikse Dingaansvierings die tradiesies van die voorgeslag bestendig word.


'n Nuwe nasie het besit geneem van sy erfporsie en is besig om sy geestelike [Pg 276] onafhankelikheid uit te werk! Die Afrikaanse Bestemming is "wyd en breed soos die Afrikaanse veld."[408]

§ 2. Gustav Schoeman Preller.

Preller is 4 Okt. 1875 gebore op die Plaas Klipdrif, distrik Pretoria. Sy oorgrootvader Preller was wat ons ou mense nou nog 'n "blommesoeker" noem, d.i. natuurkundige. Hy het aan die Kaap gewoon, terwyl die grootvader veeboer geword 't in Natal, waar sy Friese beeste die aandag getrek 't. Komdt. Robert Preller (✝ 1916), die vader van die skrywer het na die Vrystaat verhuis en in die oorlog onder Genl. De la Rey gedien. Hy was getroud met 'n dogter van H. Schoeman (✝ 1890), wat met die Voortrek saamgekom 't en in die tyd van President Pretorius generaal en waarnemende president geword 't.

Gustav Preller se eerste herinneringe gaan terug na 'n plaas in die nabyheid van Standerton, Paardekop, wat destyds aan sy vader behoort 't. Op sy vyfde jaar is hy te perd met sy vader saam na die Swasielandse bosveld. In 1886 is hulle verhuis na Rietspruit, ook in die distrik Standerton. Toe kort daarop hy en sy suster egter moes skoolgaan, het sy vader die skaapboerdery opgegee en dorp toe gegaan, omdat losjies vir die kinders nie te kry was nie. In 1891 gaan die famielie na Pretoria, waar Gustav eers 'n rukkie in 'n Boere-winkel gewerk 't, toe op 'n prokureurskantoor en later in staatsdiens getree 't. Voordat hy egter sover was moes hy verskeie jare hard werk onder private onderwysers en ook daarna het hy sy studie voortgeset. Hy was eerste klerk op die hoofkantoor van mynwese toe die twede vryheidsoorlog uitbreek. Dié stryd het hy meegemaak met die derde battery van die staatsartillerie tot vier maande voor die vrede, toe die hele res van sy afdeling oorrompel en gevangegeneem is. Na sy terugkoms uit Indië was al wat hy besit 't skoon weg. Op versoek van Eugène Marais word hy toe redakteur van [Pg 277] Land en Volk. Voor die oorlog al het hy dikwels artiekels geskryf vir die koerante en tydskrifte—dikwels in Engels!—o.a. in The Moon en De Pers. Vir De Volkstem het hy gedurende enige jare al die mynnuus gelewer en Land en Volk voortgeset tot Maart 1903, toe hy subredakteur van De Volkstem word, 'n pos wat hy vandag nog beklee. Die meeste opstelle en stories wat tussen 1905-'10 in dié krant verskyn 't as feuilletons is van sy hand. Die bekende artiekels getietel: Knop oor Landsake is ook van hom. Hy is lid van die S.A. Akademie, van die Historische Genootschap in Utrecht en die Maatschappij van Nederlandsche Letterkunde. Van hom het verskyn: Laat 't ons toch Ernst Wezen (1905); Piet Retief (1906); Baanbrekers (1915); Kaptein Hindon (1916); Dagboek van Louis Trigardt (1917); Voortrekkermense I en II (1918 en 1920); Generaal Botha (1920). Saam met Dr. Engelenburg het hy ook geskryf: Onze Krijgsofficieren (1903) en De Familie Kruger (1904). Charley's Aunt het hy vertaal, (Piet s'n Tante), Les Héritiers Rabourdin, (Erfgename van Erasmus) en Jock of the Bushveld van Sir Percy Fitzpatrick. Die voortrekkers-rolprent is onder sy leiding opgestel. In 1919 het hy met C.J. Langenhoven geskryf: Twee Geskiedkundige Opstelle. Op sy aandeel in die taalstryd en sy werk as redakteur van Die Brandwag is alreeds gewys.[409]

Sy vernaamste werksaamheid is op geskiedkundig terrein en sy navorsings oor die Voortrekkersperiode veral verseker hom 'n plaas as baanbreker onder die Afrikaanse historisie. "Uit 'n aantal oorspronklike historiese dokumente, in die koerant (De Volkstem, 13 Des. 1905) openbaar gemaak ... is langsaam gegroei" die kloeke boekdeel Piet Retief, waarvan die oplaag in 1920 al veertienduisend eksemplare bereik 't.[410] "Sedert die tyd (1905) het daar ander werke van Preller oor die Voortrek gevolg. Want hy set sy arbeid onvermoeid voort.... Wie op sy studeerkamer kom, sal kan sien die reeks gekatalogiseerde lewens van Voortrekkers, soveel moontlik met die portret of portrette van die [Pg 278] betreffende man of vrou daarby.... Preller leef in, leef vir daardie tyd. Die naspeur en die bekendstel daarvan het langsamerhand sy eintlike lewenstaak geword, sodat ons vandag oor die lengte en breedte van ons land tevergeefs sal soek na die eweknie van Preller as kenner van die Voortrek en sy mense, tot selfs van die kleredrag wat in die tyd gedra is."[411]

'n Hele reeks belangrike dokumente oor die Voortrek het Preller bymekaar gemaak in

Voortrekkermense, I en II, (1918 en 1920).[412]

Daarin kom o.a. voor die herinneringe van Van Gass, J.H. Hatting, L.C. de Klerk, Karl Trichardt, Anna Steenkamp en 'n herdruk van Erasmus Smit se dagboek. Die laaste is oorspronklik uitgegee deur Ds. H.F. Schoon (1896). 'n Groot gedeelte van die gegewens het Preller in sy Piet Retief verwerk. L.C. de Klerk het hy in 1908 "teruggeneem naar die Natalse slagvelde Van die Voortrek, en dáar ter plase opgeskryf wat hy daarvan te vertelle had" (I, p. 211). "Hier had ik een van die Voortrekkers op die eienste grond van die Voortrek; my doel was om, as 't kon, die ander Voortrekkers as mense daar te sien herleef, inplaas van die steriotiepe "itinerant prayer-meeting", waar ander van vertel." (id., p. 212.) Die dokumente stel ons in staat "om die Voortrekkers te leer ken soos hulle hulself gesien het, op die trek, in die laer, op die jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd. Buitendien verskaf 't uitsluitsel oor tal van belangwekkende historiese gebeurtenisse" (id., p. 1). Die krietiese opmerkings van Preller getuig van groot skerpsinnigheid en 'n intieme kennis van die voortrekkerperiode. In die twee dele het hy dokumente van die grootste belang op wetenskaplike wyse uitgegee.

Op dieselfde manier het hy ook (1917) in opdrag van die Akademie uitgegee die

[Pg 279]

Dagboek van Louis Trigardt (1836-8).

"Vir die kennis van ons volk besit ons uit die tyd van die Voortrek geen ander dokument wat hiermee te vergelyke is—die daaglikse aantekeninge van 'n Afrikaner wat die grote, ja grootse in die historie volbring sonder dit nogtans as bewuste doel voorop te stel, maar tevrede is om 't vanself, as dominante gevolg van sy handeling voor 'n dag te laat tree uit 'n kroniek van die kleine" (p. XI). Preller toon verder aan hoe belangrik die Dagboek is "vir ons kennis van die inboorling bevolking van Transvaal, vir verskeie seer merkwaardige historiese uitkomste, vir (ons) aankomende nasionale letterkunde, vir die volkekundige en ons kennis van Suid-Afrikaanse meteorologiese toestande." (XII vlg.). Die belangrikheid van die Dagboek word seker aanmerklik verhoog deur die voortreflike inleiding en note, asook deur die feit dat die teks op 'n wetenskaplike wyse behandel is. Ontroering tril daar in die woorde waarmee die resultate van Trigardt se trek beskryf word: "Die voorste Voortrek is volbring! Dis slegs 'n Verkenning gewees vir die Afrikaner,—van die Vryheid en die See. 'n Verkenning egter, net soos dié van Piet Retief, wat nie vrugteloos is nie.... Hans van Rensburg se ongelukkige trek had tot eind-bestemming die oseaan; en die 49 manne, vroue en kinders wat daar aan die Limpopo-boorde geval het onder die Soeloe-asgaai, was die eerste dúre offer wat die Boere Nasie gebring het aan 'n ingeskape vryheidsdrang. Trigardt se trek en ál die mensewee, wat uit hierdie Dagboek soos 'n seëning oor die nageslag saggies snik, was aangeleg op éen-selfde hoë nasionale Bestemming...." (cxxvi vlg.)

Piet Retief, (1906).

Dit is Preller se hoofwerk, wat hy met jarelange ywer en groot liefde tot stand gebring het. Alles wat van die groot Voortrekker bekend is word meegedeel. Maar uitsluitend biografie is dit allermins. Ons kry 'n volledige beeld van die moeilikhede op die Kaapse grens, die oorsake van die Trek, die onderlinge verhoudings [Pg 280] en geskille tussen die aanvoerders, die internasionale status en grondwettelike instellings van die Trekkers, die moeilikhede van hul togte en hul betrekkinge met die naturelle. Die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot Dingaan se groot verraad word haarfyn uitgepluis en die konklusies van die skrywer se ondersoek op helder wyse uiteengeset en gestaaf. Ook die gebeurtenisse na Retief se moord tot aan die Bloedrivierslag word beskryf en die betekenis van Retief se optrede bepaal.

Dit gaan uiters moeilik om objektief te staan teenoor 'n boek soos Piet Retief, want die tragedie daarin uitgebeeld is op sigself al só roerend in sy dramatiese afwikkeling en só betekenisvol vir die lot van ons nasie, dat selfs 'n uitgedroogde kroniekskrywer sonder 'n vleugie verbeelding nog daarin sou slaag om ons die grootsheid van die worsteling te laat gevoel. Dit het Preller blykbaar ook besef, want hy gee 'n onopgesmukte verhaal, in sober gehoue styl waarin die tragiese gebeurtenisse self tot hul reg kom, sonder dat die aandag afgelei word deur bykomstige woordfraaiigheid. Treffend is dit veral by die hoogtepunt van die verhaal, waar in die beskrywing van die oorrompeling deur die dansende kaffers alleen 'n joernalistieke draaitjie in die styl hinderlik is. In 'n Volkstem-artiekel mag so 'n uitdrukking soos "die welwillende leser" (p. 272, 10de dr.) op sy plek wees—híer seker nie! Nadat die posiesie van die dramatis personae aangegee is, word die dansbeweging mooi beskryf:

"Drieduisend pare voete kom in forse beweging om tyd te hou na 'n wild-eentonige maatsang, wat al naarder en wilder word na gelang Dingaan se improwisasie hul opwinding aanspoor, sodat naderhand die nugtere aarde dril en dreun onder die neergehurkte Boere...." (p. 273). Wanneer Retief protesteer as "die bokspringende rye" teen sy vrinde aanstort in hul lawaaierige dans, vervolg Dingaan sy onheilspellende deuntjie: "Drink, o drink van die bier! Jul brandende kele roep daarom! Drink soveel jul kan; want môre sal jul nie meer drink nie." (p. 274.) Dan klink meteens temidde van die "barbaarse orgie" die fatale sein: "Boelàlánie abatágatie!" Juis deur die sobere eenvoud in die styl, die kalme [Pg 281] weergawe van die historiese besonderhede raak die toneel ons tot in die hart, moet dit ook iemand van 'n ander nasie raak. Saggies huiwer die ontroering in die woorde: "Retief ... troue, moedige Retief, regskape, opregte Afrikaner, siel van die aankomende Afrikaner-nasie!—sy marteling moes die onmenslikste gewees het van almal!... Met knopkieries werd hy afgemaak—laat ons hoop vóórdat Dingaan se laaste bevel aan sy afgebeulde liggaam voltrek was!" (p. 277.)

Hoofstuk XXIX is 'n meesterlike samevatting van Retief se optrede en die betekenis daarvan. Hier kom Preller se forse styl meer tot sy reg, omdat hy geen historiese dokumente hoef aan te voer nie. Met breë blik oorsien hy die hele Trek en met simpatieke aanvoeling van die Boere-standpunt en lewensbeskouing deel hy in helder, logiese redenering sy gevolgtrekkinge mee. "Piet Retief het 'n nasie gestig; of, as dit histories te veel gesê is, het hy ten minste met volkome bewustheid die grondslag gelê waarop 'n nasie ontstaan is. Hy was idealis in nasionale sin—dit is te sê, hy het hom met die Voortrekkers, met sy volk, duidelik voor oë gestel die nastrewing van 'n ideaal, wat insluit 'n onafhanklike ontwikkeling en voortbestaan van dié volk as nasionale eenheid op die wêreld." (p. 345.) Retief het "die Afrikaanse Bestemming in woorde ontwerp—wyd en breed soos die Afrikaanse veld...." (p. 351.) "Hy is die eerste gewees wat die gebore Afrikaner se nasionaliteit in woorde gebring het, toe hy van Suid-Afrika as sy "vaderland" gewaag het; terwyl die meeste ander die land sowel as hulself nog maar beskou het as 'n volslae willose aanhangsel van een of ander Europese ryk." (p. 350.) Hy het "deur sy werk, sowel as deur sy dood, die Hollands-Afrikaanse Emigrant laat begryp ... dat hy nie somar 'n op sigself rondswerwende eenling is nie, maar deel uitmaak van 'n groot volksverband, met een belang en een bestemming." (p. 355.)

Solank daar 'n Afrikaner is "jaloers op sy geskiedenis, jaloers op die waaragtige waarheid daarvan" sal Piet Retief gelees word, want Preller het daarmee 'n duursame monument opgerig van die wordingstydperk van ons nasie. Buitendien het Piet Retief deur sy verskyning in [Pg 282] 1906 'n besonder plaas in ons letterkundige geskiedenis. Saam met Johannes van Wyk, wat in dieselfde jaar in boekvorm verskyn 't is dit die eerste prosawerk van betekenis onder die Twede Beweging.

Kaptein Hindon, (1916).

Dit is die Oorlogsaventure van 'n Baas-Verkenner, "'n getroue weergawe van die middellike dagboek-aantekeninge van die krygsman self." (Voorwoord). Maar groter waarde het Preller se bewerking: "Die toevallige omstandigheid, dat die outeur die grootste gedeelte van dieselfde gebeurtenisse as Hindon—al was 't ook soms op 'n afstand,—meegemaak 't, (is) vanself bevorderlik gewees aan 'n lewendiger opvatting by die beskrywing dan anders die geval kon gewees 't; en ... 'n gevolgelik dieper ingeleefde voorstelling." Hieraan is dit te danke dat Preller se bewerking van die dagboek nie geword 't 'n eentonige relaas van awonture nie, maar 'n lewendige voorstelling van belangrike episodes uit die twede vryheidsoorlog. Daarby verloor hy nooit die historiese verband uit die oog nie, en word al die alleenstaande oorlogsfeite ingeskakel in die groot geheel. So word dit 'n saamhangende verhaal van die gebeurtenisse tussen 1895 en die vrede van Vereniging. Deur 'n handige gebruik van Engelse bronne, soos die outobiografie van Sir William Butler, geluk dit Preller om tallose belangrike historiese feite te staaf en onverdiende laster aan die kaak te stel. Onder ander word die opstokery van die Kaffers op oortuigende manier bewys.

Die tallose heldefeite van Hindon en sy maats word op aanskoulike wyse beskryf. Dit geld ook veral van die veldtog in Natal, wat met groot uitvoerigheid geteken word. Vermaaklik is Hindon se awontuur by die huis van die Middelburgse volksraadslid (p. 291 vlg., 2de druk). Deur talryke anekdotes, wat 'n helder lig werp op die toestande tydens die stryd en die mentaliteit van albei vegtende partye word die beskrywing van die militêre gebeurtenisse op aangename wyse afgewissel.

Hoe mooi Preller daarin slaag om sy veldslag-indrukke te verklank, blyk o.a. uit die volgende: "Die eienaardige dubbele [Pg 283] koe-ka knal van die Engelse lee-metfordgewere, wat mens in die begin duidelik kon onderskei van die dowwe mouser s'n énkele dodelike doef-slaggie, smelt nou saam in éen gelykmatige kraakgeluid, wat soos springmielies in 'n vetpot sing deur die laagte en teruggewerp word van die bergkante af, deurmekaar in 'n sware dreuning, waarin net die kanonne-bas naderhand oorheers. By die skansmuurtjes zip-zip die klein koëltjes teen die klippe, en stukkies fluit vrolik een-kanttoe, of 't skuur met so 'n snaakse sing-sangetje skielik deur die lug oorheen, waarvan mens die dodelike vyandskap eers merk as 't raak is, en 'n man inmekaar sak op die grond, of die fyn blaartjes van die mimosa-boompies hier bokant afspat, op die vilthoede" (p. 58). "Bom na bom breek briesend op hul klipskanse uitmekaar, en bars met brullende giering bôkant hul toegewyde hoofde in nydige moment-blitse oop, om hul inhoud oor die Boere uit te braak, soms vyf, ses tegelyk, wat die kante van die kop omkarn in kokende kraters en 'n onweer van skerwe en rotse opjae." (p. 125).

Baanbrekers, (1915).

Hierdie brosjure, 'n herdruk van Brandwag-artiekels bevat "'n Hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal", waarin die moord van ag-en-twintig persone by Moorddrif in 1854 en die belegering van Makapaansgat deur 'n strafkommando beskryf word. By dié ekspediesie was ook Paul Kruger en besonder interessant is die waagstukke wat van hom meegedeel word. Preller moet weer verskillende verdraaide voorstellings weerleg. "Die dinge is verby, en die laster-kampanje het sy uitwerking gehad. Praktiese, materiële voordeel kan 't nie meer aanbring om 't te weerleg nie. Tog is 't tyd om, terwille van die waarheid alleen, 'n oordeel wat op dié manier gevorm werd teen die Boere-volk, in hersiening te neem, en inplaas van die fantasie-beelde van politieke feuilletoniste, of die sentiments-oorweginge van 'n wekelike altruïsme, die onweerlegbare feite alleen te laat spreek" (p. 33). Met die optekening van so 'n "heroiese insident" het Preller ongetwyfeld nuttige werk gedoen.

[Pg 284] Preller en C.J. Langenhoven het saam uitgegee:

Twee Geskiedkundige Opstelle, (1919).

Eersgenoemde se opstel oor Suid-Afrika s'n Boere-Republieke is 'n bondige opsomming van die vernaamste feite uit ons geskiedenis in die tydperk 1486-1910. In enkele pagina's word daarvan 'n handige oorsig gegee en juis die snelle opeenvolging van die gebeurtenisse laat 'n sterk indruk van ons "eeu van onreg" na.

Langenhoven gee 'n Paar Algemene Oorweginge omtrent Geskiedenis-studie. Met aanskoulike beelde toon hy aan "dat die hele wilde natuurlewe 'n onafgebroke stryd is" (p. 114.) Een van die vernaamste stellings in die betoog is "dat die geskiedenis 'n eindelose ketting is van oorsake en gevolge wat nie plotseling begin en nie plotseling afbreek nie." (p. 130.) Na 'n paar opmerkings oor die kudde-instink word die ontwikkeling van ons volksbewussyn geskets en daarop aangedring, dat geskiedenis-studie meer behoort te wees as 'n ondersoek van "die blote geraamte van uitwendige datums en gebeurtenisse" (p. 143). "In ons vurige idealistiese vaart word ons skielik nugter geskok teen 'n feit van die guurste en nakendste realisme" (p. 147)—ons honderd-duisend arm blanke naamlik. "Dit is 'n baie ernstige siekte-verskynsel. Die geskiedkundige moet die diagnose van die kwaal vind en daaruit moet ons die remedie soek" (p. 154.) Preller beweer daarenteen in sy Eksplanasie: "Die diagnose is egter die werk, nie van die Geskiedenis nie, maar van die Staat. Die geskiedenis word eers daaruit opgebou" (p. XII). Preller wil die statistiese metode van ondersoek op die arm-blankevraagstuk toepas.

Generaal Botha, (1920).

In hierdie brosjure het Gustav S. Preller 'n paar artiekels oor Genl. Botha verenig. Dit is "meer brokstukke van die boustof (vir 'n lewensbeskrywing) as dat 't aanspraak wil maak op 'n afgeronde behandeling." (Voorwoord.) Hy deel dan verder mee dat hy op hom geneem 't "die byeenbrenge van die materiaal vir 'n [Pg 285] uitvoeriger 'lewe' van Suidafrika s'n grootste staatsman". Die brosjure bevat enkele herinneringe van persone wat Genl. Botha intiem geken 't en 'n herdruk van 'n artiekel uit Neerlandia deur Dr. J.H. Kiewiet de Jonge. Daar is meedelings oor die generaal se famielie en kindsdae, oorlogservarings, sy politiek en huislike lewe. In kleine omvang is heel wat interessants bymekaar gebring.


Vir die kennis van Preller se letterkundige opvattings is van belang een en ander uit sy reeks artiekels: Eerstelinge—'n Persoonlike appresiasie van J.H.H. de Waal s'n Roman, Joh. van Wyk. (De Volkstem, 18 Aug. 1906 vlg.). Joh. van Wyk is volgens die artiekel "op s'n best 'n vernuftig inmekaar gewarde verhaal van 'n paar mense met hul haat, afguns en liefde, wat s'n 'boeiendheid' ontleen aan die manier waarop dit inmekaar geset is, aan die ontknoping en aan 'n gemaklike verhaaltrant. Die mens-tragedie daarin blyf klein ... die romantiek is partykeer voos, die stylmiddele gebrekkig, die psychologie hopeloos vals." Tog kon hy die kulturele waarde van die roman insien: "Dis net die ding wat ons nodig het om te leer lees. Al die ander sal later kom." Maar dit is merkwaardig, dat hy van die staanspoor af sy mening sonder doekies omdraai uit, en sy letterkundige oordeel nie deur bykomstige omstandighede laat benewel nie. Eerstelinge open die literêre kritiek van die Twede Beweging op waardige wyse. Onder ons prosaskrywers is daar seker weinig wat al in 1906 so 'n fors, persoonlike styl had. Wie kon toe al iets so raak sê, soos die volgende: "Die klompie afgejakkerde woorde ... wat 'n sukkellewe bymekaar gesweet het ...; Die hele wereld bekyk hul van die hopie waar húl op staan; ómdat húl die hang anderkant die bult nie kan sien nie, is die aarde pannekoek-plat op syn pilare gegrondves." Ook met sy Inleiding tot Jan Celliers in Die Vlakte (1908) het Preller 'n kloek stuk prosa gelewer wat uitmunt deur fris beeldspraak en kragtige geluid.

Vir sy taalgebruik is die volgende van belang: "Dis glad nie nodig om voor wat hul taal-barbarisme noem ... [Pg 286] juis so wild te wees als 'n histeriese jong meisie voor 'n groot miskruier-gogga...." En in sy werk is woorde soos touchant, subiet, marsiale, parafernalië, imminente, violente, skrupules ens. glad nie skaars nie.[413]

Oor dialoogkuns maak hy die volgende juiste aanmerking: "Dialoogkuns ... is in algeval nie die nakende natuurlikheid nie; maar, gepaard aan grondige mensekennis die neerslag van 'n skeppende verbeelding; iedere stenograaf sou 'n mens kon verseker dat jij die grootste onsin van die wereld sou hoor als jij presies moes neerskrijf, woord voor woord, wat daar gesproke word...." Dan leg hy die vinger op 'n tegniese fout, wat vandag nog deur byna àl ons verhaalskrywers gemaak word: "'n Techniese fout wat De Waal nou en dan maak is om telkens self so 'n gemoedelike gesprekkie met sijn lesers te hou, wat totaal nie te pas kom nie." Hy wys ook daarop dat De Waal "Adam Tas als historiese figuur ... geen reg laat wedervaar nie."

Die volgende pleidooi vir fris beeldspraak is vandag nog net so nodig as in 1906: "De Waal sal in sijn latere werke ... 'n groter en 'n warmer liefde (krij) voor sijn woord, voor die afgebeulde, seerrug woord, wat waarlik tog nie meer kan nie. Die sal hij bêre, en alleen gawe, ronde, hele woorde inspan, en mooi agtermekaar, so's 'n span breed-gerugde vaarlandse osse, wat gelijkweg beur om sijn mening te trek en te draag. 'So geseg, so gedaan' ... gaat ons perbeer opvolg, maar als 'n vorm van uitdrukking voor éwig begrawe, en in die uitbeelding van gedagte en gevoel gaan ons altijd soek naar die raakste woorde, en al die verslonste ou plunjes en toiens weggooi.... Gee ons maar 'n kans; ons gaat ons woorde navoel, en wik en weeg iedereen, sodat iedereen naderhand weer inbom, en dreun en gons so's die ko'els van 'n pompom, in plaats van so's 'n uitgewaaide ou stofstorm op ons neer te sak." Word hier nie op tiepies Afrikaanse wyse die denkbeelde van die Tagtigers weergegee nie? Dat Preller dit al aan die begin van die Twede Beweging gesê het, is merkwaardig. [Pg 287] En dat die strewe na 'n persoonlike woordkuns by hom erns was, blyk uit al sy prosawerk. Dit sou seker nie moeilik wees om daarin ook pagina's aan te wys, wat nie meer as goeie joernalistiek is nie, bladsye waarin "die afgebeulde, seerrug woord" nog gemoor word, uitdrukkings met die haastigheid van 'n koerantskrywer neergeklits. Maar meestal klink uit sy prosa op 'n eie stem en telkens verras hy ons deur skoonheid van segging en mooiheid van klank.[414] Omdat by ons nog soveel muwwe, onpersoonlike stylkuns is, so 'n oorvloed van "verslonste ou plunjes en toiens", of anders aanstellerige woordpraal, daarom is dit 'n ware verademing om te luister na die harmoniese deining en wieging, wat Preller se periodes vorentoe stoot. Hy is ten minste iemand, wat nie sommer die eerste die beste frases wat in sy gedagte opkom afskryf nie; sy sinne maak nie die indruk van "so gemaak en so gelaat staan" nie; hy hoor nog die taalklanke, deurvoel die nog in hul volle betekenis.

Dat Preller historiese gegewens ook kan omwerk tot 'n aangrypende verhaal, daarvan het hy die bewys gelewer in Moedersmart.[415] Op treffend-realistiese wyse word daarin uitgebeeld die foltering van 'n moeder, wat die sterwensgeroep van een kind moet veronagsaam om 'n ander gesonde uit die hande van die kaffers te red. In sy historiese werk word die moordlustige bedrywe van die kaffers op saaklike wyse meegedeel, maar hier is dit deur plastiese tekening tot 'n roerende tragedie gegroei.

Oor Preller se taalgebruik hoef na die genoemde bespreking van Dr. E.C. Pienaar nie uitgewei te word nie. Op enkele minder mooie uitdrukkings kan hier nog gewys word: "In die tyd het hy en hy alleen in breë en diepe trekke in die kinders van Suidafrika uitgehou die wye omvang van 'n selfstandige Afrikaner-nasie" (P. R. p. 350); "Die werke van dié manne ... wat verminder aan die nasionale onbewustheid ... (id. p. 347); "sodat honderde gesinne ... van gebrek sou moes krepeer" [Pg 288] (id. p. 300); "Die Nylstroom ... wat hier breed is en ruig bewas met bos en riet; twee stamme ... van die oorspronklike ras afgespring (Baanbrekers, p. 9, 12); "g'n kopere bendes om begeestering van buite in of uit te blaas nie" (K. Hindon, p. 31); "dan kan jy enige tyd jou weg uitkry" (id. p. 293); "In die verdere loop van dieselfde gesprek sê hy te glo, dat...." (id. p. 317); "Weinig wonder, dat baie van hulle die voorkeur daaraan gegee het...." (Trigardt, LXXIII); "die welsprekende wond in sy hofie" (Moedersmart).

§ 3. J.H. Malan.[416]

Boer en Barbaar, (1913).

By die twede druk in 1918 het Malan sy werk in omvang byna verdubbel. Hy gee "die geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-'40 en verder van die kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het," soos die ondertietel lui. Dit is "volgens sy beskeiden mening, ('n) volledige geskiedenis van die eerste Voortrekkers tydperk" (p. IX).[417]

Malan begint met Slagtersnek, bespreek die oorsake van die Groot Trek breedvoerig, asook die kafferoorloë van dié tydperk. Hoofstuk V bevat 'n kultuur-historiese beskouing, waarin uitvoerige meedelings oor vee- en wynboerdery voorkom en 'n beskrywing van die huislike lewe van die Afrikaner tydens die Trek. Dan volg 'n oorsig van die eerste trekke onder Trigardt en Van Rensburg, en 'n breedvoerige verhandeling oor die verhoudings, oorloë en swerftogte van die talryke kafferstamme, asook die betrekkinge van die emigrante met hulle. Groot aandag word ook gewy aan die optrede van die Engelse en Amerikaanse sendelinge. Vervolgens kry ons 'n breedopgesette geskiedenis van al die ander trekke, die opkoms en ondergang van die Soeloenasie, die eerste Engelse kolonie in Natal, die moord van [Pg 289] Retief met die daarop volgende moorde en veldtogte en die vestiging van die Boere-republiek in Natal. As aanhangsel volg nog 'n verhandeling oor die argitektuur in die westelike provinsie.

Sedert 1901 is Malan besig met sy ywerige navorsingswerk en die groot aantal bronne deur hom ondersoek getuig van 'n onvermoeide vlyt en 'n hartstogtelike speursin. Hy het dan ook heelwat interessants en belangriks opgediep uit die voortrekkersperiode. Maar tot die historisie wat die uitkomste van hul ondersoek in skone vorm weet om te werk behoort Malan nie. Sy styl mis artistieke kwaliteit en die gawe om op helder, logiese wyse die gang van 'n groot beweging te teken, ontbreek by hom maar al te dikwels. Die beeldende fantasie, wat al die tallose feite en besonderheidjies moet orden en rangskik, sodat dit tot 'n grootse tafereel vergroei, die besielende asem wat die stof van die ou foliante wegblaas en die vergete helde in lewende lywe voor ons laat staan—die besit Malan slegs in geringe maat. Dit help nou eenmaal nie om net te praat van "die hartroerendste episodes" (p. 286), "onuitwisbare tonele" (p. 299), "hartdoorborende reise" (p. 301), "ontsettende toestande", "verbryselde manne" (p. 302), want dit is tog maar niksseggende woorde, só banaal, dat dit ons alleen hinder. As die toneel dan werklik "onuitwisbaar" is, teken dit dan in al sy kleure en geure, in al sy roerende droefheid, met al sy tragiese nasleep, sodat ook óns daar iets van kan voel. Toon ons die ding self, moenie net daaroor praat nie. Want Malan wil meer gee as 'n gekatalogiseerde feiteversameling of 'n wetenskaplike verhandeling. Hy raak telkens aan die moraliseer en wys op die deugde van die voortrekkers, wat dan met die teenswoordige sedebederf gekontrasteer word. (o.a. p. 317-8). Die geskiedenis is vir hom "die leermeesteres des lewens" (p. 396). As die nageslag "afdwaal van die eienskappe van welvoeglikheid, statige fatsoenlikheid, ysterklip karakter en godsvrug van ons wegbaners", dan raak hy op die pad wat lei "tot ondergang en vernietiging".

Malan probeer ook om deur te dring tot die gevoelslewe van die trekkers. Hy laat vir 'n paar bladsye die [Pg 290] kroniekstyl met al sy feite en syfers staan en beskryf "die laaste aand" in die ou Kaapse woning (p. 136 vlg.).[418] Hier sê hy nie: "Niemand kan sig inbeel, welke tonele deur die brein van elkeen ... gevlieg het" (p. 285); hy is nie meer 'n blote toeskouer op 'n distansie van 'n "onuitwisbare toneel" nie, maar die trekker self wat afskeid neem. Omdat hy die geval werklik deurleef het in sy eie gemoed, daarom hoor ons ook die ontroering in sy woorde, al stuit ons taalgevoel telkens op wanklanke en al verdwyn die weemoedige stemming geheel en al deur so 'n potsierlike beeld: 'n Maanstraaltjie is "'n teken van die Ewigheid, sag, op wolle slippers wadend oor die menslike stipjes...."! (p. 140). Daar is nog tallose voorbeelde van viesie-verknoeiing, o.a.: "'n hartebranding, wat onuitspreeklik was" (p. 275); "snoewende woordegloed" (p. 398); "Shaka rol die golwe van kaffers oor die Drakens Berre soos 'n grote bosbrand" (p. 156); ens.; ook onbeholpe uitdrukkings soos: "'n diepheuse buiging" (p. 123); "geen Britse leërmag met hulle destyds verwaande Europees-Waterloo militêre geflikker.... (p. 348); hy "was bestemd, om die finale verwoesting van Dingaan se kolossale mag ... te help vernietig (p. 381); die gevolg was 'n sieklike jammerte ... wat as 'n hitte stroom deur Europa gestroom het...." ens. (p. 49); "hy had egter intussen 'n groot verlies van bloed wat die mensliewende, dappere Afrikaner in 'n floute skok (p. 310). Die onbeholpenheid bereik sy toppunt in onleesbare sinne: "Piet Retief was seker een van die merkwaardigste leiers onder die voortrekkers gewees en besonder bekwaam en—lankmoedig sowel as takvol om oor die grootste swakhede, veral in die begin, onder die emigrante: 'n volslae gebrek aan disipline, sug naar eer en 'n possie bekwaam of onbekwaam, te kom." (p. 186.) "Stuart vertel, dat die weduwee van P. Retief, wat 'n nooi de Wet was, en na eers met Jan Greijling gehuud te wees, na sy dood met P. Retief in 1814 was getroud, en dat hy in 'n huis aan die Mooi Rivier die veldfles van Piet Retief aan die muur het sien hang, synde in die [Pg 291] huis van die heer H.S. Lombaard en daarop was die simbole van vrymetselary te sien" (p. 289). Sulke voorbeelde van 'n verwronge, hopeloos verwarde sinsbou staan by klompies op byna iedere bladsy. Skoonheid uit letterkundige oogpunt hoef ons seker nie te soek in 'n boek waar die argitektuur van die sinne so 'n gaotiese warboel is nie—'n ordelose hoop klippe van alle moontlike soorte,—agteloos op mekaar gesmyt, sonder vaste plan, sonder sierlike lyne. Watter fyngevoelige leser sal nie struikel oor sinne soos die volgende nie: "Ek het dadelik enige poorte van die laer laat opemaak, skryf hy op die 23ste Des., 1838 naar Kaapstad en verskyn in die Zuid-Afrikaan...." (p. 349); "Hulle noem die raad deur 'enige persone' te syn gekies." (p. 202); "Op die 28ste Jan., 1837 was ... die Kommando terug, sonder een enkele man, behalwe vier van Moroko se Barolongs gesneuwel, verlore te hê." (p. 186); "toe Paul Kruger hem die hand in sy stoel gesete en waarom sy kinders en kindskinders geskaard was, druk, ..." (p. 147).

Dan is daar nog staaltjies van mislukte hoogdrawendheid soos: "Die Mayflower kwaker pelgrimvaders is nou verander in 'n weelde baaiende, onsindelikheid en bedrog...." ens. (p. 133).

Die taalkundige sal ongetwyfeld 'n paar wavragte onkruid in Malan se akker kan oplaai. Hier kan alleen gewys word op die storende inwersie van onderwerp en gesegde wat dwarsdeur die boek voorkom, om van ander foute in die sinstelling en onafrikaanse wendings nie eers te praat nie. Tot die anglisismes behoort o.a.: "'n warme tyd" (p. 30); "die Londen Sending Genootskap" (p. 35); "China skoteltje" (p. 132); "Wat die opvolging van Shaka betref, het Mbopa vir Mahlangana vals gespeel" (p. 235).

Wat ook al die streng-historiese waarde van Boer en Barbaar mag wees, dít staat in elk geval vas: deur sy gebrekkige styl en taal is die letterkundige waarde daarvan gering. Laat ons hoop dat die boek van Malan, wat met soveel toewyding gewerk 't en daarby gewillig was "to scorn delights, and live laborious days" vir die historikus groter waarde het. Deur die belangstellende leek sal dit meer geraadpleeg as gelees word.

[Pg 292]

§ 4. Dr. S.P.E. Boshoff.

Stephanus Petrus Erasmus Boshoff is in 1891 gebore op Vaalbank, distrik Senekal. Eers het hy in die Boland skool gegaan en later na die Grey Kollege gekom. Na sy M.A. eksamen in 1912 het hy aan die Uniwersiteit van Amsterdam in die Nuwe Lettere gestudeer. Met die uitbreek van die oorlog het hy na Suid-Afrika teruggekeer en daar deelgeneem aan die rebellie. Sy ondervindinge op kommando en in die tronk het hy beskryf in Vaalrivier, die Broederstroom (1916)[419] en Rebellie-Sketse (1918).

Na die troebele is hy aangestel as professor aan die Potchefstroomse Uniwersiteitskollege. In 1921 het hy sy studie in Amsterdam voltooi en cum laude gepromoveer tot doktor in die Nederlandse Taal en Lettere op 'n dissertasie: Volk en Taal van Suid-Afrika.

Hy sê self "dat hy hom nog nie en miskien nooit sal reken tot die Afrikaanse skrywers nie. Wat hy doen is maar houthakkers- en waterputterswerk vir ons ontluikende letterkunde" (Die Brandwag, Des. 1918). Hy is in die eerste plaas dan ook filoloog, en sy dissertasie is 'n monumentale werk, die vrug van jarelange arbeid. Ook uit bowegenoemde sketse blyk sy voorliefde vir taalkundige waarneming. In samewerking met L.J. du Plessis het hy ook uitgegee twee deeltjies Afrikaanse Volksliedjies, 'n versameling van piekniek- en minne-rympies. Die inleiding getuig van onvermoeide nasporingsywer op die gebied van folklore. Meer as een fyn liedjie, wat in een of ander uithoek van ons land lê en roes, sal deur die bundels algemeen bekend word.

Van Boshoff het verder nog verskyn 'n toneelstuk Jannies, Johnnies en Jantjies en 'n gewysigde bewerking van Ds. S.J. du Toit se Magrieta Prinsloo. Hy is onlangs tot lid van die Leidsche Maatschappij benoem.

Vaalrivier, die Broederstroom en Rebellie-Sketse.

Vaalrivier behandel veral die laaste dae van Generaal C.F. Beyers, terwyl Rebellie-Sketse uit my Dagboek 1914-1915 [Pg 293] verskillende gevegte en ook die tronklewe beskryf. Dit is feitlik alles persoonlike ervarings, wat die skrywer meedeel en hy doen dit op 'n aangename verteltoon, in 'n goed versorgde styl. Hy het daar mooi in geslaag om die taamlik eentonige militêre en topografiese meedelings af te wissel met lewendige dialoog, waardeur ons 'n goeie kyk kry op die stemming onder die burgers. Veral die beskrywing van die tronklewe munt uit deur aanskoulikheid en raak humor. Mooi staaltjies van boerekwinkslae word ook gegee en o.a. die knaende rooklus goed uitgebeeld. Daar is burgers wat selfs van die dominee twak kry "want die predikante was prakties en hul roltwak was gewoonlik langer as hul predikasies" (R. S. p. 132). "Na die preek kon 'n mens dan ook gewoonlik 'n gelukkige roker hier en daar onder die skare onderskei aan die blou rookwolkies om hom heen, en aan die streep minder gelukkige broeders, wat agter hom aanstryk om tog maar net die ruik van die rook te kry." (t.a.p., p. 133.) Daar is meer sulke voorbeelde van goeie waarneming, wat getuig van intieme kennis van die boere-mentaliteit. Die rake slag, waarmee sommige persone uitgebeeld word is 'n aanduiding, dat die skrywer ook op die gebied van die roman sukses sou hê.

Die styl word gekenmerk deur 'n besonder voorliefde vir alliterasie, waarvan reeds die eerste sin van Vaalrivier 'n voorbeeld is. In die beeldspraak verras meer as een oorspronklike wending, b.v. "'n eensame en blykbaar verlate woonhuis ... waarby 'n lang en nog eensamer ou bloekomboom half staan en slaap, nes 'n reier op sy een been langs die vlei" (Vaalrivier p. 92). 'n Paar maal word die as relatief gebruik o.a. "Genl. Maritz, die hy in daardie geval...." (R. S. p. 5). Telkens kom vyandige i.p.v. vyandelike voor, b.v. "vyandige perderuiters" (Vaalrivier p. 55). Die anglisisme op p. 36 "die Jingoes (het) my 'n vreeslike lewe gelei" moet seker op rekening van die spreker gestel word. Die bewering, dat kuns "'n lukseartiekel" is (R. S. p. 122) moet blykens die verband nie au sérieux geneem word nie. 'n Voetnoot, soos die eerste op p. 24 (Vaalrivier) kan gerus weggelaat word.

[Pg 294]

§5. J.A. Smith.

Johannes Anthonie Smith is gebore op Grootfontein, distrik Aberdeen in 1886. In sy jeug het hy Ons Kleijntji gelees en vir Afrikaans geywer. Toe hy byna vyftien jaar was het hy weggeloop na die Boere-kommandos en tot die vrede geveg. Aan die Hoëre Skool in Stellenbosch het hy sy studie voortgeset en daarna gaan boer. Die groot droogte van 1915 het aanleiding gegee tot die keuse van 'n joernalistieke loopbaan. Eers was hy tydelik werksaam by De Nieuwe Tyd, 'n Aberdeense krant en later redakteur van Het Westen. Sedert 1917 is hy redakteur en bestuurder van Onse Courant, Graaff-Reinet. Dit is die eerste krant wat in die Kaapprovinsie oorgeslaan het in Afrikaans. Smith het daarin en ook andersins aktief opgetree in die stryd om Afrikaans as voertaal erken te kry. Die gevolg was die invoering van die Afrikaanse medium in die Hoëre Skool op Graaff-Reinet. Hy versamel tans gegewens oor die mense en toestande in dié distrik vóór die Groot Trek, en werk aan 'n brosjure oor die teregstelling van Komdt. Scheepers. Van hom het verskyn: Brit en Boer, van Slagtersnek tot Jopie Fourie (1917) en Naar Bloedrivier en Paardekraal (1918)[420].

Brit en Boer.

Die skrywer gee 'n kort oorsig van die historiese gebeurtenisse van 1814 tot 1915. "By ons volk is 'n groot behoefte aan 'n kort, duidelik, onpartydig en in Afrikaans geskrywe historieboek...." verklaar hy in sy voorwoord. Deur gebrek aan 'n lewendige, persoonlike styl het dit egter alleen 'n versameling van feite geword. As voorbeeld van die dikwels gebrekkige styl en kanselagtige beeldspraak kan die volgende dien: "Hier werd Afrikaanse lewens ontneem deur die Engelse, vir die eerste maal en werd later nog weer herhaal.... Die diepe wond is nooit geen balsem toegedien, maar steeds meer nuwe wonde in die boesem van die diepgeteisterde volk [Pg 295] geslaan." (p. 21.) Vorme, soos die volgende laat mens twyfel of die boek wel in Afrikaans geskryf is: "Op s'n treurigs (p. 22); Retief en de syne (p. 39); Die Regering ... het moe geword ... en dag dit best.... (p. 64). Na veel moeite kreeg men die inwoners so ver.... (p. 66); Goud werd gevonden" (p. 82) ens. Dan krioel dit nog van taalkundige rariteite o.a. kalmtjes (p. 110); Men sal herinner (p. 77); Southey het lang reeds in sy verstand gehad ... (p. 81) ('n Anglisisme); sy bedriegelik invloed (p. 85); vermompte despotisme (p. 96); Mettertyd het die uitlander populasie, die op sigself nie 'n presiese dreigende gevaar was ... (p. 107); die ver-engelsen van die hele aardbol" (p. 108) ens. As die dubbele negatief reg gebruik word is dit 'n uitsondering.

Naar Bloedrivier en Paardekraal.

Op eenvoudige wyse gee die skrywer 'n beknopte oorsig van die gebeurtenisse, wat in verband staan met Bloedrivier en Paardekraal, volgens sy beskouing "'n onuitputtelike bron van sede- en nasionale lesse" (p. 11). Hy wou 'n werk lewer "wat vir die opkomende geslag onmisbaar moet wees in verband met die hedendaagse Dingaanfees." Of die onmisbaarheid van lange duur sal wees val te betwyfel, omdat die styl, ofskoon beter versorg dan in Brit en Boer so weinig artistiek en dikwels onbeholpe is. "Na hierdie aanval is die laers in vier groot laers verdeel en teruggeset en het onder die bevel van Maritz ... gestaan" (p. 41). Daar is meer sulke voorbeelde. Die dubbele negatief ontbreek nog telkens en uitdrukkings soos "skatte-buiters (p. 59), verpeins (p. 82); 'n bewering te maak uit denkbeeldige inisiatiewe" (p. 70) is 'n aanduiding van gebrekkige taalbeheersing.

Nadruk word veral gelê op die verband tussen Bloedrivier en Paardekraal: "As 'n mens Dingaansdag kan of mag vier, dan kan en moet 'n mens die herstelling van die onafhanklikheid in 1880 ook vier. Albei jaartalle het dieselfde betekenis vir die volk." (p. 93.)

[Pg 296]

§ 6. Dr. J.D. du Toit (Totius).[421]

Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, (1917).

"Een omstandigheid moet by die lees veral nie vergeet word nie. Ds. du Toit was 'n Ismaël: sy hand was teen almal, en almal se hand was teen hom.... By die beskrywing van sy lewenstaak was dus wysheid en tak 'n hoofvereiste, en die skrywer wil hier die opregte versekering gee, dat hy sy uiterste bes gedoen het om by oue gevoelighede verby te skram en om oue wonde nie seer te maak nie. Vandaar dat deurgaans geen kritiek geoefen en geen beoordeling van persone en gebeurtenisse gegee word nie. Die dag daarvoor sal wel later aanbreek. Die skrywer wou volstaan met die blote meedeling van feite (soveel molik in sitaat)...." (Voorwoord). Met dié woorde het Totius sy werk goed gekarakteriseer. Dit is 'n feiteversameling van die grootste belang oor "'n periode van Afrikaanse oplewing", soos die ondertietel lui. Die rangskikking van die feite, die ordening van sy biografiese materiaal het Totius met talent gedaan. Van alle oorde het hy met groot vlyt en nasporingsywer sy boustowwe bymekaar gemaak. Netjies opgepak lê die stene in afsonderlike stapels. Die fondament is ook al gelê en daarop moet die boumeester nou vir ons 'n sierlike skepping van monumentale skoonheid oprig. Dit is 'n taak waarvoor die digterlike seun van 'n groot vader allesins berekend is. Maar hy deel ons mee: "Die dag daarvoor sal wel later aanbreek". Die redene wat Totius voorlopig van 'n interpretasie van sy feite laat afsien het, moet ongetwyfeld gebillik word, as ons onthou, dat sy vader se hand "teen almal was, en almal se hand teen hom". Addison het in 1716 al verklaar: "The truth of it is, as the lives of great men cannot be written with any tolerable degree of elegance or exactness within a short space after their decease; so neither is it fit that the history of a person [Pg 297] who has acted among us in a public character, should appear, until envy and friendship are laid asleep, and the prejudice both of his antagonists and adherents be, in some degree, softened and subdued."[422] Maar die opmerking van Samuel Johnson is nie minder juis nie: "If a life be delayed till interest and envy are at an end, we may hope for impartiality, but must expect little intelligence; for the incidents which give excellence to biography are of a volatile and evanescent kind, such as soon escape the memory, and are transmitted by tradition."[423] Dit is juis dié soort insidente wat Totius, blykbaar met opset verwaarloos het. "Die skrywer van hierdie reëls was toe maar vyf jaar oud. Tog styg daar nog verskeie witte wolkies van skerpe herinnering op bo die wegduisterende gesigseinder van kinderverlee. Die skrywer sal daarmee die leser nie te veel lastig wees nie." (p. 243). Doodjammer, want deur die verswyging van sy persoonlike herinneringe ontbreek daar lewenswarmte aan die biografie. Die beeld van sy vader is groot en imposant, maar daar is weinig lewe in. Soos 'n reusagtige silhoeët staan dit teen 'n agtergrond van die bontste verskeidenheid. Maar Ds. Du Toit se pelgrimsreis van die wieg tot aan die graf, sy titaniese worsteling met die lewe, die dramatiese afwikkeling van dié geweldige stryd, die diepe kneusing van 'n groot siel wat van smaad en hoon meer as sy volle deel gehad 't—daarvan val alleen 'n dowwe flikkerlig op die beeld. En die indruk kom Totius self bevestig: "Van Ds. du Toit se inwendige lewe weet ons nie veel nie" (p. 248).[424] "Ons het tot dusver veel gesê van Ds. du Toit se werk en weinig laat deurstraal aangaande sy persoon. So hoort dit, want dis ons in die eerste plaas te doen om die grote werk wat Ds. du Toit verrig het. Maar daarom mag 'n beskrywing van sy persoon nie agterwege bly nie" (p. 378). Die "persoonsbeskrywing" (Hoofstuk XVII) [Pg 298] bring ons egter nie veel verder nie. Dit bly aan die buitekant; ons mis daarin die vermoë om deur te dring tot die innerlike psiege. Dit kan ons al weer met die skrywer se eie woorde bewys: "Nou oorgaande tot die beskrywing van Ds. du Toit se meer inwendige lewe, natuurlik soos dit sig naar buite geopbenbaar het (want "wie weet wat in de mens is dan de geest des mensen die in hem is?") sal ons eers bespreek sy emosionele lewe." (p. 381).[425] En hier wou Totius tog meer wees as 'n feiteversamelaar, hier wou hy ons iets van die persoonlikheid van sy vader laat voel. "The biographer must be more than the mere realist who can photograph facts—he must be something of the idealist as well, for he has to create as well as to reproduce: and we value a biography exactly in proportion as its author has succeeded in creating for us the character of a new man or woman to be added to our own personal acquaintance."[426] Nou lyk dit vir my of Totius met die metode wat hy volg, soiets nie kán bereik nie. Hy verklaar: "Nou gaan ons oor tot 'n beskrywing van Ds. du Toit se verstand en wil. Vanself hoef dit nie so uitvoerig te wees nie. Sy ganse lewe en werk deur ons beskrewe lê getuigenis af van die grootte van sy verstand en die krag van sy wil." (p. 396). Dit mag nou wel waar wees, maar so 'n bewering help ons geen druppel om die persoonlikheid van 'n mens te begryp nie. En buitendien, het ons nie die reg om van die biograaf 'n artistieke sintese, 'n psigologiese interpretasie te verwag nie? Ons is nie tevrede met hier 'n raps en daar 'n raps nie, ons wil 'n volledige beeld hê. Die skrywer vervolg: "Ook moet hier die opmerking gemaak word dat dit ons nie te doen is om 'n strenge groepering van die sielsfunksies nie. Ons het 'n skema gemaak wat prakties aanwendbaar is. Bowedien is die siel van 'n mens 'n eenheid, wat sig nie uit mekaar laat kerf nie. Op die feit wys veral die nuwere sielkunde. Vandaar dat ons reeds die verstand en wil laat inwerk het op sommige van die beskrewe emosies of gemoedsaandoeninge." (p. 397.) [Pg 299] Almal netjies beredeneerd, maar hier help al die skemas en tabelletjies van die hele wêreld jou totaal niks! Die biograaf staan voor dieselfde probleem as die romanskrywer: Hoe moet ek die mens laat lewe? En as hy dié groot wonder reg kry, dan is dit nie omdat hy 'n knap psigoloog is nie, goed op die hoogte van die allerlaaste emosionele formulae, maar enkel en alleen omdat hy kunstenaar is. Hoe die wonder geskied weet hy miskien self nie, en ons kan dit alleen by benadering uitrafel; maar as ons sy boek gelees het, dan is daar nog 'n man of vrou toegevoeg by die getal van ons intieme vriende. En in die sielkundige skema van Totius mis ek die warme intimiteit; ek ken sy vader na meer as 450 bladsye nog nie so goed as my eie vader of een van my vriende nie. Die "witte wolkies" van sy herinnering, die moes hy nie laat wegwaai het nie!

Beskou ons Totius se biografie nou alleen as feiteversameling, dan is dit inderdaad 'n handige kompilasiewerk, wat onmisbaar is vir die kennis van ons letterkunde en geskiedenis. Hy het die outobiografie, briewe en sitate op bekwame wyse inmekaar gevleg, sodat iedereen na bestudering van die bewysstukke sy eie oordeel kan vorm. Daarmee het hy seker bereik, wat hy Kuyper op die tietelblad laat sê: "Niet vergeten van onze doden is niet genoeg. Er kan zo dikwels veel ook voor onze doden nog gedaan worden. Om hun eer en goede naam te verdedigen tegenover miskenning en laster.... Bitterheden weg te nemen, die als onkruid tussen hen en hun omgeving waren opgeschoten...." Hy het as onpartydige historikus sy vader sy eie saak laat voordra, hom uit sy werke, self tot ons laat spreek; nou moet hy nog as seun sy vader vir ons uitbeeld met al die warmte van 'n liefdevolle kinderhart. Die voorwoord laat ons hoop, dat "die dag daarvoor wel later (sal) aanbreek." Vir ons letterkunde kan dit 'n blye dag word!

Die biografie bevat besonderhede oor Du Toit se jeug, sy werk as predikant van die gemeente Noorder-Pêrel, sy stryd vir die beginsel van Christelik Nasionale Onderwys. Die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, Die Patriot en ander blaaie word uitvoerig bespreek, asook die stryd vir die Afrikaanse taal. Duidelik [Pg 300] blyk hoe groot die invloed van Ds. S.J. du Toit sedert 1875 was, en van hoeveel bewegings hy die eintlike vader kan genoem word. Die oprigting van die Afrikaner Bond, die oplewing in die Kaap-Kolonie en die aandeel van Die Patriot in die Transvaalse Vryheidsoorlog is ook breedvoerig uitgewerk. Uit die belangrike sitate kan ons 'n helder beeld van die kulturele lewe van dié tyd saamstel. Ds. Du Toit se werk as Superintendent van Onderwys en polietikus in die Transvaal, sy Bybelvertaling en reise word ook behandel. Dan volg sitate oor sy houding tydens en na die Jameson-inval. Die verklaring van Adv. J.H.H. de Waal, soos aangehaal op bladsy 2 word deur Ds. Du Toit se eie woorde bevestig: "Die houding deur my in Patriot en Getuige ingeneem teenoor die Transvaal-regering van die laaste tyd was egter nie populêr in die Kolonie nie, veral sedert die Jameson-inval. Dit het gemaak dat die blaaie agteruit gegaan het." (p. 313.) Oor Du Toit se stryd teen sektes en kettery word ook meedelings gedaan. Met 'n beskrywing van sy persoon en laaste dae sluit die boek, waarin ook nog enige gedigte van hom afgedruk is.

Van Du Toit se veelsydige bekwaamheid, sy onvermoeide ywer vir godsdiens, taal en nasie is op byna iedere bladsy bewyse te vind. Sy lewensbeskrywing is meteen ook die geskiedenis van die ontwaking van die Afrikaner bewussyn en sy aandeel daarin was ongetwyfeld belangrik.

Of ons die deur moet oopset vir woorde soos die volgende, is twyfelagtig: leaders (o.a. p. 41); waiter (p. 283); debater (p. 350); smoking-cap (p. 379), wasies (p. 380).

§ 7. Ds. W. Postma (1874-1921), (Dr. O'kulis).

Doppers (1918).

Dr. O'kulis verklaar in sy inleiding: "Ik het die egte ou Doppers nog goed geken en hulle opregte nasate leef ik nog mee saam, sodat ik meen in staat te wees om enigsins 'n suiwere portret te skilder van 'n eienaardige groep van ons volk...." Hy het 'n ruim opvatting van die woord Dopper. "Al die Doppers (is) [Pg 301] nie in die Dopperkerk nie, en ... nie alle lidmate van die Gereformeerde Kerk van S.A. (is) egte Doppers nie." (p. 8.) "Ons profeteer dan ook beslis ... dat ons volk altyd meer terug sal draai naar die Backveld, al meer Dopper sal worde, naarmate ons nasionale selfbewustheid ontwaak en ontwikkel" (p. 15). Op kernagtige wyse word die hele lewensbeskouing van die Dopper uiteengeset en alles wat daarmee in stryd is afgekeur. Die oorsprong van die Doppers, hul isolement, godsdiens en beskawing word geskets en hul beginsels met warmte verdedig. Ten slotte word daar 'n staanplek gevra vir die Dopper in die Afrikaanse samelewing: "Ons vra geen guns, geen medelyde, geen beloning, geen verering nie. Ons vra net staanplek in die Boer-geledere om saam te werk en saam te stry vir die heilige pand ons saam toevertrou" (p. 116). In die bylae volg die opienies van ander skrywers oor die Doppers.

Die grootste gedeelte van die boek is van godsdienstige aard en kan buiten beskouing bly. Dat ons hier egter te doen het "met 'n faktor, wat geweldig invloed uitgeoefen het op die kultuurlewe van ons volk" (p. 71) is ongetwyfeld waar, en Dr. O'kulis se pleidooi vir die Doppers is 'n belangrike bydrae op kultuur-historiese gebied. Daaruit kan ons die Dopper se standpunt teenoor die wetenskap, die kuns, opvoeding, sport, ens. leer ken. Die skrywer het 'n persoonlike kyk op al die probleme van ons tyd, al is sy behandeling daarvan dan ook dikwels sketsagtig. Kapitalisme en sosialisme kan seker nie met so 'n paar sinnetjies soos die volgende afgemaak word nie: "Geen van bei ken soiets as 'n lewens- of nasionale ideaal nie—hulle klim nooit hoër op as hulleself nie. Daar is niks verhewens of opheffends in hierdie rigtings nie—dit is net:—"Laat ons eet en drink en vrolik wees, want more sterf ons." Ook die definiesie van modernisme is vaag en misleidend, (p. 65.)

Die Boervrou, (1918).

Die Boervrou, "Moeder van haar Volk" is saamgestel op versoek van die Nasionale Helpmekaar- en Kultuur-Vereniging, Reddersburg. Die skrywer verklaar: "Dis [Pg 302] my doel om die lewe en dade van die Boervrou in die geskiedenis op te spoor en voor te stel op eenvoudige en heldere wyse." (Voorwoord).[427] Hy wil probeer om self "so min molik te sê en soveel molik getuienis van vreemdelinge (ook vyandige), wat die mense geken het invoer." (p. 20.) In hoofsaak is dit dan ook 'n kompilasiewerk, waarin veral die periode van die Groot Trek en daarna uitvoerig behandel word. Onder ander word die gedenkskrif van Anna Stenecamp afgedruk en 'n paar krante-artiekels oor Maria Koopmans-de Wet. Daar is nog naklanke van die Eselskakebeen: "Ongelukkig dat ons altyd op skool nog moet ly aan die verouderde Engels-Turkse stelsel van afgryslike geestesmoord." (p. 104.) "Dis nodig om die wissels van die spoor van ons Vaderlandse Geskiedenis eers reg te sit vir ons, wat op skool deur Cape History en Jingo-laster so hopeloos verknoei is...." (p. 44.)

"Die godsdienssin van die Boervrou is die sleutel van haar hele geskiedenis; die wat dit nie vooropstel, en gedurig voor oë hou nie, kan haar nie begryp, haar portret nie skilder nie" (p. 66). Godsdienstige beskouings neem dan ook 'n groot plaas in, en telkens word 'n klein prekie ingelas (o.a. p. 160, 179). Die streng-Kalvinistiese lewensbeskouing van die skrywer laat hom dikwels teen allerlei maatskaplike euwels te velde trek, teen "die sonde van kinderbeperking" (p. 157), die vrouestemreg en allerlei vreemde sedes. "Hoe geleerd en ontwikkel ons ook al word, laat ons Boer bly. Praat van beskaaf—wel ik het nergens hoër, fyner beskawing gesien as by ons egte kristen Boer voorouers nie." (p. 109.) Hy is nie teen vooruitgang nie: "Die Boervrou mag die kappie en die manteltjie vaarwel sê en tog haar grootmoeder in alles gelyk bly." (p. 177.) Maar ons moet voortbou op "die hegte breë Boerfondament" en alle "vreemde modelle" vermy. "Daar is geen hoër adel, geen fyner beskawing, geen edeler siel as die van die Boervolk self nie. Al wat ons daarvan afwyk, gaan ons [Pg 303] verkeerd, breek ons onsself af, ondermyn ons ons indiwidualiteit. Ons mog dan wat vreemds byspyker, en daar uitlandse vernis oor smeer, maar dit sal nie hou teen die Afrikaanse son nie.... Wat ons het is egte goud, al mag dit nog nie gelouter en bewerk wees nie, wat ons in die vreemde naloop is klatergoud." (p. 206.) Hier ontaard die gevoel van nasionale eiewaarde in chauvinisme, en werk die ou isolasie-drang van die Boer, en sy afkeer van alle vreemde beskawing nog na. Op 'n ander plaas is sprake van "die gesonde lewenswyse en wêreldbeskouing van die Boervrou, so afkerig van die verfynde en demoraliserende uitlandse 'beskawing'...." So voer die groot nadruk wat op die Afrikaanse voortreflikheid gelê word en die waarskuwing vir alles wat vreemd is tot die stelling, dat alles in Afrika goed is en alles daarbuite sleg. Dit was seker nie die bedoeling van die skrywer nie, maar wanneer 'n goeie beginsel te veel op die spits gedryf word, lei dit tot bekrompenheid.

Die neiging vir allerlei moeilik verdedigbare generalisasies, wat ook in Doppers aangetoon is, blyk uit so 'n bewering: "Is die teenwoordige oorlog nie vrug van die onvrouelikheid van die vrou van Berlyn, Parys, Brussels, Londen?" (p. 180.)

Die portret en karakter van die Boervrou het Dr. O'kulis met liefde geteken. Veral in die sewende en agste hoofstuk, waar die skrywer self meer aan die woord is, kom juiste opmerkings en 'n persoonlike uitdrukkingswyse voor. Die nuwere geskiedenis wil hy verbygaan, maar oor die konsentrasiekampe kán hy nie swyg nie. (p. 141.) "Die geskiedenis swyg nie, al vergeet ons ook al graag." (p. 148.) "Dwars deur ons land loop die bloedspoor van die Boervrou" (p. 114). Met eerbiedige hulde volg hy die spoor deur ons geskiedenis. Van die politieke vroueverenigings verwag hy weinig heil. Ook die foute van die Boervrou word beskryf. In Mevrou Marie Koopmans-de Wet "sien ons die Boervrou soos sy ontwikkel op die hoogste sport" (p. 181.) Die bylaes bevat hoofartiekels van die Mediator oor die trekkers en oor vaderlandsliefde, asook 'n stuk uit Preller se Voortrekkermense.

Tot die minder juiste uitdrukkings behoort o.a.: "'n [Pg 304] daghelder feit" (Doppers, p. 63); "die ster-rol speler in die bioskoop" (id., p. 66); "Die meisies was ... op reken van die moeder...." (Boervrou, p. 59); "oor algemeen" (id., p. 94); "meedoen met allerhande lewensdrukte" (id., p. 97); "geleerdheid bring in 'n groef" (id., p. 105); "om oor die toekoms te praat en te plan (id., p. 149); "omdat men hiervoor geen oog had" (id., p. 24); "om die verdrukte landgenote te help met tonne van selfgemaakte en geofferde versagting" (id., p. 92). As staaltjies van retoriese beeldspraak kan dien: "Twee feite het hulle diep in die hart deurboor" (id., p. 118); "die hartverskeurende skouspel; die vlym nog dieper voel" (id., p. 148).

§ 8. Thos. Blok.

Thos. Blok is in 1879 gebore. In Holland was hy 'n tydlank onderwyser en sedert 1913 in Bloemfontein, waar hy tans hoof van die Voorbereidende Tegniese Skool is. Hy het hom dadelik na sy vestiging in Suid-Afrika op Afrikaans en geskiedenis toegelê. Hy streef daarna om die resultate van sy argiefondersoek in aantreklike vorm uit te gee en bewerk veral die periode van die Oranje Rivier Soewereiniteit. Van hom het verskyn 'n serie leesboeke Ons Eie Taal, Klein Jannie, Oom Willem, Hendrik Afbeen en Willem Kruger, skool- en kinderlektuur, 'n paar bundels kinderversies en Grensboere (1918).

Grensboere.

Dit is 'n verhaal uit die dae van President Hoffman, "'n inleiding tot die geskiedenis van die (Basoeto)-oorloë." Blok wil "'n duidelike beeld ... gee van die toestande, wat geheers het, en die moeilikhede, waarmee die Boere te stry gehad het op die grens van Basoetoland.... Behalwe die vorm, waar die storie in verskyn, is alles suiwer geskiedenis."[428] Die geskiedenis smoor dan ook die verhaal dood; die argieflug is te sterk. In die begin kry [Pg 305] ons nog iets van die mense te sien, maar ons verloor hulle gou tussen al die historiese feite en dokumente. In 'n suiwer historiese vorm sou Blok se werk meer voldoening gee, want die feite wat hy meedeel is belangrik en van sy simpatieke inlewing in die Boerekarakter getuig iedere bladsy van die boekie. Die helder, eenvoudige styl, wat alleen op enkele plekke spore van Hollandse invloed vertoon, maak Grensboere uiters geskik vir die jeug. Hinderlike herhaling kom voor o.a. op p. 21: skaf—skaap; op p. 57: gekies—kiesers—kies.

§ 9. Ds. G.B.A. Gerdener.

G.B.A. Gerdener is in 1881 gebore op Wupperthal, 'n Rynlandse sendingstasie in die Sederberge, Clanwilliam, waar sy vader, 'n Duitse sendeling gearbei het. Sy gehele opvoeding het hy feitlik in Stellenbosch geniet, en daar is hy ook tot predikant opgelei. Sy teologiese studie het hy in 1922 voltooi aan die uniwersiteit in Tübingen, waar hy die graad Dr. Phil. cum laude verwerf het en hom veral op die nuwere geskiedenis en die tydperk van die Hervorming toegelê het. As sekretaris van die Christelike Studente-Vereniging het hy in 1907 en 1910 groot buitenlandse reise gemaak. Gedurende 1912-17 was hy onder die Mohammedane in Kaapstad werksaam en daarna as twede predikant op Stellenbosch. Van hom het verskyn 'n bundel gedigte: Uit Mijn Jonkheid en verskeie godsdienstige werke, alles in Hollands. Sarel Cilliers, Die Vader van Dingaansdag is egter in Afrikaans (1919). Hy was ook redakteur van Het Gereformeerd Maandblad.

Sarel Cilliers.

Piet Retief word die martelaar van die Groot Trek genoem, Andries Pretorius, die krygsman en Sarel Cilliers die profeet (p. 3). "Beter tiepe van die diepe godsvrug en die innige vroomheid, wat in dae van donkerheid en droefheid aan die hart van die Trekkers lig en troos verskaf het is daar nie dan Sarel Cilliers" (p. 4). Sy kinderjare en uittog na die noorde word beskryf, terwyl [Pg 306] ook in vlugtige trekke die verloop en betekenis van die beweging van 1836 geteken word. Episodes waarin Cilliers 'n groot aandeel gehad 't, soos die slag by Vegkop en die aflegging van die gelofte word uitvoerig behandel en op helder wyse toegelig. Cilliers se ervarings in Natal en later in die Vrystaat, sy rol in die kerklike lewe is op aanskoulike wyse in die laaste hoofstukke geskets. Deur verskillende anekdotes kry ons 'n helder beeld van sy persoonlikheid. In die slothoofstuk word sy betekenis so saamgevat: "Hy was 'n onverskrokke baanbreker van die beskawing, 'n dapper stryder vir vryheid, 'n edel patriot en 'n vroom Godsman" (p. 90.) Die geskiedenis van die Dingaansfees en die beste manier om dit te vier word bespreek. Dit was dan ook die aanleiding tot die ontstaan van die biografie (p. 4). Die aanhangsels bevat 'n joernaal en verskeie briewe van Cilliers.

"Die meeste mense van die twintigste eeu sal (Cilliers) noem 'n onbuigsame, ouderwetse puritein" (p. 84). Deur sy verwante lewensbeskouing kon Gerdener so 'n figuur met 'n begrypende liefde aanvoel en hy slaag dan ook daarin om veel wat vaag was te verduidelik. As hy ons egter vertel dat hy liewer "die sluier van vergetelheid" (p. 34) oor die onaangenaamheid tussen Cilliers en Smit wil trek, dan twyfel ons aan sy objektiwiteit. Vir 'n geskiedkundige werk kan die omsluieringsmetode nóg noodlottiger wees as vir 'n roman! Deur so 'n sinnetjie bring die lewensbeskrywer homself onder die verdenking dat hy te werk gegaan 't volgens die gesegde: De mortuis nil nisi bene. Onwillekeurig vraag ons: Wat het nog meer onder "die sluier van vergetelheid" geraak? In die aangehaalde geval is dit alleen getuigenis uit 'n ander bron wat Gerdener tot 'n bespreking dwing. Maar die feit dat hy dit met blykbare teësin doen, kan ons die indruk gee, dat hy alleen 'n lofrede op "die vader van Dingaansdag" wou skryf. En selfs die vaagste sinspeling in dié rigting moet die biograaf vermy, as hy geen agterdog wil opwek teen sy onpartydigheid nie.

Ook die volgende verklaring is 'n erkenning deur die skrywer self van wat daar nog ontbreek in sy werk: [Pg 307] "Ons sluit hierdie Hoofstuk "Bloed en Trane" met die gevoel dat daar taferele in die geskiedenis is, wat niemand kan beskrywe nie. Neem b.v. Piet Retief, bo-op die Drakensberg met sy aangesig in die rigting van die Indiese Oseaan.... Gebeurtenisse kan 'n mens nog beskrywe, maar sulke manne, so groot, so onsterflik: die Martelaar, die Profeet en die Staatsman van die Grote Trek. Hier moet die digter en die skilder ons te hulp kom!" (p. 47.) Die kunstenaar-biograaf mag egter sy taak nie so maklik op ander skuiwe nie! Dit spreek vanself dat iemand wat uit stowwige oorkondes en fragmentariese oorlewerings 'n beeld van 'n mens moet opbou daarin slegs gedeeltelik kan slaag; die tydgenoot, steunende op intieme kennis en persoonlike omgang is daartoe veel beter in staat. Maar waar die tydgenoot dit nagelaat het is 'n biografie soos die van Sarel Cilliers vir ons van groot belang. Uit die beskikbare gegewens het Gerdener 'n duidelike beeld van die man en sy betekenis saamgestel. By 'n twede druk sal hy seker die onafrikaanse vorme wat daar nog in sy styl voorkom vermy, en ook nie die piëteitlose afkorting Maritzburg vir die ou Voortrekkerstad gebruik nie (o.a. op p. 31).

§ 10. A.J. van der Walt.

Andries Jacobus van der Walt is gebore op Grootfontein, Middelburg, K.P. Van sy tiende tot sy vyftiende jaar het hy skool gegaan op Ratelpoort, waar hy leer hoera skree het, toe die anneksasie van Transvaal (1877) bekend word. Maar nadat hy enige jare skool gehou 't is hy Transvaal toe en daar het hy gou tot 'n ander oortuiging gekom. Kort na die Jameson-inval is sy Hollandse roman Afrikaner wees u zelf geskryf.[429] Gedurende die Twede Vryheidsoorlog moes hy saam met ander die wyk neem na Delagoabaai en vandaar na Holland. In Europa het hy byna twee jaar gebly, baie rondgereis en sy ondersoekings oor Andries Hendrik [Pg 308] Potgieter begin, wat nog op 'n uitgewer wag. Na sy terugkoms was hy eers tien jaar lank by 'n versekeringsmaatskappy en toe weer onderwyser in die distrik Potchefstroom, waar hy nog is. Noordwaarts, wat in 1906 al klaar was het hy in Afrikaans omgewerk vir die Burger-leeskring (1919).[430] In 1920 het ook nog verskyn Vastrappers I.

Noordwaarts.

In 1877 het 'n groot aantal huisgesinne die Suid-Afrikaanse Republiek verlaat en noordwaarts getrek. Die skrywer het historiese gegewens oor hierdie Dorsland-Trek versamel en dit as Deel II van Noordwaarts uitgegee. Die verhaal van D.J. Erasmus word afgebreek deur die volgende opmerking van Van der Walt: "En dan volg 'n hele reeks van kostelike informasie ... wat vir 2/3 as boustof verstrek ('t) van Boek II" (p. 217). Boek II is 'n gedeelte van 'n romantiese verhaal, wat aan die Boustowwe voorafgaan. Hier het ons dus te doen met 'n onwetenskaplike vermenging van waarheid en verdigting, wat die boek vir die historikus vrywel waardeloos maak. Selfs op die boustowwe kan ons nie reken nie: "Die skrywer het eers gemeen, by die omwerking en besnoeiing van die handskrif, om die verdwaal-episode maar agterweë te laat....[431] Nog duideliker blyk sy werkwyse uit die volgende: "Ons moes dus by die skrale bedeling van boustof, nadat ons ons so goed moontlik onder ons omstandighede op hoogte van die Land- en Volkkunde van die streke waardeur die twee van Stadens denkelik getrek het, gebring het, toe maar verder die regte van 'n romanskrywer ons aanmatig, om so op dié manier die leemtes enigsins aan te vul." (p. 185.) Teen 'n historiese roman oor die Dorsland-trek bestaan daar natuurlik geen besware nie, maar die onoordeelkundige vermenging van fantasie en waarheid in 'n boek, wat die ondertietel Historiese Sketse draag, moet ten sterkste afgekeur word.

[Pg 309] Van der Walt het verskillende episodes uit sy boustowwe tot een verhaal saamgeflans. Hy gee 'n reeks gekleurde historie-prente en laat op bioskoopagtige wyse die vernaamste episodes voor ons verbytrek. In die uiterlike omstandighede van die trekkers het hy hom goed ingeleef. Hul ontberinge en eindelose gesukkel in die dorsland word op skilderagtige wyse geskets. "Die opeenvolging van ellendes" (p. 58), die lyding van mens en dier in woeste oorde, die moeilikhede met die inboorlinge is op duidelike en aanskoulike wyse voorgestel, sodat die geheel 'n treffende rolprent van die volhardingsvermoë van die Afrikanerpioniers word. Maar ons mis die hand van die kunstenaar wat só kan skilder, dat die figure van die doek af na ons toe kom, met ons praat en die roersels van hul innerlikste menssyn openbaar. Want daarvoor deins die skrywer terug. "Ons laat maar liewer die sluier val!" (p. 112);[432] "Maar laat ons maar liewer van Tys van Wyk, die vader en van Roelf, die liefhebbende oom, swyg—swyg van algar se verdriet, wat elkeen op sy eie manier getoon het...." (p. 136); "O, geen pen kan die aakligheid van die reis beskrywe nie!" (p. 139); "Wie sal 'n vroumens se trane deurgrond?" (p. 162). So soek die skrywer altyd maar uitvlugte. Net waar hy 'n kans kry om die dieper menslikheid te teken, getuig hy sélf van sy onmag. Hy bly meestal die belangstellende toeskouer, wat nie die ellende self deurleef nie, maar op 'n goeie distansie aantekeninge maak: "Laat ons, Leser, hulle afkyk in hulle doen...." (p. 65). Die kranksinnige Mieta is "die ware beeld van wanhoop" (p. 51) en 'n paar reëls verder weer "die beeld van verregaande onverskilligheid". Tog het hy daarin geslaag om 'n hele paar lewendige toneeltjies te teken, soos o.a. die dood van Joggie (p. 68 vlg.). Ook die vaste vertroue op die Voorsienigheid onder die bangste gevare, en die stille godsvrug van die trekkers is goed weergegee.

Die gebeurtenisse deur Van der Walt beskryf was vanself al danig romanties. Maar hy is nog nie tevrede nie! Dit word so aangedik, dat mens jou naderhand [Pg 310] verbeeld dat jy onder die oud-testamentiese bedeling leef. Daarom verbaas dit ons nie dat die steenbokkie reguit in Tys se knipmes inloop nie! (p. 144). Die meisie wat deur die kaffers ontvoer word, ontbreek ook nie, nog minder die paartjie wat mekaar "kry". "Leser, ons paar het mekaar nou. Sal ons ook nou maar ophou?" (p. 157.) Asseblief tog neef, want ons het dit al só baie gehoor! As jy van die verliefde paartjie nie twee lewendige mense kan maak nie, wat op hul eie manier liefhet en nie mekaar sommer "kry" en "het" nie—bly dan maar liewer stil! Die bruilof ens.—ja kyk—soiets lees ons elke dag in Die Burger en De Volkstem. Ons weet presies hoe dit gebeur en daar in die wildernis is 'n mens ook maar 'n mens! Hou tog maar liewer op!

In plaas van plastiese uitbeelding kry ons moralisasies en godsdienstige oorpeinsings, soos by die beskrywing van Sarie Swarts se lotgevalle. Hoe sterk die moraliserende tendens is blyk duidelik uit

Vastrappers I.

In die voorwoord al staan 'n heftige tirade teen allerlei "onruswekkende verskynsels". Daartoe behoort: "die prysgewing van ons jeug aan die Rugby-Moloch, ... die goddelose Rugby-gedoente" (p. 7); "die gruwelike en gevaarlike sigarette-draak, gemengde baaiery, die Malthusiaanse euwel" ens. Ook in die teks kom sulke uitvalle voor. Van der Walt het seker die volste reg om vir sy lewensbeskouing propaganda te maak, maar in 'n historiese werk kom sulke sedeprekery nie te pas nie.

Die eerste afdeling van Vastrappers bestaan uit sitate van "wat ander mense so ongeveer van Boer geskryf het." Waarom ons dit eers moet lees, is nie duidelik nie. Dan volg: "Die Historie van seker vier Potgietergeslagtes", 'n reeks "oorspronklike famielieverhale", wat "so orgineel moontlik" afgedruk word. Hy hoop dat "veral Jong S.A. se oë meer mag oopgaan om die egte goud van ons skone Verlede te onderskei van baie namaaksels en klatergoud van ons tye." (p. 37.) Die derde afdeling "Baanbrekers en Vastrappers" is 'n soort sedekundige verhandeling om aan te toon, dat daar [Pg 311] "'n goue streep van Kalvinisme deur heel ons Vaderlandse Geskiedenis (lê)" (p. 200). Afdeling IV dra 'n uit taalkundige oogpunt onjuiste tietel: "Uit vanmelewe ou Potchefstroom se dae". Dit is 'n herdruk van 'n artiekel uit Het Westen van 1908, met 'n naskrif van 1919 waarin gedeeltes uit ou Potchefstroomse krante afgedruk word. III en IV is albei "onvoltooide sketse". "Omstandighede het ons belet om al die informasie behoorlik te verwerk soos dit eintlik behoort. Dit het gekom deels omdat ons nog nie klaar het met ons histories ondersoek" (p. 211). Met dié woorde veroordeel die skrywer sy eie werk. Die wanordelike allegaartjie wat hy ons aanbied, met sy doolhof van inleidings, aanhangsels, naskrifte, note en bymekaargeskraapte sitate is 'n duidelike bewys dat naas liefde vir die voorgeslag 'n deeglike, wetenskaplike voorbereiding onmisbaar is. As Vastrappers I enige waarde het, dan moet dit gesoek word in die Potgieterverhale, wat die grootste gedeelte van die boek beslaan. Die beoordeling daarvan kan egter aan die historisie oorgelaat word.

In Noordwaarts skryf Van der Walt 'n gemaklik-vloeiende taal, wat egter weinig persoonliks het. Die invloed van die Hollandse skool van vóór '80 blyk nie alleen uit sy "bewerkte" sitate van Ten Kate nie, maar ook uit beeldspraak soos: "'n vlym deur sy siel" (p. 152). Hinderlik is die gebruik van "geword" (p. 60), en die verkeerde sinstelling: "Sy het vooroorgeval, en het haar liggaam 'n skok gekry" (p. 90). In Vastrappers[433] is die styl minder versorgd. Daar kom voor o.a.: "Die Barbaar gevaar" (p. 202); "verhaalde" (p. 232); "Soiets sou wel meer konsekwent, ... en op tot datum (up to date) gewees het, as al die onnasionale dus egoïsme in die hand werkende voetbal-gedoe." (p. 215.)[434].

§ 11. Senator G.G. Munnik.

Kronieke van Noordelike Transvaal, (1920).

In die eerste hoofstukke word die nedersetting van blanke onder Generaal Hendrik Potgieter in [Pg 312] Soutpansberg beskryf. Dan volg 'n uiteensetting van die moeilikhede met die talryke kafferstamme en die gebeurtenisse wat gelei 't tot die belegering van Makapaan in sy grotte.[435] Ook die politieke kibbelarye tussen verskillende Transvaalse leiers en die toestande op die goudvelde word geskets. Uit die lewe van die goudsoekers en jagters vertel die skrywer interessante voorvalle. Sy ondervindings as mynkommissaris en landdros lewer die stof vir meer as een vermaaklike anekdote, wat op lewendige toon vertel word. Ons kry ook 'n goeie kyk op die verhouding tussen die regering, die amptenare en die burgers. Die skrywer slaag daar goed in om ons 'n kleurige beeld te gee van die lewe van die baanbrekers in die noorde, die wisselvallighede van hul swerwersbestaan, hul moed en uithou-vermoë. Veel beter as deur 'n lang betoog word die toestande geskets met 'n voorval soos die volgende: "Uit die getuienis blyk ..., dat elkeen van twee vyandige gemeentes die kerk, 'n sinkgebou, eis. Daarop breek die wakkerste gemeente die kerk, die van hout en yster was, af, en karwei dit weg op bokwaens, voordat hulle teenpartyders daar iets van wis" (p. 69). Ook die talryke Kruger-anekdotes word op aangename wyse vertel. Sonder dat dit aanspraak kan maak op groot letterkundige verdienste is die herinneringe van Senator Munnik ongetwyfeld 'n aantreklike boek, waarin die algemeen-menslike kant van 'n so goed as onbekende historiese tydperk mooi belig word. Sulke bydraes kan ook vir die geskiedkundige navorser van groot belang wees en die skrywe van soortgelyke herinneringe verdien navolging. Van Oud-Pres. F.W. Reitz het in verskillende tydskrifte ook sulke memoires gestaan, wat behoorlik bygewerk 'n interessante bundeltjie oor die ou dae kan word.

Volgens 'n meedeling het Munnik sy werk nie oorspronklik in Afrikaans geskrywe nie. Sy taal en styl laat nog heelwat te wense oor. Hy gebruik die as relatief; daar is 'n klompie anglisismes o.a. raar (Eng. rare) (p. 21); "om vir verlore kanse op te maak" (p. 72); "hy was ook gemeng met die affêres...." (p. 82). [Pg 313] Die woordskikking is telkens verkeerd b.v.: "Met die vooruitsig (anglisisme) van 'n Hooglander het hy hom 'n massa kruit saamgebring en het dit die Republikeinse Goewernement aangeneem...." (p. 53).

§ 12. Ds. J.D. Kestell.

Ds. Kestell is 15 Des. 1854 gebore op Pieter-Maritzburg. In sy jeug is hy persoonlik met verskeie Voortrekkers in aanraking gewees. Hy vertel: "Sarel Cilliers het ek gesien in die huis van my vader, en later op sy eie plaas, Doringkloof. J.N. Boshoff het ek as kind op Pieter-Maritzburg geken. Marthinus Oosthuijse het ek dikwels ontmoet, en uit sy eie mond die geskiedenis van die Trek gehoor. Daniel Bezuidenhout het my self verhaal wat sy wedervaringe was."[436] Na sy teologiese opleiding op Stellenbosch het hy 'n jaar lank gestudeer aan die Utrechtse uniwersiteit. As predikant het hy gestaan op Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein. Daarna was hy redakteur van De Kerkbode en op die oomblik is hy rektor van die Grey-Uniwersiteits-Kollege.

Sy eerste geskrif was 'n toneelstuk oor Slagtersnek, The Struggle for Freedom. In sy studiejare het hy ook 'n Engelse roman oor dieselfde onderwerp geskryf. "Onse Jan" het dit vir Het Z.A. Tijdschrift vertaal. Uit het Afrikaansche Boerenleven (1897) is 'n bundel dorpsnovelles.[437] De Voortrekkers of Het Dagboek van Izak van der Merwe (1898) is in samewerking met Nico Hofmeyr geskryf, Johanna Cloete in 1899. Gedurende die Twede Vryheidsoorlog het Ds. Kestell Pres. Steyn en Genl. De Wet vergesel op hul togte en die stryd meegemaak tot die bitter einde toe. Na die vrede het verskyn: Met de Boerencommando's of Mijn Ervaringen als Veldprediker en De Vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit (1909), die laaste in samewerking met D.E. van Velden.

Sy skoonvader se biografie het Ds. Kestell in 1911 [Pg 314] uitgegee onder die tietel Het Leven van Prof. N.J. Hofmeyr, die van Christiaan de Wet in 1920.[438]

Die Voortrekkers (1920) is 'n omwerking van 'n reeks voorlesings op Kimberley gegee. Ds. Kestell is lid van die S.A. Akademie, die Leidsche Maatschappij en die Historische Genootschap van Utrecht. Op kerklike en nasionale gebied is hy een van die volksleiers. Volgens die redakteur van Die Brandwag is hy "in baie opsigte vir ons die verpersoonliking van die beste wat daar in ons Afrikaanse volk woon."[439] Aan die redakteur het hy ook vertel "hoe dit hom spyt, dat hy in die ou dae nie deelgeneem het aan die stryd vir die regte vir Afrikaans nie." Hy is nou besig om al sy verhale in Afrikaans te vertaal.

Die Voortrekkers.

Dit is "'n kort geskiedverhaal", waarin die oorsake en die vernaamste gebeurtenisse in verband met die Groot Trek tot op 16 Desember 1838 beknop en helder uiteengeset word; 'n handige boekie vir iedereen wat die groot gang van die emigrasiebeweging wil begryp, sonder om daarvan eintlik 'n studie te maak. Van Gardiner en Owen word gesê: "Maar so bitter vyandig teen die Boere was hulle ook nie, dat hulle 'n barbaarse opperhoof kon aanhits tot 'n gruwelike bloedbad." (p. 76). Die bewyse vir die stelling ontbreek egter.

"Ek vertrou dat wat aan my werk iets wat op sigself staan sal gee is, dat ek persoonlik met eminente Voortrekkers in aanraking is gewees." (p. VI.) Gedeeltelik is dit waar, maar daar is tog geen figuur, wat so geteken is nie, dat ons na die lesing van die boekie voel, dat ook ons in persoonlike aanraking met 'n Voortrekker gewees is. Kestell mis die plastiese gawe wat vir so 'n uitbeelding nodig is. Hy verseker ons trouens self, dat dit onmoontlik is. "Onbeskryflik[440] was die aandoening [Pg 315] in (Retief se) siel, toe hy staar op die land wat daar aan sy voet lê: Natal, met sy golwende berge en dale" (p. 60). Ook die beskrywing van Retief se eerste blik op Natal toon duidelik, dat Kestell geen woordkunstenaar is nie, wat deur die mag van sy skilderende woord 'n beeld kan laat lewe nie. "In die jonge groen van die vroeë lente was alles gedos.... Oral sien hy die veld met 'n ryke oorvloed bedek met[441] blomme van allerhande vorm en kleur en geur...." (p. 60). Ook die moord van Retief is "onbeskryflik" (p. 76), en in die Bloedrivierslag beleef die Trekkers "onbeskryflike ure" (p. 101). Of anders is die tonele weer "ontsettend, hartverskeurend" (p. 86), retoriese skrikmaak-frases, wat geen ontroering wek nie. In die eerste hoofstuk (§ 6) het ons al gesien, dat Kestell van die Hollandse kuns van na 1880 niks wil weet nie en in sy werk kom dan ook versteende beeldspraak soos die volgende voor: "onuitwisbar(e) littekens in die hart ... gebrand" (p. 8); "'n golf van onuitspreeklike smart" (C. de Wet, p. 64).

Die taal van Die Voortrekkers is erg onafrikaans. Die dubbele ontkenning word selde reg gebruik; die as relatief, hem en vorme soos die volgende is storend: Het is nie swaar ... (p. 15); die droewig pad (p. 103); Hulle het nie beter op die hoogte kon gewees het nie (p. 1);[442] geontbied (p. 71). Onbeholpe is die volgende: Dingaan (het) in sy stad in druk gesprek gesit praat met twee van sy vernaamste kapiteins (p. 78); Toe die dag breek kon dit beter gesien word om sig te verdedig. (p. 82.)

Christiaan de Wet.

In die eerste hoofstukke word 'n oorsig gegee van sy jeug en die moeilike jare wat op sy huwelik gevolg het. Op lewendige wyse word sy aandeel in die Transvaalse Vryheidsoorlog meegedeel. Nadat hy 'n tydlank veldkornet en volksraadslid gewees 't in die Transvaal, keer hy terug Vrystaat toe, waar hy ook gou op politieke [Pg 316] gebied optree. "Sy breë kyk op sake" word veral geroem. Dan volg 'n historiese oorsig van die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot die Twede Vryheidsoorlog. De Wet gaan op kommando as gewone burger, maar word gou veggeneraal en na die oorgawe van Cronjé hoofkommandant. Met gebruikmaking van De Wet se oorlogsboek gee Kestell dan 'n oorsig van die vernaamste krygsgebeurtenisse. Die besoek van die Boere-generaals aan Europa word beskryf en ook Mevr. De Wet se ondervindings gedurende die oorlog. Onder die verantwoordelike bestuur word De Wet minister van landbou.

Die gebeurtenisse na 1914 is breedvoerig behandel. Hier gee die skrywer nie alleen 'n relaas van die uiterlike feite nie, maar hy toon duidelik aan wat daar in die siel van die generaal omgegaan 't en hoe sy besluit om te rebelleer geryp 't. Die laaste gedeelte van die biografie is die bes geslaagde, omdat ons daar werklik in aanraking kom met 'n persoonlikheid. De Wet se laaste veldtog, sy verhoor en gevangenislewe word op gevoelvolle wyse beskryf. Met verskeie historiese bylaes sluit die boek.

Op die gebrek aan sielkundige analiese maak die skrywer ons 'n enkele maal self weer opmerksaam: "Geen woorde kan beskryf wat daar op die oomblik deur die siel van C. de Wet gaan nie" (p. 84).[443] Die plastiese skildering is meestal geslaag, ofskoon die gemeenplaatse soms hinderlik word: "Daar kom generaal De Wet aangery van die voorpunt, en hy roep die burgers bymekaar. Hy bly sit op sy perd, en die burgers kom voor hom staan. Hy is woedend kwaad. Hy byt op sy tande. Deur sy tande kom die woorde sissend ... Daarna word hy kalmer, en eindelik haal hy sy hoed af. "Kom ons bid", sê hy. Wat 'n gebed was dit uit die mond van dié man, daar op die perd! Dit roer elkeen tot op die bodem van sy wese. Elkeen voel dat die hare op sy hoof rys...." (p. 68-9). Meer as een lewendige kommando-toneeltjie is treffend deur juiste tekening. Die begin van hoofstuk XIII is daarvan 'n mooi voorbeeld. Ook uit die generaal se jeug het die [Pg 317] skrywer heelwat voorvalle opgeteken wat ons 'n goeie insig in sy persoonlikheid gee. De Wet se eie meedelings is op aangename wyse verwerk en munt uit deur aanskoulike voorstelling. Kestell het gesegdes van hom opgeteken, wat 'n kosbare bydrae is tot ons kennis van die groot heldefiguur, terwyl die na-oorlogse periode van sy loopbaan op treffende wyse verduidelik is.

Vergeleke met Die Voortrekkers is die meeste on-Afrikaanse wendings uit die styl verdwyn. Slegs selde stuit mens op 'n sin wat minder goed in mekaargeset is, soos die volgende: "As hierdie manifes nou gelees word, dan tref dit dadelik dat daarin uitdrukkinge voorkom soos dié nie sou verwag word as uit die pen van Beyers te gevloei het nie, maar wat dikwels van die lippe van De Wet geval het" (p. 202).[444]

§ 13. Dr. N.J. van der Merwe.

Hy is gebore in 1888 op Senekal, O.V.S. Aan die Grey-Kollege het hy in 1907 gegradueer met honneurs in moderne tale. Twee jaar lank was hy onderwyser in Fauresmith en daarna het hy teologie studeer aan die Stellenbosse Kweekskool, waar hy in 1911 ook die B.D. eksamen afgelê het. In 1914 was hy reisende sekretaris vir die C.S.V. en daarna predikant op Wepener. Sy teologiese studie het hy voortgeset aan die Vrye Uniwersiteit op Amsterdam, waar hy in 1921 gepromoveer het op 'n dissertasie Die Sosiale Prediking van Jesus Christus. Op die oomblik is hy predikant op Theunissen O.V.S. Hy is in 1916 gehuud met 'n dogter van President Steyn. Sy skoonvader se lewensbeskrywing Marthinus Theunis Steyn het in 1921 verskyn in twee dele.

Marthinus Theunis Steyn.

Die skrywer van 'n politieke biografie staan voor 'n groot moeilikheid wat deur Winston Churchill goed aangedui is in sy voorwoord by die lewe van [Pg 318] Lord Randolph Churchill. "The style and ideas of the writer must throughout be subordinated to the necessity of embracing in the text those documentary proofs upon which the story depends. Letters, memoranda, and extracts from speeches, which inevitably and rightly interrupt the sequence of his narrative, must be pieced together upon some consistent and harmonius plan. It is not by the soft touches of a picture, but in hard mosaic or tessellated pavement, that a man's life and fortunes must be presented in all their reality and romance. I have thought it my duty, so far as possible, to assemble once and for all the whole body of historical evidence required for the understanding of Lord Randolph Churchill's career." Op dieselfde manier het Van der Merwe te werk gegaan. Die grootste gedeelte van sy biografie bestaan uit historiese dokumente, waaronder 'n uitgebreide diktaat van Pres. Steyn, briewe, redevoerings en offisiële stukke. Tereg verklaar hy dan ook in sy voorwoord: "Met die volle bewussyn dat daar in die voorliggende werk dikwels eenvoudig boustof gelewer word waar die leser miskien 'n gebou sou verwag, dog met die oortuiging dat dit onder die huidige omstandighede voorbarig sou wees om meer te doen...."[445]

John Morley het voor dieselfde probleem gestaan in sy Life of William Ewart Gladstone: "Where the subject is a man who was four times at the head of the government—no phantom, but dictator—and who held this office of first minister for a longer time than any other statesman in the reign of the Queen, how can we tell the story of his works and days without reference, and ample reference, to the course of events over whose unrolling he presided, and out of which he made history?... Assuredly I am not presumptuous enough to suppose that this difficulty of fixing the precise scale between history and biography has been successfully overcome by me. It may be that Hercules himself would have succeeded little better."[446]

Selfs by 'n gewone lewensbeskrywing het die biograaf [Pg 319] al 'n moeilike taak. Hy moet 'n verslag gee van die uiterlike wederwaardighede van die persoon; maar hy moet ook sy intellektuele en geestelike groeiproses teken en die gestadige wisselwerking tussen die twee nooit uit die oog verloor nie. Is die onderwerp van die lewensbeskrywing so 'n buitengewone persoon soos Pres. Steyn, wat gedurende die periode 1896-1916 feitlik aan die hoof van die hele volk gestaan 't, dan word dit nog noodsaaklik om die geskiedenis van die nasie ook te vertel. Op die manier loop die biograaf gevaar om die eenheid van sy werk te verstoor, presies soos die skilder van 'n groot veldslag, wat probeer om àl die soldate van weerskante op sy doek in te druk. Die verstandige biograaf sal soveel moontlik aan die historikus oorlaat en dit het Van der Merwe dan ook meestal gedoen o.a. met die twede Vryheidsoorlog en die vredesonderhandelinge. Sulke gebeurtenisse behoort tot die terrein van die historikus. "To make some roughly effective summary of (such) doings, in the way of epitome or extract, will be all that can fairly come within the province of biography"[447]

Edmund Gosse het verklaar, dat dit 'n groot fout is om, wat genoem word Life and Times van 'n mens te probeer beskryf. "History deals with fragments of the vast roll of events; it must always begin abruptly and close in the middle of affairs; it must always deal, impartially, with a vast number of persons. Biography is a study sharply defined by two definite events, birth and death. It fills its canvas with one figure, and other characters, however great in themselves, must always be subsidiary to the central hero."[448]

Per slot van rekening bly dit 'n moeilikheid wat iedere biograaf op sy eie manier moet oplos. Dit verdien in elk geval die noukeurige oorweging van ons toekomstige lewensbeskrywers. Die lewensbeskrywing van Pres. Steyn sou m.i. aan eenheid gewin het, as daar 'n skeiding gemaak was tussen die historiese en biografiese gegewens. [Pg 320] Die diktaat van die president, sy redevoerings en die offisiële dokumente kan gemaklik as historiese aanhangsel gegee word. Omdat dit alles in die teks van die biografie geskuif word, verloor ons telkens die persoonlikheid van die president uit die oog. By die behandeling van die Hertzog-kriesis (II, Hoofstuk XII), en die Rebellie (II, Hoofstuk XIII) is dit veral die geval. Hier word die lewensbeskrywing feitlik 'n offisiële blou-boek, 'n bronnepublikasie. Maar dit is dan ook van dié gebeurtenisse waarvan die skrywer in sy voorwoord sê: "Die rook trek nog uit meer as een brand ... en daarom word hier 'n poging aangewend om so objektief moontlik te wees; om die ipsissima verba van die verskillende persone wat op die toneel verskyn, letterlik weer te gee; en om alle kommentaar wat aan partygevoel kan toegeskrywe word, te vermy." (I, p. 11.) Waar dit sulke delikate kwessies geld, sou dit seker onbillik wees om nou al van die skrywer 'n samevattende oordeel te verwag. Maar as die rook eendag weggetrek 't is dit sy plig as biograaf om ons te laat voel wat daar in die siel van die groot staatsman omgegaan het in die tyd. Dan sal sy boek waarlik 'n lewensbeskrywing word, want ten spyte van die moeilikheid waarop Churchill sinspeel, bly dit tog waar dat 'n versameling briewe, dokumente en redevoerings nog geen biografie uitmaak nie, al word dit ook hoe netjies gerangskik. Die volgende bewering bevat ongetwyfeld veel wat juis is: "A correspondence worth preserving should be preserved apart. What the true biographer has to do with it is to use it. The more he can extract of its purport; the more he can absorb of its spirit; the better will be his book. The more he thrusts it in bodily—how admirable so ever in itself—the more will his book be a thing of shreds and patches. To depict worthily and enduringly any human life really deserving to be depicted, is a task which was never yet achieved without a strain on all the faculty the writer could upgather for the occasion. That fact should suffice, one imagines, to convince a man that letter-copying can go but a little way. Any penman can transcribe letters—or without even inking his fingers—can put them together, scissors-and-paste fashion, [Pg 321] much quicker than any printer can put them into type."[449]

Van der Merwe het dikwels die skêr-en-lympot-metode toegepas, soms uit noodsaak, soos in die laaste gedeelte van sy werk, maar gelukkig het hy ons ook nader gebring tot die mens in Pres. Steyn. In die eerste ses hoofstukke slaag hy daar uitstekend in om 'n duidelike beeld te gee van Steyn as kind, boereseun, student, regsgeleerde en staatshoof. Met groot liefde het hy alle beskikbare gegewens so verwerk, dat selfs iemand wat die president nooit geken 't nie, die man vlak voor hom sien staan. Hier spreek die biografie nie alleen tot ons verstand nie, maar ook tot ons hart; hier is die warm tinteling van 'n aanraking tussen mens en mens, die intiem-gesellige sfeer en nie alleen die bloot serimoniële "kennismaking" tussen wildvreemdes nie.

Alleen teen een opmerking het ons 'n bedenking: "Talryke staaltjies word vertel van Steyn se jowiale natuur as student en sy hartlike verkeer met sy Nederlandse vriende. Dit is egter nie nodig om die leser met hierdie studentegrappies langer op te hou nie. Die lewe van elke gesonde en vrolike student, soos Steyn was, is daar vol van" (I, p. 36). Dit kan ons alleen betreur, want Plutarchus merk tereg op in sy Alexander: Οὔτε ταῖς ἐπιφανεστάταις πράξεσι πάντως ἔνεστι δήλωσις ἀρετῆς ἢ κακίας ἀλλὰ πρᾶγμα βραχὺ πολλάκις, καὶ ῥῆμα, καὶ παιδιά τις ἔμφασιν ἤθους ἐποίησεν μᾶλλον ἢ μάχαι μυριόνεκροι, παρατάξεις αἱ μέγισται, καὶ πολιορκία πόλεων. [450] Samuel Johnson het ook 'n juiste opmerking gemaak. Sommige biograwe, sê hy, "rarely afford any other account than might be collected from public papers, but imagine themselves writing a life, when they exhibit a chronological series of actions or preferments; and have so little regard to the manners or behaviour of their heroes, that more knowledge may be gained of a man's real character by a short conversation [Pg 322] with one of his servants, than from a formal and studied narrative begun with his pedigree and ended with his funeral."[451] Wanneer die skrywer sy boustof omwerk tot 'n gebou, verdien die gekursiveerde woorde seker nader oorweging.

In die volgende hoofstukke word die onderhandelinge, wat gelei 't tot die nouer vereniging van die twee republieke beskryf. Dan volg die diktaat van President Steyn waarin die staatkundige gebeurtenisse vanaf 1896-1899 uiteengeset word. Vervolgens gee die skrywer 'n gedokumenteerde verslag van die onderhandelinge wat aan die oorlogsverklaring voorafgegaan 't. "Die tak, geduld sowel as staatsmansbeleid en beslistheid van die Vrystaatse President word daardeur duidelik geopenbaar" (I, p. 235). "Hoewel hy ook lank reeds aan vrede gewanhoop het, was hy egter beslis om nie na die wapen te gryp nie voor hy met 'n rein gewete sy volk kon verseker dat elke moontlike middel te baat geneem was om die onheil af te keer" (I, p. 246). Die President se houding blyk duidelik uit sy antwoord aan 'n paar offisiere wat gesê 't: "Laat ons maar veg": "Ek stem nie toe tot oorlog 'n minuut voor dit nie anders kan nie, maar weet dit, as ek die dag sê "Oorlog", dan moet julle nie met my van vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot die bitter einde" (I, p. 273). Manlike woorde van een, wat ook met dade bewys 't, dat hy tot die grootste van die Bittereinders behoort! Hoe graag sou ons meer wil weet van die "sieleworsteling" daar in die eensame veld, op 'n stille sabbatsmore, 8 Oktober 1899—net voor die versending van die ultimatum. (I, p. 275.) Maar dit is een van die dramatiese momente wat die biograaf net vir ons aanstip. Wanneer Steyn, gebroke in die liggaam, maar onverwinlik in die gees afskeid neem van sy getroue by Vereniging, dan sê Van der Merwe ook: "Geen pen kan dit ooit beskryf nie" (II, p. 51). En as die sterke man, gedeeltelik herstel terugkeer na sy geannekseerde vaderland, dan roep die skrywer weer uit: "Wat dié middag deur die hart van die Vrystaters by Kaalspruit-stasie [Pg 323] (naby Onzerust) gegaan het, sal geen pen ooit beskrywe nie" (II, p. 148). Maar sulke verklarings help ons nie om die tragiek van Steyn en sy volk se lyding te begryp nie. Hier moet die kunstenaar-biograaf deur die skoonheid van sy beeldende woord, deur die innigheid van sy weergawe ons ontroer, hier kan hy nie volstaan met 'n blote vermelding van feite nie!

In die twede deel word Steyn as "die siel van die vryheidstryd" geteken. "Om sy ware grootheid te leer ken, moes 'n mens hom egter in sy daaglikse handel en wandel onder sy offisiere en burgers sien" (II, p. 34). Hier word Van der Merwe in waarheid weer lewens-beskrywer, want uit die kommando-anekdotes leer ons Steyn as mens veel beter ken as uit sy offisiële depêches. Sou "die half-barbaarse gesegdes van Ruiter" (II, p. 37) wat ons weerhou word, "uit vrees dat die leser wat Ruiter nie geken het nie" dit "wat ru en plat sal vind", sou dit nie die realiteit van die skildering verhoog 't nie? Hier geld Plutarchus en Johnson se opmerkings weer.

In die volgende hoofstuk is die president weer self aan die woord en vertel hy van die "poginge tot vrede". Mev. Steyn se oorlogservarings en haar ontmoeting met die president na die vrede, hulle vertrek na Europa om herstel van gesondheid te soek word dan beskryf. Onder die geneeskundige behandeling van prof. Winkler kom die langsame herwinning van lewenskragte en eindelik keer die volksheld weer tot sy vaderland terug. Die beskrywing van die lewe op Onzerust is goed geslaag, en op treffende wyse word Steyn, as "volksiener en raadsman" geteken. Sy bemoeiings om selfregering en die vereniging van die verskillende state te verkry is die onderwerp van die volgende hoofstukke. Wanneer die politieke verdeeldheid na die totstandkoming van die Unie begint, is Pres. Steyn weer die raadsman van al die leiers. "Die enigste plek waar al die partye so nou en dan in die gesonde lug van vertroue kom asem skep het, was daardie boerplasie op die vlaktes van Kaalspruit. Almal het daar hulle hart kom lug. Niemand het tevergeefs na Onzerust gekom nie. Soos 'n vader innig besorg oor dreigende onenigheid onder sy kinders, het President [Pg 324] Steyn alles in sy vermoë gedoen om vrede en eenheid te bewaar" (II, p. 242).

Die onderhandelinge tydens die Hertzogkriesis en die rebellie word in extenso afgedruk. Daar is ook 'n uiteensetting van die president self oor sy houding tydens laasgenoemde gebeurtenis. In die slothoofstuk word die laaste dae van die president, sy begrafnis en die roudienste beskryf.

In sy voorwoord het die skrywer die hoop uitgedruk, dat sy arbeid "iets sal bydra om die inspirasie van president Steyn se lewe vir die Volk te bewaar en lig te werp op 'n seer belangrike deel van ons volksgeskiedenis...." (p. VII). Dié doel sal hy ongetwyfeld bereik, nie alleen omdat sy stof van soveel nasionale belang is nie, maar ook omdat sy lewensbeskrywing uitmunt deur 'n helder, goedversorgde styl.

§ 14. Mevr. Lenie Boshoff-Liebenberg.

Moedersmart en Kinderleed, (1921).

"Dis van die grootste belang dat persoonlike ondervindinge, soos hierdie in verband met die lewe in die Konsentrasiekampe, vir die nageslagte bewaard bly. Dis almal kosbare materiaal vir die toekomstige skrywers wat ernstige werk sal maak van ons geskiedenis en ons volk se geaardheid noukeurig sal bestudeer." Aldus Jan Celliers in sy voorwoord, en daarmee het hy die waarde van die boekie goed aangedui. Die skryfster het agtien maande in die konsentrasiekampe gesit en deel haar ervarings op ongekunstelde wyse, sonder enige literêre pretensies mee. Sy praat so reg uit haar hart oor die dae van bitter swaarkry en ons luister met ontroerde gemoed.... In algemene trekke ken ons die lydensgeskiedenis van die kampe, maar dis juis die persoonlike element van herinneringe soos die van Mevr. Boshoff wat daar 'n inniger lewe aan sal gee vir die nageslag. Daar is ander vroue wat hul ondervindings ook te boek gestel 't, en dis 'n voorbeeld wat navolging verdien, [Pg 325] want daar gaat nog meer as een vertelling uit dié tyd van mond tot mond, wat vir ons geskiedenis nie mag verlore gaan nie.

Die twede gedeelte van Moedersmart en Kinderleed bevat "herinneringe uit die laaste oorlog", o.a. 'n verhaal van 'n huisgesin verwoes deur drank", wat oor die algemeen minder geslaag is as die eerste gedeelte.

"Alles hierin meegedeel is die waarheid en niks minder dan die waarheid," verklaar die skryfster. Dit verhoog die waarde van die meedelings, wat dus van historiese belang is en ons ook 'n merkwaardige kyk gee op die lyding van die Boerevrou en die heroïese wyse waarop sy dit gedra 't.

VOETNOTAS:

[405] Vgl. Dr. L. v. Niekerk: De Eerste Afr.-Taalbeweging1, p. 18 vlg.

[406] t.a.p., p. VII (10de druk).

[407] Vgl. Hoofstuk I, § 9.

[408] Piet Retief, p. 351.

[409] Vgl. Hoofstuk II en III.

[410] Voorwoord, 7de druk.

[411] Die Brandwag, Des. 1918.

[412] In 1922 het Voortrekkermense III verskyn. Dit bevat dertien geskiedkundige dokumente.

[413] Oor die taal van Preller kan vergelyk word: Dr. E.C. Pienaar, Taal en Poësie2, (p. 146-151).

[414] Vgl. b.v. die aangehaalde voorbeelde uit Kaptein Hindon.

[415] Oorspronklik verskyn in die Jaarboek van Het Westen(1909), later in Die Burger-Nuwejaarsnommer (1922).

[416] In Hoofstuk V, § 17, is 'n lewensskets al gegee.

[417] So staan die saamgestelde woorde deur die hele boek los van mekaar.

[418] Hiermee moet vergelyk word 'n soortgelyke toneel van F. Lion Cachet.

[419] Sitate volgens 2de druk (1917).

[420] Gedeeltelik ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[421] Vir 'n lewensskets kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2 ens., p. 256 vlg.

[422] Freeholder, No. 35.

[423] Rambler, No. 60.

[424] So 'n bewering is beslis onjuis, as ons onthou dat die tietels van Ds. S.J. du Toit se boeke sewe paginas in beslag neem! (p. 426-432). Daaruit moet tog 'n volkome beeld van die man se inwendige lewe op te diep wees.

[425] Ek kursiveer.

[426] Rev. Thomas Davidson: Chambers's Encyclopaedia in die artiekel "Biography".

[427] 'n Werk van dieselfde geaardheid het onlangs verskyn: Die Afrikaanse Vrou, "'n Beknopte oorsig van die rol wat die vrou in die Geskiedenis van S.A. gespeel het in die 350 jaar tussen 1568 en 1918" deur Eric Stockenström.

[428] Voorberig.

[429] Vgl. Dr. G. Besselaar: Z.A. in de Letterkunde, p. 80.

[430] Lewensskets ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[431] p. 228. Ek kursiveer.

[432] Vgl. ook p. 130.

[433] Die tipografiese uitvoering van die boek laat veel te wense oor.

[434] Ek kursiveer.

[435] Ook deur Preller in Baanbrekers beskryf.

[436] Voorberig, Die Voortrekkers2.

[437] Oor Kestell se Hollandse werk kan vergelyk word Dr. G. Besselaar: Z.A. in de Letterkunde.

[438] In 1922 het die twede uitgebreide druk van Christiaan de Wet verskyn, te laat egter om hier nog bespreek te word. Die sitate is volgens die eerste druk.

[439] Des. 1918.

[440] Kursivering van my.

[441] Kursivering van my.

[442] Vgl. hiermee: "Hulle was te ver vooruit, anders het hy 'n grote voorraad ammuniesie kan opgelaai het wat op die trein was." (C. de Wet, p. 82.)

[443] Vgl. ook p. 61, 143.

[444] Vgl. ook op p. 215 die sin wat so begint: "Hierop het Smuts aan hom meegedeel...."

[445] p. VII. Ek kursiveer.

[446] t.a.p. vol. I, p. 1-2.

[447] Vgl. Edwards and Hole: A Handbook to the Literature of General Biography, p. 13-22.

[448] Encyclopaedia Britannica, in die artiekel: Biography.

[449] Edwards and Hole, t.a.p., p. 24-5.

[450] Gesiteer deur James Boswell in sy Life of Samuel Johnson. Hy gee daarby die volgende vertaling van Langhorne: Nor is it always in the most distinguished achievements that men's virtues or vices may be best discerned; but very often an action of small note, a short saying, or a jest, shall distinguish a person's real character more than the greatest sieges, or the most important battles." Uitgawe Napier, I, p. 6.

[451] Rambler, No. 60.


[Pg 326]

NAAMREGISTER.

Alleen die name van Suid-Afrikaanse skrywers en persone is hier opgeneem. Die plek waar die vernaamste bespreking(s) voorkom, is met kursiewe syfers aangedui.

A.
Aschenborn, Hans Anton, 269
B.
Beyers, Generaal C.J., 292. Boshoff, Dr. S.P.E., 292-293.
Bezuidenhout, Daniel, 313. Bosman, Sadie, 225-228.
Biel, A. du, 58, 200-205. Brink, Melt, 2, 3, 197.
Blok, Thos., 304-305 Bruggen, J. van, 21, 23, 46, 47, 161-176.
Boonzaaier, 121.
Booysen, C.M., 205. Bruggen, J.R.L. van (Kleinjan), 47, 58.
Boshoff, J.N., 313.
Boshoff-Liebenberg, Mevr. Lenie, 324. Brümmer, Ds. N.J., 14, 29, 32, 33, 43, 44.
C.
Cachet, Prof. Jan Lion, 231.

Celliers, Prof. J.F.E., 5, 7, 10,
11, 12, 15, 17, 22, 31, 47,
48-53, 194, 207, 228, 285, 324.

Cillié, Dr. G., 12.
Cillié, Hettie, 46-53.
Conradie, Ds., 27.
D.
D'Arbez, Sien Oordt, J.F. van. Dugteren, C.J.L. Ruysch van, 55.
Dómine, Sien Jacobs, A.J.
[Pg 327]
E.
Engela, J.G., 135-136. Erasmus, D.J., 308.
Engelbrecht, J.F., 55. Euvrard, Chris. C, 158-159.
Engelenburg, Dr. 277.
F.
Fagan, Adv. H.A., 36, 57, 181-183. Fouché, Dr. Leo, 105.
Fanie, Oom, Sien Malan, J.H. Fourie, Chris, 185.
G.
Gass, Van, 278. Gieljam, Stoffel, Sien Langenhoven.
Gerdener, Ds. G.B.A., 305-307. Goldblatt, Sarah, 182.
H.
Hatting, J.H., 278. Hermanus, 59.
Heerden, Ds. J.P. van, 11. Hertzog, Genl., 6, 101.
Heerden, Mevr. Iz. van (Tannie
van die Brandwag), 46.
Hoffman, Pres., 304.
Hofmeyr, J.H. (Onze Jan), 41, 313.
Heerden, Iz. van, (Vaalswaer), 54. Hofmeyr, Marjorie, 182.
Heever, Adv. F. v.d., 60. Hoogenhout, C.P., 209.
J.
Jacobs, A.J. Dómine, 270-273. Jeppe, Carl, 55.
Jansen-Pellissier, Mevr. M., 46, 205-209. Jordaan, G., 261.
K.
Kamp, Prof. J., 18. Klerk, L.C., de 278.
Keet, Prof. B.B., 36. Koopmans-de Wet, Mevr. Maria,
41, 302.
Kestell, Ds. J.D., 17, 313-317.
Kleinjan, Sien Van Bruggen, J.R.L. Kruger, Ds. J.H., 219-225.
Kruger, Pres., 7, 23, 283.
L.
Langenhoven, Adv. C.J., 21, 24,
37, 38, 39, 40, 136-140,
239-248, 249-259, 277, 284.
Leipoldt, Dr. C. Louis, 34, 58,
259-261.
Lombaard, H.S. 291.
Linde, M., 58. Lub, J., 21, 133-135.
[Pg 328]
M.
Malan, Dr. D.F., 13, 31. Malherbe, Mevr. K., 60.
Malan, Essie, 182. Malherbe, Dr. W.M.R., 33, 45, 206.
Malan, J.H., 21, 159, 160, 209-219,
288-291.
Maritz, Genl., 53, 293.
Merwe, Dr. N.J. van der, 317-324.
Marais, Adv. Eugène, N., 47, 48,
60, 276.
Meurant, L.H., 1.
Mimmie, Nig., 54.
Marais, Prof. I.J., 16, 17. Moorrees, Prof. A., 17.
Maré, Léon, 23, 46, 188-197. Muir, Dr., 177.
Maré, Steph, 55.Muller, Dr. T.B., 34-36, 176.
Marius, 45. Munnik, Senator G.G., 311-313.
Malherbe, Dr. D.F., 43, 60, 94,
141-158.
N.
Neelsie, Sagmoedige,—Sien Langenhoven.
O.
O'Kulis, Dr.,—Sien Postma,
Ds. Willem
Oordt, J.F. van, 55.
Oosthuyse, Marthinus, 313.
Oldendorf, Helene, 182, 183. Otto, G.J., 207, 228-229.
P.
Pannevis, A., 1. Postma, Rikie, 58, 182.
Pienaar, A.A., (Sangiro), 23, 58,
262-269, 293.
Postma, Ds. Willem (Dr. O'Kulis),
231-233, 300-304.
Pienaar, Dr. E.C., 11, 29, 42, 57,
128, 137, 141, 287.
Preller, G.S., 5, 21, 24, 30, 31,
37, 42, 45, 46, 47, 137, 274,
275, 276-288.
Pierneef, 184.
Plessis, L.J. du, 292. Pretorius, President, 276.
R.
Reitz, Pres. F.W., 2, 312. Roux, Frina, 184.
Reitz, Joubert, 159-161, 210. Rozenburg, Jan van, Sien Waal,
Adv. de
Rey, Genl. de la, 276.
Roubaix, E. de, 45, 46, 53-54. Reenen, Reenen J. van, 11, 23, 59,
183-188, 234-239.
S.
Sangiro, Sien Pienaar, A.A. Smuts, Generaal Jan, 65, 100.
Schoon, Ds. H.F., 278. Steenkamp, Anna, 278.
Schumann, T., 182. Steyn, Dr. H.J., 11, 15.
Slypsteen, 230. Steyn, President, 275, 313.
Smit, Erasmus, 278. Steytler, Ds. A.I., 40.
Smith, J.A., 294-295.Swart, C.R., 182.
Smith, Prof. J.J., 1, 2, 15, 34, 36,
40, 55, 57, 176, 205.
[Pg 329]
T.
Tannie van die Brandwag, Sien
Mevr. Iz. van Heerden.
Toit, Dr. J.D. du, (Totius), 16,
231, 232, 296-300.
Theunissen, N.H., 59, 182. Tomlinson, G.C., 36, 176-180.
Toit, D.P. du, 24, 197-199. Totius, Sien Toit, J.D. du,
Toit, Ds. S.J. du, 1, 2, 41, 197,
292, 297, 298, 300.
Trichardt, Karl, 279.
V.
Vaalswaer, Sien Iz. van Heerden. Viljoen, Dr. W.J., 210.
Velden, D. van, 313. Villiers, F.E. de, 182.
Veritas, 182.
W.
Waal, Adv. J.H.H. de, 21, 24,
29, 30, 41, 42, 43, 47, 100-133,
230, 285, 286, 300.
Wet. Mevr. De, 316.
Wielligh, G.R. von, 28, 62-99,
182, 183.
Walt, A.J. van der, 307-311.Wijk, Eugène C. van, 182.
Wessels. D.W., 182. Wolla, 229.
Wet, Generaal De, 313.
Z.
Zinn, Christian, 140-141.

[Pg 330]

STELLINGE.

I.

Die aandeel van Gustav Preller in die Twede Afrikaanse Beweging word deur Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie oorskat.

II.

By die literatuuronderwys behoort die hoofdoel nie te wees die uitpluisery van taalkundige vraagstukke nie, maar wel die opvoeding tot 'n begrip van skoonheid.

[Pg 331]

III.

"Wanneer de schaduw valt, en dat het sterflijck Dal
Snachts vleughelen bespreet, zoo slaept den grooten Al,
De Son, in Thetis schoot, ..."

Pascha, (739-41)

Verklaar met Diferee, dat de schaduw des nachts de aarde met vleugelen bespreidt en dat "den grooten Al" de zon is die 't alles verlicht, en niet 't heelal zoals Van Lennep en Unger menen.

IV.

In het geding tussen Dr. Leendertz en Dr. Sterck of Eusebia, aan wie Vondels Peter en Pauwels werd opgedragen, Anna van den Vondel of Maria Tesselschade Roemers zou zijn, heeft Dr. Sterck gelijk.

V.

De bewering van John Middleton Murry, dat James Boswell een absolute pionier op het pad der biografie was, is onjuist.

[Pg 332]

VI.

De mening van Dr. Theal, dat Jan van Riebeeck uit lage stand in Kompanjiesdienst is opgeklommen kan niet als juist worden aanvaard.

VII.

"In sommige van sy liedjies en in 'n heel enkele reël ook, is daar onmiskenbare bewys van ware poëtiese gevoel en digterlike uitdrukking. Al wat mankeer is die handskaaf en die sandpapier." (Adv. E.N. Marais in Die Brandwag, Maart 1920.) So 'n bewering is in stryd met die wese van alle egte poësie.

VIII.

Gemeenskapskuns behoort nie as algemene leuse voorgeskryf te word nie.

Transcriber's notes

Ons Kleintji standardised from Ons Klyntji, and Ons Klintji

Stuur gerus jou brokkie nuus, bydrae of reaksie vir ons. Ons plaas (amper) alles!

Maak jou stem dik op ons Forum, stuur jou kommentaar / bydrae na of faks dit na 0866668575.

© 1997 - 2006, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui, uitgesluit die kopiereg van sekere bydraes wat berus by die outeurs. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.

0 - 9
A
B
C
D
E
F
G
H
I
J
K
L
M
N
O
P
R
S
T
U
V
W