Stuur jou resensie vir ons by
En die lekkerste deel van dood wees is 'n moordstorie met vyf kante. Die vyf afdelings van hierdie roman, waar telkens op 'n ander karakter gefokus word, sluit verhaalmatig goed bymekaar aan in die sin dat karakters en gebeure mekaar op boeiende wyse afwissel.
In die eerste afdeling leer die leser Magdalena ken, 'n 74-jarige weduwee wat alleen woon en deur 'n jong bruinman tydens 'n diefstal vermoor word.
Die tweede afdeling bestaan uit die verwerking van hoofsaaklik dagboekmateriaal van Magdalena se kleindogter, Camilla Otto, wat sy geskryf het tydens 'n rehabilitasietydperk in 'n sentrum vir verslaafdes in die VSA. Camilla is 'n rock- musikant en dogter van Kobus en sy Kanadees-Amerikaanse vrou, wat hy verlaat het toe Camilla sewe jaar oud was.
Die derde afdeling is 'n transkripsie van 'n reeks monoloë van Basil Apolis, die bruinman wat Magdalena vermoor het. Afdeling vier bestaan uit onafgestuurde briewe wat Kobus jaarliks as vader vir Camilla met haar verjaardag geskryf het en waarin hy veral sy skuldgevoelens teenoor haar probeer besweer.
In die slotafdeling is die reeds gestorwe Sakkie Otto, Magdalena se man en Kobus se pa, aan die woord. Vanuit sy perspektief van tydloosheid is dit vir hom moontlik om ten slotte 'n oorsigtelike toekomsblik te gee, bv. van hoe die moordenaar, wat nooit uitgevang is nie, tog aan sy tragiese einde gekom het.
Deur middel van die verskillende vertellings word insigte in die karakters verkry wat
nie sonder meer uit die gebeure afleibaar is nie. So word die innerlike belewing van die
moordenaar Basil Apolis weergegee, waaruit blyk dat hy nie die moord op Magdalena
doelbewus beplan het nie. Die ironiese (en meestal tragiese!) kommentaar wat die
verskillende dele ten opsigte van mekaar oproep, is m.i. die treffendste kenmerk van
hierdie verhaal. Die skreiendste voorbeeld hiervan is waarskynlik die oorbel in Sakkie
se motor, wat daartoe lei dat Magdalena hom van 'n verhouding buite die huwelik
verdink - en al die tyd is dit 'n vriendin van Kobus s'n. So is daar ook Kobus wat
heeltemal onbewus is van sy dogter se ernstige verslawingsprobleem, terwyl sy pa
dankbaar is oor sy spraaksaamheid as Kobus dagga gerook het.
Harry Kalmer het reeds agttien toneelstukke op sy kerfstok, daarby het hy ook ses
prosawerke gelewer. En die lekkerste deel van dood wees is die naaswenner in die
Sanlam / Insig Groot Romankompetisie (2007). Briewe aan 'n rooi dak wat op die
nagelate briewe van Magdalena Otto gebaseer is, het in 2001 die Anglo-Gold
Aardklop-toekenning vir die beste nuwe Afrikaanse drama ontvang en is vir TV
verwerk en uitgesaai. Die skrywer het 'n beperkte oplaag van dié titel uitgee - elk
met die hand gemaak.
Koop / Buy En die lekkerste deel van dood wees ...
Stuur gerus jou brokkie nuus, bydrae of reaksie vir ons. Ons plaas (amper) alles!
Maak jou stem dik op ons Forum, stuur jou kommentaar / bydrae na of faks dit na 0866668575.
© 1997 - 2006, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui, uitgesluit die kopiereg van sekere bydraes wat berus by die outeurs. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.